Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 8

5

Оглавление

Waar is Friedrich? Waarom help hy haar nie? So dink Gretha terwyl sy verwoed spartel om haar uit Dieter se versmorende omhelsing te bevry. “Los my, Dieter! Ek het geen afspraak met jou gehad nie! Los my, jou ellendige seekat!” krys sy gesmoord.

Dieter lag beskonke. “Ek hou van ’n bietjie teëstand poppie, want dit maak die oorwinning soveel soeter. Kom, ek wys jou hoe ’n meisie gesoen behoort te word.”

“Nee! Ek sal …” protesteer sy en ruk haar kop wild heen en weer. Sy is net half bewus van ’n vinnige beweging agter Dieter, en dan ’n dowwe slag. Dieter kreun en sak soos ’n lappop voor haar voete inmekaar.

Haar mond val oop en haar oë is donker van vrees terwyl sy na Friedrich kyk wat met ’n stuk hout in sy hand oor Dieter staan.

“Is jy mal, Friedrich? As hy dood is …” stamel sy beangs.

“Ek is ’n dokter, meisiekind. Ek weet waar om te slaan om nie ’n lyk op my gewete te hê nie,” antwoord hy bruusk. Hy kyk na haar en vra grimmig: “Is jy baie seker jy het nie ’n afspraak met die romantiese Dieter gehad nie?”

“Het jy vergeet jý het my na die tuin toe gesleep, dokter Falkenstein?” vra sy bitsig.

“Ek het nie, maar waarom het hy hier na jou kom soek?” vra hy agterdogtig.

“Moontlik omdat ek gedurende aandete gesê het die tuin lyk sprokiesagtig in die maanlig. Tant Henriëtte het toe vertel dat sy en oom Otto in hulle jeug dikwels snags in die tuin rondgeloop het. Dieter se asem het na alkohol geruik. In sy beskonke toestand het hy heel waarskynlik my verwysing na die tuin onthou en toe hierheen gekom om na my te soek.”

“Wel … dis seker moontlik.” Hy kyk haar skerp aan. “Solank as wat jy onthou dat Dieter ’n swak reputasie het … en dat hy deesdae by Alexandra Combrinck … e … Myburgh boer.”

“Die meisie wat jy liefgehad het?” vra sy, sonder om te dink.

Selfs in die maanlig kan sy die uitdrukking op sy gelaat sien verhard. “Tant Hanna skinder te graag. Maar ons het ’n ander probleem: Dieter. As hy bykom, sal hy wonder wie hom oor die kop geslaan het.”

“Een van jou tuinwerkers?” stel sy hoopvol voor.

“Jou intelligensie laat jou in die steek, klein Grietjie. Nie een van die Falkensteins se werknemers sal dit waag om die uitverkore erfgenaam van Kaiserburg aan te rand nie.”

“Dalk moet ek voorgee dat iemand my ook oor die kop geslaan het,” dink Gretha hardop en snak na haar asem toe sy ’n hygende geprewel hoor.

“Op my oudag … in my nagkabaai … en die sooltjies van my ou pantoffeltjies is juis so dun … Waar drentel die swernoter van ’n seunskind rond? As ek hom …” Meraai verskyn om ’n donker hibuskusstruik, dril tot stilstand en skel hygend: “Blikskottels!”

“Net een blikskottel, tant Meraai,” sê Friedrich vroom met ’n onderdrukte lag in sy stem, “en hy is op die oomblik uit soos ’n kers.”

Meraai plant haar hande op haar breë heupe en gluur Gretha aan. “Nee a, liefie, hoe het ek dit dan met jou? Het ek jou dan so verkeerd opgesom? Ek dag jy is ’n liewe, onskuldige kind, en kyk nou wat doen jy? Flenter in die donker saam met Friedrich rond en foeter ’n ander jongetjie disnis.” Sy gee ’n tevrede laggie. “Ek hoop jy het hom met mening gefoeter, Grethatjie. Dis iets waarna hy lankal soek.”

“Ek het nie aan hom geraak nie, tant Meraai. Maar hoe het tannie geweet ek is hier buite in die tuin?” vra Gretha fronsend.

“Ek het nie, maar ek het die swernoot hoor inkom. Ek het gelê en luister hoe hy na jou kamer toe gaan en haastig my ou kamerjassie en pantoffeltjies aangepluk. Ek wou net uit my kamer stap, toe sien ek die blikskater vlak voor my deur verbysluip na die trap toe. Ek het gou by jou kamer ingeloer en toe ek sien jou bed is leeg, is ek agter Dieter aan … en hier lê hy nou: katswink of dood. Wat nou, Friedrich?” vra Meraai verslae.

“Eers die waarheid, tannie. Gretha het nie ’n afspraak met my gehad nie. Tant Hanna het my vertel van Dieter se geheime besoek aan Alexandra Myburgh en …”

“Hulle verdien mekaar,” val Meraai hom in die rede. “Hulle het albei droë perskes in plaas van siele gekry. Daar is niks so lelik soos ’n verkrimpte sieletjie wat net aan geld en sonde kan dink nie, hoor jy, Friedrich? Of gaan jy ook opnuut agter daardie geldgierige merrie aandraf?”

“Ek was besig om te praat, tant Meraai,” antwoord hy stug. “Ek was bekommerd oor Gretha wat na die geheime skuilplek begin soek terwyl Dieter moontlik by Alexandra gekuier het. Ek het hierheen gekom, maar die huis was donker en ek is weer terug Blumenstrauss toe. Tant Hanna het wakker geword toe ek by die agterdeur inkom en toe het ek haar vertel van my vrees dat Gretha deur Dieter betrap kon word. Sy het vir my ’n sleutel vir die sydeur gegee en ek kon Gretha net betyds waarsku.”

“Waarsku?” vra Gretha kortasem van verontwaardiging. “Die vent het my in die donker gegryp en die trap afgesleep. My hart het byna van skok gaan staan!”

“Ek wou nie die huismense wakker maak nie,” sê Friedrich verontskuldigend. “Gretha besef nou dat dit te gevaarlik is om na oom Otto se skuilplek te soek. Ek het nou ’n sleutel van die sydeur: ek sal snags Kaiserburg binnesluip en na die dokumente soek.”

“Dis alles goed en wel, boet,” sê Meraai en sy strengel haar vingers ineen op haar maag terwyl sy die roerlose Dieter meewarig betrag, “maar wat sê ons vir die skepseltjie as hy weer na die land van die lewendes terugkeer?”

Friedrich huiwer ’n oomblik lank en hou die stuk hout na Meraai toe uit. “Tannie het hom oor die kop geslaan.”

Meraai tree vinnig agteruit. “Ekke? Maar hoekom sou ek so iets doen, kind?”

“Ek en Friedrich het by die tuinbankie agter die heining gesels toe Dieter na my roep,” verduidelik Gretha. “Ons kon nie toelaat dat Dieter ons saam betrap nie, daarom het ek deur die opening in die heining geglip. Dieter het my gewaar en op my afgestorm en … e … en my sommer begin soen. Hy kan dankbaar wees Friedrich het hom oor die kop geslaan, anders het ek sy oor afgebyt.”

“Dis waar, tant Meraai: Gretha byt,” sê Friedrich, kyk na die bytmerke op sy hand in die maanlig en gluur haar vies aan.

“Nee, maar ek wil dit hê! Byt al wat man is fyn en flenters as hulle jou teen jou sin wil soen, liefie,” kom dit ingenome van Meraai.

“Ek het haar nie probeer soen nie, tannie,” sê Friedrich vererg.

“Ja, ja, kind, ek glo jou. Maar gee nou maar die stuk hout vir my. Ek sal seker maar hier langs die dronk dingetjie moet wag totdat hy eendag bykom,” sê Meraai met teësinnige aanvaarding.

“’n Paar harde klappe sal hom vinnig laat bykom, tannie.” Friedrich talm nog vir ’n oomblik en kyk na Gretha. “En jy, meisiekind, sorg dat jou kamerdeur snags gesluit is. Ek sal nie altyd hier wees om jou teen Dieter te beskerm nie. Nag, tant Meraai … meisiekind.”

“Ek het nie ’n wiegwagter nodig nie, dokter Falkenstein. Ek kan byt,” roep Gretha hom koggelend agterna.

“Saggies, kind!” waarsku Meraai en kniel steunend langs die beweginglose Dieter. “Dieter?” Sy skud hom eers lig en dan harder aan die skouer. “Dieter, maak oop jou oë! Dieter!”

Dieter kreun in sy bewustelose toestand, mompel iets onverstaanbaars, draai op sy rug en begin om liggies te snork.

“Maar …” Meraai staar hom oorbluf aan. “Ek dag die duiwelskind is bewusteloos, maar intussen slaap hy net sy roes af!” bars sy onstuimig uit. “Hoe hard het Friedrich hom geslaan, Gretha?”

“Ek weet nie, tannie, maar Dieter was definitief beskonke. As hy nie dronk was nie, het hy lankal bygekom.”

“In daardie geval …” Meraai kyk na die sterrehemel bokant haar. “Dit sal nie voor dagbreek reën nie. Toe, toe, help my orent, liefie. Ek en jy het slaap nodig.”

“En Dieter dan?” vra Gretha bekommerd.

“Sien jy kans om hom huis toe te dra, kind?”

“Nee … nee, hy is te swaar.”

“Juistement. Laat hom slaap waar hy lê. Hy sal niks oorkom nie,” sê Meraai onverskillig en rem aan Gretha se hand om op haar voete te kom. “Sjoe! Die ontberinge wat ek ter wille van die skepseltjie moet deurmaak. Maar kom ons drawwe, liefie. Henriëtte het die swak gewoonte om in die middel van die nag wakker te word en spek en eiers te bestel.”

“Dalk het oom Otto my ook nodig,” sê Gretha bekommerd en rek haar treë. “Maar wat sê ek vir Dieter as hy my oor vannag uitvra?”

“Stuur hom na my toe, Grethatjie. Ek was dit nog altyd lus om die knaap op sy plek te sit,” antwoord Meraai ingenome.

Met ’n bondgenoot soos Meraai kan haar verblyf in Kaiserburg net aangenaam wees, dink Gretha dankbaar. Friedrich sal gereeld snags na Kaiserburg toe kom en dalk kry sy hom te sien … Nee, sy leef in ’n gekkeparadys. Friedrich is onbewus van haar bestaan as vrou, as ’n meisie wat so onvoorwaardelik kon liefkry … Sodra hy weet wie sy ouers was, sal hy teruggaan na Alexandra Myburgh toe en sy, Gretha, en tant Amalia sal terugkeer Johannesburg toe en sy sal leer om van haar dwase liefde te vergeet …

Meraai kyk met ’n gevoel van genoegdoening na Dieter wat met deurmekaar hare en verkreukelde klere by die kombuis inkom, na die naaste stoel toe strompel en met ’n gevoelvolle kreun daarop neersak. “Swart koffie met ’n dop brandewyn daarin, asseblief, tant Meraai,” versoek hy. Sy stem is ’n skor gerasper.

Meraai plant haar regterhand in haar sy en begin strydlustig: “Het my kombuis skielik in ’n kroeg verander, Dieter? En jy, met jou aanstellerigheid, verwerdig jou om by my kombuistafel te kom sit, in plaas van om in die eetkamer te gaan sit en tot vervelens toe die klokkie te lui?”

Dieter klou sy kop met albei sy hande vas, nie in staat om op te kyk nie. “Praat net sag, tant Meraai. My kop wil oopbars. Asseblief, tannie, bring net die koffie – met of sonder die brandewyn.”

“Ek sien. Jy lê tot dagbreek op ’n fuifpartytjie rond en dan verwag jy ek moet spring as jy sê ek moet spring. Skink jou eie koffie. Ek is besig om jou ma se oggendkoffie te maak,” antwoord Meraai met opsetlike gevoelloosheid.

“Ek was nie op ’n fuifpartytjie nie, tannie. Iemand het my aangerand in my eie tuin.” Dieter kyk op, wraaklus in sy oë. “Sy gaan nog vandag uit hierdie huis uit trap, tant Meraai. My pa kan ’n ander verpleegster kry, maar háár soort het ons nie nodig nie.”

Meraai plaas ’n koppie koffie en twee hoofpyntablette voor Dieter neer. “Drink, arme sieletjie. Dalk maak jy meer sin as jou kop minder pyn.”

Dieter sluk die tablette af, drink die koffie en ril merkbaar. “Ek weet wat ek sê, tant Meraai. Daardie verpleegster het my opsetlik gisternag na die tuin gelok en toe het sy en haar boewevriend my ingewag en my oor die kop geslaan. Hulle het elke sent wat ek het, gesteel!”

“Reken, nè? Is jou beursie weg?” vra Meraai onskuldig.

“Nee, maar die geld is weg. Sodra my ma hoor wat Gretha …”

“Stop! Halt, broertjie, of ek moker jou sommer met ’n braaipan oor die kop,” dreig Meraai en plant haar vierkantig voor die verwarde Dieter.

“Wat makeer tannie nou?” vra hy oorbluf. “Dink tannie ek lieg?”

“Ek het nie nodig om te dink nie, skepseltjie, want ek weet jy jok. Het jy vergeet ek het gehelp om jou en Friedrich groot te maak? Het jy vergeet hoe dikwels ek Friedrich moes beskerm omdat jy voortdurend die waarheid verdraai en hom vals beskuldig het?” vra sy kwaai.

“Genugtig, tannie, ek was toe ’n kind. Friedrich het niks met hierdie saak te doen nie. Ek sê tannie mos: Gretha het ’n afspraak met my gehad en toe ek haar in die tuin …”

“Ja, ja, ek het die liegstorietjie klaar gehoor,” val sy hom kortgebonde in die rede. “Kom ek help jou uit jou ellende uit, broertjie. Ek weet jy het gisternag kort ná nege by die huis uitgesluip om by die vrolike weduweetjie te gaan kuier.”

“Tannie!” Dieter se oë rek van vrees. “As tannie vir my ma sê …”

“Ja, Dieter?”

Hy byt hard op sy tande, sodat die spiere langs sy kake uitbult. Sy lees die bitterheid in sy oë toe hy begin praat: “Ek het agt en twintig jaar oud geword, maar ek het dit nog nooit hardop gesê nie: my ma is ’n kranksinnige vrou. Sy …”

“Moenie, Dieter,” pleit Meraai, ineens jammer vir hom. Hy is ’n aantreklike jongman, donker soos Henriëtte, maar met die sterk gelaatstrekke van die Falkensteins. En wanneer hy vergeet dat hy die kroonprins van Kaiserburg is, is hy net ’n ongelukkige kind wat in die skadu van ’n oorheersende, siek vrou en ’n onbelangstellende pa grootgeword het, dink sy simpatiek.

“Gaan dit my ma normaal maak as ek dit aanhou ontken, tant Meraai?”

“Jou ma het las van haar senuwees, boet. Sy is van jongs af uiters gespanne en soms tree sy onvoorspelbaar op, maar sy is nie kranksinnig nie. Dink maar self, Dieter: sy het jou van jongs af bederf, want niks was goed genoeg vir haar enigste seun nie. Sy het jou lief, kind.”

“Lief?” Sy lippe vertrek smalend. “Noem tannie dit liefde as ’n ma haar eie kind afdreig?”

“Nou verstaan ek net mooi niks nie,” antwoord Meraai verwonderd.

“Nee, tannie sal nie, want my ma is slinks genoeg om nooit voor tannie met my daaroor te praat nie. Toe ek klein was, kon ek geen sonde in haar oë doen nie, maar vandat ek ’n man geword het … Elke keer dat ek met ’n meisie uitgaan wat sy nie persoonlik goedkeur nie, dreig sy om die waarheid oor Friedrich te vertel; om my pa te dwing om Friedrich sy erfgenaam te maak,” vertel hy met ’n bitterheid wat aan haat grens.

“Die waarheid oor Friedrich? Wat praat jy, Dieter?”

“Moenie skynheilig wees nie, tant Meraai. Almal vermoed dit: dat Friedrich my pa se buite-egtelike seun is. Maar buite-egtelik of te nie, hy is ’n Falkenstein en my ouers het hom aangeneem. En hy is ouer as ek. Hy het meer reg op Kaiserburg as ek,” antwoord hy, sy stem skor van ontsteltenis.

“Het jou ma vir jou gesê dat Friedrich jou pa se buite-egtelike seun is?” vra Meraai verstom.

“Ja – ’n duisend maal al, ja! Dis waarom ek na haar pype moet dans. Want doen ek dit nie, sal sy my pa oorreed om my te onterf en daardie … daardie optelkind sal met my erfenis wegstap. Weet tannie hoe dit voel om voortdurend in vrees te leef? Soms wens ek my pa moet sterf, voordat hy sy testament kan verander. Ander kere wens ek my ma kom iets oor, en partymaal wens ek ek het die moed om sommer net hier uit te stap en nooit weer terug te kom nie. Ek haat Kaiserburg en die vervloekte visfabriek. Dis waarom ek so graag op Son en See kuier. Saam met Alexandra kan ek minstens soos ’n mens … soos ’n vry man voel.”

“Toe jy klein was, het jy altyd gesê jy wil ’n boer wees,” kom dit nadenkend van Meraai.

“Ek wil nog steeds ’n boer wees, maar ek durf nie eens oor my grootste droom in my ma se teenwoordigheid praat nie. O nee, ek is mos die kroonprins van die Falkensteinlandgoed, die erfgenaam van al hulle skatte. En van haar geld. Haar familieplaas, Overberg, sal eendag aan my behoort. Weet tannie wat ek sal doen? Ek sal van hierdie haatlike plek ontslae raak en op Overberg gaan boer.”

“Jy aard na jou oupa, Jean-Pierre de Villiers,” sê Meraai verwonderd en vervolg streng: “Maar jy mag nie vergeet dat jy ook ’n Falkenstein is nie, liefie. Wie weet, dalk het jy eendag ’n seun wat in die ou huis en die visfabriek belang sal stel.”

“Dis ’n huis van haat,” sê hy opstandig en lyk ineens ongemaklik. “Moenie herhaal wat ek vir tannie gesê het nie. En as daar nog ’n koppie koffie is … “

“Ek praat nie uit my beurt uit nie, Dieter, maar wat gisternag betref …”

“Dis ’n saak tussen my en my ma en daardie onderduimse verpleegster Wolmarans,” sê hy stuurs.

Meraai druk haar hande op die tafelblad en kyk hom deurdringend aan. “Nee, Dieter, is ’n saak tussen my en jou” sê sy nadruklik.

Hy frons onbegrypend. “Gaan tannie die meisiemens beskerm?” vra hy gekrenk.

“Nee, kind, ek gaan jóú beskerm. Ek was saam met Gretha gisteraand in die tuin toe jy in ’n beskonke toestand haar in jou arms gegryp en teen haar wil gesoen het.”

Dieter kry kleur op kleur en slaan sy blik neer. “Ek sien, tannie het my oor die kop geslaan en my net daar in die tuin laat lê.”

“Wat het jy verwag? Dat ek, ’n vrou van sestig, en die tenger Gretha jou moes indra huis toe en in die bed sit?” vra sy afkeurend.

“Wel …” Hy glimlag verleë. “Ek moet seker dankbaar wees tannie het my nie doodgeslaan nie.” Hy kyk haar bekommerd aan. “Tannie sal niks vir my ma sê nie?”

“Ek sal nie, maar ek kan nie namens Gretha praat nie. Ek meen jy is haar ’n verskoning skuldig,” antwoord sy streng.

Hy pers sy lippe saam en haal sy skouers op. “Waarom nie? Sy is ’n beeldskone meisie en as ek haar kan oortuig dat ek nie werklik ’n skurk is nie, word ons dalk vriende … goeie vriende.”

“Jy laat Gretha met rus, Dieter. As jy ’n oorlas van jou maak, vertel ek jou ma van jou geheime besoekies aan Alexandra,” waarsku Meraai.

“Afperser!” sê hy kamma vies.” Al glo tannie my nie: ek kan soos ’n ware heer optree. Wat nou van nog ’n koppie koffie, tannie?”

“Jy is oud en lelik genoeg om self vir jou koffie te skink. Jou ma sal net weer onnodig ontsteld raak as ek haar oggendkoffie te laat bring,” antwoord Meraai, tel ’n skinkbord op en wieg die kombuis uit.

Gretha kyk op van die boek wat sy lees en glimlag skuldig toe sy in Otto se oë vaskyk. “Waarom het oom nie vir my gesê oom is wakker nie? Het oom enigiets nodig?” vra sy en sit die boek op die tafeltjie langs haar stoel neer.

Sy lippe kreukel in ’n glimlag. “Die jeug is so mooi … en onskuldig … soos ’n mooi sonsopkoms wat te vinnig verbygaan,” antwoord hy.

Herinneringe aan sy eie jeug is soos ’n sagte gloed wat op die donker, gesplinterde jare van sy volwassenheid kom lê.

“Was oom se jeug mooi?” vra sy, bly om nie tekens van pyn in sy gesig te bespeur nie.

“So mooi soos net ’n jongmens se droom kan wees. Ek en Henriëtte …” Hy kyk na haar en sy oë pleit om begrip. “Sy was nie altyd so nie. Ons was gelukkig, ek en sy. Miskien moes ek hom nooit hierheen gebring het nie, want dit het haar verander.

“Oom verwys na Friedrich?” vra sy aarselend.

“Ja … ja. Ek het geglo sy het my lief genoeg gehad om te verstaan, maar sy kon of wou nie. Toe Dieter ’n jaar later gebore is, wou sy hê ek moet Friedrich in ’n weeshuis plaas. Al daardie rusies … al daardie jare van verwyt en haat … maar ek het reg opgetree.”

“Friedrich weet nie wie sy eie ouers is nie, oom,” sê Gretha gedemp, haar blik op die kamerdeur.

Otto glimlag geheimsinnig. “Hy sal binnekort weet. Hy weet waar die skuilplek is.”

“Nee, oom , hy weet nie. As oom nie vir hom sê waar om …”

“Hy weet,” val Otto haar beslis in die rede en sluit sy oë.

Gretha staar magteloos na hom, wens sy kan die waarheid uit hom skud, maar besef dat hy hom reeds in die dwaalwêreld tussen lewe en dood bevind. Gaan hy sy geheim saam met hom na sy graf toe neem? Nee, sy durf nie toelaat dat dit gebeur nie. Friedrich sal nooit trou as hy nie weet wie sy ouers was nie. Maar as hy die dag weet – sal hy teruggaan na Alexandra Myburgh toe? Is haar liefde vir hom onselfsugtig genoeg om hom aan ’n ander vrou af te staan, vra sy haar af en sug verwese. So lank as Friedrich se verlede in duisternis gehul is, sal hy haar vriend wees. Wil sy die man wat sy onherroeplik liefgekry het, vir goed verloor?

’n Klop aan die kamerdeur laat haar met ’n gevoel van dankbaarheid tot die hede terugkeer. Sy staan vinnig op, loop na die deur toe en maak dit oop.

“Jy!” sê sy verdwaas en staar na Dieter wat met ’n ruiker rooi angeliere in sy hande staan en haar met ’n beteuterde glimlaggie aankyk.

“Ja, dis ek, maar dié keer is ek nugter, verpleegster Wolmarans.” Hy hou die ruiker na haar toe uit. “Ek sal jou nie verkwalik as jy my blomme in die snippermandjie gooi nie, maar dis my manier om te sê ek is jammer oor my swak gedrag gisternag daar in die tuin.”

“Dan onthou jy darem wat gebeur het,” sê sy styf.

“Wel … nie alles nie, maar tant Meraai het my deeglik laat verstaan hoe swak ek my gedra het. Ek het haar beloof ek sal nie ’n oorlas van my maak nie. E … wat nou van die ruiker?” vra hy ongemaklik.

“Ek sal vir jou pa sê jy het blomme vir sy siekekamer gekoop,” antwoord sy koel en neem die ruiker by hom.

“Is ek dan vergewe?” vra hy hoopvol.

“Ek is hier om jou pa te verpleeg, meneer Falkenstein. Dis …”

“Dieter. Noem my Dieter. Ek het mos beloof ek sal my gedra,” val hy haar in die rede.

“Sodat jou ma weer ’n rede kan hê om my met ’n koppie tee te gooi? Nee dankie. Ek verkies om te onthou jy is meneer Falkenstein, een van die adel van Kaiserburg,” antwoord sy kil.

’n Diep blos van verleentheid kruip oor sy nek en gesig, maar hy kyk haar in die oë. “Skeer jy my oor dieselfde kam as ’n vrou wat geestelik siek is, verpleegster Wolmarans?”

Sy trek haar asem sag in en kyk vir die eerste maal na hom met ’n uitdrukking van begrip. Wie is die regte Dieter? Die jongman vol bravade wat gister met soveel selfvertroue vir sy ma gevra het of sy gehuur is om hom te amuseer, of hierdie man wat met onversluierde pyn in sy oë na haar kyk?

“’n Mens se eerste indrukke bly by jou,” antwoord sy.

“Nogtans, jou eerste indrukke kan verkeerd wees. Ek sal eerlik wees: ek kan nie soos ’n vriend teenoor jou optree wanneer my ma in die nabyheid is nie. Maar Kaiserburg is ’n eensame plek vol sterwendes en siekes. Ek sal ’n vriendin verwelkom.”

“Blote vriendskap?” vra sy agterdogtig.

“Blote vriendskap,” verseker hy haar.

Sy glimlag vlugtig. “Gaaf. Solank jy onthou tant Meraai het ’n sterk regterarm en sy slaan nie mis nie.”

Hy voel aan sy kop en glimlag bedroë. “Dis bykans onmoontlik om te vergeet. As ons vriende gaan wees: mag ek jou Gretha noem?”

“Vanselfsprekend, maar nie –”

“– in my ma se teenwoordigheid nie,” voltooi hy die sin vir haar en lag gedemp saam met haar. “Ek wou nog gevra het: kan jy perdry?”

“Soos ’n kampioen. Ek het op ’n plattelandse dorpie grootgeword en my pa het ’n plaas waar hy perde vir my en my broers aanhou.”

“Dan, juffrou Gretha, nooi ek jou nou amptelik uit om saam met my te gaan perdry. Ek het ’n stal vol perde, maar ek ry gewoonlik alleen.” Hy kyk in die gang af na Henriëtte se kamer. “Sedert my pa siek geword het, is my ma se gedrag meer onvoorspelbaar – daarom bring ek nie meer vriende huis toe nie.”

“Ek begryp en ek waardeer die uitnodiging. Ek sal graag daarvan gebruik maak, as my pligte my toelaat.”

“Uitstekend! Laat my weet wanneer jy vry is,” sê hy ingenome, knik sy kop en stap weg na die trap toe.

Dis wonderlik wat ’n hou oor die kop kan doen, dink Gretha geamuseerd, maak die deur toe en dra die ruiker spieëltafel toe. Nee, nou is sy onregverdig, betig sy haarself. Sy was te haastig om te oordeel, omdat sy vooraf geweet het Dieter en Friedrich is aartsvyande. Maar Dieter het sy eie seer: hy leef in weelde, dog Kaiserburg is nie vir hom ’n ouerhuis nie, maar ’n gevangenis.

Hanna kyk verras op toe die agterdeur sonder ’n klop opgaan en Meraai die kombuis binnekom.

“Sjoe, sjoe, sjoe! Ek is gedaan!” hyg Meraai en plof op die naaste stoel neer. Sy vroetel ’n kantsakdoekie uit haar roksak en klad haar natgeswete gesig. Sy leun agteroor op die stoel en probeer om haarself koud te waai.

“Om liefdeswil!” sê Hanna ongeduldig en prop ’n groot mansakdoek in Meraai se hande. “Waai hiermee, Meraai. Jy sal nie ’n muggie kan koud waai met daardie flentertjie klam kant nie.”

“Jy kan ook so onvroulik wees, Hanna,” sê Meraai gekrenk.

“Maar darem ook prakties,” sê Hanna en plaas ’n groot glas koeldrank voor Meraai neer. “Drink, Meraai, en vertel my dan wat op aarde jou besiel het om hierheen te loop. Staan jou motor?”

Meraai sluk die koeldrank vinnig weg, plaas die glas neer en hyg: “Nog!”

“Jy gaan maagkrampe kry as jy die koue goed so vinnig insluk,” waarsku Hanna.

“Ja toe, Hanna, jy is wel sewentien jaar ouer as ek, maar jy is nie alwetend nie. Ek ken my eie maag,” sê Meraai vies, bedink haar en sê geheimsinnig: “Jy sal nooit raai wat die jong Dieter my drie, vier dae gelede vertel het nie.”

“Nee, ek sal nie. Maar Dieter se doen en late raak my nie. Hoe gaan dit met Gretha? Ek en Amalia is al blou van bekommernis omdat ons niks van die kind hoor nie,” verneem Hanna terwyl sy weer die glas vol skink.

“Nee wat, Grethatjie weet nou hoe om Henriëtte te hanteer en sy sorg alte mooi vir Otto. Sy en Dieter kom ook goed oor die weg, want hulle gaan ry gereeld smiddags perd,” vertel Meraai ingenome.

“Vertrou Gretha daardie pierewaaier?” vra Hanna onthuts.

“Ja toe, Hanna, niemand is net sleg nie. Nie dat ek jou verkwalik nie, want tot Dieter sy hart oopgemaak en gepraat het, het ek hom ook verkeerd opgesom.”

“Glo jy nou die seun is sonder sonde?” vra Hanna sinies.

“Dis nie wat ek sê nie, maar Henriëtte dreig die seun af. Sy het hom vertel Friedrich is Otto se buite-egtelike seun en as Dieter nie na haar pype dans nie, sal sy sorg dat hy onterf word. Jy het Dieter se ouma Helga versorg, Hanna. Sê jy vir my wat die waarheid is.”

Schalkie van Wyk Keur 6

Подняться наверх