Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 44

34 Die skat in Krakow

Оглавление

In Pole vertel hulle die verhaal van rabbi Isak bar Esegiël, ’n ou Jood wat nog in drome geglo het.

Hy was ’n arm man wat in ’n eenvoudige huisie in die stad Krakow gewoon het. Bedags het hy lang ure in diens van sy gemeente gewerk, en snags het hy uitgeput aan die slaap geraak.

Een nag droom hy dat hy die verre stad Praag besoek. Voor die koning se paleis is daar ’n rivier met ’n brug oor. Terwyl hy daaroor loop, sê ’n stem vir hom: “Kyk onder die water!” En daar tussen die waterplante sien hy ’n kosbare skat versteek lê. Dadelik begin hy beplan hoe hy daarmee vir die armes in sy gemeente kos en klere kan koop.

Toe hy wakker word, het die droom hom nog lank bygebly. Sê nou dit is waar? “Ai, Isak,” het hy homself gemaan, “jy het al soveel keer bedroë daarvan afgekom wanneer jy jou drome wou glo …” Maar toe die droom die volgende drie nagte terugkeer, besluit Isak om maar weer die kans te waag.

Die lang, lang pad na Praag pak hy te voet aan. Toe hy baie dae later daar aankom, vind hy sonder enige moeite die koning se paleis op ’n heuwel, net soos in sy droom. Die enigste probleem was dat die brug oor die rivier deur ’n hele afdeling soldate bewaak is. Hy kon glad nie naby die water kom nie. “Ek moes dit mos geweet het,” sug hy terwyl hy na die plek staar waar die skat tussen die waterplante moet lê. “Ek moet ophou om my lawwe drome te glo.”

“Wat soek jy, ou man?” vra ’n bars soldatestem agter hom. Isak is so verskrik dat hy sommer uitblaker: “Ek is ’n arme rabbi en kom van ver af om ’n skat hier onder die brug te kom soek. U sien, ek het gedroom …”

“Maar jy is seker laf,” lag die soldaat. “Jy glo tog nie in drome nie? Rabbi’s behoort darem nugterder te wees as dit! Ek steur my nie aan sulke nonsens nie. Om die waarheid te sê, ek droom al die afgelope drie nagte dat ek na die stad Krakow toe moet gaan. Daar sal ek dan kwansuis ’n skat vind wat onder die vuurherd begrawe lê in die huisie van ene Isak, seun van Esegiël. Maar sien jy my soos ’n mal mens daarheen reis om iemand te gaan soek wat nie bestaan nie? Isak en Esegiël is sulke algemene Joodse name – daar moet duisende van hulle in Krakow woon. Nee wat, vergeet van drome en gaan huis toe.”

En dit is presies wat rabbi Isak seun van Esegiël toe gedoen het. En van die skat wat hy daar onder sy eie vuurherd gevind het, kon hy en sy arm gemeentelede baie jare lank lewe.

___________________________________

Die sogenaamde geluksgodin kan jou niks meer gee as die goud wat reeds binne-in jou is en wag om ontgin te word nie.

CICERO

Mag God ons oë oopmaak om die verborge skat raak te sien in die doodgewone dinge rondom ons – dié dinge waarvan die wêreid verveeld wegdraai.

JOHANNES VAN AVILA

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх