Читать книгу Stories vir die lewe-omnibus - Piet Naude - Страница 53
43 Die venster en die spieël
ОглавлениеDaar was ’n baie ryk man wie se hele lewe om homself gedraai het. Dag na dag het hy bereken hoeveel geld hy reeds het en hoeveel meer hy kon maak. Hy het net die beste kos geëet, ontwerpersklere gedra, in ’n tamaai groot huis gebly, met talle bediendes wat na al sy behoeftes omgesien het. Hy het alles gehad. Hy was gelukkig met homself en met die lewe. Aan wat buite sy huis aangaan, het hy hom selde gesteur. As hy by sy groot vensters sou uitkyk, sou hy net anderkant sy pragtige tuine die ellendige plakkershutte van die armes van die land kon sien. Maar hy het net oë gehad vir homself en sy besittings.
Langsamerhand het daar ’n swaarmoedigheid oor hom gekom. Hy kon snags nie meer slaap nie en hy was nie meer lus vir die cordon bleu-disse wat vir hom voorgesit is nie. Selfs om sy baie geld te tel, kon hom nie beter laat voel nie!
“Gaan haal vir my die wysste man in die land,” beveel hy sy sekretaris. “Ek sal hom enigiets betaal as hy my kan help om beter te voel.”
“Waarmee kan ek help?” vra die wyse man toe hy by die rykmanshuis opdaag. “Seën my. Ek wil weer vreugde in die lewe ervaar.” Die wyse man het ’n oomblik nagedink. Toe neem hy die ryk man na die venster wat aan die straat front.
“Wat sien jy as jy deur die venster kyk?” vra hy. “Ek sien mense,” antwoord die ryk man. “Ek sien ’n arm man wat bedel. En ’n seuntjie wat ’n ou dame oor die pad help. Ek sien kinders wat lag en speel!” Daar kom sommer weer lewe in sy stem.
Toe lei die wyse man hom na ’n spieël in dieselfde vertrek. “Wat sien jy nou?” vra hy.
“Ek sien myself!”
“Kom sit hier, dan vertel ek jou iets,” sê die wyse man. “In ’n venster is daar glas en in ’n spieël is daar ook glas. Kyk ’n mens deur die venster, sien jy ander mense en hulle behoeftes. Voeg jy silwer agter die glas by, het jy ’n spieël. Waarin jy net jouself sien. Dink daaroor. Ek gaan nou. My advies kos niks.”
Die ryk man is so geruk deur dié wysheid dat sy lewe daardie dag totaal verander het. Hy het van homself weggekyk en na die behoeftes van ander begin omsien. Hy was weer gelukkig. Maar op ’n ander manier.
___________________________________
Toe John Milton sy Lucifer geskryf het, het hy vir alle tye vir ons ’n waarskuwing voorgehou van die intense selfsug wat daar in ons almal skuil; so erg dat ons eerder heerser van die hel sal wees as ’n dienaar in die hemel.
SAMUEL COLERIDGE TAYLOR
Niks maak die mens so eensaam nie as wanneer jou eiebelang jou enigste belang geword het. Niks vernietig ware geluk so absoluut nie as respektabele selfsug.
GEORGE MACDONALD