Читать книгу Rooi haring - Schalk Schoombie - Страница 13
7
ОглавлениеSeker dat niemand hom sien nie, spoeg Willing Dlamini een keer geluidloos, sekuur in die mango-mosterd (vir die forelvoorgereg) en meng dit ongeërg, soomloos met ’n houtspaan in die oranje, romerige tekstuur weg.
Dit laat hom dadelik beter voel. Die stres om te presteer mag hom nie vanaand onderkry nie. Sjef verwag groot dinge van hom!
Getrou aan sy naam is Willing die een wat stilbly en bevele uitvoer, ’n veeldoener wat enige werkstasie kan beman (sy finale titel is nog nie bepaal nie), ander se blapse kan uitsorteer en oorvat waar ’n seker hand nodig is; wanneer die bieffilet pienk (maar nie bloederig nie) moet oopval onder die lem, wanneer visgeregte sag en sappig uit die braaipan gelig moet word, pampoenbloeisels in deeg gerol en in kokende olie gedoop moet word.
“Mlungisi!”
Vir die eerste keer in maande hoor hy ’n fluistering van sy Zoeloenaam in die geskuifel en piep van skoensole op die kombuisvloer.
Is dit die voorvaders wat hom herinner wie hy regtig is? Hy, kleinkind van ’n egte indoena?
Mlungissssi … vasmaker, opknapper, regmaker, fixer.
Die betroubare een.
Hy weet hulle hou hom fyn dop, skud hul gryskoppe en brom soos grotgeeste: Wat maak hy hier van alle plekke? Hy wat so vinnig leer en nie skrik vir die jongste kooktegnieke van die witman nie, in die beste kombuise in die land. Koekbak kry hom nog onder, maar hy oefen in sy bachelor-kombuis met sy verroeste ou stoofoond in Sunnyside, hy kry wenke by Marie-Louise, die een vol soet laggies wat kunswerkies van deeg vou en vleg met haar meelvingers.
Willing sweet soms, vloek selde (al kan hy die drukking in hom voel opbou), raak selde paniekbevange wanneer die bestellings begin instroom – strokies wat deur die drukker uitgespoeg, gelees en deur Sjef uitgebulder word voor dit aan die sentrale tafelrak geplak word. Hy steek sy spanning weg agter sy jeugdige gesig, ’n besadigde masker, veral vir Hartman.
In die kombuis is hy Hartman se man. Sy regterhand, sy adjudant. Eintlik, as hy doodeerlik wil wees, is hy Sjef se skoensool.
Ja, Sjef! Nee, Sjef! Trap my, Sjef! Spoeg op my, Sjef!
Wat moet die voorvaders in uNkulunkulu dink? Het hy sy hart oopgespalk, sy herkoms verraai vir ’n voorskoot, hom neergebuig voor die groot wit kosgod?
Willing smoor die onwelkome gedagtes. Hartman het hom in beheer gelos en hy kan nie fokus verloor nie. Dit verg een simpel glipsie, een haastige oordeelsfoutjie, en die kettingreaksie hou heeldag nie op nie.
Nadat Jimmy Brown vroeër vandag uitgejaag is, het Hartman sy moue doodluiters opgerol, sy voorskoot met die embleem van ’n groen tamatie omgebind en soos ’n generaal deel geword van die stryd, die bron van ’n onophoudelike stroom bevele, sarkastiese grappe en vloeke. Nou en dan ’n knipoog aan iemand terwyl die sweet oor sy wange soos trane biggel, dalk selfs ’n kompliment of ’n ondeunde glimlaggie. Duidelik in sy element.
Hulle is te min mense vir die taak, kla Lina. Hulle het minstens nog vier werkers nodig.
Hartman beduie hy weet, maar hy sal wag tot hy mense kan kry wat hy vertrou. Veeldoeners soos Willing, Lina en Marie-Louise.
Hoe plofbaar en onvoorspelbaar is Hartman nie! Niks ontgaan sy rustelose aandag en bitsige tong nie. Nou en dan moet hy aan sy span illustreer dat hy nog net so verwoed saam in die kombuis kan arbei, nog net so vaardig is met hand, mes en menger.
Willing moet erken die formidabele sjef se voorbeeld het die oorblywende drietal aangespoor om die onmoontlike te vermag, die voorbereiding met militêre presisie af te handel. Hulle word werkende, geoliede dele in ’n fabriek se produksielyn, meganies in pas, georganiseerd soos miere; hulle haal selfs saam asem, hulle buk, kap, roer en was. Iets onderbewusteliks, ’n dans van raak vat, aangee, werksvlakke skoonvee, uit mekaar se pad bly.
Elke ekonomiese beweging tel.
Willing is verslaaf daaraan, al voel hy soos ’n drukkoker. Hy voel tuis hier, deel van ’n uitgesoekte spannetjie. Spesiaal.
Al was sy pa, Zacharias, ’n skofbaas op die Witwatersrandse myne, net een keer in ’n jaar tuis, het sy ma, Noxolo (Moeder van Vrede), hom van kleins af ingeprent om volgens ou Zoeloe-gebruik net respek aan ouer mense te betoon, sy oë neergeslaan, opdragte uit te voer sonder om teë te stribbel. Eerbiedig, ’n mens tussen mense. Hy moes net praat wanneer hy aangespreek word. Daar was ’n totale gebrek aan familiariteit tussen pa en seun. Met Noxolo kon hy soms nog as tiener teëstribbel, maar die berouvolle verskoning het gou gevolg. Dit is gewoontes wat nog diep in hom rank en hy is trots daarop, al woon hy vier jaar in die stad, al voel hy dikwels soos ’n dwalende groen loot in ’n oerwoud van klip, al kyk hy verbaas na die vreemde gewoontes van ander; die Afrikaners, die Engelse, die bonte kudde van nasies wat hier in een grys kraal gejaag word. Die swygende gehoorsaamheid van seun aan pa is outomaties en sonder klagte oorgedra aan sy nuwe wit pa in die kombuis, sy streng baas wat hom byna presies nes sy eie stugge en afsydige pa behandel.
Willing se opvoeding in die veld was hard, sy vel is glad nie dun nie. Hy het baie slae gekry met stokke en knopkieries. Al was hy kaal in die stof, bibberend in die nag se koue omhelsing, hy kan deurdruk sonder ’n gekerm. Hy raak nie nukkerig nie, hy broei en vloek nie soos Jimmy Brown nie, hy werk alles uit sy lyf en kop uit, hy werk tot hy omval.
Ja, hy bewonder en respekteer Hartman, die kos-indoena, selfs al reën die kwetsende name soos haelstene op hom.
Wat sy geheime spoegie in die mosterd soveel gevaarliker maak. ’n Onvergeeflike oortreding, ’n sonde wat hy nie mooi in sy beknoeide kop kan uitmaak of bepraat nie. Waar kom dit vandaan? Hoekom sou hy sy hele loopbaan wou opneuk? Noudat daar ’n vae kans is dat hy uitvoerende sjef kan word in ’n nuwe spogrestaurant?
Was dit hy, of was dit die voorvaders wat van hom besit geneem het?
Wanneer hy naweke saam met sy maats by die mynkampong al die ou ritmes en tradisies gaan dans, stampende steweldanse wat die aarde laat sidder en dreun; en ouer, wilde groeprituele wat hom laat voel soos ’n bloeddorstige kryger of jagter met skild en spies (umGhubho), voel hy dikwels iets of iemand in hom vaar; sy longe en keelgat word met rou krete gevul, kragstrale pomp deur sy bene en voete en buikspiere. Dan word hy gewring en gekneus in ’n onsigbare vuis tot hy los raak en sy gedagtes uitmekaar spat soos mieliepitte.
As kind het hy die grootmense om die nagvure net buite die geel ligkring nageboots wanneer hul voete ploftrap in die stof; die indrukwekkende buldans met arms omhoog, dreigende jagdanse met stokke wat swiep en tol, umQhogoyo met bolywe wat skud, umBhekuzo se golwings met die aanval-terugval van rye krygers tot die klimaks wanneer die dansers hul diervelle oplig om hul blink boude te wys.
Dan het hy geluidloos gelag met tande wat glim in die vuurlig – hie-hie-hie – terwyl vonke hoog opspat … hy kon die voorvaders se goedkeuring voel.
Mlungisi, Mlungissssiiii.
Sy naam sis wanneer die oonddeure oopgaan. Fixer, regmaker.
Dié naam het hy gekry toe hy Zacharias se seer vinger styf vasgehou het in ’n onbreekbare baba-greep. Die volgende dag, tot die oumense se verbasing, was sy pa se vinger gesond en die swelsel van ’n bysteek weg.
Van daardie dag af het Noxolo hom heimlik Willing begin noem; want sy’t geglo hy sou altyd gewillig wees om sake in eie hand te neem, haar klein koning. Sy was al een wat hom so genoem het, sy het hom snags teen haar bors gesus met wiegeliedjies van moederlike trots en aanmoediging.
Een van die dinge wat hy moeiteloos kon doen, een van sy talente, was spoeg.
Hy kon klippers oor die water laat sweef en wip soos naaldekokers, houtlepels kerf saam met die mans terwyl hulle fluit vir die meisies, dans-val-hoogskop-aanval tot die sweet in sy nek en oksels kielie. En spoeg. Sy kieste volwoeker met bolle skuim en – TJJOET! – ’n lang blerts uitskiet wat sy maats laat jil en bokspring. Spoegrekords het gereeld gespat.
Dit het hom soos ’n mamba laat voel, ’n swart spoegslang wat sy vyande oor ’n afstand teiken wanneer hulle dit die minste verwag – reg in die wit van die oog!
Amper doen hy dit weer!
Willing sluk die versamelde bol spoeg weg, skeur sy gedagtes uit die ruigtes van sy kindertyd, skuif die mosterdbak buite bereik (net vir ingeval!) en soek die lys take wat nog afgehandel moet word voor die deure oopgaan.
’n Rapklingel uit Marie-Louise se voorskootsak trek sy aandag.
Sy haal haar foon uit en lees ’n boodskap op die skerm met ’n groeiende blos op haar vol wange.
“Verskoon my ’n oomblik, julle. Gaan gou asemskep!”
Marie-Louise vee haar hande aan haar voorskoot af, skik haar klein geel bolla en gaan by die agterdeur uit.
Willing vang Lina se oog. Sy skud haar kop, vee ’n beswete krul uit haar oë en skil verder.
Hulle weet albei Marie-Louise gaan iemand buitekant ontmoet, nie juis moeilik om te raai wie nie. As Hartman uitvind, is sy ook uit.
“Vars lug, nè?” mymer Lina Draai.
“Uh-huh. Seker ’n rokie gaan vang,” haal Willing skouers op. Hy praat nie graag sleg van kollegas nie.
“Maar nie op haar eie nie.”
“As dit Jimmy is … Sjef sal nie daarvan hou nie.”
“Sjef het gelukkig sy pak gaan aantrek. Sy moet net wikkel.”
Willing strek sy rug, rol sy skouers. “Dink jy ons het genoeg van als, Lina?”
“Sjef was deeglik. Maar ons sal moet spring om by te bly vanaand. Is die mango-mosterd klaar?”
Willing knik, vee sweet met ’n voorarm van sy voorkop af. Sy gladde gesig verraai niks, al knoop sy maagspiere.
“Dan sal ek solank ’n paar starters begin plate,” bied Lina aan.
“As jy dink dis nie te gou nie …”
“Groente is reg, herderspastei en bobotie innie oond, dis nog net die melkpoeding.”
Lina leun nader en neem die aluminiummengbak met oranje mosterd by hom.
“Lyk lekker. Lieflike kleur.” Sy proe nie daaraan nie.
“Dankie, Lina.”
Sy hou die bak met albei hande vas, maar in die omdraai stamp haar arm teen die hoek van die tafel en die mengbak kletter skril op die vloer. Die mosterd maak ’n swam op die vloer, daar is blertse oor haar voorskoot, kuite en skoene. Willing vloek byna self van skok.
“Ag jirre, kyk wat maak Lina Draai nou! So jammer, my ding! Al jou werk verniet. Raak lomp op my oudag,” raas sy met haarself. “As daar nog tyd is – ek sal jou help – kan ons gou nog ’n mosterd meng.”
“Moenie worry, mama,” protesteer Willing. “Ek maak dit tjop-tjop!”
“Dankie, Willing. Jy’s ’n staatmaker. Begin solank. Anders het ons vandag mosterd ná die maal!”
“Huh?”
“Dis wanneer jy iets tafel toe vat wat … ag toemaar, vertel jou later!”
Terwyl Willing nog eiers gaan uithaal, loer hy oor sy skouer na Lina.
Sy is besig om haar stewige kuite en skoene met ’n vloerlap skoon te vee terwyl sy selftevrede neurie. “Waar’s die blerrie mop?” prewel sy.
’n Rilling glip deur hom. Het sy die bak aspris laat val? Indien wel, moes sy hom gesien het vroeër toe hy …
Willing begin die eiers in ’n skoon mengbak breek en skei, breek en skei, outomaties, sy hande tril net liggies, sy donker masker so glad en onleesbaar soos hare.