Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 10

Hoofstuk 6

Оглавление

Bart Brinkman werk in die donker aan sy stokperdjie. Die knyptangetjie in sy hand is glibberig en hy moet ’n paar keer na die vel fotopapier gryp. Met groot konsentrasie trek hy dit heen en weer deur die plastiekbak waarin die chemikalieë golf. Elke hoekie moet deurweek word. Ingedagte druk hy die stuk kougom verby sy lippe, ontspan sy tong, suig dit dan terug tot agter sy valstande. Die peperment verdoof die skerp reuk van die chemikalieë.

Hy loer na die muurhorlosie. Nog ’n paar minute.

Versigtig vind sy skoenpunte die bekende buitelyne van sy werkbank. Hy beweeg skuifelend in die rooi skemer van die donkerkamer tot voor die beligter. Vir oulaas verstel hy aan die negatief, plaas ’n nuwe, skoon vel papier op die oppervlak, draai die knop om die beeld te vergroot. Die buitelyne van die figure in die foto vertoon nou vlymskerp. Sonder om daarvoor te soek, reik hy na die vergrootglas op die rak. Hy verstel aan die fyner detail van die beeld. Met ’n staalliniaal raam hy die mense. Hy is tevrede.

Sy vinger bewe tot by die skakelaar. Wit lig val in ’n sirkel om hom. Hy tel af. Drie, twee, een. Die wit verdwyn en die rooi skynsel in die vertrek keer terug.

Met die papier in sy hand haas hy hom na die plastiekbakke op die verste punt van die werkbank. Met presisie dompel hy dit om die beurt in die verskillende bakke chemikalieë.

Nou word die foto gehang om te droog. Hy tas na die skakelaar onder die werkbank. Wit lig volg. Hy ondersoek sy handewerk toe sy oë gewoond raak daaraan.

Die foto’s van Rhynveld se jaarlikse tennistoernooi het goed uitgekom. Hy het skoon vergeet dat hy die foto’s ses maande terug geneem het, maar toe Renate laas week skakel oor die ding met Tillman, het hy haar gevra of sy ’n onlangse foto van haar man het om vir die polisie te gee. Toe het hy van die tennistoernooi onthou, want hy weet Tillman verskyn op daardie foto’s.

Hy is tevrede met die meeste van die foto’s. Fyn detail. Mooi belig. Die bome vertoon effe kaal, maar die lug is wolkloos. Daar was ’n hittegolf daardie naweek, as hy reg onthou. Hy bekyk die gesigte een vir een. Madri Liebenberg van die laerskool agter die nageregtafel. Voor haar pryk die huisvroue se tuisgebak. Langs haar Gertie en Seun, Seun se vingers vol krummels soos hy aan kaaskrulle smul. Sakkie kap onhandig braaihout. Lente en Pieter Wagenaar sit op kampstoele tussen ’n plaat herfsblare. Dominee verdwyn agter Sias du Toit se arm. Toit du Toit, sy pa, kyk toe. Pa en seun se wange gloei langs die braairooster. Op die agtergrond is hul Mercedes-trok sigbaar. Op al die foto’s is Sias weggedraai van die lens, braaitang in die hand.

Lukas Jacobs staan met die trofee wat hy bo verwagting gewen het, sy gesig ongeskeer, bultende bobene onder die tennisbroek. Bart bekyk die reeks foto’s, hoe die jongeling die balle moker. Lukas het die trofee verdien. Dit was die eerste keer in vier jaar dat Dominee nie gewen het nie.

Op die laaste foto sit Sias en Toit du Toit op die trok se kap. Pa en seun glimlag vaagweg vir die kamera, die effek van die drank duidelik sigbaar. Bart sug. Party dinge verander nie. Hy ken elkeen van hierdie mense op hul voornaam. Rhynvelders wat hy deur sy kameralens dophou, maar nie van naby nie, want hy ag homself ’n buitestander.

Voor sy aftrede het hy genoeg met hulle omgegaan in sy professionele kapasiteit as landdros. ’n Aktetitel wat weggeraak het, skeisake, skuldinvordering, betwiste testamente, spoedkaartjies, aanrandings en aannemings. Boere met massiewe ego’s wat mekaar oor en weer oor onbenullighede dagvaar totdat die geld opraak. Plase wat uiteindelik op ’n bankrotveiling verkoop moet word. Hy kan boeke oor sy tyd as regsman skryf.

En toe tree hy af.

Dit was ’n onaangename tyd. Net ’n handvol van die Rhynvelders het hom ondersteun toe hy die naskoolse sentrum begin het. Meestal boere wat tydens die besige ploeg- en oestyd maar net te dankbaar was dat hy na hulle bloedjies sou omsien.

Die foon lui in die gang.

Sy knieë kraak. Hy was vandag lank op sy voete.

“Bart Brinkman, middag.”

Dis Gertie van die drankwinkel. Hy strek vir die stoel langs die telefoontafeltjie. Gertie hou van gesels.

“Van waar af is hy?” Hy staar na sy voete terwyl hy luister, rol die balletjie kougom tussen sy vingerpunte. Dit verhard langsaam.

“Speurder, soos in polisie?”

Dit gaan seker oor Tillman se verdwyning. Sou die speurder dit teenoor Gertie genoem het? Want as hy het, weet die hele dorp dit teen vanaand. Dan is Renate se wens dat die nuus stilgehou moet word daarmee heen.

“Hy’s wat?” Bart verstel aan sy gehoorapparaat. “Dit maak mos nou nie saak nie, Gertie! Natuurlik het ek plek vir hom.”

Daar is ’n opgewondenheid in hom toe hy aflui. Hy gaan inspekteer dadelik die agterste spaarkamer. Hier was lanklaas ’n gas in Huis Brinkman.

Klikbek

Подняться наверх