Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Kaïro

10 Junie 2011

Die groot Arabier storm op die kort mannetjie af, pluk hom aan die bors en lig sy hele twee honderd kilogram met gemak op. Dié se voete swaai heen en weer bokant die grond.

“Ek wil nie jou opinie hoor nie.”

“Solank jy net gedoen het wat ek gesê het jy moet.”

“Dis reg, Groot Sadar. Ek het gedoen wat u gesê het. Die e-pos is van ons anonieme rekenaar gestuur. Ek wou maar net sê …”

“Ek het gesê ek stel nie belang om te hoor wat jy wou sê nie,” snou Sadar weer die man toe.

“Al waarin ek belangstel, is dat daardie arrogante Joodse doktertjie die boodskap kry dat ons sy duifie in Suid-Afrika gaan leed aandoen. Hopelik sal hy dan vinnig genoeg sy kontakte in Suid-Afrika, asook Jemen, aansê om die Ratels uit ons strate te verwyder. En laat haar boetie-die-ambassadeur-van-Egipte maar ’n bietjie sweet.” Sadar het die kort, dik mannetjie weer ru op sy voete neergesit en stap heen en weer in die kantoor waarvandaan hy sy besigheid doen.

Die kort mannetjie vryf nou sy hande met genoegdoening saam. “Ja, Groot Sadar. Daardie dokter wat sy lyf Jemeniet hou, was baie danig met daardie Suid-Afrikaanse meisie terwyl hy haar versorg het daar in die woestyn. Hy was woedend die dag toe ek daar by die tent waar sy versorg is, gaan inloer het. Dit was daarna wat hy my uit die kamp gegooi en ek besluit het om wraak te neem.”

“Hoe het jy haar opgespoor?” Sadar kan steeds nie die ongeduld uit sy stem hou nie.

“My neef in die Kaap is mos met een van die Maleiers daar getroud, Groot Sadar. Ek het mos twee maande daar gaan kuier en soos u weet, is alles vandag moontlik as jy net die rekenaar kan gebruik. Facebook en Twitter is handige soekenjins. Die klomp Westerlinge sit hul hele lewe en ook sommer alles wat hulle doen, dink ek, op daardie blaaie. So dit is eenvoudig: Ons weet alles van wat almal doen, waar hulle is, waar hulle bly …” Hy grinnik.

“Die klomp mense wat op daardie blaaie is, sal nóóit weer kan wegkruip nie. Ha-ha. Ek het tot haar adres en haar huis op Google Earth nagespeur.”

Sadar gaan staan in sy spore en kyk die dik vent met nuwe oë aan.

“Nou vat al daardie inligting wat jy oor haar het en stuur dit dadelik vir ons span in Kaapstad. Toe-toe, weg is jy.”

Sadar wuif in die deur se rigting om aan die dik man te toon dat hy klaar met hom gepraat het.

Die mannetjie huiwer nog en toe hy sy mond oopmaak om nog iets te sê stoot Sadar hom onsag by die deur uit en klap dit hard agter hom toe. Toe hy later by die venster staan en die vent in die straat agternakyk, grinnik hy egter.

“Die Joodse dokter sal leer dat ’n mens in ons bedryf nie vyande moet maak nie,” mompel hy by homself, draai om en gaan sit voor sy skootrekenaar. Hy maak die Facebook-blad se soekfunksie oop om self ook kontroleerwerk te doen.

Kaapstad

Vrydag 17 Junie 2011, 17:30

Dis al sterk skemer en Sarah trap versigtig oor die plasse tot by haar voordeur. Sy waardeer elke dag wat sy haar ou pophuisie in dié ou buurt van Kaapstad kan oopsluit. Wanneer sy sommige aande moeg van die ure se rekenaarwerk as navorser by die huis kom, voel dit altyd of haar huis met sy gordyne en matte in warm kleure haar verwelkom. Dis ’n nat vroegwinter hierdie jaar in die Kaap en Sarah is dankbaar dat sy tuis is ná ’n uitputtende werksweek. Die stoepie groet haar met ’n mengelmoes kleure en welige potplante. Die bolplantblomme se geur hang swaar in die klam aandlug. H’m, heerlik.

Sy skakel die alarm af en Ounooi, haar goue Labrador, storm vrolik van agter by haar verby, draai om en kom skuur stertswaaiend teen haar been. Sy laat sak die pakkies op die kombuistafel en vryf die goue kop met die vriendelike oë. Terwyl sy vinnig die kaggel met lekker groot houtstompe en dennebolle pak, neurie sy saggies. Sy sal moet gou spring om alles klaar te kry voor haar gaste opdaag.

Toe sy later die twee kerse in die blou keramiekhouers op die gedekte tafel plaas, gaan haar gedagtes vanself terug na meer as ’n jaar gelede, na ’n ander Vrydagaand, ’n Erev Shabbat.

Dit was in die Negev-woestyn waar sy saam met Friedel en Marlise hierdie selfde twee kershouers gebruik het. Daar was heerlike Mediterreense kos en hulle het haar die voorreg gegee om die kerse aan te steek. Speserygeure het die knus karavaanhuisie gevul met warmte en liefde. Dit was daardie mooi aand voordat sy na Eilat toe sou vertrek.

Die volgende dag is sy op pad na Eilat aangeval deur Arabiese terroriste. ’n Opportunistiese aanval op ’n onskuldige toeris, het die koerante dit beskryf.

Sy byt op haar lip. Dit voel so lank terug. Maande ná daardie ongelukkige voorval, veilig terug in Suid-Afrika, het sy ’n pakkie in die pos ontvang. Marlise het die blou keramiekkershouers wat sy so bewonder het daardie aand in fyn sneespapier toegedraai en aan haar gestuur. Aangeheg was ’n kaartjie: “Ons is so dankbaar jy is veilig en weer op die been. Gebruik hierdie blou goed wanneer jy Shabbat hou en dink aan ons.”

Hoe kosbaar is hul vriendskap nie.

Die klop aan die deur ruk haar gedagtes terug na die hede. Haar Joodse vriende is hier. Hulle is vir haar net so kosbaar.

Hulle kuier en sing en eet van haar geurige Kaapse bredie. Die aand vlieg verby. Die Vrede van die Shabbat daal oor haar huisie neer terwyl die sagte lig van die Shabbat-kerse weerkaats in die groot, elegante rooiwynglase. Hulle bid God se seën oor mekaar af en toe gaan haal sy die nagereg. Die souskluitjies se kaneelgeur vul die huisie. Later sit almal knus op haar bont kussings om die kaggel en kuier. Sy is deesdae dankbaar vir elke mooi oomblik en sy drink dit in. Die lewe is so kosbaar en kan so kort wees. Sarah geniet elke minuut van hierdie aand.

Net ná elf groet sy almal by die voordeur en gooi dan weer ’n paar houte op die vuur in die kaggel. Sy sak voor die vuur neer en toe Ounooi by haar voete kom opkrul, draal haar gedagtes weer na die gebeure van verlede jaar. Sy vryf met haar duim oor die ryk borduurwerk op een van die kussings langs haar. Ari’el het die oortreksel in haar rugsak gestop voor haar vertrek. Die wynrooi en oranje skakerings is met gouddraad geborduur.

“Sodat jy my nie kan vergeet nie,” was sy woorde met ’n knipoog. Dierbare dokter Ari’el.

Haar voet het darem genadiglik goed herstel. Sy droom oopoog en lomerig oor Ari’el. Waar sou hy vanaand wees? Met die onrus wat opnuut in Jemen opvlam, voel sy soms regtig begaan oor sy veiligheid. Verlede jaar nadat hy haar in Kaïro op die lughawe afgelaai het, het sy gehoop om gou weer van hom te hoor. Maar tot vandag toe het sy nog niks van hom verneem nie. Sy leun teen een van die groot kussings op die bont Afgaanse mat. Met ’n skewe glimlag kyk sy na haar snoesige sitkamertjie. Al die ryk kleure sal haar altyd aan die tent in die woestyn herinner. Die tent wat vir soveel maande haar tuiste was en waar sy haar hart verloor het. Waarom het hy dan uit haar lewe verdwyn? Of was die boodskap saam met die kussing net ’n skertsery? ’n Ligter flirtasie van verbygaande aard?

In die middel van die nag word sy styf-koud voor die dooie kaggel wakker. Sy roer stram, strek haar uit en sien Ounooi loer met skrefiesoë na haar toe sy opstaan. Slaperig loop sy deur die huis na haar slaapkamer toe, waar sy vinnig haar slaapklere aantrek en onder die dik duvet inklim. Ounooi kom lê met ’n plof op haar kussing langs die bed.

OR Tambo-lughawe

Vrydag 17 Junie 2011, 22:55

Geïrriteerd en ongeduldig trommel die lang donker man in die blou pak op sy rekenaarsak wat op sy skoot lê. Hulle vliegtuig het lankal geland en hy verstaan nie wat die oponthoud is nie. Die deure is nog nie oopgemaak nie en die lugwaardin het die passasiers gevra om geduld te gebruik, nog ’n paar minute te wag voordat hulle opstaan om die vliegtuig te verlaat. Hy weet hy sal moet wikkel as hy nog deur die doeane moet kom om die aansluitingsvlug na Kaapstad betyds te vang. Hy haal die kaartjie vir die aansluitingsvlug van Johannesburg na Kaapstad uit sy binnesak. Die vlug vertrek reeds om 23:45. Met ’n vlugtige kyk na sy polshorlosie dink hy daaraan dat dit ’n wonderwerk van Bo sal wees as hy die vlug vanaand haal.

Hoewel dit laataand is, bly dit steeds naweek en Ari’el het geen idee hoe besig die lughawens hier in Suid-Afrika deesdae is nie. Buite sukkel die lughawe se spreiligte om deur Johannesburg se besoedelde lug te breek. Soos daardie dag toe hy haar op Kaïro se lughawe afgesien het. Daardie vuil stad se nuwe lughawe was toe nog nie voltooi nie, alles was so gejaagd en deurmekaar en die mistroostige weer het nie juis gehelp nie.

Sy gedagtes gaan terug na hoe hy haar oë bruusk vermy het omdat hy die vrae daarin nie kon beantwoord nie. Hy sug hoorbaar en weet dit is hoekom hy nou al die pad Kaapstad toe onderweg is. Dis net haar veiligheid wat vir hom dringender is as die behoefte om al die dinge tussen hulle wat ongesê is op te klaar. Daarom is dit so belangrik om so gou moontlik in Kaapstad te kom. Die dreigbriewe wat hy van die terroriste ontvang het, neem hy glad nie ligtelik op nie.

Uiteindelik kondig die vlugkaptein aan dat die vliegtuigdeure nou oopgemaak gaan word en hy maak ook verskoning vir die oponthoud, alles weens onvoorsiene omstandighede. Daar was blykbaar ’n krisis op die lughawe en hulle moes wag dat die lughawe toestemming gee dat die passasiers uitstap.

Terwyl Ari’el so hoflik moontlik maar met haastige treë tussen die ander passasiers deur vorentoe beur op die loopwurm, sien hy uit die hoek van sy oog deur een van die vensters die flitsende blou ligte van polisievoertuie op die aanloopbaan. Sou dít die oponthoud wees?

Uiteindelik kan Ari’el op die vliegtuig na Kaapstad klim.

Dit is Saterdag, reeds 07:30.

As gevolg van die oponthoud was hy nie betyds vir sy aansluitingsvlug na Kaapstad nie. Sy kaartjie kon nie na ’n volgende vlug oorgedra word nie omdat die vlugte vol was, en hy was boosaardig van woede.

Sarah se veiligheid hang van hom af, net van hom, en hy móés net so gou as moontlik vlieg.

Hy het die ure in die deurgangslokaal omgewens en daar was nie sprake van slaap nie. Telkens het hy gewens dat hy iemand in Kaapstad kan vertrou. Iemand om ’n ogie oor Sarah te kan hou tot hy daar is. Aan die ander kant wil hy niemand met hierdie sensitiewe saak vertrou nie. Sy mense in Jemen hanteer die onderhandelinge daar.

Hy glimlag skeef toe hy dink aan gisteraand. Die lughawe hier in Johannesburg sal hom nie maklik vergeet nie.

Eers nadat hy ’n klein herrie opgeskop het, het die grondpersoneel vir hom op die eerste volgende vlug ’n sitplek bewimpel. Hoe, weet hy nie en hy gee ook nie om nie. Maar dít was eers vanoggend se vlug. Die nagvlugte was vol.

Ari’el plak hom in sy sitplek langs die venster neer nadat hy sy klein oornagtas en rekenaarsak in die oorhoofse kabinet geplaas het. Hy maan homself om kalm te bly terwyl hy die lugwaardin se vriendelike aanbod vir ontbyt van die hand wys. Hy bestel net ’n filterkoffie. Kos kan hy om die dood nie nou oor sy lippe kry nie. Hy verwyt homself nou dat hy nie maar vir Sarah gebel het voor hy aan boord gegaan het nie. Dan kon hy haar ten minste waarsku.

Wel, dis nou te laat. Wat sal haar reaksie wees as sy hom uit die bloute oor ’n telefoon hoor? Hy sal liewer ’n SMS stuur sodat sy hom darem kan verwag. Maar hy gaan haar tog maar bel voor hy in Kaapstad aankom – reaksie of te nie – dan kan hy haar maan om versigtig te wees.

Sy vlug sal 09:30 in Kaapstad land en daar sal dit ook seker weer hoe lank neem om uiteindelik sy bagasie te kry, dan ’n motor te huur en na haar toe te ry. Hy het op die GPS uitgewerk dat dit hom min of meer vyf en veertig minute tot ’n uur behoort te neem om in die Saterdagoggendverkeer tot by haar huis te ry. Gelukkig was hy al vir ’n paar mediese seminare en kursusse in Kaapstad en behoort hy darem nie veel te sukkel om daar oor die weg te kom nie. Hy sluk die laaste louwarm koffie vinnig af, maak sy sitplekgordel los en staan op om sy rekenaarsak uit die bagasieruim bokant sy sitplek te haal.

Oase

Подняться наверх