Читать книгу Rooi haring - Schalk Schoombie - Страница 7

2

Оглавление

As die klein handbyl kon praat, watter stories sou dit vertel?

Lank gelede, meer as ’n eeu gelede, is die kaplem sorgvuldig gesmee van oorskietyster. Swart ysterhout vir die handvatsel. Die wit-en-bruin kwasterige hout (vreemd genoeg nie swart nie) het 55 jaar gehou tot dit in ’n bosbrand verskroei is tot as, daarna is dit vervang met ’n geboë steel van donkerbruin slanghout wat gemaklik pas in ’n doelgerigte hand, kompleet met ’n riffelpatroon, nes die naam suggereer.

Dit weeg altesaam 3,2 kg. Nie te lig, nie te swaar nie. Die steel is 20 cm lank. Die lem, hoekig en 4 cm dik, verdun geleidelik oor 8 cm na die skerpkant. Die snykant is ná meer as ’n eeu verbasend ongeskonde en net effe gevlek met donker roeskolletjies wat kan lyk soos iets anders. Die snykant lyk steeds lus vir werk.

Die byl het al baie name gehad, waarvan die eerste Rinkhals was. Ander name wat eienaars oor die jare daaraan gegee het: Lady Luck, Hardehout, Kleintjie, Split-hom, Weglê, Saint Blood, Handgemeen.

Die byl se “geslag” het gewissel na gelang van wie dit tydelik besit of benut het.

Volgens oorlewering is dit gemaak in 1899 deur ’n ystersmid, ’n morbiede koolswart man wat perde en muile beslaan en ysterpotte gegiet het, glo een van die Boere se agterryers in die oorlog teen die Engelse. Hy had ’n probleem met outoriteit; op ’n dag het hy die veld ingestap en is nooit weer gesien nie. Die morbiede man se gees van moedswilligheid het in die ysterkop van die byl gaan sit soos ’n hoofpyn.

Voor sy klein verset, het die smid dit verkoop vir ’n stuk skaapnek en ’n halwe hoender, aan ’n ryk boer van Welkom, wie se vrou dit gebruik het om pluimvee te onthoof en slag.

Op die plaas is dit gebruik vir takies groot en klein: vuurhout kap, onkruid langs die perskeboord uithaal, neute kraak (met die rugkant) en meubels maak.

’n Plaaswerker het die byl in die veld laat lê en ’n ploegskaar het dit spoorloos in die rooigrond weggedolwe, waar dit vyf jaar onverstoord gelê en roes het.

Die volgende eienaar van die plaas het die handbyl weer uitgeploeg en aan ’n smous as outentieke artefak van die Boereoorlog verkwansel vir een pond tien.

’n Beeldhouer het dit gekoop om dryfhout te planeer en figure van nimfe en meerminne daaruit te kerf. Maar op sy beurt het hy dit in die wit sand van Arniston vergeet. ’n Seuntjie wat besig was om ’n seewaterdammetjie te bou, het dit uitgegrawe en aan sy oupa, ’n visser, oorhandig.

Die visser het die handbyl nuttig gevind om sy vangs van geelstert, snoek en Kaapse stompneus te skraap en bewerk. Hy het dit aan ’n kleinneef gegee om dié se ingesakte rietplafon te herstel.

’n Inbreker het die byl gesteel en so het dit toe van hand tot hand gereis na Pretoria, waar dit in 1922 gebruik is om ’n aanvallige vrou met een stewige kap in haar regterslaap stil te maak. Sy het haar man, ’n leerlingkonstabel met ’n minderwaardigheidskompleks, glo verneuk met ’n fris jong wiskundeonderwyser van Springs. Kap!

Die byl is by die owerhede as bewysstuk ingedien, maar skaars agttien maande later het dit op geheimsinnige wyse op ’n vullishoop in Pretoria-Wes beland, waar dit deur ’n munisipale werker opgetel is. Finders keepers.

In die volgende drie dekades is dit gebruik om ’n duif, ’n haas, ’n skadelose huisslang en ’n brandsiek hond dood te maak. Hiervoor was onderskeidelik een, drie, twee en ses kaphoue nodig.

Die lem is gereeld geslyp, op verskeie ystervlakke en klippe, teen mure, messe en selfs ander byle. Net waar die lem tuis was.

Dit het twee dekades weggedroom as “’n gevonde stuk gereedskap uit ’n vorige era” in ’n onhebbelike duur oudhedewinkel – skynbaar afgetree.

Toe word die voorraad verkoop en die byl reis opnuut van hand tot hand tot in die mynkampongs van Johannesburg, waar dit die rondte gedoen het om tientalle dronktwiste te besleg. Kap!

In die laaste dekade van die onrustige eeu het die moedswillige instrument in besit gekom van ’n gewoontemisdadiger wat dit gebruik het om sestien mense van wisselende ouderdomme, rasse en beide geslagte te versend.

Sy handelsmerk was om die tong en neus van sy slagoffers af te sny.

Die reeksmoordenaar is vasgetrek voor hy sy sewentiende slagoffer, ’n bejaarde albino, van kant kon maak, gevang en lewenslank gevonnis. Nou ja, hoe lank is lewenslank? Vyftien jaar?

Sy wapen, die veelsydige klein handbyl, is nooit gevind nie.

Rooi haring

Подняться наверх