Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 11
8
ОглавлениеMeraai plant ’n geniepsige klap op Friedrich se hand wat haar aan die skouer vashou. “Ongepoetste swernoter!” skel sy verontwaardig. “Ek sukkel my poegaai om my ou asempie ná daardie lang stap terug te kry, en wat doen jy? Laat my dit opnuut wegskrik. Wat byt jou, broertjie? Ek het ’n heuglike tyding gebring, nie met jou kom rusie maak nie.”
Friedrich staar haar grimmig aan. “Is die leuen dat Gretha aan Ferdi Steenkamp verloof is tannie se heuglike tyding?”
“Maar sal jy ophou om my tot leuenaar te maak, skepseltjie?” vra Meraai onstuimig. “Nee a , Friedrich, hoe ken jy my? Is ek ’n skinderbek, of praat ek altyd die waarheid?”
Friedrich kyk onseker na Hanna wat swygend aan die bopunt van die kombuistafel staan en hom met die wysheid van die ouderdom betrag. “Is dit die waarheid, tant Hanna?” vra hy bruusk.
“Ek kan nie aan ’n enkele rede dink waarom Meraai al die pad in die warm son sou loop om ’n jokstorie aan my te kom vertel nie, kind. As Meraai sê Gretha en dokter Steenkamp is verloof, dan is dit so,” antwoord sy rustig.
Meraai glimlag vermakerig. “Sê hom, Hanna. Verbeel jou! Die japsnoet ruk my aan my ou skouertjie rond en maak my tot leuenaar. Wat makeer jou, Friedrich?” Sy wikkel haar stomp neusie snuiwend. “Jy het nie dalk te veel gedrink nie?”
“Ek glo nie dis drank wat die seun soos ’n renoster met ’n seer kop laat optree nie, Meraai,” sê Hanna betekenisvol.
“Wat is dit van drank?” vra Amalia en kom die kombuis binne. Sy sien Meraai aan die kombuistafel sit en glimlag verwelkomend. “Dag, Meraai. Hoe gaan dit met my peetdogter?”
Meraai gluur Friedrich wantrouig aan. “My lippe is gesnoer, Amalia, want maak ek my mond oop om jou die heuglike tyding te vertel, gee die ongepoetste mansmens my dalk ’n dwarsklap,” antwoord sy gekrenk.
Amalia raak bewus van die gespanne atmosfeer in die kombuis; asof ’n klam, koue wolk die vertrek binnegedryf en hulle toegevou het. Sy kyk beurtelings na Friedrich en Hanna, ’n woordelose vraag in haar oë.
“Meraai oordryf soos gewoonlik, Amalia,” sê Hanna ongeërg. “Die nuus dat Gretha en dokter Ferdi Steenkamp verloof geraak het, het Friedrich so ’n klein bietjie ontstel.”
“Wát?” Amalia staar haar sprakeloos aan en wend haar onthuts tot Meraai. “Is dit die waarheid, Meraai? Het Gretha sonder my medewete aan ’n wildvreemde man verloof geraak?”
“Ja, toe, wie oordryf nou?” vra Meraai vies. “Dokter Steenkamp is g’n ’n wildvreemde man nie. Hy is al minstens vier jaar lank ons huisdokter en kom maak gereeld ’n draai in Kaiserburg. Jy weet self, Hanna: dokter Steenkamp is as ’t ware eie familie.”
“Dalk vir die Falkensteins en vir jou, Meraai, maar Gretha het hom nouliks ’n week gelede ontmoet,” sê Amalia afkeurend. “Hoe dikwels het hy haar besoek, Meraai?”
Meraai haal haar skouers onverskillig op. “Nou hoe sal ek weet, vrou? Ek hou my besig met die lastige Henriëtte. Ek het nie oë in my agterkop om te sien wat Grethatjie agter my rug aanvang nie.”
“Gretha ken die man nie,” kom dit stroef van Friedrich. “Jy gaan die saak nie net daar laat nie, tant Amalia?”
“Vanselfsprekend nie, maar as die meisie ernstig is … Sy is reeds mondig en ek kan nie meer aan haar voorskryf nie,” antwoord Amalia bekommerd en kyk na Meraai. “Ek sal graag met Gretha wil praat, Meraai. Ry jy saam met my?”
“Nie voordat ek ’n tweede glas koeldrank en so ’n klein ietsie te ete gehad het nie.” Meraai kyk verwytend na Hanna. “Ek het lankal afgekoel, Hanna. Waar is my tweede glas koeldrank? En wat van ’n lekker eetdingetjie?”
Hanna skink die glas swygend vol koeldrank en stap dan die spens binne. Sy keer met ’n mandjie in haar hand terug en plak dit voor Meraai neer. “Die konfyttertjies wat jy saam met Gretha gestuur het, is so taai soos skoensole en boonop verbrand. Jy kan hulle eet op pad terug Kaiserburg toe, Meraai.”
“Maar hoor nou so ’n aanstellerige sieletjie!” kom dit boos van Meraai. “Mý konfyttertjies is taai soos skoensole, Hanna Pieterse, maar wat van die tertjies wat jy bak? Jy is suinig, vrou, vreksuinig, want jy sit net ’n ou lekseltjie konfyt in die tertjies.” Sy vroetel in die mandjie en haal ’n tertjie te voorskyn. “Dís soos ’n konfyttertjie moet lyk, Hanna: die ou dingetjie staan skoon boepens van die konfyt.”
“Amalia is haastig om te ry, Meraai. Drink nou jou koeldrank,” kom dit bedaard van Hanna.
“Jaag, jaag, jaag … En waarvoor, mens? Ons weet almal die ou lewe is ’n eenrigtingstraat kerkhof toe,” verwyt Meraai, drink die koeldrank en klad haar lippe fyntjies met haar kantsakdoekie. Sy sukkel steunend orent. “Nou waarvoor wag ons, Amalia? Ek het my konfyttertjies.”
“Ek is nou-nou weer terug, tant Hanna,” sê Amalia en stap by die agterdeur uit.
“Hokaai, mens!” skree Meraai skril. “Ek kan nie drawwe met my kruis vet wat ek saam met my moet dra nie.” Sy skommel in die agterdeur tot stilstand. “Tot siens, Hanna. Ek is ’n barmhartige mens, daarom vergewe ek jou oor jou snedige aanmerkings oor my konfyttertjies. En jy, Friedrich, hoef nie so bekaf te lyk nie. Ek het jou ook lankal vergewe, al het jy my so ongevraagd aangerand. Tata, broertjie.”
“Sien jou, Meraai,” groet Hanna met ’n kopskuddende glimlaggie en draai na Friedrich wat op ’n kombuisstoel plaasgeneem het en stroef voor hom uitstaar. “Het jy Gretha lief, Friedrich?” vra sy reguit.
Haar vraag tref hom soos ’n vuishou tussen sy oë wat hom sy kop laat terugruk. Hy staar haar oorbluf aan, ongeloof in sy oë. “Wat laat tannie so iets vra? Gretha is vir my ’n vreemdeling, soos wat Ferdi Steenkamp vir haar ’n vreemdeling is.”
“Ek sien.” Hanna se oë vonkellag, maar sy vra bedees: “Glo jy liefde is ’n wetenskap, my kind? Geskied alles volgens ’n tydrooster? Vandag ontmoet jy ’n meisie, ses maande later kry jy haar lief en ’n jaar later trou julle?”
Hy staar haar vies aan. “Ek het net een maal ’n meisie liefgehad, maar toe ek haar vanoggend weer daar op die strand ontmoet …” Hy frons verwonderd. “Ek het dit aan Gretha gesê en ek weet dis waar: verliefdheid is net ’n stuiptrekking. ’n Mens ontgroei dit.”
“Verwys jy na jou gevoel vir Alexandra Myburgh?”
“Ja, tannie. Daar was ’n tydperk in my lewe toe ek geglo het ek sal nooit gelukkig wees as ek nie met Alexandra trou nie.”
“En nou voel jy anders oor haar?”
Hy glimlag wrang. “Ongetwyfeld. Dis een stuiptrekking wat ek vinnig ontgroei het.”
“Verliefdheid is nie liefde nie, Friedrich. As jy nie weet wat die verskil is nie, het jy nog nooit liefgehad nie.”
“Ek kan dit nie bekostig om ’n meisie lief te kry nie – en tannie weet waarom,” sê hy stug.
“O, ek weet jy glo jy het nie die reg om lief te kry nie, omdat jy niks oor jou afkoms weet nie, kind, maar die dag as jy liefkry … ’n Mens vra nie om lief te kry nie. Dit gebeur net.”
Hy betrag haar sinies en haal sy skouers op. “Laat ons nie oor so ’n onbenulligheid redeneer nie, tant Hanna. ’n Koppie tee sal lekker smaak,” gee hy ’n ander wending aan die gesprek.
Hanna staar simpatiek na hom, wil iets sê, maar besluit dan daarteen. Die lewe self is die beste leermeester, dink sy en skakel die elektriese ketel aan.
Kaiserburg het nie verander nie, dink Amalia terwyl sy saam met Meraai die trap opklim na tant Henriëtte se privaat sitkamer. Eenmaal was sy ’n welkome gas in Kaiserburg … eenmaal, toe sy skugtere jongmeisiedrome oor Kurt Falkenstein gedroom het. Kurt … Haar liefde vir hom het die grense van ruimte en tyd oorskry, daarom kon sy nooit weer ’n ander man liefkry nie. Selfs die wete dat hy met Henriëtte sou trou, kon niks aan haar gevoel vir hom verander nie. En nou is hy dood. Miskien troos dit tog ’n bietjie dat sy haar jeugliefde ongeskonde in haar binneste kon vertroetel, want Kurt is nooit getroud nie. Dit troos om te droom oor die moontlikheid dat hy haar tog sou liefgekry het as hy nie so jonk gesterf het nie.
“Ons moet maar stadig loop, Amalia,” waarsku Meraai. “Die diensmeisie het nou wel gesê Henriëtte het gevra dat ons na haar privaat sitkamer toe kom, maar ek ken haar: sy sal heel waarskynlik eers ’n mooier rok wil aantrek.”
“Ná al daardie konfyttertjies wat jy geëet het, is dit beter vir jou gesondheid om stadig te loop, Meraai,” terg Amalia haar.
“Kos is gesond,” sê Meraai beslis. “Moenie dat die slim dokters jou vertel vet maak mense siek nie. Kyk nou maar na my: ek was nog nooit in ’n hospitaal nie en kry ek verkoue, eet ek my gesond. Maar aan die ander kant: Henriëtte raak net lastig as ek olik is, daarom sorg ek dat ek nie siek word nie.”
Hulle stap saam in die breë gang af en Meraai dril voor ’n toe deur tot stilstand, loer oor haar skouer na Amalia en sê met ’n onnutsige knipoog: “Sy speel weer die rol van die koningin van Kaiserburg. Kom ons sit haar ’n slaggie op haar plek.”
“Hoe meen jy nou, Meraai?” vra Amalia bekommerd.
“Jy sal sien,” antwoord sy geheimsinnig, klop aan die deur, maak dit oop en stap binne.
Henriëtte is heelwat skraler as in haar jeug, maar sy is nog steeds ’n mooi vrou, dink Amalia en kyk na Henriëtte wat op ’n vergulde stoel met donkerrooi stoffering sit.
“Laat ek jou voorstel, Henriëtte,” sê Meraai formeel. “Professor doktor Amalia Lottering, ontmoet mevrou Falkenstein.”
“Meraai!” sê Amalia betigtigend. “Ek het Henriëtte reeds in my jeug ontmoet.”
“Professor?” Henriëtte lyk beïndruk. “Ek onthou jou pa het graag met sy slim dogter gespog wanneer hy ons op Overberg besoek het, Amalia, maar ná sy dood het ek nooit weer iets van jou gehoor nie.”
“Ek het ’n lektrise in sielkunde geword en my doktorsgraad verwerf, maar ek het so pas afgetree. Hallo, Henriëtte,” groet Amalia met ’n innemende glimlag en skud Henriëtte se hand.
“Welkom in Kaiserburg, Amalia. Ek was skoon opgewonde toe ek hoor jy is verpleegster Wolmarans se peetmoeder. Ek het nie juis intieme vriendinne gehad toe ek nog ’n dogter was nie, maar ek onthou dat jy soms saam met jou pa my ouers besoek het.”
“Gewoonlik om my aan jou speelgoed te verwonder,” glimlag Amalia en neem op ’n stoel skuins oorkant Henriëtte plaas. “En later jou rokke. Jy was altyd soos ’n prinses geklee.”
“My ouers het die geld gehad,” sê Henriëtte merkbaar gevlei. Sy tik senuweeagtig met haar vingers van haar regterhand op die armleuning van haar stoel. “’n Vrou van jou stand … Ek het gewonder: wil jy nie hier in Kaiserburg kom kuier nie? Hanna is nie meer so jonk nie en ek twyfel of sy daarin sal slaag om jou kuiertjie in Blumenstrauss baie aangenaam te maak.”
“Jy skinder nou, Henriëtte,” sê Meraai kwaai. “Daar skort niks met Hanna se hande of verstand nie.”
“Jy sal nie verstaan nie, Meraai,” sê Henriëtte, en sy lig haar ken hooghartig. “Professor Lottering is gewoond aan intellektuele geselskap en al die gerief wat geld kan koop.” Sy kyk na Amalia. “Ek verneem jy het skatryk geërf na jou pa se dood, Amalia.”
“Ek was ’n enigste kind en kleinkind, daarom het ek heelwat geërf. Maar ek geniet my vakansie in Blumenstrauss, Henriëtte. Tant Hanna gaan uit haar pad uit om my verblyf so aangenaam moontlik te maak. Ek sal haar onnodig beledig as ek nou hierheen kom,” sê Amalia beslis.
Meraai snuif ergerlik deur haar stomp neusie. “Party mense vat nie hulle rykdom kop toe nie. Hulle ken hulle maniere,” sê sy vies.
Henriëtte ignoreer haar en frons. “Moenie my verkeerd verstaan nie, Amalia. Ek het niks teen Hanna nie, maar ek is bewus van Friedrich se teenwoordigheid in Blumenstrauss. Ek het sestien jaar lank probeer om hom ’n ordentlike opvoeding te gee, maar een maal ’n optelkind, altyd ’n optelkind. Pla sy buffelagtige houding jou nie?”
“Inteendeel, ek en Friedrich kom goed oor die weg. Hy is toevallig my ginekoloog. Ek kan nie anders as om met die grootste lof van hom te praat nie,” antwoord Amalia gelykmatig.
“’n Verkleurmannetjie, dis wat hy is,” sê Henriëtte misnoeg. “Maar ek vertrou hom nie. Hy het met my skoonmoeder gekonkel en gesorg dat hy Blumenstrauss inpalm. Ek waarsku jou, Amalia, hy is heel waarskynlik agter jou geld aan.”
“Ek waardeer jou waarskuwing, maar Gretha is reeds my erfgenaam,” lig Amalia haar met ’n ongesteurde glimlaggie in.
Henriëtte sit meer regop, ’n gierige gloed in haar donker oë. “Gretha? Verpleegster Wolmarans?” vra sy verras.
“Ja, Henriëtte. Gretha het haar moeder verloor toe sy nog baie jonk was. Ek en wyle Annelie het mekaar gedurende ons studentejare leer ken en boesemvriendinne geword. Dis waarom sy my gevra het om Gretha se peetmoeder te wees. Ná Annelie se dood het ek al hoe meer die rol van Gretha se ma begin speel, daarom is sy vir my soos ’n eie dogter.”
Meraai snuif aangedaan. “Haai, dat ek jou nou so verkeerd kon opsom, Amalia. Reken, ek dag jy is ’n geleerde vrou met ’n woordeboek waar jou hart moet wees, maar nou moet ek hoor jy het ’n sagte moederhart, nes ’n gewone mens … te wonderlik!”
“Stil, Meraai,” beveel Henriëtte onthuts, draai na Amalia toe en vervolg gretig: “As ek net al die dinge vooraf geweet het, Amalia … ek kwel my al jare lank oor Dieter se toekomstige vrou, maar ’n meisie uit ’n goeie stand; ’n meisie wat nie net ’n gewone arbeider is nie …”
“As jy na Gretha verwys, Henriëtte: die meisie het ’n aardige sommetjie geld van haar ouma aan moederskant geërf. En dan is daar hulle familiejuwele. Gretha is beslis nie ’n kerkmuis nie,” val Amalia haar in die rede met ’n tikkie ergernis in haar stemtoon.
“Maar …” Henriëtte staar haar ontsteld aan. “Nou kan ek begryp waarom dokter Steenkamp so gretig was om aan jou peetdogter verloof te raak, Amalia. Hy is nog besig om te betaal vir sy praktyk wat hy by ou dokter Lategan oorgeneem het. Hy hoop natuurlik om met Gretha te trou sodat sý vir sy praktyk kan betaal.”
“As die kinders mekaar liefhet …” sê Amalia onverskillig.
“Liefde is nie ter sprake nie. Ek sê jou mos: die doktertjie soek net ’n ryk vrou. Jy sal daadwerklik moet optree om ’n einde aan hulle verlowing te maak, Amalia. Ek glo Dieter is die aangewese bruidegom vir Gretha,” sê Henriëtte vasbeslote.
Amalia onderdruk met moetie ’n glimlag. “Ek het hierheen gekom met die doel om Gretha se verlowing met haar te bespreek. Sal dit vir haar geleë wees om nou met my te praat?”
“Vanselfsprekend, Amalia. Maar wil jy nie eers saam met my tee drink nie? Ek vergeet my rol as gasvrou …”
“Die tee kan wag, dankie, Henriëtte. Waar sal ek na Gretha gaan soek?”
“Meraai sal haar hierheen bring,” sê Henriëtte en staan op. “Ek het jou besoekie geniet, Amalia. Maak weer so.”
“Ek sal, dankie, Henriëtte. Tot siens,” groet Amalia, ’n raaiselagtige glimlag om haar lippe. Daar was altyd praatjies dat Henriëtte in ’n kliniek vir sielsiekes hoort, maar daar het niks geskort met Henriëtte se geselsie met haar nie. Het tant Hanna en Meraai haar onder ’n valse indruk probeer bring? Nee … daar was die voorval toe Henriëtte vir Friedrich met ’n skêr bygedam het. Wie is die werklike Henriëtte? wonder sy fronsend.
In die gang draai Henriëtte met ’n triomfantlike glimlag na Meraai. “Wat sê jy nou, Meraai? Het ek my goed genoeg gedra?”
“Nie te sleg nie,” gee Meraai onwillig toe, haar oë agterdogtig op Henriëtte. “Maar watse bog is dit dat Dieter met Gretha moet trou? Heiden, vrou, Dieter is ’n man van agt en twintig. Hy is oud en lelik genoeg om self vir hom ’n bruid te kies.”
’n Sluwe gloed brand in Henriëtte se oë. “Dieter weet wie het die hef in die hand. Maak hy nie soos ek sê nie, sal hy Kaiserburg nooit erf nie.”
“Almiskie, maar jy kan nie vir Gretha dwing om Dieter lief te kry nie. sy is klaar aan dokter Steenkamp verloof,” sê Meraai vies.
“Watter normale meisie sal ’n onaantreklike, arm dokter bo my seun verkies?”
“’n Meisie wat liefhet,” antwoord Meraai uitdagend en kyk weer wantrouig na Henriëtte. “En daar is nog iets. Hoekom is jy skielik so gretig dat Dieter met Gretha moet trou? Al die jare belet jy die arme seun om ’n enkele meisie huis toe te bring, maar nou kan jy nie wag om hom met Gretha getroud te sien nie.”
“Ek het nie gesê hulle sal dadelik trou nie. Gretha is nog jonk. Hulle kan ’n paar jaar lank verloof wees. Gretha is ’n verpleegster. Sy kan hier in Kaiserburg woon en as ons goed oor die weg kom … Jy word nie jonger nie, Meraai. Gretha sal my kan help as jy my nie meer kan versorg nie.”
Meraai steek viervoet in haar spore vas en bars verontwaardig uit: “Jou selfsugtige blikskater! Jy soek nie ’n bruid vir Dieter nie, maar ’n slavin vir jouself. Skaam jy jou nie, Henriëtte Falkenstein? Kan jy aan niks anders as jou eie geluk dink nie?”
“Ek moet aan die toekoms dink,” sê Henriëtte met kille onverskilligheid. “Toe, gaan roep vir Gretha. Amalia wag op haar.”
“Slinkser as ’n slang,” mompel Meraai en loop met ’n ergerlike ruk van haar skouers na die bopunt van die trap toe.
Dieter skop-skop met die punt van sy kapstewel na ’n kegelsteen. Daar is ’n onvergenoegde uitdrukking op sy gelaat. “Dit maak nie vir my sin nie, Gretha. Waarom moes jy juis nou aan Ferdi Steenkamp verloof geraak het?”
“Sou môre of volgende week jou beter gepas het?” vra sy ligweg.
Hy kyk haar vies aan. “Dis nie wat ek sê nie, maar jy is my pa se privaat verpleegster. Selfs dokter Steenkamp weet nie hoe lank my pa nog sal leef nie, maar solank as wat hy leef, het hy jou nodig. Wat word van hom as jy skielik met Ferdi trou?”
“Daar ís ander privaat verpleegsters, Dieter.”
“Wie? Ou tantes met suur gesigte?”
“Maak dit saak? Wie ook al jou pa verpleeg, sal bekwaam wees.”
“Maar nie geselskap vir my nie!” bars hy driftig uit.
Sy staar hom onthuts aan. “Liewe land, Dieter, ek het nie hierheen gekom om jou geselskap te hou nie. Jy is van plan om met Alexandra Myburgh te trou. As jy vrouegeselskap soek, gaan kuier by haar.”
Hy pers sy lippe hard saam. “Jy weet my ma hou my soos ’n valk dop. Sy ken die klank van my motorenjin. Ek kan nêrens heen gaan nie of ek moet haar eers vooraf sê waarheen ek op pad is. En dan bel sy boonop om vas te stel of ek nie vir haar gelieg het nie.”
“Dis jou eie skuld. Jy is agt en twintig. Waarom dans jy na jou ma se pype?”
Hy kyk haar in stilte aan en twyfel verdonker in sy oë. “Dis … dis nie so eenvoudig nie. Ek weet nie eens of dit die waarheid is nie, maar elke maal as ek haar teëgaan, dreig sy om toe te sien dat Kaiserburg aan Friedrich bemaak word.”
Gretha snak hoorbaar na haar asem, haar oë groot van ongeloof. “Maar … kan sy so iets doen? Kaiserburg behoort tog aan jou pa.”
“In naam, maar my ma kraai al die jare koning oor ons almal. Sy … sy sê Friedrich is my pa se buite-egtelike seun en …”
“Wát?” val sy hom oorbluf in die rede.
“Asseblief, Gretha, moenie die saak met enigiemand bespreek nie. Ek weet nie of dit die waarheid is nie, maar as Friedrich werklik my halfbroer is …Hy is twee jaar ouer as ek. Hy het eerste aanspraak op Kaiserburg.”
“En jy wil nie die ou huis en die landgoed verloor nie?” vra Gretha simpatiek.
Bitterheid trek diep lyne langs Dieter se mond. “Ek háát die ou huis. Maar my ma het ’n pragplaas, Overberg, van haar ouers geërf. As ek onterf word … Ek gee nie om om dit ruiterlik te erken nie: ek is gewoond aan weelde. Ek het ’n mislukking van my studie gemaak, daarom het ek nie eens ’n graad nie. Wat moet ek doen as ek onterf word? Ek sien nie kans om vir ’n paar rand op ’n vissersboot te gaan werk nie.”
“As Alexandra jou liefhet … Sy het ’n plaas van haar oorlede man geërf,” probeer Gretha hom troos.
“Nooit! Ek het nog my trots. Ek sal nie toelaat dat my ryk vrou my onderhou nie. Dis waarom my ma my soos ’n marionet aan ’n toutjie laat rondspring, want sy hou my toekomstige geluk in haar hande.”
“Ek wens ek kon help, Dieter, maar … ek beloof jou ek sal nie met Ferdi trou solank as wat jou pa my hulp nodig het nie.”
Hy glimlag dankbaar. “Jy is beeldskoon én dierbaar, Gretha. As ek nie vir Alaxandra liefgehad het nie, sou ek …” Hy kug en bloos verleë. “Kom ry saam met my perd,” verander hy die rigting van hulle gesprek.
“Ek kan nie. Jou pa moet binnekort weer ’n inspuiting kry en jou ma … Ek is nie lus vir nog ’n rusie nie.”
“En jy is nou ’n verloofde meisie,” sê hy wrang, draai om en klim op sy perd wat reeds opgesaal is. Hy wuif met sy karwats en ry op ’n galop weg.
Gretha loop na die perd, Jasmyn, wat Dieter gewoonlik vir haar laat opsaal en voer haar ’n paar suikerklontjies. Jasmyn vreet knarsend, soek snuifend na nog suikerklontjies en blaas in Gretha se nek.
“Dalk gaan ry ons vanmiddag, Jasmyn. Ek en jy … Jieee!” gil sy verskrik toe sy van agter aan die skouers gegryp en omgeruk word. Haar skok verander in verontwaardiging toe sy vaskyk in Friedrich se grimmige gelaat. “Jou onnosele –” bars sy driftig uit.
“Bly stil!” snou hy en skud haar liggies aan haar skouers. “Wat skort daar met jou gesonde verstand, Gretha? Jy het my laat verstaan jy is ’n intelligente meisie, ’n gegradueerde verpleegster, maar jy tree so onverantwoordelik soos ’n bakvissie op.”
“Los my, jou ellendige bullebak! Hoe kan ek praat as jy my ruk dat my tande klap?” vra sy boos.
Hy laat sak sy hande vinnig. “Praat dan. Wat is jou verduideliking?”
“Ek was in die agterplaas toe Dieter na die stalle gekom het om te gaan perdry. Ons het –”
“Meisiekind, wil jy hê ek moet jou aan die naaste balk ophang?” val hy haar verwoed in die rede. “Ek wil weet wat jou besiel het om aan ’n wildvreemde man verloof te raak?”
Hy is kwaad oor haar verlowing aan Ferdi, besef sy. Is hy dalk ’n klein bietjie jaloers? wonder sy en glimlag breed. Dan besef sy dat sy glimlag, en trek gou ’n vroom gesig. Friedrich lyk asof hy ’n moord kan pleeg, daarom sal sy die situasie met die nodige erns benader, besluit sy en sê formeel: “Dokter Steenkamp het my gevra om aan hom verloof te raak, en ná ernstige oorweging het ek ingestem.”
“Snert! Jy ken die man nie. Jy het hom ook nie lief nie.”
“Hoe weet jy, dokter Falkenstein? Jy glo nie eens aan liefde nie,” kap sy terug.
“Miskien nie, maar ek het ’n gesonde verstand. Jy het Ferdi een of twee maal gesien en nou is jy skielik aan hom verloof. Hoekom?”
“Omdat … e … omdat dit die gebruik is om eers aan ’n man verloof te raak voordat jy met hom trou,” antwoord sy koel.
“En omdat jy hom onsterflik liefhet?”
Sy kyk weg en sê nadruklik: “Ek sal nooit met ’n man trou as ek hom nie onsterflik liefhet nie.”
Friedrich hou haar met geskreefde oë dop, stoot sy vingers gefrustreerd deur sy hare en vra onverwags. “Kan jy my in die oë kyk en my vertel jy het hom onsterflik lief?”
As hy nie baie gou loop nie, gaan sy in trane uitbars, dink sy en hou haar gesig afgewend. Hoe kan enige man so siende blind wees? Kan hy nie sien hoe onvoorwaardelik sy hom liefgekry het nie? Sy het hom lief met elke asemteug, met elke klop van haar hart, maar hy verwag van haar om hom in die oë te kyk en te erken dat sy iemand anders liefhet.
“Jy is nie my pa nie, Friedrich. Hou op om soos ’n inmengerige ou oom op te tree. Ek en Ferdi is verloof en jy kan niks aan die saak verander nie,” antwoord sy en haar stem is skor van ongestorte trane.
Die woede wyk uit sy oë en hy kyk haar besorg aan. “Waarom, Gretha? Het jy finansiële probleme? Skuld wat jy nie kan betaal nie? Is dít die rede waarom jy so gretig is om met Ferdi te trou?” vra hy simpatiek.
Nou gaan sy soos ’n baba grens, dink sy. Die trane brand agter haar ooglede, en sy buig haar kop af.
Hy neem haar liggies aan haar boarms en trek haar nader aan hom. “As dit finansies of enige ander probleem is, klein Grietjie: ek sal jou help. Het jy vergeet ons is vriende? Dis nie vir jou nodig om met ’n wildvreemde man te trou bloot omdat jy geld nodig het nie.”
Haar skouers begin ruk en hy vou haar in sy arms teen sy bors. Sy snik willoos; huil met die ontroosbare seer van ’n meisie wat besef haar liefde is tevergeefs.
“Grietjie … Grietjie,” sê hy, sy stem diep en troetelend. “Niks kan so erg wees dat jy daaroor moet huil nie. Vertel my net wat ek moet doen om jou te help.”
“Ek … ek huil, omdat jy my so s-styf vashou. Jy v-versmoor my,” snik sy hulpeloos.
Hy neem haar aan haar skouer en stoot haar liggies weg van hom. “Hoekom vertrou jy my nie, Gretha? Hoekom skram jy weg van die waarheid af? Ek weet jy het Ferdi nie lief nie.”
Sy snuif, vee met haar hand oor haar oë, en neem die sakdoek wat hy haar aanbied en droog haar trane af. “Jy het self gesê jy glo nie aan die onverganklikheid van die liefde nie. Liefde gaan my huwelik met Ferdi nie gelukkiger maak nie. Ons het dieselfde belangstellings. Ons hou van mekaar. Dis voldoende.”
Hy sluk hoorbaar. “Daar ís so iets soos liefde. Jy weet daar is. Ek … e … ek het sommer net gepraat … onsin gepraat.”
“Jy het nie. Jy het jouself geglo. As jy eerlik met jouself is, sal jy erken dat jy Alexandra Myburgh nog altyd liefhet,” protesteer sy, voel haar oë volloop en vee vinnig met die sakdoek oor haar oë. Sy haat Alexandra Myburgh, want sy is die rede waarom Friedrich nooit ’n ander meisie sal kan liefkry nie, dink sy, al besef sy sy is onredelik. Alexandra het haar nie gevra om vir Friedrich lief te kry nie; sy het haarself nie eens gevra nie. Liefde is.
“Ek en Alexandra het ’n interessante gesprek op die strand gehad,” sê hy, merk die belangstelling in haar blik en vervolg: “Ek kan nie glo dat ek haar eenkeer liefgehad het nie.”
“Presies! Liefde is sommer net ’n woord. Dis belangriker om met iemand te trou wat jou belangstellings deel … met wie jy kan kommunikeer,” praat haar verstand haar voor, maar haar hart skree ’n ander waarheid uit.
“As dit waar is –” begin hy en byt sy woorde af, die uitdrukking op sy gelaat ineens onleesbaar. Wat makeer hom? dink hy verward. Was hy werklik van plan om aan Gretha te sê dat hy bereid is om met haar te trou? Nee … nee, nooit nie! Solank as wat sy verlede in duisternis gehul is, sal hy ’n vreemdeling vir die liefde bly. En tog … Hoe kan hy toelaat dat Gretha met Ferdi trou? Maar aan die ander kant: wat maak dit saak as sy wel met Ferdi trou? Sy het reg op ’n eie lewe; reg op geluk. Maar waarom vind hy dit so moeilik om haar aan ’n ander man af te staan? Nee, hy dink soos ’n waansinnige, berispe hy homself.
“Ek sal julle strooijonker wees,” sê hy kortaf, draai om en stap om die hoek van die stal weg.
Sy bly langs Jasmyn se stal staan en huil met die klaende hartseer van ’n kind, onbewus van die trane wat vryelik oor haar wange loop en koud in haar nek afdrup.
“My liewe Grietjie-kind!” Amalia bereik haar met enkele treë en neem haar in haar arms. “As ek nie moeg geword het om op jou te wag en deur die sitkamervenster gekyk het nie … Wat het Friedrich gedoen om jou so verskriklik te laat huil, hartjie?” vra sy besorg.
“N-niks nie,” snik Gretha en huil met oorgawe terwyl sy Amalia vasklou.
“Onsin, meisie! Ek het darem oë in my kop. Ek het gesien hy ruk jou aan jou skouers rond. Het hy jou seergemaak? Het jy pyn?”
“V-verskriklike pyn,” snik sy gesmoord.
“Waar?” vra Amalia skerp.
“Waar my hart is.” Sy kyk verslae op. “Is dit liefde, tannie? Is liefde die seerste pyn in die wêreld? Is dit, tannie?”