Читать книгу Etosha - Piet van Rooyen - Страница 5

2

Оглавление

Die werf se mense het goeie en slegte nuus gehad. Die mannetjie het kort voor donker ’n kalf by ’n veepos gevang, skaars drie kilometer van die huis af. In die stil aandlug kon hulle glo, selfs op daardie afstand, die leeu hoor brul, die angstige gebulk van die kalf hoor, hoe dit onder die roofdier se wurgklem stil raak. Die werkers het reeds die eienaar van die beeste uit die opstal uit gebel. Hy huur die grond en is ’n uitheemse sakeman van Windhoek. Hy sou môreoggend voor ligdag hier wees saam met ’n paar medejagters om die spoor te vat, die dier te skiet waar hulle hom ook al raakloop.

Dis die slegte nuus. Die goeie nuus was dat die leeu ook vir haar sal wag waar hy vannag waarskynlik dikgevreet naby die karkas lê. Dis nou haar laaste kans om die dier in te haal. As hy van hier af verder loop, tussen die bewoonde plase in, is dit verby met hom, weet sy. As die jagters haar môre hier kom kry, hoop sy om gereed te wees. Dan geluk dit haar dalk en oortuig sy hulle om haar die eerste kans te gee.

Sy het haar verdowingspyle by haar in die voertuig; sy is bedrewe genoeg met die pylgeweer. As die leeu en die jagters haar net ’n oomblik se kans gee, kan sy hom lewend terugbring Park toe. Maar dit sal ons alles maar môre moet sien, dink sy. As dit lig raak, sal sy weet.

Sy hoor die honde verweg by die hutte blaf. Daar kom ’n vae vlaag van stemme wanneer die wind in haar rigting draai. Dis asof die honde en die stemme haar koggel, vir haar oor en oor wysmaak waar die sinkkaias van die vee-oppassers staan, waar haar eie twee spoorsnyers nou warm by die vure sit, waar mense so laat in die nag nog vrolik sit en gesels.

Haar kuite dreig om aan die kramp te gaan. Sy probeer konsentreer daarop om te ontspan, haar kloppende spiere te dwing om slap te bly. Sy sal dit haat om nou ’n kramp te kry!

Sy mag met reg moeg wees. Sy het ver gery vandag, skommelend in die styfgeveerde Land Rover, oor slegte paaie, plek-plek direk deur bosse en bo-oor gate. Die leeu het nie padlangs gehou nie, hulle hou nooit padlangs nie, sy moes maar ry waar die spore haar lei. Waar die leeu onder die kampdrade deur is, het haar spoorsnyers die tang onder die passasiersitplek uitgehaal, die drade by die ysterpale aan weerskante losgeknip en die draad platgetrap met hulle breë, harde voete sodat sy die voertuig versigtig kon oorry.

Sy en die twee spoorsnyers sny die leeu se spore al die afgelope drie dae lank sedert hy by die Panne uitgekruip het. Hulle het die deurkruipplek reg suid van Halali gekry, by Grenswag se hoek, die groot spore duidelik afgemerk in die sagte sand. Van daar het hy by Werda ’n draai gaan gooi, sy eerste bees naby Oscar Lambert se opstal gevang, hom dik gevreet, en van daar af koers gekies die plase in.

Dis ’n gedurige stryd om die leeus van die plase weg te hou. Die erdvarke grawe snags oral gate onder die draad deur en die patrollies kom nie altyd betyds by die gate uit nie. Die jong mannetjies, daardies wat nog na ’n eie loopgebied en harem soek, toets gedurig maar die grense. Sy weet hulle het nie baie tyd nie, dat hulle elke dag met oortrokke grasie verder gaan.

Hierdie jong mannetjie is ekstra slim, wil nie lank gaan lê om te rus nie, bly aan die beweeg. Goed dat die plase hier so verlate lê: as die boere dit nog oraloor bewoon het, was ’n horde jagters nou al op die leeu se spoor; sou sy nog net die karkas van hulle manlike heldemoed gehad het om weg te sleep, om te gaan slag en dissekteer. Môreoggend het haar tyd uitgeloop, is die eerstes hier. Dan sal sy maar moet sien hoe sy hulle gaan hanteer.

Een van die plaaswerkers by die kaias het aan haar die sleutel gegee en verseker dat sy welkom is om in die leë huis te oornag. Sy kon die foon gebruik as sy wou. Dit was toe reeds vinnig besig om nag te word. Kiewiete het hulle laaste eensame krete van die aand geroep. Iewers by ’n kraal naby die opstal het bokke geblêr, ’n wye, melankoliese geluid. Sy het die sifdeur oopgetrek. Die gaas was vol gate en die deur het swaar op sy skarniere gekreun. Sy het die huis binnegestap. In die halfdonker het sy haar toon teen ’n tafelpoot gestamp en sag gevloek. Sy het haar flits aangeskakel en die yl ligstraal deur die vertrekke laat speel.

Sy het gewonder of sy dr. Hugh moes bel om te sê waar sy was, maar het daarteen besluit. Sy was te moeg en te vuil om enige gesprek te voer, vrae te antwoord. Sy het daarom dadelik ’n bondel takke van die seringboom buite gaan afbreek, ’n slaapkol op die sementvloer daarmee skoongevee, die stapeltjie koerante uitgepak, haar slaapsak in die voorkamer oopgerol. Sy wou nie in een van die slaapkamers gaan lê nie; daar was dit heeltemal te bedompig. Met die flits aan sy rekband op haar kop geskuif, het sy ’n uur lank met haar rug teen die muur gesit en lees uit die slapbandboek wat sy saamgebring het. Toe het sy gaan lê, moeg van die dag se agtervolging; die stamperige rit.

Die flits rem al swaarder aan haar kop. Die storie in die slapbandboek bly haar verveel: The Survivors, ’n goedkoop liefdesverhaal met plat karakters en onwaarskynlike gebeure. Dis ’n boek wat sy in dr. Hugh se voorkamer onder ’n leë blompotjie, langs ’n paar los geweer-patroondoppe op ’n vensterbank sien lê het. Sy het dit in die verbygaan gegryp en in haar sak gestop. Daar het weer ’n leeumannetjie uitgebreek – sy moes dadelik ry. Sy is toe gelok deur die titel, dit het so avontuurlik geklink. Nou, met die lees, is die inhoud maar skraal.

Die nag is nog bitter lank. Sy haal die flits van haar kop af. Die skakelaar voel glad en taai van haar sweet. Sy voel die punt van haar duim dom daaroor glip. Sy druk hard, hoor tog dan die klein klikgeluid wanneer dit afskakel. Dit raak donker om haar. Sy maak haar oë toe en probeer slaap. Môre is ’n belangrike dag.

Etosha

Подняться наверх