Читать книгу Etosha - Piet van Rooyen - Страница 8
5
ОглавлениеDie vlugtende man steek vas. Hy kyk terug in die rigting van waar hy aangehardloop gekom het. Hy skerm sy oë af teen die helder lig; probeer sy voetspore op die harde klipbanke raaksien, soos hy gekom het. Hy prent homself in dat hy sal wegkom. Hy kan geen aanduiding van sy spore sien nie. Dit wil-wil hom moed gee dat die agtervolgers sy spore ook sal miskyk. Maar die son sit vir hom aan die verkeerde kant van die spore, weet hy. Die klip blink te veel in die rigting van waar hy probeer terugkyk – op dié manier sal hy niks sien nie, al kyk hy hoe goed. As jagter weet hy goed dat voetspore altyd makliker lees met die son van agter. Nou staan hy tussen die son en sy eie spore. Hulle wat agter hom aankom, laat hulle nie so maklik afskud nie. Hulle sal beter kan sien. Die skaduwees lê beter vir hulle.
Hy sug hard. Hy kan nie meer nie. Alles het hom ingehaal: die hitte, die wind, die dae se uitmergeling, die gewig van hierdie ding wat hy dra, hierdie swaar horing in sy hande, die jare se aftakeling van sy liggaam, hierdie onrus wat agter hom op sy voetspore lê. Die angs klop in sy keel, sy hart klop hard in die holte van sy borskas. Dit voel vir hom asof die geklop van sy hart nie binne-in hom stuit nie, maar uit die hele omgewing kom, aandawer uit die wye veld. Tog laat hy nie die horing val nie. Dis al waaraan hy nog kan vashou. Dis sy eersgebore seun, sy eie Ndjipua, sy Justus-kind s’n, sy geleerdheid, sy toekoms, wat hy hier in sy hande hou. Hy móét probeer om deur te dra, huis toe te vat, na veiligheid toe.
Hy weet nie eers seker of hulle op sy spoor is nie. As hy geweet het, was die vrees dalk minder; kon hy dalk beter dink. Hy het hom vanoggend vroeg dalk net verbeel dat hy die vliegtuig ver agter hom sien draai het, daar waar die dooie renoster bly lê het. Dit was net ’n flits in die son, ’n vae, veraf dreuning, ’n vinnige groeiing van klank wat dadelik weer weggeraak het. Tog was dié flits genoeg om die paniek in hom aan te jaag, hom so wild aan die hardloop te sit.
Hy probeer nou nie meer sy spore versteek nie; bly maar net in hierdie een rigting draf, so vinnig as wat sy tengerige, skraal liggaam hom kan dra. Daar lê vir hom nou net een pad. Net die donker sal hom kan red. As die nag maar net nader was! As hy maar net die aand kon haal! Maar die dag het nog soveel lang, lang ure. Daar bly nog ’n lang tyd oor waarin hulle sy spore sal kan bly optel, optel.
Die berge lê in ’n blou waas in die verte. Dis waar die huis sit, Onaiso, sy plek, daar waar hy baas is. Hier om hom is dit net die uitgestrekte vlaktes, skraal bome hier en daar, kalkbanke, fyn gruis, vaal aalwyne. Vorentoe lyk dit tog asof die terrein meer gebroke raak, of daar meer plek vir skuiling is. Nou moet hy net aanhou hardloop. Dis al wat vir hom oorbly.
Die veld is warm. Sy asem stoot in skroeiende teue deur sy keelgat. Daar is rou bloed aan sy hande. Die kapmes in sy velskede hang swaar aan sy broek, klop-klop teen sy heupbeen. Hy verwissel die brandwarm horing van palm na palm. Die geweerband keep skerp in sy skouer in. As die gewig te veel raak, skuif hy die geweer na die ander skouer. Hy stut die kolf in sy bakhand. Die geweer, ’n verweerde Russiese Kalasjnikof met ’n gekraakte kolf, is net so swaar soos die renosterhoring, maar die fatsoen verskil. Hy het die geweer enkele jare gelede by verlangse familie in die suidweste van Angola vir ’n klompie slagbokke geruil. Hy’t ’n plan gehad daarmee. Nou’t die plan op hom ineengeval.
Die verskuiwing van die twee swaar voorwerpe van die een na die ander kant gee aan sy skouers ’n gevoel van verligting, aan sy hande ’n verposing, ’n ander manier van vat. Hy voel ’n bietjie sterker. Hy laat hom slegs ’n oomblik se terugkyk toe, dan swaai hy om om op sy vlugrigting voort te gaan. Met die omdraaislag word dit vir ’n oomblik donker in sy kop. Dit moet die bloed wees wat te vinnig na sy brein toe opstoot. Sy oë knip verdwaas om fokus. Hy dreig om sy balans te verloor, duisel in die hitte. Hy word oud, dink hy weer, sy liggaam werk nie meer soos dit moet nie. Hy skud sy kop met ’n mengsel van weemoed en veragting. Dan draf hy met kort, struikelende treë voort.
Hy, Vetamunua Tjambiro, is van lankal af jagter, van jongtyd af. Jag was vir hom nog altyd so noodwendig soos die lug wat hy inasem, die water wat hy drink. Met die jag het hy al sy kinders grootgemaak gekry, sy vroue goed laat eet. Hy is ’n goeie jagter, so het almal hom nog altyd beskou. Hy was altyd maar so: ’n stil man, nooit ’n geselser nie, geen bedrewe storieverteller nie, niks van ’n voordanser nie. Tog het almal geweet wie hy is: Tjambiro, die jagter, die een wat raak kan skiet en fyn kan spoorsny en wat die moed het om nie op te gee as hy eers op ’n spoor is nie. Nou, vandag, lê hierdie soldate op presies dieselfde manier op sý spoor.
Hy het soveel hoop gehad vir hierdie keer. Hy wou vir niemand iets van sy eintlike planne sê nie, nie eens vir Karukembe, Ndjipua se ma, sy lieflingvrou, nie. Maar hierdie keer was die jag belangriker as al die ander kere. Hierdie keer moes die jag nie net vleis inbring vir vandag se eet, vir môre se bietjie opgegaarde biltong nie. Hy het hierdie stuk horing gaan haal om die toekoms mee oop te maak. Hy het vas geglo dat hy dit hiermee sou kon doen, met hierdie jag. Toe hy dit beplan het, het dit so maklik gelyk. Hy het daarvoor kans gesien.
Hy het nog nooit voorheen renoster gejag nie. Maar hy het geweet waar die renosters hou. Hy was nie bang nie, nie ’n enkele oomblik nie. Vetamunua raak nie sommer bang nie. Sy geweer was reg. Hy het genoeg patrone gehad, ’n stuk of tien, heeltemal voldoende. Hy het hierdie stuk veld goed geken, hierdie stuk verlatenheid in die westelike hoek van die Panne. Hy dog niemand sou hom hier in die hande kry nie. Hy het nie die vliegtuig in gedagte gehou nie. Hy het gehoop dat die renoster in die dikbos sou val, nie so in die oopte sou gaan vrek nie. Nou het die karkas so duidelik daar bly lê, so maklik om uit die lug uit raakgesien te word. Toe hy nader stap op die kwesspore en die renoster so daar in die oop rivierloop gevrek sien lê, het hy al geweet hulle sal hom kry. Dis nou net ’n kwessie van tyd.
Hierdie jagtog sou sy laaste wees, het hy toe al besluit. Hy raak te oud vir hierdie soort lewe. Hy het net een doel gehad met hierdie tog: om sy seun die lewenskans te gee, om hom iets te laat word, wyer te laat loop as hierdie harde, droë vlaktes waar hy, Vetamunua, van kleindae vasgevang sit. Dis daardie slim seun van hom, Ndjipua, die een wat hulle deesdae Justus noem, wat nou die Groot Skool klaarmaak in Windhoek.
Vetamunua het geglo dat dit die regte ding was om te doen. Hy wou nie hê dat sy seun ooit weer so moet sukkel in ’n genadelose wêreld soos dié waarin sy pa, en dié se pa voor hom, oud geraak het nie. Dan, weet hy ook, bloed is dik, sy seun sal in sy oudag vir hóm sorg, selfs in die dae na sy sterwe, as omukuru, gees. Daarom dat hy hierdie kans gevat het. Nou vrees hy hy’t te ver gegaan. Tog, die bondel leerskywe wat die jag voorspel, daardie skyfies droë vel met die tekens op wat die waarsêer uit die sakkie geskud het, het reg gelê vir hom hierdie keer, het diékant toe gewys. En hy het al lank genoeg op die leerstukkies vertrou om aan hulle te glo.
Iets het toe tog aan die dokter se binnekant bly krap. Hy wou dieper kyk, maar hy kon nie: “Iets bly vir my donker. Ek kan nie oral mooi sien nie,” het Tjongarero bly sê.
Vetamunua het bloot gevra: “Sal ek die dier kry, hom doodmaak?”
“Jy sal hom kry, my vriend.”
“Vir my is dit goed genoeg.”
Tjongarero het die kop geskud. “Jy is ’n groot man,” het hy gesê. “Jy weet goed wat om te doen. Jy loop lankal jou eie pad.”
Dis die APU’s, daardie spul Koevoete en Unitas, Fechter se manne, wat die dokter se sig so donker gemaak het. Dis hulle wat nou so op sy spoor lê. As die blink wat hy vanoggend ver na agter sien flits het wel ’n vliegtuig was, dan het hulle hom klaar gesien. Dan is daardie APU’s nou op sy spoor.
Hy ken hulle, hy het al baie stories oor hulle gehoor. Hulle gee nie skiet nie, weet hy maar te goed. Daarom kan hy geen oomblik rus nie.
Hy weet hy sal die vliegtuig nie weer sien voor dit te laat is nie. Hy ken vliegtuie, hy kyk vir hulle as hulle laag of hoog oor sy dorpie skeer, op pad na Ruacana of Angola toe. As ’n mens die geluid hoor, is dit te laat om pad te gee. Daardie goed sien ver uit die lug uit, nes aasvoëls.
Hy ken die aandpraatjies van die wilddiewe wat so voor Fechter se bende askari’s uitgevlug het, dié wat oorleef het om terug te kom huis toe. Uit al die stories weet hy al klaar hoe dit is: die vliegtuig het gesien, gedraai, die patrollie geroep. Die APU’s het geluister. Hulle het al nader gekom. Die spoorsnyers het van die bakkies afgespring, begin draf. Hulle is reeds die spoor aan die oprol, stuk vir stuk, die spoorsnyers wat wyd voor die voertuie draf, met die hande vorentoe wink. Hulle het die radio’s in die hande waarmee hulle deur die lug met mekaar gesels, daardie spul Koevoete en Unitas, die grynslagte oor hulle lippe.
Vir die spoorsnyers is dit maklik. Hulle het genoeg water op die bakkies wat so agter hulle aansnork. Hulle raak nie moeg nie. Hulle het genoeg aflosmanne om oor te neem as die asems jaag, die son te genadeloos neerbak. Hulle is nie soos hy wat alleen gekom het en alleen weer stil-stil sy eie pad probeer gaan nie.
Vetamunua verskrik ’n steenbok uit sy lêplek op. Die dier nael rooi en knarsend oor die gruis weg, so vinnig, so rats, soveel vryer as hy. Hy is spyt dat hy nie ’n dier is nie. Sy vlugheid van voet word deur sy menslikheid beperk. Sy verstand sal hom nie meer red nie.
Hy kan nou duidelik die dreuning hoor, ver maar onmiskenbaar. Hy weet dis futiel: Die vliegtuig het die dooie renoster gesien, die spoorsnyers daarnatoe gelei. Nou kom hulle onverpoos aan in die rigting waarnatoe hy draf. Hulle soek hom, soek hom. As dit ander soort agtervolgers was, sou hy hulle dalk van die spoor kon afgooi. Maar hierdie bloedhonde, hierdie APU’s, nooit nie!
Voor hom lê ’n reeks skurwe koppies. Hy swaai soontoe weg. Van daar af sal hy verder kan sien. Hy kyk angstig na die oop veld wat agter hom strek. Geen figure, geen gedaantes nie. Maar hulle sal kom. Dit kom, dis onontkombaar.
Vetamunua het ’n klipkoppie bereik. Die koppie bestaan uit ’n reeks groot granietblokke wat kruis en dwars op mekaar gestapel staan. Hy kruip in ’n rotsskeur in. Hier lê hy hard na asem en hyg. Sy asem eggo van die rotswande af terug na hom toe in sy nou skuilplek.
Hy besef hy kan nie verder nie. Hy sal moet probeer vergeet van die agtervolgers. Laat hy liewer aan sy vrouens by die huis dink, aan sy kinders. Hy stuur sy gedagtes spesifiek uit na sy oudste seun, na Justus toe. Hy onthou hom as kind. Hy onthou die reuk van sy varsgewasde lyf. Hy sien die twee boksterte op sy kop gevleg sit. Dis die jong bokwagtertjie daar by Onaiso. Dis die seun na wie hy nou so verlang.
Sy hart word sag as hy hom voor sy gedagtes roep. Die Finse pater het gesê dat hy die slimste seun is wat tot nog toe uit Kaokoland gekom het. Dat hy dit nog baie ver sal bring in die lewe wat wag. Dat hy sy mense sal help, hulle uit die Bos uit sal haal.
Hy het hom so min gesien die laaste jare, net die paar vakansietye, wanneer hy soms huis toe gekom het van die Groot Skool af om te kom groet. Dan het hy dadelik die stad se gewoontes neergesit en weer Himba geword, net soos enigeen van sy mense. Hy was dan nie skaam om handewerk te doen nie. Hy het die byl by sy pa oorgevat en begin houtmaak. Hy’s fluks, sy seun. Soms het hy sommer vanself die vroue gaan help om die koeie te melk, vroeg soggens, met die eerste lig. Hy het die kinders help hout bymekaarmaak. Nee, hy was nooit skaam om te wys waar hy vandaan kom nie, die Ndjipua, die Justus van hom. Ndjipua is die oudste. Hy’s die seun van sy eerste vrou, Karukembe, sy met die sagte hande, die goeie hart. Justus is ook so, nes sy ma, nie hard nie. Hy is dalk te sag soms vir hierdie soort wêreld, hierdie uitgedroogte plek, hierdie verlatenheid waarin hulle woon.
Dit is met die gedagtes aan sy oudste seun dat hy nou al duideliker die voertuie hoor, die sagte gegrom wat van agter die horison van bome opstyg en op die wind nader stuif. Hy staan op uit die koelte van die rotsskuiling en staar deur die rooi waas in sy oë na die vlakte onder hom. Daar, nog ver op die einder, maar duidelik al nader, sien hy die stof in dik walms staan. Hy sien die blink flits van die voertuie wat al op sy spoor langs ry. Daar is geen manier waarop hy meer sal kan wegkom nie, weet hy.
Hy gly uit die skuiling uit en skuif laag op sy maag oor die harde, growwe rotsbank. Hy mag nie nou moed opgee nie. Hy wurm homself tussen al nouer-wordende skeure deur, tussen die boomwortels wat knoetserig tussen die klippe groei. Onder aan die koppie glip hy uit in die oopte. Hy begin weer hardloop, direk in die sakkende son in. Hy voel die enjins van die voertuie in die knyping van sy boude brul. Hy hoef nie te twyfel nie, hulle is op pad na hom toe. Hulle het hom in sig.