Читать книгу Rooi haring - Schalk Schoombie - Страница 6
* 1 *
ОглавлениеDeur innie huis: Ek het dit gedoen.
Dis wat jy wil weet, nie waar nie? Dis wat almal wil weet.
Verskoon my as dit voorbarig klink – my liewe preutse ma sou nou praat van “vrypostig” – maar ek wil sommer uit die staanspoor alle twyfel uit die weg ruim. Myself rondborstig verklaar.
Ek weet dit druis in teen alle verwagtinge. Dis “onverskoonbaar” en “slegte smaak”, maar ek kon nog nooit uithou tot die einde nie, nee, ek kon eenvoudig nie wag soos ’n soet kind nie, ek moes van moederskoot af die laaste bladsye van boeke lees en die eindes uitlap aan boekwurms wat slaafs en moeisaam van voor af deur ’n dik roman ploeg. Om hulle ongeloof en vieserigheid te aanskou – “Hoe kan jy so gemeen wees?” – en openlik of in my mou skater. Ja, dis ’n bietjie wreed en kleinlik. Ag, die versoeking was altyd onhoudbaar om nie met die hele verdomde sak patats vorendag te kom nie! Nou weer! So, waarom wag?
Ek bevestig en beaam: Dis ek.
Ek is die sondebok. Ek het dit gedoen.
Ek was verantwoordelik vir die dood van Hartman Swiegers, buitengewone sjef en geliefde kos-ghoeroe. Soos sy naam beloof: die hartlikste van hartlike mense, die dierbaarheid vanself, hartlikheid ook so kenmerkend van sy swaar en peperduur kookboeke, sy gul maaltye vir minderbevoorregtes, sy bydrae tot die “diverse koskultuur” van ons vraatsige reënboogvolkie.
Liewe Hartman Swiegers, ’n groot figuur op vele fronte, log van lyf, sag van hand, los van tong, en immer met die hart op die mou!
Hartskos het nie by hom ontstaan nie – daarvoor kan ons die Boeretannies bedank – maar hy het dit vervolmaak en nuwe betekenis gegee. Trooskos met ’n nouvelle strikkie omgebind. Smaaksensasie gewaarborg! Botter kon in daai mond nie smelt nie.
Met verantwoordelik bedoel ek regstreeks aanspreeklik. Ek bedoel “korte mette maak”.
Ek bedoel moord. Ek het die hart van Hartman stilgemaak.
Ja, die odes en huldeblyke stroom in, op sosiale media en radio, ’n oorverdowende getwiet, op Sondagkoerante se kosblaaie. Nimmereindigend! In kombuise van sy drie sjiek restaurante in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad is selfs ’n minuut gewyde stilte afgestaan.
Ek was daar iewers, ja. Rondgestaan met hande agter my rug gevou en stroewe gesig, loer-loer deur geskreefde ooglede na al die ander geveinsdes, al die ander verdagtes, lippe opmekaar gepers om nie histeries uit te bars van die lag nie.
En toe, ná die happie gewyde stilte, het ons almal met ’n gesamentlike sug van ontroosbaarheid ’n traantjie weggepink en ’n kelkie sjerrie op sy nagedagtenis geklink, die sedigheid vanself!
Is dit nie ’n uitmuntende voorbeeld van “boontjie kry sy loontjie” nie? (Ek boer vandag met die kos-idiome.) Al word daar duisende traantjies gepink, was die hart van Hartman nie rein nie, allermins, dit was bloederig en klontswart, soos ek en die ander verdagtes maar alte goed weet.
Maar wag, wag, deursigtigheid het perke.
Soos die Prediker ons herinner, is daar ’n tyd vir alles onder die son, en dis helaas nog nie die geskikte tyd om alles uit te blaker nie. Die speurders moet darem hul brood verdien!
Geduld, geduld, alles sal onthul word vir dié wat fyn waarneem.
Laat my eerder sê: Die antwoord vir alle bose dade en konkelwerk skuil in die kostelike gesegde: “nog vis, nog vlees”. Dis die eerste en belangrikste leidraad. Nog vis, nog vlees. Die sleutel tot ’n hele paar donker waarhede.
Maar ek kan myself nie voortydig ophang nie.
Nee, laat die kopkrappers eers kopkrap.