Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 10

Hoofstuk 6

Оглавление

Kaapstad, 18 Junie 2011

Ari’el probeer in die ry die inspekteur gerusstel en begin vertel hoe hy en Sarah verlede jaar ontmoet het.

By die kantoor aangekom, neem inspekteur Rassie Ari’el aan die arm en laat hom soos ’n regte krimineel op ’n houtbankie in die ondervragingslokaal sit. Hy plaas ook ’n folioboek en pen op die tafel voor Ari’el. “Gee maar jou rekenaarsak vir my, Dokter. Nou kan jy my alles op papier vertel. Skryf alles neer. Van hoe jy en Sarah ontmoet het, van haar beserings en veral die hele storie verlede jaar daar in die Saoedi-woestyn waarvan jy praat.”

Die inspekteur lag. “Ek het niks van jou in die koerante gelees nie. Waarom het julle dit geheim gehou? Waarom is jy toevallig op haar voorstoep die dag wat sy vermis word?

“Daarna sal ek jou ondervra om dinge wat steeds duister is in te vul.”

Ari’el neem gefrustreerd die pen op. Hy wil liewers daarbuite wees waar hy na Sarah kan gaan soek. In die beknopte ruimte van hierdie vertrek met die tafel, bankie en eenrigtingvenster aan die een muur, klink inspekteur Rassie se stem nog harder. Ari’el gee hom net ’n skuins kyk, gaan sit beheers op die harde houtbankie by die tafel en trek die folioboek nader.

Inspekteur Rassie stap uit die vertrek en trek die deur agter hom dig.

Vir ’n oomblik sit dokter Ari’el ben-Yusuf doodstil voor hom en staar. Hy knip skaars ’n oog terwyl hy die angs wat hy oor Sarah ervaar, onderdruk en rustig asemhaal. Wat hy nou doen, kan ook help dat sy gouer opgespoor word. Hy dwing homself tot kalmte. Ondervinding het hom geleer dit is beter om saam met die plaaslike wetstoepassers te werk. Die volgende uur skryf hy so volledig as moontlik ’n verslag oor die gebeure verlede jaar. Elke feit wat kan help. Noukeurig, in sy netjiese, regop handskrif skryf hy die datum, plek en tyd bo-aan die bladsy.

Ek is Ari’el ben-Yusuf, mediese dokter en chirurg van beroep, afgestudeer aan die Universiteit van Oxford, 1991; burger van die Republiek van Jemen, Jemens-Joods.

Gedurende die insidente wat in hierdie verslag volg, was ek lid van die vrywillige Rooikruisspan soldate, gestasioneer in die Saoedi-Arabiese woestyn, meestal in ’n ongeïdentifiseerde, tydelike tentekamp van die Rooikruis, tans werksaam vir die Koalisie vir Vrede in Jemen.

Ek verklaar hiermee dat die volgende feite is. Dit is insidente wat ek persoonlik beleef het en betrekking het op me. Sarah Jacobs wat tans vermis word in Kaapstad, Suid-Afrika.

Gedurende April 2010 was ek deel van ’n groep vrywillige soldate wat pasiënte wat dringend sorg nodig gehad het, vervoer het na die Hadassah-hospitaal in Jerusalem. Die middag omstreeks drieuur het ons op pad terug van Jerusalem die pad deur die Negev-woestyn geneem. Onderweg van Mitzpe Ramon na Eilat het ons skielik skote vorentoe tussen die heuwels hoor klap. Ons was gewoond aan die onderonsies tussen die Israeli’s en die Palestyne, maar was dadelik op ons hoede. Ons voertuie het in konvooi gery met een swaar gewapende missiel-Jeep vooruit, dan die gepantserde veldambulans en dan een gepantserde veldvoertuig as agterhoede.

•In die Negev-woestyn het ons op me. Jacobs se motor, wat in ’n lokval gelei is, afgekom.

•Die terroriste het padgegee toe ons nader kom.

•Ons het me. Jacobs uit die wrak bevry, in ons gepantserde ambulans gelaai en saam met ons geneem.

•Ons het die Israelse owerheid daarvan verwittig en hulle het haar naasbestaandes in kennis gestel.

•Ek het byna ses maande na haar gesondheid omgesien en dis by haar wat ek my bietjie Afrikaans geleer het.

•Sy is later met behulp van die Rooikruis en die Suid-Afrikaanse ambassade in Egipte via Kaïro terug na Suid-Afrika.

•Ek het vroeër dié week ’n dreigbrief ontvang. (Kyk aangehegte dokumentasie.)

•Die terroriste het gedreig om haar skade aan te doen as ons nie die Suid-Afrikaanse Ratel-voertuie uit Jemen verwyder nie.

Ek het so gou ek kon hiernatoe gekom, maar is opgehou op die OR Tambo-lughawe en op pad deur twee motors van die pad gedwing en gedreig. Die hoofdoel van my besoek is om me. Jacobs se lewe te probeer red.

Hiermee gee ek my volle samewerking vir die ondersoek, maar soos u behoort te verstaan is ek ook onder direkte bevel van die Internasionale beheerliggaam van die Organisasie van vyf lande, wat die Koalisie vir Vrede in Jemen vorm.

Ek moet u ook versoek om my te alle tye ingelig te hou en te betrek by elke faset van hierdie ondersoek. U kan my Israelse kollega Gideon Katz kontak vir bevestiging van my identiteit.

Ari’el skryf vinnig die nodige veilige nommers, en e-posadresse vir Gideon Katz, asook sy eie kontakdetails neer. Hy onderteken die verslag.

Daarna gaan klop hy aan die toe deur. Feitlik dadelik verskyn inspekteur Rassie in die deur, asof hy die hele tyd daar gestaan en wag het vir Ari’el om klaar te maak.

“Ek sal bly wees as u my rekenaarsak aan my kan besorg sodat ek van die bewysstukke aan die verklaring kan vasheg, Inspekteur,” vra Ari’el dringend.

Inspekteur Rassie maak die deur wyer oop en kyk Ari’el net met ’n skewe glimlag aan. Hy raap die geskrewe verklaring op die tafel vinnig op en begin dit dadelik spoedlees. Hy kyk nie een maal op nie en ignoreer Ari’el se dringende vraag heeltemal.

Toe die inspekteur klaar gelees het, knik hy twee of drie keer met sy groot kop in Ari’el se rigting en blaf ’n bevel deur die oop deur.

’n Junior konstabel kom aangedraf met die halfoop tas waarin inspekteur Rassie duidelik gesit en krap het terwyl Ari’el met sy verklaring besig was. Die inspekteur neem die blad met die e-pos en ook die koerantberigte uit die tas. Sonder om die ander dokumente in die tas reg te skik oorhandig hy die papiere aan die wagtende konstabel, wat draf om kopieë daarvan te gaan maak.

Terwyl hulle wag, gebruik inspekteur Rassie die telefoon op ’n onbemande lessenaar in die voorste kantoor en ná ’n paar kort bevele plak hy die gehoorbuis op die telefoon neer. Sonder ’n woord het hy Ari’el aan sy elmboog, pluk die fotostate en berigte uit die hand van die konstabel wat afdrukke daarvan gemaak het en drafstap met Ari’el, dokumente wapperend in die ander hand, die gang af na sy eie kantoor.

In die kantoor druk hy die deur toe en wys vir Ari’el om op die een regop blou kantoorstoel te gaan sit.

Een hele muur van inspekteur Rassie se kantoor bestaan uit ’n paar groot aansteekborde. Bo-aan die een staan daar slegs in groot swart letters “SARAH” met ’n foto van haar langsaan. Verder is die bord leeg. Die inspekteur stap nader en druk een vir een die afskrifte van Ari’el se verslag asook die berigte op die aansteekbord vas.

Ari’el merk dat daar ’n dik pak drukstukke op Rassie se lessenaar lê. Toe Rassie dit wegstoot voor hy gaan sit, sien Ari’el sy eie foto onder die papiere uitskuif. Rassie moes dit op die internet raakgeloop het. Die inspekteur het duidelik baie gou aan die werk gespring of hy het ’n baie goeie persoonlike assistent. Ander aansteekborde teen die muur is vol handgeskrewe notas, berigte, pyle na foto’s.

“Ari’el, terwyl jy die verklaring geskryf het, het ek ’n paar oproepe gemaak en ek is tevrede dat jy is wie jy sê jy is.

“Welkom aan boord, dokter Ari’el, as ek jou so mag noem? Net jammer jy het ons nie vertrou en by die saak betrek voor jy uit Saoedi-Arabië vertrek het nie. Dan kon ons die gemors van Sarah se verdwyning gespaar gebly het,” betig hy.

Voordat Ari’el kan antwoord, praat die groot man al weer in die gehoorbuis van sy telefoon. In ’n te vinnige Afrikaans vir Ari’el om te verstaan gee hy nog bevele.

“Jy lyk soos ’n spook, Dokter.” Die inspekteur skink ’n beker koffie uit ’n koffiemasjien wat eenkant staan en prop dit in Ari’el se hand. “As ek jou goeie raad kan gee, gaan rus ’n paar uur. Ek sal jou dadelik laat weet as ons enige vordering maak. Sorg dus dat jou selfoon aangeskakel bly. Hierdie inligting wat jy ons nou besorg het, klaar ’n paar raaisels rondom haar verdwyning op, maar ons weet nog ver te min. Het jy dalk die registrasienommers van die voertuie wat jou gedreig het, gesien?”

“Nee, jammer, Inspekteur, alles het veels te vinnig gebeur.” Rassie knik net sy kop en staar intussen ingedagte na sy aansteekbord.

Die koffie is erg soet, maar Ari’el sluk die donker vloeistof vinnig af. “Dankie vir die koffie, Inspekteur. Ek is nie ’n goeie vliegtuigslaper nie en voel wel ’n bietjie gedaan. Ek weet ek gaan my kragte later nodig hê, so rus is op die oomblik die beste ding om te doen. Net twee vrae voor ek gaan …”

“Net ’n oomblik, Dokter. Vertel my net eers ’n bietjie meer van verlede jaar se insidente. Wat het gebeur nadat julle konvooi in die Negev op Sarah se motor afgekom het?”

Ari’el knik. “Inspekteur, daardie area is bekend vir sy terroristeaanvalle. Ons konvooi het dadelik stadiger gery toe ons by die draaie in die pad kom omdat mens glad nie kon weet wat vir jou om die draai wag nie. Ons is deur ’n drif en die oomblik toe die voorste Jeep om die volgende draai gaan, het daar hewige skote voor in die pad geklap.

“Ek het in die gepantserde ambulans gery en, soos ons opgelei is en ons gewoonte is, het ons onmiddellik ons wapens gereed gehou. Die troepe in die voorste Jeep het die hewige geweervuur reeds beantwoord teen die tyd wat ons op die toneel verskyn het. Later het ek besef hoe dankbaar Sarah kon wees dat die voorste Jeep nie die swaarder wapentuig gebruik het nie. Ek het slegs die agterligte van ’n vreemde veldvoertuig wat haastig op die vlug geslaan het, gesien. Voor ons in die pad was die wrak van ’n kleinerige blou siviele voertuig. Later het ons verneem dat dit die motor is wat Sarah vroeër daardie week in Jerusalem gehuur het.

“Die oomblik wat ons langs die verminkte karretjie tot stilstand gekom het, het ek uit die ambulans gespring, want halfpad onder die motortjie het ’n liggaam gelê. Die soldate kon binne minute die wrak skuins lig sodat ek en ’n ander medic Sarah se slap liggaam kon uithaal en vasstel wat haar toestand is. Ons kon noodbehandeling op haar toepas. Sy het ’n geweldige hou teen haar kop weg, en het aan erge harsingskudding gely. Haar voet was lelik gebreek. Die oomblik wat ons haar gestabiliseer het, het ons haar in die ambulans gelaai en daar kon ek die res van die diagnose en behandeling doen. Ons het nie vertoef nie en inderhaas die res van ons tog aangepak, ook omdat Sarah se toestand bedenklik was. Haar handsak en bagasie kon ons uit die wrak red voordat ons vertrek het en ons was ook nie ’n paar honderd meter weg nie, toe ontplof die blou wrak. Ek het al baie gewonder of die wrak dalk deur die terroriste met ’n fopmyn gelaai was en of dit maar die tingerige motortjie se eie brandstof was wat die ontploffing veroorsaak het.

“Sarah het behandeling dringend nodig gehad en ons wou ten alle koste verhoed dat ons konvooi verbind word met die aanval en ontploffing op daardie kronkelpad in die Negev-woestyn. Ek vermoed steeds die terroriste het ons van iewers af dopgehou en dit was veiliger vir ons almal om so gou moontlik uit daardie area weg te kom. Terug in ons tentekamp in die Saoedi-Arabiese woestyn het ons vanselfsprekend ’n skrobbering van ons senior offisiere gekry. Eers later, toe ons sien dat Sarah ’n Suid-Afrikaanse burger is, het ons besef dat ons hier met ’n internasionale tameletjie te doen gaan hê. Ons moes vinnig ons kamp verskuif en intussen het ek die onbenydenswaardige taak gehad om Sarah te probeer gesond kry, nie net aan die lewe hou nie.”

“Nou waarom het julle haar nie by een van die Israeliese hospitale afgelaai nie?” val inspekteur Rassie hom in die rede.

“Dit was ’n oordeelsfout, Inspekteur. Daar was nie omdraaikans nie. Ons onmiddellike bevelvoerders het besluit om haar na die kamp van ’n sjeik wat ons goedgesind is te skuif. Daar het ons haar met sy goedkeuring gehou totdat sy gesond genoeg was om te vervoer na ’n lughawe en die lang vlug na Suid-Afrika kon onderneem.

“Ons het wel onmiddellik my kontakte in Jerusalem gebruik om, via die Rooikruis en te midde van groot geheimhouding, haar naasbestaandes te laat weet dat sy leef en aansterk in ’n ‘onbekende maar veilige plek’. Dit is waarom die pers nooit daarvan berig het nie. Ons kon die anonimiteit van ons weldoener, die sjeik, nie in gevaar stel nie en daar was vir maande ’n internasionale intelligensieondersoek om vas te stel of Sarah se lewe in gevaar was en of sy tydens haar ongeluk net die verkeerde persoon op die verkeerde plek in die pad van die terroriste was. Ons wou weet of dit ’n onafhanklike insident was.

“Sarah het ernstige inwendige beserings gehad asook die kopwond, twee ribfrakture, ’n geperforeerde long deur een van die ribbes, inwendige bloeding as gevolg van die blou karretjie se wrak wat bo-op haar beland het en ’n voet en enkel met vier frakture. Sy het ná drie weke waarin ek haar soos ’n babatjie moes versorg eers haar bewussyn herwin. Ons kon haar naasbestaandes laat weet sy is buite gevaar, maar die herstelproses kon toe eers begin. Sarah se lus om te lewe en haar innerlike krag en entoesiasme het bygedra tot haar herstel. Ons kon haar ná ses maande via die Rooisee insmokkel tot in Egipte, waar die Suid-Afrikaanse ambassade haar op die lughawe uit my sorg geneem het en sy veilig kon terugreis na Suid-Afrika.

“Ek het daarna bedank uit die onafhanklike, vrywillige Rooikruisgroep en het uitsluitlik saam met die Koalisie vir Vrede in Jemen begin werk. Hulle het my einde verlede jaar tot leier van die organisasie verkies. Ons is ’n uitgebreide en gespesialiseerde groep met lede uit vele lande. Ons kry intense opleiding om teen terroriste op te tree.

“Tot verlede week het ons gedink dat daardie insident van die aanval op die blou karretjie in die Negev-woestyn in Israel ’n onafhanklike en toevallige ongeluk was, maar vandag dink ek nie meer so nie. Ek weet nog nie hoe die vurk in die hef steek nie, maar ek weet met Sarah se verdwyning is daar ’n miernes oopgekrap. Ons sal sake moet uitpluis en ons sal dit gou moet doen.

“’n Paar dae gelede het ons daardie aangehegte e-posboodskap ontvang.” Ari’el wys na die berig wat nou op die aansteekbord pryk. “Ons Koalisie se intelligensiediens was nog besig met die ondersoek om die oorsprong van die e-pos op te spoor toe ek na Suid-Afrika vertrek het.

“Hulle het my eenparig en onmiddellik afgevaardig om na Suid-Afrika te reis, Sarah te kom waarsku en, as dit nodig is, op te pas. Ons het selfs gedink om haar na ’n plek van veiligheid te neem, indien nodig.

“My vlug is ure op die OR Tambo-lughawe vertraag en selfs dit voel nou vir my te toevallig. Die vaalblou karretjie en die groen Duitse motor wat my probeer afskrik het.” Ari’el maak ’n gebaar om aanhalingstekens aan te dui. “Hulle het vir my op die lughawe hier in Kaapstad gewag. Dit is ook nou baie duidelik deel van die netwerk wat agter die hele spul sit, Inspekteur.” Ari’el vryf oor sy voorkop.

“My groot bekommernis is dat iemand ons Koalisie binnegedring het en dus weet van elke beweging wat ek maak.” Ari’el skep skaars asem. “Inspekteur, julle het nog geen spoor van Sarah nie? Sy was tog op die strand. Dink u sy is ontvoer? Het die ontvoerders nog glad nie kontak gemaak nie? Dit is so frustrerend!”

“Stadig, Dokter. Jy het gesê twee vrae, nie ’n sarsie nie.

“Om jou laaste vraag te beantwoord: tot op hierdie oomblik niks, niks en niks is my antwoord.

“As ons jou verslag en e-pos in ag neem, sal wie ook al Sarah opgelaai het, tog weldra kontak maak – hoop ons. Ons het gelukkig nêrens op die misdaadtoneel bloed van Sarah gekry nie, wat ’n redelik goeie teken is. My bekommernis is wel dat hulle haar dalk baie ver kan neem. Ons land is so uitgestrek. Elke minuut is nou van kardinale belang.

“Ek het al die lughawens laat waarsku, asook alle grensposte en die Kaapstadse en Simonstadse hawe. Ons het al ons stasies laat weet om op die uitkyk te wees vir enige verdagte optrede, maar ek dink te veel tyd het reeds verloop. Ons land het baie uitglipplekke langs ons grense en kuslyn.” Rassie frons. “Is jy bewus van die feit dat Sarah se broer ’n groot kokkedoor in die Suid-Afrikaanse weermag was?”

“Sy het verlede jaar so iets genoem, Inspekteur.” Rassie gaan egter voort asof hy Ari’el nie gehoor het nie. “Die ander moontlikheid is dat hulle kan besluit om iewers weg te kruip en laag te lê. Dit voel of ons in die donker rondtas. Die leidrade is weinig. Ons moet maar net hoop dat hulle haar ongedeerd sal laat.”

Rassie sug hard en wys na die Ari’el se kippah. “As jy gelowig is, is dit nou die tyd om te bid, jong man. En jou tweede vraag was …?”

Ari’el huiwer eers effens. “Ek het gewonder of dit heeltemal buite die kwessie sal wees om te vra of ek in Sarah se huis kan gaan bly, Inspekteur? Ek het nog nie plek in ’n hotel bespreek nie. Dalk kan ek deur daar te wees iets te wete kom, en … ek weet, ek weet!”

Ari’el hou sy hand op om te motiveer toe die inspekteur protes aanteken: “Ons weet wat ons doen as dit by misdaadtonele kom. Jy wat dokter Ari’el is, hoef ons nie te kom leer nie!”

“Hokaai, Inspekteur, ek wil nie sê julle het nie jul werk goed gedoen nie. Inteendeel, ek is beïndruk met julle deeglikheid. Maar, soos u miskien kan aflei, was ek en Sarah baie na aan mekaar. Soos u ook duidelik weet, is ek die enigste persoon hier rond wat haar goed genoeg ken en dalk iewers ’n leidraad kan opspoor omdat ek haar gewoontetjies ken. Haar ouers is jare gelede oorlede en sy het net die een broer. Hy woon in Pretoria, as ek dit reg het.

“Ek sal verstaan as u dit nie wil toelaat nie. Maar sou u, sal dit alles net soveel vergemaklik.” Inspekteur Rassie wil weer begin baklei, kan hy sien. “En, Inspekteur, ek, e … ek sal nader aan haar voel.” Ari’el voel sy gelaat effens warm word.

“Jy weet, Dokter, dit kan ’n slim plan wees. As die ontvoerders enigsins in die huis probeer kom, dan kan jy hulle verras. En dit spaar een van my manne om heeltyd daar ’n oog te hou.”

Inspekteur Rassie staan vinnig op en stap na ’n klein kluis teen die een muur van sy kantoor. Hy sluit dit oop en haal ’n geseëlde plastieksakkie met ’n bos sleutels te voorskyn. “Ons het hierdie ekstra bos sleutels in haar huis gekry. Spaarsleutels vir haar huis, hekke en buitegeboue. Neem dit en teken net hier.” Hy skuif ’n register oor die lessenaar na Ari’el.

Ari’el skryf Sarah se adres en besonderhede neer. Langsaan skryf hy ook sy besonderhede en teken daarby. Hy glimlag heimlik na binne. Dit is darem een tree vorentoe!

Inspekteur Rassie roep die konstabel wat net buite sy deur gewag het en gee hom opdrag om Ari’el na Kieselstraat te neem.

Hierdie keer gee Rassie Ari’el ’n stewige handdruk en druk ’n geskrewe dokument in sy hand. Ari’el frons.

“Net vir die wis en die onwis, dokter Ari’el,” sê Rassie voor Ari’el dit kan lees. “Dit is ’n getekende verklaring van my as polisiebeampte om die skade aan jou gehuurde motor te verduidelik – vir hulle versekering. Gedink jy sal dit nodig hê,” en hy knipoog voordat hy omdraai en vir hom nog koffie inskink.

Ari’el is verras met die inspekteur se versiendheid en in sy binneste voel hy dat Sarah se saak in goeie hande is. Vir eers gaan hy ’n paar uur rus, sodat hy skerp kan fokus op hierdie saak.

Oase

Подняться наверх