Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Voor Sollie na Rhynveld vertrek, sit hy en Nyandi vas.

“Ek verstaan nie hoekom jy moet gaan nie.” Sy vou haar arms voor haar bors en kyk hoe hy sokkies, onderklere en skoon hemde in sy tas pak.

“Dis vir werk, Nyandi. Waar’s my badkamersakkie?”

Sy volg hom tot in die badkamer. “Jy moes nooit voorheen weg van die huis af werk nie.”

“Want voorheen was ek net ’n konstabel en nou is ek ’n speurder. Besef jy ooit hoeveel dit vir my beteken dat Brummels my met my eie saak vertrou?”

Sy rol haar oë vir hom. “Rhynveld is nie eens ’n dorp nie. Agnass sê sy het nog nooit iemand van daar af ontmoet nie en Agnass ken almal in Phahameng. Wat presies gaan jy daar doen?”

Toe hy opkyk, is dit vas in haar frons. Sy vrou is kwaad.

“Ek gaan my werk doen. Dis ’n polisiesaak.” Hy ploeg deur ’n berg van haar rome en lekkerruikgoed om sy badsakkie te vind.

“Het die ryk boere dan nie hulle eie polisiemanne nie?” Daar is asyn in haar stem.

“Nyandi!”

“Ek sê maar net.” Sy beduie na die sinkpondokke in die verte. “Hier is meer as genoeg diewe, verkragters en moordenaars in Mangaung vir jou om te vang. Hier waar jy jou vrou gaan los. Alleen. Op haar eie.”

“Rhynveld se polisiestasie het ons hulp gevra. Ek is gekies om te gaan.” Hy maak sy stem streng, maar sonder om die vuur aan te blaas. Dit gaan hom nie baat om met haar te stry nie.

“Hoekom juis jy?”

Hy wil die koeksister van haar arms ontknoop. Sy kyk anderpad.

“Ek moet die saak oplos, Nyandi. Dit gaan goed lyk op my rekord, die tyd vir bevordering is om die draai. Selfs die kommissaris is bewus daarvan dat ek aan die ondersoek werk.”

“Die kommissaris … jou baas se baas?” ’n Flou opflikkering in haar oë.

“Jip.” Hy weet sy volgende woorde sal genoeg wees om haar te ontlont. “Ek los die bankkaart vir jou.”

Nou glimlag sy effens. Daar is lig aan die einde van die tonnel.

“Oukei, Sollie. Ek gaan vir Agnass vra of sy saans by my sal kom oorslaap.”

Hy voel amper skuldig. Hy vergeet soms dat Nyandi daaraan gewoond was dat mans vir haar vertel wat om te doen, dat hulle na haar omgesien het van kleuter tot tiener tot jong vrou. Haar broers vir wie sy in Phuthaditjhaba moes kook en was. Die ringkoppe van die kraal. Haar ooms met wie hy moes onderhandel toe hulle wou trou. Die ouer mans, énige mans. Nyandi is geleer om aan hulle almal onderdanig te wees.

Hy vermoed dis omdat hy vroue as sy gelyke hanteer dat sy tot hom aangetrokke was – die vreemdeling met die lelike merk oor sy gesig. Hy is ’n man, ja, maar een met ’n agterstand, een met ’n gebrek wat hom nader bring aan haar vlak. Sy letsel is ’n vloek én ’n seën.

“Ek sal laat weet as ek daar aankom.” Hy knip sy tas toe.

“Waar gaan jy bly?”

“Daar’s ’n hotel op Rhynveld. Ek het vinnig van die kantoor af geskakel om te hoor of daar kamers beskikbaar is.”

Haar lyf voel nog stokkerig en styf toe hy haar by die motor omhels.

“Wanneer sien ek jou weer?” vra sy.

“Ek weet nie. ’n Paar dae, het die kaptein gesê.”

Sy groet hom darem met ’n piksoentjie, en staan lank in die truspieël en wuif.

Halfdrie, wys sy horlosie toe hy en die Corolla die snelweg vind. Die verkeer tot anderkant Maselspoort is druk, maar gou verdwyn Bloemfontein en word die pad ’n eentonige grys lyn wat voor hom uitstrek. Hy sluit aan by die stroom lorries en enkele motors op die N1. Met tye kraak die tweerigtingradio as hy verby radiotorings op die plase ry.

Brummels se aanwysings laat hom die N1 vir die N5 verruil. Die grootpad sny oor die Vrystaatse vlaktes en daar is selde ’n draai of kronkel in die pad. Die omgewing lyk maar vaal. ’n Paar trekkers dolwe die grond met staalploeë om waar kaf uitgedroog op die lande staan. Beeste lê lui en herkou. Soms waag ’n langstertflap dit oor die pad. Op die horison wink die sandsteenkoppe van die Maluti’s, terwyl die valleie onderbreek word deur blikkiesdorpe, hutte, populierbome, kragdrade, aalwyne en windpompe. Van voor na agter en van regs na links is die uitsig grootliks dieselfde.

Sy gedagtes word sy geselskap. Die verklaring in die dossier is voltooi in ’n fyn, presiese handskrif deur Renate Wagenaar, vrou van die vermiste Tillman. Hy is laas die middag van Vrydag 6 Oktober op die familieplaas Onverwacht gesien, wat beteken hy word al vir tien dae vermis. Tillman was veronderstel om daardie aand in ’n hotel in Johannesburg te slaap, waar hy die Saterdag ’n landboukonferensie sou bywoon. Volgens Renate het hy nooit laat weet dat hy veilig gearriveer het nie. Sy het die volgende oggend die hotel geskakel en hulle het bevestig dat hy nooit ingeboek het nie. Die Sondagoggend het sy hom as vermis aangemeld.

Tillman se selfoon is af en die opsporingstoestel in sy viertrek wys geen sein nie. Sy voertuig is laas op die N5 net buite Senekal deur ’n spoedkamera afgeneem. Die verkeerskonstabel het hom probeer stop, maar hy het verbygejaag. Die insident is aangemeld. Sy bankkaarte word nie gebruik nie. Die man het soos ’n groot speld verdwyn.

Sollie se vinnige Google-soektog het bevestig dat Tillman Wagenaar welbekend is in die kontrei, en landwyd in die boeregemeenskap ook. Artikels oor hom en sy enorme plaas verskyn gereeld in Landbouweekblad. Hy is al twee keer bekroon as Boer van die Jaar, en hy word hoog geag deur die teelfederasies vir Afrikanerbeeste. ’n Onlangse foto van hom wys ’n aantreklike man in sy sestigs wat duidelik meestal in die son werk. Diep plooitjies keep langs sy oë en oor sy voorkop. Perfekte wit tande en krullerige grys hare. ’n Megaboer. ’n Suksesvolle man. ’n Ryk man.

In Bethlehem stop Sollie om brandstof in te gooi. By ’n kafee in Voortrekkerstraat kry hy nóg ’n vleispastei. Die sooibrand gaan hom opkeil.

Dis kort ná vyf toe hy uiteindelik die Rhynveld-afrit neem. Die pad verander in verkrummelde teer en daal effe in ’n vallei in. Die dorp word deur ’n spruit omarm; wilgers en bloekombome staan geëts teen die horison. Hy steek ’n smal brug oor en ry die eerste woonbuurt binne. Die erwe is groot en die meeste van die huise het ruim stoepe en sit ver agtertoe, versteek agter ogiesdraad- of betonheinings. Van die tuine is baie goed versorg, terwyl ander lyk asof die eienaar handdoek ingegooi het teen die ontembaarheid van die Vrystaatse veld. Onkruid, roosbome, kappertjies en wildemoerbeibome ding mee om oorlewing.

Die teerpad eindig stomp in grond en klippe. Sollie verminder spoed en maak die ruit oop. Daar is klam sweetkolle onder sy arms. Dis warm vir Oktober.

Die strate is wyd en die sypaadjies breed. Die dorp is nog kenmerkend van die ou bedeling: Afrikaanse vanne pryk op die randstene verbleik deur die son. Daar loop ’n stuk of ses beeste in die pad, ’n tuinwerker met ’n hark oor sy skouer en ’n bejaarde dame wat aan ’n loopraam klou. Almal staar hom aan.

Verder is die dorp stil; dis net die motorbande wat oor die gruis knars en die sonbesies wat in sy ore gons. Die woonbuurt eindig so vinnig as wat dit begin het en hy bevind hom in ’n besonder wye straat. Kerkstraat, lees hy die naam in die verbygaan. Hoe dan anders?

Die hoofstraat eindig voorspelbaar voor ’n kerktoring, die tipe waarin ’n bronsklok soos ’n reusagtige peer hang. ’n Vertakking in die straat vloei om die kerk, loshande die grootste struktuur in die dorp. ’n Entjie verder lê ’n tennisbaan in die son en bak. Die res van die dorp bestaan uit nog vaal huise, ’n vulstasie met een petrol- en een dieselpomp, ’n geboutjie wat lyk na ’n drankwinkel, ’n klerewinkel, ’n skryfbehoeftewinkel wat ook kontantlenings adverteer en daarnaas ’n algemene handelaar.

Hier, waar ook ’n OTM is, is daar meer beweging. Mense loop by die winkels in en uit, of staan op die sypaadjies en gesels. Die klandisie is oorwegend swart, maar selfs hulle kyk Sollie aan asof hy uit die buitenste ruim geland het.

Om die draai verskyn ’n groen gebou met hoekstene van sandsteen en verdonkerde ruite. Die Rhynveld Hotel. Hy druk die Corolla se neus by die naaste parkering in. Sy kar is die enigste een daar.

Die groot lokaal waarop die hotel se swaaideure oopmaak, is leeg. Hy sit sy tas langs hom neer en wag geduldig voor die donkerhoutlessenaar waarop ’n kennisgewing gaste vra om hulleself aan te meld. Aan wie nogal? wonder hy.

Dis koel hier binne en in die lug talm ’n kosreuk. Hy besef hoe honger hy is. Dalk kan hy vinnig gaan stort en nog betyds wees vir aandete.

Hy wag. Niemand verskyn nie.

Die hotel het duidelik beter dae geken. Die staalplafon is hoog en die vloer kom uit ’n era toe teëls nog nie bestaan het nie: donkerhoutblokkies wat blink onder voosgetrapte matte. Regs van die lessenaar staan vier lae leunstoele met geskifte oortreksels, met langsaan kanttafeltjies van rottang. Teen die muur hang ’n yslike geraamde kaart uit ’n vroeër tyd en portrette van mans in donker klere wat stroef na hom staar. Hulle het opkrulsnorre en vertoon jaggewere wat hulle soos spiese vashou. Almal dra hoedens.

Toe ’n stofsuier in die verte begin raas, besluit hy om na iemand te gaan soek. Die ontvangsvertrek lei na ’n gang wat na pyptabak ruik. Aan die onderpunt hang twee deure aan ’n ovaalvormige ingang. Dit lyk soos ’n kroeg uit ’n cowboyfliek. Binne speel musiek en murmureer diep baritonstemme.

Hy loop nader aan die deure, maar ’n stem stuit hom.

“Kan ek help?”

Toe hy omkyk, deins die vrou effe terug. Die letsel, besef hy.

“Wat soek jy?” Die tenger figuur staan met haar hande in vuiste gebal, muisvaal hare en ’n kwaai uitdrukking op die gesig.

“Ek is jammer,” glimlag Sollie. “Die ontvangs was leeg. Ek het vroeër vandag geskakel. Oor ’n k-k-kamer?”

Sy frons vir hom. “Werklik?”

Hy volg haar terug na die lessenaar. Sy trek ’n dik boek uit ’n laai.

“Het jy bespreek?” vra sy kortaf.

“Nee, jy’t gesê dat julle baie plek het. R850 per nag, ontbyt en aandete ingesluit.”

“Is jy seker dat jy met my gepraat het?”

“Is hier ’n ander dame wat julle telefoon beantwoord?”

“Nee. Ek kan net nie onthou dat jy geskakel het nie. Het jy jou naam en volle besonderhede gegee?”

“Ek k-k-kan nie nou onthou nie. Ek was h-h-haastig.” Hy verskuif sy voete, gryp na sy tas toe dit omkantel. “Ek sal k-k-kontant betaal.”

“Ek sal kyk of ons plek het.”

Sy soek kamtig deur die bladsye, maar van waar hy staan, kan hy sien dat daar geen inskrywings is nie.

“Jammer, ons is vol.” Sy klap die boek toe.

“Ekskuus?” sê hy oorbluf.

“Ons is vol. Jy moes vooraf betaal het.”

“Is jy s-s-seker?” stamel hy.

“Ja. Geen plek vir die volgende week nie, jammer.”

Hy staan soos ’n swaap met sy tas in die hand. Mejuffrou Muis kruis haar arms en kyk hom uitdagend aan. Hy besef wat sy verwag: hy moet waai. Hy is nie welkom in hierdie hotel nie.

Hy voel hoe dit van sy borskas af warm word, in sy nek op. “Kan ek met die bestuurder praat, asseblief? Ek kan duidelik sien dat julle nie ander gaste het nie. Die parkeerarea is leeg.”

“Kan jy nie lees nie?” Sy wys na die kennisgewing bo die ingang. Die woorde is in sierskrif: Toegang voorbehou.

Hy bewe só dat hy skaars sy identiteitsdokument kan uitkry. “Ek is van die polisie. Kyk!”

Sy wuif sy hand weg. “Meneer, asseblief. Ons het nie plek nie. Hoeveel keer moet ek dit nóg vir jou sê? Ek moet jou nou vra om te loop.”

“Waar is jou bestuurder?”

“Ék is die bestuurder.” Sy roep na die kroeg toe: “Sakkie! Sakkie, kom help!”

Voetstappe in die gang en Sakkie verskyn. Hy is so kort as wat hy breed is en dra ’n vuil voorskoot. Sy arms swaai langs sy sye asof hy dit as roeispane gebruik om sy enorme boepens vorentoe te stu. Sy blik is ’n waarskuwing toe hy Sollie aangluur.

Sollie se ore gloei toe hy uitstap. Rhynveld se hoofstraat het merkbaar verstil. Twintig voor ses, wys sy horlosie. Die algemene handelaar en die klerewinkel het pas gesluit. ’n Taxi laai passasiers op.

Hy is nie kwaad nie. Hy is briesend. Hy is driehonderd-en-twintig kilometer van die huis af en hy het geen blyplek nie.

Hy kan na die township toe gaan en daar by ’n sjebeen inval. Dalk het iemand slaapplek teen ’n prys. Maar hy weet uit ondervinding dit gaan moeilikheid soek wees, hierdie is nie Bloemfontein nie.

Hy kan seker in die Corolla slaap …

Toe hy die tas in die kattebak terugsit, meet hy die agtersitplek. Vergeet daarvan. Afgesien van die feit dat hy nie ’n kussing of kombers saamgebring het nie, sal hy kwalik lêend daar inpas.

Hy staan verdwaald op Kerkstraat se hoek. Iemand loer vir hom deur ’n vuil venster van die drankwinkel. Hy gluur die agie kwaai aan, tot dié verdwyn. Hy is lus en klim in die kar en neuk terug Bloemfontein toe. Dan vang sy oog dit: op ’n gekreukelde vel papier langs die drankwinkel se deur word ’n gastehuis geadverteer. Hy moet binne navraag doen.

Die plek is leeg, afgesien van ’n paar laerskoolkinders en ’n dronkie. Die kinders hang in ’n bondel oor die toonbank waaragter ’n gesette vrou met rooi wange vir hulle wag om hul bestelling te plaas. Sollie gaan staan in die ry agter die mompelende man wat na bier ruik. Die voorbok onder die kinders klem ’n hand vol munte vas terwyl die res stry oor die lekkers in die plastiekhouers op die rak.

“Toe, toe!” por die vrou hulle aan. Haar wange is vol gebarste aartjies en haar hare kleef klam aan haar slape.

Langs haar op ’n stoel sit ’n jong man wat die kinders stip dophou. “Watse swiets gaan julle vat, hè?” vra hy en lag met ’n hoë hie-hie terwyl hy sy hande voor sy gesig druk.

Daar moet iets met hom fout wees, dink Sollie.

Uiteindelik plaas die voorbok die bestelling. Die vrou begin toffies, kougom en suigstokkies aftel.

“Ja, butle-butle!” waarsku sy toe sy die lekkers in die kinderhandjies uitkeer.

’n Toeter raas buite en die kinders maak haastig hul tasse bymekaar. Hulle verdwyn met ’n gekwetter by die deur uit.

Die klant voor Sollie bestel ’n Black Label quart. Die vrou haal dit van ’n rak agter die toonbank af en gee dit vir die jong man om in bruinpapier toe te draai.

Sy draai na Sollie. “Hoe help ons?”

“Ek kom navraag doen oor die gastehuis?”

“Was jy al by die hotel?” vra sy vriendelik. “Dis goedkoper as die gastehuis, maar by Bart kry jy drie etes per dag.”

“Hulle het nie vir my plek gehad by die hotel nie.” Sollie is te uitgeput om nog skaam te voel. Hy smag na ’n stort en ’n bord kos.

“Wat is jou naam?” Sy haal ’n telefoon onder die toonbank uit en pons ’n spul nommers in.

“Sollie, mevrou. Ek is van Bloemfontein se speurtak.”

“Tannie Gertie, asseblief,” help sy hom reg, en dan word haar oproep beantwoord.

“My naam is Seun,” neem die jong man sy kans waar. “Dis my ma.” Hy wys na Gertie.

“Hallo.” Sollie voel simpel waar hy staan, uitgelewer aan die man wat seker skaars op die ontwikkelingsvlak van ’n kind is.

“Ek het ook ’n seelplek gehad.” Seun glip van sy stoel af en waggel om die toonbank. Hy pluk sy skoen én sokkie uit en druk terstond sy sweterige voet in die lug.

“Kyk!” dring hy aan.

Sollie weet nie waar om te kyk nie. Die voet hang tussen hom en die toonbank.

“Kyk my seelplek.” Seun wikkel sy groottoon terwyl hy na die toonbank gryp om sy balans te hou.

Sollie moet vooroor buig om te kan sien. Die merk op Seun se harige groottoon is ’n sentimeter lank.

“Hoe het jy seelgekly?” vra Seun besorg.

Sollie het nie die vaagste benul wat van hom verwag word nie. Hy loer senuagtig na Gertie. Sy knipoog gerusstellend vir hom en gesels lustig voort.

Hy deins te laat terug toe Seun se vinger uitskiet en op sy wang land. Die hand so naby aan sy neus ruik na grond en Marmite. Hy weet nie of hy kwaad, hartseer of verskrik moet reageer nie.

Dan vertrek Seun se gesig asof hy pyn verduur terwyl sy vinger stadig oor die letsel gly. Hy volg die merk tot waar dit onder Sollie se ken eindig en al die pad terug tot teen sy haarlyn. Sollie staan versteen. Niemand, nie eens Nyandi, het dit al ooit gedoen nie!

“Seun!” raas Gertie van agter die toonbank, haar hand oor die gehoorbuis van die foon.

“My seelplek gesond wôd.” Seun wys weer na sy voet. “Is joune nog seel?”

“N-n-nie meer nie,” is al wat Sollie kan uitkry.

“Ek het ook ’n ladio!” bokspring Seun se aandag. “Kom kyk!” Hy draf opgewonde na die agterkant van die winkel, beduie wild met sy arm.

Gedwee volg Sollie hom tot in ’n stoorkamer. Daar, vasgebout teen die muur, is ’n tweerigtingradio. ’n Omgedopte bierkrat met ’n kussing daarop bied sitplek.

“Is dit jou radio?” vra Sollie verbaas.

“Ja! Ek jou da-ô loep!”

’n Demonstrasie volg. Sollie is verbaas om te sien dat dit nie net ’n speelding vir ’n kind is nie. Die radio raas en kraak soos Seun deur die frekwensies soek.

“Ek een by die huis ôk,” verklaar hy trots.

Gertie verskyn in die deur. “Reg, Bart het vir jou plek, Sollie.” Sy hou ’n skeursel papier na hom uit. “Hier’s die adres. Dis net twee strate weg.”

Sy kry Seun aan die skouers beet en boender hom sonder seremonie by die stoorkamer uit.

“Jammer oor dié een,” sê sy sag. “Hy skrik mense soms af, maar almal in Rhynveld ken hom so. Party dae dink ek mos hy verstaan meer as wat hy voorgee.”

“Geensins,” glimlag Sollie. “Dankie vir die hulp.”

Terug agter sy motor se stuur kyk hy na die adres. Huis Brinkman, Piet Uys-straat.

Seun staan voor die drankwinkel vir hom en waai. “Ek loep jou!” Hy wys na die lugdraad op die Corolla se dak.

Klikbek

Подняться наверх