Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 7
Hoofstuk 3
ОглавлениеVir Sollie Mthembu kon hierdie Saterdagmiddag nie vinnig genoeg aanbreek nie. Vanoggend in die bank saam met Nyandi was ’n nagmerrie.
“Jammer, meneer Mthembu …” Die jong dame in haar rooi uniform was beleefd in haar strengheid. “Dalk oor ses maande of ’n jaar, as van die ander lenings afgelos is?”
Sollie het voor die toonbank gestaan soos ’n kind wat kwaad gedoen het. Die lening vir die kar wat sy vrou so graag wou hê, is afgekeur.
Terug by die huis in Phahameng gaan soek hy met ’n koppie tee skuiling op die stoep terwyl Nyandi gisteraand se skottelgoed in die emmer was. Dit klink soos oorlog in die tweeslaapkamerhuisie. Hy tuur oor die teëldakke van die HOP-huise van Mangaung, tot waar dit in die verte van baksteengeboue na sinkplate vervaag.
Gewoonlik kalmeer sy vrou ná so ’n uur of wat.
Hy het skaars aan sy tee begin drink of sy vrede word verder versteur. Iemand staan in die straat en wuif.
“Sollie!” roep die figuur na hom.
Hy bak sy hand teen die laatmiddagson. Agnass van langsaan hang oor die hekkie met ’n skottel onder die arm.
Sugtend kom hy orent. Asof hy nie genoeg moeilikheid het nie.
“Is jou vrou by die huis?” vra sy toe hy nader kom.
Agnass praat Suid-Sotho asof sy dit sing, maar dit bluf hom nie. Haar donker oë kyk ’n gat deur hom van onder haar potloodstreep-wenkbroue. Sy hou daarvan om polisieman te speel. Koerantman ook. Wie van hy of Nyandi het gisteraand die hardste geskree met die groot bakleiery?
Sy moes op WhatsApp by Agnass geklik het. Sy was vanoggend briesend toe hulle uit die bank kom. Het nog nie weer ’n enkele woord met hom gepraat nie. Al die pad van Bloemfontein se middestad tot hier het sy net dikmond by die taxi se venster uitgestaar.
“Sy is, ja.”
“Nou gaan jy my laat inkom of wat?” Agnass se stemtoon het verander. Nou rol die woorde soos klippe uit haar mond.
Sollie maak asof hy daaroor dink. Mibastraat se dagblad verpes dit as iemand haar laat wag. Sy trap rond en pluk-pluk aan die vadoek vol vetkolle wat oor die skottel hang.
Oplaas haal hy die sleutel uit sy sak en vroetel met die slot en ketting. Hy staan opsy om te keer vir sy kniekoppe toe die hekkie se geroeste skarniere begin draai.
Agnass storm verby. Die voordeur word toegeklap.
Sollie loop terug na sy sitplek, vies oor sy tee wat nou koud is. Die vroue praat hard genoeg dat hy die gesprek kan volg. Moontlik bedoel hulle dit so. Nyandi het van Afrikaans, wat hulle twee gewoonlik in die huis praat, na Suid-Sotho oorgeslaan.
“Elke sent moet sewe keer omgedraai word,” sê Nyandi met ’n huilstem. “En hy steek die spaarboekie vir my weg. Ek weet nooit wat aangaan nie!”
Agnass mompel iets wat Sollie nie kan uitmaak nie.
“Hy blameer mý dat die lening vir die kar nie toegestaan is nie!”
Sollie skud sy kop. Dis nie waar nie. Die probleem is, hy verdien nie genoeg geld nie. Wel, nie genoeg om by te hou met wat Nyandi wil uitgee nie.
“Weet jy wanneer laas het ek nuwe skoene gekry?” kla Nyandi voort. “Of selfs net ’n nuwe rok?”
Die ouer vrou se antwoord is weer onhoorbaar.
Dan beweeg die stemme na dieper in die huis en Sollie verloor die draad van die gesprek. Maar hy weet sy vrou kla nou oor alles wat voorkom by die buurvrou. Want nuwe skoene is nie al waaroor die bakleiery gegaan het nie. Nyandi is kwaad omdat hy haar op die vingers getik het: sy spandeer geld wat hulle nie het nie.
Hy sug diep. Oor ’n paar maande word hy agt-en-dertig, en sy vrou se ambisie het syne met myle verbygesteek. Sy loopbaan hou eenvoudig nie tred met Nyandi se kooplus nie. Die bevordering van konstabel na sersant het skaars ’n duik in hul skuld gemaak, die bedrag op sy salarisstrokie is net nooit genoeg nie.
By die kerk vertel Nyandi vir almal dat hulle na huise in die stad se noordelike voorstede kyk. Sy dra elke dag peperduur skoene, selfs as sy die huiswerk doen. Sy onthaal die straat se vroue met toebroodjies, koek en koffie terwyl hy by die werk is. Maar die ergste vir Sollie: sy loer met kalfsoë na die koorleier se nuwe ryding. Hy moes geweet het dit sal die volgende ding op haar lys wees: ’n blink, nuwe kar wat hulle met haar vriende kan volpak vir kerkdienste aan die ander kant van die stad.
En as die aanmanings vir die kredietkaart of die Miladys-rekening deur die pos kom, kyk sy net anderpad. Dan is dit sý probleem.
Die geldkwessie is nie net haar skuld nie, weet hy. Hy wil nie hê sy moet werk nie. Watse werk gaan ’n meisie sonder matriek buitendien kry? Oor sy dooie liggaam sal hy toelaat dat sy ander mense se huise skoonmaak.
Hy vee moeg oor sy gesig. Die lewe is nie regverdig nie. Hoe lank gaan hulle nog so moet sukkel? Is hierdie huisie in Phahameng dan ál wat hulle beskore is? Die skoongeveegde, klipperige grond, die papperige heinings, die riool wat in die strate loop, die vullis op die sypaadjies, die alewige stroom mense wat kom en gaan tussen die township se duisende eenderse huisies?
Dís wat sestien jaar in die SAPD hom in die sak gebring het: ’n vuurhoutjieboksie op ’n kaal stuk grond in die middel van nêrens. En ’n hoop skuld. Hoe sal sy vrou dit ooit begryp?
Nes Nyandi wil hy ook uit hierdie soort bestaan ontsnap, maar anders as sy kan hy dit nie met kredietkaarte en klere op skuld doen nie. Soms dink hy sy moes nooit die eenvoudige plattelandse lewe in Phuthaditjhaba agtergelaat het nie. Haar verstaan van die wêreld is so kinderlik en naïef.
Agter hom swaai die voordeur oop. Die twee vroue skuur by hom verby. Hulle staan lank by die hekkie en gesels. Agnass waarsku hom met ’n laaste kyk voor sy verkas.
“Nyandi,” keer hy toe sy verby hom mik. “Ek is jammer …”
Haar wange blink nog van die trane.
“Ke buile dintho tse mpe,” probeer hy weer.
“Dis oukei, Sollie. Agnass het vetkoek gebring. Ek skep vir jou in.”
Sondagnag slaap hy sleg. Nyandi snork en die stapel dossiere op sy lessenaar jaag hom.
Te gou breek Maandag aan. Hy het al weer tot in die vroeë ure wakker gelê met die keffende honde en Phahameng se onrustige gemor as geselskap.
Dis kaptein Maartin Brummels wat hom uit die slaap hou, besef hy toe die taxi deur Bloemfontein se oggendverkeer vleg. Of eerder, die afwesigheid van Maartin Brummels.
Sollie het vyf jaar lank vir ’n pos in die speurafdeling gewag en tot dusver vertrou die kaptein hom met niks meer as papierwerk nie. Hy het nog nie ’n enkele saak op sy kerfstok nie, en verhogingstyd is om die draai. Hy voel nie eens soos ’n speurder nie, vir wat dan al daai kursusse en eksamens? Nooit ’n misdaadtoneel van sy eie nie. Nooit sy eie saak nie.
Wanneer gaan Brummels hom met ’n regte ondersoek vertrou? Hulle is sewe speurders wat onder die kaptein moet werk en hy kla konstant oor die tekort aan mense, waarom dan nie vir hom wat Sollie is inspan nie? Dit voel alewig asof Brummels oor hom, verby hom of na iemand agter hom kyk. Iemand anders. Iemand meer verdienstelik, iemand meer bevoeg.
Is dit oor die letsel op sy gesig? Dink die kaptein dit sal die publiek afskrik?
Dit kan nie só aangaan nie, besluit Sollie. Hoe moet hy leer? Hy gaan Brummels vandag daaroor konfronteer. Hy het nie by die speurdiens aangesluit om in ’n kantoor opgesluit te word nie, anders kon hy eenvoudig konstabel Mthembu gebly het.
Hy fluit vir die taxibestuurder toe hulle by Paul Kruger-rylaan kom. Vanaf die kruising met Parkweg is dit net ’n entjie tot by die rooibaksteengebou waar hy werk.
In Parkweg-polisiestasie is die gange reeds bedrywig. By ontvangs sit aangedane vroue saam met mans wat stroef voor hulle uitstaar – bekommerde ouers, eggenote en familielede. Hulle is hier om die naweek se vangs op te eis óf los te koop. Ander het gekom om vermistes of misdade aan te meld.
In sy kantoor verstel Sollie die plastiekstafie van die blinding sodat sonlig deur die vertrek spoel en die afgeleefde stoel en gekrapte lessenaarblad verhelder. Hy kyk op sy horlosie. Dis nog vyf-en-veertig minute voor hul oggendvergadering met die kaptein begin. Hy kan net so wel begin werk.
Die dossiere wat laaste aangeland het, moet uitgesorteer word. Moord. Roof. Plaasaanval. Verkragting. Roof én moord. Aanranding. Hy plaas elkeen op die regte hopie sodat die ander speurders dit later by hom kan afhaal. Dis húlle werk om vleis aan hierdie geraamtes te kry, nie syne nie. Nog nie.
Afgetrokke blaai hy deur die boonste dossier op die hopie naaste aan hom. Aanrandingsaak. Dit bevat kwalik ’n behoorlike verklaring, maar uit wat hy lees, kan Sollie met gemak sy eerste afleiding maak: dwelmtransaksie wat skeefgeloop het.
Toe hy na die volgende dossier strek, begin sy foon skril lui.
“Mthembu, is jy al hier?”
Sollie herken die growwe, bombastiese stem. “Goeiemôre, kaptein Brummels.”
“Kom na my kantoor toe, bring MAS-7125.” Die lyn gaan dood.
Sollie blaai vinnig deur die lêers. Hy vind die dossier onder die hopie vir moord en haas hom na Brummels se kantoor.
“Sit!” blaf die kaptein.
Sollie weet om hom nie aan die bevel te steur nie. Die ander speurders is reeds teenwoordig, en Riaan en Mike beset die enigste twee beskikbare stoele. Sicelo, André en Thebe staan teen die muur. Mapaseka leun soos ’n vraagteken oor die staalkabinet, besig om in haar handsak te grou.
Sollie kry die indruk dat hulle net vir hom gewag het. Hy groet deur vlugtig te knik en sit die dossier op die lessenaar neer. Brummels staan en rook terwyl hy deur die venster na buite staar. Sollie neem stelling in langs die boekrak en voel-voel na die Beretta wat ongemaklik teen sy maag druk.
Die kaptein gaan sit agter die lessenaar en druk sy sigaret in die oorvol asbakkie dood. Hy beduie na die koerant wat oopgevou voor hom lê. “Het julle hierdie gesien?”
Hulle leun nader om die Oggendpos se voorblad te lees. “Kommissaris deel kontrakte aan familie uit”, sê die hoofopskrif.
“Die kommissaris was vroegoggend al op my case,” grom Brummels. “Hierdie kak gaan sít.”
“Ons kan tog nie daarvoor instaan nie, kaptein,” sê Riaan, die speurder met die meeste ondervinding naas Brummels. “Wat het sy familie se doen en late met moord-en-roof uit te waai?”
Brummels frons hewig. “As die baas sleg lyk, lyk ons almal sleg.”
“Wat sê die koerant, kaptein?” vra Mapaseka. Sy kou aan ’n Lunch Bar wat sy uit haar handsak opgediep het.
“Die kommissaris se familie het glo alles van kramdrukkers tot kakpapier aan moord-en-roof verskaf. Noem enigiets en hulle het blykbaar ’n kwitansie daarvoor.”
“Die vraag is, is dit onwettig?” Mike se wenkbroue lig saam met sy mondhoeke.
“Dis nepotisme in die ergste graad! En nou vra die media vrae oor elke liewe ding hier by Parkweg.”
“Wie gaan die ondersoek teen die kommissaris lei?” druk Sollie homself by die gesprek in.
Alle oë draai na hom.
“Watse ondersoek, Mthembu?”
“Daar moet sekerlik ’n ondersoek wees, kaptein … uit hierdie kantoor uit. Parkweg se finansiële forensiese afdeling is een van die beste in die land.”
Riaan en Mike rol byna gelyk hul oë vir Sollie.
“As …” Brummels laat die “s” tussen sy voortande uitgly asof hy die woord wil vasknyp. “Ás daar ’n ondersoek plaasvind, Mthembu. En beslis nie jy nie. My speurdiens bly daaruit. Hierdie afdeling maak nie ’n vyand van die kommissaris nie.”
Sollie sien hoe Riaan en Mike onderlangs vir mekaar glimlag. Hy voel die woede in hom opstuif. Nou is hy al weer die donkie in die verhaal.
“D-d-dis mos nie ons wat k-k-kontrakte aan familie uitgedeel het nie,” stoei hy deur sy woorde. “D-d-dis ons plig, kaptein. Dis b-b-bedrog.”
“Bedrog is ’n baie sterk woord, Mthembu. Ek waarsku julle: hou julle neuse daaruit. Elkeen van julle speel nou die game en ék maak die reëls.”
“Watse game, kaptein?” vra Riaan.
“Daar gaan enorme druk op ons wees om resultate te lewer. Dis waaroor die kommissaris my vanoggend gebel het. Hy soek suksesstories om die joernaliste van ons nekke af te kry. Al die ander hoofde het dieselfde oproep ontvang. Van vandag af mag daar net positiewe stories oor Bloemfontein SAPD die media haal, verstaan julle my? Parkweg se reputasie hang aan ’n draadjie en al wat dit gaan vat, is nog één kak koerantopskrif. Julle speel die game, het julle my?”
“Ja, kaptein,” antwoord almal in gelid, die koppe knikkend. Sollie knik saam.
“Oukei, kom ons kyk waar ons staan.”
Brummels deel ’n handvol dossiere aan die speurders uit. Aan almal behalwe Sollie.
Vir die volgende uur moet hulle verslag doen oor die vordering met bestaande dossiere. Dié wat in die hof moet gaan getuig, word verskoon. Mapaseka mompel ’n flou verskoning oor ’n skoolbesoek voordat sy met haar Lunch Bar en handsak verdwyn.
Riaan, Mike en Thebe bly oor. Moord-en-roof se staatmakers.
Die kaptein begin instruksies oor die nuwe dossiere uitdeel.
Sollie staan stil langs die boekrak. Hy hou sy kollegas dop. Hy weet wat gaan volg. Ná die vergadering gaan Brummels hom soos ’n aanhangsel aan een van hierdie drie toewys. Dan moet hy hom vir die res van die week met administratiewe take help of namens hom afsprake vir onderhoude met verdagtes of getuies maak.
Brummels vou MAS-7125 oop, die laaste van die nuwe dossiere. “Nog ’n John Doe op Naval Hill gevind.”
Riaan sug hoorbaar.
“Die derde een in vyf maande,” gaan Brummels voort. “Jonk. Wit. Geen identifikasie aan hom gevind nie.”
“Een in Mei, een in Junie en nou een in Oktober,” sê Riaan.
“Metode?” vra Mike.
“Van agter af verwurg, lyk dit.” Brummels wys na die foto’s in die dossier. Daar is duidelike vingermerke om die slagoffer se keel.
Riaan knik. “Rent boy soos die ander?”
“Moontlik. Sy broek was om sy enkels.” Brummels oorhandig die dossier aan hom. “Palesa by forensies sal kan sê. Vat vir Mthembu saam.”
Sollie se moed sak tot in sy PEP-skoene. Sy durf van vroegoggend het soos mis voor die son verdwyn. Hy wag dat die ander by die kantoor uitstap.
“Kaptein?” vra hy versigtig.
“Ja, Mthembu?”
Brummels is reeds verdiep in ’n pak papierwerk. ’n Vars sigaret gloei tussen sy vergeelde vingers. Sollie kry die ou gevoel van onbeholpenheid in sy baas se teenwoordigheid. Dis soos ’n monster wat van onder uit sy maag na sy keel kruip en dan sy tong in ’n doodsgreep beetkry.
“K-k-kaptein, ek het ged-d-dink …”
Brummels staar hom aan.
“Ek het ged-d-dink, ek’s nou al ’n jaar h-h-hier en …”
“Ja, en?”
“Ek h-h-help altyd die ander speurders, kaptein, en …”
“En jy wil jou eie saak hê?” word hy onderbreek.
“Ja, kaptein.”
“Hoe lank dink jy is ék al hier, Mthembu?”
Die vraag is onverwags, maar Sollie het die antwoord gereed. Hy het dit al male sonder tal geoefen. Almal in moord-en-roof weet wie Maartin Brummels is. Hy is nie almal se vriend nie, maar almal herken hom as hy en sy rookwolk in die gange afstap. Almal weet van die sake wat hy al opgelos het. Die Tweeling-moorde. Die Volkskasbank-rowe. Die moetie-sindikaat. Die polisieman wat sy vrou met sy dienspistool vermoor het, en dit toe na ’n skietongeluk wou laat lyk. Die kaptein het een van sy eie weggesit sonder om ’n oog te knip. Hy praat reguit, en hy skiet reguit. ’n Ou bullet, word Brummels in die gange genoem. Hy is van goeie stoffasie en nikotien aanmekaargesit. Dit gaan eendag vyf speurders vat om hom te vervang en Sollie wil een van daardie vyf wees.
“Nege-en-dertig jaar, kaptein.”
“En jy?”
“Amper sestien jaar …”
“By die speurdiens?”
Sollie voel hoe sy gesig gloei. “Amper een jaar, kaptein.”
“Dis bitter kort.” Brummels soek plek vir sy stompie in die asbak. “En jy dink jy’s gereed vir jou eie saak?”
Is dit ’n toets? wonder Sollie. Gaan die baas hom nou op sy plek sit?
“Ja, kaptein.”
Brummels staar na hom met sy waterige blou oë tot Sollie nie meer kan stilstaan nie. Hy verskuif sy gewig van een voet na die ander en dan weer terug.
“Oukei,” sê die kaptein ná wat soos ’n leeftyd voel.
Hy trek sy boonste laai oop. Die dossier wat hy uithaal, is beslis ’n nuwe een, sien Sollie. Die dekblad is nog sonder die soort merke wat getuig dat dit al deur ’n menigte hande beweeg het.
Brummels oorhandig die dossier. “Weet jy waar Rhynveld is, sersant Mthembu?”
“Ek het so ’n idee, kaptein.”
“Dis net ’n kolletjie op die kaart.” Brummels trek die koerant nader, vou dit toe en begin aanwysings op die agterblad skryf. “Meer as driehonderd kilometer hiervandaan. Ek dink Bethlehem is die grootste dorp op pad daarheen.”
Hy gee die koerant vir Sollie. “Die verklaring is in die dossier. Vermiste persoon. My gut sê vir my dit was eerder huismoles.”
Uiteindelik, sy eie saak! Sollie maak die lêer oop.
“Wat gaan ek daar doen, kaptein?” vra hy teleurgesteld toe hy die enkele gefakste bladsy sien.
“Die saak is belangrik vir die kommissaris, want die vermiste is ’n ou vriend van hom, ene Tillman Wagenaar.”
“Is daar dan nie ’n polisiestasie op Rhynveld nie, kaptein?”
Brummels knik geïrriteerd. “Daar is ’n satellietstasie, maar die familie verkies dat die saak so diskreet as moontlik hanteer moet word. Dis ryk, belangrike mense, Mthembu. Dink jy almal kan ’n docket sommer net so onder die kommissaris se neus indruk?”
“Ek sien, kaptein.” Sollie probeer om nie té afgehaal te klink nie.
“Die ondersoek sal ’n dag of drie duur, en ek het nie speurders om te spaar nie. Sal jy dit op jou eie kan hanteer?”
“Natuurlik, kaptein.”
“Dis dan al.”
By die deur word Sollie teruggeroep.
“Mthembu, hierdie saak is direk deur die kommissaris aan my toegewys. Hy sit al vir ’n week lank op die dossier. Onthou wat ek vanoggend vir julle verduidelik het: net goeie stories van hierdie departement mag dit tot in die koerante maak. Die opspoor van ’n vermiste rykgat sal so ’n storie wees. Verstaan jy?”
“Ja, kaptein.”
“Nou ja toe. Ragiema by die skut sal jou kar gereed hê.”
Sollie staan by terwyl Ragiema Kahn versigtig regmerkies in die blokkies op haar vorm maak. Tussendeur eet hy ’n vleispastei en lees die Oggendpos.
Hy weet hy durf nie die kort dame aanjaag nie. Die skut se bevelvoerder is bekend daarvoor dat sy nie haastige, en by implikasie vernielsugtige, siele duld nie. Daarom lyk die motors en die werkswinkel meer na ’n hospitaal as die polisie se meganiese afdeling. Selfs die vakmanne se oorpakke lyk asof hulle dit met die hand was.
“Kaptein Brummels het self die versoek deurgebel,” sê Ragiema toe sy ’n laaste keer om die roomkleurige Corolla stap. “Ek het vir hom gesê hierdie is al wat ons het. Die lugversorger werk nie.”
Sollie soek dringend na ’n servet toe sy skielik voor hom staan en die sleutel na hom uithou. Sy oorhandig die pen sodat hy die papierwerk kan voltooi en vat die koerant by hom. Die wind verwaai die bladsye, maar dit blyk haar nie te pla nie. Sy is verdiep in die berig op die agterblad. Die sportseksie handel vandag oor rugby.
“Ek het myself darem hees geskree, van die afskop tot die eindfluitjie,” lag sy en neem die voltooide vorm by hom. “Kyk jy rugby?”
“Nee, dis nie eintlik my ding nie.”
“Waar kom jy dan aan die Afrikaans? Jy praat dit so mooi dat ek aangeneem het jy was in ’n Afrikaanse skool. Al die Grey-laities vrek mos oor rugby.”
’n Beeld van sy ma verskyn voor Sollie se geestesoog. Die maer bruin vrou met die skoppie en besem in haar hande. Nadjwa Mthembu was altyd so trots daarop as iemand sou oplet hoe mooi haar seun Afrikaans praat.
“Nee, ek was in ’n skool in die township,” sê hy bot. “My ma het my Afrikaans geleer.”
“Sy’t ’n blerrie goeie job gedoen.” Ragiema wys na die foto wat meer as die helfte van die koerant se agterblad beslaan. “Hy kom daarvandaan, weet jy?”
“Wie?” vra Sollie verward.
“Sias du Toit. Hy kom van Rhynveld af. Dis waarheen jy die kar uitgeboek het, dan nie?”
“Ja, natuurlik. Rhynveld.”
Hy lees die opskrif bo die foto: “Du Toit kraai koning”.
“Sy span is deur na die eindstryd,” vertel Ragiema. “As hulle wen, sal dit die eerste keer in sewe jaar vir die Pioniers wees.”
“Pioniers?”
“Die klub waarvoor hy speel! Magtag, sersant Mthembu, jy’t nie gelieg nie. Weet jy dan níks van die Vrystaat se rugbyklubs af nie?”
Hy haal sy skouers op. “Jy kon net so wel oor netbal of hokkie met my gepraat het.”
“Wel, ek kan jou nou al sê Sias du Toit gaan nie by klubrugby bly nie. Hy’s verreweg die beste loskopstut wat hierdie provinsie in jare gehad het.”
Sollie knik gedwee. Ragiema is klaarblyklik ’n foendi.
“Daai mannetjie het ’n blink toekoms voor hom.” Sy beduie met haar hande. “Die Pioniers gaan hom nie meer vir lank kan bekostig nie. Voor die einde van die jaar raap ’n ander span hom op. Dalk selfs een van die provinsiale spanne – die Cheetahs of die Bulle.”
Die Cheetahs se naam ken hy wel. Die provinsiale rugbyspan. Elke slag wat hulle in Bloemfontein speel, word die stad oranje en wit geverf en kom die verkeer tot stilstand. Parkweg is dan so besig soos op Oukersaand.
“Rhynveld se mense sal seker in hul noppies wees?”
Ragiema lag. “Daar word hulle so geteel. Ses voet agt en gebore vir rugby. Die Pioniers sit nie verniet met ’n lang lys Springbokspelers nie.”
“Sal Sias du Toit dit só ver bring?”
“Kyk na hom, sersant!”
Sollie bestudeer die foto. Ragiema is reg. Die gespierde rooikop toring bo die ander spelers uit. Hy hou sy vuiste soos twee hamers in die lug terwyl hy vir die skare op die pawiljoen glimlag.
“Dalk ontmoet ek hom in Rhynveld.”
“Dalk. Dra jou safety belt.” Sy beduie hy kan maar ry. “En onthou, elke duik en merkie kom teen jou naam.”