Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 11
Hoofstuk 7
ОглавлениеToit du Toit bereik die Amatikulu-riviermond saam met die laaste sonstrale wat oor die ruigbegroeide vallei val. Die rivier is in vloed. Die watermassa kronkel deur die KwaZulu-Natalse Middelland tot waar dit onder melkhoutbome deur in die warm Indiese Oseaan uitvloei.
Hy sien net gedeeltes van die rivier soos hy oor brûe ry, die res is tussen suikerriet versteek. Hy weet egter dat dit daar is, soos ’n luislang wat wag. Hy het al voorheen hier gekamp, maar die omgewing bly vir hom vreemd. Tog sien hy uit na die rustigheid ná die afgelope paar dae se adrenalien.
Hy het Vrydagaand in Virginia rondgehang nadat hy die Hino verkoop het en daarna tot in Welkom geryloop. Isobel sal reël dat daar van die Land Cruiser ontslae geraak word.
Van Welkom het hy die Intercape-bus na Bloemfontein gevang, waar hy by een van sy motorfietspelle oorgeslaap het. By dié het hy vir dertigduisend kontant ’n Triumph Daytona gekoop waarmee hy gisteroggend Rhynveld toe is. Toe hy egter by Klipbank indraai, gee die ketting mee, sodat hy die motorfiets tot in die stoor moes stoot.
Hy het sy rugsak in die wasgoedmandjie uitgedop, gaan stort, op sy bed neergeval en vanoggend tot ná agt geslaap. Hy het ’n oproep van Sias gemis en hulle het in grepe oor WhatsApp gesels terwyl hy sy goed pak. Toe het hy in die Mercedes-trok geklim en die pad hierheen gevat.
Nie eens Renate weet presies waar hy wegkruip nie.
Hy stuur die Mercedes behendig oor die hobbelrige pad. Die dryfas protesteer met tye en dan moet hy na ’n laer rat oorskakel om teen die bulte uit te sukkel. Hy navigeer deur dongas en slote tot die snelweg se gedreun agter hom vervaag. Hy kry warm, selfs met die ruite oop. Dit voel so anders as die droë lug van die Vrystaat.
Voor hom vorm die ruie plantegroei ’n tonnel. Tussen die wilde piesangbome en seepbessies voel dit nog meer drukkend. Die kap van die Mercedes breek verskeie takke. Op plekke verdwyn die son heeltemal. Die klam lug kleef aan hom en hy klap na muskiete.
Uiteindelik verskyn die reservaat se ingang. Die ysterhekke is toegegrendel. Hy skakel die enjin af, klim uit en ondersoek die hek. Te stewig om oop te breek. Hy klim oor die heining en begin in die rigting van die hoofkamp stap.
Daar is ’n voetpaadjie wat oor ’n helling strek, dan kronkel dit weer in die woud in. Vanuit die mistige skemer klink ’n bekende roep op: ’n tamboerynduif wat soek na sy maat. ’n Ent verder hoor hy die wyfie antwoord. Dit laat hom aan Elsje dink, sy het hom van voëls geleer.
Hy vind die kampwag waar dié op patrollie is. Ná ’n sku groet loop hulle in stilte.
“Meneer is een van slegs twee besprekings hierdie week,” sê die wag oplaas. “Die kamp is maar stil gedurende die skoolkwartaal.”
Toit antwoord nie. Hy het juis die reservaat gekies omdat dit doodstil sal wees.
Toe hulle die hek bereik, sluit die wag oop en mik vir die passasierskant van die trok.
“Spring sommer agterop,” beveel Toit.
Die wag beduie deur die oop venster hoe hy moet ry. Die kampterrein is net so geil en oorgroei soos die res van die reservaat.
“Ek het meneer in die verste tent gesit,” sê die wag met ’n verbouereerde laggie toe Toit die trok afsluit. “Niemand sal meneer daar pla nie.”
Toe hy uitklim, hoor hy die ritmiese breek van die branders anderkant die beboste duine. Hy loer na sy selfoon. Die sein is swak. Hy kon seker nie beter verwag het nie.
“Los,” sê hy toe die wag na sy bagasie op die passasiersitplek strek. “Wys my net waar my plek is.”
Hy ontkoppel die battery, sluit dit in die kajuit toe en vat sy rugsak en die koelboks. Hulle volg die loopvlakke wat soos oerbrûe tussen die tente en braaiplekke hang. Die hout kraak en kreun onder hul gewig. Alles lyk klam en ruik na molm. Teen die baksteenmuur van die ablusieblok groei daar mos.
Die tropiese landskap is vir Toit volksvreemd en tog ook bekend, seker oor dit hom so sterk aan die Okavango herinner. Hy kamp gereeld saam met die motorfietsryers op afgeleë plekke soos hierdie, wêrelde verwyder van Klipbank se rotsagtige rantjies en oop vlaktes.
“Hier’s ons nou, meneer,” sê die wag.
Die tent kyk oor die riviermond uit. Aan die oorkant van die malende water borrel rook by skoorstene uit.
“Kry julle soms moeilikheid met hulle?” Toit beduie na die rondawels.
“Nee, meneer. Niemand is dom genoeg om deur die Amatikulu te probeer swem nie. As die krokodille jou nie opvreet nie, sal die stroom jou uitsleep see toe.”
“O,” antwoord Toit afgetrokke terwyl hy weer na sy selfoon kyk. Hier is feitlik geen ontvangs nie. Hy wou vir Sias teruggeskakel het, sy span het die liga se eindstryd gehaal. Die toekoms lê oop voor sy seun. Toe hy daardie ouderdom was, het hy pas Klipbank en ’n berg skuld by sy oorlede pa geërf. En waar het dít hom laat eindig?
“Ons verkoop lugtyd en hout by die hoofkamp, meneer,” onderbreek die wag sy gedagtes.
Hy prop die selfoon terug in sy sak. Renate was baie spesifiek: geen kontak met die buitewêreld nie, slegs anonieme sms-boodskappe op die afgespreekte tye. Hy sal sy foon moet afskakel. Om die waarheid te sê, hy’s nie eens veronderstel om sy eie simkaart in die ding te hê nie.
“Wil meneer kom kyk?” Die wag hou die tentflap opsy.
Toit inspekteer sy blyplek vlugtig. Binnekant ruik dit na warm plastiek, modder en vis. Daar’s nie veel te sien nie: twee kampbeddens wat deur ’n riettafeltjie geskei word, muskietnette wat uit die dak hang.
“Dankie,” sê hy, en besef dan waarvoor die wag skimp.
Hy gee drie ekstra note saam met die fooitjie. “Sorg dat daar elke aand voor skemer twee bondels hout by my vuurmaakplek is. Droë hout.”
Die wag verkas met ’n glimlag en Toit begin sy rugsak uitpak. Seep. Blikkieskos. Sitronellakerse. Indian Tonic Water. Flitslig. Klere vir twee weke. Vuurhoutjies. Sonroom. Pynpille. Vier bottels brandewyn. Vleis in die koelboks. Meel. Chakalaka. ’n Pampoen. Biltong.
Hy tree terug, beskou sy proviand. Ja-nee, hy sal oorleef. Nou moet Renate en die ander net hul kant bring. Fok weet, Tillman het Vrydag sy gesig gesien.
Die wag keer terug met twee bondels hout.
“Ons het elke aand iemand aan diens, meneer,” sê hy toe hy dit langs die tent neerlê.
“Ekskuus?”
“As meneer in die nag wakker word van ’n geraas of iemand oor die houtplanke hoor loop … dis die nagwag.”
“Reg,” sê Toit.
Hy is self van plan om op die uitkyk te wees vir indringers. Renate Wagenaar is tot enigiets in staat. Sodra die wag hom in vrede laat, sal hy die .306 en die rollie onder die trok se sitplek gaan uithaal.
Hy skop sy skoene uit, strek hom uit op die kampbed. Wat ’n jammerte dat hy nie ’n bokkie of twee vir die kole mag skiet nie. Die reservaat is glo propvol wild. Dalk kan hy visvang, peins hy terwyl hy hom gemaklik maak. Die enkelbed is knap vir sy groot lyf.
Hy haal sy selfoon uit en tik vinnig: ONS HET JOU MAN. WIL JY HOM WEER LEWENT SIEN?
Hy stuur die boodskap, tel tot by sestig en skakel die foon af, presies soos hy en Renate afgespreek het. Hulle plan beter werk, en gou ook.
Maar hy gaan nie honderd persent by Renate se opdragte bly nie. Haar man moet nog vir Elsje se dood boet. In sý plan eindig Tillman Wagenaar nie ses voet onder die kluite nie. Hy wil hê Tillman moet ly. Daarom gaan hy hom aan die lewe hou, maar ver weg van al die rykdom waaraan hy gewoond is.