Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 49
39 Is Mevrou ryk?
ОглавлениеDie wind gryp ’n hand vol herfsblare wat op die woonstelstoep gelê het en slinger dit saam met ’n vlaag ysige reën by my voordeur in toe ek dit oopmaak.
Ek ken die twee wat daar staan. Enetjie so ses jaar, met die grootste oë en die treurigste gesiggie wat ek in my lewe gesien het. En haar sussie, ’n tiener met lang bene en woeste hare. Hulle ma is ’n invalide ná ’n taxi-ongeluk en die pa het hulle nooit geken nie. Die drie en hul twee kleuterboeties lewe van die disability en die tiener se “naweekwerk”. Oor wat dit is, het ek my vermoedens. Haar donker oë is nie dié van ’n dertienjarige kind nie.
Hulle het weer die papiertjie met die ma se netjies geskrewe briefie om die nuutste nood te verduidelik.
Ek is kwaad. Ek het al hoeveel maal verduidelik dat ek self ’n alleenvrou is, dat ek finansieel regtig sukkel; dat ek van een vryskuttjek na die ander lewe. En hoe ver uitmekaar hulle opdaag, kan niemand voorspel nie; dat my stokou motortjie aanhoudend ingee; dat ek … Talle geldige en, sou ek dink, oortuigende verskonings.
Maar hier is hulle weer. Die arm wat die briefie deur die veiligheidshek steek, is geklee in ’n baadjie wat net onder die elmboog van haar lang arms eindig. Kaalvoet. Die kleintjie dra sandale wat deurnat-voetspore op die stoep agter haar gemaak het.
My gesig wys seker my emosie, want voor ek nog iets sê, word die arm woordeloos teruggetrek en die kleintjie aan die skouer gepor om om te draai.
Ag hemel, die Kaapse winter is so knaend. “Kom tog in!” hoor ek myself sê. “Ek kan julle minstens ’n koppie sop laat drink en ’n paar blikkiesgoed saamgee.” Ek ignoreer hulle terwyl hulle styf teen mekaar op die punt van my rusbank hul sop sit en drink. Hul voete letterlik teen die eenstaaf-verwarmertjie. Ek gaan aan met my rekenaarwerk. Ek vergeet byna van hulle.
“Mevrou, is jy ryk?” Ek kyk geïrriteerd op. Die kleintjie sit nog met haar hande om die warm koppie gestrengel en die tiener sukkel om die soplepel in die piering van haar leë koppie te balanseer. Ek kyk na my uitgetrapte mat, die goedkoop afdrukke teen die mure, my afgeleefde rekenaar.
“Natuurlik nie!”
“Maar Mevrou se koppies en pierings pas bymekaar!” Haar stem is oud met ’n honger wat niks met haar leë maag te doen het nie. Niks word verder gevra of verduidelik nie. Hulle dankie vir die blikkieskos kom in plat, verveelde stemme. Net nog ’n dag, nog ’n guns, nog ’n ryk vrou.
“Dankie,” sê ek, toe ek die deur agter hulle toemaak. Want hulle het my meer gegee as ek vir hulle.
Ek weet nou ek is ryk. Koppies en pierings wat pas. Boeke en musiek (al is dit Naxos-CD’s). Geleerdheid. ’n Werk. Familie en vriende. Warmte en menswaardigheid.
___________________________________
Sal jy regtig jou geliefde of jou kind of jou sig of jou gesondheid of jou selfrespek vir ’n miljoen rand verruil? Nie? Vir wat kla jy dan so – as jy meer het as wat geld kan koop?
CHANNING POLLOCK