Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk - Страница 10
7
ОглавлениеDie bloed dreineer uit Rentia se gelaat en sy gryp na die katelstyl asof haar bene weier om haar gewig langer te dra. Sy staar die grynsende Renate swygend aan terwyl verbystering en ongeloof mekaar afwissel in haar oë. “Nee!” fluister sy skor. “Nee, dis nie waar nie. Ma hou my vir die gek.”
Renate glimlag vermakerig, hoog in haar skik met die uitwerking wat haar skokaankondiging op haar skoondogter gehad het. “Ek was nog nooit ernstiger in my lewe nie, Rentia. Ek kan nie wag om Vincent met Marné getroud te sien nie.”
Woede wis haar vrees vir Renate uit en Rentia krys onbeheers: “Nie solank ek leef nie, Ma! Ma dra die beursie, daarom kon Ma my eie seun van my vervreem, maar ek is en bly sy ma. Ek sal nie toelaat dat hy met ’n sentlose diensmeisie trou nie. Wat het in Ma gevaar? Al die jare het Ma daarop aangedring dat Vincent net met ryk meisies uitgaan, maar nou is Nicolette se oppasster skielik goed genoeg vir my seun. Mý seun, Ma. Ma besit hom nie!”
Renate hou aan glimlag en Rentia verbrokkel innerlik. Sy praat in die wind, besef sy met ’n opstuwing van bitterheid. Vandat sy die dag as Martin se bruid haar intrek in Flaminke-huis geneem het, het sy besef dat Renate haar altyd soos ’n indringer sal laat voel. Haar skoonpa was hoflik maar eenkant, en sy het nooit ingemeng met Renate se reëlings nie. Renate het slegs een vereiste aan Rentia gestel: om te sorg dat daar ’n erfgenaam vir Flaminke-eiland is. Vincent se geboorte is luisterryk gevier en Renate het uit die staanspoor sy opvoeding behartig. Daar is nouliks notisie geneem van Ilze en Nicolette se geboortes en toe dit blyk dat Nicolette nie normaal sou ontwikkel nie, het die kind ’n verleentheid vir die Brandenbergs geword.
Arme Nicolette … Miskien, as Martin nie so kort na haar geboorte gesterf het nie, sou hulle lewe anders verloop het. Sy was altyd jammer vir Nicolette, maar haar skoonma het haar daarvan oortuig dat Nicolette ’n skandvlek op die trotse naam van die Brandenbergs is. Ilze is vir haar ’n teleurstelling, wat sy is geen skoonheid nie en haar beheptheid met geleerdheid en werk irriteer haar. Maar Vincent is die middelpunt van haar bestaan. Ná Martin se dood het haar liefde vir haar seun toegeneem, totdat sy besef het dat sy nie bereid is om hom met enigiemand anders te deel nie.
“Kyk wie praat,” dring Renate se stem tot haar deur. “Het jy so gou vergeet dat jy die dogter van ’n plaasbestuurder van een van my oorlede man se plase was, Rentia? Glo jy ek sal jou ooit kan vergewe dat jy agter my rug met my seun in ’n landdroskantoor getroud is? ’n Sentlose bywonersdogter, dis wat jy was en dis wat jy ná al die jare in Flaminke-huis nog steeds is!”
“Ek is en bly Vincent se moeder!” krys Rentia en bal haar vuiste krampagtig langs haar sye. Haar haat vir Renate grens aan waansin, besef sy, want sy moet veg teen die begeerte om die gryns van triomf en leedvermaak met fisieke geweld van Renate se gesig te vee. Hoeveel maal het sy haar skoonma nie al doodgewens nie? Met haar uit die pad sal sy in vrede kan leef saam met haar drie kinders. Haar mededinging met Renate om Vincent se liefde het verhoed dat sy haar dogters werklik leer ken, maar met Renate dood sal hulle eindelik ’n normale gesin kan wees. Waarom moes Martin so jonk sterf, terwyl hierdie gewetenlose ou despoot toegelaat word om te lewe?
Renate lag ’n skel, skril laggie. “Jy is pateties, jou arme siel. Jy eet my genadebrood en jou eie seun verag jou, want hy besef jy is ’n swakkeling. Ek het sy bewondering en liefde, want hy weet ek is ’n sterk, dinamiese vrou – die vrou wat sonder die hulp van ’n man Flaminke-eiland en drie plase bestuur. Ek dra die beursie!”
“Geld is nie alles nie. As Vincent Marné nie liefhet nie, sal hy nie met haar trou nie. Ek weet waarom jy my haat, Ma. Martin het my liefgehad. Hy het nie omgegee dat ek die dogter van ’n plaasbestuurder was nie. Dis wat jy my nog nooit kon vergewe nie. Martin het my liewer gehad as vir jou.” Rentia sien die haat in Renate se oë en glimlag triomfantlik. Renate kan haar beledig en verkleineer, maar selfs sy kan nie ontken dat Martin haar onvoorwaardelik liefgehad het nie, dink Rentia en voel getroos.
“Jy het my seun van my afgerokkel en daarom het ek jou seun afgerokkel. Hy sal maak soos ek sê, want hy wil Flaminke-eiland erf. Moenie my teengaan nie, Rentia, want niks verhoed my om julle hele spul uit Flaminke-huis te gooi nie!” waarsku Renate en wys na die deur. “Trap uit my kamer uit. Jou teenwoordigheid walg my.”
Rentia keer ’n venynige antwoord deur op haar onderlip te byt, draai om en verlaat die kamer. Dis die kruks van haar vernedering: sy is finansieel afhanklik van haar skoonma, want Martin het geen eiendom besit nie en sy lewenspolis is aan sy pa gesedeer. Hoe lank sal sy nog die knie moet buig voor Renate Brandenberg? En die arme Vincent … Sy moet verhoed dat hy in ’n huwelik met Marné Jordaan gedwing word, besluit sy en stap vinnig by die trap af.
Ilze loer om die deur van Mathilda se privaat sitkamertjie. Sy sien Mathilda voor ’n naaimasjien sit, besig om lakens heel te maak, en glip die vertrek binne. Sy druk die deur agter haar toe. Mathilda kyk vraend op en glimlag verwelkomend.
“Daar is ’n rewolusie in die troonsaal, tannie. Waaroor twis my ma en my ouma nou weer?” vra Ilze, kom nader en soen Mathilda op die wang. “Hallo, tannie,” groet sy.
“Dag, my kind.” Sy slaan haar oë op na die plafon. “Nugter weet waaroor die vroumense nou weer stry, maar ons weet al wie gaan verloor. Die arme Rentia …” Sy skud haar kop meewarig. “Wanneer gaan die stomme siel leer dat Renate Brandenberg nooit ’n argument verloor nie?”
“Ek wed hulle maak weer rusie oor Vincent.” Ilze se mond vertrek wrang. “Ek en Nicolette is net nie belangrik genoeg om oor te twis nie.”
“Dan moes jy hier gewees het toe Marné en jou ouma ’n uitval oor Nicolette se versorging gehad het. Marné laat haar nie voorskryf nie, want sy het –”
“Het Marné die moed om ouma Renate te konfronteer?” val Ilze haar ongelowig in die rede.
“Sy het meer as dit reggekry. Voortaan sal sy alle besluite oor Nicolette se versorging neem, anders pak sy haar tasse en gee pad,” vertel Mathilda ingenome.
“En my ouma laat haar voorskryf deur ’n werknemer?”
Mathilda frons nadenkend. “Hoe sal ek sê, liefie? Ek het nou wel gedreig om saam met Marné pad te gee, maar ek het nogtans die indruk gekry dat jou ouma enige toegewing sal maak om Marné hier te hou. Ek besef Marné se tant Annie en jou ouma was jeugvriendinne, maar hulle het mekaar ’n leeftyd laas gesien. Daar moet ’n ander rede wees waarom ou Renate Marné so graag onder haar dak wil hê, maar wat?”
“Tannie sal moontlik kan uitvind, maar ek was nog nooit my ouma se vertroueling nie. Ek is op vier en twintig nog ongetroud, daarom is ek ’n mislukking in haar oë. Ek wens ek kan …” begin sy impulsief en swyg blosend.
“Jy wens jy kan haar van jou liefde vir Wim Mouton vertel, my kind?” vra Mathilda met deernisvolle begrip.
Ilze skud haar kop. “Nee, tannie. Ek het al te dikwels onder haar snedige tong deurgeloop. My liefde vir Wim is iets moois en wonderliks, maar as ek my ouma daarvan vertel, sal sy wel daarin slaag om my vuil en verneder te laat voel. Sy het my oorlede pa nog nooit vergewe omdat hy met die dogter van ’n plaasbestuurder getroud is nie. Wat sal sy sê as sy hoor ek het ’n bouer liefgekry?”
“Jy is al lankal mondig, liefie. Waarom wag jy nog? Jy het nie jou ouma of jou ma se toestemming nodig om met Wim te trou nie.”
“Dalk nie, maar … Ek wens ek kan Wim daarvan oortuig dat my liefde vir hom baie belangriker is as status of rykdom. Omdat ek in ’n drieverdiepinghuis woon en nie werk nie, glo Wim ek is een van die adel. Hy sê hy is ’n gewone arbeider en trou ek met hom, sal hy my van my eie mense vervreem en dit sal veroorsaak dat ek onterf word.” Sy lag vreugdeloos. “Arme Wim! Ek sal hom nooit kan oortuig dat ouma Renate nie ’n sent aan my sal bemaak nie. Sy het al herhaalde male gewaarsku dat ek met ’n ryk man moet trou, want Vincent is haar enigste erfgenaam.”
“En Nicolette dan?” vra Mathilda ontsteld.
Ilze haal haar skouers op. “Ek veronderstel Vincent sal haar moet versorg.”
“Vincent of jou ryk man?”
Sy kyk verras na Mathilda. “Tannie bedoel dís waarom my ouma daarop aandring dat ek met ’n ryk man trou? Hoop sy hy sal instem om ’n tuiste vir Nicolette te gee?”
“Hoe anders, liefie? Jy is die enigste een in Flaminke-huis wat die moeite doen om aandag aan Nicolette te gee. Ek twyfel soms of Nicolette weet dat Vincent haar broer en Rentia haar ma is, want hulle ignoreer haar bestaan. Glo my, die verantwoordelikheid vir Nicolette se versorging gaan op jou skouers rus.”
“Wel … Wim sal nie omgee nie. Hy is nie ryk nie, maar hy verdien genoeg. As ek net ook kan werk kry. Dalk sal Wim my dan as ’n gewone meisie beskou en nie as een van die bedorwe rykes nie.”
“Dis jammer jy kon nie ’n onderwyseres geword het nie. Jy is so slim met daardie vreemde tale, maar wat help dit jou?” vra Mathilda spytig.
“Ek wou ’n onderwyseres word, maar ouma Renate wou dit nie toelaat nie. Sy het nie omgegee dat ek my honneurs in Frans en Latyn kry nie, want sy het besef dit sal my nie help om werk op Twiswaters te kry nie.”
“Maar sal jy nie werk as ’n vertaler in die stad kan kry nie, Ilze?”
“Moontlik, ja, maar wat dan van Nicolette? My ouma weet ek sal haar nie aan hulle genade oorlaat nie. As ek die dag weggaan, sal ek Nicolette saam met my moet neem.” Sy sug verwese. “As ek net genoeg geld gehad het om met my eie onderneming te begin.”
“Jy, ’n sakevrou? Wat praat jy nou, kind?” vra Mathilda oorbluf.
“Tannie weet self ek geniet dit om te bak – enigiets van brood af tot verjaardagkoeke vir Nicolette. Toe, stry, tannie, ek is ’n goeie bakster, of spog ek net?” vra sy met ’n ondertoon van opwinding in haar stem.
“Vanselfsprekend spog jy, liefie, maar ek gee toe: jou gebak is beter as myne en die kok s’n,” skerts Mathilda. Sy staar Ilze verwonderd aan. “Is dit wat jy wil doen? Met jou eie bakkery begin?”
“Ek kan as ek die geld het. Tannie ken mos tant Soekie Vermaak se bakkery?”
Mathilda knik. “Die klein winkeltjie tussen die slaghuis en die apteek? Ja, ja, wie ken dit nie?”
“Tant Soekie is al agt en sestig en sy sê sy het deesdae te veel las van rumatiek om met die bakkery voort te gaan. Sy is bereid om die bakkery aan my te verkoop, maar –”
“Maar dit gaan ’n klein fortuintjie kos, Ilze! Waar gaan jy so ’n groot som geld skielik vandaan haal?” val Mathilda haar in die rede.
“Tant Soekie sê ek kan haar maandeliks afbetaal, maar my probleem is die huur van die winkeltjie. As ek net die eerste maand se huur kan betaal, sal ek die huur daarna uit die profyt van my bakkery kan betaal.”
“Dis nie so eenvoudig nie, Ilze,” waarsku Mathilda. “As jy met ’n onderneming wil begin, het jy kapitaal nodig vir talle ander uitgawes wat ’n mens aanvanklik nie voorsien nie.”
“Nie met tant Soekie se bakkery nie, want sy het gereelde klante. Sy sê sy maak nie ’n fortuin nie, maar sy lewe goed uit haar maandelikse profyt,” hou Ilze koppig vol.
“Omdat sy slegs die huur van die plek moet betaal, kind. Jy vergeet dat jy vir die toonbanke en vertoonkaste en oonde en die joos weet wat moet betaal. En waar gaan jy woon? Jy weet so goed soos ek jy sal nie langer welkom wees in hierdie huis as jy besluit om ons dorp se bakster te word nie.”
“Ek sal in ’n klein woonstelletjie bo-op die bakkery woon, want tant Soekie gaan by haar oudste dogter intrek.” Ilze gryp Mathilda se een hand in albei hare vas en vervolg pleitend: “Moenie vir my sê dis net ’n droom nie, tant Mathilda. Ek droom al so lank om volkome selfstandig te wees.”
Mathilda huiwer. “Hoekom praat jy nie met Marné nie?”
“Hoe sal dit my help? Marné verdien nie veel nie.”
“Miskien nie, maar haar oupagrootjie was ’n dokter op Twiswaters toe ek ’n kind was. Hy het ’n hele paar plase besit en later het hy ’n praktyk in Johannesburg gekoop. Hy het twee kinders gehad; ’n seun en Annie, wat Marné se groottante en voog is. Marné se oupa, Nicolas Hofmeyr, was eers ’n dokter en toe ’n neuroloog en hy …” Mathilda trek haar asem skerp in en staar Ilze ’n oomblik lank verdwaas aan. “Dat ek nou so onnosel kon wees! Waar was my gesonde verstand, hartjie? Die hele saak is nou so duidelik soos daglig vir my.”
“Wat praat tannie?” vra Ilze verward.
“Jou ouma se gretigheid om te verhoed dat Marné Flaminke-huis verlaat, my kind.”
“Nou verstaan ek nog minder,” sê Ilze vies.
“Omdat jy nie jou verstand gebruik nie, Ilze. Marné se mense was almal skatryk. Ek het nooit gehoor dat hulle bankrot gespeel het nie, daarom moet ek aanvaar dat Marné self ’n skatryk erfgename is.”
“Onsin, tannie. Waarom sal sy as ’n diensmeisie werk as sy ryk is?” vra Ilze onthuts.
“Annie was ’n ryk erfgename, maar sy het haar lewe lank onderwys gegee; altans, dis wat ou Renate my vertel het. Ek neem aan Annie verwag van Marné om te werk en aangesien sy nie werk as ’n arbeidsterapeut kon kry nie, het sy die pos van kinderoppasster aanvaar.” Sy merk die ongeloof op Ilze se gesig en vervolg: “Dink maar aan jouself, liefie. Jy kan die res van jou lewe in Flaminke-huis woon en op jou ouma of jou broer teer, maar jy brand om jou eie geld te verdien. Ek glo dis hoe Marné ook voel: sy wil nie haar lewe omkuier nie.”
“Het ouma vir tannie vertel Marné het skatryk geërf?” twyfel Ilze nog.
“Nie daardie ou jakkals nie! Maar ek kan nou verstaan waarom sy Marné nie sal teenstaan nie. Die dogter is skatryk, net die regte bruid vir Vincent,” sê Mathilda grimmig.
“Solank Marné net ’n diensmeisie is, sal Vincent nie na haar kyk nie. Ouma het hom grootgemaak asof hy een van die adel is en hy is net dom genoeg om dit te glo. Of dink tannie my ouma het hom reeds van Marné se erfenis vertel?”
Mathilda kyk na die ruiker rooi rose en die doos sjokolade op die koffietafeltjie. “Glo my, Ilze, hy weet. Vincent het die blomme en sjokolade vir Marné gekoop, maar toe bederf jou besitlike ma alles. Hy het Marné se geskenke vir my gebring en iets gemompel oor sy ongemanierde en inmengerige ma. Dis moontlik waaroor die rusie tussen jou ma en jou ouma gegaan het.”
“Maar Vincent het uitdruklik gesê die ruiker was vir Marné bedoel, tant Mathilda.”
“Ja, liefie, want ek is nuuskierig en ek is nie so ydel om te glo Vincent hou genoeg van my om spesiaal vir my blomme en lekkers te koop nie.”
“Dan ís dit waar! Dink tannie Marné sal my help om die bakkery te koop?” vra Ilze hoopvol.
“O, ek twyfel nie daaraan nie, maar die vraag is: wie gaan Marné help? Die dogter is doodeenvoudig nie opgewasse vir Renate en haar gekonkel nie,” antwoord Mathilda en staar bekommerd voor haar uit.
Nicolette gooi haar arms om Marné se lyf en druk haar kop teen Marné se bors. “Asseblief, Marné, ek wil nie vanmiddag gaan slaap nie. Ek is nie eens ’n klein bietjie vaak nie,” pleit sy.
“Nou goed dan, Nicolette. Vat jou kussings en lê op die mat. Dan lees ek vir jou ’n mooi storie,” sê Marné toegeeflik.
Nicolette skud haar kop, los Marné en draf na ’n groot kis in die hoek van die speelkamer. “Nie ’n storie nie, Marné. Ons kan prentjies kyk. Ek het klompe prentjies,” vertel sy terwyl sy die kis oopmaak en daarin rondkrap.
“ ’n Storieboek met prente?” vra Marné en stap nader.
Nicolette kom orent en hou ’n fotoalbum triomfantelik omhoog. “Hier is dit! Dis propvol prentjies.” Sy druk die album skielik besitlik teen haar bors vas. “Maar dis my geheim, Marné. Niemand mag dit sien nie, behalwe …” Sy betrag Marné onseker. “Is jy nog my beste maatjie?”
“Ek hoop so, want jy is mý beste maat, poplap. Maar jy hoef my nie die foto’s in jou album te wys nie. Jy moet self besluit.”
Nicolette staar haar oorwegend aan. “Jy sal nie sê nie, nè, Marné?”
“Ek verklap nooit ons geheime nie. Maar hoekom is die album jou geheim? Is dit nie jou album nie?”
“Dit ís myne. Ilze het dit vir my gegee. Lankal, toe ek nog klein was en verjaar het.” Nicolette gaan sit op die mat en klop met haar hand langs haar. “Kom sit hier, Marné. Dis regtig mooi prentjies.”
Marné neem op die vloer langs Nicolette plaas en laat haar toe om stadig deur die album te blaai.
“Dis ek en my pappa. Sien jy hoe klein is ek?” Nicolette skaterlag. “Ek lyk nes ’n baba!”
“ ’n Baie mooi baba, maar …” Marné sluk droog. Terwyl sy haar stem normaal probeer hou, vra sy: “Waarom is die gesigte van die mense uitgekrap?”
Nicolette staar na die oop bladsye van die album met ’n ongewone uitdrukking van vyandigheid op haar gelaat. “Hulle is nie mense nie, man. Dis my ma en dis die slegte man. Ek het ’n skêr gevat en hulle gesigte uitgekrap, want hulle is sleg. Slegte mense mag nie in my prentjieboek wees nie.”
“Hoekom dink jy jou ma is sleg, my poplap?” vra Marné rustig.
“Sy wil my nie hê nie. Sy praat net met die slegte man. Sy speel nooit met my nie. Sy hou net van die slegte man.”
“Die slegte man … Vincent is jou eie broer, Nicolette. Hoekom is jy kwaad vir hom?”
“Ek sê mos: hy is sleg. Hy … hy …” Nicolette se asemhaling word rukkerig. Daar is ’n donker vrees in haar oë.
“Kom ons blaai om. Ek wil al jou foto’s sien,” sê Marné vinnig.
Nicolette blaai gehoorsaam om en kyk laggend in Marné se gesig. “Dis al my mooi prente! Kyk hier, Marné. Dis Erik en oom Lukas en tant Kobie en …” Sy lag opgewonde. “Raai wie is dit?”
Marné kyk na die foto van ’n man van sowat vyftig. Hy lyk vir haar bekend, maar sy kan nie onthou waar sy hom gesien het nie. “Jou oupa?” raai sy.
Nicolette skaterlag. “Nee, man, dis oom Sebastiaan! My oupa het ’n snor gehad, maar oom Sebastiaan het net plooie. Oom Sebastiaan het baie plooie, want hy is vreeslik siek.”
“Op die foto lyk hy nie siek nie.”
“Nee, want toe was hy nog gesond. Ilze sê dis ’n ou foto, want iemand het oom Sebastiaan afgeneem voordat ek gebore is.” Nicolette frons. “Ek wens ek was hier voordat ek gebore is.”
“Hoekom, Nicolette?”
“Want toe was oom Sebastiaan nie siek nie. Mense gaan dood as hulle baie siek is, nè, Marné?”
“Ja … ja, dit gebeur.”
“En partykeer gaan mense dood, al is hulle nie siek nie,” sê Nicolette mymerend.
“Ja, as hulle verongeluk. Toe, wys vir my ’n foto van jou oupa. Of het jy nie een van hom nie?” stuur Marné die gesprek in ’n ander rigting.
Nicolette blaai om en kyk na die foto van haar oupa Tinus en ouma Renate. “Dis my oupa. Hy is baie mooi, maar hy is klaar dood. Tant Mathilda sê hy is in die hemel en die hemel is bokant my kop. My ouma bly ook bokant my kop. Is sy klaar dood en in die hemel?”
“Nee, Nicolette, jou ouma bly op die derde verdieping.”
“Hoekom mag ek nooit na haar toe gaan nie? Ek wou by my oupa gaan kuier het, maar Mathilda sê ek mag ook nie hemel toe gaan nie.”
“Jou ouma is siek en … en ek dink sy het kwaai hoofpyn, want sy wil nie gesels nie. Dis in elk geval lekkerder hier in die speelkamer met al die speelgoed.”
Nicolette klap die fotoalbum toe. “Ek is nou vaak.” Sy staan op, loop na die kaggelvuur en krul haar op die mat op.
Marné plaas die album onder die speelgoed in die houtkis terug en loop na Nicolette toe, maar sy slaap reeds vas.
Waarom noem Nicolette vir Vincent die slegte man? vra sy haar die soveelste maal af. Sy móét met tant Mathilda praat, besluit sy en loop haastig uit die speelkamer.
Mathilda gee vir Marné ’n koppie tee en neem op ’n rusbank skuins teenoor haar plaas. “As jou ore gesuis het, liefie, moenie verbaas wees nie, want ek en Ilze het aanmekaar oor jou geskinder,” skerts sy en proe aan haar eie koppie tee.
“Dan is Ilze terug?” vra Marné verras. Geen wonder die mense van Flaminke-huis is vreemdelinge vir mekaar nie, want die plek is so groot dat almal kan kom en gaan soos hulle wil, dink sy wrang.
“Sy was al voor middagete terug, maar as dit van jou afhang, vertrek sy voor sononder weer,” sê Mathilda geheimsinnig.
“Van my?” Marné lyk verward. “Ek het rusie met tant Renate en tant Rentia gehad, maar ek het gehoop ek en Ilze sal vriende wees. Hoekom is sy vies vir my?”
Mathilda lag goedig. “Jy verstaan my verkeerd, Marné. Ek en Ilze het oor jou gesels en toe praat ek oor jou oupagrootjie en jou oupa en jou tant Annie …” Sy leun nuuskierig nader. “Ek raai net, liefie, maar ek meen jy het skatryk geërf. Is dit so?”
Marné bloos asof sy met haar hand in die suikerpot betrap is. “Tant Annie sê ek gaan erf sodra en vyf en twintig is, maar wat ek gaan erf, sal ek nie weet nie. Sy sê dis swak smaak om oor geld te praat,” antwoord sy pynlik ongemaklik.
“Swak smaak!” Mathilda snuif. “Liefie, glo my, dis net swak smaak om oor geld te praat as jy miljoene in die bank het. Ek praat maar te graag oor elke sent wat ek moet spandeer, want geld is kosbaar … en deksels skaars daarby.” Sy betrag Marné oorwegend. “En intussen moet jy kinderoppasster speel omdat jy nie ’n dooie duit op jou naam het nie, kind?”
Marné aarsel. “Ek het geld in die bank, tannie, maar ek is nie ’n miljoenêr nie. Boonop het tant Annie my van jongs af geleer dat dit belangrik is om jou eie geld te verdien. Ek moes allerlei werkies in die huis en tuin doen, anders het ek nie sakgeld gekry nie.”
“Slim vrou, dié Annie,” kom dit goedkeurend van Mathilda. “As jy skielik op ’n dag skatryk erf en jy ken nie die waarde van geld nie, is jy bankrot voordat jy jou oë uitvee. Van geld gepraat: jy weet seker ou Renate soek ’n ryk bruid vir Vincent?”
Marné verbleek merkbaar. “Nee, ek het nie geweet nie. Tant Renate is in elk geval onbewus van my erfenis, want tant Annie sou nie daaroor aan haar geskryf het nie.”
“Jy ken nie daardie geldgierige oumens nie, liefie. Sy weet van jou ryk oupagrootjie en jou ryk oupa. Jy was jou ma se enigste kind, nie waar nie?”
“Ja, tannie, maar as ek nie eens weet hoe groot my …” Sy hou op met praat toe Ilze ná ’n vinnige klop die vertrek binnekom en glimlag aarselend. “Hallo, Ilze.”
“Dag, mens. Ek wou met jou gesels het, maar Erik het my voorgespring. Hy wag by die westelike sydeur op jou,” lig Ilze haar in.
“Nicolette slaap nog …” begin Marné besorg.
Mathilda lê haar met ’n handgebaar die swye op. “Nicolette is nie meer siek nie, liefie. Wanneer sy wakker word, sal sy na my kom soek. Ilze is nou ook weer tuis. Toe, moenie Erik laat wag nie. Jy is in elk geval veronderstel om smiddae en saans vry te wees.”
“Dankie, tannie. Ons sal later praat, Ilze,” sê Marné verskonend en dwing haarself om nie na die sydeur toe te hardloop nie.
Kan hy raai hoe bly sy is om hom weer te sien? wonder Marné en glimlag in die besondere silwergrys van Erik se oë. Sy is bly dat hy haar kom haal het; bly dat hy soos gister lyk; bly om by hom te kan wees. Hy glimlag vir haar. Is hy ook bly of dink hy aan sy Laura? kom die gedagte en doof die blydskap in haar oë uit.
“Son en skadu – dis hoe jou oë lyk. Hallo, Marné. Ek het amper geglo jy is bly om my te sien, maar toe lyk jy skielik teleurgesteld. Het jy iemand anders verwag?” terg hy.
“Natuurlik nie, maar ek het gehoop jy het my kom haal om by jou ouma-hulle te gaan kuier en ek sien jou bakkie nêrens nie.”
“Wel …” Hy betrag haar takserend. “As jy dan te lui is om Eiland-huis toe te loop, sal ek verplig wees om jou te abba. Of sal ek ’n kruiwa by die tuinier leen?”
“Lawwe man! As jou ouma my uitgenooi het, draf ek al die pad na julle huis toe.”
“Asseblief nie. Ek het die hele oggend op steiers rondgeklouter en nou pla die rumatiek,” spot hy terwyl hulle begin aanstap in die rigting van Eiland-huis. “Ek is bly jy kon sonder Nicky wegkom, want oom Sebastiaan wil met jou praat.”
“Hoekom? Hy ken my nie,” sê sy verras.
Hy haal sy skouers op. “Hy het jou tant Annie Hofmeyr geken. Moontlik wil hy jou oor haar uitvra.”
“Ja … ja, natuurlik.” Sy voel die ligte briesie deur haar hare speel en lig haar kop op. “Dis ’n heerlike herfsdag! Vreemd, in Flaminke-huis vergeet ’n mens maklik dat jy op ’n eiland woon. Ek het nog nooit eens langs die meer gaan stap nie.”
“Dis omdat jy verkies om in jou vrye tyd vir Nicolette te versorg,” sê hy afkeurend.
“Is dit ’n sonde?” vra sy geraak.
“Dalk. Moenie Nicolette te afhanklik van jou maak nie, Marné. Tensy jy besluit om met Vincent te trou en Flaminke-huis jou permanente tuiste te maak, sal jy eendag weer gaan.”
“Dis die domste ding wat jy kon sê, Erik,” sê sy vies. “Ek en Vincent is vriende, maar daar is nie ’n verhouding tussen ons nie. Het jy vergeet ek is net die betaalde diensmeisie?”
“Nee, maar Vincent het. Ek het hom toevallig raakgeloop pas nadat hy ’n ruiker bloedrooi rose by die bloemiste gekoop het. Hy was nie skaam om te sê vir wie die rose bedoel was nie.”
“Ek het jou reeds gesê: ek hou van Vincent, want ek kry hom jammer. Ek was ’n bietjie ongemaklik oor sy geskenke – hy het vir my ’n ruiker en sjokolade gebring – maar toe maak tant Rentia haar verskyning. Sy was skoon berserk van afguns … die ou heks! Sy het Vincent gewaarsku dat hy sy goeie naam sal verloor as hy ’n verhouding met my sou aanknoop. En toe sê sy tant Annie is een van haar skoonma se behoeftige vriendinne … Ek was so kwaad dat ek daar en dan met Vincent sou getrou het net om tant Rentia op haar plek te sit,” vertel sy boos.
“Hopelik is jy te slim om uit loutere leedvermaak met ’n man te trou, meisiekind. Maar wat was Vincent se reaksie?”
“Hy was ook kwaad, want hy het gesê hy sal met my trou as ek hom wil hê.” Sy vervolg geamuseerd: “Toe beskuldig tant Rentia hom daarvan dat hy dronk is! Sy is reguit na tant Renate toe, maar ek het nog niks van haar gehoor nie. Moontlik word ek voor vanaand afgedank.”
“Het Vincent sy ma probeer keer toe sy na tant Renate toe wou gaan?” vra Erik afgetrokke.
“Nee. Ek het hom gevra om die ruiker en die sjokolade vir tant Mathilda te gee.”
“Hoe lank gelede het dit alles gebeur?”
“ ’n Hele paar uur gelede. Hoekom wil jy weet?”
“Jy sal nie afgedank word nie, Marné. Inteendeel, ek twyfel nie daaraan dat tant Renate kop in een mus met Vincent is nie.”
“Jy bedoel hulle knoei saam? Met watter doel?” vra sy verwonderd.
“Tant Renate soek ’n ryk bruid vir haar kleinseun. Jy gaan nie dalk ryk erf nie?” vra hy agterdogtig.
Sal hy nog haar vriend wees as hy weet van haar erfenis? wonder Marné en besluit om nie die kans te waag nie. Sy glimlag gedwonge. “Dalk, as ek my vroom gedra, laat my tant Annie my eendag iets erf. Bygesê, as ek haar oorleef,” antwoord sy speels.
Hy kyk haar in stilte aan en stap met die stoeptrap op na die voordeur van Eiland-huis. “Stap binne. Ons het die sitkamer vir oom Sebastiaan ingerig, want dis die warmste vertrek in die huis.”
Die man op die hoë hospitaalbed is maer en uitgeteer en sy vel is byna deursigtig, maar sy merk die helder lig in sy donker oë toe hy haar gewaar.
“Annie! Annie, is dit werklik jy?” vra hy skor en probeer orent kom.