Читать книгу Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis - Страница 6

Anderkant Grand-Pa

Оглавление

Koos klap homself drie keer met die plat hand agter die kop en hy sê: “My kopseer begin net hier, net hier.”

Dis vir my jammer dat Koos so tussenin kom met die kopseer-ding, want ek is diep in my eie storie in. Ek sit hom en vertel van die ooitjies wat ek by die buurman oorkant die rivier gekoop het vir slag, en hoe ek toe nie die hart gehad het nie. Toe moes ek een van Johan Botha se grênd ramme loop leen vir drie ooitjies, en dis ’n verleentheid.

’n Mens moet aan die ram se gevoelens ook dink, was ek besig om te beweer, en ek het op filosofiese trant voortgegaan met verwysings na die tyd toe die profeet Koning Dawid so bygekom het oor die ooilammetjie-ding, en die toepassing deurgetrek na die algemeen-menslike en daarop gesinspeel dat elke man een keer in sy lewe sy Batseba sien bad en daarna nooit weer dieselfde is nie.

Diep en ernstig, dag ek. En boeiend.

Toe sê hy sommer hier uit die wans uit sy kopseer begin net hier, en hy klap homself agter die kop waar die ding se wortel dan nou sit.

Ek los my diepte en ek sê: “Grand-Pa.”

“Nee,” sê hy.

Toe dag ek: dit word al weer Oktober. Want ons sit op die stoep en ons kyk hoe September die bome aan ’t verwe is vir Oktober. Ek het ’n ding oor Oktober, veral die eerste. Ek is vatbaar vir die ding, want dan word al die ou bome jonk, die piet-my-vrou roep jou dat die verlang na vergane Oktobers in jou keel kom bondel tot jy wurg van die Oktobersmart.

Ek sien die ding het Koos ook, want hy kyk na die gans, Genis, wat sy wyfie water toe vat. In sy oë sit ’n weemoed wat anderkant die formidabele vermoëns van selfs Grand-Pa lê.

“En hartseer,” sê Koos, terwyl hy met die plat hand drie keer op die partisie tussen bors en pens slaan, “… hy begin hier!”

Ek vra hom of hy las het van ’n maagseer ook, maar hy kyk na my of die vraag onsinnig is.

“Jy sal my vra hoe die kopseer van my nou inkom by die Botha-ram en sy nederdaling na jou ou ooitjies toe?”

Ek erken die ding is nie duidelik nie. In die dammetjie spat die water tussen Genis en sy wyfie.

“Dit was by die see, en dis ’n kwessie van stand.”

Die waterverband is vir my duidelik, maar ek weier om ’n standverskil tussen my ooitjies en Johan se vreeslike ram te erken.

“Ek het dié kopseer gehad, sien, want dit was toe net so ’n maand of drie ná Trynie my gelos het vir daardie blinkjaskliertjie wat agent was op die dorp.”

Ek verseker hom ek onthou elke besonderheid van die egskeiding, want ek het hom elke nag hier aangehoor, episode vir episode. Hy het nog nie al my sakdoeke wat hy styfgehuil het teruggegee nie, maar ek weet hy’t wasgoed-probleme, so hy kan maar aangaan.

“Ek is toe by die see, en my nek was nie lekker nie, want ek is toe drie maande sonder vrou, en op ’n strand is ek ’n inkennige man. Ek dra my donker bril en ek draai my nek nie te veel nie, behalwe as my oë se krink nou nie meer wil verder nie. Jy weet dis maar alleen so op die plaas en ’n mens skrik bietjie as jy weer ’n slag by die see kom …”

Nee, dié kan jy weer sê.

“Maar so met die ongemaklik-lê om goed te kan sien, en die gekrinkery van my oë en die inhou van my nek, toe raak iets van my nek se masjinerie – seker een van die aste – uit sy bus uit los, en dis vir my half of die bearing skeef draai. Jy weet soos die planter hier onder by die …”

Ek sê ek verstaan sy nek het half vasgeslaan. Die meganika sal mens, soos by ’n verstuite bees, eers sien as jy slag.

Hy’s toe so met sy kop op veertig grade en sy gesig se sporing so sewe en dertig grade uit, naderhand hotel toe.

“Die meisie agter die toonbank vra toe wat verkeerd is, want die oggend is ek haaks daar uit toe ek die sleutel by haar ingegee het. Vertel ek haar … maar nou nie van die oog-krinkery nie. Dis toe dat sy sê sy sal die ding maar vir my probeer uitvryf, want dis toe net haar ou lostydjie – ek bedoel van die werk …”

Ek sal dit nie van die meisie dink nie, verseker ek.

“Sy’t die ding toe bo in my kamer loop uitvryf tot hy weer vierkantig sit, en so … Kopseer weg, ná drie maande. En toe het ons my beursie loop haal en gaan eet en dans en ek het haar vertel van my plase en goed. Maar die nag toe sê sy ’n ding van stand: sy vra my hoe gaan dit met die hoofpyn. Toe weet ek dis Trynie wat daar vir my lê en kyk, want sy het ook altyd gehoofpyn oor kopseer. Stand.

“Toe’s ek maar die volgende dag vroeg weg, voor sy opgestaan het. ’n Man kan so onverantwoordelik raak as jou kopseer ’n slag oor is.”

Nou vir wat kla jy?

“Sy werk glo deesdae hier by die steakhouse in die dorp, en ek hoor sy verneem waar ek bly …”

Hoe lyk sy?

“Nie mooi nie, maar handig …”

Ek kyk hom so en ek weet hoe my ooitjies moes gevoel het toe die groot ram hier afgelaai is.

Dis ’n kwessie van stand, waar stand, soos Grand-Pa, nie meer werk nie.

Genis het nie las van sy kop nie. Ek wis waar Koos die aand sou eet – anderkant stand en Grand-Pa.

Kortetjies en 'n lange

Подняться наверх