Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 9
6
Оглавление“Dis ’n waarheid waarna ek my lewe lank soek, tant Hanna,” sê Friedrich en volg Amalia die kombuis binne.
“Luistervink!” raas Meraai. “Ek het foltering van die vlees trotseer om ongemerk hierheen te kom om privaat met Hanna te praat, en kyk nou wat gebeur! ’n Huis vol kuiergaste neem die geselskap oor.”
Friedrich glimlag treiterend. “Ek het ’n stofstorm teen die bult sien uitslaan en geweet tannie is op pad. Staan jou motortjie al weer, tant Meraai?”
“Stil, Friedrich,” beveel Hanna. Sy glimlag met Amalia en draai na Meraai toe. “Dis Amalia Lottering, Gretha se peetma, Meraai. Amalia, ontmoet Meraai Spannenberg, Henriëtte se geselskapsdame.”
“Haai, mens, ek is bly om jou te ontmoet,” sê Meraai hartlik. “Grethatjie is so ’n liewe kind, hulpvaardig en alles. Sy praat graag oor jou.”
“Bly te kenne, Meraai,” groet Amalia. “As dit ’n privaat gesprek is, sal ek my uit die voete maak.”
“Sit, tant Amalia,” beveel Friedrich. “Tannie is lankal bewus van my onsekerheid oor my afkoms.” Hy wend hom tot Meraai. “Het ek tannie reg verstaan? Het tant Henriëtte aan Dieter gesê ek is oom Otto se buite-egtelike seun?”
“Dis wat ek gesê het, ja, en dis waarom ek my ou liggaampie gekruisig het en al die pad hierheen geloop het. Jy ken vir Henriëtte: sy het ore soos ’n muis. Klim ek in my motor en ry, raak sy weer berserk en sê ek was dorp toe om saam met dokter Steenkamp te konkel om haar in ’n senukliniek te laat opneem. Dis waarom ek moes loop,” vertel Meraai en vryf haar moeë bene steunend.
“Tannie is ’n ster,” glimlag Friedrich, maar hy kyk afwagtend na Hanna. “Ouma Helga was die enigste Falkenstein wat my ooit tuis laat voel het in Kaiserburg, tant Hanna. Sy het daarop aangedring dat ek haar Ouma noem, terwyl ek my aangenome ouers oom en tante genoem het. Het sy dalk iets oor my geboorte geweet wat oom Otto al die jare vir my verswyg het?”
Hanna staar hom in stilte aan, simpatie en hartseer afwisselend op haar gelaat. “Ek wens ek het geweet wat die waarheid was, sodat ek jou kon sê, Friedrich, maar ek kan jou net vertel wat ’n kort rukkie voor wyle Helga se dood gebeur het.”
“En dit was?” vra hy gespanne.
“Helga het besef haar tydjie word kort. Sy het Otto hierheen ontbied en hom gevra of jy sy buite-egtelike seun is. Otto het dit ten sterkste ontken.”
“Omdat hy Dieter se erfenis wou beskerm?” vra Meraai agterdogtig.
“Nee, Meraai. Ek het Otto dopgehou, want ek was by hulle in die kamer. Otto was senuweeagtig en opsigtelik ontsteld, maar ek kan nie glo dat hy vir sy eie moeder op haar sterfbed sou lieg nie,” antwoord tant Hanna beslis.
“Dan is oom Otto die enigste persoon wat die waarheid oor my afkoms weet,” sê Friedrich wanhopig.
“Henriëtte sal ook weet, maar sy sal liewer op ’n brandstapel verbrand wil word as om die waarheid te praat,” sê Meraai vies.
“Maar waarom is daar al die geheimsinnigheid oor jou afkoms, Friedrich?” vra Amalia wat met intelligente objektiwiteit na hulle gesprek geluister het. “As jy werklik die seun van twee van Otto se ou studentevriende is, waarom maak hulle so ’n yslike geheim daarvan?”
Friedrich kyk haar skerp aan. “Wat jy sê, maak sin, tant Amalia. Ek is nie van plan om ná dertig jaar aanspraak te maak op ouers wat my as baba weggegee het nie. Ek wil net weet wie my ouers is. En ek het dit al hoeveel maal aan oom Otto gesê.”
“Maar as Otto die mense beloof het om hulle identiteit geheim te hou …” Hanna sug en skud haar kop. “Dis vir Otto moontlik ’n saak van eer om nie sy woord te breek nie.”
“Waarom het hy dan vir my gesê ek sal die dokumente oor my geboorte in die geheime skuilplek kry?” vra Friedrich vinnig.
“Skelmstreke,” sê Meraai vies. “Otto besef heel waarskynlik dat jy nie weet waar die geheime skuilplek is nie.” Sy kyk verwytend na Hanna. “Wat van ’n ou eetdingetjie, Hanna? Die koeldrank help niks vir die honger kol op my maag nie.”
Hanna stap die spens binne, haal die deksel van ’n koekblik af en plak die blik voor Meraai neer. “Help jouself, Meraai. Ek kan nie aan my maag dink as belangrike sake my aandag vereis nie.”
“Ek dink beter as ek kou,” sê Meraai, prop ’n konfyttertjie in haar mond en sluit haar oë, ’n salige uitdrukking op haar ronde gelaat.
“Meraai,” begin Amalia ernstig, “jy het gesê Henriëtte dreig Dieter dat hy ter wille van Friedrich onterf sal word as hy nie na haar pype dans nie. Sê sy dié dinge in jou teenwoordigheid?”
Meraai se hand met ’n tweede konfyttertjie kom tussen die koekblik en haar mond tot stilstand. “Ek eet nou, Amalia,” sê sy verwytend.
“Antwoord Amalia se vraag, Meraai, of ek vat die koekblik terug spens toe,” dreig Hanna.
“Vermakerige ou vrou!” sê Meraai vies, maar antwoord gehoorsaam: “Ja, Amalia. As Henriëtte kwaad is, gee sy nie om wie luister nie.”
“Het jy haar nog nooit uitgevra of Friedrich wel Otto se buite-egtelike seun is nie?” vra Amalia weer.
“Maar, mens, is jy van lotjie getik?” kom dit onthuts van Meraai. “Ek is Henriëtte se geselskapsdame, maar praat sy met ’n derde persoon, word ek ’n vlieg teen die muur. Ek hoor, maar ek hoor ook nie. Dis wat haar oorle’ ouers van my verwag het en dis wat ek tot vandag toe doen. Ek gee voor dat ek nooit haar privaat gesprekke afluister nie, verstaan?”
“Maar as tante haar daaroor sou uitvra?” vra Friedrich hoopvol.
“Dan land die arme siel in ’n senukliniek. Nee a, Friedrich, ek besef Henriëtte is nie ’n maklike mens om mee saam te leef nie, maar as ’n mens weet hoe om haar te hanteer … Ek beskou haar al soveel jare as ’n suster … ’n siek suster wat my hulp nodig het. Daarom sorg ek dat sy nie onnodig ontstel word nie, want dan …”
“Dan raak sy berserk, nè, Meraai?” vra Hanna grimmig.
“Dis sý skuld!” sê Meraai partydig. “Ek ontken dit nie: Henriëtte was ’n bedorwe, enigste kind; ’n rykmanskind, en sy kon nooit enige teenkanting verduur nie. Maar sy was dolgelukkig toe sy en Otto getroud is. Onthou jy dan nie, Hanna? Onthou jy nie hoe gelukkig sy en Otto kort ná hulle troue was nie?”
“Ja, ja, ek onthou.”
“Sy was soos enige, normale meisie … tot op daardie verskriklike dag toe Otto met Friedrich opgedaag het. Otto het geëis dat hulle die baba aanneem en toe … Hulle rusies was agter geslote deure, want Otto het gesorg dat ek nie hoor wat hy vir Henriëtte sê nie. Ek kon maar net sorg dat sy gereeld haar kalmeermiddel drink en haar troos wanneer sy so bitterlik gehuil het,” vertel Meraai, die koekblik vergete op die tafel voor haar.
“Nogtans, Henriëtte het mettertyd bedaar, veral nadat sy verwagtend geraak het,” sê Hanna. “Sy was so trots toe Dieter gebore is, selfs trotser as Otto. Maar sy was toe weer kalmer, nie waar nie, Meraai?”
“Ja, want sy was die ma van die erfgenaam van Kaiserburg. Dis waarom sy Dieter soos ’n prinsie grootgemaak het; waarom sy hom nooit enigiets geweier het nie. Ek glo sy het al haar liefde op Dieter oorgeplaas, want sy het alle belangstelling in Otto verloor.”
“Maar nie in my nie,” sê Friedrich wrang. “Sy het nooit ’n geleentheid laat verbygaan om my te laat onthou dat ek net ’n optelkind was nie. Gelukkig het oom Otto hom soms oor my ontferm – en jy het ook, tant Hanna. Jy en ouma Helga het gesorg dat ek die liefde kry wat tant Henriëtte nooit vir my kon gee nie.”
“En wat van my?” vra Meraai gekrenk. “Het ek nie vir jou drukkies gegee wanneer Henriëtte nie in die nabyheid was nie, Friedrich?”
“Tannie het, maar dit was selde of ooit, want Dieter het gou geleer om stories by tant Henriëtte aan te dra. Ek het van kleins af besef tannie is net so magteloos soos ek. Ons was albei tant Henriëtte en Dieter se getroue slawe.”
“Henriëtte se geluk was nog altyd my prioriteit,” sê Meraai verontskuldigend en sy frons bekommerd. “Dis waarom ek Otto verkwalik oor sy moedswilligheid.”
“Maar is die arme man nie sterwend nie?” vra Amalia verwonderd.
“O, hy is, maar hy gee voor dat hy yl en dan sê hy oor en oor vir Henriëtte dat die waarheid moet uit. Die arme vrou is in ’n toestand! Dis waarom ek deesdae so selde kom kuier, Hanna, want ek kan mos sien Otto se praatjies het haar skoon op hol.”
“Na watter waarheid verwys Otto, Meraai?” vra Hanna skerp.
“Hoe sal ek nou weet? Hy sê nie en Henriëtte sê nog minder. Sy begin net skree en dreig en … en soms begin sy te lag asof sy nie meer by haar sinne is nie. Maar dis sý skuld. Hy treiter haar, so asof hy dit geniet om haar in so ’n toestand te sien.”
“Is dit dalk die waarheid oor my, tant Meraai?” kom dit ingehoue van Friedrich.
“Maar, boet, ek sê mos ek weet nie. En nou gaan ek eet, want ek is ook maar net ’n mens van vlees en bloed met ’n honger maag,” antwoord sy beslis, gryp die koekblik met haar linkerarm teen haar bors vas en prop met haar regterhand die een na die ander tertjie in haar mond.
Hanna staar haar misnoeg aan. “Ek het altyd gewonder waarom jy so ’n groot kaak het, Meraai, maar nou weet ek: kou is jou enigste vorm van oefening.”
Friedrich glimlag onwillekeurig, neem Amalia aan die arm en stap saam met haar in die gang af na die voorstoep toe. Hulle luister oomblikke later na die skel gekras van die seemeeue, die nimmereindigende lied van die brekende branders in hulle ore.
“Gretha en Dieter ry saam perd,” sê hy gelykmatig. “Het tannie gehoor toe tant Meraai tant Hanna daarvan vertel het?”
“Ek het gehoor, ja. Ontstel dit jou?”
Hy huiwer, sy blik op Amalia se gelaat. “Ek ken tant Henriëtte,” sê hy eindelik. “Selfs toe ons kinders was, was sy jaloers op Dieter se vriende – seunsvriende. Hy was vyftien toe ek universiteit toe is, maar hy het toe al geweet dat tant Henriëtte een van haar bekende aanvalle gekry het sodra hy oor ’n meisie gepraat het. Dieter is vir tant Henriëtte nie net ’n seun nie; sy glo hy is haar persoonlike besitting wat sy met niemand kan of wil deel nie.”
Sy staar hom ontsteld aan. “Jy glo Gretha en Dieter gaan saam perdry sonder dat Henriëtte daarvan bewus is?”
“Ek wéét hulle hou dit geheim, want sou tant Henriëtte daarvan te hore kom …” Hy frons bekommerd. “Gretha het ter wille van my oom Otto se privaat verpleegster geword, maar haar vriendskap met Dieter stel haar lewe in gevaar. Sy moet terugkom Blumenstrauss toe, tant Amalia.”
“Dit kan nie so erg wees nie, Friedrich. Ek onthou sedert my jeug dat Henriëtte ’n hoogs gespanne kind was, maar sy was nooit ’n gevaar vir iemand nie. Jy het tog gehoor wat Meraai ons vertel het: daar was altyd ’n goeie rede vir haar uitbarstings,” sê Amalia paaiend.
“Tant Meraai tree beskermend teenoor tant Henriëtte op, daarom twyfel ek of sy ons die volle waarheid sal vertel. Het tannie vergeet: tant Henriëtte wou my met ’n skêr aanrand, bloot omdat ek oom Otto besoek het.”
“Ek hét vergeet,” erken Amalia, haar oë onrustig. “Ek moet ernstig met Gretha praat, maar hoe om so iets te reël …”
“Laat dit aan my oor, tannie,” val hy haar gerusstellend in die rede. “Ek het juis ’n tweede besoek aan oom Otto beplan, want my nagtelike besoeke aan Kaiserburg het tot dusver niks opgelewer nie.”
Friedrich hou agter die perdestal van Kaiserburg stil, klim uit sy motor en kyk misnoeg na Dieter en Gretha wat te perd aangery kom.
“Wag daar!” roep Dieter gebiedend en ry saam met Gretha nader.
Friedrich wag hom swygend in, sy gelaat ’n uitdrukkinglose masker. Hy het gehoop om Kaiserburg ongemerk binne te sluip om met oom Otto te praat, maar Dieter se onverwagte verskyning maak sy besoek onmoontlik, dink hy gefrustreerd.
“Dis nou waarvan ek hou, broer Friedrich: jy besef eindelik dat jy nie die reg het om by die voordeur van Kaiserburg in te stap nie. As jy by tant Meraai kom kuier het: ek sal vir haar sê jy wag op haar in die kombuis,” sê Dieter smalend en hou sy perd in.
Gretha kyk ontsteld na Friedrich, maar Friedrich vermy haar oë en vra stroef: “Is jy nie al ’n bietjie oud om soos ’n vermakerige kind op te tree nie, Dieter? Of probeer jy jou vriendin beïndruk?”
“Ek sal jou waaragtig …” begin Dieter dreigend en lig sy karwats op.
“Moenie, Dieter!” roep Gretha ontsteld uit en gryp sy arm. “Om liefdeswil, waarom ignoreer jy nie die man nie? Of as hy op julle grond oortree: bel die polisie.”
Friedrich lag grimmig. “Laat hom voortgaan, juffrou. Ek kan nie wag om hom van sy perd af te pluk en ’n behoorlike loesing te gee nie.”
“Waag dit en jy land agter tralies, vervloekte optelkind!” snou Dieter en klim van sy perd af. “Wat soek jy hier? My pa is siek. Hy mag nie besoek ontvang nie.”
“Ek het reeds ’n besoek aan oom Otto gebring, maar dié keer is ek hier op versoek van verpleegster Wolmarans se peetmoeder, tant Amalia Lottering.” Friedrich kyk na Gretha wat hom gespanne dophou. “Jou peetmoeder kuier by Blumenstrauss, die wit huis op die hoë duin. Sy is van plan om ’n paar weke lank hier vakansie te hou en sy het gevra dat jy haar moet kom groet.”
Gretha glimlag met gedwonge verrassing. “Kuier tant Amalia hier? Dis wonderlike nuus! Baie dankie dat jy my kom vertel het, dokter Falkenstein,” antwoord sy en klim haastig van haar perd af.
Dieter gluur haar agterdogtig aan. “Hoe ken jy hom?” vra hy bruusk.
Gretha trek haar asem skerp in, op soek na ’n aanvaarbare verduideliking, en Friedrich antwoord gelykmatig: “Ek het verpleegster Wolmarans in my ou vriend, dokter Ferdi Steenkamp, se spreekkamer ontmoet toe ek hom gevra het om ’n privaat verpleegster vir jou pa te kry.” Hy wend hom tot Gretha. “Wanneer sal dit vir jou geleë wees om jou peetmoeder te besoek, juffrou Wolmarans?”
“Vanaand, so teen halfnege, nadat ek oom Otto sy laaste inspuiting vir die dag gegee het. En nou moet julle my asseblief verskoon, want ek het oom Otto lank genoeg alleen gelaat. Dankie vir jou moeite, dokter Falkenstein. Tot siens,” groet sy en stap vinnig oor die kegelstene van die agterplaas weg na die naaste sydeur.
“Môremiddag, dieselfde tyd, Gretha!” roep Dieter haar agterna, maar sy kyk nie om nie. Hy draai met ’n vermakerige glimlag na Friedrich toe. “Sy eet uit my hand, die oulike dingetjie. Ek moet jou seker bedank dat jy so ’n pragtige verpleegstertjie vir my pa gekry het.”
“Is Alexandra dan nie meer jou aanstaande bruid nie?” vra Friedrich grimmig.
“Wat weet jy van my en Alexandra?” vra Dieter skerp.
“Wat die dorpenaars my vertel: julle het nog nie opgehou om partytjie te hou sedert haar man se begrafnis nie.”
Dieter gooi sy kop agteroor en skaterlag. “Uitstekend! Solank almal weet Alexandra is myne, het ek nie rede om my te bekommer nie.” Sy lippe vertrek met ’n humorlose glimlag. “En dit sluit jou in, broer Friedrich. Jy het nou wel Blumenstrauss van my gesteel en jy kan met ’n wonderlike geleerdheid spog, maar jy bly die optelkind van die Falkensteins. Alexandra wil darem eendag vir haar kinders kan sê wie hulle oupa en ouma was.”
Friedrich bal sy vuiste langs sy sye, sy oë soos donker, glimmende marmer in sy onnatuurlike bleek gelaat. “Wat jy en Alexandra doen, kan my nie skeel nie, maar as jy verpleegster Wolmarans enige leed aandoen …”
“A-ha, is dít hoe die wind waai?” Dieter klap sy tong meewarig. “Jy is ’n gebore verloorder, Friedrich. Het jy nie geweet ons rykes kry alles wat ons wil hê nie? ’n Pragtige bruid soos Alexandra en ’n oulike poppie soos Gretha om te verhoed dat ek verveeld raak … en albei onder dieselfde dak. Beny jy my?”
“Nee, ek kry jou jammer, want jy sal plastiese chirurgie nodig hê as jy aan Gretha raak,” antwoord Friedrich bytend en stap vinnig weg na sy motor toe.
“Ek is dol op kompetisie, ou maat, want ek wen altyd!” roep Dieter hom treiterend agterna en lag onbeheers.
Friedrich klap die motordeur agter hom toe en skakel met ’n bewende hand die enjin aan. Hy sal waaragtig moor, dink hy. Daar is ’n waas van witwarm woede voor sy oë. Dieter se beledigings is vir hom soos die gedreun van die golwe: hy hoor dit meestal nie. Maar Gretha … klein Grietjie met die lang, blonde hare en besondere groen oë … Nee, sy is nie klein nie; sy is ’n volwasse meisie, ’n geregistreerde verpleegster wat behoort te weet dat Dieter haar net vir die gek hou.
Solank sy nie dwaas genoeg is om te glo dat Dieter haar liefhet nie, tob hy en ry onnodig vinnig terug na Blumenstrauss toe, asof hy hoop om van sy kwellende gedagtes af weg te jaag.
Meraai gee vir Gretha ’n mandjie en maak die agterdeur oop. “Sê vir Hanna die konfyttertjies wat ek vanoggend by haar geëet het, was nie te sleg nie, maar sy moet proe hoe ’n konfyttertjie behoort te smaak. En moenie jou oor Otto kwel nie, Grethatjie. Henriëtte gee my minder las vandat Dieter saans gereeld met haar gesels. Ek sal ’n ogie oor Otto hou.”
“Baie dankie, tant Meraai. Ek sal nie te lank weg wees nie. Tot siens,” groet Gretha en maak die kombuisdeur agter haar toe.
Sy bly ’n oomblik lank staan sodat haar oë aan die donker gewoond kan raak, en ruk inmekaar van skrik toe ’n groot hand om haar boarm sluit.
“My motor is agter die perdestal geparkeer. Kom!” sê Friedrich saaklik, neem die mandjie by haar en trek haar saam met hom.
“Bees!” skel sy, nog uitasem van skrik. “Hoe durf jy my elke keer in die donker bekruip, Friedrich? Wat soek jy in elk geval hier? Ek is van plan om met my eie motor na Blumenstrauss toe te ry.”
“Hou op terugrem, meisiekind, of ek tel jou op en dra jou na my motor toe,” sê hy ongeduldig. Hy bly skielik staan en ruk haar saam met hom tot stilstand. “En waag dit om weer my hand te byt, snip, en ek trek jou tande met ’n draadtang uit.”
“Bullebak! Net omdat jy fisiek sterker as ek is, glo jy jy kan my hiet en gebied. Maar dis tipies van julle chauvinistiese … e …?”
“Varke?” stel hy hulpvaardig voor.
“Ek kan aan erger skelname dink,” antwoord sy nydig. “Waarom het jy my kom haal? Ek het my eie motor.”
“Beskou my as Dieter se tweelingbroer: ek vind jou onweerstaanbaar,” spot hy.
“Moenie my laat lag nie, dokter Falkenstein! Dieter is galant en bedagsaam. Hy ruk my nie aan my arm rond asof ek ’n lappop is nie,” sê sy boos.
“Sowaar? Jy verkies dit om deur ’n beskonke man omhels te word!” Hy lag grimmig. “Ek sal dit onthou as ek jou weer in die donker inwag, verpleegster Wolmarans.”
“Dieter het my lankal om verskoning gevra oor sy swak optrede. Ons is nou vriende.”
“Vriende?” vra hy skepties en bly langs sy motor staan. “Jy, klein Grietjie, is dolverlief op die ryk, aantreklike Dieter Falkenstein. Sal ons hoop jou verliefdheid is net ’n stuiptrekking en dat jy dit spoedig sal ontgroei?”
Sy gluur hom aan met al die woede en verontwaardiging tot haar beskikking, maar sy weet dat sy moet stilbly, anders sal sy in trane uitbars. Hoe kan enige man so ’n skreiende gebrek aan gesonde verstand hê? Sy voel asof daar in drukletters op haar voorkop staan dat sy hierdie groot, dom man wat voor haar staan, liefgekry het; maar hy verdink haar van verliefdheid op Dieter. Aan die anderkant: solank hy glo dat sy vir Dieter liefhet, sal haar liefde vir hom haar geheim bly. Sy sien eerder kans om afkeer as simpatie in sy oë te lees.
“My gevoel vir Dieter kan jou nie raak nie, Friedrich. Ek weet wat ek doen,” sê sy kil.
“Dis juis omdat jy nié weet wat jy doen nie dat ek jou waarsku, Gretha. Dieter boer by Alexandra Myburgh. Hulle is van plan om te trou,” sê hy dringend.
“Hulle is nog nie getroud nie, ook nie verloof nie,” sê sy koppig, haar gesig afgewend.
Hy plaas sy groot hande op haar skouers en sy onverwagte aanraking jaag haar bloed tintelend deur haar are. “Asseblief, Gretha, luister na my. Dieter het vir Alexandra lief. Hy het teenoor my erken dat hy van plan is om met haar te trou. Hy … hy gebruik jou net.”
Sy ruk haar kop op, haar oë blitsend in syne. “Jou vermetele gonnabeentjie! Hoe durf jy voorgee dat ek sal toelaat dat enige man my gebruik? Lyk ek vir jou soos die soort meisie wat … wat … e … gebruik wil word?” vra sy ontstoke.
“Liefde doen vreemde dinge aan meisies,” antwoord hy ernstig. “Ek is ’n ginekoloog. Ek weet.”
“En ek is ’n meisie, ek weet ook, dokter Falkenstein. Onthou dit in die toekoms en moenie probeer om die rol van my pa te speel nie,” sê sy styf.
Haar blonde hare is silwerwit in die maanlig, haar gelaatstrekke fyn en breekbaar soos porselein, dink hy en wens hy kan die uitdrukking in haar oë lees. Weet sy hoe bekoorlik sy is? As hy haar nou in sy arms neem en soen, sal hy haar van Dieter kan laat vergeet? So wonder hy, en skrik vir sy eie gedagtes. Wat besiel hom om aan so iets te dink? ’n Ligte flirtasie pas hom, maar Gretha … Sy is nie een van sy ervare vriendinne wat hulle geloof in die onverganklikheid van die liefde lankal verloor het nie. Gretha is ’n meisie met die onskuldige geloof van ’n kind in ’n sprokiesverhaal waarin die held en heldin vir altyd gelukkig saamwoon.
“’n Sneeuvlokkie,” sê hy mymerend.
“Ekskuus?” vra sy oorbluf.
Hy glimlag flitsend. “Jy herinner my aan ’n sneeuvlokkie. Dis pragtig om na te kyk, maar as jy dit probeer vashou, smelt dit in jou hand.”
“Jy hou my skouers al ure lank vas en ek het nog nie gesmelt nie,” sê sy vies.
“Moenie altyd oordryf nie, snip,” sê hy en neem sy hande vinnig van haar skouers af weg. Hy betrag haar sinies. “Jy glo aan die onsterflikheid van die liefde, nè, klein Grietjie?”
“Vanselfsprekend. Maar ek weet ’n huwelik is nie maanskyn en rose … of ’n sprokie uit ’n kinderboek nie,” antwoord sy.
“Onsterflike liefde is ’n sprokie. Ek is daarvan oortuig dat my ouers in ’n stadium geglo het dat hulle mekaar onsterflik lief- het – totdat ek my verskyning gemaak het. Oom Otto en tant Henriëtte het mekaar ook eenmaal onsterflik liefgehad, maar hulle liefde het lankal in haat verander.” Sy mond vertrek wrang. “Wat sê jy nou, slim Grietjie?”
Gretha aarsel. “My pa is nooit weer getroud ná my ma se dood nie, want hy het my eenkeer vertel dat geen vrou haar plek in sy lewe kan inneem nie. En tant Amalia het ongetroud gebly, omdat sy die man wat sy liefgehad het, nooit kon vergeet nie.”
“Uitsonderings. Solank jy onthou Dieter is nie jou pa nie. Kom ons ry,” sê hy en maak die motordeur vinnig oop, voordat sy die redenasie kan voortsit.
Hulle ry in stilte deur die maanverligte nag na die huis op die hoë sandduin. Die stilte tussen hulle eggo die leegheid in haar binneste. Waarom het sy die groot man liefgekry, vra sy haarself wanhopig. Hy het haar nooit aanleiding gegee nie, maar sy het ook nie gevra om hom lief te kry nie. ’n Vergeefse liefde wat op fondamente van trane gebou is, dis al wat vir haar oorbly as sy nie spoedig elders troos gaan soek nie.
Amalia stap die sitkamer met ’n skinkbord met tee in haar hande binne en plaas dit op die koffietafeltjie neer. Sy kyk vraend rond. “Wat het van Friedrich geword? Het hy nie gesê hy drink saam met ons tee nie?” vra sy vir Gretha wat op die rusbank sit en strak voor haar uitstaar.
“Hy het besef ons sal alleen wil praat, tannie. Hy het ’n entjie gaan stap,” antwoord Gretha sonder om na haar te kyk.
“Het julle twee rusie gehad?” vra Amalia vinnig.
Gretha frons ongeduldig. “Hy is ’n inmengerige ou oom, tannie. Hy het besluit ek is verlief op Dieter Falkenstein en hy het vir my ’n ellelange sedepreek afgesteek. Liewe land, ek is nie sestien nie! Ek is bewus van Dieter se verhouding met Alexandra Myburgh. Ek gaan ry net gereeld perd saam met hom, omdat ek toevallig van perdry hou.”
“Met of sonder Henriëtte se wete?” vra Amalia streng.
“Sonder haar wete. Tant Henriëtte het my duidelik laat verstaan ek is net ’n diensmeisie. Aangesien ek ’n graad het, mag ek darem saam met hulle aan tafel eet,” antwoord sy met ’n skewe glimlaggie.
Amalia gee vir Gretha ’n koppie tee aan en neem langs haar op die rusbank plaas. “Henriëtte se hooghartigheid amuseer jou, maar jy besef nie jy stel jou lewe in gevaar as jy saam met Dieter gaan perdry nie, hartjie?”
“Onsin!” Gretha staar haar onthuts aan. “Ek besef tant Henriëtte glo ek is nie ryk genoeg om sosiaal met Dieter om te gaan nie, maar wat kan sy eintlik doen as sy uitvind ons ry saam perd?”
“Ek herhaal net wat Friedrich vir my gesê het, Gretha: Henriëtte glo dat Dieter haar persoonlike besitting is. Sy sal hom nooit met enige vrou kan deel nie. Jy is bewus van sy verhouding met Alexandra, maar het Alexandra al ooit in Kaiserburg kom kuier?”
“Nee … maar dis omdat tant Henriëtte so onvoorspelbaar optree. Ek glo sy is ’n verleentheid vir Dieter, daarom bring hy nie sy vriende huis toe nie.”
“Die saak is ernstiger, my kind. Ek twyfel nie daaraan nie dat Henriëtte jou liggaamlike leed sal aandoen as sy besef dat jy en Dieter vriende is. Dis waarom …”
“Moenie oordryf nie, tant Amalia,” val Gretha haar onthuts in die rede. “Tant Henriëtte is deesdae baie rustig. Friedrich het die tannie ’n spul bangmaakstories vertel omdat hy glo ek het Dieter lief.”
“Die waarheid is nie net ’n storie nie, Grietjie. Henriëtte het Friedrich met ’n skêr bygedam toe sy hom in Otto se slaapkamer betrap het. Tant Meraai sal my woorde kan bevestig.
Gretha staar haar onvergenoegd aan. “Wil tannie hê ek moet terugkom hierheen?”
“Ja, hartjie. Ons het tog beplan om saam vakansie te hou. Friedrich is bekommerd oor jou veiligheid en aangesien jy op sy aandrang Kaiserburg toe is, voel hy vir jou verantwoordelik,” sê Amalia paaiend.
“En oom Otto dan?”
“Friedrich sal met dokter Steenkamp reël om ’n ander verpleegster in jou plek te kry. Asseblief, Gretha, ek wil jou by my hê.”
“Ek kan nie nou terugkom nie, tant Amalia. Ek is besig om oom Otto se vertroue te wen. Dis net moontlik dat hy my sal vertel waar die geheime skuilplek is. Ek moet daar bly totdat ek dit weet,” sê Gretha met dringende erns.
Amalia staar haar in stilte aan en sug verslae. “Ek kan jou nie dwing nie, hartjie, maar of Henriëtte dit gaan goedkeur of nie: ek kom van nou af gereeld by jou in Kaiserburg kuier.”
Gretha loop die breë trap ligvoets op. Sy sien dat Otto se kamerlig brand toe sy die trapportaal bereik en sy rek haar treë. Waarom is hy wakker, wonder sy bekommerd. Sy was twee uur lank weg, maar ná sy inspuiting behoort hy nie pyn te hê nie.
“ … lieflike bruid … My pragtige Henriëtte … hoor jy die kerkklokke lui? Dis ons troudag, Henriëtte,” hoor Gretha Otto ylend praat en skok in haar spore tot stilstand. Meraai het haar gewaarsku: Otto gee net voor dat hy oor sy troudag yl wanneer Henriëtte met hom rusie maak. Wat soek Henriëtte dié tyd van die nag in sy slaapkamer?
Sy beweeg geluidloos nader en loer om die deurkosyn. Henriëtte staan in ’n dreigende houding oor Otto en fluister verwoed: “Die briewe en dokumente – waar het jy hulle versteek, Otto? Praat, jou hulpelose sot, of ek versmoor jou met jou eie kopkussing!”