Читать книгу Etosha - Piet van Rooyen - Страница 10

7

Оглавление

Olivia en doktor Hugh Brown, hoof van die Etosha Ekologiese Navorsingsinstituut, is besig om die leeu op te sny, toe die APU’s terugkom in die kamp. Dis reeds lankal donker en Olivia is moeg na die dae se agtervolging van die leeu, maar sy wil die werk klaarmaak. Hulle sal vinnig moet speel in hierdie hitte. Met al die vet beesvleis in sy pens sal die karkas gou vrot word. Die binnegoed ruik al klaar sieklik skerp.

Hulle kry min genoeg kans om ’n leeu op die dissekteertafel te hê. Dis egter ’n skrale troos. Hulle sou albei graag eerder die leeu lewend wou terughê in die Park. Dit was ’n mooi jong mannetjie en, op grond van wat hulle met die aanvanklike deurkyk van die organe kan agterkom, vry van siektes of infeksie. Dis dié soort genetiese materiaal waarmee hulle parke in Suider-Afrika sal kan herbevolk as al die leeus daar uitgestorwe is. Hulle kry weekliks berigte van insidente van tering en kattevigs waarvan die leeus in plekke soos die Krugerwildtuin, Londolozi en Mala-Mala reeds by die honderde vrek. Slegs die ontwikkelde, leeu-ontvolkte binneland skei nog noordelike Namibië en die Kalahari se leeus van die aangetasde populasies elders. Dis hoekom hierdie werk so belangrik is; waarom Olivia en haar projek met soveel belangstelling deur die res van die internasionale bewaringswêreld dopgehou word.

“Die spul is raserig vandag,” sê doktor Hugh.

Olivia knik haar kop. Sy vee met haar wang oor haar hempsmou. ’n Knaende gejeuk pla nou al lank, maar sy kan nie waag om te krap nie. Die plastiekhandskoene wat sy aan het, is met bloed besmeer. Die assistent, ’n kort, stug Kwanyama met die naam Ambrosius, is veronderstel om die meeste van die snywerk te doen, maar sy is gedurig besig om self in die binnegoed te krap en met haar hande in die vuilrooi mengsel van bloed, slym en mis in die karkasholte rond te voel.

Die leeu se bek hang oop, die pienk lippe pap. Die tande steek skerp en geel by die tandvleis uit. Dit lyk asof hy slaap. Olivia druk met haar vinger aan die lippe. Dit voel koud en leweloos, byna rubberagtig. Sy stryk oor die snorbaarde wat wyd weerskante van die neus uitsteek.

Al lyk die skade op die vel min, is die leeu sleg stukkend geskiet aan die binnekant. Sy kan nou duidelik sien waar die drie skote deur is wat haar lewe gered het. Een is reg aan die onderpunt van die hart deur, ’n byna skadelooslykende merk wat sy met die punt van haar duim oop en toe kan flerts. Die ander, waarskynlik die skoot wat die meeste weefselskade veroorsaak het, sit na agter, reg deur die sentrum van die longe. Die finale skoot, die doodskoot, is hoog deur die nek tussen die werwels deur. Sy kan nou verstaan hoekom die leeu met daardie laaste skoot soos met ’n voorhamer neergevel is. Die skok van al daardie energie so na aan die rugmurg verby moes alle oorblyfsels van lewe in hom oombliklik uitgedoof het, sy kersie geblaas het soos Karel altyd sê.

“Krap bietjie hier,” sê sy en beduie met haar kneukels na haar wang.

Hugh Brown, ’n bruingebrande middeljarige man met netjies gekamde grys hare, het tot dusver sy hande skoongehou, net soms met die vingerpunt na die een of ander merk op ’n orgaan beduie. Hy kan dus sy hand uitsteek en in weerwil van sy ingetoënheid met die voorvinger teen haar wang krap. Daar lê reeds ’n bloedstreep waar sy onnadenkend na die gejeuk getas het.

Tussen die disseksie deur kyk Olivia op na die saamgestelde kaarte en lugfoto’s teen die muur oorkant haar. Die kaarte en foto’s is op ’n groot houtbord vasgeplak en bedek byna die hele oppervlak van die muur. Dit sluit die Nasionale Etosha Wildtuin, ’n gedeelte van die Opuwo- kommunale gebied en die boerderydistrikte van Outjo, Grootfontein en Tsumeb in. Die grense van die plase is in blou penstrepe getrek en die name daarby ingeskryf. Hier en daar is rooi vlaggies met kodenommers ingesteek waar die leeus op plase doodgeskiet is, groen vlaggies op die plekke waar sy betyds kon kom om die verdowingspyle te gebruik en van waar sy die leeus kon terugvat Park toe. Geel vlaggies binne die Park dui die verskillende gebiede aan waar sy verdoofde leeus vrygelaat het met hul nuwe identifikasie-halsbande aan. Sommige kodes verskyn meer as een maal op verskeie plekke op die kaart. Dikwels eindig ’n kode met ’n rooi vlag. Sy het pas ’n vars rooi vlaggie ingesteek in die sentrum van Môrester, die plaas waar die leeu op die tafel vanoggend vroeg geskiet is.

Deur die venster kan hulle die twee patrolliebakkies van Karel se teenwilddiefstaleenheid voor die drankwinkel sien stop. Hulle dreunsing die lied wat Fechter hulle uit sy eie weermagdae geleer het: “When you hear this battle cry, the APU boys are marching by … When you hear this trumpet blow, the APU boys are on the go …”

“Vol bravade,” sê doktor Hugh en skud sy kop.

“Karel gaan te ver met hulle. Netnou, netnou ruk hulle hand uit. Dan kry hy hulle nie meer beheer nie.” Olivia voel ’n onverklaarbare opwelling van vrees deur haar ingewande stu.

“Hy kry sy resultate. Maar ek stem met jou saam. Eendag is eendag, dan gaan hulle te ver.”

“Ambrosius, wat sê julle mense van hierdie APU’s? Watse soort manne is dit?” Olivia rig haar direk tot die assistent. Hy het tot dusver woordeloos en bot die werk gedoen wat sy en doktor Hugh hom aangewys het. Hulle ken hom al so en het geleer om sy stilswye te ignoreer. Nou hoop sy dat hy haar die antwoord sal kan bied wat haar eie vrese sal kan besweer.

“Dis nie ons mense daai nie.” Hy skud sy kop.

“Hoekom sê jy so?” probeer sy hom aanpor.

“Sleg.” Hy byt die woord asof hy iets onaangenaams proe, ’n skuins trek om sy mond. Aan die manier waarop hy haar oë ontwyk en by die venster uitkyk na die paar wolke wat bo die top van die uitkyktoring draai, kan sy sien dat hy onwillig is om te praat. Los hom dan liewer uit. Sy sal wel met die tyd leer.

“Hulle knip ten minste die wilddiewe se draadjie kort,” sê Hugh ironies aan Ambrosius, ter verdediging. Ambrosius antwoord nie.

Olivia neem haar voor om, sodra sy die kans kry, ernstig met Karel oor sy teenwilddiefstaleenheid te gesels. Sy weet die APU’s se bedrywighede het niks direk met haar te doen nie. Sy, nes Hugh, is bloot navorsingspersoneel hier en het niks uit te waai met die bestuur van die Park nie. Tog bekommer sy haar oor die toenemende astrantheid waarmee die manne van die eenheid die afgelope maande die Park op horings neem. Daar moet iets meer wees wat sulke baldadigheid veroorsaak. Dit kan nie net van die enkele kere wees dat hulle met die een of twee verflenterde wilddiewe terugkeer van ’n suksesvolle patrollie nie. Dalk is sy bloot jaloers, wil sy haarself gerusstel. Dalk beny sy hulle juis die kameradie, die uitbundigheid van hulle saamwees. En van hulle sukses. Tot dusver was haar werk hier in die Park meestal blote sleurwerk. Die wetenskaplike deurbraak wat aan haar werk waarde sal gee, bly haar steeds ontwyk.

Sy kyk by die venster uit na die skemer buite. Die heimwee na haar eie land, na haar mense, pak haar onverwags beet. Sy wens sy was meer gereken in die bewaringswêreld. Sy hoop om nog eendag op ’n wêreldwye televisieprogram te verskyn – iets soos die Discovery-kanaal, of op National Geographic, of die Animal Planet. Dalk sal dit hierdie gevoel van nutteloosheid verdryf as sy net eers erkenning verwerf het.

Die leeu is volledig gedissekteer. Hulle stroop die dun rubberhandskoene af, gaan was die hande. Sy, doktor Hugh en Ambrosius staan sy aan sy by die groot asbeswasbakke teen die muur en probeer die leeu se reuk uit die hande, uit die sisteem kry.

Die APU’s se stemme het in die rigting van die barakke verskuif, maar kom steeds duidelik op die aandlug gedra. Olivia steek op die trappie van die dissekteerkamer vas en luister met gespitste ore. Dis moeilik om woorde te hoor, maar die klanke klink na ’n mengsel van gepraat en sang, ’n vermenging van verskeie tale: Afrikaans, Engels, Herero, Ndonga, hier en daar met stukke Portugees deurspek. Of sy reken ten minste sy herken hierdie tale uit haar paar jare se verblyf in hierdie mengelmoesige land.

Sy ril en stap stadig oor na haar woonplek van die afgelope maande, ’n agterkamer by Karel Fechter-hulle in die huis. Die Fechters is nie daar nie, het Hugh netnou laat blyk. Karel het vanoggend vroeg ’n patrollie gevlieg en is daarna deur Outjo toe om te gaan voorrade kry. Hulle sal seker by Fanie, die bakker, op die dorp oorslaap. Die huis behoort dus vannag aan haar. Na gisteraand se ontbering en vuil sien sy daarna uit om behoorlik te bad, los klere aan te trek, later die televisie aan te skakel en met ’n glas whisky agteroor te gaan sit in die leunstoel wat gewoonlik vir Karel gereserveer is. Daarna vroeg gaan slaap, of sommer in die leunstoel indommel.

Die huis lê eenkant, weg van die toeristebedrywighede, die bungalows, swembad en die restaurant, aan die noordoostelike hoek van die kamp in die klein woonbuurt wat vir die personeel gereserveer is. Dit lê in die skaduwee van ’n paar groot kameeldoringbome so vyftig meter weg van die kampomheining. Hulle, sy en die Fechters, kan dus die wild wat op die vlakte wei, rustig vanuit die skadu van die kameelbome vanaf die agterstoep sit en bekyk. Sy en Karel doen dit gereeld, soggens vroeg of na werk saans, ’n koppie tee of ’n glas bier in die hand. Dit het al ’n soort ritueel geword as hulle albei in die kamp is.

Sy mis sy geselskap nou skielik. Al het sy aanvanklik niks van hom gehou nie – sy bars, manlike houding, die stugge uitdrukking op sy gesig, sy baasspelerigheid – het sy gou gemerk dat daar ook ’n sagte kant aan hom is, een waarvan sy hou.

Sy stoot die voorhekkie oop. Die soet reuk van koraalblomme hang in die lug en verdring vir ’n oomblik die vrot leeu in haar neus. Dis ’n groot huis met ’n grys sinkdak en hoë plafonne met ’n skoorsteen vir die winter. Sy is bly sy hoef nie weer vannag in die gopse te slaap, in ’n verlate opstal, op ’n harde vloer, in die hitte nie.

Die voordeur gaan met ’n skril skreeugeluid oop toe sy daaraan stoot. Die kamp se spreiligte skyn van buite in sodat sy kan sien waar sy beweeg. Sy stap deur tot in haar kamer en sluit dit oop.

Sy druk haar skoene met die toonpunt af, buk en stroop die vuil, stowwerige en met grassaad gekoekte sokkies van haar voete. Dan trap sy die pype van die taai, beswete langbroek een vir een vas en wikkel haar staan-staan daaruit. Sy’s te lui en te moeg om te buk. Die beweging van die vars lug op haar beswete bene is lekker koel. Dit skud haar los uit haar bui van heimwee en verslaentheid. Ten spyte van die teleurstelling met die leeu, voel sy tog dat sy die afgelope dae iets bereik het.

Sy skakel nie die ligte aan nie en loop in die skemer deur die huis kombuis toe om te gaan tee maak.

Vanaf hulle barakke kom die klank van die APU’s se feesviering hard in die stil naglug. Die stemme klink hoog en opgewonde. Sy kan nie daarvan wegkom nie. Dis ’n hele paar honderd meter weg van die huis, maar die wind waai in haar rigting en sy hoor elke nou en dan duidelike grepe uit die gesprek. Dis oraloor met kragwoorde gelaai. Die APU’s is goed opgewerk, kan sy hoor.

“Oë so groot soos donkiedrolle.”

“Muto branco!”

“Ore soos pampoenskille.”

“Onjima, daardie een!”

“Erunga!”

“’n Paar lekker ore in die sak.”

“Ore vir geld en ’n jakkalsstert vir beloning.”

“Sy ou klein voëltjie in sy harige nes!”

“Ha-ha-ha!” Die skril gegiggel van ’n vrou styg bo die stemme uit, word dan skielik gesmoor.

“Otjihwi! Kondorora!”

“Sny af! Sny hom kort!”

Olivia hoor wat hulle sê, maar verstaan min daarvan. Dis nooit in Engels nie. Is dit een van hulleself waarmee hulle die draak steek, een van die jonger, nuwe rekrute dalk?

Iets is nie reg nie! Iets is net nie reg nie! Sy wens Karel was nou hier dat hy dit self kan hoor, dat hy vir haar kan vertel waaroor sy manne aan die gesels is, waarmee hulle so uitbundig besig is.

“Ons name loop ver,” hoor sy die APU’s praat.

“Hulle sal op die harde manier van ons te hore kom.”

“Op die hardste manier!”

“Kukuta!”

“Otjiwonga!”

Weer die vrou se gegiggel, hierdie keer selfs hoër, meer histeries.

“By die krale, by die vure – hulle sal wyd weet.”

“Hulle sal van ons weet tot hulle in hulle eie bangheid kots.”

“En nooit weer waag om ’n voet hier binne te sit nie.”

“Wat maak ons dan?”

“Ons sal wel iets kry om te doen. Daar’s nog baie vyande daar buite.”

“A luta continua!”

“A luta continua!” dreun die stemme saam.

Olivia ril en skink vir haar die whisky waarna sy so lank reeds uitsien. Daar is genoeg ysblokkies in die vrieskas dat sy die glas tot bo kan vul. Sy gooi nie water by nie; kantel die geel vloeistof teen die glas, kyk in die dowwe lig wat van buite inskyn hoe dit tussen die ysblokkies deur spoel, hoe die alkohol dun trane teen die glaswande maak. Sy druk haar neus oor die glasrand en trek haar asem diep in. Sy vat ’n groot sluk, groter as wat sy beplan het. Die vlugtigheid van die alkohol, die skerp whiskygeur, slaan tot diep binne-in haar longe. Sy begin stik aan die sterk drank. Uiteindelik moet sy die glas neersit om haar asem terug te kry.

Die musiek van ’n blêrende transistorradio dring met styging en daling van klank deur die gesprek, verdoof sinsnedes, soms hele sinne, daal dan weer tot ’n byna onhoorbare ondertoon vir die gedruis van die opgewonde stemme. Dis gangster rap wat speel, musiek waaraan sy nog nooit sin kon kry nie. Dit styg en daal met ’n kloppende en aggressiewe ritme waarin woorde, tromslag en skel note opgeklits word met die gejuig en gespog van die APU’s.

Olivia dwing haarself om haar gedagtes los te maak van die feesvierende oudsoldate. Sy skakel die lugverkoeling in die sitkamer aan en wag dat die swaar masjien behoorlik op dreef kom. Dan gaan staan sy direk onder die uitlaat en laat die koel wind oor haar kaal vel spoel. Sy gaan sit die ketel aan in die kombuis en was haar hande weer ’n keer onder die kombuiskraan. Sy hou haar vingers en polse onder haar neus en ruik daaraan. Dit ruik steeds skerp na leeu. So ’n swaar reuk kom moeilik uit die vel uit.

Etosha

Подняться наверх