Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk - Страница 11

8

Оглавление

Erik tree vinnig nader en help Sebastiaan met onverwagte teerheid om teen die kussings terug te leun. “Dis Marné Jordaan, oom. Tant Annie is haar voog. Sy is Nico Hofmeyr se kleindogter. Sy versorg mos nou vir Nicolette. Onthou oom nou?” vra hy paaiend.

Marné sluk ’n paar keer aan die pynknop in haar keel en trane van medelye brand agter haar ooglede. Waarom is die ouderdom so sonder genade? vra sy haar met ’n gevoel van opstand en hartseer af. Die man op die foto in Nicolette se album was aantreklik met ’n selfversekerde voorkoms, maar die uitgeteerde man in die bed is reeds vriende met die wagtende dood. Pyn en verwarring het die lig van opwinding in sy donker oë geblus en hy staar haar met die waterige, dowwe oë van ’n oumens aan. Sy hare is sneeuwit, sy gesig is ingevalle en daar is iets hopeloos in die weerlose trek om sy mond.

Sy tree nader aan sy bed en neem sy kneukelrige, kragtelose regterhand in albei van hare. “Bly te kenne, oom Sebastiaan. Ek lyk glo soos my tant Annie, daarom het oom my met haar verwar.”

“Ja … ja …” prewel hy, maar sy oë sien haar nie raak nie. “Annie met die maanlighare en die koringblomblou oë … Maanskyn en blomme … Niemand was mooier as die jong Annie Hofmeyr nie.”

“Tant Annie kuier by ’n vriendin in die Kaap, maar ek kan haar vra om te kom kuier as oom haar graag weer wil sien,” stel Marné onseker voor en kyk vraend na Erik. Hy knik.

“Nee … nee … daar is nie genoeg tyd nie.” Asof die besef hom nuwe krag gee, rig hy ’n deurdringende blik op haar. “Het Annie jou grootgemaak?”

“Ja, oom. My ma is kort ná my geboorte dood en tant Annie het my voog geword.”

Hy knik. “Ek onthou, ja. Ek en my oorlede vrou was by jou doopplegtigheid. Het Annie jou vertel?”

Durf sy hom sê dat Annie nooit melding van hom gemaak het nie? Sy wil hom nie seermaak nie, maar sy sal soos ’n skurk voel om vir ’n sterwende man te jok.

Sy druk sy hand sag. “Nee, oom. Ek was onbewus van oom se bestaan totdat ek hierheen gekom het. Tant Annie het nooit eens oor tant Renate of enige van die ander Brandenbergs gepraat voordat sy my vertel het van tant Renate se versoek dat ek Nicolette se oppasster word nie,” vertel sy onwillig, bekommerd oor die uitwerking van haar woorde op hom.

Hy knik, ’n tevrede glimlaggie om sy lippe. “Ek het dit verwag. Annie het nie ’n stamboek nodig gehad om haar een van die adel te maak nie. Sy is ’n gebore dame. Gaan dit goed met haar? Is sy gesond?”

“Dalk té gesond, want soms het sy selfs te veel energie vir my,” antwoord Marné glimlaggend.

“En jy help vir Nicolette?”

“Ja, oom.”

“Maar hoef jy te werk, Marné? Kan Annie jou nie finansieel help nie?” vra hy dringend.

Sy lag. “Nie my tant Annie nie, oom Sebastiaan. Sy glo dat arbeid edel is. Sy het haar lewe lank onderwys gegee. Tant Annie glo ’n mens moet die waarde van geld ken. Sy wil nie hê ek moet as ek eendag iets erf, dit verkwis nie.”

“Sy was altyd ’n verstandige vrou,” sê hy goedkeurend. “Sy het op jou doopdag gesê –”

“Ek onthou nou!” onderbreek Marné hom opgewonde en bloos dan verleë. “Ek is jammer ek het oom in die rede geval, maar ek wonder sedert my aankoms hier waar ek oom se naam gehoor het. Nicolette het vir my ’n foto van oom gewys wat so bekend gelyk het, maar ek kon oom nie eien nie. Ek het nou eers onthou: tant Annie het ’n foto van oom, met my op oom se skoot, in een van haar ou fotoalbums. Ons het jare gelede deur die album geblaai. Sy moes my vertel het op wie se skoot ek op die foto sit, maar ek het weer vergeet.”

“Maar Annie het nie geweet nie …” Hy sluit sy oë. Daar is ’n glimlag op sy gelaat en sy asemhaling word langsamerhand rustig.

Marné kyk vraend na Erik en hy knik. Sy neem haar hande weg van oom Sebastiaan se hand, buk impulsief nader en soen hom op die voorkop. Hy maak sy oë oop en daar is ’n glans van geluk in sy oë voordat hy hulle weer sluit. “Tot siens … Annie,” prewel hy en sink onmiddellik weg in die newelwêreld van slaap.

“Moenie huil nie, Marné,” sê Erik gedemp toe hulle die gang binnegaan en hou sy sakdoek na haar uit. “Sy einde sal ’n verlossing wees, want sy lyding was lank. Ek is net dankbaar jy kon hom besoek, want hy het lanklaas so baie gesels.”

“Dalk het ek hom onnodig uitgeput,” sê sy skuldig. Sy druk haar trane droog voordat sy die sakdoek teruggee.

“Dis belangriker dat ons sy laaste dae gelukkig maak. Hy het so gretig uitgesien na jou kuiertjie en noudat jy hier was … Hy lyk gelukkig. Ek glo hy sal die dood nou makliker tegemoet gaan.”

“Verwag jy dat hy binnekort sal sterf?” vra sy ontsteld.

Sy uitdrukking is stroef, maar sy oë verraai die pyn. “Ek kan hom nie terughou nie, Marné. Oom Sebastiaan is oud genoeg om my oupa te wees, maar hy was meer soos ’n pa vir my. Ek sal altyd dankbaar wees oor sy vrygewigheid teenoor my oupa en ouma.” Hy glimlag gedwonge. “My ouma sien uit na jou kuiertjie. Kom ons stap kombuis toe. Julle kan kuier terwyl ek die bouers gaan betaal.”

“Hoe kom jy en Erik oor die weg, Marné?” vra Kobie reguit toe hulle oor Erik begin gesels.

“Erik is altyd vriendelik en bedagsaam teenoor my, tant Kobie, maar hy lyk dikwels stroef en in homself gekeer. Soms voel ek soos ’n oorlas in sy teenwoordigheid.”

“Laura … Laura Viljoen,” sê Kobie sag, mymerend. “As hy net kan leer om die verlede te begrawe en voortgaan met sy eie lewe.”

“Het hy haar nog altyd lief, tannie?”

Sy sug en skud haar kop. “Ek sal nie weet nie, Marné. Jy sê self Erik is in homself gekeer. Hy praat nie oor die dinge wat in sy binneste aangaan nie.”

“Was … was Laura baie mooi?” vra Marné en hoop vurig dat sy nie die hinderlike prikkie van jaloesie in haar binneste aan Kobie verraai nie.

“Mooi?” Kobie pers haar lippe hard saam, haar uitdrukking afkeurend. “O, sy was seker mooi. Beeldskoon, het die mense gesê, maar skoonheid is soms veldiep.”

“Was sy blond of donker?”

“Donker. Sy het raafswart hare en pragtige, donkerbruin oë gehad. Ek dink sy het te maklik geglimlag, maar die mans het gedink haar glimlag is verleidelik. Sy was lank en pragtig gebou met ’n vol figuur, maar nie vet nie. Selfs die orige Lukas het hom aan haar vergaap,” vertel Kobie vies.

“Het sy dikwels hier kom kuier?” vra Marné en voel skielik soos ’n indringer in die gesellige kombuis. Wie weet, dalk het Laura op hierdie selfde stoel gesit, dink sy, en sy kriewel ongemaklik rond.

“O, sy was ’n paar maal hier, maar dan moes ek haar in die sitkamer onthaal en my beste teeservies gebruik. Erik het my duidelik laat verstaan die wonderlike Laura was ’n meisie uit ’n skatryk huis, en boonop ’n stadsmeisie. Sy het nooit in Eiland-huis oornag nie, seker omdat ons te eenvoudig vir haar was. Sy het in die hotel op die dorp tuisgegaan en dan het Erik haar daar besoek. En glo my, hartjie, ek was innig dankbaar daaroor, want Laura het die vermoë gehad om my ontuis in my eie huis te laat voel.”

“Dalk kon sy aanvoel dat tannie nie van haar hou nie,” sê Marné mymerend.

“Nie Laura Viljoen nie! Sy kon Vincent se tweelingsuster gewees het, want sy het haar neus opgetrek vir ’n eenvoudige ou tannie soos ek wat maar net ’n doodgewone huisvrou is. Na Lukas wou sy nie eens kyk nie. Die goeie Lukas … Reken, Marné, hy was ’n voorman in Sebastiaan se staalfabriek toe ’n yslike staalstaaf deur die onverskilligheid van twee nuwe werkers op hom geval en sy been verbrysel het. Hy kry ’n goeie pensioen, daarom is dit nie vir ons nodig om hier op Flaminke-eiland te woon nie. Maar hy het as ’t ware saam met Sebastiaan oud geword en Sebastiaan was bewus van Lukas se liefde vir die platteland. Toe Sebastiaan se vrou sterf … Hy wou ook wegkom uit die stad uit, daarom het hy na Flaminke-eiland toe gekom en ons saamgebring.”

“Het hy toe al geweet hy het kanker, tannie?”

“Ek dink so. Maar hy was toe nog bedrywig in die stad met al sy fabrieke en ander sakebelange, en soms het hy net naweke hier gekuier. Mettertyd het sy siekte erger geword en sowat vyf jaar gelede het hy Erik opgelei om hom met sy talle verpligtinge te help. Sebastiaan het bekwame en betroubare bestuurders, maar Erik is sy ore en oë,” vertel Kobie trots.

“Hou Erik nie van Ilze Brandenberg nie?” gooi Marné ’n klip in die bos, gretig om die gesprek terug te bring na hom toe.

“O, hulle groet oor en weer en gesels soms oor Nicolette, maar hulle is blote vriende soos wat jy en hy is. Ek sal so bitter graag my kleinseun gelukkig getroud wil sien voordat ek my oë finaal sluit, maar Laura wil hom nie met rus laat nie …” Haar blik rus pleitend op Marné. “As jy nou my kleinseun kan liefkry, Marné …”

Marné voel verleentheid in vlamme op haar gesig uitslaan. “Wat sal dit my baat, tannie? Ek is nie Laura nie,” sê sy. Daar is ’n asemrigheid in haar stemtoon.

“Erik sê nie veel nie, maar ek kry die indruk hy is besorg oor jou. Hy hou van jou geselskap, want hy soek nooit na ’n verskoning as ek hom vra om jou te gaan haal nie. Ek meen nou maar: as jy hom kan liefkry, vra hom om met jou te trou.”

“Tant Kobie!” Sy staar Kobie verbaas aan en lag. “Hy sal al sy respek vir my verloor as ek so iets doen.”

“Ek glo nie, hartjie. Dalk sien hy jou dan as vrou raak. Vra hom sommer elke dag totdat hy gewoond raak aan die gedagte. Ek meen nou maar: dis ’n desperate situasie en dit vereis ’n desperate oplossing, want ’n oujongkêrel …” Sy buig vertroulik nader. “Oujongkêrels word nooit oud nie, Marné. As hulle nie aan hartversaking beswyk nie, sterf hulle aan ondervoeding, want hulle eet verkeerd. Ek sê maar net.”

“Ek wil nie Erik se dood op my gewete hê nie, tannie, daarom sal ek tannie se voorstel ernstig oorweeg,” antwoord Marné vroom en vonkellag in Kobie se oë.

Vincent sien Rentia die Victoriaanse sitkamer binnekom. Hy vou sy arms, keer sy rug op haar en staar fronsend deur die venster.

“Vincent? Asseblief, my seun, moenie my ignoreer nie. Ek moet ernstig met jou praat,” pleit sy.

“Het Ma Marné al om verskoning gevra?” vra hy bruusk.

Sy snak hard na haar asem. “Vincent! Verwag jy dat jou eie moeder haar moet verneder en ’n diensmeisie om verskoning vra?” vra sy gekrenk.

Hy swaai om na haar toe, ’n uitdrukking van grimmige afkeur op sy gelaat. “As Marné ’n diensmeisie is, wat is Ma? Ouma Renate se stuurjonge en afhanklike? Dink daaraan, Ma! Ons hele spul is ouma Renate se gedienstige slawe, want ons is almal te bang om haar teen te gaan. Marné werk minstens vir ’n salaris, maar ons teer soos parasiete op ouma Renate. Ons is mense sonder trots!”

“Maar ons is Brandenbergs, Vincent! Almal op Twiswaters weet ons hoef nie te werk nie, want jou ouma is fabelagtig ryk.”

“En as ons wil werk? Ilze is intelligent, maar Ouma wou haar nie toelaat om ’n onderwyseres te word nie. O, my slinkse ouma het nie omgegee dat Ilze ’n nuttelose graad kry nie, maar toe sy besluit sy wil onderwys gee, was daar skielik nie geld vir verdere studie nie. En wat van my?” vra hy verbitterd.

“Jy het nooit van studeer gehou nie, my seun, en –”

“Ek het!” val hy haar kras in die rede. “O, ek besef maar te goed ek het net ’n gemiddelde intelligensie, maar as ek die studierigting kon volg waarin ek werklik belangstel, sou ek ’n sukses daarvan gemaak het. Ma het geweet dat ek ’n boer wil word, maar het Ma my ooit gehelp? Het Ma ooit probeer om ouma Renate te oorreed om my na ’n landbouskool of -kollege toe te stuur?”

“Jou ouma sou nie na my geluister het nie.”

“Ons het hope ryk vriende. As Ma my werklik wou help, sou Ma by hulle om hulp gaan aanklop het. Of Ma kon gaan werk het, al was dit in ’n kafee op die dorp. Glo my, ek sou elke sent met rente terugbetaal het as Ma net bereid was om die opoffering ter wille van my te maak.”

Rentia staar hom verdwaas aan. “Jy weet nie wat jy sê nie, Vincent. Jou ouma sou my uit Flaminke-huis verdryf het as ek in ’n kafee gaan werk het. En om by my vriende geld te bedel … Ek is een van die Brandenbergs!”

“Een van die ruggraatlose Brandenbergs. Weet Ma wat wens ek? Ek wens Ma het die durf gehad om in ’n kafee te gaan werk en ons kinders saam met Ma te neem. Miskien was ons dan ’n normale gesin; miskien het ons mekaar geken en liefgehad.”

“Maar ons sou van armoede gekrepeer het!” protesteer Rentia ontsteld.

“Arm maar trots. Ek verkies dit. Wat is ons nou? Ek moet soos ’n kleuter na Ouma toe draf as ek brandstof vir my motor nodig het. Wanneer laas het Ma ’n nuwe rok gekoop? Ouma besluit oor wat ons eet, wat ons aantrek, wat ons elke dag doen. Ouma besluit selfs wat ons mag dink of nie.”

“Vincent, asseblief … wat het in jou gevaar? Jy het nog altyd ons leefwyse aanvaar. Ek weet jy was trots op die feit dat jy die kroonprins van Flaminke-eiland is. Waarom het jy nou skielik in opstand gekom?” vra Rentia verward.

Hy byt hard op sy tande. Daar is ’n kwaai trek om sy mond en sy besef met ’n skok dat hy man geword het. Sy voel vrees in haar binneste oprank: het Vincent ’n meisie liefgekry?

“Ek sal bitter graag met Marné wil trou, maar wat kan ek haar bied?” antwoord hy asof hy haar gedagtes gelees het.

“Vincent, nee! Jy kan nie met ’n diensmeisie –”

“Dis genoeg, Ma! Marné is ’n arbeidsterapeut, nie ’n ongeletterde meisie wat êrens uit ’n agterbuurt gekruip het nie,” val hy haar driftig in die rede.

Sy staar hom ongelowig aan. “As dit waar is, waarom is sy Nicolette se oppasster?”

“Sy het gesukkel om werk te kry, maar in plaas van om op haar tante te teer, het sy die werk as kinderoppasster aanvaar. En wat van haar klere, Ma? Trek sy soos ’n behoeftige diensmeisie aan?”

“Wel … seker nie. Maar dis nie vir jou nodig om met ’n meisie uit die arbeidersklas te trou nie, Vincent. ’n Skatryk erfgenaam soos jy kan kus en keur. Of wil jy met haar trou om my te verkleineer? Jou ouma is net so gretig dat jy met die meisiemens trou. Is dit julle manier om my te verneder?” vra Rentia gegrief.

“Genugtig, Ma, is Ma nie die dogter van ’n plaasbestuurder nie? As Ma genoeg was vir my pa, waarom is Marné nie goed genoeg om my bruid te wees nie?”

“Omdat ek nie kan glo dat jy Marné Jordaan liefhet nie. Jy dans net weer na ou Renate se pype, want sy het my verseker dat jy met die meisiemens gaan trou. Toe, erken dit, Vincent. Jy en ou Renate konkel saam om my te verkleineer.”

Hy staar haar in stilte aan en sug moeg. “Nee, Ma. Ek het Marné lief en ek is bereid om met haar te trou. Die vraag is: sal sy my ooit liefkry?”

“Die arme dingetjie sal oor haar voete val om jou bruid te word en jy weet dit! Trou dan met haar as jy so graag wil, Vincent, maar ek waarsku jou: ek sal haar nooit as my skoondogter aanvaar nie,” krys Rentia. Haar stem tril van magtelose woede. Sy ruk haar om en storm by die deur uit.

As Marné inwillig om met hom te trou, skud hy die stof van Flaminke-eiland vir goed van sy voete af, dink Vincent terwyl hy deur die venster tuur. Marné sal hom help om ’n plaas te koop en hy sal soos ’n esel werk en elke sent aan haar terugbetaal. Geld sal nooit weer van hom ’n willose slaaf maak nie. Dit maak nie saak hoe groot Marné se erfenis is nie – hy sal haar onderhou.

Mathilda drafstap by die kombuisdeur uit na waar Erik onder ’n koelteboom langs sy bakkie in die agterplaas staan en haar inwag. “Al daardie trappe en dan parkeer jy boonop kilometers ver van die agterdeur af, ellendige jongetjie,” protesteer sy hygend terwyl sy naderkom. “Is jy skielik bang ou Renate gooi jou met haar kierie deur haar venster dood, of is jy skrikkerig vir Vincent?”

“Besoedeling, tant Mathilda,” antwoord hy doodernstig. “Ouma Kobie sê ek moet waak teen die besoedeling van die Brandenbergs, want as ek nie op my pasoppens is nie, verbeel ek my ook een van die dae ek is een van die adel. Dis waarom ek dit nie te na aan die huis waag nie.”

“Ja toe, ek het nie tyd vir slimpraatjies nie, broertjie,” sê sy kwaai en plof op ’n witgeverfde tuinbank neer. “Kom jy langs my sit, of gaan jou kleertjies ook besoedel word?”

“Dis ’n kans wat ek moet waag, want ek wil nie skree nie,” sê hy onnutsig. Hy neem langs haar plaas en vervolg ernstiger: “Marné kuier nog by ouma Kobie. Ek het hiernatoe gery, want ek wil oor die meisie praat.”

“Hoog tyd ook. Jy kan nie vir ewig oor Laura treur nie, Erik. As jy nie spring nie, raap Vincent die pragtige meisie voor jou neus weg,” waarsku hy.

“Vincent, nè?” Hy frons. “Is Marné se tant Annie baie ryk? Gaan Marné skatryk erf, tant Mathilda?”

“Hoekom wil jy weet?” vra Mathilda agterdogtig. “Raak jy ook nou inhalig, kind? Wil jy eers uitvind of Marné ryk is voordat jy haar vra om met jou te trou?”

“Om liefdeswil, tant Mathilda, ek is nie van plan om met Marné of enige ander meisie te trou nie. Marné is my vriendin en op die oomblik het sy niemand om haar teen die slinkse tant Renate te beskerm nie. Vincent dra geskenke vir Marné aan. Ek glo hy doen dit met tant Renate se goedkeuring, want hy is te bang om sonder haar verlof asem te haal.”

“Dis nie altemit nie! Haai, kind, ek het vergeet: jy en jou mense kom van Johannesburg af. Julle ken nie die Hofmeyrs so goed nie,” sê Mathilda verwonderend.

“Dis nou tant Annie Hofmeyr?”

“Al die Hofmeyrs van Twiswaters, Erik. Sien, Marné se oupagrootjie, Nicolas Hofmeyr, was ’n dokter op ons dorpie, maar hy het ook heelwat plase besit. Hy het later ’n praktyk in die stad gekoop en sy seun, Nico, het ’n neuroloog geword.

“Ou Nicolas het net die twee kinders gehad, Nico en Annie. Nico se enigste dogter is Marné se ma, en dié is jonk dood. Ek weet nie mooi of Marné se pa voor of ná haar geboorte dood is nie.”

“So, Marné is ’n skatryk erfgenaam,” sê hy.

“Reken, dis presies hoe ek die saak uitgepluis het. Dis natuurlik waarom ou Renate so gretig is dat Vincent met die mooi dogter trou.”

“Vervlakste ou konkelaar! Ek neem aan Vincent is bewus van Marné se erfenis, anders sal hy nie vir haar ruikers aandra nie,” sê hy ergerlik.

“Aag, bog met jou, Erik! Marné is darem ’n allerfraaiste meisie. Dis net ’n man met ys in sy are wat nie graag vir so ’n mooi meisie blomme sal wil koop nie. Dink jy jy kan ’n ou ruikertjie vir haar bekostig, hartjie?” treiter sy hom.

Die frons tussen sy wenkbroue verdiep. “Daar is genoeg blomme in my ouma se tuin, tannie. Wat ek graag sal wil weet, is of Marné daarvan bewus is dat sy Vincent se toekomstige bruid is.”

“Julle gesels tog. Wat sê sy van hom?” vra Mathilda nuuskierig.

“Sy kry hom jammer omdat sy ouma hom regeer.”

“Jammer, sê jy? Erik, as ’n meisie eers ’n man jammer kry, verbeel sy haar lag-lag dat sy hom liefhet. Ek dink dis moederinstink … ’n Meisie wil altyd almal troos en gelukkig maak. Kyk maar met hoeveel geduld en liefde versorg sy Nicolette. Marné het ’n sagte hartjie, kind. Dit gaan veroorsaak dat sy met Vincent trou as jy nie betyds wakker skrik nie.”

“Hou op om vir my ’n vrou te soek, tant Mathilda!” sê hy bars. Sy lyk seergemaak en hy glimlag skuldig. “Ek besef tannie bedoel dit goed, maar … ek is nie in die huweliksmark nie.”

“Nou waarom kwel jy jou dan oor die liewe Marné, kind? Laat sy trou met wie sy wil. Wie weet, dalk is sy en Vincent dolgelukkig.”

“In Flaminke-huis waar tant Renate regeer?”

“Jy kwel jou verniet oor Marné, hartjie. Sy laat haar deur niemand hiet en gebied nie. Ou Renate weet dit nog nie, maar sy sal moet leer om haar stram knietjies te buig as Marné die dag haar kleinseun se vrou is,” spot Mathilda en lag dat haar maag skud.

“Die vraag is: sal Vincent kans sien om afstand te doen van Flaminke-huis? Hy glo sy lewe lank Flaminke-eiland is sy eie klein koninkryk, maar so lank as wat tant Renate leef, sal sy haar huisgenote soos haar onderdane behandel.”

Mathilda betrag hom met oë wat op ’n skrefie getrek is. “Staan dit jou nie aan dat Marné een van Renate se onderdane word nie, Erik?”

Erik kyk haar skerp aan en byt ’n ergerlike antwoord terug. Tant Mathilda het vir hom tydens die afgelope paar jaar soos ’n tweede ouma geword. Hy moet geduldig wees met haar. Sy ouma Kobie skimp graag oor agterkleinkinders, want sy en tant Mathilda kan ewe min begryp dat hy vir goed klaar is met vroue en ’n huwelik. Waarom vertolk hulle sy besorgdheid oor Marné opsetlik verkeerd? Hy het haar nie lief nie – ná Laura sal hy nooit weer kan liefhê nie – maar hy wil haar beskerm. Waarom? vra hy hom af. Omdat haar besondere skoonheid hom onbewustelik bekoor? Nee, hy ken baie ander mooi meisies. Hy weet sy vertrou hom. Haar warmte en onskuld – selfs haar sagte hartjie – maak haar weerloos. Wie gaan haar beskerm as hy dit nie doen nie?

“Nou is jy vies vir my,” sê Mathilda spytig toe hy opstaan.

Hy glimlag. “Ek is nie, tannie. Ek is bly ons kon gesels, want ek dink ek weet nou wat my te doen staan. Tot siens, tannie.”

“Solank jy dit vinnig doen, hartjie,” sê Mathilda en staan op om vir hom tot siens te wuif.

Marné staan roerloos langs Erik. Die geklots van die water van die meer is soos gefluisterde geheime in die nag. Die klein golfies in die meer breek die maanlig in stukkies wiegende water en bokant haar is die nag ’n uitspansel van swart fluweel en diamante.

“Ek het nie geweet ’n nag kan so mooi wees nie,” sê sy sag, byna eerbiedig, asof sy bang is om die stilte te verbreek.

Weet sy hoe mooi sy is? wonder Erik met sy oë op haar gerig. Haar witblonde hare ewenaar die silwer maanlig en haar fyn gelaatstrekke en slanke figuur maak van haar die koningin van die nag. Hy ervaar ’n allesoorheersende begeerte om sy hand uit te steek en haar wang liggies te streel, maar sy arms bly roerloos langs sy sye hang. Hy is ’n normale man met normale drange, maar liefde is hom nie beskore nie. Hy sal haar onthou soos sy nou is: sy maanligmeisie, sy prinses van ver.

Sy kyk op en sien ’n uitdrukking oor sy gesig flits wat dit laat lyk asof hy terselfdertyd pyn en vreugde ervaar. “Voel jy sleg, Erik?” vra sy besorg.

Hy glimlag gedwonge. “Net half verkluim … en doodbekommerd.”

“Oor oom Sebastiaan?” vra sy, hartseer vlak in haar oë.

“Eintlik oor jou. Oom Sebastiaan het die einde van sy reis bereik, maar jy staan op die drumpel van jou lewe. Is tant Renate en Vincent bewus van jou erfenis, Marné?”

“Hoe … hoe weet jy ek gaan enigiets erf?” vra sy onkant betrap.

“Tant Mathilda het geskinder en ek het geluister. Die Hofmeyrs was blykbaar almal skatryk. Jy is jou oupa Nico se enigste kleinkind. Ek aanvaar jy het ryk geërf,” antwoord hy en klink vreemd kwaad.

“Ek het nie, maar ek gaan erf sodra ek vyf en twintig is. Hoekom is jy vies daaroor?” vra sy verwonderd.

“Tant Renate soek na ’n ryk bruid vir Vincent. Ek glo dis waarom sy jou in diens geneem het, maar trou jy met hom –”

“Ek sal nie,” val sy hom vinnig in die rede.

“Is jy nie lief vir hom nie?” vra hy verlig.

“Nee.”

Schalkie van Wyk Keur 8

Подняться наверх