Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 5
2
ОглавлениеDie glimlag vlug uit Friedrich se oë en gee aan hulle die voorkoms van koue, swart kristalle. Hy staar Hanna strak aan en vra bruusk: “Het tant Henriëtte en Dieter gesê ek is nie welkom in Kaiserburg om oom Otto te besoek nie?”
“Hoe sal ek sê, Friedrich?” vra Hanna ontwykend en slaan haar blik neer. “Sedert Otto so siek geword het, het ek herhaalde male geskimp dat hulle jou van sy siekte moes laat weet, maar Henriëtte het prontuit gesê dat ek my nie met die sake van die Falkensteins moet bemoei nie.”
“Tannie beantwoord nie my vraag nie. Het tant Henriëtte in soveel woorde gesê dat sy my nie in haar huis wil hê nie?” hou Friedrich vol.
Gretha merk dat ’n spiertjie hoog teen sy regterwang spring en sy wonder hoekom hy so gespanne is. Tant Amalia het tog gesê hy is Otto en Henriëtte se aangenome seun, nogtans noem hy hulle oom en tante. Waarom is hy nie welkom in Kaiserburg nie? Is dit moontlik dat hulle jaloers is dat sy ouma Helga Falkenstein vir Blumenstrauss aan hom bemaak het en nie aan hulle eie seun, Dieter, nie? Sy wens byna hy wil loop, want sy sal graag vir tant Hanna oor die mense van Kaiserburg wil uitvra.
“Jy ken jou tant Henriëtte, boet. Sy is … e … so veranderlik soos die weer. Sien, ek het aangebied om aan jou te skryf en jou oor die erns van jou oom Otto se siekte in te lig, maar Henriëtte het … e … vies geword,” antwoord Hanna en bloos oor haar onvermoë om die waarheid te verdoesel.
“Tannie bedoel: sy het berserk geraak,” sê hy grimmig. “Hoe ernstig is oom Otto se toestand werklik, tant Hanna?”
“Kanker … maagkanker. Dis waarom hy teruggekom het huis toe. Die dokters kon niks meer vir hom doen nie,” sê sy byna onhoorbaar terwyl haar oë hom woordeloos om vergifnis vra.
“Kanker!” Hy staar haar ontsteld aan. “Genugtig, tannie moes my maande gelede al laat weet het. As daar een mens by Kaiserburg is wat my nie soos ’n indringer laat voel het nie, is dit oom Otto. Het hy nooit gevra dat ek huis toe moet kom nie?”
“Nie aanvanklik nie, boet, maar toe Meraai my vertel het dat Otto met jou wil praat … Ek kon nie meer uitstel nie, daarom het ek jou gebel.” Sy kyk hom skuldig aan. “Moenie my te veel verkwalik nie, Friedrich. Jy weet ek sit nooit my voete by Kaiserburg sedert die goeie Helga my lewensreg op Blumenstrauss gegee het nie. Henriëtte kon my dit nog nooit vergewe nie. Sy glo vas ek het met Helga gekonkel, daarom het jy, aangenome kind, die huis geërf.”
Friedrich glimlag deernisvol en lê sy hand op haar skouer. “Ek besef dit, tannie. Ek weet ook dat tant Meraai Spannenberg en al die huishulpe belet is om met tannie kontak te hê. Dis tog waarom ons besluit het dat tannie toeriste kan huisves, anders sou tannie te eensaam gewees het.”
“Meraai hét gekom, maar dit was so laat dat ek reeds in die bed was. Maar sy moes kom sê. Sy kon Otto se pleidooie nie meer verduur nie. Foei, kind, dis asof hy besef het dat Henriëtte jou die huis belet het, want Meraai vertel my hy fluister wanneer hy oor jou praat. Fluister en pleit … pleit aanhoudend dat daar dinge is wat hy aan jou moet sê.”
Hy frons verwonderd en haal dan sy skouers op. “Ek moenie te gou bly word nie, maar ek wil graag glo hy wil my oor my eie ouers vertel. Tannie weet hoe dit aan my vreet – die feit dat ek nie weet wie my eie mense was nie. Sterf oom Otto, sal ek nooit weet nie.” Sy oë soek die granietwoning op die hoë rotse. “Ek gaan nou dadelik.” Hy kyk na Amalia en Gretha en ’n selfbewuste glimlag lig sy regtermondhoek. “Ek is jammer ek moes julle deel maak van ons familietwis, maar moontlik kan ek nog vandag die saak oplos. As julle my sal verskoon …”
“Moenie daarheen ry nie, Friedrich. As Henriëtte jou sien aankom, sal sy al die deure en vensters laat grendel,” waarsku tant Hanna.
“Ek was van plan om te stap, tannie. Ek kén my liewe tant Henriëtte,” antwoord hy met ’n wrang glimlag en stap weg na die tuinhekkie toe.
Gretha kyk hom met ’n gevoel van teleurstelling agterna, wens dat hy haar saamgenooi het, en vererg haar vir haar eie gedagtes. Friedrich Falkenstein is vir haar ’n vreemdeling – ’n arrogante mansmens wat heel waarskynlik besef dat hy uiters aantreklik is en wat nooit ’n gebrek aan vrouegeselskap het nie. Dis waarom hy haar behandel asof sy ’n sirkusnar is, dink sy afgehaal en word opnuut kwaad. Waarom sal sy haar oor hom kwel? Wat maak dit saak as hy nooit uitvind wie sy biologiese ouers was nie? En tog … sy wens sy kan hom help, want as sy in sy plek was, sou sy ook nie kon rus voordat sy die volle waarheid geweet het nie.
“Maar, Grietjie-kind, het jy nie ore nie?” dring Amalia se stem ongeduldig tot haar deur. “Tant Hanna het vir ons gaan tee skink. Kom ons gaan binne.”
“Ek het geweet Kaiserburg is ’n huis propvol geheime,” sê Gretha ingenome terwyl sy Amalia na die voordeur toe vergesel. “Dink net, tannie: geslagte Falkensteins het in die ou huis gewoon. Ek wil alles weet oor hulle lewens en liefdes en …”
“Nuuskierigheid maak die tronk vol, meisie. Pasop dat daardie lot jou nie tref nie,” val Amalia haar ergerlik in die rede. “Onthou: ons is hier om vakansie te hou, nie om snuffelaar te speel nie.”
“Maar wonder tannie nie ook wie Friedrich se ouers is nie?” vra Gretha toe hulle die eetkamer binnestap waar Hanna reeds aan die hoof van die groot tafel plaas geneem het en besig is om tee uit ’n antieke silwer teepot te skink. “Dis juis iets wat ek vir tant Hanna wou gevra het.”
“Wat, hartjie?” vra Hanna terwyl sy vir Amalia ’n koppie tee aangee.
“Die dogter is ’n agie, Hanna. Ek het haar vooraf gewaarsku dat sy jou nie met vrae moet treiter nie. Die Falksensteins – en die verlede – het niks met haar te doen nie,” sê Amalia streng.
’n Glimlag skuif soos ’n wasige hand van jeugdigheid oor Hanna se gelaat. “In daardie geval: Ons gaan nie jou tant Amalia sooibrand gee nie, Gretha. Hier, kry jou tee. Ek hoop julle het ’n goeie eetlus, want ek het voor dagbreek begin bak.”
“Is ek veronderstel om net te eet en nie te praat nie, tant Amalia?” vra Gretha vies.
“Dis reg, meisie. Ek en tant Hanna sal praat en jy kan luister. Ek het al die mense op Donkerbaai geken en ek sal graag wil weet wat van elkeen van hulle geword het,” antwoord Amalia onbesorg.
“Gelukkig sal jy nie altyd eet nie, nè, hartjie?” Hanna glimlag vonkelend en knipoog ongemerk vir Gretha.
Gretha glimlag dankbaar, seker daarvan dat sy ’n bondgenoot in tant Hanna het. Sy moet net geduldig wees: tant Amalia stap gereeld lang ente langs die strand en dan sal sy haar kans waarneem om alles oor die Falkensteins uit te vis.
Meraai Spannenberg hoor die agterdeur oopgaan, draai weg van die gangdeur af en loop met die kenmerkende stap van ’n gesette vrou wat probeer om haar balans te hou, op Friedrich af. Haar kristalblou oë verdwyn in glimlaggleufies, maar sy hou haar wysvinger waarskuwend voor haar mond. “Spens toe, Friedrich. Dis veiliger daar,” fluister sy.
Friedrich wag totdat sy die spensdeur agter hulle toemaak en groet gedemp: “Hallo, tant Meraai. Is al die geheimsinnigheid werklik nodig?”
Meraai probeer bekommerd frons, maar slaag net daarin om hartseer te lyk. “Dis beproewing der beproewinge, my kind. Jy ken vir Henriëtte: ek glo die arme siel het twee stelle senuwees gekry, en elke ou senuweetjie is tot die dood toe siek.”
“Maar ek dag dis oom Otto wat sterwend is.”
“Juis, Friedrich, maar sy siekte is vir Henriëtte ’n verskriklike beproewing. En hoe anders ook? Otto weet sy tydjie word kort en daar is ’n onreg wat hy moet regstel voordat hy sy Maker kan ontmoet,” antwoord Meraai vroom en sug aangedaan.
“Watter onreg, tannie?”
Meraai se vroomheid verdwyn voor die ergerlike plooi van haar klein neusie. “Hoe sal ek weet, Friedrich? Het Hanna nie vir jou gesê nie? Otto het by my gekerm dat hy met jou wil praat. Ek het vir Henriëtte daarvan vertel … en toe val die berge op ons. So ’n geskel en geskree het ek laas gehoor toe Otto jou jare gelede die dag hierheen gebring het. Ek moes haar ’n week lank paai en sorg dat sy gereeld haar medisyne drink, anders het die arme siel seker ’n moord begaan. Maar wat anders kon ’n mens verwag? Sy was pas getroud en sy het gemeen jy is Otto se buite-egtelike kind. Haai, reken, ek het dit ook so in my enigheid gedink, maar aan die ander kant: Otto het Henriëtte soveel jare lank liefgehad, dat ek nie werklik kon glo dat daar ’n ander vrou in sy lewe was nie.”
“Oom Otto het my verseker ek is nie sy eie seun nie,” sê Friedrich strak.
“Dis wat hy ons almal verseker het, maar hy wou hê jy moet hom Pa noem. En dit kon Henriëtte nie aanvaar nie. Dit was vir haar ’n vernedering om ’n optelkind …” Meraai trek haar asem skerp in en klap met haar hand voor haar mond. “Ag, ekskuus, ou kintatjie, maar ek is ’n vrou van sestig en ek versorg Henriëtte vandat ek twintig is. Soms vergeet ek wie ek is en dan praat ek soos sy praat.”
Friedrich se lippe vertrek. “Niks kan my seermaak of skok nadat ek sestien jaar lank by Kaiserburg onder tant Henriëtte se vlymskerp tong moes deurloop nie, tant Meraai. Maar ons mors tyd. Is dit vir my moontlik om met oom Otto te praat?”
Meraai pluk senuweeagtig aan ’n roksknoop, haar oë koeëlrond. “Seker maar, Friedrich, want Henriëtte het so pas haar kalmeermiddel geneem en sy rus nou ’n bietjie. Maar loop tog op jou tone en praat sag … dis vir my alte wonderlik hoe fyn ’n siek mens soos Henriëtte kan hoor.”
Geestelik siek, dink Friedrich grimmig en maak die spensdeur oop. Hy kyk oor sy skouer na Meraai. “Ek sal met die kombuistrap opgaan na sy kamer toe. Is Dieter in die nabyheid?”
“Nee … nee, hy kuier op Son en See. Versigtig wees, kind!” waarsku Meraai met ’n hees gansstem en knibbel met die spoed van ’n uitgehongerde veldmuis aan ’n bakkie gemmerkoekies om haar senuwees te kalmeer.
Friedrich staar ontsteld na die geelbleek, ingevalle gelaat van oom Otto wat bewegingloos onder ’n wit laken lê. Eenmaal was oom Otto ’n groot, forsgeboude man, maar die laken slaag nie daarin om die uitgeteerdheid van sy liggaam weg te steek nie.
Hy moes lankal teruggekom het, dink Friedrich skuldig. Oom Otto het hom nooit stief behandel nie. Wat maak dit saak dat Dieter hom voortdurend probeer verneder en dat tant Henriëtte hom openlik gehaat het? Oom Otto was sy weldoener, selfs al het hy nooit die moed gehad om hom teen Dieter en tant Henriëtte se vyandigheid te beskerm nie.
Trots. Hy was jonk en trots en nadat ouma Helga Blumenstrauss aan hom bemaak het, het hy nie kans gesien om hom verder aan die Falkensteins van Kaiserburg op te dring nie. Boonop was hy toe reeds ’n dokter en besig om as ginekoloog te spesialiseer. Hy het nie meer kans gesien om Dieter en tant Henriëtte se beledigings te verduur nie, daarom het hy nooit weer teruggekeer na Kaiserburg toe nie. Maar dit was oom Otto wat vir sy studie betaal en sy praktyk gekoop het. Hy was dit aan oom Otto verskuldig om nie alle kontak te verbreek nie, dink hy skuldig.
Asof hy bewus geword het van die teenwoordigheid van ’n ander persoon in die vertrek, maak Otto sy oë oop en staar Friedrich strak aan. “Friedrich?” rasper sy stem oor sy bleek lippe.
“Oom herken my …” Friedrich glimlag verby die knop in sy keel. Hy gaan sit op ’n stoel langs die bed en neem een van Otto se uitgeteerde hande in syne. Hy het net betyds gekom, dink hy, want die enigste teken van lewe in Otto is die flou lig in sy blou oë wat diep versonke in sy oogkasse is.
“Jy het gekom,” vervolg Otto terwyl sy benerige vingers Friedrich se hand met onverwagte krag vasgryp. “ek kan nie verduidelik nie – sy sal hoor. Maar dis daar … daar in die ou skuilplek Al die bewyse, alles wat jy wil weet … in die ou skuilplek. Reg en geregtigheid sal geskied, anders sal …”
“Jy!” Die woord is hoog en skril van haat, asof ’n donker vloek oor hom uitgespreek word.
Friedrich spring op, sy oë vasgenael op die lang, uitgeteerde vrou met wilde, grysswart hare en oopgesperde, donker oë wat in ’n loshangende, wit nagrok in die kamerdeur verskyn het. Haar lippe spring weg van haar tande, haar gesig waansinnig vertrek terwyl sy die kamer binnestorm, ’n skêr van die spieëltafel af opraap en dit dreigend oplig.
“Vervloekte indringer! Vandag sterf jy!” krys sy en tree met ’n sluwe, dierlike beweging op hom af.
“Tant Henriëtte, asseblief …” paai Friedrich en hou sy oë op haar hand wat die skêr vashou.
Sy bly staan, gooi haar kop agteroor en lag lank en skel. Haar lag breek eensklaps af, maar toe sien sy die vrees en kommer op Friedrich se gelaat en haar triomflag van wraak splinter weer die spanning van die vertrek.
“Henriëtte … Henriëtte …” prewel oom Otto en lig sy hand op. “My beeldskone Henriëtte … my pragtige bruid … Dis ons troudag, Henriëtte … en ek is die gelukkigste man op aarde. Hoor jy die kerkklokke lui, Henriëtte? Hoor jy die troumars? Ons gaan trou, my liefste Henriëtte …”
Friedrich merk hoe die waansin uit Henriëtte se oë wyk om plek te maak vir ’n slinkse glimlag. “Die arme sot! Hy yl al weer. Dis wat hy meestal doen: praat ure aanmekaar oor ons troudag.” Haar oë is swart van agterdog. “Wat het hy vir jou gesê, Friedrich?”
“Die ruiker … Moenie jou ruiker vergeet nie,” sê oom Otto, sy stem monotoon. “Waar is die ring? So ’n mooi ring … Jy hou van die ring, nè, Henriëtte?”
“Bly stil, Otto!” snou Henriëtte en tree nader aan Friedrich. “Ek het aan jou ’n vraag gestel, indringer: wat het die mal vent vir jou gesê?”
“Hy het geyl, tant Henriëtte,” antwoord Friedrich stroef.
“Henriëtte!” Meraai stoom die vertrek binne en kom langs Henriëtte tot stilstand. “Jy het al weer nie jou kalmeerpil gedrink nie. Ek gaan nou dadelik vir dokter Steenkamp bel.”
Vrees laat Henriëtte van Meraai af wegkrimp. “Nee! Nee, Meraai, jy mag nie. Dieter het sy verkyker vir my geleen en ek wou net bietjie rondkyk … kyk wat ou Hanna daar by Blumenstrauss doen. Sy het altyd kuiergaste … loseerders. Ek hou hulle deur die verkyker dop. Dis iets om te doen. Jy laat my so dikwels alleen vandat Otto siek geword het … Ek wil nie alleen wees nie, Meraai. As jy saam met my kom – ek sal my kalmeerpil drink, solank jy beloof om nie vir dokter Steenkamp te bel nie,” pleit Henriëtte met die desperate vrees van ’n kind.
“Jy wil nie na my luister nie, Henriëtte,” sê Meraai betigtigend. “Ek het jou gesê ons moet ’n verpleegster kry om met Otto se versorging te help. Ek kan nie oral wees nie.” Sy swyg en streep haar lippe afkeurend saam. “As dokter Steenkamp hoor jy loop met ’n skêr in jou hand rond en dreig ons kuiergaste …”
“Die optelkind is nie ’n kuiergas nie!” snou Henriëtte. “Hy het met my skoonma geknoei om Blumenstrauss te erf. Nou wil hy met Otto knoei en met Dieter se erfenis wegloop. Ek sal moor voordat …”
“Henriëtte!” val Meraai haar streng in die rede.”Gee vir my die skêr.”
“So ’n mooi bruid … die lieflikste meisie in die kontrei,” prewel Otto en glimlag vir Henriëtte.
“Otto yl weer,” sê Meraai saaklik. “Gee nou die skêr en kom saam met my na jou kamer toe, Henriëtte.”
“Nie voordat daardie indringer loop nie,” sê Henriëtte koppig en klou die skêr met albei hande vas.
“Wat maak dit saak as hy ’n rukkie hier by Otto sit? Otto is tog nie by sy positiewe nie,” kom dit ongeduldig van Meraai af.
“Ek sal loop as hy loop,” hou Henriëtte vol.
Friedrich keer sy rug op Henriëtte en buig oor Otto. Hy hou Otto se regterhand ’n oomblik lank in syne vas. “Tot siens, oom. Ek is dankbaar ek kon oom weer sien.”
Otto kyk hom reguit in die oë en knipoog stadig, voordat hy sê: “Hoor jy die kerkklokke, Henriëtte? Dis ons troudag …”
“Jy put hom uit, Friedrich,” sê Meraai bekommerd. “As jy nou sal loop …”
“Ek is reeds op pad, tannie maar tannie het gelyk: oom Otto het ’n voltydse verpleegster nodig. Tannie kan onmoontlik twee pasiënte behartig,” sê hy saaklik.
“Luister na die geleerde optelkind!” smaal Henriëtte. “Ek is niemand se pasiënt nie. Meraai is my geselskapdame wat nog deur my ouers aangestel is. Vertel hom, Meraai. Ons was die ryk De Villiers’s van Overberg. My moeder het ook ’n geselskapdame gehad. Ek het nooit saam met die arbeiders se kinders op die skoolbanke gesit nie. Ek het ’n goewernante en vir Meraai gehad,” vertel sy trots.
“Ek het vergeet tannie was een van die adel,” spot Friedrich, sy gelaat uitdrukkingloos, en hy loop by die vertrek uit.
Hy stap tydsaam die kombuistrap af en bly in die agterdeur staan, sy blik afwagtend op die gangdeur. Waarom het oom Otto vir hom geknipoog? Het hy werklik geyl, of gebruik hy dit slegs as ’n wapen teen tant Henriëtte? Moontlik sal tant Meraai sy vrae kan beantwoord, dink hy, en kyk verlig op toe hy die trap hoor kraak.
Meraai vee met ’n kantsakdoekie oor haar voorkop en sak hygend op stoel neer, haar oë stom op Friedrich.
Dis hoe hy tant Meraai altyd onthou, dink hy: ’n ronde tante met ’n ronde gesig wat nes gemaak het tussen sagte kant en frilletjies; ’n tannie met pofferhandjies wat altyd fyn kantsakdoekies gebruik, asof sy heimlik glo dat sagte kant en fyn frilletjies die logheid van haar liggaam sal verberg.
“Ek is bly jy het gewag, Friedrich,” sê Meraai toe sy haar asem terugkry. “Maar Henriëtte kan moeilik wees … bitter moeilik. En dis soos jy sê: Ek het nou twee pasiënte. Ek het talle huishulpe om my met die huiswerk te help, maar Otto en Henriëtte het my persoonlike aandag nodig. Dalk moet ek tog met dokter Steenkamp praat …”
“Ek ken Ferdi Steenkamp sedert my studentedae, tant Meraai. Ek sal met hom gaan praat en die situasie aan hom verduidelik. Hy sal daarop aandring dat oom Otto ’n verpleegster moet kry om hom te versorg.”
“Sal jy, boetie? Ag, nou ja, dis sommer ’n groot las van my skouers af, want ek is maar altoos skrikkerig om met ’n dokter te praat. En dan is daar Henriëtte: Sy pas my soos ’n arend op wanneer dokter Steenkamp oorkom, want sy is doodbang sy sal soos haar oorlede ma in ’n senukliniek beland.”
“Ek onthou, tannie.” Hy kyk haar skerp aan. “Hoe dikwels yl oom Otto?”
Meraai se skouers ruk, haar lag geluidloos, asof die klank onder lae vet gesmoor word. “Otto is ’n sterwende man, maar hy het nie verniet byna dertig jaar lank saam met Henriëtte se onredelike eise en onvoorspelbare uitbarstings geleef nie. Otto yl net wanneer Henriëtte onhanteerbaar raak.”
Hy staar haar onthuts aan. “Tannie bedoel oom Otto gee voor dat hy yl?”
“Nie altyd nie. Soms laat die pyn hom yl, maar sodra hy oor sy pragtige bruid begin praat, weet ek dis blote toneelspel. Sien, Henriëtte het ’n nare manier om na sy kamer toe te sluip – en gewoonlik in die middel van die nag – en met hom rusie te maak. Altyd oor jou, die optelkind … Ag, ekskuus, Friedrich. Maar, nou ja, ek en hy het toe afgespreek hy sal begin yl wanneer sy met hom begin rusie maak. En dis wat hy vandag ook gedoen het.”
“Dan was hy by sy volle positiewe toe ek met hom gepraat het?” vra hy hoopvol.
“Ek glo dit, Friedrich. Wat het hy gesê?”
Hy frons verward. “Nie veel nie. Net dat hy nie kan verduidelik nie, want tant Henriëtte sou hoor. Maar iets is in die ou skuilplek. Weet tannie waarna hy verwys het?”
“Skuilplek … skuilplek …” herhaal hy ingedagte en sug oorwonne. “Nee, boet, ek sal lieg as ek moet sê.” Sy merk sy teleurstelling en vervolg gretig: “Maar dalk sal Dieter weet. Ek sal probeer uitvis en jou laat weet.”
“As Dieter weet van die skuilplek, sal hy enigiets wat daarin versteek is, vernietig voordat ek dit te siene kry,” sê hy bitter. “Nee, sê liewer niks aan hom nie, tannie. Dalk kan tant Hanna my meer vertel.”
“Maak so, Friedrich. En onthou om met die dokter te praat. Tot siens, kind,” groet Meraai, wuif met haar klam kantsakdoekie en gebruik dit weer om haar voorkop te klad.
“Tot siens, tannie, en dankie vir die hulp,” antwoord Friedrich en stap die kombuis uit.
Sy hele toekoms is in die hande van ’n sterwende man … en kranksinnige vrou, dink hy met ’n gevoel van wanhoop wat aan woede grens. As hy nie die skuilplek ontdek nie en oom Otto sterf, sal die geheim van sy herkoms saam met oom Otto begrawe word. Hy het ’n bondgenoot in Kaiserburg nodig … maar wie?
Gretha hou haar oë toe en haal reëlmatig asem totdat Amalia haar kamerdeur saggies toemaak. Sy lê roerloos en luister na Amalia se voetstappe wat wegraak in die gang, hoor die voordeur oop- en toegaan en spring haastig op.
“Ek is slim,” vertel sy haarself in die spieël terwyl sy ’n borsel deur haar hare trek. Sy glip haar sandale aan en draf vinnig by haar kamer uit.
Hanna draai verras weg van die stoof af toe Gretha oomblikke later die kombuis binnekom, ’n kombuisstoel onder die groot tafel uittrek en daarop gaan sit. “En nou, hartjie? Het jy dan nie saam met Amalia see toe gestap nie?”
“Ek was vas aan die slaap toe sy by my kamer ingeloer het,” antwoord Gretha met ’n onnutsige glimlag wat die vroomheid van haar stemtoon weerspreek.
“H’m. Ek het gewonder wanneer jy my oor Friedrich gaan uitvra,” sê Hanna, gooi vir haar ’n bekertjie koffie in en neem by die tafel plas. “Haai, waar is my maniere, Gretha? Wat van ’n koppie koffie vir jou?”
“Ek is so nuuskierig dat ek sal stik as ek nou iets moet drink, tant Hanna. Friedrich … Hoekom weet hy nie wie sy eie ouers is nie? En hoekom noem hy sy aangenome ouers oom en tannie? Hoekom haat sy aangenome ma hom so?”
Hanna lag goedig. “As ek geweet het wie Friedrich se ouers was, was hy nou ’n gelukkig getroude man. Of nee, nou jok ek: Ek het nooit ooghare vir Alexandra Combrinck gehad nie. Daar is meisies wat mooi en goed is, maar daar is meisies wat hulle skoonheid gebruik om sonde te doen. Alexandra was een van hulle.”
“Maar was Friedrich lief vir haar?” vra Gretha en ervaar ’n onverklaarbare prikkie van teleurstelling. Sy glo sy sal Friedrich nooit kan liefkry nie, maar net die gedagte dat hy iemand anders kan liefhê, vervul haar met ’n gevoel van verlies.
“Dis wat hy vir my gesê het, en omdat hy nie ’n man is wat ligtelik oor sy gevoelens praat nie, het ek hom geglo. Hy wou dolgraag met haar trou, maar hy is ’n aangenome kind. Ek onthou nog hoe hy by Otto gepleit het om hom die waarheid oor sy eie ouers te vertel. Maar Otto het hom afgejak en Dieter het hom uitgejou … Henriëtte het gesorg dat Dieter nooit vergeet dat hý ’n Falkenstein in murg en bloed en boonop die kroonprins van Kaiserburg is nie,” vertel Hanna grimmig.
“Maar as Alexandra vir Friedrich liefgehad het …”
“Sy het nie. Sy het geld liefgehad, daarom is sy getroud met ’n man wat byna dertig jaar ouers as sy was. Friedrich was gebroke, maar hy het een troos gehad: hy het Alexandra nooit gevra om sy vrou te word nie.”
“Omdat hy nie geweet het wie sy eie ouers is nie?”
“Juistement, liefie. Hy was ’n jaar of wat oud toe Otto hom op ’n dag na Kaiserburg toe gebring het – dis nou nege en twintig jaar gelede. Henriëtte was buite haarself van woede, want sy het aanvanklik geglo Friedrich is Otto se buite-egtelike kind. Ek weet nie wat Otto aan haar gesê het nie, maar sy het eindelik tot bedaring gekom en sy en Otto het Friedrich aangeneem.” Hanna skud haar kop onbegrypend. “Dis iets wat ek nooit kon verstaan nie: Henriëtte kon Friedrich nie voor haar oë verdra nie; nogtans was sy bereid om hom aan te neem.”
“En tant Helga, oom Otto se ma? Het sy nie die waarheid geweet nie?”
“Nee, ou kindjie, sy was in die duister, soos ek. Maar ek en sy het toe al saam hier in Blumenstrauss gewoon en ons het gereeld klein Friedrich by ons laat kuier.” ’n Glimlag laat liefde in Hanna se oë blom. “Dit was gelukkige dae daardie. Ons lewe het om Friedrich se besoekies gedraai, want met hom hier, kon ons albei vergeet dat ons nie meer jonk was nie.”
“Maar het tant Helga nie vir oom Otto oor Friedrich uitgevra nie?” hou Gretha haar ondervraging vol.
“Vanselfsprekend. Ons het almal vrae oor Friedrich gehad en toe het Otto aan ons vertel Friedrich is die kind van twee van sy ou studentemaats. Maar hy het volstrek geweier om te sê wie hulle was, want hy was van voorneme om Friedrich soos ’n eie seun groot te maak.”
“Het tannie hom geglo? Tant Helga was tog sy eie ma. Het sy hom geglo?”
Hanna glimlag skuldig. “Hoe sal ek sê, Gretha? Ons wou Otto se storie glo, maar hy was ’n haantjie onder die meisies. Ek het nog al die jare die vermoede dat Friedrich wel Otto se seun is.”
“En is Dieter jonger as Friedrich?” vra Gretha gretig.
“Twee jaar jonger, ja.”
“Maar dan is Friedrich die kroonprins van Kaiserburg, tant Hanna! Ek wed dis waarom tant Henriëtte hom so haat, want haar seun kan nie Kaiserburg erf as hy ’n ouer halfbroer het nie.”
Hanna skud haar kop, haar uitdrukking stroef. “Dit hang alles van Otto se testament af en daarby … Friedrich lyk nie soos ’n Falkenstein nie. Die Falkenstein-broers, Kurt en Otto, was albei blonde mans. Dieter is donker soos Henriëtte, maar hy het tog sy pa se gelaatstrekke geërf. Friedrich is die randeier … eie een wat nooit ingepas het nie.” Sy merk die teleurstelling op Gretha se gesig en vervolg simpatiek: “Glo my, liefie, ek sou wat wou gee om Friedrich in Kaiserburg te sien, maar ons het geen bewys dat daar ’n druppel Falkenstein-bloed in Friedrich se are vloei nie.”
“’n Geitjie en ’n agie,” kom dit onvergenoegd van Friedrich wat in die agterdeur verskyn het. Hy kom nader, die bekende spotglans in sy oë. “Vanwaar jou belangstelling in my, klein Grietjie? Gaan jy my vra om jou bruidegom te word sodra jy vasgestel het dat ek die kroonprins van Kaiserburg is?”
“Nee, ek gaan jou sommer nou dadelik vra om te trou. Pas Saterdag jou?” kap sy terug.
Hanna lag met genoegdoening. “Sê hom, liefie! Vandat die seun so geleerd is, is dit moeilik om hom op sy plek te sit.”
Friedrich stap swygend na die yskas toe en haal vir hom ’n koue bier uit, voordat hy by die kombuistafel plaasneem.
“Jy sê niks nie, boet,” kwel Hanna. “Moenie vir my sê Henriëtte het vermoed dat jy met Otto praat nie.”
“Ek was ’n paar minute lank alleen saam met hom, maar tant Henriëtte het spoedig ’n einde aan ons geselsie gemaak.”
Friedrich neem ’n slukkie bier en vra met gespanne erns: “Weet tannie iets van ’n skuilplek? Oom Otto het gesê daar is iets in die skuilplek – al die bewyse, alles wat ek wil weet. Na watter skuilplek het hy verwys?”
Hanna frons nadenkend en skud dan haar kop ontkennend. “Ek weet eerlikwaar nie, Friedrich.” Sy trek haar asem stadig in. “Ja wag, iets het my bygeval.”
“Ja, tannie?” vra hy intens.
“Wyle Kurt en Otto het as kinders ’n geheime skuilplek gehad, maar waar dit was, kon nie een van ons ooit vasstel nie,” antwoord sy.
“Êrens in Kaiserburg?” vra hy dringend.
“Ek glo so, boet.”
“’n Verpleegster … oom Otto het ’n voltydse verpleegster nodig. Dis nou as die verpleegster sal inwillig om na die skuilplek te soek …”
“Ek is ’n verpleegster,” sê Gretha en kyk hom uitdagend aan.