Читать книгу Etosha - Piet van Rooyen - Страница 13
10
ОглавлениеHy neem ’n taxi tot in Otjiwarongo. Hier moet hy oorklim Outjo toe. In Outjo is hy ook gelukkig. Hy gaan klop by Veeartsenydienste aan. Daar is dadelik ’n geleentheid met ’n GRN-bakkie in Opuwo se rigting, grootpad verby. Hulle praat min, hy en die drywer. Sy gedagtes maal. Watter slegte nuus lê vir hom by die huis en wag?
Dis reeds sterk skemer toe die drywer hom by die afdraai na Onaiso langs die grootpad aflaai. Van hier stap hy in die maanlig die laaste twintig kilometer na Onaiso, sy koffer aan ’n stok oor sy skouer gehang.
Hy stap die res van die nag. Die lig breek net mooi toe hy die nedersetting voor hom op die vlakte in sig kry. Dis Onaiso, waar sy pa en sy oupa en sy oupagrootjie se mense al vir soveel generasies lank bly. Dis sy huis, moet hy homself herinner.
Dis vroeg, maar daar is reeds mense op, kan hy sien. By een van die hutte trek daar rook. Uit die rigting van die fontein kom ’n skraal vrouefiguur met ’n emmer op die kop teruggestap na die huise toe. Hy knip sy oë teen die vaak en die vermoeiing, probeer die figuur in die halflig herken. Dis nie sy ma nie, daarvoor loop die mens te regop, is die houding te jonk. Is dit sy?
Die vrou het ook nou vasgesteek. Sy het die man opgemerk wat so uit die nag uit die rigting van die grootpad nader kom. Sy sit die emmer langs haar neer. Die hingsel maak ’n klein klingelgeluid soos dit teen die rand van die emmer toeklap. Hy het al vergeet hoe stil dit hier is, hoe ver geluide in hierdie wydtes trek. Hy voel hoe sy keel toetrek, word bewus van die slae van sy hart in sy borskas. Die oomblik word lank, hulle twee vasgegryp in die stilte, die afwagting. Sy maak ’n klein beweging met die arm, ’n skaam wuif. Dit is sy, Kakambi! Hy het nie geweet dat hy so sou voel wanneer hy haar weer sien nie. Hy het gedog hy het al ’n bietjie van haar vergeet. Nou besef hy dat sy maar net diep gebêre, nooit weg was nie.
Sy los die emmer net so waar dit staan, verlaat die voetpad, kom vinnig oor die oop veld na hom aangestap. Hy gee een of twee onseker treë in haar rigting, loop dan met sekerder stap vorentoe. Soos sy in die helder-wordende lig nader kom, kan hy haar nou duidelik sien. Dis sy. Dis beslis sy.
Haar bolyf is kaal. Die stringetjie ysterkrale hang swaar om haar nek. Dit tref hom hoe die swaar string krale juis die elegansie van haar nek beklemtoon. Haar borste staan styf en rond bokant haar skraal ribbes, die punte daarvan hardgeword in die koue lug. Dis ’n skok om haar so kaal te sien. Hy het al amper vergeet van hierdie gewoonte van sy mense om so kaal te loop. In die stad sou dit onbehoorlik wees, krimineel byna. Daar dek almal toe. Nou staan hierdie “klein perdjie” so onbevange hier voor hom, die skaam glimlag op die gesig, die onmiskenbare blydskap om hom te sien, asof daar niks tussen hulle weg is nie, asof hy steeds dieselfde mens is, dieselfde ou speelmaat – hy Ndjipua, sy Kakambi, die ene met die donker oë.
Sy draai om, weg van hom af. “Oeloeloeloe!” roep sy meteens hard in die rigting van die hutte, ’n vreugdekreet, helder in die dun oggendlug. Sy hardloop die laaste paar treë, kry hom aan die voorarm beet, trek hom agter haar aan. Hy voel haar vingers om sy arm klem. Haar greep skuif na sy pols toe. Die greep is veel sterker as wat hy hom van so ’n skraal meisiekind sou voorstel. Dit dwing hom agter haar aan.
Die honde begin vaak-vaak blaf. Een na die ander kruip die inwoners uit die huise uit, bukkend van onder die lae deuropeninge, kom stram orent, vryf die slaap uit die oë. Hy word bewus daarvan hoe hierdie toneel, die wakker word uit die slaap om hom te groet, aan sy emosies raak. Dis vir hom dat die dag aan die breek is. Dis vir hom dat die mense van hierdie dorpie “oeloeloe!” roep. Dis om sy ontwil dat hulle die lomerigheid van die nag van hulle afskud.
Kakambi het sy hand gelos. Daar is dadelik ’n kring mense om hom, ou kennisse wat kom groet, mense vir wie die tyd stilgestaan het, in wie se oë hy maar gister hier weg is. Agter almal staan sy ma met haar groot, sagte oë, soos die van ’n verskalf.
“Kom sit, kom sit.” Hulle trek vir hom ’n leë houtemmer nader, dop dit om.
Ten spyte van die warmte waarmee hy verwelkom is, voel hy reeds ’n vreemdeling. Daardie seuns wat kleintyd saam met hom huis-huis, beeskraal en die jagspeletjies gespeel het, het nou groot manne geword, in eie reg reeds die eienaars van beeste, al die bontes in hulle verskillende kleurskakerings. Hy weet dat hulle ’n man nie aan sy prestasie beoordeel nie, maar dat sy waarde deur sy beesgetalle bepaal word. Hy weet daar moet van sy eie beeste hier in die trop wees, dat sy ooms na hulle omsien, sy ma die koeie melk. Dis steeds sy bees, maar hy ken hulle nie elkeen meer by die naam, soos in die ou dae nie. Daarvoor was hy te min hier, te lank weg. Tog kom die klopping van die woorde wat sy pa hom geleer het skielik in sy kop terug, die ou name wat vir al die skakerings van die velle gegee word.
Sy maats van kleintyd neem hom gemaklik weer in hulle geselspraatjies op. Die jong manne kom sluit by hom aan waar hy oor die werf sit en uitkyk. Maar dis tog asof hy niks meer vir hulle te sê het nie. Dit pla hom. Hulle gesprekke oor die jag, oor familie en oor beeste het so ver verwyder geraak van die dinge waarmee hy hom daar in die stad besig gehou het, al die slim teorieë waarmee hy hom in sy klasse bemoei het. Hy neem hulle nie kwalik nie. Hý is die een wat nie inpas nie, wat ontuis voel, nie hulle nie.
Hy probeer weer die taal van die ou dae praat, van daardie dinge waarmee hulle hulle toe besig gehou het. Soms sien hy hulle onderlangs vir mekaar kyk en lag. Op ’n manier is hy die een wat vasgesteek geraak het in ’n kinderverlede; hulle dié wat reeds daarby verbygegroei het. Maar hy besef dat hulle hom nie kwalik neem vir sy onkunde nie, dat die lag hom nie kwaadgesind is nie. Hy probeer hard om te wys dat hy een van hulle is.
Hulle vrae oor die stadslewe droog gou op. Daar is nie veel wat hulle amuseer uit ’n wêreld waarvan hulle nie deel is nie. Die blou berge wat wyd om hulle lê, die warm drukking van die lug op hulle kaal skouers, die beeste wat lui in die kraal rondstaan, die skril gefluit van die stilte om hulle, dis waarin hulle bestaan, waar die wêreld vir hulle eindig en begin.
Sy ma kan hom niks meer vertel van sy pa se verdwyning nie. Dis asof sy selfs minder weet as wat Kapia laat blyk het, asof sy nou, na sy pa se verdwyning, elke wete, alle aandeel in sy laaste jagtog wil ontken. Hy weet dis nie weens dislojaliteit nie, sy ma is nie so nie. Dis eerder uit ’n poging om nie die voorouers met haar eie raaiskote uit te daag nie.
Sy oom is die een wat raad het, sy ma se oudste broer: “Jy moet vir Johannes Tjongarero gaan sien. Hy is die een wat die saak vir jou sal kan uitlê. Hier by ons is jy die naaste een aan jou pa, aan sy bloed. Jy is die een wat die sterkste medisyne vir hom dra. Jy moet gaan, dat Tjongarero vir jou die pad kan wys.”
Teen die aand, toe al die werk klaar is, kom haal Kakambi hom om saam met haar die skemer in te stap. Hy staan op, onkant betrap deur die onbevangenheid van haar uitnodiging. Hy weet goed wat dit is wat sy so onbeskaamd na vra.
Daar is ’n veraf gesuis in sy ore. Sy wange voel ongemaklik warm. Hy kyk om en sien hoe die ander jong manne hulle met ’n grinnik sit en bekyk. ’n Glimlag steel oor sy gesig.
Kakambi is reeds vooruit op pad in die rigting van die skuiling van die bos. Hy stap agter haar aan.