Читать книгу Klikbek - Sidney Gilroy - Страница 6
Hoofstuk 2
Оглавление’n Angswekkende klank soos ’n kind wat huil, ruk Tillman Wagenaar uit sy droom.
Hy vryf vervaard oor sy oë en loer na die bedtafeltjie, tas vir die wekker. Kwart oor vier. Dis vroeër as gewoonlik. Renate moes die tyd verander het nadat sy hom en Pieter gisteraand oor die dagbeplanning hoor praat het. Hulle het agtergeraak met die ploeëry.
Hy laat sy kop terugsak op die kussing. Die huis is stil. Sou Renate ook wakker wees? Nee, die wekker het haar nie gepla nie. Sy slaap steeds. Geruisloos.
Hy is nie kwaad vir haar nie, hy weet sy probeer net help. Hoeveel hektaar bly op Leeuhoek oor? En Rooiberg? Wat van Vlakspruit? Is die besending diesel vir die trekkers ooit afgelewer?
Hy sluimer weer in.
Presies tien minute later begin die wekker skree.
Hy druk dit dood, tussen wakker en slaap. Wikkel sy tone onder die snoesige voue van die duvet voordat hy sy oë oopforseer en homself uitstrek. Hy gaap terwyl hy deur die venster na buite staar. Die swaar slaapkamergordyne is oopgetrek. Deur die gaasgordyn sien hy hoe die eerste lig die sipresse se buitelyne afets.
Soos dit ligter word, kan hy meer sien: die windpomp se spane op die wasige horison, Renate se spinnekoplelies in die bedding voor die venster, die lapa in die hoek van die tuin. ’n Kalf bulk in die kamp anderkant die sementdam en daar is die gebrul van ’n trekker wat sukkel om aan die gang te kom. Onverwacht het ontwaak.
Vyfuur. Opstaantyd.
Hy sug homself uit die bed. Nog ’n gaap volg.
Die vloerplanke kraak toe hy buk om sy slaapbroek op te tel. In die badkamer knip hy sy oë teen die skerp lig. Hy tel sy vitamien- en kalsiumpille af. Bekyk sy borshare en die vag skaamhare onder sy naeltjie terwyl hy homself onder die stort se sproei inseep. Dit lyk elke oggend of daar meer grys hare is.
In die aantrekkamer sien hy Renate het klaar sy klere vir sy besoek aan Johannesburg uitgelê. Dis later se probleem, die boerdery verg nou sy aandag. Hy trek aan, bind sy skoenveters vas.
Die gang is koel toe hy uitstap. Maria is reeds in die kombuis doenig. Die soet, warm geur van varsgebakte brood meng met dié van gebraaide spek.
“Môre,” groet hy gedemp toe hy sy skoonseun langs die geelhouttafel in die eetkamer aantref.
“Môre, Pa,” antwoord Pieter. “Het Pa se wekker ook so vroeg afgegaan?”
Tillman knik. “Dis die vroumense se gekonkel. Lente slaap seker nog?”
“Ja, Pa.” Pieter vee eiergeel van sy mondhoek af. “Sy slaap deesdae baie.”
“Dit gaan maar so as hulle in die ander tyd raak. Geniet die stilte voor die storm. As die baba eers hier is, is jou moeilikheid ook hier.”
Beide lag vir die grappie.
“Ek kla darem nie,” sê Pieter. “Lente kan slaap tot watter tyd, solank daai bulletjie net gesond is.”
Tillman skink vir hom uit die koffiepot wat Maria op ’n skinkbord inbring. “Lente is ’n Wagenaar. Klein Tillman sal perfek geskape wees, moenie jou kop dáároor breek nie.”
“Klein Tillman?” Pieter lag verskonend. “Ons het nog nie op ’n naam vir hom besluit nie.”
Tillman se wenkbroue lig. “Wat is daar om te besluit? Dis tog vanselfsprekend wie se naam hy gaan kry.”
“My seun is ’n Botha ook, Pa.”
“Hy is ’n Wagenaar.” Tillman neem die bak by Maria en skep vir hom van die worsies en spek.
Pieter skuif op sy stoel rond. “Ons sal sien wat die toekoms inhou.”
“Sy toekoms is hier op Onverwacht.”
Pieter byt nie aan die aas nie, gaan net voort om die kos op sy bord te verslind.
“Nog?” vra Maria en hou die bak na hom uit.
Gelate skep die jong man vir hom in. Tillman hou hom onderlangs dop. Pieter is nie meer die student wat Lente destyds hier aangebring het nie. Hy het al ’n hele paar kilogram aangesit vandat hy laas jaar op Onverwacht begin boer het.
“Jy moet eet terwyl jy kan.” Tillman plak die konfyt dik op sy roosterbrood. “As die pajamadril eers begin, is dit neusie verby met die maklike lewe. En Onverwacht gaan nie stilstaan nie.”
“Ja, Pa,” sê Pieter tussen die happe deur. “Ek sien kans vir als.”
“Jou trokke kom binnekort.” Tillman soek vir ’n reaksie op sy skoonseun se gesig, maar niks registreer nie. “Die verkoopsman het gesê hulle lewer volgende week af.”
“Ja, Pa.” Pieter kou, sluk en mik vir die volgende hap.
“Het die Oggendpos teruggeskakel?”
Pieter skud sy kop, kou eers klaar. “Die advertensies sal van Maandag af verskyn.”
Tillman kan insien waarom Lente vir Pieter geval het. Hy is ’n aantreklike man. Aanvanklik het Tillman gedink dis net kalwerliefde, maar teen haar derde jaar was Pieter Botha steeds al man oor wie Lente kon praat.
Tillman het gehoop sy sou nie so vroeg soos hy en Renate trou nie. Hy sou verkies het dat sy dogter eers die wêreld buite Rhynveld leer ken, en hy was bereid om te betaal dat sy vir ’n jaar of twee deur Europa en Amerika gaan toer voordat sy na Onverwacht terugkeer.
Maar die koeël was klaar deur die kerk. Hoe Pieter dit reggekry het om so spoedig Renate se goedkeuring te wen, weet nugter. Vandat Lente ’n kleuter was, was sy vrou van mening dat niemand ooit goed genoeg sou wees vir hul dogter nie. Beslis nie iemand uit Rhynveld nie, selfs nie van Bloemfontein nie.
Dalk het dit in Pieter se guns getel dat hy van Bothaville af kom, Renate se heimat. En dat hy landbou op Kovsies studeer het. Sy fisieke kwaliteite sou Renate ook nie oorsien nie: die breë skouers, stewige kakebeen en hoë neusbrug. Groot hande. Regop houding. Soms dink hy dat sy vrou net so veel soos hy van stoetbulle, gene en ’n goeie kudde weet.
Dis net jammer sy skoonseun is nie gebore om ’n boer te wees nie, dit kan hy nou al sê.
“Kom,” sê hy en klop Pieter op die skouer terwyl hy sy laaste koffie sluk. “Leeuhoek gaan hom nie self ploeg nie. Ons het ses lande wat vandag moet klaar. Die voormanne wag al vir ons. Dis Vrydag, hulle wil vroeg loop. En ek moet Johannesburg toe.”
“Hoe laat ry Pa?”
“Ná middagete. Voor ek vergeet, kom sien my net voor twee. Ek wil met jou praat oor Du Toit Vervoer.”
Pieter frons.
“Ek dink ons moet Toit betrek by ons trokbesigheid.” Tillman stoot sy stoel agteruit. “Hy het net die twee trokke en hy raak ook nie jonger nie. Ek wil hom ’n minderheidsaandeel in Onverwacht Vervoer aanbied. As ons hom dan later uitkoop, word jy die enigste vervoerkontrakteur van Rhynveld tot in Reitz.”
Hy staan op en loop uit. Pieter se antwoord, ás hy wou antwoord, kan hom nie skeel nie.
Die dag verloop soos Tillman dit al vir meer as vier dekades ken.
Onder die blou gordyn van die hemel brand die son genadeloos neer op die werkers in die lande. Met tye verskyn daar vlieserige wolke, wat dan weer saam met die trog uit die bolug verdwyn. Volgens die weervoorspelling is ’n El Niño in aantog. Hulle moet die goeie Junie-reën benut voordat die droogte sy tande teen November begin wys.
Soos die ploeë die sooie omdop, styg die vogtige reuk van verrotte plante en kaf van die vorige seisoen tot in die kajuit van Tillman se bakkie. Dis windstil en die lug is bedompig. Die Leeuhoek-kamp lê in ’n pan en die grond is op plekke nog deurdrenk, sodat die trekkers vasval in die modderige spul. Hy beweeg van Leeuhoek na Soutplaat na Vlakspruit na Rooiberg om te help. In byna al die kampe ondervind die voormanne probleme.
Teen twaalfuur is Tillman tot bo sy knieë met modder besmeer. Hy is aan die noordekant van die plaas, die huis is veels te ver om vir middagete soontoe te gaan. Soos dit sy gewoonte is, soek hy skuiling onder die roerlose takke van ’n wilgerboom. Hy eet die toebroodjies wat Maria van gisteraand se oorskietvleis gemaak het en smeer sonskerm aan sy gesig en voorarms.
Die koelte bied min lafenis. Hy neem teësinnig ’n sluk uit sy waterbottel en spat van die louwarm water oor sy agternek en hals. Toe hy die prop terugskroef, begin die tweerigtingradio kraak.
“Tillman,” roep ’n vrouestem. “Tillman, kom in!”
“Ek luister.”
Daar is ’n dringendheid in die stem, maar hy kan nie uitmaak wie praat nie. Is dit Renate? Lente dalk? Sy klink deesdae so baie na haar ma.
“Tillman, daar’s probleme by die sprui- …” Die stem verdwyn in ’n krakerige geruis.
“Herhaal, asseblief?” Hy spits sy ore.
“… een van die werkers … kind …”
Gefrustreerd soek hy deur die radio se frekwensies tot die stem weer deurkom.
“… die ou pomphuisie by die grondpad. Sal Pa gaan kyk?”
Die stem raak heeltemal weg. Dit kon Lente gewees het, maar Renate noem hom ook soms “pa”.
Hy ry dadelik. Terug in Leeuhoek is die ploeëry klaar. Pieter is egter soek.
“Hy’s Vlakspruit toe!” roep die voorman wat by die trekker se deur uithang. “Aaron het laat weet hulle kort nog hande.”
“Het julle dit ook oor die radio gehoor?” Tillman moet skree om hom bo die dieselenjin se geraas hoorbaar te maak.
“Kon nie uitmaak nie!” roep die voorman terug. “Die radio’s neuk al die hele dag. Ek sal gaan kyk as ek hier klaar is.” Hy wys na die toerusting wat skoongemaak en weggepak moet word.
“Toemaar, ek’s op pad,” beduie Tillman.
Die radio bly kraak en sy pogings om met die huis kontak te maak is onsuksesvol. Aan hierdie kant van die plaas is daar min tot geen selfoonontvangs, sodat hy nie eens probeer bel nie.
Die pad tot by die ou pompstasie is oorgroei. Van waar hy parkeer, kan hy geen beweging om die verlate geboutjie sien nie. ’n Entjie verder gewaar hy ’n werker wat uit die vleiland beduie hy moet nader kom.
Hy herken die man nie, ook nie die ander twee wat tussen die riete wag nie. Sou dit werkers wees wat Pieter vir die seisoen gehuur het? Die laaste ding wat hulle nou kort, is ’n uitgerekte ondersoek van die departement van arbeid af.
“Waar’s die kind?” vra hy.
Die werkers wys na ’n voetpad wat tot diep tussen die riete lei. Hy volg die man wat eerste die rietkombers binnegaan. Hy weet klaar wat hulle daar gaan vind. ’n Swartmamba, of dalk hierdie keer ’n pofadder wat toegeslaan het, die slagoffer se lyk al opgeblase. Teen sy beterwete hoop hy dis net ’n dooie kalf.
Ná bykans vyftig meter kan hy nog niks sien nie.
“Waar is dit?” vra hy toe hulle enkeldiep in die modder beland.
Geen antwoord nie.
Toe hy omdraai en die vraag in Suid-Sotho herhaal, kyk die mans agter hom senuagtig na mekaar.
“Is dit nog dieper in?” vra hy.
Dis skemer tussen die riete wat hoër as hulle koppe staan. Die lyk is heel moontlik al erg ontbind. Niemand sou die slagoffer van hier af hoor roep het nie.
“Julle hoef nie saam te kom nie, verduidelik my waar julle dit gesien het?”
Die mans kyk swyend na die grond, dan na mekaar, vroetel met die moue van hul blou oorpakke.
Meteens raak Tillman bewus van die muskiete wat om hulle zoem en die sweet wat hy aan die mans ruik. Geen brommers of die stank van verrotting wat in die lug hang nie. Hier is nie ’n lyk of ’n karkas nie. Dis ’n lokval.
Hy gee ’n dreigende tree nader aan die werkers. “Hoekom het julle my hierheen laat kom?” vra hy kwaai.
“Ke kopa tshwarelo,” antwoord die man naaste aan hom.
“Jammer? Jammer vir wat?”
Die twee voor hom stuit hom deur langs mekaar te gaan staan. Hulle versper die voetpad.
“Waarmee is julle besig?” vra hy toe hy na die man agter hom draai.
“Ke kopa ts’oarelo, baas.”
’n Geritsel tussen die riete. ’n Vierde man verskyn van die spruit se kant af. Volgens die waterstewels aan sy voete moes hy daar weggekruip het. In sy hande is ’n moersleutel en ’n glasfles met ’n witterige vloeistof.
Tillman herken hom. “Wat de donner gaan hier aan?” eis hy van een van die werkers.
Die mans storm op hom af.
Hy probeer met sy voorarms keer toe die moersleutel op hom neerkom. Sy voorkop begin bloei van die eerste hou. Hy struikel vooroor. Die riete sny sy vingers flenters.
Hy verloor sy balans, word na agter getrek. Nog ’n hou volg. Die drie helpers pen hom in die modder vas. Een druk sy neus toe. Die fles word oopgeskroef.
Hy spartel, probeer iets skree, wil smeek om genade. Maar hy sluk sy woorde toe die vrankerige, dik vloeistof oor sy lippe stroom en hy daaraan verstik.