Читать книгу Rooi haring - Schalk Schoombie - Страница 9
3
ОглавлениеDie uitnodiging arriveer in ’n goue koevert, met haar naam voluit geskryf in groen sierskrif en per hand afgelewer deur ’n vriendelike jong man in wit oopnekhemp, vlootblou baadjie en verbleikte jeans. Sy puntskoene (swart slangvel?) is blinkgepoleer. ’n Slegte ou gewoonte van haar, kyk iemand van kop tot toon, van kapsel tot skoen.
Greta Burger kan voel sy bloos in haar lang nek af tot in haar hals toe sy die kêrel se koel hand skud. Hy stel homself voor as Wickus Gericke.
“Aangenaam. Meneer Swiegers sal u teenwoordigheid by die opening van sy nuwe restaurant hoog op prys stel,” resiteer hy in ’n welluidende stem, nes ’n outydse akteur.
“O, dankie … dis onverwags.”
Soos gewoonlik wanneer sy oor ’n mooi man troon, selfs in haar platste skoene, knak sy haar linkerknie en draai haar kop skuins in ’n onbewuste poging om korter te lyk. Haar spotnaam op skool skroei steeds ná sowat twee dekades as volwassene: “Kameelperd!” “Langeraad se niggie!”
Dis die eerste ding wat mense van haar raaksien, haar lengte. Dalk haar effense geboënheid, haar skugterheid. Dit skrik party mans af. Maar as mense dieper sou kyk, sou hulle sien sy’s eintlik ’n ratel, taai en trots. ’n Mol dalk, sy kan haar ingrawe in enigiets: navorsing, ’n lywige boek, ’n moeilike resep, ’n rekenaarkursus. Sy dink op haar voete, al is dit in platsoolskoene.
“Mejuffrou Burger! Ons, meneer Swiegers en ek, sal baie bly wees om jou aan sy tafel te verwelkom. Daar sal tien tafels wees met vier gaste elk, Baie Belangrike Genooides op die aand.” Sonder ’n sweem van ironie, dink sy verwonderd.
Sy het die sommetjie onwillekeurig vir haarself voltooi: vier per tafel … wat seker Hartman en sy metgesel insluit, die aantreklike jongeling wat haar so laat bloos met sy sensuele handdruk … 38 gaste; in totaal 40 mense vir aandete.
“Antwoord asseblief binne drie dae, ag sommer direk aan my, per telefoon of e-pos. Tyd wag vir niemand nie, nè?”
Greta verluister haar aan sy sonore stem, byna te diep vir iemand met so ’n oop, plooilose gesig, soos ’n baba met ’n megafoon. Sy moet haar inhou om hom nie te vra hoe oud hy is nie. Sy weet sy hou haarself te dikwels terug. En hy kan dink sy lê aan. As baie verleë Baie Belangrike Genooide kan sy nie haar nuutgevonde status en goue uitnodiging so weggooi nie. Daarvoor is sy te aartsnuuskierig. Sy skat hom so 26.
“Ek aanvaar … ek bedoel … kan ek sommer nou …?”
Greta kon voel sy gaan begin stotter, sy was altyd beter met die geskrewe woord.
“Natuurlik kan jy!” lag Wickus en knipoog. “Dis hoe dit al heeldag gaan. Mense aanvaar nog voor hulle die koevert oopgemaak het! Ken ’n goeie ding as hulle dit sien!”
En met dié guitigheid draai hy om en trippel die trappies af, die ene besige boudjies, selfbewuste tred en wipkuif (blond) van ’n model. Hoe bly hy so viets en vaartbelyn as hy gevoer word met Hartman Swiegers se vrygewige boereporsies?
Greta skeur die goue koevert oop met vingers wat liggies bewe, skoon lighoofdig.
Sit aan vir ’n vyfgangmaal saam met Hartman Swiegers.
Kom vier die terugkeer van gesonde troetelkos.
Waar: Tydloos, Die Wilgers.
Wanneer: 18:00 vir 18:30, Vrydag 13 November.
Drag: Formeel.
Sou haar swart mini haar bene te lank laat lyk? Kan sy dit waag om haar hakke aan te trek? Sou dit ander gaste intimideer? Hang af hoe opvallend sy wil wees.
Hou op om heeltyd ander eerste te stel, hoor sy al haar tant Geitjie berispe. Stel jouself eerste!
Greta streel die gladde greinerigheid van die papier, lees die sierskrifwoorde ’n tweede keer. Nee, sy het dit tog nie misgelees nie.
Interessant dat sy nie saam met ’n metgesel genooi word nie … al is sy seker alombekend as trotse alleenloper. (Gehate konsep: oujongnooi.) Sou dit geld vir al die ander genooides ook? Indien wel, sou dit ’n ongewone affêre wees, slegs enkelinge aan tafel, almal vreemdelinge. En dit terwyl die gasheer saam met sy metgesel aanwesig is.
Sy probeer haar die toneel voorstel, keurige ryk kosse en enkelinge wat mekaar dophou terwyl hulle proe en kou, hul gasheer komplimenteer met sy kreatiwiteit en goeie smaak.
Wie sou die ander genooides wees?
Vroeg die volgende oggend terwyl Greta haar joga-oefeninge met diep asemteue deurwerk, die styfheid uit haar lyf strek op haar oefenmat langs haar bed, kry sy die bewerasie.
’n “Gevoelente” soos tant Geitjie dit stel. Die woorde daarvoor wil nie aanmeld nie. ’n Vae onrustigheid.
Op Classic FM spoel die soet-treurige note van Beethoven se hobokonsert in F-majeur lieflik en langsaam uit, die largo-beweging, golfies op ’n windgestreelde Nordiese meer. Iets wat sy nog nooit gehoor het nie, glo ’n komposisie wat volgens die omroeper eers ná Beethoven se dood gevind is en van ’n fragment af gerekonstrueer is. ’n Komposisie van verlatenheid.
Oorblyfsels, peins sy. Memento mori. Genetiese skerfies, afdrukke van onsself. Wat van ons oorbly nadat ons die vertrek verlaat het. ’n Walm parfuum of sigaretrook. ’n Duik in ’n dubbelbed wat ’n lyf se vorm verraai. Dowe Beethoven se welklinkende klawerspel. Iets troosteloos en onsigbaar soos ’n spook in die hoek van ’n bedompige kamer.
Maar dis nie onsigbaar nie, besluit Greta, oorblyfsels vorm tog die basis van die forensiese wetenskappe waarmee skurke vasgetrek en kriminele misdrywe besweer word. Elke haar, vingerafdruk en sandkorrel vertel ’n storie en laat ’n verdoemende spoor wat na die oortreder lei.
Greta koop te veel boeke. Op 37 besef sy hulle is nou haar intiemste vriende. Sy staan dikwels voor haar boekrak en streel oor geliefde titels wat sy wil herlees. Indien sy één moes kies om na ’n eiland saam te vat (al kan mens deesdae honderde boeke op ’n Kindle saamvat), sou dit Umberto Eco se The Name of the Rose wees. Of AS Byatt se The Children’s Book. Miskien tog Orhan Pamuk se ongewone speurroman, My Name is Red, waarin ’n menigte vertellers aan die woord is: ’n lyk, ’n hond, ’n boom, die moordenaar, selfs die Dood kry ’n oortuigende stem en perspektief. Soms verbeel sy haar die voorwerpe in haar huis hou haar dop met koue, ongenaakbare oë, ooggetuies van haar eensame bestaan.
Boeke is nou nader aan haar as vriende of familielede, besef sy.
Sy geniet twee soorte leesstof: kookboeke en speurverhale (die outydse soort). Sy’s geen foendie nie, net ’n aanhanger. Maar sy leer obsessief by haar gunstelingskrywers, die fiktiewe speurders wat skynbaar onoplosbare sake met bomenslike vernuf kan oplos.
Resepte is kenmerkend van beide soorte literatuur. Kosboeke bied resepte wat, indien jy dit stap vir stap en versigtig volg, lei na ’n voorspelbare uiteinde – hopelik ’n eetbare, selfs heerlike gereg. Speurverhale volg weer ’n resep van laakbare misdaad, moordondersoek, ’n rits verdagtes en leidrade, ’n eksentrieke baasspeurder met ongewone metodes (en dalk ’n drankprobleem of selfverwyt), langs ’n roete besaai met leuens, misleiding en onthullings. Om te slaag moet dit darem ’n bevredigend onvoorspelbare oplossing bied wat die misdadiger aan die pen laat ry.
Greta het al Agatha Christie se boeke gelees; sy verkies Hercule Poirot as Belgiese bloedhond bo die skerpsinnige Miss Marple, seker omdat die gebelgde Belg ook ’n fynproewer van keurige (ryk!) kosse en warm sjokolade is, ’n regte lekkerbek, en dalk omdat sy nie so gek is oor die idee van ’n oujongnooi wat leunstoelspeurder speel nie.
Sy dink die ewe prolifieke PD James is Dame Agatha se waardige opvolger as “koningin van misdaad” met die Britse whodunit. Al volg PD James dieselfde moordresep noukeurig, met verskeie verdagtes wat wriemel onder ’n briljante speurbrein se vergrootglas, het sy ’n verfrissend moderne uitkyk op kriminele konkel- en speurwerk. Haar meesterspeurder, die melancholiese poliesman-digter Adam Dalgliesh, maak Greta se knieë lam. Dis die soort man wat haar dalk sou oortuig om van haar alleenpaadjie af te wyk, maar waar kry jy so ’n slim Adam in Pretoria?
Haar ouboet Reinart, die argitek, voel oor elegante geboue soos sy oor boeke voel, hy wat knaend met haar boeke fabelagtige konstruksies opgestapel het. Reinart woon en werk al tien jaar in Kanada; Greta het sy Franse vrou en twee seuntjies nog net op Skype ontmoet – sy weet nie of sy ooit weer Reinart se skraal lyf teen hare sal vasdruk nie. Haar jonger suster, Linda, het Kaap toe getrek agter ’n man aan. Reinart en Linda vind min tyd vir lees; hulle leef in ’n ander (glo werkliker) werklikheid as sy.
Haar ma, Suzette, ’n saggeaarde laerskoolonnie, kon altyd hope boeke verslind, avontuur- en liefdesverhale, maar net as sy redelik seker kon voorspel die eindes gaan gelukkig wees. Sy het deur twee, drie dun romans per week geblits en al drie dadelik vergeet. Dieselfde storie oor en oor, geplooi na die sonkant van die lewe. Greta vermoed haar ma het gelees om haar eie werkliker werklikheid te vergeet.
Haar pa, Pieter Burger, was dae lank weg op sakereise na hawestede en konferensies; ’n suksesvolle sakeman met swaargelaaide vragmotors op al die landspaaie, later geskei van Suzette en op Wildernis afgetree. Pieter was langer en rustiger as sy oudste dogter, en selfs ná sy dood vir haar ’n enigma. ’n Lelike man met die hanggesig van ’n Franse dashond, ’n man van min woorde en minder emosies. Die Sondagkoerant en finansiële blaaie was al wat Pieter gelees het; hy het syfers en grafieke bo woorde en “leuens” (fiksie) verkies.
Haar ouers was elkeen chronies afwesig op hul eie onverstaanbare manier, wat die susters op mekaar aangewese gemaak het. Hulle het mekaar grootgemaak. Greta en Linda was in ’n gerespekteerde meisieskool, goeie presteerders en kamerade. Linda het uitgeblink in sport, Greta in die akademie (tale en wetenskap). Greta het haar suster gehelp met toetse en take. Linda het spotters wat haar ousus teiken oor haar lengte met haar hokkiestok reggehelp. Die susters het mekaar alles gegun, mekaar beskerm, mekaar se hare gevleg. Mekaar leer kook, die kombuis by Suzette oorgeneem. Konflik en kompetisie was vir hulle iets ongekends. Geen rusie was bestand teen ’n omhelsing en goeie uitpraat nie.
Ná skool het hulle uitmekaar gedryf, lang telefoongesprekke ten spyt. Greta kon die ongeduld in Linda se stem hoor wanneer sy aankarring oor ’n nuwe boek, ’n byna-ongeluk in die nagmerrieverkeer. Daar was nuwe invloede in Linda se lewe: vriendinne, oefenklubs, kêrels, bergklimekskursies, bergfietse, rekspronge. En toe kom die groot liefde, groot huis, twee kinders. Haar kleinsus het haar verbygesteek met die groot lewensdinge.
Greta hunker na groter kompleksiteit in haar lewe, wat presies weet sy nie, net nie die konvensionele soort nie. Trou en kinders is haar blykbaar nie beskore nie, al kan sy nie onthou dat sy willens so ’n besluit geneem het nie.
Suzette, hul dromerige ma, het kos gemaak vir haar man, seun en dogters, maar selde self ’n mond daaraan gesit; sy het lewenslank aan eetversteurings gely. Miskien het dit op skool begin, toe dit vir ’n hele generasie van “manvangers” essensieel was om brandmaer en begeerlik te bly. Sy het haarself jare lank uitgehonger, selfs ná sy getroud is, en Greta kon nie peil of haar ma se honger na liefde ooit vervul is nie. Blykbaar was Suzette se grootste honger na die goedkoop liefdesverhale wat sy daagliks verslind het. Maar die maagkanker het haar uitgeteer en laat wegkwyn tot ’n bondeltjie mens onder ’n wit laken.
’n Dekade ná die uitgerekte, pynlike afskeid wonder Greta steeds of haar ma gered kon word indien sy groter porsies kos op haar bord geskep het.
Wat liefde is, weet Greta nie – nog nie. Sy verlang gewoonlik ’n presiese definisie van alles, van teoretiese stellings, tuinuitleg, beleggings en selfs vriendskap, maar kan mens dit van die liefde eis of verwag? Daar wás wel ’n paar mans, twee of drie, in hul voortvarendheid en beneuktheid vir haar onleesbaar. Praat baie, lees min. Sport, seks en videospeletjies. Obsessies, kleinlikhede. Ten minste het hulle ook gehou van kos. Sy het ’n maand met ’n jong sjef uitgegaan. Hy het haar ’n paar flink tegnieke in die kombuis geleer, hoe om tamaties te skil (laat ’n minuut in kookwater week) en om pannekoeke midvlug te “flip”. Sy tegniek in die bed was helaas minder bedrewe en selfversekerd, hy was meestal te uitgeput van sy veeleisende werk.
Greta het selfs, tot haar verbasing, ’n afspraak of drie via die internet gemaak. Ongemaklik. Onvervullend. Moet sy verder soek? Moet sy wag? Hoe belangrik is dit tog?
Sy het ophou soek na die regte kandidaat nadat tant Geitjie, haar pa se oudste suster, haar van Pieter Burger se “ander gesin in PE” vertel het.
Eers wou sy, kón sy dit nie glo nie, tot Geitjie die verbleikte foto uit haar dagboek gaan haal het.
Die laggende vrou in die bikini wat haar pa op sy wang soen. Op sy skoot ’n dogtertjie met die donkerrooi krulle en fyn gelaatstrekke van haar ma, en twee aantreklike donkerkop broers wat oor die ouerpaar op skerp elmboë leun. Haar eie pa (ja, wragtag hy!) wat agter ’n sonbril wegkruip.
Sy kan nie meer die name onthou nie, net die dogtertjie s’n. Greta. Haar pa het nie eens die moeite gedoen om aan ’n ander naam vir sy ander dogter, haar halfsuster, in Port Elizabeth te dink nie. Het hulle geweet van sy gesin in die noorde? Is Greta Burger 2 ook nou lank uitgespruit, met blondbruin hare en grysgroen oë? Sy het op Facebook gaan rondsnuffel, maar kon niks vind nie. Leef sy nog? Dalk het sy geëmigreer.
Sy kan ook nie besluit of sy eendag die ander Greta Burger wil ontmoet nie. “Aangenaam, ons is sussies en naamgenote. Ons pa was in sy liefde verdeel. ’n Rondloper, veelwywer en patologiese leuenaar.”
Hoeveel Suzette voor haar dood van haar man se ander gesin geweet het, bly ’n raaisel. Het die ander vrou beter gekook as sy? (In daai een verbleikte foto lyk sy wel wulpser as wat Suzette ooit was.)
G’n wonder Greta vind dit onmoontlik om romantiese liefde te vertrou nie, wat nog te sê mans!
Haar pa het haar gehelp om haar huis en haar Ford Bantam-bakkie af te betaal, waarskynlik om sy gewete te masseer. (Sy kon nooit genoeg moed saamskraap om hom oor sy PE-gesin te konfronteer voor twee beroertes hom stom en halfverlam gelaat en kort daarna soos ’n kers uitgeblaas het nie.) Hy het vir haar ’n neseier gelaat en sy kan nou sorgeloos op die rente leef, haar kosblog skryf en haar kruie en groente op haar bakkie laai en aan stedelike markte verkwansel. Haar breinkrag en verbeelding met speurromans en kosboeke voed. Sy wil nog reis en vele vreemde geregte proe, in daardie volgorde.
Verder vermy sy die vangnette van die liefde. Sy’s bang. ’n Volslae lafaard.
Met sulke mymeringe lyk die goue uitnodiging op haar lessenaar skielik soos ’n poort na ’n hoër lewe waar oudword verbode is, waar Baie Belangrike Persone om tafels vergader om die lewe voluit te vier met kristalglase vol wyn, goue spyskaarte, vyfgangmaaltye en filosofiese gesprekke.
Soos die restaurant se naam suggereer. Tydloos.
’n Ander land waar alles verklaar kan word.
Tog knaag die vermoede dat die glansaand op een of ander manier bederf gaan word. Sy gaan langs ’n babbelbek of sinikus beland terwyl pittige antwoorde haar ontwyk, sy gaan almal se name vergeet, sy gaan oor dwergies uittroon en iemand gaan haar op haar ou spotnaam noem: “My wêreld, is dit nie ou Kameelperd nie!”
Vir laas maak sy litte los, strek haarself vloerlangs nog langer uit tot haar spiere protesteer, sit stadig orent en besluit stilweg: Sy sal op die openingsaand vroeg daar wees. Uitgevat en gestilet.
Oorgehaal om fyn te luister en te kyk, fyn te proe.
Dis ’n geskenk vir haar kosblog. Die soort “perk” waarvoor kosskrywers lewe.
Sulke okkasies is immers ontwerp om waargeneem en gedokumenteer te word, met tafels gedek vir die sewe doodsondes.