Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Kaapstad, 18 Junie 2011

Ari’el parkeer sy gehuurde motor agter ’n piepklein polisiemotortjie en klim haastig uit toe die ambulans tot stilstand kom. Hy sien nie die hoë blou berg tussen die wolke agter die huis nie. Hy sien ook nie hoe die dik misslierte van die boberg af see se kant toe trek nie. Hy fokus net op die ambulans en klem sy kake opmekaar.

Die kaalkopman kyk vlugtig op, gluur Ari’el aan en draai na die ambulansmanne. Almal praat Afrikaans, Sarah se taal wat sy hom probeer leer het terwyl hy haar versorg het. Daardie bietjie kennis kom hom nou handig te pas.

“Kyk vinnig vir my of julle haar kan help,” vra die groot man dringend.

Toe sien Ari’el tot sy verligting hoe die een uniformman oor ’n pragtige goue Labrador wat op die grond lê, buk. Die hond se pels is besmeer en gekoek met bloed. Terwyl hy frons en onbegrypend om hom rondkyk, stap hy in die rigting van die groot bleskopman.

Daar is geel polisielint rondom Sarah se huisie gespan en nou sien Ari’el ook polisiemanne met honde wat die terrein om haar huis fynkam. ’n Yskoue band omklem Ari’el se hart.

Die groot man kyk hom op en af. “Kan ons help? Can we help you? This is a crime scene,” sê hy bruusk nog voor Ari’el ’n woord kan uitkry.

“H’m, ag, verskoon my. Ek is dokter Ari’el ben-Yusuf, ’n vriend van juffrou Sarah … e … Jacobs,” sê hy in Engels. Hy steek hy sy hand na die groot man uit vir ’n groet en met sy kop beduie hy in die rigting van Sarah se huis.

Die groot man ignoreer sy hand en frons. “Vriend? Wat nóú hier aankom? ’n Bietjie laat, sou ek sê. Waarom soek u haar, as ek mag vra?”

Die kaalkopman se harde stem, wat by sy liggaamsbou pas, is intimiderend.

“Is Sarah tuis? Ek sal graag dringend met haar wou praat.”

Ari’el besef sy Mediterreense gelaat en naam help nou nie juis dat hulle hom in hierdie omstandighede vertrou nie. Die groot man kom dreigend nader. Ari’el, self by die ses voet lank en sterk gebou, word nie regtig deur die man se grootte en neerbuigende houding afgeskrik nie. Hy kyk hom vierkantig in die oë en sy blik is net so dreigend.

Die groot man wyk nie ’n aks nie. “Lyk dit vir jou of sy by die huis is, hè?” bulder hy. “Soos ek gesê het, dit is ’n misdaadtoneel en as ek jou kan raad gee, klim in jou vertonerige vierwiel en kry jou ry. Of nee, wag, wag net hier. Theuns!” roep hy na een van die uniformmanne en draai om. “Theuns, kom neem dié vent se besonderhede dat hy die pad kan vat.”

Maar Ari’el is gedetermineerd om nie sonder ’n antwoord hier weg te gaan nie. Hy plaas sy hand liggies op die groot man se arm. “Asseblief, Meneer, dis baie belangrik.” Ari’el se tong sukkel met die Afrikaanse klanke, maar hy is desperaat.

’n Glimlag breek oor die groot man se gesig toe hy omdraai en sy hele houding verander. “O, en toe praat die man wat vir my soos ’n Jood gelyk het al die tyd Afrikaans. Maar ek wil nog steeds weet waar jy so skielik vandaan kom?” Hy steek darem nou hy sy hand na Ari’el toe uit, skud Ari’el s’n met mening en vuur sy woorde asof met ’n masjiengeweer op hom af. Tussen sinne haal hy skaars asem. “Inspekteur Rassie Erasmus. Waarom wil jy met haar praat? Ongelukkig weet ons nie waar sy is nie. Ek wens ek kon jou help. Jy is Joods, nie waar nie? So gedink, daai kadotjie op jou kop.

“Sarah se buurvrou, die tantetjie daar oorkant, het vanoggend gesien hoe sy met haar hond gaan stap. Blykbaar is dit haar gewoonte op Saterdagoggende. Vroeg-vroeg al. Blykbaar was dit nog skemer.

“Toe die hond ’n ruk gelede bebloed en alleen hier aangesukkel kom en voor die hekkie gaan lê en huil, het die ou tannie dit gesien en eers die polisie gebel. Toe die konstabel wat uitgestuur is Sarah nêrens kry nie, het hulle ’n oopoproep oor die radio gedoen. Die speurtak het weer my eenheid gevra om te kom.

“Ons het die afgelope week drie ernstige aanvalle op vrouens in ons area gehad. Mens weet nooit of ’n reekskrimineel weer sy kop hier uitsteek nie.

“Maar kom, kom saam met my. Ek wil graag hier afry in die rigting waarheen sy gestap het, dat ons kan kyk of ons nie iets sien nie.

“Dan wil ek nog steeds weet waarom jy juis nou hier aankom?”

Die inspekteur stap summier na die polisiemotortjie en vou omtrent dubbel met die inklimslag. Ari’el haas hom agterna en sukkel ook om aan die motortjie se passasierskant in te klim.

Die polisiemotortjie ruk en brul vorentoe, teen die skuinste van die straat af. Nie ver daarvandaan nie, kry hulle ’n oop stuk veld en die pad draai skerp links see toe. Toe Ari’el begin verduidelik, hou die inspekteur sy hand omhoog om hom stil te maak. Ari’el trek sy skouers op en frons. Die inspekteur rem deur ’n smal oprit en hou ’n ent verder in die parkeerterrein naby die trappies wat afgaan strand toe stil. Hy wurm hom uit die karretjie, sy oë reeds op die sanderige modder vir spore.

“Gelukkig gee die reën ons ’n bietjie kans,” mompel die inspekteur onderlangs en steek ’n rooi vlaggie wat hy uit ’n leersak by hom uithaal in die sand langs ’n motorspoor in die parkeerterrein.

Ari’el volg hom in die rigting van die trappies.

“Versigtig trap, jongman, dat ons nie die spore versteur nie.”

Daar loop ’n klompie spore heen en weer in die klam sand langs die motor.

Hulle klim die gladde kliptrappies versigtig af, die Labrador se bloedspoor duidelik op die klippe. Langs ’n groot donker kol bloed in die sand langs die trappe gaan hulle staan.

Inspekteur Rassie krap weer in die sak by hom en haal ’n plastieksilinder uit. Hy klik dit oop, haal ’n wattepluisie uit en tik-tik daarmee op die donker kol in die sand. Die watte verkleur na donkerrooi en hy glip die wattepluisie in die silinder. Hy krabbel met ’n viltpen iets op die buisie en plaas dit in die leersak. Toe stap hy na die trappe se houtreling. Bestudeer dit noukeurig. Geen donker kolle daar nie.

Hy haal ook ’n houer met kwas en poeier uit die leersak. Versprei die poeier oor die handreling se oppervlak. Duidelike vingerafdrukke is sigbaar.

“Dit kan enigiemand s’n wees,” brom hy weer binnensmonds.

Inspekteur Rassie haal sy selfoon uit sy sak, glip dit oop en druk met een haal die skakelknop op die foon. Toe iemand dadelik antwoord, blaf hy ’n paar vinnige bevele in die foon. Hy klap die foon weer toe en met sy groot liggaam en ongemaklike stap loop hy versigtig om die donker kol in die sand.

Die sand is omgeroei rondom die bloedkol. Die res van die strand lê vir kilometers gladgespoel deur laas nag se branders.

Kan dit ’n teken van ’n gestoei wees? wonder Ari’el.

Ari’el hoor ’n paar motors in die parkeerarea stop, en inspekteur Rassie maan die uniformmanne om versigtig te trap. Almal spring dadelik weg met ’n taak. Sommige neem die vingerafdrukke, ander die buitebandafdrukke. Een polisieman neem foto’s en toe die hele area ook met die geel polisielint afgesper is, sug die inspekteur hoorbaar. ’n Polisievrou in siviele klere praat sag met die twee snuffelhonde by haar. Hulle ruik aan ’n serp wat sy vashou en begin die spoor strandlangs vat.

Ari’el se hart klop benoud. My liewe Saartjie. Waar is jy? Het hulle jou gevang, dalk ontvoer? Lewe jy?

Weer eens bid hy in sy binneste dat hul Abba Vader haar sal beskerm, waar sy ook al is. Op die oomblik is sy hande afgekap en dit is beter dat hy vir die oomblik die ondersoek aan die bekwame hande en honde om hom oorlaat sodat hy so gou as moontlik kan hoor wat hulle dink.

Hy kyk gefassineerd hoe die deskundiges letterlik elke duim van die area fynkam. Die polisiehonde het duidelik ’n spoor gekry en storm na ’n area langs die rotse. Daar gaan staan hulle, gaan sit en kyk tjankend op na hul hondemeester. Die inspekteur blaf weer ’n bevel en een van die forensiese manne hardloop haastig na die area waar die honde sit. Ari’el stap agterna. Daar is ’n enkel ry spore in die nat sand, sportskoenspore, voete so klein soos Sarah se voete wat hy so goed leer ken het – geen hondespore nie. Waarom was haar hond nie by haar nie? Waarom het haar hond haar vervlaks alleen na die rotse laat loop? Honderde vrae maal deur Ari’el se kop.

Inspekteur Rassie roep na Ari’el en hy draf terug trappies toe. Hy spring die trappies twee-twee uit en toe hy bo kom, het die inspekteur al ingeklim en die karretjie se sleutel gedraai. So gou Ari’el in is, trek inspekteur Rassie met ’n spoed weg. Ari’el brand om liewer op die strand agter te bly en te hoor of hulle nie nog leidrade kry nie. Maar hy voel aan sy binneste dit gaan nie so eenvoudig wees nie.

“Ek neem jou saam sodat ek by jou ’n verklaring kan afneem. Ek is agterdogtig oor jou skielike verskyning op hierdie vreemde oggend. Ek hoop nie jy het iets met haar verdwyning te doen nie.” Die Inspekteur se stem is bars. “Ek wil alles weet. Ek ruik ’n rot in hierdie saak.”

Ari’el weet nie waar om met die storie te begin nie. Die inligting wat hy het, kan noodsaaklik wees vir die ondersoek om Sarah op te spoor. Maar hoeveel is hy bereid om met hierdie Suid-Afrikaners te deel? Dalk is dit die beste om maar by die begin te begin. Hy haal diep asem en begin verduidelik. Die inspekteur gee hom weer nie kans om meer as twee woorde te sê nie.

“Ek wil nie nou hoor nie. Jy gaan nou soos ’n soet seun jou storie mooi op papier vir ons neerskryf. Ek sal daarna toelaat dat een van die konstabels jou terugbring na jou fênsie ryding. En jy verlaat nie die stad sonder dat ek daarvan weet nie, gehoor,” dreig die inspekteur in sy Engels.

Hulle parkeer voor Sarah se huis waar alles nou doodstil en verlate is en dis net die geel polisielint wat in die ligte wind wapper. Ari’el se beskadigde huurvoertuig is die enigste een in die stil straat. Ari’el het gevra die inspekteur moet hom die geleentheid gee om sy rekenaarsak uit die vierwiel te haal.

Inspekteur Rassie maak ’n aanmerking oor die skrape aan die kant van die gehuurde SUV. Terwyl hul verder na Rassie se kantoor toe ry, vertel Ari’el vir Rassie van die twee motors wat hom van die lughawe af gevolg het en hoe die huurvoertuig beskadig geraak het. Rassie rek sy oë, maar lewer geen kommentaar nie. Hy knik net aanhoudend sy kop.

Oase

Подняться наверх