Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 6
3
ОглавлениеFriedrich plaas sy blikkie bier stadig op die kombuistafel neer, sy blik grimmig op Gretha wat hom afwagtend aankyk. “Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles, Gretha. Ek geniet ons argumente, want jy amuseer my. Maar my afkoms is vir my ’n saak van erns. Wie ook al as oom Otto se verpleegster aangestel word, moet ’n verantwoordelike persoon wees, want sy sal my toekomstige geluk in haar hande hou,” sê hy met kille nadruk.
“En?” vra sy skouerophalend. “Dink jy nie ek is bekwaam genoeg om ’n sterwende ou oom te verpleeg nie?”
“Wat weet jy van verpleging?” vra hy bars. “Jy kan nie veel ouer as agttien wees nie. Glo jy vir een oomblik ek sal my hele toekoms in die hande van ’n ligsinnige student plaas?”
“Jou … jou beledigende, chauvinistiese … e … . vent!” krys sy verwoed en spring orent. “Dis tipies van julle mans: julle kyk na ’n meisie en maak julle eie gevolgtrekkings. Jy het na my gekyk en besluit ek is ’n agttienjarige snip met ’n mooi gesiggie en niks tussen die ore nie – en dít, dokter Falkenstein, is net ’n bewys van hoe min jy tussen jou ore het!”
“Dis ’n groot verbetering, Grietjie-kind,” sê Amalia wat uit die gang die kombuis binnekom. “Ek is innig dankbaar jy het Friedrich ’n vent in plaas van ’n vark genoem.”
“As tannie weet wat ek hom in my gedagtes noem, sal ek én tannie bloos,” sê Gretha nydig en gluur Friedrich met onverbloemde vyandigheid aan.
“Jy is gou terug, Amalia,” sê Hanna rustig. “Ek het jou gewaarsku die weer was ’n bietjie winderig. Maar jy weet tog self; die oggende is gewoonlik aangenaam, maar hier teen etenstyd begin die wind te waai.
“Ek het nie vergeet nie, daarom het ek net tot by die seemuur geloop en ’n rukkie na die golwe gekyk.” Amalia kyk vraend na Friedrich wat stroef voor hom uitstaar. “Waaroor gaan die rusie, Friedrich? Het jy my peetdogter beledig?”
“Ek neem so aan, maar sy het my daartoe gedryf, tannie. Ek glo ek het ’n sin vir humor, maar as iemand gekskeer oor iets wat vir my byna heilig is …” antwoord hy ingehoue, en swyg.
“Ek het nie gekgeskeer nie,” kom dit driftig van Gretha. Sy wend haar tot Amalia. “Friedrich het gesê sy oom Otto het ’n voltydse verpleegster nodig om hom te verpleeg. Ek het aangebied om te help en toe sê hy ek is ’n agttienjarige ligsinnige student sonder die verantwoordelikheid om sy toekomstige geluk in my hande te hou.”
“Hoe nou?” vra Amalia verdwaas.
’n Geamuseerde laggie kletter oor Hanna se lippe. “Laat ek verduidelik, Amalia, want Friedrich is te nors om sy mond oop te maak.”
“Ek is nie,” sê hy vinnig. “Oom Otto het ’n voltydse verpleegster nodig, tant Amalia, maar ek sal my ou studiemaat, dokter Ferdi Steenkamp, vra om die regte persoon te kry.”
“Dit pas my,” kom dit tevrede van Amalia. “Ek en Gretha het kom vakansie hou, en sy het die afgelope vier jaar hard genoeg gewerk aan haar opleiding as verpleegster en om haar graad in die verpleegkunde te kry.”
Friedrich se kop ruk in Gretha se rigting, ongeloof in elke lyn van sy gelaat, en hy kyk vas in haar triomfantelike glimlag. “Jy – ’n gekwalifiseerde verpleegster?”
“En ’n cum laude-student, my alwetende dokter Falkenstein. Boonop is my pa en my oudste broer dokters. As daar iemand is wat weet watter verantwoordelikheid op ’n verpleegster rus, is dit ek.” Gretha leun terug op haar stoel en vou haar arms op haar bors. “Jy hoef nie my voete te soen nie, maar jy kan voor my kom kniel en my om verskoning vra oor jou beledigende aanmerkings.”
“Vermakerige snip,” sê hy knorrig en vervolg onwillig. “Goed, ek het ’n oordeelsfout begaan en ek is jammer, maar ek glo nog nie jy is die regte persoon om my te help nie.”
“Hoe praat jy nou, Friedrich?” vra Amalia verwonderd. “Is die verpleegster nie veronderstel om jou oom Otto te help nie?”
“Ja, tannie, maar ek hoop sy sal my terselfdertyd kan help. Ek was vanmiddag by oom Otto om hom oor my eie ouers uit te vra, maar al wat hy gesê het, is dat ek al die bewyse in die ou skuilplek sal kan kry.”
“Watter ou skuilplek?” vra Amalia belangstellend.
Hanna leun vorentoe. “Ek glo dis Otto en wyle Kurt se skuilplek. Toe hulle kinders was, het hulle gereeld van hulle geheimsinnige skuilplek gepraat. Ongelukkig het nie een van ons grootmense ons veel aan die seuns se praatjies gesteur nie, daarom kan ek nie vir Friedrich help nie.”
“Maar ék kan,” sê Gretha selfversekerd. “Ek wed in ’n kasteelagtige ou woning soos Kaiserburg is daar dosyne versteekte kamers en gange.”
“Daar is nie,” kom dit bruusk van Friedrich. “Daar is ’n enkele versteekte kamer agter die boekrak in die studeerkamer, maar almal in die huis weet van die plek. Oom Otto het dit as sy wapenkamer gebruik.”
“Wanneer laas wat jy in die wapenkamer?” vra Gretha vinnig.
“Meer as tien jaar gelede, maar dit kon nie oom Otto-hulle se geheime skuilplek gewees het nie, want dit word nog al die jare as ’n wapenkamer gebruik. Boonop weet selfs die huishulpe van die plek, want dit word gereeld skoongemaak.”
“Dan moet daar ’n ander skuilplek wees,” sê Gretha mymerend en vervolg, haar oë dringend in dié van Friedrich: “As ek oom Otto se privaat verpleegster is, sal ek die geleentheid hê om hom daaroor uit te vra. En woon ek in Kaiserburg, kan ek snags na die skuilplek soek.”
“Oor my dooie liggaam!” sê Amalia met strydlustige finaliteit.
“Sê die Engelse,” kom dit snipperig van Gretha. “Ek wil tannie nie dood hê nie, maar ek ken reeds die storie en ek brand van nuuskierigheid om te sien hoe dit in Kaiserburg lyk.” Sy kyk na Friedrich. “Al dink jy ek is ’n yslike grap, weet jy dat jy my kan vertrou. Kry jy ’n verpleegster van Donkerbaai af, weet die hele dorp binnekort dat sy aangestel is om na ’n geheime skuilplek te soek.”
“Wat sy sê, maak sin, Friedrich,” sê Hanna ernstig. “Ons hou gereeld funksies om ons ou hospitaaltjie aan die gang te hou, daarom ken ek die verpleegpersoneel. Die getroude verpleegsters sal nie gewillig wees om in Kaiserburg te gaan woon nie, en die ongetroudes … Hulle is een en almal verlief op Dieter.”
“Luister niemand na my nie?” vra Amalia onstuimig.
Gretha sug oordrewe. “Móét ons rêrig luister, tannie?”
“Jy gaan my nog ’n toeval gee, Gretha! Ek ken jou: jy beskou dit as ’n groot avontuur om in Kaiserburg te gaan woon, maar jy is onbewus van die ware toedrag van sake. Henriëtte Falkenstein is haar lewe lank ’n senupasiënt wat dikwels onbeheers optree. Selfs toe ek nog ’n meisie op Donkerbaai was, was daar van die dorpenaars wat gesê het dis net haar ouers se geld en Meraai Spannenberg wat verhoed dat Henriëtte in ’n kliniek vir sielsiekes toegesluit word,” vertel Amalia ontsteld.
“Maar ek gaan nie vir tant Henriëtte verpleeg nie, tannie. Ek sal sorg dat ek uit haar pad uit bly.”
Friedrich kug ongemaklik. “Dis nie so eenvoudig nie, Gretha. Tant Henriëtte kom en gaan soos sy wil, want tant Meraai kan nie haar én oom Otto behartig nie.”
“Dis waarom ek oom Otto gaan verpleeg, want dan kan tant Meraai al haar aandag aan tant Henriëtte gee.”
“Solank as Henriëtte haar kalmeermiddels drink, is sy so sag soos ’n lammetjie,” sê Hanna paaiend. “Meraai sal nie toelaat dat Gretha iets oorkom nie, Amalia, en dis soos die dogter sê: Wie anders kan ons vertrou?”
Amalia kyk vir Friedrich deurdringend aan. “Jy weet ek is nooit getroud nie, Friedrich. Gretha is al wat ek het. Glo jy sy sal veilig in Kaiserburg wees?”
Hy kug ongemaklik, sy blik onseker op Gretha. “Dit sal van haar afhang, tannie. Sy sal met die grootste versigtigheid te werk moet gaan en sy sal vir tant Meraai moet sê wanneer sy besluit om na die skuilplek te soek.”
“Ek sal! Ek sal!” beloof Gretha entoesiasties.
Hanna lê ’n vertroostende hand op Amalia se arm. “Daar is ’n foonverbinding tussen Blumenstrauss en Kaiserburg, Amalia. Gretha weet ons is hier. Solank Meraai daar is om ’n ogie oor Henriëtte te hou, hoef jy jou nie te kwel nie.”
“Ons moet vinnig besluit, tant Amalia,” sê Friedrich gespanne. “Niemand weet Gretha het hier kom kuier nie, maar as Dieter onverwags hier sou opdaag … Ek wil onder geen omstandighede hê dat die inwoners van Kaiserburg agterkom dat ek vir Gretha ken nie.”
“Ek het nog nie my tasse uitgepak nie,” sê Gretha en staan op. “Wanneer moet ek vertrek?”
Amalia kyk besorg na haar. “Grietjie-kind, is jy seker jy weet wat jy doen?” vra sy met ’n tikkie verwyt in haar stemtoon.
“Ek het tannie reeds gesê: Ek wil privaat verpleging doen,” antwoord sy koppig, bedink haar en plaas haar arm om Amalia se skouers. “Ek beloof tannie: Ek sal niks doen om my eie lewe in gevaar te stel nie. Maar ek kán myself verdedig – het tannie van my drie broers vergeet?”
“As dit dan moet …” Amalia sug verslae. “Ek kan net bid dat ek hierdie dag nooit sal berou nie.”
“Tannie sal nie. En ek sal gereeld kom inloer,” beloof Gretha, druk ’n klapsoen op Amalia se wang en draai na Friedrich toe. “Ek is gereed vir jou opdragte, dokter Falkenstein,” sê sy formeel.
“Volg my, verpleegster Wolmarans,” antwoord hy met ’n sweem van ’n glimlag op sy lippe, en hy stap die kombuis uit.
Gretha volg vir Friedrich in sy metaalgrys motor in haar geel motortjie, sien die vissersdorpie onderkant hulle lê en trap vinnig rem toe Friedrich uitswaai en tussen die bome op linkerhand indraai. Sy frons verwonderd, merk die dowwe paadjie wat tussen die bome deur kronkel en volg weer sy motor. ’n Paar honderd meter verder bring hy sy motor tot stilstand en klim uit. Sy parkeer haar motor, skakel die enjin af en frons vraend toe hy na haar toe aangestap kom.
“Klim uit, Gretha. Ons moet eers praat,” sê hy gelykmatig.
Sy probeer die uitdrukking op sy gesig lees, maar sy wimpers versluier sy oë terwyl hy haar motordeur oopmaak en haar uithelp.
“Jy klink verskriklik ernstig,” sê sy bekommerd. “Het jy my nie die volle waarheid vertel nie?”
“Ek het nie, maar dit was ter wille van tant Amalia.” Hy pers sy lippe saam en praat dan vinnig: “Ek het jou nie vertel wat vandag gebeur het toe ek oom Otto besoek het nie … Ek het nouliks met hom gepraat toe tant Henriëtte die kamer binnegestorm het.”
“Maar ek weet reeds daarvan.”
“Nie alles nie. Sy het ’n skêr gegryp en sy sou my aangerand het as oom Otto nie voorgegee het dat hy yl nie. Ek was nie werklik bekommerd nie, want ek is fisiek baie sterker as sy, maar aan die ander kant: ’n kranksinnige mens het gewoonlik meer krag – en geslepenheid – as ’n normale persoon.”
“Is sy dan gewelddadig? Het sy al iemand beseer?” vra Gretha.
“Nee … nee, nie sover ek weet nie. Tant Meraai sorg dat sy gereeld haar medikasie gebruik en dan is sy heeltemal beheerbaar, maar tant Henriëtte kan slinks wees. Sy het blykbaar net voorgegee dat sy haar kalmeermiddel gedrink het. Tant Meraai was onder die indruk dat sy slaap, maar sy het Dieter se verkyker gebruik om op tant Hanna te spioeneer. Sy het my heel waarskynlik sien aankom.”
“Maar dan weet sy reeds van my!” kom dit ontsteld van Gretha.
Hy glimlag gerusstellend. “Dis onmoontlik. Blumenstrausss is ’n dubbelverdieping. Sy kan nie van Kaiserburg af sien as daar motors voor Blumenstrauss geparkeer staan nie.”
“O … Maar as sy my met ’n skêr probeer aanrand …”
“Dis waarom ek jou daarvan vertel het. Sy mag onder geen omstandighede weet dat jy vir my of vir tant Hanna ken nie. Jy sal elke week ’n dag vry hê en dan kan jy tant Hanna toevallig ontmoet. Maar moet onder geen omstandighede oor my praat nie.” Hy kyk haar deurdringend aan. “Ry ons verder of draai ons terug huis toe?”
Sy is nie meer ’n hanswors in sy oë nie, maar ’n vertroueling, dink Gretha en sy besef dat ’n spesiale gevoel vir die groot man met die purperblou oë in die warm duisternis van haar bestaan waar liefde gebore word, ontkiem en gegroei het. Daar is niks wat sy nie vir hom sal doen nie, solank as wat hy daar is. Maar hy mag dit nooit weet nie, want dan sal sy weer die spotlag in sy oë lees, besluit sy en draai weg van hom af.
“As jy bang is …Ek sal verstaan, Gretha,” sê hy met begrip.
“Ek is nie bang nie en ek wil jou help,” antwoord sy gedemp.
“Selfs ná al my beledigings?” vra hy skuldig.
Sy glimlag met gedwonge sorgeloosheid. “Dis waarom ek ’n verpleegster geword het: ek kry mense jammer. Of dalk hou ek net van mense, want ek geniet dit om hulle te help.”
“Ek is nie siek nie. Jy het nie rede om my jammer te kry nie.”
“Nee, maar jy het hulp nodig, anders sal jy altyd wonder wie jou biologiese ouers is. En dit is ’n uitdaging … byna ’n avontuur.”
“’n Gevaarlike avontuur,” waarsku hy.
“Jy het my reeds gewaarsku.”
“Ja, maar … daar is Dieter.”
Sy kyk hom verras aan. “Die kroonprins van Kaiserburg? Liewe land, Friedrich, gaan jy vir my sê hy is ook geestelik siek?”
Sy lippe vertrek grimmig. “Beslis nie, maar Dieter het nog altyd ’n oog vir die skoner geslag gehad. Tant Henriëtte het hom nooit laat vergeet dat hy die kroonprins van Kaiserburg is nie. Ek glo hy beskou homself as ’n prins wat net sy vingers moet klap om gehoorsaam te word. Meisies is oor die algemeen gretig om hom sy sin te gee.”
“Nooit!” Sy staar hom onthuts aan, nie seker of sy haar moet vererg of hom moet uitlag nie. “Dokter Falkenstein, jy het jou reeds een maal met my misgis: ek is nie ’n agttienjarige, ligsinnige student nie. Kom ek verlos jou uit jou ellende: Ek het nie mondig geword sonder om ’n deeglike kennis oor mans op te doen nie. Ek weet hoe om selfs die opdringerigste man op ’n afstand te hou.”
“Jy ken nie vir Dieter nie.” Hy sien haar ergerlik frons en vervolg haastig: “Solank jy gewaarsku is. Asseblief, moenie dat Dieter agterkom dat jy mý probeer help nie. Ons is reeds jare lank geswore vyande.”
“Was julle nie eens maats toe julle kinders was nie?” vra sy verwonderd.
Hy glimlag sinies. “Die prins en die slaaf – dit was ek en Dieter. ’n Kind volg gewoonlik die voorbeeld van sy ouers en Dieter het van kleins af gesien hoe tant Henriëtte my behandel. Oom Otto was altyd die vredemaker, die man wat my oor en oor gevra het om nie my hand teen Dieter te lig nie omdat ek ouer en sterker as hy is. Dis waarom ek so gereeld by ouma Helga en tant Hanna in Blumenstrauss gekuier het, anders het ek dalk ’n moord gepleeg.”
“En toe julle ouer word?”
“Tant Henriëtte kon my nooit vergewe dat ek baie beter as Dieter op skool presteer het nie. En toe ek Blumenstrauss erf … Ná ouma Helga se begrafnis het ek nooit weer teruggekeer na Kaiserburg toe nie.”
“Ek verkwalik jou nie. Dankie dat jy my van jou en Dieter vertel het.”
Hy kyk na haar met iets soos verbasing in sy oë. ’n Paar dae gelede was sy net ’n mooi meisie – nee, ’n beeldskone meisie – wat hy toevallig by ’n inkopiesentrum ontmoet het, maar nou is sy ’n vertroueling. “Vriende en bondgenote?” vra hy en steek sy hand na haar toe uit.
“Samesweerders,” skerts sy en skud sy hand.
Hulle glimlag in mekaar se oë.
Dokter Ferdi Steenkamp luister aandagtig na Friedrich, maar vind dit onmoontlik om sy oë van Gretha af te hou. Hy het jare gelede reeds besluit om sy pa se verstandige voorbeeld te volg en eers te trou wanneer hy ses en dertig jaar oud is, maar dit was voordat hy vir Gretha ontmoet het.
Hy hoop van harte dat daar nie reeds ’n verhouding tussen haar en Friedrich is nie.
Sy hou van Ferdi Steenkamp, dink Gretha. Hy het rooibruin hare, ’n kort neus wat ’n seunsagtige uitdrukking aan sy gesig gee, en ’n breë, vriendelike glimlag. Hy is korter as Friedrich, maar fors gebou, en die warmte in sy stem sal enigiemand laat wens om sy pasiënt te wees.
“Hoor jy wat ek sê, Ferdi?” vra Friedrich onstuimig, ineens smoorkwaad oor Ferdi se opsigtelike belangstelling in Gretha. Hy en Ferdi was juis goeie vriende toe hulle nog studente was omdat Ferdi meer in sy studie as in meisies belang gestel het. Het Ferdi skielik ’n persoonlikheidsverandering ondergaan? Waarom kyk hy na Gretha asof sy die eerste mooi meisie is wat sy spreekkamer binnegestap het?
“Elke woord, ou maat,” sê Ferdi gemoedelik en draai onwillig na Friedrich toe. “En ek het reeds aan ’n aanneemlike leuen gedink: Gretha is die dogter van een van my ma se vriendinne. Ek en Gretha ken mekaar al jare lank en … e … sy wou graag nader aan my wees, daarom het sy my gevra om vir haar werk in ons hospitaaltjie te kry. Ongelukkig is daar nie nou vir haar pos beskikbaar nie, maar sy sal graag privaat verpleging wil doen. Hoe klink dit vir jou?”
“Uitstekend!” kom dit goedkeurend van Gretha.
“Snert! Dit klink asof Gretha agter jou aandraf,” sê Friedrich misnoeg. “Gretha, jy is dol op die see, daarom wou jy graag op ’n kusdorpie werk kry. Dis waarom jy hier is.”
“Maar wat is mý rol dan?” vra Ferdi onthuts.
“Ek ken jou, omdat ons ouers huisvriende is. Ek het geweet jou praktyk is op Donkerbaai, daarom het ek hierheen gekom in die hoop dat jy vir my werk sal kan gee,” stel Gretha voor.
Ferdi knik sy kop instemmend en glimlag ingenome. “Dit pas my. Wat is ons volgende stap?”
“Bel vir tant Meraai en verduidelik die situasie aan haar. Tant Meraai kan aan tant Henriëtte vertel sy het jou gevra om ’n privaat verpleegster vir oom Otto te kry. En daarna kan Gretha Kaiserburg toe ry,” sê Friedrich saaklik.
Ferdi kyk op sy polshorlosie. “Ek het ’n beter voorstel: as jy ’n uurtjie of wat kan wag, Gretha, ry ek saam met jou om jou aan die mense van Kaiserburg voor te stel.”
“Dit sal nie nodig wees nie, solank as wat jy tant Meraai bel,” sê Friedrich beslis en staan op. “Ek en Gretha sal ’n koppie tee in ’n kafee gaan drink terwyl jy bel en daarna sal sy dadelik Kaiserburg toe vertrek.”
“Nee, Friedrich. Iemand kan ons saam in die dorp sien en tant Henriëtte kan daarvan te hore kom. Ek sal liewers wag totdat Ferdi my kan vergesel,” maak Gretha beswaar.
’n Diep frons keep tussen Friedrich se wenkbroue, maar hy besef die wysheid van Gretha se woorde en sê onwillig: “Maak dan so. En laat tant Meraai my bel sodra jy veilig in Kaiserburg is.”
”Goed, ek sal. Tot siens, Friedrich,” groet sy, maar sy wens heimlik dat sy aan ’n rede kan dink om hom langer by haar te laat bly.
“Sien jou,” groet Friedrich kortaf, knik sy kop vir Ferdi en stap die vertrek uit.
Amalia roer haar koppie tee onbewustelik, ’n kwelfrons tussen haar wenkbroue, en staar nikssiende voor haar uit.
“Amalia?” Hanna steek haar hand uit en raak aan Amalia se arm. “Ek meen as jy nog roer, het die koppie nie meer ’n bodem nie.”
Amalia glimlag, betrap. “Jammer, tant Hanna. Dis nie my bedoeling om so ongesellig te wees nie, maar …” Vrees verdonker haar oë en sy vervolg gespanne: “Ná my pa se dood was jy al die jare my enigste verbintenis met Donkerbaai. Ek onthou hoe geskok ons almal was om van Otto en Henriëtte se verlowing te hoor omdat daar altyd skinderstories op die dorp rondgelê het dat Henriëtte nie normaal is nie.”
“Het jy vergeet, Amalia? Wyle Helga was gekant teen ’n huwelik tussen Kurt en Henriëtte … bitterlik gekant. Dis waarom hy besluit het om Skotland toe te gaan en in Edinburgh verder te studeer.” Sy staar peinsend voor haar uit en gaan kopskuddend voort: “Nie dat die storie vir my sin gemaak het nie. Kurt was destyds ’n man van vyf of ses en twintig. As hy werklik met Henriëtte wou trou, sou niemand hom kon keer nie.”
“Is dit moontlik dat hy die skinderstories geglo het?”
“Kurt sou hom nie aan skinderstories gesteur het nie. Nee … nee, ek glo daar was ’n ander rede – soos Henriëtte se geheime ontmoetings met die jong Otto.”
“Tant Hanna!” Amalia staar haar ongelowig aan. “Jy het nooit iets daaroor in jou briewe aan my geskryf nie.”
“Ek wou nie, want …” Hanna swyg en haar oë vra Amalia om verskoning toe sy weer praat: “Jy was nog so jonk, Amalia. Dis moeilik vir ’n jongmens om sy ware gevoelens te verberg. Ek het geweet jy het vir Kurt lief.”
Amalia slaan haar oë neer, trek onsigbare patroontjies met haar wysvinger op die tafeldoek en kyk dan op, haar glimlag verleë. “Dis ’n leeftyd gelede, maar ’n mens vergeet seker nooit jou eerste liefde nie – veral nie as dit jou enigste liefde was nie.”
“Nee, ’n mens vergeet nie, maar dis waarom ek jou nie van Henriëtte se ontrouheid wou vertel het nie. Jy sou net weer opnuut gehoop het dat Henriëtte en Otto sou trou en dat Kurt jou sou liefkry.”
“Nee, tant Hanna. Ek was nog op skool toe Kurt en Henriëtte ’n verhouding gehad het. Ek het toe reeds besef Kurt sou nooit in my belang stel nie, daarom het ek daarop aangedring om in Pretoria te studeer.”
“So sê jy nou, maar destyds … In jou briewe het jy altyd navraag oor die mense van Kaiserburg gedoen, maar nooit Kurt se naam genoem nie. Ek het geweet jy het nog nie daarin geslaag om van jou gevoel vir hom te vergeet nie, daarom het ek geswyg.”
’n Glimlag vee ’n splinter pyn uit Amalia se oë. “Vergeet ’n mens ooit, tant Hanna? My studie het gehelp, maar toe tannie my laat weet dat Kurt in ’n motorongeluk gesterf het … Ek wou self ook sterf, maar die dood ken nie genade nie. Ek het bly leef en my net verder in my studie verdiep. Op ’n dag het ek besef dat ek aan Kurt kon dink sonder om te wens dat ek saam met hom gesterf het. Toe het ek besef my routydperk is verby.”
“Nogtans kon jy nooit weer liefkry nie?” vra Hanna simpatiek.
“Nee – en dit was nie omdat ek nie probeer het nie. Miskien, as Kurt en Henriëtte getrou het, sou dit vir my makliker gewees het. Maar Kurt se dood het my ’n weduwee gemaak sonder dat hy my ooit liefgehad het.”
“As Henriëtte maar só kon liefhê … sy het openlik saam met Otto uitgegaan nadat Kurt oorsee is en toe sy van sy dood verneem … Otto was die kroonprins van Kaiserburg en Henriëtte het nie langer as drie maande gewag voordat sy met Otto getroud is nie,” vertel Hanna met ’n uitdrukking van afkeer op haar gelaat.
“Henriëtte was self ’n skatryk meisie en haar ouers se enigste kind. Waarom was dit vir haar so belangrik om met ’n ryk man te trou?” vra Amalia verwonderd.
“Geld soek geld, Amalia. Ongelukkig aard Dieter na sy inhalige ma. O, hy flankeer met al wat ’n meisie is, maar Meraai vertel my hy boer op Son en See sedert Alexandra Myburgh ’n weduwee geword het – en die vroumens is twee jaar ouer as hy.”
“Is Alexandra se man dood?” vra Friedrich by die gangdeur.
Hanna bloos met die verleentheid van ’n tiener wat op heterdaad betrap is. “Foei tog, ja, Friedrich. Jy onthou tog self: Herman Myburgh was byna dertig jaar ouer as Alexandra. Hy het ’n maand of vier gelede ’n hartaanval gehad en op die gholfbaan inmekaargesak.”
Friedrich kom nader, sy bewegings rukkerig, en hy neem by die tafel plaas. “Tannie het my nooit laat weet nie,” sê hy strak.
Sy kyk hom deurdringend aan. “Wou jy werklik weet, boet?”
Hy kyk vinnig op en laat sak weer sy blik. “Ek en Alexandra was saam op skool. Ons het saam matriek geskryf. Ons was altyd saam, tant Hanna.”
“Ek onthou, ja, maar sy het nooit jou verloofring gedra nie. Daar is mense wat sê jy is die oorsaak dat sy met ’n ou man getroud is,” sê Hanna en hou hom tersluiks dop
“Tannie weet dis nie waar nie. Ek was ’n brandarm student met geen vooruitsigte om eendag ryk te erf nie. Maar dit was nie al nie: Ek was ’n man sonder ’n verlede. Hoe kon ek ’n meisie vra om my bruid te wees as ek nie eens aan haar kon vertel wie my eie ouers is nie?” vra hy stroef.
“As jou bankrekening groot genoeg was, sou Alexandra haar nie aan jou herkoms gesteur het nie. Maar dinge het nou verander, Friedrich. Jy is ’n suksesvolle ginekoloog en die eienaar van Blumenstrauss. Ek verneem Alexandra het Son en See van wyle Herman geërf. Jy weet waar sy woon. Niks verhoed jou om te gaan kuier nie,” sê Hanna, haar stem stekelrig van afkeer.
“Het ek tannie nie hoor sê Dieter boer op Son en See nie?”
“Dis waar, ja, maar jy het jou nog nooit deur Dieter laat afskrik nie.”
“Ek sal my ook nie deur hom laat afskrik nie, maar …” Hy laat sy sin onvoltooid en wend hom tot Amalia. “Dokter Ferdi Steenkamp het ingestem om Gretha na Kaiserburg toe te neem, tannie. Ferdi sal voorgee dat Gretha die dogter van een van sy ma se vriendinne is en dat sy graag op ’n kusdorpie wil verpleeg.”
Amalia kyk hom ondersoekend aan. “Is jy seker my peetdogter sal veilig wees in Kaiserburg, Friedrich?”
“Solank as wat Gretha nie onnodige kanse waag nie …
“Dis juis wat my bekommer. Gretha beskou haar besoek aan Kaiserburg as ’n yslike avontuur, maar ek sal nooit weer rustig kan slaap voordat sy nie veilig terug onder my dak is nie,” antwoord Amalia en verwyt hom met haar oë.
Henriëtte maak haar oë oop, sien vir Meraai op ’n stoel langs haar bed en skiet met ’n rukbeweging orent in ’n sitposisie. “Hoekom pas jy my op, Meraai? Het ek iets onder die invloed van die dwelmmiddels gedoen? Ek het jou al oor en oor gesê: die kalmeerpille maak my dronk in my kop en dan weet ek nie wat ek doen nie. Is die kamerdeur gesluit? Praat, Meraai! Wat het ek nou weer gedoen? Wat?” volg haar woorde mekaar met ’n stygende crescendo en eindig op ’n skril angskreet.
“Om liefdeswil, bedaar tog, Henriëtte,” paai Meraai ongeduldig. “Die kalmeermiddels is deur dokter Steenkamp voorgeskryf. Dis juis wanneer jy weier om jou medikasie te neem dat jy onverantwoordelike dinge doen. Onthou jy nie? Jy het jou tablette gedrink en rustig tot nou toe geslaap.”
“Waarom pas jy my dan op? Waarom is my kamerdeur toe?” vra Henriëtte, haar oë wild van agterdog.
“Omdat ek jou oor verpleegster Wolmarans wou inlig. Sien, ek het toe maar vir dokter Steenkamp gebel en aan hom verduidelik dat ek jou ter wille van Otto moet afskeep omdat hy soveel aandag nodig het. Hy het verpleegster Wolmarans persoonlik hierheen gebring en aan haar spesifieke opdragte gegee oor hoe om Otto te versorg,” vertel Meraai rustig.
“Wolmarans? Een van die vissers se dogters?” vra Henriëtte neerhalend.
“O, nee. Die meisie het ’n graad in die verpleegkunde en sy is uiters bekwaam. Dokter Steenkamp en die verpleegster se ouers is goed bevriend.”
“’n Graad, nè? Dan moet ek haar dadelik ontmoet,” sê Henriëtte en staan op uit haar bed uit.
“Jou kamerjas en pantoffels, Henriëtte. Jy wil tog ’n goeie indruk op die verpleegster maak, nie waar nie?”
Henriëtte steek haar neus in die lig. “Jy vergeet met wie jy praat, Meraai. Ek is Henriëtte Falkenstein van Kaiserburg. In my huis laat ek my nie voorskryf nie,” antwoord sy met kille hooghartigheid, maak die kamerdeur oop en stap in haar lang, wit nagrok in die gang af na Otto se slaapkamer toe.
Gretha staar verskrik in die donker, gloeiende oë van die vrou wat in die kamerdeur verskyn en haar aanstaar sonder om ’n oog te knip. Sy lyk soos iets uit ’n nagmerrie, dink Gretha benoud: lang, ongekamde swart hare, ’n geelbleek gesig met ’n spleetmond, ’n aristokratiese neus en die lig van waansin in haar donker oë. Gretha maak haar mond oop om te groet, maar sy swyg toe ’n aantreklike, donker jongman langs die vrou verskyn en sy blik langsaam oor haar laat loop.
“Dis nou ’n mooi verrassing, Ma,” sê Dieter Falkenstein ingenome. “Het Ma die pragtige poppie gehuur om my te amuseer?”