Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 8
Hoofstuk 4
ОглавлениеTillman Wagenaar ontwaak in pyn. Dit kruip teen sy rugstring op, vanaf sy onderste rugwerwel tot tussen sy skouerblaaie, waar dit lêplek vind.
Watter dag sou dit wees? Hy beur orent, sukkel om sy balans te vind. Dis nie ’n bed waarop hy wakker geword het nie, dis ’n stuk plank wat met verfblikke en bakstene in die lug gehou word. Ongenadiglik hard, met die beddegoed oud en smerig.
Sy slape pols toe hy opstaan. Hy vryf langsaam oor sy agterkop en nek, soek tevergeefs deur sy broeksakke. Sy bakkiesleutel en beursie is weg. Sy foon ook.
Hy kyk om hom rond. Die mure en dak is van sinkplaat. Op die grondvloer, langs ’n kartondoos waarop ’n kersblaker staan, lê sy sokkies en skoene.
Iets ruik suur. ’n Bakkie met verharde pap en ’n teelepel steek onder die bed uit. Hy kan nie onthou dat hy daarvan geëet het nie. Sy mond proe na metaal.
Daar is net een opening: ’n houtdeur wat skeef aan sy skarniere hang. Hy gryp na die kosyn toe hy die deur oopdruk. Die sonlig steek in sy oë. Die pyn tussen sy blaaie gaan sit in sy voorkop. Dit voel of hy ’n vat brandewyn alleen uitgesuip het.
Verdwaas steier hy terug tot in die muwwe skemer van die sinkhokkie. Hy probeer dink, maar sy besef van tyd vloei wasig ineen. Wat maak hy hier?
Buite die deur maal figure rond. Mense staar nuuskierig na hom. Al konsentreer hy hoe hard, kan hy nie onthou hoe hy hier beland het nie. Of selfs waar hier is nie.
Iemand loer om die deur. “Is jy wakker?”
Die jong man se hare staan geel en stokkerig om sy kop; ’n sigaret hang slap in sy mondhoek. Sy vel is onversorg en deur die son verniel.
“Askies?” stoei Tillman deur die droogte in sy keel.
Die besoeker gee ’n tree nader. “Hei, bra! Ek vra of jy wakker is? Maak oop jou ore.”
“Ek … ek is wakker, ja.”
“Jy slaap vir amper drie dae al. Ek moes jou oppas. My naam is Danie.”
“Wat?” vra Tillman skor.
“Danie. My naam is Danie. Ek het jou opgepas.”
“Ek het gehoor.” Tillman skud sy kop oorbluf. “Is jy seker dit was drie dae?”
“Ja, van hulle jou Vrydagaand kom afdrop het. Lights out. Jy moes ’n kakhuis vol stuff gebruik het. Mind you, jy lyk nie soos ’n user nie. Van waar is jy, bra?”
“Ek boer buitekant Rhynveld,” sug Tillman. “Waar is ek nou?”
“Jy’s in die Goue Hek. Virginia.”
“Wat soek ek hier?” Tillman maak sy skoene, sokkies en belt bymekaar. “Ek moet teruggaan plaas toe, Renate en Lente wag vir my. Ons is besig om te ploeg. En Pieter se trokke kom binnekort …”
“Whoa,” keer Danie. “Matie het gesê jy gaan sulke stories spin. Kalmeer net vir my, bra.”
“Ek wil huis toe gaan!”
Tillman probeer die vent uit sy pad stamp. Met min moeite word hy terug op die bed gedwing. Sy hele lyf voel soos spons, op geen manier in staat tot weerstand nie.
“Drink hierdie.” Danie hou ’n vuilgevatte glas na hom uit.
“Wat is dit?” vra Tillman toe hy dit na sy mond bring. Die warm vloeistof ruik na pynappel, maar dit bring lafenis vir sy tong en keel.
“Powerade. Is jy nie te oud vir drugs nie, bra?” Danie vat die leë glas by hom. “Jy kan bly wees dis nie die polisie wat jou opgetel het nie, anders het jy nou in die selle wakker geword.”
Tillman kyk verbouereerd na die man. “Ek kan nie onthou hoe ek hier gekom het nie …”
“Is dít so? Anyway, luister hier. Ek wil jou nie seermaak nie, bra. Ek soek net wat my toekom. Ek moes jou voer en jou bed skoonmaak en sorg dat jy nie in jou eie kots verstik nie. Nou’s dit payback time.”
“Payback time?”
“Ja. Wie dink jy het na daai wond gekyk?” Danie beduie na sy voorkop.
Tillman vat-vat aan die pleister wat styf span. Pyn flits soos weerlig agter sy oogballe toe sy vingers aan die knop op sy voorkop raak. “Wat soek jy van my?”
“Die drugs.”
“Drugs! Waarvan praat jy?” Die sigaretrook maak Tillman naar.
“Moenie maak asof jy niks weet nie, bra. Jy moes die stuff weggesteek het. Waar is dit?”
Danie stoot hom weg en dop die beddegoed hardhandig om. Hy skud die pap kussing dat stof en vere om hulle dwarrel.
“Druggies kom altyd met ’n stash hier aan.” Die jong man se houding raak dreigend. “Waar is dit, bra? Waar’s die stash!”
“Stash?” Tillman klou aan sy bewussyn.
“As jy praat, sal ek jou uitlos. Ons maak ’n deal. Ek cut jou in op die profits en …”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie!” skree Tillman vererg. “Ek is ’n boer. Van Rhynveld af. Ek was in my lewe nog nooit naby aan dwelms nie.”
“Jy beter ophou met daai kak van jou.” Danie se rioolasem blaas in sy gesig. “Isobel het ons gewaarsku teen jou soort gelieg. ’n Druggie sal mos enigiets doen vir sy habit. Gee vir my jou stash, bra, of ek …”
Die pyn in sy harsings bereik ’n crescendo. “Ek is Tillman Wagenaar en jy is ’n klein snuiter wat ’n loesing soek!”
Danie se mond gaap oop toe hy hom aan die kraag beetkry en amper van sy voete af lig.
“Sit hom neer!” bulder ’n stem van buite af. Die man wat in die deur verskyn, is so groot dat hy moet koes om die kosyn te mis.
Tillman verslap nie sy greep nie.
“Ek het net kom vra of die oom iets kort, Matie,” verontskuldig Danie homself. “Nou freak hy uit. Ek’s jammer, Matie.”
Die man in die blou oorpak gluur hulle fronsend aan. “Sit hom neer, sê ek.”
Tillman se vuiste ontspan. Die blonde misoes seil verby sy redder en verdwyn na buite.
“Wie is jy?” Tillman sak uitgeput op die bed neer. “En wat maak ek hier?”
“My naam is Matie en ek is die opsigter.” Hy raak aan die grys stoppels van sy baard. Sy breë voorkop plooi tot by sy kortgeskeerde haarlyn. “Jy weet baie goed hoekom jy hier is,” antwoord hy vermakerig.
“Opsigter van wat?”
“Van die kamp. Kom, Isobel wil jou sien.”
Tillman kry nie kans om hom teë te sit nie. Twee lummels druk by Matie verby en vat hom aan die arms.
Hulle lei hom deur ’n vierkant omring met sinkhuise, tente van swart plastiek en gaar woonwaens op bakstene. Die plek is raserig. Daar is kinders, vroue en oumense. Vuil gesigte gaap Tillman van alle kante aan. Die grond is hard en blink vasgetrap. Slap elektriese kabels hang soos spinnedrade van ingang tot ingang.
“My vrou,” sê Tillman. “Waar is Renate? Is my vrou ook hier?”
Matie grinnik. Die twee lummels kyk net voor hulle.
’n Gangetjie kronkel tussen opslaantoilette deur. Aan die einde daarvan staan ’n gekaapte padteken van Harmony-goudmyn. Dis met dik swart letters verander in ’n kennisgewingbord: EETSAAL.
Binnekant gons dit. Tillman word op ’n stoel neergedwing. Verder weg staan mense in ’n ry. Hulle hou blikborde vas waarop kombuiswerkers ’n sny bruinbrood plak, gevolg deur ’n homp bleek maalvleis. Die reuk van Bisto hang in die lug.
“Ek gaan vir Isobel haal,” sê Matie en loop uit.
Tillman verkyk hom aan die mense wat al kouend by die tafels aansit. Iemand skuif ’n plastiekkoppie voor hom in. Water. Dankbaar sluk hy dit met een teug weg. Sy hoofpyn bly pols.
Die eetsaal verstil toe Matie weer verskyn. Die ry by die kospotte loop vinnig leeg. Net ’n kleuter in ’n oorgroot trui dwaal snotneus voor die tafels verby. Selfs die kombuiswerkers fluister nou.
Voor Matie is ’n vrou wat kort, vinnige treë in spykerhakke gee. ’n Stywe belt deel haar figuur in twee. Die top wat sy aanhet, sit veels te styf en die romp is veels te kort. Haar nek en hals smelt aaneen en haar ronde wange is bloedrooi ingekleur. ’n Krullerige bos swart hare rond die prentjie af.
Sy trek ’n stoel oorkant Tillman uit. Met lang naels vis sy ’n sigaret uit die pakkie Chesterfield wat sy in haar boesem bêre.
“Dag. Ek is Isobel.”
“Goeiedag,” groet hy, verbaas oor die growwe stem.
“Jy is een van drie nuwe inwoners.” Haar lippe krul om die sigaret en Matie is dadelik by met ’n aansteker.
“Ons het nie eintlik vir jou plek gehad nie” – sy waai dramaties na die blou rookwolk – “but we never turn away those in need …”
“Waar presies is ek?” val Tillman haar in die rede.
“Jy is iewers waar jy beter kan word … gesond kan word.” Die swart lyne om haar oë versag. “Jou mense het jou na my toe gebring. Die Goue Hek bied vir jou ’n uitkoms, meneer.”
“My mense?” vra hy verstom.
“Ja, meneer.” Sy vryf saggies oor sy hand. “Jou mense het genoeg van jou streke gehad.”
Om soos ’n kind behandel te word is vir hom eens te veel.
“Wag ’n bietjie, niggie. Ek weet nie wie jy dink jy is nie, maar ék …” hy tik met sy wysvinger op die tafel, “hoort nie hier nie. Ek het ’n familie en ’n huis. Ek het my eie plaas.” Sy stem klim. “Ek staan nie in ’n ry vir kos …”
Hy kry nie kans om sy sin te voltooi nie. Matie het die stoel onder hom uitgeskop en hy val op sy rug. ’n Stewel duik na sy ribbes. Hy krul van die pyn. Nog twee skoppe volg.
Hy hyg na asem toe hulle hom optel en weer op die stoel neerplak.
“Meneer het ’n tweede kans gekry,” gaan Isobel voort asof niks gebeur het nie. “By die Goue Hek sal ons meneer van meneer se verslawing verlos.”
“Ek is aan niks verslaaf nie!” proes Tillman. “Ek moet by ’n dokter uitkom!” Hy vermoed sy ribbes is gekraak, moontlik selfs gebreek.
“Deur dissipline,” praat sy onverstoord verder. “Deur volharding. Deur dankbaarheid. Deur harde, eerbare werk sal ons meneer regkry.”
“Julle het die verkeerde man beet!” smeek hy. Die pyn in sy borskas het hom naby aan trane.
“Hulle het gewaarsku hy gaan so ’n storie spin,” sê Matie smalend. “Moet ek hom stilmaak?”
Isobel draai haar kop skeef, loer na Tillman van onder die swart krulle asof sy probeer uitwerk of hy nog ’n aanslag sal oorleef. “Ons weet van jou rykboer-fantasie,” sis sy. “Jy speel met vuur, meneer.”
Tillman stry teen die wanhoop wat hom wil oorweldig. Hy het Vrydagoggend op Onverwacht wakker geword en nou is hy in die hel. Iemand moet tog na hom soek?
“Ek wil huis toe gaan.”
“Hierdie is nou jou huis.”
“Ek gaan julle aangee,” dreig hy verslae. “Hierdie is ontvoering!”
“Snoer sy bek,” beveel Isobel. “Voor hy sy stories aan die ander inwoners probeer afsmeer.”
Toe sy opstaan en uitloop, maak die mense verskrik ’n pad vir haar oop.
Die twee lummels pluk Tillman uit sy stoel op. Hulle sleep hom uit die saal met Matie agterna.
Verby ’n heining, tot in ’n kamp naas ’n laning bloekombome. Die hekkie swaai agter hulle toe. Daar is speenvarke en ’n waterkrip. Dit ruik na ou kos en varkmis.
’n Harde stamp bring Tillman op sy knieë in die modderige spul.
“Wat is jou naam?” vra Matie.
“Tillman.”
Hy koes te laat toe Matie se arm uitskiet om hom met die plathand teen sy kop by te dam.
“Wat is jou naam?!”
“Tillman.”
Weer ’n klap met die plathand, hierdie keer teen sy oor. Dit brand soos vuur.
“Wat is jou naam?” skree Matie, sy groot hand opgehef.
“Tillman Wagenaar,” huil hy.
Hy skop en spartel verniet toe hulle hom begin sleep. Die varke om die trog spat uitmekaar.
“Wat is jou naam, vra ek?” Are bult op Matie se voorkop.
“Ek is Tillman,” prewel hy bo die stink, modderige water. “Tillman Wagenaar.”
Matie kry hom aan die hare beet en druk sy kop in die trog. Die koue skok deur hom. Hy du sy kop na agter toe die suurstof in sy longe opraak, maar Matie hóú. Die klank van die water verdof in sy ore.
Net toe hy seker is hy gaan sterf, pluk Matie sy kop onder die vrotsige spul uit.
“Wat is jou naam?!”
Hy suig groot slukke lug in, knip sy oë totdat hy die bloekombome duidelik sien. Hy onthou die toneel asof hy daarvan gedroom het. Dan tref dit hom: hy het die bome gesien toe hy op die naat van sy rug hier ingery is. Agterop ’n trok.
“Tillman Wagenaar.”
Die woorde is onhoorbaar sag, maar Matie het sy lippe gelees.
Hierdie keer baklei hy nie terug nie. In die stilte van die water onthou hy hoe hy hier beland het. Die vreemde boodskap oor die radio; die werkers wat hom na die spruit lok; die vloeistof wat hulle in sy keel afdwing. Hulle het sy verlamde lyf agterop die bakkie gegooi. En net voor hy sy bewussyn verloor het, kon hy sweer hy het haar parfuum geruik.
Sy kop word opgepluk; hy snak na asem.
“Wat is jou donnerse naam?” skree Matie.
“Braam …” hoes hy die eerste woord waaraan hy kan dink. “My naam is Braam. Ek het gelieg.”
“So gedink,” praat Matie selfvoldaan na sy makkers toe. “Die drugs is seker besig om af te wear. Vat hom na sy kamer toe en verduidelik vir hom die reëls. Ek sal nog besluit waar ons hom kan inspan.”
Die lummels laat nie op hulle wag nie.
“As hy moeilik raak, buig hom!” roep Matie agterna. “Isobel se instruksie.”
Tillman lê in die donker en bewe onder die dun kombers. Sy hele lyf is seer. Buitekant woel en rumoer die plakkerskamp.
Daar is ’n beweging by die deur. Danie kom in met ’n vars bakkie pap en ’n beker tee.
“Is jy reg vir die job môre?” vra hy.
Tillman sukkel regop. “Watse job?”
“Ons oorleef hier deur by die publiek te bedel. Elke inwoner van die Goue Hek kry ’n kollekteblikkie waarvan net Isobel die sleutel hou. Daar’s foto’s op die kante van die blikkies.”
“Van wat?”
“Van die kondisies waaronder ons bly, van die kinders en oumense hier. Die foto’s help dat jy meer kan insamel. Dis goeie geld, solank jy elke dag jou target maak.”
“Het elkeen ’n doelwit van wat hy móét insamel?”
Danie knik. “Enigiets meer as driehonderd rand mag jy hou. Minder as honderd-en-vyftig en jy eet nie daardie aand nie. Fail jy drie keer in ’n ry, sal Matie jou beetkry. Dit gebeur baie.”
Die hopeloosheid in die jong man se oë laat Tillman sy woorde sluk. Dis nie welwillendheid nie, kind, wou hy sê, dis skaamtelose uitbuiting.
Toe Danie uitloop, lê hy lank na die kersvlam en staar. Saam met sy lyf is sy hart ook seer. Hy voel aan die eelte op sy vingers, bring sy hand tot voor sy gesig.
Sy troupand is weg. Waar dit gesit het, kring ’n wit merk om sy bruingebrande ringvinger.