Читать книгу Rooi haring - Schalk Schoombie - Страница 10
4
ОглавлениеLina Draai se hande werk rustig maar blitsig, ’n stadige-aksie-toertjie wat die oog flous terwyl hulle verbasend baie vermag. Sy skil aartappels vir die gedekonstrueerde herderspastei. Elke skil ’n draaiende ononderbroke string wat haar messie verlaat, ’n kunswerk. Dit verg nie juis dinkwerk nie, net ’n bewustheid van die aartappel se rondings, lengtes, duikies en kneusplekkies, van raak vat en lembeheer. Sy sny nooit ’n vinger raak nie.
Sy het die nodige geduld om tamaties te skil en ontpit vir die salsa, iets wat sy nie vir Jimmy geleer kry nie, sy vingers bly die lem dommerig te diep onder die dun velletjie in die pienkrooi vlees indruk.
Terwyl sy skil-skil-skil, neurie sy deuntjieloos. Haar werk mag die nederigste in die kombuis wees, maar sy is onmisbaar in die lang voorbereidingsproses, sy doen die “prep” vinniger as enige van die jonger sjefs en mors dus die minste met die vars voorraad.
Die groot ysterpot voor haar is al driekwart vol geskilde aartappels, skynbaar moeiteloos, die skilkrulle val geluidloos in die vullisdrom langs haar regterbeen. ’n Gedeelte van die aartappelskille sit sy eenkant om saam met die melk te kook.
Gee my ’n skilmes en ek’s ’n masjien, dink Lina met ’n private glimlag.
En waar dryf haar gedagtes oral terwyl sy skil-skil-skil en neurie!
Doerie dae. Toe sy dag en nag kon lag en sing.
Die groot leemte wat haar soms wil verslind met piranha-tandjies.
Die span werk vandag doelgerig en sonder veel nonsenspraatjies. Wanneer Hartman hier instap, drie ure voor deure-oop, moet daar aansienlike vordering wees of … sy wil liewers nie daaraan dink as hulle agter sou raak nie.
Dis sy grootste onthaal van die jaar, met baie belangrike gaste van Kaapstad, New York, Melbourne, New Orleans en Parys, en die volle “outydse” vyfgang vir elkeen.
Dus, elke aartappel wat sy skil help om sy reputasie, sy naam en status as Vader van Troetelcuisine te hervestig. Haar eie naam, die ander sjefs se name, is hier van geen belang nie.
Lina weet waar sy inpas, haar ambisie het jare gelede al weggesyfer deur die wasbak se snakkende keelgat. Sy weet dis nie so gesteld met van die jonges nie.
Jimmy Brown, so bruin soos sy naam en taamlik traer met sy seningrige hande wat langs haar die rooiuie en knoffelhuisies kerf, loop minstens een keer op ’n dag genadeloos onder Hartman se rissietong deur. Seker soms nodig, maar sy weet daar’s iets anders agter al die afjakke, iets onsmaakliks.
Jimmy is nie ’n ligstraal nie, eerder een groot frons met daai swart wenkbroue. Kyk mens nie graag in die oë nie en kan heel parmantig terugkap. Maar hy probeer darem leer en verbeter. Met ’n bietjie aanmoediging, wie weet, kan hy nog ontpop.
Ag, en liewe, soete Marie-Louise Smythe! Skaars 25, klein en plomp met haar geel bollatjie op die kop (onder die voorgeskrewe haarnet), soos ’n kwartel altyd aan ’t skarrel. Kan iets van alles doen, nes Lina, vlytig en die ene melodieuse laggies. Marie-Louise droom onbeskroomd van haar eie kolwyntjie-bakkery in Hartenbos. Sy’s die “dessert queen” en self stroopsoet.
Die een met die meeste talent en potensiaal is Willing Dlamini. Kort, sterk geboude kêreltjie, onindrukwekkend, op sy plek, ernstig. Blink donker vel, blink donker oë. Nie net gewillig nie, maar inderdaad ook “able”, met die vermoë om kalm te bly in die oog van die storm, wat daagliks losbreek. Willing kan vinnig ’n plan beraam wanneer dinge skeefloop, ’n gereg aanpas met raap-en-skraap-bestanddele om steeds ’n treffer op ’n leë bord te skep – en hy’t besliste leierseienskappe. Altyd bereid om te help waar iemand vasbrand. Die baas se oogappel. Hartman laat niks blyk nie, maar Lina kan sien hy’s klaar besig om Willing te leer om die leisels oor te neem. Hoekom nie? Willing verdien dit.
Hulle is ’n hegte klein spannetjie van vier wat mekaar aanvul en uithelp; hulle het in die afgelope drie maande van intense saamwerk geleer om mekaar se kriptiese liggaamstaal en kortaf uitroepe te verstaan. Hulle word een, ’n menslike voerband wat borde laai met koskunswerkies.
Lina is almal se ma, ’n kloekende hen oor haar kuikens. Sy dra haar drie “koskinners” se drome en laste en leerkurwes in haar groot boesem saam huis toe, na Mamelodi, waar haar man, Marty, die kookwerk doen. Waar hulle saam sit aan tafel, saam wag vir hul seun om huis toe te kom van die skool af. Sy glimlag instemmend oor die straatgesegde: “’n hart soos ’n taxi, altyd plek vir meer”. Lina koester nie griewe nie en sy kry seer as ander seerkry. Wanneer Hartman in een van sy bitsige buie sy rondtes doen en hom losbandig aan een van sy tirades oorgee, luister sy met neergeslane oë en ’n seer hart. Ná die tyd doen sy haar eie rondtes om drukkies aan die gewondes uit te deel, helende woorde te spreek. Dit hou die span bymekaar, die moraal hoog.
“Jimmy, is die hoenderborsies al ontvries?” val iets haar by.
“O shit.”
Sy kyk op van ’n halfgeskilde aartappel. Jimmy het sy duim raak gekerf en rooi druppels plets oor die rooi uie op die houtplank.
“Vergeet om uit te haal, antie!”
Sy donker oë is swarter as gewoonlik, die donker gelaat dieper, die ruie wenkbroue driehoekies van skok op sy voorkop. Bloed van sy duim maak vet rooi sterre op die teëlvloer. Lina pluk ’n groot wit sakdoek uit haar voorskootsak en knoop dit ferm om sy duim.
“Toe, gaan haal dit gou uit. Dan kyk ons weer na jou vinger …”
Sy tekkies skril oor die teëls soos hy omswaai na die agterkant van die kombuis waar die instapvrieskas is.
“Shit, shit, shit!”
Jimmy pluk aan die handvatsel met sy ongeskonde hand, die deur swaai oop met ’n blaasgeluid wat ’n ysige windjie vrylaat. Dertig sekondes later strompel hy uit met ’n swaar kartondoos, skop die deur met ’n tekkiehak toe.
“Dit gaan nooit betyds defrost nie, antie!”
“Ek hoop ek hoor verkeerd.”
Die werkers versteen. Die bekende rasperstem plons soos ’n rots in ’n kuil.
Gevolg deur ’n doodse stilte.
Dalk is dit die vrieskasdeur wat kortliks oop was, maar skielik voel dit vir Lina of die temperatuur in die kombuis ’n paar grade Celsius benede vriespunt daal.
Met rustige lang treë kom Hartman Swiegers aangestap van die in-swaaideur waar hy verskyn het; sy byna kleurlose (liggroen) oë wat Lina herinner aan ’n reptiel s’n flikker oor sy werknemers na die kartondoos in Jimmy se hande.
“En ek hoop dis nie die hoenderborsies nie.”
Die logge man vul enige ruimte met ’n teenwoordigheid wat mense laat terugdeins en met ontsag vul: Die wolk rooiblonde hare staan orent asof gelaai met statiese elektrisiteit om sy knobbelrige kop, die plat bleek hangwange, die dun effe skewe neus wat lyk of dit gebreek kan wees, breë pienk mond wat mens laat wonder of hy lipstiffie gebruik, die ontstemmende oë. Een oomblik hartlik, die volgende oomblik wreed.
Aandag hoef hy nooit te soek nie, hy is ’n natuurlike fokuspunt. In sy kombuise moet hy homself sywaarts draai om tussen werkstasies, wasbakke en oonde te beweeg; die aanraking van sy groot maag en bakarms verbasend ferm, asof sy gravitas in soliede spiere gestol het.
Jimmy laat sy swaar las op ’n ystertafel val, sy mond gaan skaapagtig oop, klap toe sonder ’n geluid. Hartman klap sy regterhand op die boks. Dit rus nou daar, byna liefderik.
“Nou ja, daar gaan my vyfster Maleise kerrie. Of enige ander hoendergereg,” sug hy byna hartseer, gevaarlik gelate. “En daar’s gaste wat niks anders as hoender wil hê nie …”
Jimmy staar met groeiende afgryse na die breë wit hand vol rooiblonde haartjies op die diepbevrore houer, pofvingers wat onheilspellend trommel.
“Ek … het vergeet …” kom dit oplaas uit. Maar hy lyk nie vreeslik jammer nie.
“Vergeet? Hoe vergeet mens stap een?”
“Ek was besig met die uie.”
Hartman vestig sy aandag op die bloedspatsels tussen die gekapte uie.
“En die uie is ook nou onbruikbaar.”
Met een gebaar vee hy die uie eenkant toe, in die asblik in: “Geen hoender, geen uie.”
“My duim gesny –”
“Miskien moes jy dit ordentlik gedoen het!” snou die groot sjef skielik, ’n pot wat sissend oorkook. “Wat help ’n bloeiende sjef my?”
“Ek sal die uie oorneem,” bied Lina aan.
Hartman se koel oë val op haar; hy hoef niks te sê nie, sy weet hy sal later met haar afreken omdat sy Moeder Hen wil wees, sy gesag met sagtheid ondermyn.
“Vergeet die uie. Die hoenderkerrie is uit. Doen die preie vir die wit sop met spek. Willing, help haar.”
“Ja, sjef.” Lina droog haar hande aan haar voorskoot af. Willing sluit swygend by haar aan.
“En jy, Jimmy.” Hartman vryf aan sy rooiblonde kantbaard.
“As ek ’n pleister opsit, kan ek –”
“Jy kan niks nie. Jy’s klaar.”
“Sjef?”
“Trek uit jou voorskoot en fok weg uit my kombuis.”
Die stilte wat volg, tril met die fisieke manifestasie van emosies; vlak asemhaling (Jimmy), fronse (Jimmy, Willing), oop monde (Marie-Louise, Jimmy, Lina), springende wangspiere (Hartman, Willing in onbewuste nabootsing van sy mentor).
Jimmy bly uitdagend na die sjef staar, swart oë blink.
Hartman glimlag effens. “Traan jou ogies van die uitjies?”
Lina, ’n ysterskottel preie voor haar uitgestoot soos ’n soenoffer, pleit: “Ons kan dit nie doen met drie mense nie, sjef.”
“Ons? Hoeveel onse in jou pond, Lina? Ek stel nie lamsakke aan nie. Jy’s aan die stuur om pligte te herverdeel. Spring weg, die gaste is op pad!” Aan Jimmy, onwrikbaar: “Is jy nog hier?”
“Jy kan nie met mense werk soos rubbish nie!” bars die jong man los.
Lina probeer nog haar kop dringend vir Jimmy skud, maar hy vaar nou volstoom uit, onkeerbaar in sy bitterheid: “Ek’s nie ’n hierjy nie, ek’s ’n mens, hoor jy – maar jy … jy …”
“Ek het jou van die straat af gevat, uit die onderdorp se sloot gesleep, jou ’n kans gegee op ’n toekoms, jou geleer om eiers te bak en deeg te meng, gedink mens kan van ’n gangster iets beters maak, dalk selfs ’n assistent vir ’n assistent wees. Ek was verkeerd. Eenmaal ’n skollie, altyd ’n skollie.”
Jimmy se ongeskonde hand sluit in ’n blits om die uiemes op die houtbord en met ’n dierlike kreet spring hy vorentoe, lem flitsend omhoog.
Willing se stewige greep om sy midrif laat hom sywaarts struikel terwyl Hartman met ’n vloek terugtree, een groot arm afwerend voor gesig en bors.
Die lem skram skadeloos weg teen ’n metaalvlak.
“Nou toe nou! Getrou aan die stereotipe. My skiewie-pel, vir jou voorspel ek ’n laaaang verblyf in Pretoria Sentraal. As jy jou gedra, skil jy dalk uie in die tronkkombuis en tjank krokodiltrane in die varkdermsop! Julle het dit almal gesien. Hy’t my aangeval in my eie kombuis. Ek dink hulle noem dit poging tot moord.”
Dis asof Marie-Louise skielik uit ’n diep slaap opskrik, oë wyd gesper, kommetjies trane.
“Asseblief, sjef, gee Jimmy nog ’n kans! Asseblief,” kerm sy. “Hy’t gister ’n baie slegte dag gehad, sy fiets is gesteel en hy moes vanoggend twee taxi’s vang om …”
“Tragies, siestog die lewe is swaar! Wie’t jou aangestel as sy advokaat?”
Die rasperstem laat haar verwelk en afkyk.
“Verloor jou hart op ’n skollie, Marie-Louise, en jy verloor jou loopbaan, dalk jou lewe,” hervat Hartman sagkens. Marie-Louise krimp verder ineen. “Ek hoop nie jy mors jou tyd op hom nie …”
“En jy … jy’s net ’n vet vark en ’n fokken rassis!” woed Jimmy in ’n breekstem, pluk die voorskoot af en smyt dit op die vloer, spoeg ’n geel ghwel op Hartman se skoene.
“Jy los haar yt, hoor jy?” Jimmy beduie met hand-in-sakdoek gebal, ’n bewende vuis. “Iemand gaan jou nog ythaal, soos jy jou mense ythaal!”
“Wie nogal? Seker nie jy nie! Daarvoor is jy te slap en gutless.” Dan in ’n hoë koggelstem: “Jy kan nie eers die chicken yt die vrieskas haalie!”
Almal se oë is nou op Jimmy in morbiede afwagting. Willing Dlamini staan reg om in tree, maar Jimmy draai kortom sonder ’n woord, stap kromskouer na die klein aantrekkamer waar sy sigarette, donkerbril en beursie in ’n sluitkas gebêre is.
Marie-Louise wik ’n oomblik asof sy hom gaan volg, leun dan verslae terug teen haar werkstasie.
“Enige kommentaar? Enige verwyte, bedenkinge, vrae, enige innige drukkies?” kras Hartman. Op sy voorkop gloei ’n blosende rooi kol, asof iemand hom met ’n brandyster bygedam het.
“Nee, sjef.”
“Nou ja, prep gaan nie vanself gebeur nie. Ek sal help, gee my ’n voorskoot.”
Lina wonder of sy die voorskoot wat Jimmy op die vloer gegooi het, moet optel, haal dan ’n skoon voorskoot van die haakplankie langs die yskas af. Hartman knoop dit grimmig om sy vol lyf.
Die in-swaaideur na die sitarea klik oop en vier koppe draai verlig na die jong man wat sy verskyning maak.
“Het ek al weer iets gemis?” vonkel Wickus Gericke.
“Die gewone. Aspirant wat sy vingers verbrand, nie die hitte kan vat nie,” hap Hartman. “Die hoender is kliphard gevries. Ons is meer as ’n uur agter. Jy kan uie kap as jy lus het.”
“Nee dankie,” antwoord Wickus met ’n stroopsoet glimlaggie. “Ek het my hande vol.”
“Waarmee nogal?”
“Wel, ek wag vir die ou wat die sekuriteitskameras installeer, sy kar het gaan staan. En die man wat die vrieskasdeur moet regmaak –”
“Wat’s fout daarmee?”
“Die paniekknop wat die deur ontsluit, werk nie. So, mense, moenie in die vrieskas vassit nie, asseblief.”
Lina loer bekommerd na Hartman, kap dan vinniger aan haar uie.
“Hoe het dit gebeur?” vra die sjef.
“Hulle het dit agtergekom toe hulle die deur eergister ingesit het.”
“En jy vertel my nou eers?”
“Dis môre uitgesort. Ontspan, brombeer.”
Wanneer die uit-swaaideur toeklik, dink Lina: Net ’n aantreklike jong man kan dit waag om so iets vir Hartman Swiegers te sê.