Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 6 - Schalkie van Wyk - Страница 4
1
ОглавлениеGretha Wolmarans ruk enkele treë van haar heldergeel motortjie af tot stilstand en gluur na die luukse, metaalgrys motor wat ’n paar sentimeter van hare af geparkeer is. Die gevaarte staan daar so breed en blink soos ’n futuristiese ruimtemonster. Sy storm na haar motor toe, plak haar inkopiesakke op die enjinkap neer en rig haar nydigheid op die metaalgrys motor. “Chauvinistiese vark! Onbedagsame, verditste mansmens! Ek hoop jy ry in ’n boom vas en kom tot ’n duistere einde!” skel sy na hartelus, onbewus van die enkele verbygangers wat haar met uitdrukkings van verstomming en geamuseerdheid betrag.
“Kan ek dalk help, juffroutjie?” vra ’n galante manstem agter haar.
Gretha swaai om asof die man se woorde dieselfde uitwerking as ’n gevoelige bysteek op haar het. Sy is net halfbewus daarvan dat die vreemdeling besonder lank en breedgeskouer is, met ’n sagte golwing in sy swart, effens deurmekaar hare, besondere blou oë en ’n sterk, hoekige kaaklyn met ’n kuiltjie in sy ken.
“Jy lyk soos Superman. Is jy Superman?” vra sy kryglustig.
Hy lyk oomblik lank uit die veld geslaan, maar dan kry sy sin vir humor die oorhand. Die meisie voor hom is slank en klein genoeg om onder sy ken te pas. Haar lang, blonde hare en porseleinfyn gelaatstrekke gee aan haar ’n voorkoms van brose breekbaarheid – totdat ’n mens in haar stormagtige, groen oë kyk. Haar oë herinner hom aan sonverligte, groen eilande en hy wonder vir ’n flitsende oomblik of sy gekleurde kontaklense dra, want blondines het gewoonlik blou oë.
“Nee … nee, ek is ’n doodgewone arbeider,” antwoord hy met gedwonge erns, “maar as jy sy telefoonnommer het, sal ek Superman namens jou bel.”
“Snaaksie!” snou sy verpletterend en wend haar weer tot die metaalgrys motor. “Ek is lus en skop die motor vol duike! Dalk moet ek die windskerm flenters slaan.” Sy swaai terug na die man toe. “Toe, jy, gee vir my ’n klip aan.”
Die man kyk gehoorsaam om hom in die parkeerterrein van die inkopiesentrum rond en sug spytig. “Jammer, juffroutjie, daar is nie ’n enkele klip in sig nie. As ek nou Superman was, kon ek ’n stuk van die teerblad opgelig het, maar … dalk breek ek my naels.” Gretha skreef haar oë dreigend en hy wonder bekommerd of sy dit oorweeg om hóm vol duike te skop. “As jy my kan sê wat die probleem is …” voeg hy paaiend by.
“Het jy nie oë in jou kop nie?” vra sy nydig. “Die geel motor is myne. Ek is haastig op pad terug huis toe, maar hoe kan ek my motordeur oopmaak terwyl hierdie grys gevaarte net sentimeters van my motordeur af geparkeer staan?”
Die man beweeg nader, korrel ernstig met sy linkeroog, meet die afstand tussen die twee motors en skud sy kop oorwonne. “Jy het gelyk: dis definitief ’n saak van onmoontlikheid. Ek twyfel of daar genoeg ruimte vir jou skaduwee tussen die twee motors is.”
“Presies. Mans is selfsugtige, onbedagsame kreature.”
“En chauvinistiese varke,” beaam die man somber.
Gretha kyk hom agterdogtig aan. “Skeer jy die gek met my?”
Sy oë rek onskuldig. “O nee, juffroutjie. Om die waarheid te sê, jy het my opregte simpatie. Maar daar is ’n eenvoudige oplossing vir jou probleem: sluit die linkerdeur van jou motor oop en skuif oor die sitplek na die stuurwiel toe.”
Sy staar na hom asof hy die verpersoonliking van onkunde is. “Dink jy ek sou dit nie lankal gedoen het as so iets moontlik was nie?”
“Wel, hoekom het jy nie?”
“Omdat, jou arme … e … meneer, die slot van die linkerdeur nie werk nie. Ek kan nie die deur van buite af oopsluit nie.”
Hy lyk grade meer bedruk. “Dan is daar net een oplossing: ek en jy kan ’n koppie tee gaan drink totdat die … e … chauvinis opdaag en sy motor verwyder,” stel hy aarselend voor.
Gretha kyk met groter belangstelling na die man. Hy is definitief aantreklik, besluit sy. As sy nie so kwaad was nie, het sy hom dalk onweerstaanbaar gevind. Maar omdat ’n man skynbaar die oorsaak is van die verknorsing waarin sy haar bevind, gaan sy aan geen man se versoek toegee nie.
“Dis vriendelik van jou, meneer, maar …”
“Friedrich,” val hy haar vinnig in die rede.
Sy frons geïrriteerd. “Dis vriendelik van jou, meneer Friedrich, maar ek is toevallig haastig. Ek moes al ’n halfuur gelede tuis gewees het.”
Hy kyk vlugtig na haar hande, maar vra nietemin: “Wag jou man en kinders tuis op jou?”
“Ek is ongetroud, maar ek en my peetmoeder gaan vakansie hou,” lig sy hom onwillig in en kyk vies om haar rond. “Hoe lank moet ek nog hier staan en wag? Tant Amalia het gesê ek moet gou maak.”
“Wat van ’n taxi?” doen hy gretig aan die hand.
Haar oë blits weer ’n duidelike boodskap aan hom omtrent die dunk wat sy van sy intellek het. “Ek het my motor nodig om met vakansie te gaan. En ons is haastig om te vertrek.”
Friedrich sug oorwonne en kyk met intense belangstelling na haar motor. “Die chauvinis is nie werklik verantwoordelik vir die penarie waarin jy jou bevind nie, juffrou … e …” Hy swyg en kyk haar afwagtend aan.
“Wolmarans – Gretha Wolmarans,” lig sy hom onwillig in.
“Gretha! ’n Klein naampie vir ’n klein meisietjie. Bly te kenne, Gretha. Ek is Friedrich …”
“Ek weet al, meneer Friedrich,” val sy hom styf in die rede. “En soos ek verwag het, is jy partydig vir die ellendige, mak aap wat sy motor bo-op myne geparkeer het.”
“O nee, ek is nie, maar toevallig het jy jou motor oor die geel streep geparkeer. As jy reg geparkeer het, het jy nie nou soveel probleme ondervind nie.”
“Ek móés so skeef parkeer, want die motor links van my was skeef geparkeer.”
“O …” Friedrich vryf met sy regterhand oor sy mond en ken, lyk opsigtelik ongemaklik en haal sy motorsleutels uit. “As jy beloof om my nie fisiek aan te rand en my liggaamlike leed aan te doen nie, liewe Gretha, sal ek nou dadelik my motor verwyder. Tot siens, Gretha. Of wil jy eers ’n koppie tee saam met my gaan drink?” vra hy hoopvol. Hy sien haar kleur op kleur kry en hy storm haastig na die metaalgrys motor toe.
“Jou … jou gonnabeentjie!” krys sy, maar dan klap die motordeur reeds agter hom toe.
Hy druk die toeter van die motor een maal, wuif, glimlag en ry vinnig weg.
“Mans is bedrieërs,” lig Gretha haar geel motortjie in en sluit die deur oop.
Gretha leun met haar ken teen die voordeurklokkie van Amalia Lottering se woning. Sy hoor hoe die voordeur langs haar oopgeruk word, maar wend geen poging aan om die klokkie te laat ophou lui nie.
“Gretha! Speel jy nou roomysverkoper?” vra Amalia onthuts. “Kom binne, kind, kom binne. Ons is reeds laat.”
Gretha draai haar oë, maar hou haar ken op die klokkie. “Help my met die inkopiesakke, tannie. As ek my posisie verander, val die goed flenters op die stoep.”
“Onbeholpe skepseltjie,” raas Amalia goedig. “Wanneer gaan jy leer dat jy nie ses inkopiesakke tegelykertyd kan dra nie?” vra sy en neem drie van die sakke by Gretha.
“Sjoe, dis beter! Tannie kan gerus maar ophou rusie maak: ’n chauvinistiese vark is daarvoor verantwoordelik dat ek nou eers hier opdaag,” verduidelik sy geraak terwyl sy Amalia deur die ontvangsportaal na die gang toe volg.
Amalia steek so skielik in haar spore vas dat Gretha in haar vasloop. “Eina! Probeer tannie om my neus te breek?” vra sy onthuts, tree agteruit en vryf haar neus.
“Soms, my Grietjie-kind, wens ek ek kan jou nek breek,” sê Amalia, maar sy klink meer bekommerd as kwaad. “Ek besef jy moes sedert jou vyfde jaar sonder die sagte invloed van ’n vrou klaarkom, maar ek kan nie glo jou pa en drie broers het jou nooit daarop gewys dat jy soos dame moet praat en optree nie.”
“In ’n huis vol mans kan ’n meisie nie bekostig om ’n dame te wees nie!” antwoord Gretha en volg Amalia die kombuis binne. Sy plaas die inkopiesakke op die kombuistafel neer en verduidelik: “As tannie my drie broers hoor … Ek ken ritse vloekwoorde en ek kan harder skop en seerder byt as enigeen van hulle.”
“My liewe kind …” Amalia skud haar kop meewarig. “Jy laat dit klink asof jy in ’n agterbuurt grootgeword het. Jou pa is ’n gesiene man, ’n mediese dokter, en jong Deon is self ook nou ’n dokter en ’n getroude man.”
“Dalk, maar Deon is nog altyd deel van die Drie D’s – die drie duiwels: Deon, Dawie en Dewald, wat my van jongs af verrinneweer het. Deon was nie te sleg nie, want hy is ouer as ek, maar Dawie en Dewald … Húlle kon nooit verstaan dat ek ’n meisie is nie, want as ek nie na hulle pype wou dans nie, het ek ’n opstopper gekry. Onthou tannie nie al my blou kolle nie?”
Amalia glimlag onwillekeurig. “Jou blou kolle en hulle bytplekke … Nee, Grietjie, ek het nie vergeet nie. Maar jy is nou groot – was reeds mondig – en jy is ’n meisie met ’n graad in die verpleegkunde. Jy noem tog nie al jou pasiënte chauvinistiese varke nie …”
“Net in my gedagtes en as hulle werklik daarna soek,” antwoord Gretha terwyl sy Amalia help om blikkieskos in ’n kartonhouer te pak. Sy kyk vinnig op. “Dis waarom ek nie in ’n hospitaal wil werk nie, tannie. Daar is altyd ’n matrone wat oor jou skouer loer. En ek haat die roetine … Ek sal privaat verpleging doen en my pasiënte kies – verkieslik vrouepasiënte.”
Amalia staar haar besorg aan, ’n bottel opwasmiddel vergete in haar hande. “Hoe praat jy nou, kind? Jy is tog nie werklik ’n mannehater nie?”
Gretha aarsel, die vlugtige beeld van ’n lang, donker man met besondere blou oë ineens voor haar geestesoog. Sy oë was blouer as blou – byna ’n purperswart – met lang, swart wimpers. Dis onregverdig dat mans sulke mooi oë het, dink sy vies. Sy het geglo hy is hulpvaardig en simpatiek, maar hy was net nog ’n chauvinistiese vark, want hy het haar opsetlik mislei. Op hierdie oomblik lag hy hom heel waarskynlik ’n ertjie omdat sy nie besef het dat hy die eienaar van die metaalgrys motor was nie.
“Jy het nog altyd oorgenoeg mansvriende gehad, Gretha,” kom dit bekommerd van Amalia.
“Hou op tjommel, tannie! Ek is beslis nie van plan om ’n non te word nie, maar ek sal my bruidegom versigtig kies. Hy moet my op sy hande dra en my behandel asof ek van kosbare kristalglas gemaak is. Ek wil sy koningin wees, nie sy slaaf nie.”
“Jy, meisie, soek ’n gedienstige slaaf, nie ’n man nie. Ek kan jou nou al verseker: geen vrou met selfrespek sal baie lank tevrede kan wees met ’n man wat die rol van ’n vloerlap speel nie,” sê Amalia afkeurend.
Gretha loop na die elektriese ketel toe en skakel dit aan. “As ek te kieskeurig is, bly ek ongetroud – soos tannie,” antwoord sy skouerophalend.
Waarom is tant Amalia nooit getroud nie, wonder sy vir die soveelste maal.
Amalia is reeds vyf en vyftig jaar oud, maar sy is lank en slank, met ’n effense rooi skynsel in haar blonde hare en met intelligente, wakker bruin oë. Haar gesig verraai tekens van ’n veel groter skoonheid in haar jeug wat selfs nie deur die spore van tyd uitgewis kon word nie. Is dit haar ingebore, vorstelike houding wat mans op ’n afstand gehou het? Nee … daar was nog altyd mans in Amalia se lewe. Gedurende haar loopbaan as lektrise in sielkunde aan die universiteit het sy gereeld mansvriende vir ete uitgenooi en meer as een het met bewondering na haar gekyk.
“Hoekom het tannie op vyf en vyftig afgetree? Ek het altyd gedink tannie sal met een van tannie se kollegas trou en dan aftree … en ek het nogal baie van professor Rosseau gehou,” kom dit nuuskierig van Gretha terwyl sy vir hulle koppies regsit.
“Ek het van al my kollegas gehou,” antwoord Amalia gelykmatig, “maar ek het êrens in my jeug gehoor dat liefde ’n onontbeerlike vereiste vir ’n gelukkige huwelik is.”
Gretha staar haar verwonderd aan. “Hoe kan ’n mens stokoud … e … vyf en vyftig jaar oud word, sonder om een maal ’n man lief te kry?” vra sy ongelowig.
“Ek sou sê dis onmoontlik, maar dit kan gebeur dat ’n mens die verkeerde man liefkry,” antwoord Amalia sonder om op te kyk.
“Bewonder tannie ’n man van ver af?” vra Gretha nuuskierig.
Amalia lag teësinnig. “Nee, agie. Maar lank voordat ek stokoud en vyf en vyftig was, het ek ’n man liefgehad. Ongelukkig het hy my nie liefgehad nie en toe ek eindelik geleer het om dit te aanvaar, was ek te verdiep in my eie loopbaan om ’n plaasvervanger te kies.”
“Het tannie jare lank oor hom gerou?” vra Gretha beïndruk.
“Nee, Gretha. Ek het jare lank my neus in boeke begrawe, sodat ek nie tyd gehad het om te rou nie. Op ’n dag het ek besef ek is ’n oujongnooi en ’n beroepsvrou, met geen behoefte aan ’n man en kinders nie. Dis wat gebeur as ’n mense te lank wag: jy word selfsugtig en selftevrede met jou eie leefwyse.” ’n Glimlag vind weerklank in haar oë. “Maar ek het ’n troosprys gehad: jy.”
Gretha voel hoe sy deel word van die warmte van Amalia se glimlag. Sy loop nader en gee haar tante ’n impulsiewe drukkie. “As ek eerlik moet wees; ek is bly tannie is nooit getroud nie. Toe ek jonger was, sou ek nooit my peetma met ’n man en ’n huis vol kinders kon deel nie.”
“Solank jy daarvoor sorg dat ek eendag kleinkinders het,” skerts Amalia en skink vir hulle tee. “Ek het klaar ’n paar toebroodjies gemaak. Jy is seker al net so haastig soos ek om op Donkerbaai te kom.”
“Te haastig en te opgewonde om nou te eet,” beaam Gretha terwyl sy aan haar tee proe. “Hoe ver is Kaiserburg van Donkerbaai af?”
“Kaiserburg is nie ’n dorpie nie. Dis ’n landgoed wat aan die Falkensteins behoort. Huis Kaiserburg staan op ’n rots langs die see. Sigmund Falkenstein het die huis laat bou nadat hy besef het dat Donkerbaai ’n ideale vissersdorpie is waar hy ’n visfabriek kon oprig. Die visfabriek het gefloreer en die Falkensteins ook. Ek onthou as kind …” Amalia swyg asof sy verdwaal geraak het in haar eie herinneringe.
“Ek onthou tannie het my vertel tannie se pa was die prokureur van Donkerbaai,” probeer Gretha haar terugroep tot die hede.
Amalia sug. “Ja … ja, dit was mooi jare, daardie. Ek weet die Kaap is bekend vir sy winterreëns en stormagtige suidoostewinde, maar as ek aan my jeug dink, onthou ek net sonskyndae,” vertel sy, haar stem nostalgies.
“Hoekom het tannie dan so lank gewag om terug te gaan Donkerbaai toe? Ons gaan gereeld Desember saam strand toe, maar …”
“Ek hét my strandhuis aan die Suidkus,” val Amalia haar vinnig in die rede. “Jy het tog jou vakansies daar geniet?”
“Ja, behalwe die keer toe my broers saamgekom het.”
Amalia lag onwillekeurig. “Dit was ’n fiasko wat ek nooit sal herhaal nie.”
“Tannie het nog nie vir my gesê waarom tannie nooit weer teruggegaan het Donkerbaai toe nie,” hou Gretha vol.
“Daar was nie vir my ’n rede om terug te gaan nie. Ek het jou vertel my pa was ’n man van in die vyftig toe ek gebore is. Hy is dood terwyl ek nog ’n student was. Daar was niks om na terug te gaan nie,” antwoord sy, maar sy vermy Gretha se oë.
“Maar nou het tannie rede om terug te gaan …”
Amalia huiwer, ’n ligte frons tussen haar wenkbroue. “Hoekom nie? Ek is klaar met my loopbaan en toe dokter Falkenstein –”
“Dokter Falkenstein?” val Gretha haar verras in die rede. “Dan ken tannie die mense van Kaiserburg?”
“Kind, gee my kans om klaar te praat,” sê Amalia kwaai. “Vanselfsprekend het ek die mense van Kaiserburg geken, maar ek praat nou van minstens vyf en dertig jaar gelede. Destyds het ou Sigmund se seun, Heinrich, nog oor ons dorpie koning gekraai, maar intussen is hy en sy vrou oorlede.”
“En is dokter Falkenstein nou die eienaar van Kaiserburg?”
“Nee. Heinrich het twee seuns gehad, Kurt en Otto. Dokter Falkenstein het my vertel dat Kurt jare gelede al dood is en dat Otto nou die eienaar van die landgoed is.”
“En dokter Falkenstein dan?”
“Hy is nie werklik ’n Falkenstein nie. Dokter Falkenstein is my ginekoloog en omdat hy ’n rare van het, het ek hom gevra of hy familie is van die Falkensteins van Kaiserburg. Hy het my vertel Otto en sy vrou, Henriëtte, het hom aangeneem, maar hulle het later ’n eie seun, Dieter, gehad,” vertel Amalia, haar stemtoon vreemd stroef.
“Is Dieter dan die kroonprins van Kaiserburg?” vra Gretha belangstellend.
Amalia swyg, ’n sluier van herinneringe in haar oë. Sy sug ongeduldig. “Ek neem so aan, ja, maar ons het niks met die Falkensteins te doen nie. Ek het jou gesê ons gaan by tant Hanna Pieterse by Blumenstrauss kuier.”
“Blumenstrauss – ’n bossie blomme. Dis ’n mooi naam, maar waar op aarde is Blumenstrauss?”
“Dis deel van die landgoed van die Falkensteins. Ek onthou die plek: Heinrich het die huis vir sy vrou laat bou toe daar sprake was dat Kurt sou trou. Heinrich se vrou, Helga, het nie kans gesien om onder dieselfde dak as haar toekomstige skoondogter te woon nie. Destyds was Heinrich al sieklik en die moontlikheid was groot dat Helga hom sou oorleef. Blumenstrauss is gebou en ná Heinrich se dood het Helga daar gaan woon. Hanna Pieterse het haar tot haar dood toe versorg en lewenslange reg op die huis gekry.”
“Lekker! Ek wed tant Hanna sal ons alles oor die Falkensteins kan vertel,” sê Gretha ingenome.
Amalia kyk haar met ongewone strengheid aan.”Jy gaan tant Hanna onder geen omstandighede in kruisverhoor neem nie, meisiekind. Sy is ’n vrou van sewe en sewentig – ’n oumens wat rus en vrede nodig het. Dit was uiters vriendelik van dokter Falkenstein om ons toe te laat om by Blumenstrauss te gaan kuier, maar ek wil nie hê ons moet vir tant Hanna ’n oorlas wees nie.”
“Wat het Blumenstrauss met dokter Falkenstein te doen? As hy net ’n aangenome seun is, het hy …”
“Hy het Blumenstrauss by Helga geërf. En dis nou oorgenoeg vrae, Gretha. As ons nog van plan is om vandag te vertrek, moet ons ons tasse in my motor kry,” sê Amalia, ineens haastig, en sy staan op.
“Tannie se motor?” Gretha spring onthuts op. “Ek ry met my eie motor, tant Amalia. Ek het spesiaal nuwe buitebande gekoop en my motor laat versien. Ek ken tannie mos: tannie wil net tot vervelens langs die strand gaan stap, terwyl ek ’n taxi moet bel as ek êrens heen wil gaan.”
“Maar Grietjie-kind, jy weet my motor is altyd tot jou beskikking,” sê Amalia paaiend.
“En tannie weet ek is doodbang om ’n groot motor te bestuur.” Gretha lê haar hand pleitend op Amalia se arm. “Kom nou, tannie, ek is darem nou mondig en selfonderhoudend. En ek bestuur al meer as drie jaar lank my eie motor. Ek beloof ek sal nie jaag nie.”
“As dit ’n belofte is … Ek ry voor en steek jy my verby, draai ek om huis toe. Ek het ongelukkig ondervinding van jou roekelose bestuurdery.”
“Dit was nog toe ek geleer het om te bestuur,” sê Gretha geraak.
“Ons sal vannag êrens in ’n hotel oornag. Ek ry nie in die donker nie,” stel Amalia nog ’n eis.
“Ja, tannie. Goed, tannie. Solank ons voor Kersfees op Donkerbaai arriveer,” antwoord Gretha en stap uit om haar bagasie te gaan haal.
“Snip!” roep Amalia haar agterna, maar dan versomber haar uitdrukking weer. Waarom wil sy teruggaan Kaiserburg toe? Hulle wat saak gemaak het, is nie meer daar nie – behalwe Hanna Pieterse. En herinneringe. Sulke hartseer herinneringe, wat haar ’n leeftyd lank laat vlug het. Miskien is dit waarom sy moet teruggaan: om ’n graf te vind vir haar herinneringe; om haar verlore drome vir goed te begrawe. En tog: sy kan ’n graf grawe, maar sy sal met leë hande langs die graf staan, want herinneringe leef in jou hart.
Gretha bring haar motor voor die ingang van Kaiserburg tot stilstand en staar bewonderend na die granietingang waarop die naam Kaiserburg in gegoteyster-letters aangebring is. Haar oë soek verder, en toe gewaar sy die kasteelagtige klipwoning op ’n hoë rots wat grys en donker teen die asuur lug uittroon. ’n Huis van geheime, dink sy, en sy ervaar ’n rilling van opwinding vermeng met ’n tikkie vrees wat koud langs haar ruggraat afgly.
“Ek het geweet jou motor gaan jou in die steek laat,” praat Amalia vies deur die oop motorvenster langs haar. “Kom ons stoot jou motor uit die pad uit, Gretha. Kyk, daar lê Blumenstrauss op die duin aan die voet van die rots.”
“Het tannie nie ’n siel nie?” vra Gretha onthuts. “My motor makeer op die aarde niks nie. Ek het net stilgehou om Kaiserburg te bewonder.” Sy vergeet van haar ergernis en vervolg entoesiasties: “Dis ’n huis uit ’n sprokiesboek, tannie! Al daardie torings en skoorstene en die groot horlosietoring … Die donker granietklip laat dit soos ’n spookhuis lyk. Spook die Falkensteins in die ou huis, tannie?”
Amalia staar haar oomblikke lank oorbluf aan en dan kry haar ergernis die oorhand. “Ek is tot die dood moet moeg en honger en dors, en jy mors ons tyd om na ’n ou kliphuis te kyk! Om liefdeswil, kind, onthou dat jy mondig is en gedra jou soos ’n volwassene. Toe, kom!”
“Tannie het die romantiek van ’n honger weeluis!” roep Gretha haar uittartend agterna en skakel haar motor aan.
Sy sal tant Hanna Pieterse moet bearbei, want as dit van tant Amalia afhang, sal sy nooit die binnekant van Kaiserburg sien nie, dink Gretha terwyl sy ’n kronkelpaadjie na Blumenstrauss toe volg. Dalk kan sy met oom Otto se seun, Dieter, bevriend raak. Is hy reeds getroud? Wel, dan kan sy met sy vrou vriende word. Sy gaan beslis nie ses weke lank by Blumenstrauss kuier sonder om een maal ’n besoek aan Kaiserburg te bring nie.
Sy bring haar motor langs dié van Amalia voor die wit gekalkte woning tot stilstand, klim uit en staar verras na die blomtuin wat die huis omring. Blumenstrauss is beslis wat sy naam sê: ’n bossie blomme, dink sy en glimlag beïndruk.
“Kom nader! Kom nader!” nooi ’n helder, jeugdige stem.
Gretha draai haar kop en staar verras na die groot, stewige vrou met sneeuwit, krullerige hare; groot, vriendelike, grysblou oë en die warm somerson in haar glimlag. Sy kom flink in die tuinpaadjie aangestap en maak die tuinhekkie oop.
As dit tant Hanna Pieterse is … Gretha skud haar kop ongelowig. Te veel somers het vore van tyd op Hanna se gelaat uitgekalwe en die las van jare het in ’n skof op haar skouers kom lê en haar nek vorentoe gedruk, maar ’n lag van immer lente glans uit haar oë en weerkaats in die jeugdigheid van haar glimlag.
“Tant Hanna! Tannie sien daar goed uit,” sê Amalia hartlik en soengroet haar gasvrou.
“Goed of oud?” skerts Hanna en draai na Gretha toe wat huiwerig nader kom. “En jy is Gretha. Welkom by Blumenstrauss, hartjie. Ek verlang al hoeka na die geselskap van ’n jongmens.”
“Hallo, tannie,” groet Gretha en kry ’n spontane drukkie en ’n soen op haar wang.
“Vergeet julle bagasie. Julle lyk al twee warm en moeg. Kom ons gaan soek eers iets te drinke en te ete,” nooi Hanna gasvry, haak by Amalia in en stap vooruit.
Gretha talm in die voortuin,oorweldig deur die verskeidenheid blomme en struike. Sy het reeds die donkergroen van ’n natuurlike woud links van Kaiserburg gewaar, maar sy het nooit verwag om soveel blomme so na aan die see te sien groei nie. Haar oë soek verder en dan merk sy die hoë klipmuur wat tussen die see en Blumenstrauss gebou is. Die muur keer die meeste van die koue suidoostewinde af, besef sy.
Die gedreun van ’n motorenjin laat haar vinnig opkyk. Sy sien ’n luukse, metaalgrys motor vinnig nader ry, wonder nog of sy die bestuurder herken, en storm boos nader toe die motor enkele sentimeter van hare af stilhou. Die bestuurder klim uit sy motor en Gretha versluk haar aan haar ergernis toe sy in die lang, breedgeskouerde man se purperblou oë vaskyk.
“Jou … jou …” hyg sy, uitasem van woede.
“Chauvinis of gonnabeentjie?” vra hy en glimlag treiterend.
“Ek ken verskriklike vloekwoorde, want ek het drie broers,” waarsku sy en voel soos ’n opperste gek toe hy aanhou glimlag. Sy gluur hom nydig aan.”Hoekom doen jy dit? Hoekom parkeer jy so na aan my motor? Jy weet al ek kan nie by die linkerdeur inkom nie.”
“Dit was ’n voorsorgmaatreël. Toe ek jou die vorige keer uitgenooi het om saam met my ’n kopie tee te drink, het jy geweier. Nou het jy nie ’n keuse nie: ons drink eers saam tee en daarna kan jy maar ry. Reg, Gretha?”
“Hoekom?” vra sy bot. Sy ken mans. Sy weet hoe hulle na ’n meisie kyk as hulle in haar belang stel. Maar meneer Friedrich stel beslis nie in haar belang nie … behalwe dat sy hom grensloos amuseer. Geen man het haar al ooit soos ’n hanswors behandel nie, dink sy boos. As meneer Friedrich glo hy het ’n nuwe speelding ontdek, sal sy hom baie vinnig ontnugter.
“Sal ons sê ek wil vergoed vir die ongerief wat jy moes deurmaak toe ek jou daar by die inkopiesentrum vasgeparkeer het?” vra hy galant, die lag nog dansend in sy oë.
“Dis onmoontlik. Ek en tant Amalia het so pas hier aangekom. Tant Hanna gaan vir ons tee maak,” antwoord sy met kille meerderwaardigheid. Sy merk die verbasing op sy gelaat en vervolg triomfantelik: “Ek kuier hier. As jy ’n koppie tee wil drink – daar is kafees op Donkerbaai. Tot siens, meneer Friedrich.”
So ja, nou het sy hom behoorlik op sy plek gesit, dink sy selftevrede en vererg haar opnuut toe hy breër glimlag en op haar afstap. “Uitstekend! Tant Hanna is die baasbakster in die kontrei. Kom, geitjie, ek sien uit na daardie koppie tee en al die verbode eetgoed.”
Hy neem haar aan die arm, maar sy rem verbouereerd terug. “Ken jy vir tant Hanna?” vra sy oorbluf.
“Beter as my eie ma, want sy het my grootgemaak.” Sy oë soek onwillekeurig na die donker vesting op die rotse. “Vir my en Dieter, want tant Henriëtte se … e … gesondheid het veel te wense oorgelaat.”
“Dieter Falkenstein?” vra sy, haar stem yl.
Hy frons. “Moenie vir my sê my aangenome broer het jou reeds ontmoet nie. Hy het ’n reputasie dat …”
“Ek ken hom nie,” val sy hom in die rede, “Maar ek weet van hom. Maar as hy jou aangenome broer is, hoekom is jy meneer Friedrich?” vra sy agterdogtig.
Hy haal sy skouers onverskillig op.”Omdat jy besluit het om my so te noem, dom kind. Ek is Friedrich Falkenstein.”
“Dokter Friedrich Falkenstein?” vra sy ademloos.
“As ek werk, ja, maar my vriende noem my Friedrich. Dink jy ons kan vriende wees as ek beloof om nie weer so na aan jou motor te parkeer nie?”
Hoe kan sy vriende wees met ’n man wat haar met weersin vervul, wonder sy, bewus van ’n krapperigheid in haar binneste. Sy is nie kwaad nie, besef sy, maar sy voel verneder omdat Friedrich haar voortdurend uitlag. Sy weet sy is mooi – selfs haar hiperkritiese broers ontken dit nie – maar Friedrich Falkenstein is die eerste man wat haar laat voel dat haar voorkoms ’n yslike grap is.
“Ek kies my …” begin sy met ysige hooghartigheid en sluk haar woorde in toe Amalia en Hanna op die voorstoep uitstap.
“Friedrich!” roep Amalia verras uit. “Wat soek jy hier, kind? Ek is mos nie siek nie.”
Hy lag hartlik en skud haar hand “Dis net ’n bewys van hoe ’n bekwame dokter ek is, tannie. Welkom by Blumenstrauss. Ek weet tannie gaan die kuiertjie geniet.” Hy wend hom na Hanna wat hom handewringend aanstaar. “Hallo, tant Hanna. Pla die senuwees al weer?”
“Ja toe, boet, moenie dokter-dokter by my speel nie. Dis ter wille van jou oom Otto dat ek jou gevra het om dringend huis toe te kom, maar die vraag is: Sal hulle jou toelaat om met hom te praat?”