Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk - Страница 4
1
ОглавлениеMarné Jordaan plaas die telefoon se gehoorstuk stadig op die mikkie terug en stap na die eetkamertafel toe. Die hang van haar skouers en die troebel uitdrukking op haar gelaat verraai haar teleurstelling.
“Het hulle nie ’n pos vir jou nie, hartjie?” vra Annie Hofmeyr simpatiek.
Marné gryp die rugleuning van die stoel voor haar vas. Woede smeul in haar oë van onmag. “Waarom het ek so hard geleer om ’n arbeidsterapeut te word, tant Annie? Waarom het tannie geld op my opleiding gemors? Ek en my verhewe ideale … Ha! Ek het soos ’n gek gedroom oor die dag wanneer ek gestremdes sou help om hulle by hul werksituasie aan te pas, maar ek het nie tred gehou met die werklikheid nie. My werk word nie meer deur die groot mediese fondse gedek nie, en myne en fabrieke besnoei as gevolg van die resessie. Ek is oorbodig soos kaviaar op ’n plek waar mense nie eens brood kan bekostig nie!”
Selfs woede kan nie Marné se nimfagtige skoonheid bederf nie, dink Annie terwyl sy met ’n halwe oor na die tirade luister. Is dit hoe ek vyf en veertig jaar gelede gelyk het, vra sy haar af en ervaar ’n prikkie heimwee. En tog … sy was ook eenmaal pas mondig; ’n slanke meisie met ’n fyn beenstelsel, digte, silwerblonde hare en koringblou oë omraam met lang, donker wimpers. Haar gelaatstrekke was byna sprokiesagtig volmaak. Troos vou soos die arm van ’n ou vriend om haar skouers, want in ’n skuilhoekie van haar hart rus die wete dat sy op die ouderdom van ses en sestig tog ’n paar krummels van die skoonheid van haar jeug behou het.
“Hoekom lag tannie?” kom dit gekrenk van Marné. “Ek is desperaat, tant Annie! Dis reeds April en sedert ek my studie voltooi het, het ek nog nie ’n sent verdien nie.”
“Ek lag nie, hartjie. Moontlik het ek onbewustelik geglimlag,” sê Annie paaiend.
“Kan tannie nog ’n rede vind om te glimlag?” vra Marné vies en plof op haar stoel neer.
“Talle redes. Op die oomblik skree jy teen die onregverdigheid van die lewe, maar as ek na jou kyk …” ’n Glimlag van deernis en dankbaarheid plooi om Annie se lippe en glim sag in haar oë. “Ek is seker ’n selfsugtige oumens, want kyk ek na jou, kan ek net onthou dat jy die afgelope een en twintig jaar die grootste vreugde in my lewe was. Wanneer ’n vrou die dag vyf en veertig en ongetroud is, is sy dikwels ’n voorwerp van bejammering. Jy weet dat jou familie en vriende agter jou rug sê: ‘Foei, die arme siel kon nie ’n man kry nie. Sy gaan ’n eensame oumenslewe tegemoet, maar ons sal probeer om vir haar verjaarsdag- en Kerskaartjies te stuur.’”
“Dis nie waar nie!” protesteer Marné. “Tannie moes oupa en ouma Hofmeyr versorg en die onderwys was tannie se eerste liefde. En tannie kón ’n man gekry het, want tannie was ’n beeldskone meisie.” Haar oë rus op Annie. “Tannie is nou nog mooi,” sê sy eerlik.
Annie lag goedig. “Dis wat ek my graag wysmaak as ek die oggend daarin slaag om my plooie te ignoreer en net my oë raak te sien. Maar my hare is silwergrys, nie meer silwerblond nie; en dalk het die koringblou van my oë ook al ’n bietjie verbleik.” Sy maak ’n afwerende handgebaar toe Marné se lippe woorde van protes begin vorm. “Liefde sien skoonheid in ’n geparste, droë roos, Marné. Ek praat nie nou oor jou of vandag nie, maar oor een en twintig jaar gelede.”
“Toe tannie my wettige voog geword het?”
Annie knik bevestigend. “As jy mooi is én jy is ’n oujongnooi, wonder mense agter jou rug – soms waar jy dit kan hoor – of jy nie ’n geheime liefdesverhouding met ’n getroude man het nie. As jy minder aantreklik is, kry hulle jou openlik jammer omdat jy te lelik is om ’n man te kry.”
“Wie sou dit gewaag het om te dink Tannie het ’n verhouding met ’n getroude man?” vra Marné geskok.
“Al my getroude vriendinne en kennisse wat nie volkome seker was van hulle mans se lojaliteit nie,” antwoord sy. Sy frons nadenkend en vervolg mymerend: “Behalwe Renate Brandenberg, van Flaminke-eiland. Ons het saam op Twiswaters grootgeword, maar sy was vier jaar ouer as ek. Sy het jonk getrou en was op twintigjarige leeftyd reeds die ma van ’n seun.”
“Flaminke-eiland? Waar is dit? Leef tant Renate nog? Hoekom kuier ons nooit by haar nie?” vra Marné nuuskierig. Annie swyg en Marné gaan agterdogtig voort: “Hoekom het tante nog nooit oor tant Renate Brandenberg gepraat nie? Het julle rusie gehad?”
“Dit was ses vrae, hartjie. Watter een sal ek eerste antwoord?” korswel Annie.
“Die eiland – ek was nog nooit op ’n eiland nie.”
“Flaminke-eiland is ’n mooi naam, maar dis ook al wat dit is, want dit is nie ’n eiland in die ware sin van die woord nie. Ou Marthinus Brandenberg, Renate se skoonpa, was die oorspronklike eienaar van die grond wat aan Twiswaters grens. Flaminke-eiland lê tussen twee spruite wat die oostelike en die westelike grense van die landgoed vorm. In die noorde is daar ’n moerasagtige grond wat gewoonlik oorstroom word wanneer die spruite ná swaar reën afkom, en in die suide het ou Marthinus ’n kunsmatige meer laat uitgrawe.”
“Is daar flaminke op die eiland?” vra Marné gretig.
“Die brakwater van die meer het vroeër jare die donkerpienk, klein flamink gelok, maar of daar nog flaminke is …” Annie swyg, verdwaal in ’n labirint van jeugherinneringe.
“Woon tant Renate nog op Flaminke-eiland?” onderbreek Marné haar gedagtegang met die ongeduld van die jeug.
Drome vlug uit Annie se oë en sy kyk na Marné. “Sy woon nie net daar nie; ek kan uit haar briewe aflei dat sy met ’n ysterhand oor haar skoondogter en kleinkinders heers ten spyte van haar ouderdom van sewentig jaar.”
“Dan korrespondeer tannie-hulle nog al die jare, maar tannie het my nooit vertel nie?” verwyt Marné haar en laat Annie se optrede soos ’n daad van verraad klink.
“Ek sal nie juis ’n brief elke drie of vier jaar gereelde korrespondensie noem nie, Marné.” ’n Ligte frons keep tussen Annie se wenkbrou en daar is ’n uitdrukking van onbegrip in haar oë. “Gedurende die afgelope drie maande het ek ’n halfdosyn briewe van Renate gehad, maar …”
“Maar wat, tant Annie?”
“Ek het nie geweet hoe om die saak aan te roer nie, my kind. Jy was so opgewonde oor jou studie wat eindelik voltooi was, so gretig om te begin werk, dat ek niks oor Renate se uitnodiging wou sê nie,” antwoord sy verskonend.
“ ’n Uitnodiging? Het tant Renate vir tannie uitgenooi om te kom kuier?”
Annie vroetel doelloos met haar eetgerei. “Goeiste, Marné, ons het nog nie ons middagete klaar geëet nie. En nou is die kos yskoud.”
Marné steek haar regterhand uit en lê dit op dié van Annie. “Moenie, tannie. Moenie die waarheid vir my wegsteek nie. Ek weet wat tannie ter wille van my opgeoffer het toe my ma ’n paar weke ná my geboorte aan nierversaking beswyk het. As tant Renate vir tannie uitgenooi het om te gaan kuier, gaan gerus. Ek is darem al mooi groot. Ek sal nie die huis laat afbrand terwyl tannie weg is nie.”
“Opoffering? Onsin!” Annie snuif ergerlik deur haar neus. “Ek het jou al herhaalde male gesê: toe my oorlede vader meer as veertig jaar gelede besluit het om vir hom ’n dokterspraktyk hier in die stad te koop, het ons Hofmeyrs vir goed die stof van Twiswaters van ons voete afgeskud. Ek en my broer Nico – jou oorlede oupa – het Johannesburgers in murg en been geword. Ek kan my niks verveliger voorstel as ’n vakansie op ’n plattelandse dorp nie.”
“O,” kom dit afgehaal van Marné. Sy kyk met ’n tikkie verwyt na Annie. “Ek het gehoop – gewens …” Sy swyg en vroetel met haar servet op haar skoot. “Dalk is ek gelukkig. Dalk kan ek werk in ’n kettingwinkel of ’n restaurant kry, maar ’n vakansie – selfs net ’n naweek op ’n eiland met so ’n romantiese naam … Ek sal bitter graag die dorpie waar tannie grootgeword het, wil besoek.”
Die uitdrukking op Annie se gelaat verhard. “Maar ék sal nie, Marné, want …” Sy pers haar lippe saam en Marné sien in haar uitdrukkingsvolle oë dat daar ’n innerlike stryd in haar woed. Annie sug stadig. “Laat ek dit maar ruiterlik erken: ek is ’n ou vrou en ek is selfsugtig. Ek wou jou nie laat gaan nie.”
“Vir my? Waarheen?” vra Marné verward.
“Die uitnodiging van Renate Brandenberg was aan jou, nie aan my nie, hartjie. Jou oupa Nico was ’n paar jaar ouer as sy en in ’n stadium was daar sprake dat hulle sou trou. Dalk sou hulle ook as … as sy nie ’n onverwagte huweliksaanbod van die skatryk Tinus Brandenberg – die ou Marthinus se oudste seun – gekry het nie. Maar daar was geen kwade gevoelens tussen ons nie, want ons het almal saam grootgeword en deur die jare het Renate herhaaldelik gevra dat ek moet kom kuier.”
“Maar waarom het sy gevra dat ék moet kom kuier, tannie? Sy ken my nie,” kom dit onbegrypend van Marné.
“Ek het jou gesê: die afgelope drie maande korrespondeer ek en Renate gereeld. Ek het in een van my briewe daarvan melding gemaak dat jy probleme ondervind om werk te kry en toe … toe stel sy voor dat jy haar skoondogter met dié se jongste kleinkind help,” vertel Annie en lyk baie skuldig.
Marné leun gretig nader aan Annie oor die tafel. “Tannie bedoel die kleinkind is fisiek gestrem?” vra sy.
“Nee, nee, hartjie, Nicolette is ’n laatlammetjie en volgens wat ek uit Renate se briewe kan aflei, ’n liewe dogter van sestien, maar sy is ’n kind wat altyd ’n kind sal bly.”
“Is sy geestelik gestrem?” vra Marné simpatiek.
Annie knik. “Ja, sy kan ’n handvol wees. Renate se skoondogter, Rentia, het ’n voltydse huishoudster, Mathilda Fourie, wat na Nicolette omsien. Maar Mathilda is self ’n vrou van byna sewentig en dis vir haar bykans onmoontlik om die huishouding te behartig en nog na Nicolette ook om te sien. As jy sou kans sien om ’n ogie oor Nicolette te hou … Renate het my verseker die dogter is heeltemal onskadelik, maar sy tree soms onverantwoordelik op.”
Marné frons onseker. “Het Nicolette nie gespesialiseerde leiding nodig nie? Ek sal nie weet hoe om haar te hanteer nie.”
“Sy was in ’n spesiale skool en sy kan eenvoudige takies verrig. Sy het nie ’n voltydse verpleegster nodig nie. Renate skryf die dogter is gewoonlik doodtevrede om met haar poppe te speel, maar soms sluip sy uit die huis en loop op die eiland rond. Sy kan nie swem nie – sy het ’n onredelike vrees vir water – maar hulle is tog bekommerd dat sy eendag per ongeluk in die meer of in een van die spruite sal val.” Annie merk die twyfel op Marné se gesig en sê vinnig: “Jy hoef nie te gaan nie, Marné. Ek wil nie van jou ’n kinderwagter maak nie. Noudat ek daaraan dink: dis voorbarig van Renate om so iets van jou te verwag.”
“Maar dis ’n geleentheid om Flaminke-eiland en tannie se geboortedorpie te besoek,” redeneer Marné.
“In daardie geval: Renate het ons aanvanklik uitgenooi om te kom kuier. As jy so graag die eiland wil sien, gaan kuier dan ’n week of twee, Marné.”
Marné skud haar kop beslis. “Nee, tant Annie. As ek ’n salaris kan verdien – al is dit ook hoe min – sal dit my onafhanklik maak.” Sy frons besorg. “Is tant Renate bereid om my finansieel te vergoed?”
“Sy is en dis nie ’n slegte salaris nie. Moenie oorhaastig besluit nie, kind. Het jy vergeet van jou erfenis van jou oupa Nico?”
Marné se oë rek ongelowig. “Tannie versorg my reeds een en twintig jaar. Hoe kan daar nog iets oor wees?”
“Jou oupa was ’n suksesvolle neuroloog, hartjie. En ek het darem ook iets uit my eie sak bygedra, want per slot van rekening is jy vir my soos ’n eie kind.” Annie se glimlag is kinderlik skaam. “Ek het reeds erken ek is besitlik oor jou, daarom het ek verkies om self ook te betaal.” Sy laat haar oë deur die ruim eetkamer dwaal. “Die huis het ek van my ouers geërf en my salaris as onderwyseres was voldoende vir ons albei. Jy het so goed op skool presteer dat die beurs en jou studiepolis oorgenoeg was om die onkoste van jou opleiding as arbeidsterapeut te dek. Jou erfgeld … dit was nie vir my nodig om ’n sent daarvan te gebruik nie.”
Marné byt hard op haar onderlip, verleë omdat sy nie gedink het Annie help haar so onbaatsugtig nie. Sy is dierbaar. “Hoekom is tannie nooit getroud nie?”
Annie slaan haar oë neer. “Ek het my ouers versorg tot dat –”
“Nee, tant Annie,” val Marné haar beslis in die rede, “oupagrootjie Nicolas was ’n dokter met ’n groot praktyk. Tannie vergeet; hy en ouma Maria is eers dood toe ek al op laerskool was. Hulle kon maklik ’n privaat verpleegster bekostig het.”
’n Glimlag speel wegkruipertjie om Annie se mondhoeke. “Snip! Sal ek jou probeer oortuig dat ek ’n verterende haat jeens alle mans koester?”
“As tannie ’n goeie rede het, ja. Maar wat is die rede?”
Annie lag teësinnig. “Geen rede nie, klein agie. Ek het meer as een huweliksaanbod gehad, maar die belangrikste bestanddeel vir ’n suksesvolle huwelik het altyd ontbreek: liefde.”
“Het tannie nooit die regte man liefgekry nie?” vra Marné teleurgesteld.
“Die regte man was net nie daar om lief te kry nie, en om te trou bloot om myself ‘mevrou’ te kon noem, was nie vir my genoeg rede om my in ’n huwelik te begewe nie.”
“Is tannie nie spyt nie?”
Annie swyg nadenkend, en sê toe: “Toe ek jonger was, het ek soms daaroor gewonder, maar vandat jy deel van my lewe geword het, het ek die antwoord geken: ek moes daar wees vir jou, want jy het niemand anders gehad nie. As ek getroud was met ’n huis vol kinders … Dalk sou my man nie my broer se kleindogter wou aanvaar nie.”
“Nou is ek daar vir jou, tant Annie. Ek het niemand lief nie en ek gaan by jou bly totdat –”
“Beslis nie!” val Annie haar skerp in die rede. “Jy onthou Monica Neethling van die Kaap? Sy nooi my sedert my aftrede om by haar in haar strandhuis te kom kuier. As jy werklik gretig is om na Flaminke-eiland toe te gaan, sal ek eindelik vry wees om Monica se uitnodiging te aanvaar.”
“Ons laaste kuiertjie by tant Monica het nie eens ’n week geduur nie, want sy is suur en suinig. Tannie gebruik haar net as ’n verskoning om my my sin te gee.”
“Glad nie. Ek sien net nie kans om nog ’n dag na jou gekerm te luister omdat jy werkloos is nie. Gaan kuier by die Brandenbergs, leer Nicolette ken, en besluit dan of jy met haar versorging wil help.”
“Maar ek wil hier in Johannesburg werk hê – hier naby tannie,” maak Marné beswaar.
“Waar jy my kan versorg soos ek my ouers versorg het, Marné?” vra Annie nadruklik.
“Wel … ek het niemand anders behalwe tannie nie.”
“Nie op die oomblik nie, maar die wêreld is groot. Ek gaan nie vir altyd by Monica kuier nie, Marné. Niks verplig jou om Nicolette te versorg nie. Jy is mondig en voortaan kan jy ’n maandelikse toelae uit jou oupa Nico se boedel ontvang. Jy sal nie oorsese reise kan bekostig nie, maar jy sal onafhanklik wees.”
Marné staar haar verslae aan. “Maar tannie sê altyd ’n mens moet werk, nie op ander se rykdom teer nie, want –”
“Ja, ja, ek onthou,” onderbreek Annie haar ongeduldig. “As jy besluit om Nicolette te versorg en ’n salaris ontvang, kan jy jou toelae spaar, maar ek wil jou nie dwing om ’n pos te aanvaar omdat jy in finansiële nood verkeer nie. Ek het Renate Brandenberg ’n leeftyd gelede gesien; ek ken nie haar weduwee-skoondogter Rentia of haar drie kleinkinders nie. Ek weet nog minder wat Nicolette se versorging sal behels. Dis waarom ek wil hê jy moet finansieel onafhanklik wees. As jy nie van die situasie op Flaminke-eiland hou nie, is jy vry om terug te kom huis toe en ander werk te soek.”
Annie kyk op haar polshorlosie, dan na die wysers van die staanhorlosie in die ontvangsportaal, en draai desperaat na Marné. “Al die horlosies in die huis is voor. Hoe laat is dit, Marné?”
“Op die kop nege en twintig minute en sewentien … agttien sekondes oor nege. As die taxi betyds …” Sy hou op met praat toe sy ’n motor voor die deur hoor stilhou en loop na die smal venster langs die voordeur. “Die taxibestuurder is darem stiptelik. Kom, ek sal tannie met die tasse help.”
“Los die tasse, dogter! Vincent Brandenberg moes al ’n uur gelede hier gewees het. Hoe kan ek op ’n vliegtuig klim en Kaap toe vlieg en jou aan die genade van ’n wildvreemde man oorlaat?” vra Annie onstuimig. Sy ruk haar swaarste tas uit Marné se hand en gil van pyn toe Marné die tas skielik los en dit op haar voet val. “Eina, deksels! Hoe kan jy so onbeholpe wees, Marné? Al die beentjies in my voet is gebreek.”
Voor die huis druk die taxibestuurder die toeter.
“As tannie hospitaal toe moet gaan …” Marné beduie betekenisvol met haar kop na die voordeur. “Ek sal die taxibestuurder vra om my te help om tannie na die taxi toe te dra.”
“Ek moet lughawe toe gaan, nie hospitaal toe nie, kind. Wat op aarde laat jou dink ek is op hospitaal toe?” vra Annie vies terwyl sy op ’n stoel plaasneem, haar regterskoen uittrek en haar tone vryf.
“Tannie se gebreekte voet,” antwoord Marné droog.
Annie gluur haar aan. “My voet is nie gebreek nie, dogter. Dit was net by wyse van spreke wat ek dit gesê het.”
“Wat ’n verligting! Kom ons dra dan die tasse na die taxi toe, anders is tannie laat vir die vlug Kaap toe.”
“Luister jy nie na my nie, Marné?” begin Annie driftig. “Hoe kan ek vertrek voordat ek Vincent Brandenberg persoonlik ontmoet en deeglik deurgekyk het? Dis ’n twee uur lange rit Twiswaters toe. As ek die man nie kan vertrou nie, laat ek jou nie toe om in sy motor te klim nie.”
Buite druk die taxibestuurder weer die toeter.
Annie trek haar skoen aan, hinkepink na die voordeur toe en ruk dit oop. “Dis nie nodig om ’n ouverture met die toeter te speel nie, meneer! Ek is nou daar!” roep sy boos.
Die taxibestuurder klim uit, skuif die vingers van sy regterhand onder sy pet in en krap bokant sy oor. “Die pad lughawe toe is besig. Ek wil nie ’n kaartjie vir jaag kry nie.”
“Ek sal die dekselse kaartjie betaal!” snou Annie en draai na Marné toe. “Marné, ek bly net hier. As Monica haar wil wip, laat sy dit doen! Ek sal nooit met my gewete kan saamleef as ek jou deur ’n wildvreemde man laat ontvoer nie.”
Marné hou haar gesig uitdrukkingloos en sê: “Ek is ’n baba. Ek moet elke vier uur ’n bottel kry. Ek het my tant Annie nodig om my windjies uit te vryf. Is dit reg, tannie?”
Kommer en ergernis vlug uit Annie se gelaat en word vervang deur ’n skuldige uitdrukking. “Is ek werklik so erg?”
“Erger. Ek het sedert my matriekjaar in talle wildvreemde mans se motor geklim en saam met hulle uitgegaan, en ek het nooit iets oorgekom nie. Ek kén mans, tant Annie. Tannie was nie altyd daar om my hand vas te hou nie.”
“Jy is al wat ek het, Marné.”
“Tannie bedoel tannie is lief vir my. Ek weet, en ek is lief vir tannie. Het tannie my lief genoeg om my oordeel te vertrou?”
Annie huiwer. “Hy is darem Renate se kleinseun …” Die frons glip terug tussen haar wenkbroue. “Maar laat die vent duidelik verstaan wat ek dink van sy onvermoë om stiptelik te wees, Marné. En hou jou gaspistool in jou handsak … vir ingeval. En as –”
“My taxi kan nie vlieg nie, mevrou,” praat die taxibestuurder agter haar en krap bokant sy ander oor.
Marné gee Annie ’n vinnige drukkie en ’n soen. “Tot siens, tannie. Ek het tant Monica se foonnommer. Ek sal bel om te sê ek is veilig.”
“Ja … Moet niks teen jou sin doen nie. Ek moes nooit ingestem het dat …” Sy sien die taxibestuurder tydsaam nader drentel en roep ongeduldig uit: “As jy haastig is, meneer, lyk dan haastig! Die tas is te swaar vir my dogter.”
“Jy gaan ekstra betaal vir die bagasie op die vliegtuig, mevrou,” waarsku die man terwyl hy die tas by Marné neem en dit na die taxi toe dra.
“Juffrou. Ek is ongetroud,” sê Annie kortaf.
Hy kyk beurtelings na Annie en Marné. “Maar jy het ’n dogter?” Hy glimlag geeltand. “Een van daardie tragiese gevalle, nè?”
“Pleegkind!” roep Marné uit by die voordeur. Annie gluur die taxibestuurder aan, klim in die motor en bly roerloos sit totdat hy verplig is om haar motordeur toe te maak.
Die taxibestuurder beduie met sy duim na Annie toe en knipoog vir Marné. “Ek sal sorg dat sy haar vliegtuig haal, juffroutjie. Sy lyk vir my na ’n handvol … ’n propperse koningin van die noordelike voorstede!”
Hy skuif agter die stuurwiel in en die taxi trek weg. Annie wuif een maal en laat sak dan haar kop terwyl Marné haar eie hand stadig laat sak.
Huil tant Annie, wonder sy, of voel tant Annie soos sy? Sy wil huil, maar haar verstand sê vir haar dat sy definitief te oud is om oor haar voog te huil. Tydens haar skooljare was sy twee maal na ’n veldskool toe – haar enigste twee vakansies sonder tant Annie. Sy het toe nie gehuil nie, maar dit was omdat sy skaam was om dalk deur haar klasmaats uitgelag te word. Tant Annie het gehuil, ongemerk en geluidloos, moontlik omdat tant Annie ook bang was om uitgelag te word.
Sy ruk van die skrik toe ’n hand vlak voor haar oë gewuif word.
“Verskoon my, juffrou, maar is jy dood, slaap jy of is jy gehipnotiseer?” vra ’n diep manstem wat by die hand hoort.
Haar kop ruk op en sy kyk in die gesig van ’n man met donkerbruin, krullerige hare, ’n songebruinde vel, sterk gelaatstrekke en liggrys, kristalhelder oë. Silwer oë, dink sy, en besef dan dat dit sy oë se kontras met sy digter, donker wimpers is wat hulle ligter laat lyk. Die vreemdeling troon oor haar. Sy skouers is breed en sy spiere bult in sy arms en onder die ligblou T-hemp wat oor sy bors span. Haar oë sak laer en sy merk dat hy ’n verbleikte denimbroek en ’n ouerige paar drafskoene dra.
Sy glo dit nie! Wie en wat dink Vincent Brandenberg is hy om soos ’n verslonste arbeider op hulle drumpel op te daag? Watter soort mense is die Brandenbergs? Hulle kan nie arm wees as hulle ’n eiland besit nie, maar ’n welvarende man kom haal nie ’n besoeker in die stad as hy geklee is asof hy braaivleis wil hou nie. Of het hy dit opsetlik gedoen om haar te wys wat hy van haar nuwe posisie as sy suster se oppasser dink?
Sy gooi haar kop agteroor en staan meer regop, haar oë vyandig in syne. “Jy is laat,” sê sy met kille afkeer.
Sy regterwenkbrou wip omhoog. “Is ek? Hulle het net gesê ek moet jou vanoggend oplaai, maar hulle het nie gesê wanneer nie. Of dalk het hulle. Ek steur my nooit veel aan hulle geklets nie. Ek het in elk geval oorgenoeg van my eie probleme gehad om my oor te kwel,” antwoord hy ongeërg.
“My tant Annie was hewig ontsteld. Sy het uitgesien daarna om jou persoonlik te ontmoet voordat ek Flaminke-eiland toe vertrek,” verwyt Marné hom.
“Nou gaan roep haar. Waarsku haar dat ek haastig is. Ek het nie tyd vir koek en tee nie,” sê hy bruusk.
Marné staar hom onthuts aan. “Liewe land, het tant Renate jou niks vertel nie? Tant Annie moes ’n vliegtuig haal Kaapstad toe, daarom was dit so belangrik dat jy om halfnege hier moes wees sodat julle eers kon gesels het. Sy weet van jou, maar sy ken jou nie, daarom –”
“Die ou skinderbek!” val hy haar misnoeg in die rede.
“Sê jy my tant Annie is ’n skinderbek, jou …” vra sy onstuimig.
Hy maak ’n afwerende handgebaar. “Nee, nee, ek praat van ou Renate. Sy woon al jare lank soos ’n valk op ’n krans in Flaminke-huis, maar as iemand nies, wees sy watter kleur sakdoek hy gebruik. Dit sal my nie verbaas as sy ons almal op die eiland deur ’n verkyker dophou nie.”
En dis die man saam met wie sy na Flaminke-eiland toe moet ry, dink Marné en staar hom met weersin aan. Hy lyk nie net onverfynd nie, maar hy het opsigtelik geen respek vir sy eie ouma nie.
“En jou ma?” vra sy koel.
Hy frons onbegrypend. “Wat het my ma met ou Renate te doen?”
“Ek het net gewonder of jy darem ’n klein bietjie respek vir jou ma het aangesien jy met soveel minagting van tant Renate praat,” sê sy styf.
“My ma is dood,” antwoord hy kortaf.
Haar oë rek ontsteld. “O … Ek is verskriklik jammer. Wanneer vind die begrafnis plaas?”
“My ouers het meer as twintig jaar gelede in ’n motorongeluk gesterf, juffrou Jordaan. Ek neem aan hulle is destyds begrawe,” antwoord hy droog.
“Maar … maar …” Sy swyg verward. “Is dit moontlik dat tant Renate al die jare haar seun en skoondogter se dood teenoor my tant Annie sou verswyg het?”
“Tant Renate se seun is dood, maar haar skoondogter, Rentia, is springlewendig.”
“Tant Renate se …” Sy sluk hoorbaar. “Is jy nie Vincent Brandenberg nie?”
Hy lyk ’n oomblik onthuts, byna beledig, en lag toe humorloos. “Beslis nie, juffrou Jordaan. Vincent het by my oupa gehoor ek kom stad toe vir besigheid. Dit was gisteroggend. Hy het my gevra of ek hulle nuwe diensmeisie …” Hy swyg en Marné merk met genoegdoening hoe ’n donkerrooi gloed oor sy nek en gesig kruip. “Vincent het ander … verpligtinge gehad, daarom het hy my gevra om jou saam te bring Flaminke-eiland toe. Ek is met my bakkie hier, want ek moes ’n paar dinge terugneem na die eiland toe.” Hy kyk na die hoë ringmuur. “Ek het in die straat geparkeer. As jy vir my sê waar jou tasse is …”
“Wie is jy, meneer?” vra sy koel.
“Erik de Ridder.” Hy lyk onkant betrap. “Jammer, ek dag jy weet. Vincent het beloof om te bel en jou oor die verandering van die reëlings in te lig.” Hy steek ’n groot, vereelte werkershand na haar toe uit. “Sal ons sê: bly te kenne, juffrou Jordaan?” vra hy formeel.
Sy kyk na sy hand en vra gelykmatig: “Sal jy graag jou hande wil was, meneer De Ridder?”
“Ekskuus?” Hy staar na sy hande asof hy hulle lank laas gesien het. “Vervlaks, ek het vergeet ek was by die nuwe konstruksiewerke langs. Maar dis net sement.” Hy vryf sy hand aan sy broekspyp af en steek dit weer na haar toe uit.
Sy huiwer, kyk in sy besondere oë en glimlag onwillekeurig. “Ek glo nie ek het al ooit tevore ’n bouer se hand geskud nie. Bly te kenne, meneer De Ridder.”
“Erik. Formaliteit maak my kriewelrig, daarom hou ek van die platteland. Maar jy … jy is te fyntjies en vroulik … Marné. Wat kom soek jy op die platteland?”
“Werk. Jy het gehoor ek is ’n diensmeisie,” antwoord sy koud.
“Dis wat Vincent jou genoem het, maar noudat ek jou en julle huis gesien het … Nicolette is ’n handvol.”
“Ek is nie so onervare as wat ek lyk nie. Ek gaan in elk geval nie omdraai voordat ek probeer het nie,” sê sy beslis.
Hy haal sy skouers op. “In daardie geval, bring jou tasse.”
“Nie voordat ek die Brandenbergs gebel het nie. Jy sê jy ken hulle, maar tant Annie het nooit van jou gepraat nie. Ek kan jou nie sommer goedsmoeds vertrou nie.”
Sy regterhand skiet uit en sluit in ’n staalgreep om haar pols. “O nee, juffroutjie, jy bel niemand nie. Kom ons ry!”