Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk - Страница 7
4
ОглавлениеDan is dít Rentia Brandenberg, Vincent se ma, dink Marné terwyl sy die vrou in die modieuse kamerjas opsommend aankyk. Rentia het vlamrooi hare, groot, groen oë en ’n hartvormige gesig. Haar neus is fyn en effens spits en haar mond sou mooi gewees het as dit nie deur ’n trek van onvergenoegdheid ontsier is nie. Sy skat Rentia in haar laat veertigerjare. Dit lyk of sy eenkeer ’n beeldskone meisie moes gewees het, maar dis duidelik dat Rentia haar stryd teen vet verloor het.
“Wat staan jy nog daar? Het jy nie gehoor wat ek sê nie, Mathilda? Die lila kamer was my skoonouers se wittebrood-suite en vandat skoonma Renate dit ná my skoonpa se dood ontruim het, het niemand dit nog gebruik nie. Selfs ek en wyle Martin het nooit die voorreg gehad om in die kamer te slaap nie. Nou wil jy dit ’n lêplek van ’n huishulp maak! Seniel – dis wat jy lankal is, maar tot vandag toe wil niemand my glo nie. Ons moes jou lankal vervang het deur ’n jonger huishoudster,” tier Rentia, loop op hulle af en gaan vlak voor Mathilda en Marné staan.
“Foei, Rentia, dis darem ’n groot jammerte dat Renate nie so maklik haar skoondogter kan vervang nie. Maar moenie dat ons rusie maak nie, mens. Dié liewe dogter is Marné Jordaan en die skellende vroumens is Rentia Brandenberg, Marné. Toe, Rentia, onthou nou jou maniere en heet Marné welkom in Flaminke-huis,” sê Mathilda liefies.
Woede slaan in warm vlekke op Rentia se gesig uit. “Hoe durf jy my gesag in die teenwoordigheid van ’n nuwe huishulp ondermyn, Mathilda? Jy lewe in ’n gekkeparadys as jy glo jy is onmisbaar vir ons Brandenbergs. Ek sal sorg dat jy vandag nog ontslaan word en jy kan hierdie meisiemens saam met jou neem,” bars Rentia kortasem van verontwaardiging uit.
Marné Jordaan is te mooi, veels te mooi om dag in en dag uit onder dieselfde dak as Vincent te woon, kwel Rentia haar. Sy is maar te bewus van Vincent se onvermoë om ’n mooi meisie met rus te laat. Hy sal ’n verhouding met Marné aanknoop en die arme dingetjie sal net te gretig wees om die kroonprins van Flaminke-eiland in haar kloue te kry. O, die vernedering, die onuitwisbare skandvlek op die Brandenbergs se trotse naam as haar enigste seun deur ’n slinkse diensmeisie in ’n huwelik gedwing sou word! Sy sal dit nooit oorleef nie.
“Aag, ou Rentia, jy maak my moeg. Dit was Rentia se uitdruklike bevel dat …” Mathilda swyg toe sy die haastige voetstappe op die trap hoor en Vincent vinnig naderkom.
“A, hier is julle!” sê hy uitasem en glimlag sjarmant. “Ek is jammer ek was nog nie tuis om jou persoonlik in Flaminke-huis welkom te heet nie, Marné, maar ek weet Mathilda sou jou met ope arms verwelkom het. My ouma het gevra –”
“Stil, Vincent!” snou Rentia, wat met ’n gevoel van afguns Vincent se vriendelikheid jeens Marné waargeneem het. “Ek het reeds besluit die meisie voldoen nie aan die nodige vereistes om Nicolette se oppasster te wees nie. Mathilda, bel Erik de Ridder. Sy kan by die De Ridders tuisgaan totdat hulle haar kan terugneem Johannesburg toe.”
Vincent staar haar verdwaas aan. “Maar, Ma! Ouma Renate het uitdruklik gesê …” Hy hou skielik op met praat toe ’n harde gestamp uit die rigting van die trap opklink.
Hulle kyk almal soontoe en Marné sien ’n uitgeteerde, bejaarde vrou met yl, sneeuwit hare wat staan aan die voet van die trap wat na die derde verdieping lei. Haar gerimpelde gesig is spierwit gepoeier en daar is twee rooi kolle op haar wange. Ten spyte van haar sirkusnar-grimering is haar houding trots en vorstelik, besef Marné. Sy is in ’n lang, swart syjapon geklee waarvan die kraag, die moue en die soom met pels versier is. In haar regterhand hou sy ’n kierie met ’n silwer knophandvatsel. Dit kan net Renate Brandenberg wees, besluit Marné en kyk haar afwagtend aan.
“Ma! Hoe kon Ma sonder hulp die trap afklim? Ma kon …” begin Rentia oorbesorg. Haar woorde klink vals in Marné se ore en die vorstelike vrou val haar in die rede.
“Hou op om skynheilig te wees, Rentia. Jy kan nie wag dat ek my nek moet breek nie, want jy hoop jy sal Vincent om jou pinkie kan draai,” sê Renate met ’n stem vol veragting en loop fier en regop nader. Sy bly voor Marné staan en staar haar in stilte aan. Toe knik sy ’n paar keer en glimlag. “Annie Hofmeyr kon jou ma in plaas van jou groottante gewees het. Ek is Renate Brandenberg, Marné. Jy mag my as tant Renate aanspreek. Bly te kenne, Marné.”
“Bly te kenne, tant Renate,” reageer Marné werktuiglik, verbaas oor haar gevoel van wantroue en ongemak. Sy vertrou Renate Brandenberg nie, besef sy. Daar is iets slinks, iets vals in haar stemtoon en haar glimlag.
“Ma, ons moet ernstig praat,” begin Rentia strydlustig. “Ek en wyle Martin is nooit toegelaat om die lila suite te gebruik nie, maar die verstandelose Mathilda het besluit om die suite aan hierdie … aan ons nuwe diensmeisie te gee. En daarvan gepraat: ek dink sy is veels te jonk om die verantwoordelikheid van Nicolette se versorging op haar skouers te neem. Dis beter dat sy intussen by die De Ridders tuisgaan totdat sy kan terugkeer Johannesburg toe.”
“Is jy heeltemal klaar, Rentia?” vra Renate ysig.
“Moenie my ma verkwalik nie, ouma,” begin Vincent taktvol. “Sy is onder die indruk dat Marné –”
“Niemand het jou opinie gevra nie, Vincent,” val Renate hom streng in die rede. Sy wend haar na Rentia. “Ek is die eienaar van Flaminke-huis en hier is my woord wet, Rentia. Ek het opdrag gegee dat die lila suite vir Marné in gereedheid gebring moet word.” Haar glimlag lyk soos die humorlose gryns van ’n skedel. “Het jy enige beswaar, my liewe skoondogter?” smaal sy.
Rentia kry kleur op kleur, vernedering en woede afwisselend op haar gesig. “Nee … nee, natuurlik nie, maar ek sal graag privaat met Ma wil praat.”
“Jy sal jou beurt moet afwag.” Sy kyk na Marné. “Ek hoop jy hou van die suite, Marné. As jy enigiets benodig, sal Mathilda sorg dat jy dit kry.”
Marné kyk Renate vreesloos aan. “Waar is Nicolette se slaapkamer, tant Renate?”
“Die kindersuite is aan die onderpunt van die westelike vleuel hier op die tweede verdieping. Vroeër jare was dit op die derde verdieping, maar ná my man se dood het ek besluit dat ek rus en afsondering nodig het. Daarom het ek die derde verdieping vir my laat inrig. My huismense weet hulle kom slegs daarheen op bevel.”
“Ek verstaan. Maar as Nicolette in my sorg is, verkies ek om ’n kamer naby haar kamer te hê … verkieslik die kamer langs hare. Sy sal veiliger voel as sy weet ek is altyd tot haar beskikking.”
“Die gastekamer langs Nicolette s’n staan leeg,” sê Rentia gretig.
“Dis ’n kinderkamer met feetjies en kabouters op die muurpapier,” kom dit misnoeg van Renate.
Marné glimlag sonnig. “Feetjies en kabouters sal my nie pla nie, tant Renate. Ek is nie ondankbaar oor jou voorstel dat ek die lila suite kry nie, maar aangesien ek ter wille van Nicolette hier is, verkies ek die kamer langs hare.”
“Ek stem heelhartig saam,” sê Mathilda goedkeurend. “Daar is ’n middeldeur tussen jou kamer en Nicolette s’n, liefie. As Nicolette een van haar gereelde nagmerries kry, sal jy byderhand wees. Wie weet, dalk hou haar nagmerries op noudat sy iemand in die kamer langs hare het. Ek het nog altyd gesê dis nie reg dat die arme kind na die verste punt van die wesvleuel verban is nie.”
“Dra dit jou goedkeuring weg, tant Renate?” vra Marné hoopvol.
Renate frons misnoeg, bedink haar en lig haar mondhoeke in ’n poging om te glimlag. “Ek is verheug om te sien jy beskou jou werk as Nicolette se oppasster in so ’n ernstige lig, Marné, maar ek sal toesien dat jy jou nie oorwerk nie. Per slot van rekening is my ou vriendin jou voog.” Sy kyk na Vincent. “Help my na my kamer toe, Vincent. Ons moet praat.”
“Graag, Ouma,” antwoord hy, glimlag vir Marné en plaas sy hand op Renate se elmboog.
“Nou ja, ou kintatjie, hier gaan ons!” sê Mathilda en tel Marné se twee tasse op. Sy steek in haar spore vas toe sy Rentia nog in die gang sien staan. “Toe-toe, Rentia, huppel terug na jou warm bedjie toe, anders bring die huishulpe nie vanaand vir jou ete in die bed nie.”
“Ek wil ernstig met juffrou Jordaan praat,” sê Rentia styf.
“Môre, nie vandag nie. Dis hoog tyd dat sy Nicolette ontmoet,” sê Mathilda beslis en begin wegstap met Marné op haar hakke.
“Hoekom hou tant Rentia nie van my nie?” vra Marné fluisterend.
Mathilda lag gedemp. “Jy is jonk en maer en te pragtig vir woorde, hartjie. In ou Rentia se oë is dit ’n allerverskriklike oortreding, want jy herinner haar aan die meisie wat sy eenmaal was. En dan is daar nog Vincent. Foei, die arme siel kan haarself nie help nie, maar sy vrees die dag as Vincent besluit om te trou, want dan sal sy vrou, in plaas van sý, die septer swaai in Flaminke-huis.”
“Maar ek gaan nie met Vincent trou nie, tannie!”
“Dis nie wat Rentia glo nie, want sy beskou elke mooi jong meisie as ’n bedreiging. Sy is boonop besitlik oor Vincent, want haar dogters is vir haar ’n teleurstelling. Sy sal hom nie graag met ’n ander vrou wil deel nie.” Mathilda bly staan. “Hier is jou kamer nou: kleiner en baie geselliger as daardie saal van ’n lila suite. Jy en Nicolette deel ’n badkamer. Jy gee nie om nie, Marné?”
“Glad nie, tannie.” Sy gaan die vertrek binne en glimlag onwillekeurig toe sy die vrolike muurpapier met bypassende gordyne sien. “Dit lyk nuut. Ek bedoel die gordyne en die muurpapier. Die res van die huis … e …”
“Is ’n bietjie gehawend?” vra Mathilda toe Marné blosend swyg. “Weet ek dit nie, kind! Die matte is deurgetrap en die gordyne kan nie gewas word nie, want hulle sal uitmekaar val. Ek het al dikwels met ou Renate gepraat, maar sy sê Vincent se bruid sal eendag haar eie stempel op Flaminke-huis wil afdruk, daarom laat sy die ou plek soos dit is. Daar steek seker waarheid in, maar intussen skaam ek my om deurgeskifte lakens op ons gaste se beddens te sit.” Sy plaas Marné se tasse op die bed. “Sal ek jou help om uit te pak, hartjie?”
“Nee dankie, tannie. Ek wil graag weet waar alles is.”
“Maak dan so, Marné. En as jy klaar is, loer by die kamer links van jou in. Dis Nicolette se kamer en Ilze sal nog by haar wees. Kom soek my maar as ek met enigiets kan help,” sê Mathilda en trek die kamerdeur agter haar toe.
Marné loop stadig na die venster toe. Dit het ’n uitsig oor die eiland en ’n gedeelte van die meer. Die gras is uitsonderlik groen en net hier en daar speel die herfsblare wegkruipertjie in die bladwisselende bome. Sy kyk met honger, hoopvolle oë, maar sy kan nie Eiland-huis van haar kamervenster af sien nie. Voortaan sal Flaminke-huis haar tuiste wees, maar dis in Eiland-huis saam met Erik, tant Kobie en oom Lukas waar sy werklik tuis sal voel, besef sy. Sy draai onwillig weg van die venster om haar klere uit te pak.
Vincent bly verwonderd staan toe Renate op ’n stoel met ’n regop rugleuning plaasneem. “Gaan Ouma nie in die bed klim nie? Die ooreising om die trap op en af te klim, kan nadelig vir Ouma se hart wees,” sê hy besorg.
“Dan beskik jy nou oor besondere kennis van die toestand van my hart, Vincent?” vra sy honend. Sy sien hom bloos en lag ’n skraal, uitgedroogde laggie. “Ek gaan jou nie bly maak en sê ek is ’n hartlyer nie; inteendeel, dokter Van Aswegen sê as ’n bus my nie omry nie, word ek lag-lag honderd jaar oud. Maar dis nie waarom ek jou gevra het om hierheen te kom nie.”
“Ouma wou oor Marné praat?” Hy glimlag. “Sy is ’n gebore prinses, Ouma! As ek kon, het ek môre met haar getrou. Ek is wraggies die gelukkigste man wat ek ken. My bruid is nie net skatryk nie, maar boonop beeldskoon! Dankie dat Ouma haar vir my gekies het.”
Sy betrag hom met openlike jammerte. “Soms, Vincent, wonder ek wie is die domste: jy of Nicolette.”
“Waarom beledig Ouma my?” vra hy gekrenk. “Wat het ek nou weer verkeerd gesê?”
“Jy is ’n man van sewe en twintig, maar jy is so naïef soos die ongelukkige Nicolette. En noudat ek daaraan dink – jy sal nooit slim wees nie, want die enigste ding waaroor jy intelligent kan praat, is melkkoeie en suiwelboerdery.”
“Wat het dit met my huwelik met Marné te doen?” vra hy stug.
“Alles! Ek het gesorg dat Marné hierheen kom, maar dit gaan van jou afhang of sy jou bruid gaan word of nie. Gelukkig beskik jy oor genoeg sjarme. Maak die meisie die hof en gedra jou te alle tye soos ’n ware heer. Ek het Annie Hofmeyr goed geken in my jeug. Ek glo sy het Marné streng grootgemaak, daarom moet jy die dogter uiters versigtig benader.”
“Goeiste, Ouma, ek ken meisies. Ek gaan Marné nie probeer dwing om met my te trou nie. Ek hoop net sy het genoeg vrye tyd om saam met my uit te gaan.”
“Ek het klaar daaroor besluit: Marné sal net tot middagete na Nicolette omsien en daarna sal sy vry wees om te doen wat sy wil. Met haar middae en aande vry, sal jy hope tyd tot jou beskikking hê om haar die eiland en die dorp te wys en haar beter te leer ken.”
Vincent glimlag stralend. “Ouma is ’n ster! Ek sal –”
“Ek het nog nie klaar gepraat nie, Vincent,” wys Renate hom tereg. “Wat ek jou oor Marné se erfenis vertel het, bly tussen ons. Jy mag onder geen omstandighede toelaat dat Marné agterkom dat jy bewus is van haar erfenis nie. En dan is daar jou praatsieke ma. Sy het reeds openlik gewys dat sy Marné as ’n indringer beskou. Nie sy of Ilze – of selfs Mathilda – mag weet wat ek en jy vroeër bespreek het nie. Is dit duidelik?”
“Ja, Ouma, maar my ma sal die wêreld warm maak vir Marné as sy glo sy is ’n fortuinsoekster wat hoop om ter wille van Flaminke-eiland met my te trou,” maak hy kapsie.
“Laat jou besitlike ma aan my oor. Sy sal dit nie waag om my bevele te verontagsaam nie.” Renate wys na die deur. “Nou wil ek alleen gelaat word. Sorg jy net dat jy my nie teleurstel nie.”
“Ek sal nie, Ouma.” Vincent maak die kamerdeur agter hom toe en glimlag ingenome. Selfs al het Marné Jordaan nie ’n sent op haar naam gehad nie, sou hy oor sy voete geval het om haar die hof te maak. Daar is genoeg mooi gesiggies op Twiswaters, maar tussen hulle lyk Marné soos ’n skitterende diamant tussen ’n klomp gruis. Dis jammer dat hy Erik de Ridder gevra het om haar in Johannesburg te gaan haal; hy kon sy ma se motor geleen het. Aan die ander kant: Marné sal nooit so ’n buffelagtige vent soos Erik de Ridder bo hom verkies nie – daaroor het hy nie die minste twyfel nie.
Marné klop aan Nicolette se kamerdeur, wag ’n paar oomblikke en klop harder. Links van haar gaan ’n deur oop en ’n meisie verskyn. Die meisie hou haar wysvinger waarskuwend voor haar mond, trek die deur agter haar dig en stap na Marné toe.
Dit kan net Ilze wees, dink Marné, want sy is beslis ouer as sestien. Ilze het ’n vol figuur en is korter as sy. Sy het rooiblonde hare en haar gesig is besaai met bruinrooi sproete. Sy kyk in Ilze sy vyandige, groot, groen oë en glimlag aarselend.
Ilze bly voor haar staan met ’n diep frons tussen haar wenkbroue en vra nydig: “Is dit nou werklik nodig dat sy so mooi moet wees? Maar ek kon dit seker verwag het. As jy arm is, is jy gewoonlik mooi. Waarom is ek nie in ’n agterbuurt gebore nie? Ek sal my vrekkerige, ryk ouma sonder om te huiwer vir ’n mooi gesig verruil.” Sy merk die verwarring op Marné se gesig en lag spontaan. “Ek is jammer, maar ek voel nou heelwat beter.” Sy steek haar hand uit na Marné. “Ilze Brandenberg. Hallo, Marné, en welkom in hierdie koue ou kasarm.”
“Hallo, Ilze,” groet Marné, wat nog nie seker is of Ilze ’n vriend of ’n vyand is nie. “Hoekom dink jy jy is lelik?”
Ilze beduie met haar wysvinger na haar gesig. “Sproete. My ma het my vertel haar pa het soos ’n kalkoeneier gelyk. Daarby is my neus te spits en my mond te groot. En ek sukkel met my gewig, maar dis pure frustrasie wat my deurentyd honger maak.”
“En ék is te maer en my hare is te wit en ek wens ek was so kort soos jy,” sê Marné net gedwonge erns, maar haar oë vonkellag in dié van Ilze. “Is ’n mens ooit tevrede met jou voorkoms?”
“Jy kla met ’n witbrood onder jou arm, mens.” Sy sug diep en vra nuuskierig: “Gaan jy ’n salaris kry om Nicolette te versorg?”
“Ek neem so aan, ja.”
“Sien jy nou? Omdat my ouma ryk is, wou my ma my nie toelaat om universiteit toe te gaan nie, want ryk meisies het glo nie geleerdheid nodig nie. Ek was slim op skool, sproete en al.”
“Wat van ’n korrespondensiekursus?”
Ilze glimlag wrang. “Ek het honneursgrade in Frans en Latyn … en ek is vier en twintig, werkloos, sentloos en gefrustreerd.”
“Dis fantasties! Ek bedoel die feit dat jy tog gestudeer het,” sê Marné bewonderend.
“Nie werklik nie. Ek sit as ’t ware gestrand op die eiland, want my ou motortjie haal nouliks die dorp. Tant Mathilda laat my soms toe om koek te bak, maar my ma kry die stuipe wanneer ek ons kok wil help. Ek moes iets doen om myself besig te hou, anders het ek lankal ’n klip aan my enkel gebind en van die hangbrug afgespring.”
“Is hier ’n hangbrug op die eiland?” vra Marné belangstellend.
Ilze lyk ineens ongemaklik. “Ja … ja, maar niemand gebruik dit nie, want dis nie meer veilig nie.” Sy glimlag en haak by Marné in. “Ek is bly jy is hier, want jy is darem geselskap. Nicolette is pragtig en dierbaar. Sy het op die mat voor die kaggelvuur in die speelkamer aan die slaap geraak. Sy sal jou nie te veel las gee nie, want sy speel ure lank met haar pophuis en poppe. Kom saam.”
Marné volg Ilze die speelkamer binne en sien hoe ’n beeldskone meisie stadig regop sit en die slaap met haar vingers uit haar oë vryf. Kan daar werklik iets met Nicolette skort? wonder Marné ongelowig. Donkerbruin hare met ’n koper skynsel, dig en krullerig, pas soos ’n pet om Nicolette se kop. Haar groen oë is amandelvormig, omraam deur donker wimpers, en haar gelaatstrekke is fyn en egalig. Haar liggaam is dié van ’n tiener, fyn en vroulik. Nee, sy kan nie glo dat die verstand van ’n kind in die liggaam van so ’n pragtige meisie is nie.
“Is jy my sussie se maatjie? Gaan jy nie my maatjie wees nie?” vra Nicolette. Haar spraak is duidelik, maar haar stem is dié van ’n kind en sy beklemtoon elke tweede of derde woord.
“Nee, Nicolette, Marné is jou spesiale maat, maar ek en sy gaan ook maats wees,” sê Ilze en help haar orent.
“My beste maatjie?” hou Nicolette vol, haar oë pleitend op Marné gerig.
Marné sluk droog en probeer glimlag, maar ingehoue trane laat haar lippe bewe. Sy loop nader en neem Nicolette se hande in hare. “Jou beste maat, Nicolette. Boesemvriendinne.”
“Boesemvriendinne,” klank Nicolette die woord en lag uitgelate. “Dan sal ek jou al my plekke wys. En dalk vertel ek jou al my geheime. Hou jy van geheime, Marné?”
“Natuurlik. Beste maats het altyd geheime.”
Nicolette pluk haar hande uit dié van Marné en hardloop na die naaste venster toe. “Hoera, dit het opgehou reën! Kom ek gaan wys jou my eerste geheim.”
Marné kyk na Ilze met ’n onuitgesproke vraag in haar oë terwyl Nicolette na die deur toe storm.
“Waarheen gaan jy, Nicolette?” vra Ilze vinnig.
Nicolette betrag haar ongeduldig. “Jy is darem dom, Ilze. Dis mos net my en Marné se geheim. Toe, kom nou, Marné. Ek wed jy sal baie van hulle … van my geheim hou.”
“Kan jy vinnig hardloop?” fluister Ilze bekommerd vir Marné.
“Nogal. Ek draf gereeld,” antwoord Marné gedemp, glimlag gerusstellend en sê harder: “Ek en Nicolette sal voor donker terug wees, Ilze. Sien jou.”
Dit sal nie vir haar langer nodig wees om soggens te draf nie, dink Marné terwyl sy by die voordeur uitdraf in ’n poging om by Nicolette te bly. Nicolette is ’n bondel energie, want sy hardloop draaie om haar en spring met albei voete in elke modderpoel.
“O, nee!” roep Marné uit en sy bly doodstil staan.
Nicolette hoor haar uitroep en kom besorg nader. “Het jy seergekry, Marné? Het jy jou toon gestamp? Ek het eendag my toon gestamp en toe bloei dit, want ek het nie skoene aangehad nie.”
“Nee, my toon makeer niks nie, maar jy spring met jou skoene in die modderpoele en dan spat jou sweetpak vol modder.” Sy kyk bewonderend na Nicolette se drafskoene en sweetpakbroek. “Dis sulke mooi skoene en jou sweetpak is pragtig.”
“Wil jy dit hê? Jy kan dit maar kry, Marné, want ons is nou maats,” sê Nicolette groothartig.
“Nee … nee, my tant Annie het genoeg klere vir my gekoop, maar sy het my gevra om dit mooi op te pas. Ek wil nie my klere en skoene laat vuil word nie.”
“Sal sy met jou raas?” vra Nicolette bekommerd.
“Ek dink sy sal hartseer wees, want klere kos geld. Boonop hou ek van skoon skoene en klere.”
Nicolette staar haar swyend aan. Toe lag sy opgewonde en sê: “Ek hou van alles waarvan jy hou, want jy is my beste maatjie. Ek wil ook skoon skoene en klere hê.”
“Ek is bly,” sê Marné verlig. “Probeer om nie in die modderpoele te trap nie. Toe, jy kan die leier wees. Jy loop voor en ek loop agter jou aan, maar onthou dat ek nie my klere mag vuilsmeer nie.”
“Ek is hier!” jil Nicolette en draf stadiger om die reënpoele te vermy.
Waarom het nie een van die Brandenbergs haar meer inligting oor Nicolette se toestand gegee nie? wonder Marné terwyl sy die babbelende Nicolette volg. Op die oomblik is Nicolette ’n vrolike, onskadelike kind, maar wat gebeur as sy teengegaan word? Word sy ooit aggressief? Tant Mathilda … sy sal vanaand vir tant Mathilda oor Nicolette uitvra.
“Ons is amper daar!” roep Nicolette en draf terug na Marné toe.
“Waar?”
“My eerste geheim. My beste geheim.” Sy wys in die rigting van ’n kol bome en Marné herken die sandsteenwoning wat tussen die bome sigbaar is.
“Eiland-huis waar tant Kobie en oom Lukas woon?” vra Marné verras.
Nicolette knik heftig. “En Erik en oom Sebastiaan! Almal dink Flaminke-huis is my huis, maar dit is nie. Dis Ouma Renate se huis en dis oud en lelik, nes sy. Eiland-huis is mooi en warm, soos tant Kobie en oom Lukas en Erik. Dis my regte huis.”
“Maar dis jou geheim?”
“Ja, want hulle weet nie,” antwoord Nicolette en kyk vyandig na Flaminke-huis wat teen die horison uittroon. “Jy hou ook meer van Eiland-huis, nè, Marné?”
“Ja, en ek hou ook van die mense van Eiland-huis, maar ek ken nie vir oom Sebastiaan nie.”
“Hy slaap vreeslik baie, want hy is siek. As hy wakker is, praat ek met hom en dan glimlag hy so ’n bietjie. Tant Kobie sê hy is te siek om te lag.”
“Maar vandag slaap hy net, Nicky,” sê Erik onverwags skuins agter hulle.
Marné swaai om na hom toe, voel haar hart in haar bors ruk en weet nie of dit skok of blydskap is nie.
Nicolette storm by haar verby. Sy gooi haar arms om Erik se nek, druk haar kop teen sy bors en hou dan een van sy hande vas. “Jy is terug!” sing sy en dans voor hom rond. “Tant Kobie het gesê jy kom terug, want ek het gehuil. Maar nou is jy terug.”
Erik steek sy regterhand uit en krap haar krulle deurmekaar. “En ek het vir jou iets saamgebring van Johannesburg af, asjas. Toe, draf vooruit en gaan vra my ouma om die pakkie vir jou te gee. Maar moenie raas nie, want oom Sebastiaan slaap.”
“Dankie! Dankie! Dankie!” jubel Nicolette, los sy hand en huppel weg terwyl sy sing: “Ek gaan tog ’n presentjie kry! Ek gaan tog ’n presentjie kry!”
Marné luister verstom na die helder klank van haar stem en kyk op na Erik. “Sy sing pragtig! Het niemand al daaraan gedink om haar sang- of klavierlesse te laat neem nie?”
“Sy kan sing, maar sy sal nooit die teorie van musiek kan verstaan nie.” Nadenkend voeg hy by: “Maar voëls ken ook nie enige teorie nie, en nogtans sing hulle pragtig.”
“Jy is lief vir haar?”
Hy glimlag stadig. “Ek is bly jy sê ‘lief’ en nie ‘jammer’ nie, want dis nie nodig om Nicolette jammer te kry nie. Ek glo sy is gelukkiger as ons almal, want sy sal nooit die hartseer van die volwasse wêreld ervaar nie.”
“Nogtans … ek sal liewer alles wil ervaar.”
“En seerkry?”
“Moontlik, ja, maar tant Annie sê altyd alle ervaring is kosbaar, daarom is die prys wat ons daarvoor betaal dikwels so hoog.”
“Jou tant Annie klink soos ’n wyse mens.”
“Stem jy nie saam nie?”
“Heelhartig, ja.” Hy kyk onwillekeurig in die rigting van Flaminke-huis. “Voel jy al tuis in jou nuwe woning?”
Sy huiwer. “Ek dink tant Mathilda is ’n skat en ek is seker ek en Ilze gaan goed oor die weg kom. Vincent sal nie ’n probleem wees nie, maar tant Rentia beskou my as ’n indringer.”
“Omdat sy bang is jy gaan haar mooi seuntjie afrokkel en haar uit Flaminke-huis verdryf.”
“Maar dis loutere onsin!” reageer sy onthuts.
“Dalk, maar tant Rentia sal nie met jou saamstem nie. Het jy al Haar Hoogheid, Renate Brandenberg, ontmoet?”
“Ja.” Marné steek haar neus in die lug, gee voor dat sy op ’n kierie leun en sê met ysige veragting: “Hou op om skynheilig te wees, Rentia! Jy kan nie wag dat ek my nek moet breek nie, want jy hoop jy sal Vincent om jou pinkie kan draai.”
Erik skaterlag. “Snip! As tant Renate jou nou kon hoor, het sy jou in die pad gesteek.”
“Ek glo nie.” Marné frons verwonderd. “Tant Renate het die lila suite wat deur haar en haar oorlede man gebruik is, vir my gereed laat maak. Dis ’n bietjie vreemd, dan nie? Ek is Nicolette se oppasster, nie ’n eregas nie.”
Sy merk die kommer op sy gelaat en wens sy het hom nie van die lila suite vertel nie. Sy hou meer van hom wanneer hy lag, maar hy lag so selde. Is Laura Viljoen die rede vir sy stroewe voorkoms?
“Dit ís vreemd,” gee hy toe. “Tant Mathilda praat graag oor al die rusies wat tant Rentia en tant Renate al oor die lila suite gehad het. Aangesien tant Renate nie meer die suite gebruik nie, voel tant Rentia dis haar reg om daar in te trek.”
“Ek veronderstel tant Renate wou tant Rentia net vermaak, daarom het sy vir my die suite aangebied. Maar ek gebruik dit in elk geval nie. Ek het besluit ek wil liewer in die kamer langs Nicolette s’n slaap.”
Hy kyk haar aan asof hy haar nie gehoor het nie, sy oë ’n donker silwergrys asof ’n innerlike skadu daaroor val. “Hoe ryk is jy, Marné?” vra hy dringend.
Sy staar hom oorbluf aan en lag onseker. “Ek het jou reeds gesê: ek het nog ’n bietjie geld van my studiebeurs oor.”
“Het jy niks geërf nie?”
“Nee. Is my geld belangrik vir jou?”
’n Glimlag vonk in sy oë voordat hy ernstig sê: “Nie vir my nie, maar vir die Brandenbergs.”
“Maar hulle besit ’n hele eiland! Ek is seker tant Renate is fabelagtig ryk!” protesteer sy heftig.
“Ek betwis dit nie, maar …” Hy kyk op en frons dieper. Sy volg die rigting van sy blik en sien Vincent te perd aangery kom. “Ons sal weer praat,” sê hy gedemp en wag saam met haar dat Vincent hulle moet bereik.
Vincent hou sy perd in, klim af en glimlag effens onseker met sy oë op Marné gerig. “Ek is jammer ek moet pla, Marné, maar ongelukkig het my ouma nog nie tyd gehad om jou oor die reëls van Flaminke-huis in te lig nie.”
“Watter reëls?” vra sy verwonderd.
Hy kyk flitsend na Erik en daarna na die sandsteenwoning tussen die bome. “Nicolette is nie van klasseverskille bewus nie. Sy beskou almal as haar vriende, maar ouma Renate verkies dat sy net met haar huismense meng. My ouma verwag dat jy ook die De Ridders sal vermy.”
Marné staar Vincent spraakloos aan en draai onthuts na Erik toe. “Gaan jy hom klap, Erik, of sal ek?” vra sy, helder vlekke van verontwaardiging gloeiend op haar wange.