Читать книгу Schalkie van Wyk Keur 8 - Schalkie van Wyk - Страница 5
2
ОглавлениеMarné gluur na die groot hand wat om haar tenger gewrig sluit en daarna na die man wat haar met grimmige vasbeslotenheid aangluur. “As jy my gewrig klaar gebreek het, Erik de Ridder, klim in jou bakkie en ry,” sê sy kil.
Hy los haar gewrig vinnig. Hy lyk beurtelings besorg en skuldig. “Is jy ernstig? My ouma Kobie kla ook altyd dat ek meer krag het as wat ek besef. Pyn jou gewrig?”
Dan het hy tog ’n sagter sy, dink Marné goedkeurend, maar sy hou haar uitdrukking koel. “Vanselfsprekend, maar ek twyfel of dit gebreek is,” antwoord sy en vryf haar gewrig. “Gaan jy my nou toelaat om die Brandenbergs te bel, of slaan jy my dié keer oor die kop?”
Ergernis verdonker sy gelaat. “Genugtig, Marné, ek is nie ’n aanrander van hulpelose vroue nie. Ek is reeds gisteroggend by die huis weg, maar ek het gisteraand telefonies met my oupa gepraat … en dit het toe paddas en platannas gereën. Flaminke-eiland het ’n laagwaterbrug en as die spruite vol word, is ons gestrand op die dorp. Een van die redes waarom ek stad toe gekom het, was om sekere tablette vir oom Sebastiaan te kry, want die enkele apteek op die dorp het niks daarvan in voorraad gehad nie. Ek móét die medisyne by hom kry, anders …” Sy uitdrukking verstrak. “Ek mors tyd. Kom jy saam of bly jy?”
Wie is oom Sebastiaan, wonder sy. Vreemd, die naam klink bekend, maar sy kan nie onthou waar sy dit gehoor het nie. Ry sy of bly sy, vra sy haar af en besluit vinnig toe Erik haar oor sy skouer aangluur. “Albei tasse staan in die ontvangsportaal. Ek sal hulle kry.”
“Ek sal. Sluit jy die voordeur,” beveel hy, gaan die portaal binne en tel die tasse moeiteloos op.
Sy raap haar handsak en grimeertassie van ’n bank af op, sluit die voordeur en draf na die tuinhekkie toe. Sy sluit dit agter haar, draai om en sien Erik langs ’n liggrys bakkie staan. Sy arms is gekruis en daar is ’n uitdrukking van gedwonge geduld op sy gelaat.
“As jy my nog nie vertrou nie, kan jy agterop die bakkie ry. Besluit net vinnig.” Hy sien die skok op haar gesig en vervolg grimmig: “Die kap sal verhoed dat jy wegwaai. Jy behoort nie te vuil te word nie, want daar is net ’n paar sakkies sement, ’n klompie gereedskap en kruideniersware op die bak. Sal ek jou ophelp?”
“Ek is nie net nog ’n stukkie gereedskap nie, meneer De Ridder,” sê sy. “Ek het my eie motor, maar tant Renate het my tant Annie laat verstaan dat ek nie –”
“Jy mors my tyd,” val hy haar in die rede en pluk die passasiersdeur van die bakkie oop. “Klim in. Ons moes al op pad gewees het.”
Sy bly roerloos staan, soekend na die regte woorde om hom eens en vir altyd te laat verstaan wat sy van sy onbeskoftheid dink. Hy tree vinnig nader, tel haar op asof sy net nog ’n sementsakkie is en sit haar op die sitplek neer. Dan klap die deur langs haar toe.
Sy kry eindelik haar asem terug toe hy die bakkie in beweging bring. “Jou … jou ongemanierde bullebak! Hoe durf jy my rondsmyt asof ek … asof ek …”
“ ’n Oorlas is?” voltooi hy haar sin vir haar, sy oë op die pad gerig. “Die antwoord is eenvoudig: jy is ’n oorlas, want as dit nie vir jou was nie, was ek nou al halfpad terug eiland toe.”
“Waarom het jy dan ingestem om my te kom haal?” vra sy geraak.
“Omdat ek ’n sagte hartjie het.”
Sy kyk vinnig na hom. Sy is seker dat hy gekskeer, maar sy gesigsuitdrukking bly stroef en sy oë afgewend.
“Sowaar?” vra sy sarkasties. “En wat het jou sagte hartjie met my te doen?”
“Alles. Dis beter dat jy uit die staanspoor weet dat ek en Vincent Brandenberg aartsvyande is en ek nie veel tyd vir tant Renate of haar skoondogter, tant Rentia, het nie. Vincent se suster, Ilze, is nie te sleg nie en Nicolette …” ’n Onverwagte warmte kruip in sy diep stem in. “Ek noem haar die vlinderkind, want sy is so sorgvry en sonder sonde soos ’n vlinder.” Hy kyk haar streng aan. “Ek kry die indruk dat jy ’n bedorwe stadsmeisie is, maar ek hoop ek misgis my, want Nicolette het warmte en begrip nodig.”
“Skep ek die indruk van ’n koue, selfsugtige mens?” vra Marné en steek haar neus in die lug.
“Snipperig, baasspelerig en te gewoond daaraan om jou sin te kry,” antwoord hy met ongenaakbare eerlikheid.
“En jy is voorbarig, buffelagtig, onbeskof en boonop vals,” sê sy bytend.
“Vals?” Sy regterwenkbrou klim in die rigting van sy haarlyn.
“Hoe anders? Jy en Vincent Brandenberg is kamtig aartsvyande, maar jy het ingestem om my te kom haal en hom die moeite te spaar. Of is jy in sy diens?”
Erik se lag is sag, minagtend. “Vincent is sewe en twintig, twee jaar jonger as ek, maar terwyl ek nog nooit ophou werk het nie, het die vent nog nooit begin nie.”
“Waarom doen jy dan gunsies vir hom?”
“Omdat jy ter wille van Nicolette na die eiland toe kom. Tant Mathilda Fourie, die Brandenbergs se huishoudster, het Nicolette versorg totdat Nicolette na ’n spesiale skool toe gestuur is. As iemand in Flaminke-huis werklik vir Nicolette omgee, is dit tant Mathilda, maar sy is ’n vrou van nege en sestig. Sy het hulp nodig en toe Vincent my vertel sy ouma het jou in diens geneem, het ek ingestem om jou op te laai.”
“Het hy gesê ek is ’n diensmeisie?” vra Marné. Sy probeer om haar stemtoon neutraal te hou, maar voel verneder.
“Enigiemand wat eerlike werk doen, is ’n kneg in Vincent se oë. Hy beskou homself as ’n skatryk, jong landheer wat oor sy eie koninkrykie, Flaminke-eiland, heers.”
“Maar wat dóén hy? Of is hy te ryk om te werk?”
“Hy dra graag rydrag en ry op sy perd rond, en hy glo sy ouma Renate is ryk genoeg om hom te onderhou. Hy is universiteit toe, maar wat hy daar gedoen het, sal niemand weet nie. Sy enigste belangstelling is die melkery, sy sportmotor en mooi meisies. Maar waarom sal ek jou vertel? Jy sal hom spoedig persoonlik leer ken.” Hy frons en kyk vinnig na haar. “Hoe ryk is jy, Marné?”
Die bekommerde uitdrukking in sy oë verras haar, maar sy antwoord uit die hoogte: “So ryk dat ek voortaan die Brandenbergs se diensmeisie gaan wees.”
“Ek is ernstig,” sê hy ongeduldig. “Ek het julle huis gesien. Jou ouers kan nie arm wees nie.”
“My ouers is dood. Die huis behoort aan my tant Annie Hofmeyr en sy het dit van haar ouers geërf. Tant Annie is ’n afgetrede onderwyseres en ek is ’n werklose arbeidsterapeut. Wat wil jy nog weet?” vra sy katterig.
“Kan jy glimlag?”
Sy gluur hom agterdogtig aan. “Hoekom? As jy hoop ek gaan skielik van jou onbeskoftheid vergeet en oorvriendelik raak …” Sy maak haar handsak oop. “Ek het my gaspistool saamgebring,” waarsku sy.
“Uiters verstandig,” spot hy, leun oor en maak die paneelkissie voor haar oop. “Kyk daarin. Dis ’n regte pistool en dis gelaai. Dalk sal jy heeltemal veilig voel as jy dit op jou skoot vashou.”
Sy staar hom verskrik aan. “Ek het nog nooit met ’n regte pistool geskiet nie. Ek … e … ek is bang vir vuurwapens,” erken sy teësinnig.
Hy klap die paneelkissie toe. “Dom kind. As ek werklik so ’n bedreiging vir jou is, moes jy dit nooit erken het nie. Mag ek aanvaar dat jy my vertrou ten spyte van my swak maniere?”
Die vonkeling in sy oë verander die grys kleur in vloeiende silwer. Sy hou van sy vreemde, hipnotiese oë, erken sy halfhartig teenoor haarself. Maar sy hou nie van hom nie – nie as hy haar as ’n oorlas beskou nie. Dis vreemd vernederend om ná al die bewondering wat sy van ander mans ontvang het, te besef dat Erik de Ridder haar slegs verdra omdat hy ’n swak het vir die ongelukkige Nicolette Brandenberg.
“Jy weet ek gaan na Flaminke-eiland toe om Nicolette te help, daarom sal jy niks doen om my te laat besluit om van plan te verander nie,” antwoord sy eindelik sy vraag.
“Dis reg: selfs arbeiders het siele,” spot hy.
Sy skuif ongemaklik op die sitplek rond. “Ek is jammer as ek jou … e … nie met ope arms verwelkom het nie, Erik, maar jy …” Sy laat haar blik oor sy songebruinde arms, sy T-hemp en sy verbleikte denimbroek dwaal en sluk hoorbaar. “Ek het Vincent Brandenberg verwag en … e …”
“Jy het ’n skoon seuntjie met skoon kleertjies verwag, nie ’n bouer met sement aan sy hande nie. Dit was darem droë sement. As ek nie so haastig was terug huis toe nie, het ek dalk die moeite gedoen om my kerkpak aan te trek.”
“Jy het gesê Vincent werk nie. Waarom kon hy my nie kom haal nie? Of het hy werklik ander verpligtinge gehad?” stuur sy die gesprek in ’n ander rigting, verleë omdat hy haar reaksie korrek opgesom het.
“Vincent het ’n sportmotor, maar dit gee hom deesdae meer las as ’n donkiekar. En sy motor se bande is seepglad. My goeie hartjie het my gewaarsku dat as ek jou lewendig op Flaminke-eiland wil besorg, ek die moeite sal moet doen om jou op te laai.”
“In daardie geval: dankie.”
“Dis my plesier. Ons dagloners moet saamstaan,” spot hy.
“Is jy skaam omdat jy ’n bouer is? Wil jy liewer ’n leeglêer soos Vincent wees en op jou ryk ouma teer?” vra sy afkeurend.
“Sou jy gewerk het as jy nie die geld nodig gehad het nie, Marné?”
Sy onthou van die toelae wat sy uit haar oupa Nico se boedel ontvang en glimlag onwillekeurig. “Sonder twyfel. Niks is so vervelig as om maande lank tuis te sit en te wonder wat om met jouself aan te vang nie. Ek weet, want totdat tant Renate die pos vir my aangebied het, het ek nou en dan vir ’n onderhoud gegaan en die res van die tyd met tant Annie rusie gemaak omdat ek nie werk kon kry nie.”
“En intussen moes jy op jou tant Annie teer?”
“Dis waarop dit neerkom, ja. Ek het nog ’n bietjie geld van my studiepolis oor, maar tant Annie wou my nooit toelaat om losies te betaal nie. Dit gaan heerlik wees om te kan werk en my eie salaris te verdien,” antwoord sy met onderdrukte opwinding in haar stem.
“Ek hét jou verkeerd opgesom,” erken hy, “maar dis julle huis se skuld. Dit moet ’n klein fortuintjie werd wees en dit kos seker baie om in stand te hou.”
“Dit is seker baie werd, maar my oupagrootjie het in sy boedel voorsiening gemaak vir die onderhoud en grondbelasting. Ek en tant Annie het altyd ’n dak oor ons kop gehad, maar ons het nie ’n fortuin om te spandeer nie.” Sy sug verwese. “As dit nie vir die resessie was nie … Werk vir arbeidsterapeute is skaars.”
“Miskien moet ek jou waarsku, Marné: Flaminke-huis is nie ’n plek wat oorloop van liefde en geluk nie. Tant Renate regeer haar huismense met ’n ysterhand, want sy dra die beursie. As die huis en die mense te veel word vir jou, kom loer by ons in.”
Teleurstelling is ’n loodswaar klip wat ’n ewigheid lank val en êrens in haar hart beland. “Ons? Is dit nou jou vrou en kinders?” vra sy gelykmatig.
Hy glimlag. “Beslis nie. Niks sal my ooit oorreed om my vryheid ter wille van ’n vrou prys te gee nie. Ek woon saam met my oupa Lukas en my ouma Kobie by oom Sebastiaan Brandenberg op die eiland.”
“Dan het jy ook op Flaminke-eiland grootgeword?” vra sy. Sy is verbaas oor haar gevoel van verligting omdat Erik ongetroud is. As hy boonop nie belangstel in ’n huwelik nie, beteken dit dat hulle vriende kan wees – en sy het ’n vermoede sy gaan vriende nodig kry op die eiland.
“Nee, in Johannesburg,” antwoord hy. “Oupa Lukas was ’n voorman in een van oom Sebastiaan se fabrieke, waar hy in ’n ongeluk beseer is. Hy het ’n operasie ondergaan, maar sy linkerbeen is effens korter as sy regterbeen, daarom loop hy mank. Oom Sebastiaan was bewus van my oupa se liefde vir boerdery. Daarom het hy die huis van die plaasbestuurder op die eiland laat opknap en sedertdien woon my oupa-hulle daar.”
“Dan is jou oupa tant Renate se plaasbestuurder?”
Hy glimlag flitsend. “Gelukkig nie. Oupa Lukas is nou vyf en sewentig en hy het die ongeluk kort voor sy aftrede gehad. Tant Renate het jare gelede ’n voltydse plaasbestuurder gehad en die huis het lank leeg gestaan. Ek weet nie wat oom Sebastiaan se reëlings met tant Renate is nie, maar hy het die plek en ’n paar hektaar grond gekoop of gehuur. Oupa Lukas hou ’n klompie melkkoeie en slagskape aan en werk graag in sy groentetuin. My ouma Kobie sorg vir die huishouding en bewerk haar blomtuin.”
“En oom Sebastiaan?”
Die uitdrukking op sy gelaat verdonker. “Hy is nou sewentig. Sy siekte het bykans tien jaar gelede begin. Ek glo dis een van die redes waarom hy my oupa-hulle na die eiland toe gebring het: hy wou nie alleen wees nie. Aanvanklik het hy gereeld stad toe gekom, maar die afgelope jare … Ouma Kobie versorg hom.”
“Hou jy ’n ogie oor hulle al drie?” vra sy begrypend.
“Hoe anders? My ouers het in ’n motorongeluk gesterf toe ek ’n seuntjie van drie was. Oupa Lukas en ouma Kobie was nog altyd my ouers én my grootouers.”
“En hulle sal my vriende wees?”
“As jy goed is vir Nicolette, sal hulle goed wees vir jou, Marné. Veral my ouma, want sy mis ander vroue se geselskap. Nicolette kuier graag by haar en vanselfsprekend sal jy saamkom as jy haar oppasster is.”
Sy is bly Erik de Ridder het haar kom haal, dink Marné terwyl sy deur die motorvenster staar. As Vincent Brandenberg haar reeds as ’n diensmeisie beskou, is die kans skraal dat sy met hom oor die weg sal kom. Sy kan uit Erik se beskrywing aflei dat tant Renate ’n tiran is, daarom sal hulle ook nie vriende wees nie. Wie bly oor? Tant Rentia en haar dogter, Ilze. Moontlik beskou hulle haar ook net as ’n betaalde huishulp. Maar oom Lukas en tant Kobie sal haar verwelkom – vir haar en Nicolette – en Erik is klaar haar vriend, al kry sy die gevoel dat sy hom nooit werklik sal ken nie.
Renate Brandenberg druk die koperknoppie teen die muur langs haar bed aanhoudend, wag ’n oomblik lank en stamp toe hard met haar kierie op die vloer. Sy leun uitasem terug teen haar kussings toe sy voetstappe op die trap hoor, en gluur Mathilda Fourie aan toe sy die slaapkamer binneskommel.
“Jy is vet, Mathilda. Jy klim die trap elke dag stadiger op,” smaal Renate toe Mathilda op die gemakstoel langs haar bed neerplof en haarself met ’n geruite sakdoekie koel waai.
“En jy is besete, Renate Brandenberg,” hyg Mathilda boos. “Daar lê jy perdfris en uitgerus op jou gerieflike troon en hiet en gebied al wat leef en beef. Skaam jy jou nie, mens? Jy weet ek het my hande vol met die huishouding en die liewe Nicolette, maar jy geniet dit blykbaar om van jou ’n oorlas te maak.”
“Jy is te familiêr, Mathilda. Net omdat jy van jongs af in my diens is, beteken nie dat jy my op my voornaam mag aanspreek nie. Ek neem aan jou vet het jou gesonde verstand aangetas,” sê Renate snydend.
Mathilda gluur grimmig na die uitgeteerde vrou in die groot bed. In haar jeug was Renate Brandenberg ’n beeldskone vrou wat oor ’n misterieuse, donker skoonheid beskik het, dink Mathilda met ’n heimlike gevoel en genoegdoening. Renate se eens digte, raafswart hare is nou yl en sneeuwit. Haar vel span styf oor haar skedel en die donker oë waarmee sy soveel mans bekoor het, lê gesonke soos twee swart kole in haar oogkaste. Was die smal lippe, toegerank met fyn plooitjies, eenmaal ’n aanloklike mond wat met ’n enkele glimlag ’n man kon betower?
“Die ouderdom is lelik,” sê Mathilda asof sy nie Renate se teregwysing gehoor het nie.
Renate staar haar oorbluf aan, leun nader aan haar en snuif hard. “Is jy dronk, Mathilda? Het jy die kooksjerrie gedrink? Toe jy jonk was en Hans van Vuuren –”
“Ja, ja, ek ken die storie,” val Mathilda haar ergerlik in die rede. “Maar destyds was ek agttien en Hans was die groot liefde in my lewe. Nou is ek ’n vrou van nege en sestig. Ek het te veel verstand om ná een en veertig jaar my nog aan kooksjerrie te vergryp omdat Hans my op die vooraand van ons huwelik in die steek gelaat het. Maar glo my, vrou, ek het ’n duisend ander redes om daagliks emmers vol sjerrie, brandewyn en mampoer te verswelg of om goedsmoeds ’n moord te pleeg.”
“Dreig jy om my te vermoor, Mathilda?” vra Renate.
“Nee, ek praat net om my siel skoon te kry, want ek wil nie ’n maagseer hê nie. Jy is werklik ’n beproewing en ’n oorlas, Renate –”
“Mevrou Renate!” val Renate haar skerp in die rede.
“Mevrou se voet! Ek spreek jou as ‘mevrou’ aan as ons gaste het, maar ek weet en jy weet ek is jou bloedeie kleinniggie,” sê Mathilda vies.
Renate kyk vinnig na die oop deur. “Sjuut, Mathilda! My skoondogter en kleinkinders is onbewus van ons bloedverwantskap.”
“Weet ek dit nie! Vincent behandel my nog sy lewe lank soos ’n tuinslak wat hy onder sy hak kan vermorsel, en Rentia is nie veel beter nie. Ek dink Ilze aard na my kant van die familie, want sy het darem goeie maniere … en Nicolette is ’n ou engeltjie.”
“Waarom ek my klokkie gelui het, is om te hoor of juffrou Marné Jordaan en Vincent nog nie tuis is nie. Ek het Vincent uitdruklik laat verstaan dat my ou vriendin, juffrou Annie Hofmeyr, hom om halfnege vanoggend verwag, want sy moes om halftien na die lughawe toe vertrek. Dis byna elfuur. Vincent ry nooit stadig nie. Hulle behoort al hier gewees het,” kom dit met ergerlike kommer van Renate.
“Vincent ry met sy perd op die eiland rond. Wat laat jou glo dat hy die meisiekind in Johannesburg gaan haal het?”
Renate verbleek merkbaar en kom orent. Haar hande gryp na die laken en komberse oor haar. Nee! Nee, dit kan nie!” Haar koolswart oë vat vlam in haar donker oogkasse. “Waarom het jy my nie eerder kom vertel nie, Mathilda? Is dit nie ter wille van jou dat ek ’n oppasster vir Nicolette wil hê nie? En nou het jy alles verbrou! Wat gaan Marné Jordaan van Vincent dink? Wat gaan sy van óns dink? Bel haar dadelik en dink aan ’n goeie verskoning, Mathilda. En stuur daardie nikswerd Vincent hierheen. Toe, spring!”
“Kyk, ou Renate, my dae van spring is hoeka verby. Wat maak dit saak wat die dogter van Vincent dink? Weet ons nie almal dat hy ’n niksnut en ’n leeglêer is nie?” vra Mathilda droog.
“Tel jou woorde, Mathilda Fourie! Vandag is ek baas, maar as jy my dalk oorleef: die toekoms van Flaminke-eiland en jou eie toekoms is in my enigste kleinseun se hande. Gaan roep hom, Mathilda, voordat ek jou met my kierie takel.”
“H’m,” kom dit van Mathilda terwyl sy orent kom en na die voetenent van die bed beweeg. “Ek weet maar alte goed daar skort niks met jou maer beentjies nie, Renate. Loop kan jy loop, as jy nie te lui was nie, maar hardloop … aikôna! Daarom gaan ek my sê sê voordat ek hier uitstap, vrou. Dis tyd dat jy ophou om siek te speel en die leisels weer behoorlik in jou eie hande neem. Rentia en Ilze is dorp toe, kamtig om kruideniersware te koop voordat die spruite weer afkom, maar wat wed ek jou Rentia kom weer met ’n nuwe rok en ’n paar skoene terug wat sy op jou rekening gekoop het? En dan is daar Vincent. Hy is kamtig jou kroonprins, maar hy het die siel van ’n beeswagter. Hy kan ure lank in die stalle deurbring en kyk hoe die koeie gemelk word, en dis ook al. En Ilze is net in die pad, want sy het niks om haarself mee besig te hou nie.”
“Ilze help my en haar ma en –”
“Om wat te doen? Jy lê soos Haar Koninklike Hoogheid hier op jou troon van ’n bed en laat Ilze so nou en dan toe om vir jou iets voor te lees. Maar ék versorg jou, Renate. Waarom kan Ilze nie gaan werk nie?”
“Moenie belaglik wees nie, Mathilda. ’n Brandenberg-dogter werk nie vir ’n salaris nie. Ek is volkome in staat om my kleindogter finansieel te onderhou,” sê Renate styf.
“So sê jy, maar die matte is deurgetrap en die gordyne –”
“Dis genoeg, Mathilda!” skree Renate en haal hard asem. “My eerste prioriteit is juffrou Jordaan. Vra Vincent om onmiddellik na my suite toe te kom.”
“Ek het jou klaar gesê: hy rits êrens op sy perd rond,” sê Mathilda onbesorg.
“Nou bel dan! Bel juffrou Jordaan en maak verskoning. Dink aan ’n goeie rede waarom Vincent haar nie kon gaan haal het nie. Ek is te ontsteld om helder te dink, anders het ek self gebel.”
“Bog en nonsies, ou Renate. Jy kon nog altyd beter lieg as ek. Gelukkig hoef ek nie vandag Vincent se sondes met ’n leuen toe te smeer nie, want Marné Jordaan is reeds op pad hierheen.” Mathilda merk die verwarring en ongeloof op Renate se gelaat en glimlag selfvoldaan.
“Maar hoe? Saam met wie? Of kom sy met haar eie motor?” Renate glimlag verlig. “Natuurlik, Annie het gesê die dogter het haar eie vervoer, maar ek het haar laat verstaan dat ek nie sal toelaat dat juffrou Jordaan so ver alleen ry nie. Boonop sal sy nie ’n motor hier op die eiland nodig hê nie.” Sy frons en kyk Mathilda vraend aan. “Wanneer is dié reëlings getref? Waarom is ek nie eerder daaroor ingelig nie?”
“Omdat jou kleinseun ’n bangbroek is, vrou,” sê Mathilda reguit.
“Sê jy Vincent is bang vir juffrou Jordaan?” vra Renate onthuts.
“Nee, mens, vir jou. Hy het vir Lukas de Ridder geld geskuld en toe ek gisteraand by Kobie gaan inloer het, het sy my vertel Vincent het toe eindelik Lukas se geld teruggegee. Ek wed jou hy het die brandstofgeld wat jy hom in die hand gestop het, gebruik om sy skuld mee te betaal.”
“Jy het ’n venynige tong, Mathilda. ’n Brandenberg sal hom nooit so verneder om geld by ’n plaasarbeider te leen nie,” sê Renate met ysige hooghartigheid.
“Klim van jou troontjie af, Renate. Die laaste keer toe ek geweier het om vir Vincent geld te leen, het hy Nicolette se spaarvarkie oopgebreek.” Renate verbleek merkbaar, maar bly haar ’n antwoord skuldig. Mathilda vervolg: “Erik de Ridder is gister Johannesburg toe. Vincent het hom gevra om die Jordaan-dogter saam met hom terug te bring.”
“Onbesonne … onverantwoordelik,” prewel Renate en sluit haar oë toe Mathilda haar vraend aankyk.
Mathilda haal haar skouers op en loop uit die kamer. Wat steek Renate vir haar weg? wonder sy. Waarom was dit vir Renate so ’n verskriklike skok dat Erik in plaas van Vincent vir Marné Jordaan in Johannesburg gaan haal het? Nie dat dit haar sal help om Renate reguit te vra nie.
Sy sal haar oë en ore oophou. Die waarheid sal wel uitkom, probeer sy haarself troos. Sy frons ergerlik. Niemand kan ’n geheim beter bewaar as ou Renate nie, dink sy misnoeg. Probeer sy nie al meer as twintig jaar lank uitvind presies hoe groot wyle Tinus Brandenberg se boedel was nie? Selfs Renate se eie seun het nie geweet nie en sy weduwee, Rentia, weet nog minder. Maar dalk weet Marné Jordaan waarom haar koms na Flaminke-eiland so belangrik vir ou Renate is. Wie weet, dalk sal Marné nie omgee om haar geheim te deel nie.
Gaan hy op sewentig soos sy ouma lyk? wonder Mathilda en betrag Vincent Brandenberg. Hy is lank en skraal soos sy ouma Renate, maar breedgeskouer. Hy het haar groot, donker oë, reguit neus en kleinerige mond met vol lippe. Die sterk beenstruktuur van sy gesig en sy digte, donker hare maak van hom ’n uiters aantreklike man, gee Mathilda onwillig toe. Tog hou sy nie van dit wat sy sien nie. ’n Man moenie soos ’n winkelpop lyk nie, besluit sy, en hy moet nog minder soos ’n winkelpop aantrek. Sy verkies Erik de Ridder met sy ruwe gelaatstrekke en verbleikte werkersklere. Selfs al sien sy hom net Sondae in ’n kerkpak.
“Het jy doof geword, Vincent? Ek het jou gesê jou ouma wil dringend met jou praat,” sê Mathilda ongeduldig.
“Waaroor?” vra hy agterdogtig.
“Die son, die reën en die wind, kind.” Sy gluur hom aan. “Hoe de joos moet ek weet? Gaan vra haar self.”
Hy frons ongemaklik. “Ek is veronderstel om in Johannesburg te wees. As sy moet uitvind ek het Erik gevra om –”
“Sy weet al,” val sy hom in die rede.
Hy snak na sy asem en kyk haar met blitsende oë aan. “Ellendige verraaier! Ek het uitdruklik gevra dat my ma en Ilze haar nie moet vertel dat Erik die meisiemens hierheen bring nie. Waarom het jy alles gaan uitblaker, tant Mathilda?”
“Omdat jy nie die moeite gedoen het om my te vra om ter wille van jou te lieg nie, broertjie. Toe, opskud! As jy my vies genoeg maak, speel ek dalk werklik die rol van ’n verraaier en vertel haar van al jou sondes.”
Vincent gluur haar met ’n moorddadige uitdrukking in sy oë aan, maar vrees snoer hom die mond. Hy loop uit die kombuis met ’n gemompelde verwensing en klim met die trap op na die derde verdieping. Waarom kan sy ouma nie op die grondvlak slaap nie, wonder hy misnoeg, maar hy ken reeds die antwoord: Renate Brandenberg weet sy is die hoof van die huis en uit haar verhewe posisie swaai sy die septer oor haar afhanklikes.
“Sot!” begroet Renate hom toe hy in haar kamerdeur verskyn. “Verstandelose dwaas! Geen wonder jy het jou tyd en my geld op die universiteit gemors nie, want jy het minder verstand as Nicolette!”
“As Ouma my klaar beledig het, sal ek kan verduidelik,” sê Vincent gedemp en kyk haar verwytend aan.
Haar oorlede man en hulle enigste seun was albei aantreklike mans, maar Vincent … hy is gebore om ’n prins te wees, dink Renate en voel hoe die woede uit haar wyk. Vincent was nog altyd haar lieflingkleinkind, want Ilze se voorkoms laat veel te wense oor en Nicolette is ’n immerkind. Sy het gesorg dat sy Vincent van Rentia vervreem, want sy het hom van jongs af openlik bevoordeel. As sy taktvol is, hoef sy nie die gevaar te loop om hom van haar te vervreem nie, besluit sy.
“Ek wou nie vir Ouma sê nie … Ek wou nie soos ’n bloedsuier klink nie, maar ek het probleme met my sportmotor. Die enjin gee las en ek het nuwe bande nodig, daarom het ek Erik gevra om die diensmeisie –”
“Diensmeisie!” val Renate hom skril in die rede, rooi vlekke van verontwaardiging op haar wange. “Jy noem Marné Jordaan ’n diensmeisie?”
Hy frons verwonderd. “Is dit nie wat sy sal wees as sy Nicolette versorg nie, Ouma?”
“Nee, stommerik! Ek kon enige meisie op die dorp gehuur het as ek bloot ’n oppasster vir Nicolette gesoek het, maar Marné Jordaan … Ek wil hê jy moet haar met die grootste agting en respek behandel.”
“Om watter rede? Wat gaan my vriendinne van my dink as ek een van ons huishulpe op die hande dra?” vra hy misnoeg.
“Dit raak my nie, want jy gaan met Marné Jordaan trou,” antwoord Renate met finaliteit en leun terug teen haar kussings.