Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 4
ОглавлениеDie deur van die hut langs die stroom het lank toe gebly.
Toe die eerste ooruil na sy maat begin roep, staan Bethuel Maduna op. Hy is knorrig. Hy het in die namiddag op sy bed gaan lê om te rus en tot nou toe was hy dood vir die wêreld. Hy tas na die vuurhoutjies en steek die kers aan.
Bethuel het verslaap. Die hond ook. Tinta se swart hare swaai soos sy haar lyf skud om van die styfheid ontslae te raak. Hy gee ’n lang gaap saam met die hond. Hy het hom nog nie gewas nie en al is dit reeds nag, kan hy nie só verder slaap nie.
Hy vat die waterkan en loop met knippende oë uit. Buite skyn die volmaan helder. Die spruit se water is louerig ná die warm Oktoberdag. Hy gaan staan eers aan die vlak kant sodat die stroom oor sy enkels kan spoel. Wikkel sy tone deur die modder totdat die klippe teen sy voetsole skuur. Tinta snuffel tussen die graspolle.
Hy loop dieper in en laat sak die kan in die stroom. Dis swaar toe hy dit optel. Tillman het lank terug vir hom ’n drom op ’n stellasie langs die hut laat sit sodat hy nie meer water uit die spruit hoef te skep nie. Maar hy hou by sy ou gebruik.
“Daar’s kraanwater en elektrisiteit by die nuwe huise, Bethuel,” het Tillman al oor en oor vir hom gesê. “Jy moet trek, die tyd raak min.”
“Dis ver van die stroom af,” het hy geprotesteer.
Tillman was vererg. “Jy weet al die grond langs die spruit gaan onder besproeiing kom. Onverwacht moes hóé lank vir die waterlisensie wag. Dis nog net jy wat daar bly, die ander werkers het almal getrek.”
Hy het verleë met sy hande voor hom gevroetel. “Dis waar Martha rus. Die kinders is in daai hut gebore …”
Tillman het hom nie geantwoord nie. Die eienaar van die plaas waarop hy sy lewe lank al werk, het kopskuddend weggestap. En die ander werkers het Bethuel ongelowig aangekyk. Vir hulle is die ry splinternuwe huise langs die grootpad soos manna uit die hemel.
Hy spat van die water uit die kan in sy gesig voordat hy die res in die blikskottel stort. Nou is hy wakker. Die primus sis toe hy dit aansteek. Toe die water begin stoom, lig hy die skottel versigtig van die vlam af.
Hy seep die waslap in en was hom dat wit hale skuim op sy vel staan. Hurkend spoel hy hom af. Sy maag grom. Die uie en bossie marog wat hy uitgehaal het vir sy aandete se pap lê vergete.
Met ’n sug gaan hy op die bierkrat buite die hut sit. Al is dit donker, ken hy elke bossie, elke boom en elke voetpad waaroor sy melkerige oë uitstaar. Daar is ’n rytjie afrikaners tot by sy voordeur en ’n renosterbos waaronder die hoenders bedags skuil. ’n Lappie pampoene en boontjies maak ’n groen kol aan die sonkant van die hut. Die enkele venster kyk uit op die spruit wat oorgroei is met riete, sodat die pluime in die somer skadu oor die sinkdak gooi.
Voor hierdie bierkrat waarop hy namiddae sit en rus, het sy hakskene blink holtes in die grond gekalwe. Hierdie is sy huis, sy plek waar hy tuis is.
Hy wil rook, maar sy gedagtes verlam hom waar hy sit. Hy knyp sy oë toe. Dalk as hy nie kan sien nie, sal die besluit makliker kom. Dis egter die verlede wat oor hom spoel.
Hy hoor die Vrystaat: valkies wat vanuit die hoë blou lug aarde toe skree; water wat in ’n sterk reënbui oor die hut se dak stroom; kinderstemme wat by die spruit gil en lag; bye wat om hul nes in ’n uitgebrande wattelboom zoem; Martha wat singend oor die werf aankom.
Hy sug weer toe hy sy oë oopmaak en dieselfde goed om hom sien.
Wegtrek van die plaas af is nie ’n opsie nie. Onverwacht, hierdie grond, is in sy bloed. Die probleem is dat hy hiér wil bly, in sy eenvoudige hut by die stroom.
Reeds van die eerste bakstene gelê is vir die nuwe huise met hul sonpanele op die dak, karring Tillman aan hom. Ry gereeld met sy Cruiser van die groot huis af hiernatoe. “Jy kry die grootste een, Bethuel. Jy raak nou oud, jy verdien dit.”
Stuksgewys het die ander werkers weggetrek. Al die ou, lendelam hutte wat gebou is sedert Nicolaas Wagenaar in 1936 hierdie plek langs die spruit vir sy voorvaders uitgewys het, is intussen afgebreek. Dis nog net die eensame blou strepie rook saans teen die skemer geëts wat verklap dat Bethuel Maduna vas staan in sy besluit.
Dit terwyl Tillman skaars vir hom nóg ligter werk kan gee. Daar was reeds ’n gevoeligheid toe hy uit die lande gehaal is om voltyds na Renate se tuin om te sien. Die ander werkers was neerhalend teenoor hom.
“Bethuel, die besproeiing kom,” het Tillman bly sê. “Met of sonder jou hier langs die spruit. Dink daaroor.”
Hy het daaroor gedink. Hy dink steeds daaroor.
Maar hoe moet hy dit hou in ’n voorman se huisie langs die grootpad? En van daar af? Waar sal Bethuel Maduna se beendere eendag rus as hierdie alles mielielande of sonneblomme word? En wat van hulle vóór hom?
Hy wikkel sy rookgoed onder die bierkrat uit. Hy voel verdwaald. Alles op Onverwacht lyk vannag vir hom anders. Vreemd. Selfs die sterre bo hom se patrone lyk onbekend.
Die wind het gaan lê. Hy draai sy kop om na die naggeluide te luister. Krieke in plaas van sonbesies. Die gekwaak van paddas in plaas van skape wat blêr. Tinta wat snorkend langs die hoop brandhout lê. In Augustus het die wind só gewoed dat die mielies almal voor die middel van die maand gestroop kon word.
Nou is dit anders. Nou is die wind skielik weg.
Nes Tillman.
Waar kon die man heen gegaan het? Hoe kon hy die plaas net so gelos het, en dit met al die werk in Oktober? Pieter weet nog nie genoeg van die boerdery nie. Niemand waag dit egter om Onverwacht se tweede in bevel te vra nie, want Renate Wagenaar is niemand se speelmaat nie.
Bethuel se gedagtes maal onseker terwyl hy sy pyp stop. Hy smak sy lippe om die steel, suig totdat ’n kooltjie in die twak begin gloei. Hy laat die pyp tot op sy skoot sak toe sy ore ’n bekende klank opvang. Is dit Tillman se Cruiser wat hy in die verte hoor aankom?
Dan is dit weer stil.
Seker sy eie kop wat met hom speletjies speel.
Die Vrystaatse nag vou om hom en die veld word ’n slapende dier, nes Tinta wat met tye ruk soos sy droom. Vir lank sit hy só. Maar toe die pyp vrek en hy nog ’n vuurhoutjie trek, hoor hy dit: ’n dowwe klapgeluid. Dit vliet oor die boomtoppe en grasvelde in ’n kort uitbarsting van krag en geweld.
Het hy hom die geweerskoot verbeel? Daar is tog nie veel jakkalse op die plaas nie, en Pieter is beslis nie een wat donkernag na peste sal gaan soek nie. Hy het nog nooit ’n jaggeweer in die jong man se hande gesien nie.
Hy sukkel orent toe die geluid weer opklink. Nou is hy seker dit was ’n geweerskoot. En dit het van die groot huis af gekom. Dit beteken net een ding: moeilikheid.
So vinnig as wat sy stram bene hom kan dra, begin hy in daardie rigting drafstap. Sy hut is skaars agter hom toe nog ’n knal deur die naglug skeur.
En nog een.