Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 47

37 Hoeveel grond het ’n man nodig?

Оглавление

Na ’n Russiese verhaal (van Leo Tolstoi)

Pahom was ’n plaasarbeider wat elke dag lank en hard gewerk het. Omdat hy self geen grond besit het nie, het hy altyd arm gebly. “As ek maar net my eie stukkie grond kon hê,” het hy dikwels gesug, “sou ek ook iewers kon kom.”

Eendag kry hy ’n gelukskoot toe ’n grondeienaar naby hom instem om 40 hektaar van haar grond teen afbetaling aan hom te verkoop. Hy en sy vrou het geraap en geskraap en geleen om die deposito bymekaar te kry. Daardie jaar het hy hard gewerk en ’n goeie oes gehad. Aan die einde van die jaar was sy skuld betaal en Pahom was uiteindelik ’n grondeienaar. Wanneer hy nou na sy eie koringlande gekyk het, wou sy hart oorloop. Hy het met vreugde geploeg en gesaai en geoes.

Eendag sit Pahom op sy stoep oor sy 40 hektaar grond en uitkyk toe ’n reisiger daar verbykom. Hulle groet en begin gesels en die man vertel vir Pahom hoe hy op ’n plaas oorkant die Volga stukwerk gedoen het. “Man,” sê hy, “dáár is die grond die vrugbaarste wat ek in my lewe gesien het! Die rog groei hoër as ’n perd se rug en die koringare is so dik dat net vyf daarvan ’n gerf volmaak.”

Skielik was Pahom nie meer tevrede met sy stukkie grond nie. Hy het meer en beter begeer. “Hoekom sal ons hier sit en sukkel as ons elders skatryk kan word?” sê hy daardie aand vir sy vrou. Toe verkoop hulle hul 40 hektaar grond teen ’n wins en koop ’n groter plaas oorkant die Volga. Alles wat die reisiger hom van die vrugbaarheid van dié omgewing vertel het, was waar. Pahom was gou tien keer beter af as vroeër. Hy kon nou baie meer saai en baie meer beeste aanhou. Die oeste en die veepryse was goed en sy bankrekening het mooi gegroei.

Die volgende jaar wou hy meer saai, maar sy eie grond was te min en hy moes ’n paar hektaar by sy buurman huur. Maar baie gou was hy nie meer daarmee tevrede nie. Hy wou nog meer grond vir homself hê. In dié tyd kom daar toe juis ’n grondagent by hom aan wat vertel van die Basjkir-stam wat hy in ’n afgeleë deel van Rusland ontmoet het. Hulle ken blykbaar nie die waarde van grond nie, want hulle het aan hom 13 000 hektaar verkoop vir net 1 000 roebels!

Pahom se hebsug was nou behoorlik aangewakker. Waarom sou hy tevrede wees met ’n kleinerige stuk grond as hy duisende hektaar teen ’n belaglike prys kan bekom? Gou het hy homself oortuig dat hy baie meer grond nodig het om ’n ordentlike bestaan te maak. Hy wou opsluit na die land van die Basjkirs trek. Hierdie keer het sy vrou hom nie ondersteun nie. Sy was tevrede met hul gemaklike leefstyl.

Toe gaan Pahom op sy eie, met een van sy plaaswerkers as reisgenoot, en ’n groot deel van hulle spaargeld. Hulle het die grondagent se aanwysings noukeurig gevolg en na sewe dae sien hulle die tente van die Basjkirs in die verte.

Die stamlede kom hulle tegemoet en Pahom sê hy soek grond. “Daaroor moet jy met ons hoofman praat. Ons sal jou na hom toe neem.” Die opperhoof het rustig na hom geluister en geantwoord: “Is jy seker jy het nóg grond nodig?”

“Beslis!” sê Pahom.

“Nou maar reg. Hier by ons kos grond nie baie geld nie. Jy kan maar vir jou ’n stuk kies so groot soos wat jy nodig het.”

“En wat is die prys?”

“Ons prys is altyd dieselfde: 1 000 roebels per dag.”

“Per dag?” vra Pahom. “Wat bedoel jy? Op hoeveel hektaar kom dit neer?”

“Ons weet nie hoe om dit uit te reken nie,” glimlag die hoofman. “Ons verkoop dit per dag. So ver soos jy in een dag per voet wil loop, kan jy vir jou afbaken. Die prys is 1 000 roebels per dag. Kry vir jou soveel soos jy nodig het … “ Pahom kan sy ore nie glo nie. “Maar ’n mens kan ’n yslike stuk grond in een dag se tyd afloop!”

Die hoofman lag. “Dit sal alles joune wees. Daar is net een voorwaarde: Jy moet voor sononder terug wees by die punt waar jy begin het, anders verloor jy jou geld.”

“Maar hoe sal julle weet watter afstand ek afgelê het?” Pahom bly maar skepties.

“Jy kan môreoggend vroeg vir ons wys waar jy wil begin en ons sal daar vir jou wag. Jy kan ’n graaf saamneem en langs jou roete merkers aanbring. Maak ’n gat met ’n hopie grond elke keer wanneer jy draai, dan weet ons waar is die hoekgrense van jou stuk grond. Onthou net ons ooreenkoms: Voor sononder moet jy by die beginpunt terug wees. En soveel grond soos jy aangedui het, sal joune wees. Kry vir jou soveel soos jy nodig het …”

So gesê, so gedoen. Daardie nag kon Pahom van opgewondenheid nie slaap nie. Tot die oggend toe lê hy met homself en gesels: “Ek gaan ’n allemintige stuk grond probeer afloop. Dis somer en die dae is lank, ek kan tussen 50 en 60 kilometer ver stap. Dink net wat kan ek met soveel grond doen! Veel meer koring en rog as vroeër plant, meer osse koop vir die ploegwerk, nog ’n paar arbeiders bykry …”

Met rooidag is hy op en, soos afgespreek, ontmoet hy en sy werker die Basjkirs en hul hoofman op ’n koppie daar naby. Die hoofman beduie oor die yslike stuk vrugbare grond wat voor hulle uitstrek. “So ver soos die oog kan sien, is ons grond. Jy kan in die loop van vandag vir jou enige deel daarvan afbaken, teen 1 000 roebels.” Toe haal hy sy pelsmus af en sit dit op die grond neer. “Hier is die beginpunt. En presies hier moet jy weer voor sononder terug wees. Soveel grond soos jy in daardie tyd te voet kan aflê, is joune. Sit nou jou roebels hier op my mus neer. Onthou net, as jy nie betyds terug is nie hou ek die geld en jy verloor die grond.”

Pahom se oë blink. Dis alles nuwe, onbewerkte grond, swart van vrugbaarheid en so plat soos sy palm. Blomme en gras groei borshoogte. Daar is baie water. Hy kan sy geluk skaars glo.

Toe die son se eerste strale oor die koppie kruip, spring hy weg met die graaf oor sy skouer. Sy helper draf nog agterna met die stukkie brood en fles water wat Pahom in sy haas vergeet het. Skaars 1 000 meter van die koppie af maak hy sy eerste baken met ’n hopie grond. ’n Ent verder spit hy nog ’n gat en maak ’n hopie – die Basjkirs moenie sukkel om te sien waar sy grondgebied begin nie.

Later moet hy eers sy onderbaadjie en toe sy hemp uittrek, want hier op die steppe word dit vroeg al warm. Maar hy loop flink, en hoe verder hy loop, hoe beter lyk die grond. Teen die middel van die oggend begin hy dink dat hy nou die eerste draai na links moet maak, want daar lê nog drie ewe lang skofte voor. Maar toe sien hy ’n stukkie ekstra mooi grond en dink: “Dit sal jammer wees as ek nie dít ook by my porsie grond kan insluit nie.” Dus loop hy nog ’n ent reguit aan. Toe hy omkyk na die koppie waar die Basjkirs wag, lyk hulle so klein soos miertjies.

Toe stop hy, spit ’n yslike gat en stapel die grond hoog op om te wys dat dit die eerste grenshoek van sy grond is. Natgesweet gaan sit hy ’n oomblik om ’n bietjie water te drink. Toe draai hy skerp links en stap aan. En aan en aan en aan. Die gras staan hoog en hy loop moeilik. En dis verskriklik warm. Toe hy na die son kyk, sien hy dat dit hoogmiddag is. Hy besef hy sal moet rus anders gaan hy flou word. Hy gaan sit en eet ’n stukkie brood. Maar hy gun homself nie lang rustyd nie. Tyd is grond. Voor hy weer in die pad val, trek hy sy swaar stewels uit en hang dit om sy nek. Nou sal hy seker makliker loop.

Maar die hitte is ondraaglik en gou jaag sy asem al weer. Hy weet hy sal sy tweede draai na links moet maak, maar ’n ent voor hom sien hy ’n kol heldergroen gras. Daar moet water wees! Hoe kortsigtig sal dit nie wees as hy nie dít ook afbaken as sy eiendom nie! Dus maar nóg ’n ent vorentoe. “Wat is een uur meer se swaarkry in vergelyking met ’n leeftyd se rykdom?” por hy homself hardop aan.

Anderkant die lowergroen laagtetjie grawe hy weer ’n gat en dui sy tweede grenshoek met ’n groot hoop grond aan. Die koppie waar die Basjkirs wag, is in die hitte net ’n wasigheid in die verte. Na ’n hele ent se koponderstebo loop, kyk Pahom ’n slag na die stand van die son. Dié sit al halfpad na die horison. Hy skat dat hy nog maar drie of vier kilometer van sy derde skof afgelê het, en sy mikpunt vir die laaste draai was eintlik tien. Die sweet tap hom af, sy spiere pyn en sy tyd is nou min. Hy het sy kragte oorskat. As hy die koppie voor sononder wil haal, sal hy dadelik in ’n reguit lyn moet koers kry na die beginpunt. Dit sal nou wel sy afgemete stuk grond windskeef maak, maar hy het nie ’n keuse nie. Hy het die eerste twee trajekte hopeloos te lank gemaak. Haastig maak hy nog ’n hoekbaken en begin reguit in die rigting van die koppie stap.

Dit gaan stadig; sy skoene het hy lankal neergegooi en sy voete is nerfaf en vol blase. Sy oë brand en sy keel is droog. Dit voel of sy bene onder hom wil invou. Maar hy kan nie bekostig om een oomblik te rus nie – dan gaan hy dit nie maak nie. Die son wag vir geen mens nie; dit sak ál laer teen die horison. “Waarom was ek so dwaas?” verwyt Pahom homself. “Met my gulsigheid vir grond staan ek nou ’n kans om alles te verloor.”

Hy beur vorentoe. Aan en aan. Al vinniger. Want die Basjkirs is nog ver en die son lê laag. Later draf hy. Nou waai sy onderbaadjie en hemp, wat om sy lyf vasgebind was, ook. Dan sy mus en sy waterbottel. Aan die graaf klou hy nog vas, want dié dien as ’n stut wanneer hy telkens struikel. “Wat moet ek doen?” stotter hy wanhopig. “Ek was te inhalig en nou glip alles uit my hande … Ek kán nie daar kom voor sononder nie. Of kan ek?”

In ’n verbete poging dwing hy sy swaar bene vorentoe. Sy bors hyg soos ’n blaasbalk, in sy ore weerklink die hamerslae van sy hart en swart kolle dans voor sy oë. ’n Brandpyn skiet in sy arms af en ’n kwart van die son het al weggesink agter die horison. Maar dan hoor hy die Basjkirs skree. Dit klink of hulle hom aanmoedig. En hy dink: “Ek kan tog nie al dié bittere moeite gedoen het om ’n paar tree van my doelwit af in te gee nie!” Die laggende gesigte van die hoofman en sy mense kan hy reeds sien en daar lê die pelsmus met sy geld ook.

Maar … die son is reeds onder!

Hoekom hou hulle dan nog aan met jil en roep?

Dan besef hy dat die son van waar hy is, agter die koppie weggeraak het, maar hulle wat bo-op staan, kan dit nog sien. Met ’n laaste kraginspanning vat hy die opdraand teen die heuweltjie uit. Dáár is nog lig …

Die laaste wat Pahom sien, is die hoofman wat met sy voete weerskante van die mus staan, en lag asof hy betaal word. Dan knak Pahom se knieë en met ’n kreun sak hy inmekaar. Sy vingerpunte raak-raak aan die pelsmus voor hom.

“Geluk!” skree die hoofman. “Jy het jou stuk grond gekry!”

Toe Pahom se werker, wat by die Basjkirs gewag het, hom wil ophelp, sien hy dat daar geen lewe in hom oor is nie. Die Basjkirs klik met hulle tonge, maar of dit uit simpatie of leedvermaak is, weet die man nie.

Toe grawe hy ’n gat groot genoeg vir sy werkgewer se liggaam, en lê hom in die graf neer. Ses voet van sy kop tot sy tone was al grond wat hy nodig gehad het.

___________________________________

Wat help dit ’n mens om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?

JESUS CHRISTUS

Geen skat is kosbaarder as die lewe nie.

JOHN RUSKIN

Nederige harte het nederige begeertes.

FRANSE SPREEKWOORD

Die paradysvoël kom sit net op die hand wat dit nie sal vasgryp nie.

JOHN BERRY

Hy wat weet dat genoeg genoeg is, sal altyd genoeg hê.

LAO-TZE

Die man sonder goud mag arm wees, maar die mens met nét goud is oneindig armer.

CONFUCIUS

Die baas van ’n fortuin is dikwels die slaaf van hebsug.

SENECA

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх