Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 52

42 Wat weeg jy?

Оглавление

Glen Adsett, ’n Amerikaanse sendeling wat baie lank in China gewerk het, vertel dié storie uit eie ervaring.

Dit was bra moeilik om ’n sendeling in ’n kommunistiese land te wees en hy was maar gedurig in die moeilikheid by die owerhede. Hy en sy huismense was tye lank in huisarres. Maar eendag kom een van die soldate wat moes toesien dat hulle nooit hulle huis verlaat nie, na Glen toe met die nuus: “Julle word Amerika toe gedeporteer!”

Die Adsett-egpaar was uit hulle nate van vreugde! Toe kom die soldaat met die voorskrif dat hulle net 100 kg bagasie saam met hulle twee in die vliegtuig mag terugneem.

Dit was moeilik. Hulle was baie jare in China. 100 kg! Wat neem jy saam en wat los jy? Hulle het die weegskaal gebring en ’n familieargument het begin.

“Wat van my boeke?”

“Maar ons kan tog nie sonder ons eetstel gaan nie!”

“Wel, hierdie is ’n nuwe rekenaar, ek kan dit onmoontlik laat agterbly.”

“Wat word van ons CD’s?”

Hulle het alles geweeg; nou dit op die skaal geplaas en dan dat afgehaal.

Uiteindelik het hulle met baie meet en pas en tot groot ongeduld van die wagtende soldaat presies 100 kg se besittings bymekaar gehad. Al twee die Adsetts was min of meer tevrede. Die soldaat vra toe: “Is julle gereed om te gaan?”

“Ja!”

“Het julle alles geweeg?” was die soldaat se volgende kortaf vraag.

“Ja!”

En toe kom die vraag wat die bloed in die Adsetts se are laat stol het: “Wat weeg die kinders? Het julle húlle ingereken by julle twee se toegelate 100 kg?”

Wat weeg die kinders … ? Binne ’n oogwink het die relatiewe waarde van boeke, rekenaars, CD’s – alle stoflike besittings – vir hulle glashelder geword.

___________________________________

Geld kan van baie dinge die dop koop, maar nie die vrug binne-in nie.

Dit kan kos koop, maar nie aptyt nie; medisyne, maar nie gesondheid nie;

kennisse, maar nie lojaliteit nie; dae vol genot, maar nie

’n lewe van geluk of vrede nie.

HENRIK IBSEN

Ons sê ons het ons kinders lief maar dikwels het ons ons sosiale lewe of werk of ons metodes van geldmaak so lief dat ons die wêreld mag wen, maar ons geliefde kinders verloor.

MICHAEL GREEN

Stories vir die lewe-omnibus

Подняться наверх