Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

Saterdagoggend, 18 Junie 2011

Vir die res van die vlug na Kaapstad sit Ari’el intens deur sy notas en werk. Hy sien afgetrokke dat die sitplekke voor en agter hom vol skoolkinders op ’n sporttoer is. Hulle gekwetter en opgewondenheid irriteer hom, want dit staan in direkte kontras met sy donker bui. Hy wil op die oomblik net fokus op sy missie in hierdie mooi land aan die suidpunt van Afrika.

Ari’el staar afgetrokke na die letters op die skerm van sy skootrekenaar terwyl sy gedagtes weer na Kaapstad gaan. Hy kyk gesteurd op toe ’n skraal jong man die lugwaardin wat verby stap byna uit die aarde stamp.

Die man se donkerbril, rye oorbelle en swart klere lyk totaal onvanpas en Ari’el wonder vir ’n kort oomblik waar hy die man al gesien het. Die kappie van die ou se grys jekker hang slap agter sy kop. Vir ’n oomblik gluur die vent hom openlik aan. Ari’el kan nie sy emosies lees agter die donkerbril nie, maar ’n rilling trek deur sy ruggraat. Sy oë wyk nie ’n aks voor die man se blik nie en hy probeer dié se blik vaspen. Die vent ruk egter sy kop heftig weg en slenter agtertoe, waar hy by die toiletdeur inglip.

Ari’el frons, skud sy kop en forseer sy gedagtes weer op die dag se planne. Sy gedagtes maal egter heeltyd om Sarah. Hy was ’n gek om nie met haar kontak te hou nie. En nou sit hulle presies binne-in dit wat hy wou vermy.

Ná ’n paar minute klap hy die rekenaarskerm toe en laat sy kop teen die stoel se rugleuning sak. Hy laat sy spiere doelbewus ontspan soos hy in die Israelse Verdedigingsmag geleer is.

Ná ’n kort slapie om sy kragte te herwin, sy hande op sy skootrekenaar gevou, voel hy beter. Hy vryf sy oë en kyk rond. Die gryskappievent sit vier rye skuins agter hom oorkant die paadjie. Die vent gluur hom al weer aan.

Gmf, dink hy, as hulle deesdae ’n jong snuiter stuur om my dop te hou, moet hulle baie desperaat wees.

Die res van die vlugtyd bestee hy daaraan om die plan in sy kop te slyp. Hulle sal baie versigtig te werk moet gaan om nie agterdog te wek nie. Veral as daar reeds ’n stertjie gestuur is om hom dop te hou. Die terroriste is slinks en het baie ore op die grond.

Hoekom hulle besluit het om Sarah te teiken is vir hom nog steeds duister. En ’n nagmerrie. Hy wonder hoeveel ure hy geslaap het sedert hulle ’n paar dae gelede die e-pos ontvang het. Al was dit ’n onbekende en blykbaar onopspoorbare e-posadres, neem hy en sy mense aan dit is van Die Drie Broeders, soos die terroristegroep van Jemen hulself noem. Dié drie leiers uit verskillende lande wat mekaar as “broers” beskou, is slinks en baie fanaties. As hy sy oë toemaak, kan hy die woorde van die dreigende e-pos nog voor hom sien: “Dokter Ben-Yusuf, die rooikopvrou van Kaapstad sal betaal. Die Suid-Afrikaners sal almal betaal as dit moet, omdat hulle Ratels die strate van Jemen plattrap. Gebruik jou kontakte en maak ’n plan daarmee. Onthou, jy is ook in ons visier!”

Hy knip sy sak oop en vroetel daarin. Onder sy dokumente haal hy die pakkie koerantberigte uit. Terwyl hy daardeur blaai, sug hy onwillekeurig. Sy oog val op ’n gedeelte wat met kleur beklemtoon is.

Die Suid-Afrikaanse Lugmagforum: 09 Junie 2011. Die nasionale komitee vir beheer oor konvensionele wapens (NCACC) behoort ’n volskaalse ondersoek te begin na die klaarblyklike gebruik van Suid-Afrikaanse Ratel-pantservoertuie in die geweldgeteisterde Jemen. Dié voertuie is deur die internasionale media-agentskappe Reuters en Associated Press in Sana’a, Jemen, afgeneem te midde van die land se regering se gewelddadige onderdrukking van pro demokrasie-opstande.

’n Foto van die Ratel pryk ook op die berig.

Volgens ’n sekere parlementslid kan die regering en die NCACC nie toelaat dat Suid-Afrikaanse wapentuig in die hande van onderdrukkende regimes beland nie. Die NCACC se jongste jaarverslag – oor Suid-Afrikaanse wapenhandel met buitelandse moondhede – toon meer as R360 miljoen se kategorie A-wapens is verlede jaar aan Jemen verkoop. Dié wapens word omskryf as “groot wapentuig” wat tot die omvangryke verlies van menselewens kan lei.

Ari’el se brein skok tot stilstand toe hy die sinnetjie in ’n ander internetberig lees: “Generaal Jacobs van die Suid-Afrikaanse Weermag het by nadere ondersoek gesê die saak is sub judice en hy wou geen kommentaar daaroor lewer nie.” Dit slaan hom soos ’n voorhamer. Sarah se van is Jacobs en sy het ’n broer wat ’n generaal in die Suid-Afrikaanse Weermag is. Ari’el onthou dit was een van die redes waarom hulle verlede jaar haar sogenaamde “ontvoering” uit die pers gehou het. Hy kou aan sy lip en lees verder.

Sowat 320 oorskot-Ratels is blykbaar in 2003 en 2004 na Jordanië uitgevoer en deur ’n plaaslike maatskappy daar omgebou.

Wapentransaksies soos dié tussen Suid-Afrika en Jordanië word blykbaar gereeld op grond van streng voorwaardes afgehandel en sluit wel meestal ’n eindgebruikerooreenkoms in. Daardie ooreenkoms sluit onder meer in dat wapens nie sommer tweedehands aan ’n derde land verkoop mag word nie.

In die Suid-Afrikaanse parlement is gevra dat daar uitgevind moet word wat dié Ratels in Jemen se strate soek.

Nou kom hierdie saak in die dreigbrief ter sake. Ari’el frons. Daar is blykbaar ’n fabriek in Jordanië waar hulle die Ratels sou ombou vir eie gebruik.

Die eindgebruikerooreenkoms het bepaal dat die voertuie uitsluitlik vir die gebruik van Jordanië se weermag sou wees. Sou Jordanië die voertuie wou herverkoop of uitvoer, sou hy eers by Suid-Afrika toestemming daarvoor moes kry.

Volgens die berig was daar tot op hede nog geen versoek van die Jordaniese regering om enige van die voertuie te herverkoop nie.

Die berig sê ook dat sekere ingeligte mense dink, dat die Ratel-troepedraers ook nie aan Jemen verkoop is nie, maar dat dit deur Jordanië na Jemen gestuur is om die sukkelende Jemense regering te help. Die rebelle en terroriste hou niks daarvan nie.

Waar die Jemen-regering aan die ratels gekom het, is ook Ari’el se vraag. In die 1960’s het Saoedi-Arabië die rojaliste in Jemen gesteun en Egipte het weer die republikeine in Jemen bygestaan.

Wat is nou die storie met Jordanië? Om die kroon te span bedreig die Suid-Afrikaanse Ratels in Jemen se strate nou Sarah se veiligheid.

Bloot omdat hy met Sarah kontak gehad het, wil hulle haar gebruik om hom af te pers. Of het dit meer met Sarah se broer te doen as wat hy dink? As hy Sarah nie so gou moontlik kan beveilig nie, sal hy genoodsaak wees om haar broer en die Suid-Afrikaanse regering hieroor in te lig. Die vrae maal deur Ari’el se brein.

Waar het hulle uitgevind dit is Sarah wat destyds deur die neutrale groep Jemen-soldate uit die hande van die terroriste in die Negev woestyn gered is?

Miskien het die oorspronklike aanval op haar destyds al plaasgevind met ’n groter oogmerk in gedagte. Het hulle geweet sy is van Suid-Afrika?

Wié sit werklik daaragter? Die spul terroriste organisasies is meestal op een of ander wyse met mekaar verbind. Sou dit ’n brawe poging wees van ’n klein splintergroep of is dit Die Drie Broeders – wat op die oomblik die derde mag in Jemen se burgeroorlog is; wat daarop roem dat hulle Rusland en China as vennote het. Wat gaan van sy land word as dit die geval is? Is hierdie e-pos net ’n leë dreigement?

Waar die konneksie is, weet hy nie, ook nie hoe hulle uitgevind het Sarah woon in Kaapstad nie.

Dalk weet hulle ook nou dat ’n vriendelike Saoedi-Arabiese sjeik die neutrale groep soldate goedgesind is en hulle gereeld in die woestyn huisvesting gee.

Vir al wat hy weet, is Sarah net ’n toevallige pion wat die spul probeer gebruik om hom by te kom en sommer ook hul doel te bereik. Weet hulle dat hy haar versorg het? Is daar ’n verraaier in sy groep?

Hy vee oor sy oë om sy gedagtes te probeer orden. Daar was tog nie lede van Die Drie Broeders in hul kamp nie. Of het een van die terroriste die Koalisie geïnfiltreer? Ari’el eis as hy daaraan dink. Mag hy en sy mense dit gespaar bly.

Hy sif in sy gedagtes insidente uit die verlede wat verdag was.

Destyds terwyl hy Sarah in die tentekamp en tydelike Rooikruis-kamp van die vriendelike Sjeik Abdul Alim-al-Bari versorg het, het Ari’el-hulle besef in wat ’n gevaar haar lewe was. Sy het een van die terroriste van aangesig tot aangesig gesien.

As die klomp terroriste weet sy lewe nog … Sy kan haar aanvallers identifiseer of ten minste dan daardie één.

Ari’el het destyds haar veiligheid ten alle koste probeer verseker. Dit is ook waarom hy die hulp van die sjeik ingeroep het.

En nou?

Gaan haar byna noodlottige rit deur die Negev-woestyn weer by haar kom spook?

Ari’el sif in sy brein deur die mense wat die kamp in- en uitbeweeg het in die ses maande wat Sarah daar versorg is. Baie van die mense in die kamp was nie eens van haar teenwoordigheid bewus nie. Sjeik al-Bari het daarop aangedring dat dit geheim gehou word en haar verblyf in een van sy persoonlike tente gegee. Ari’el was amper die enigste persoon in die kamp wat gereeld met haar te doen gekry het. Sy uitstekende kennis van Engels ná sy studie in Engeland jare gelede het gehelp. ’n Paar verpleërs het hom aan die begin soms bygestaan en Sarah was ’n gewilde pasiënt.

Die kokke dalk? Daar was daardie kort, vet Jemense Arabier Joel, wat hy eendag in Sarah se tent betrap het. Kan dit daardie vent wees? Ari’el het hom deeglik die kop gewas, en dieselfde Joel het later gedros. Ari’el klem sy kake opmekaar.

Ná daardie voorval het hy ekstra veiligheidsmaatreëls ingestel om Sarah te beskerm. In die afgelope jaar het hy haar juis nie gekontak nie omdat hy bang was sy posisie as vredesonderhandelaar en vyand van die terroriste bedreig haar veiligheid.

Ari’el is moeg gedink.

Hy en Sarah het baie na aan mekaar gekom tydens haar verblyf in die woestyn. Hulle het heel aan die begin gou vriende geword. Sy was baie afhanklik van hom totdat sy entjies met die krukke kon loop. Die situasie was baie keer vir hulle al twee erg ongemaklik. Hy het haar self afgespons terwyl sy bewusteloos was – haar versorg. Sy was baie verleë nadat sy dit besef het, maar dit het intimiteit in hul latere verhouding gebring wat hy nie voorsien het nie.

Ná die stel wat hy ’n paar jaar vantevore met Mary in Oxford afgetrap het, was hy lugtig vir vroumense. Om skielik die persoonlike dokter van ’n beeldskone rooikopvrou te wees, was vir hom eers ’n verleentheid. Maar haar natuurlike, ingetoë spontaneïteit het hom weldra laat ontdooi.

Nooit was hy een wat met sy hart op sy mou rondgeloop het nie en hy het geweet daar gaan ’n totsiens iewers in die toekoms wees. Daarom het hy sy hart probeer sluit vir alle gevoelens. Tog was dit soms so dat haar spontane geaardheid deur sy kil mure gedring het.

Hulle het later baie saamgelag en pret gehad. Ander kere het hulle lekker saamgekuier. Dit was net by die lughawe wat hy vir ’n paar oomblikke die waarheid in die oë moes kyk. Hy moes totsiens sê sonder die hoop dat hulle kontak kan hou. Haar oë het in syne gepleit.

Sy het daar gestaan, haar voet so gesond dat hy nie die fyn nuwe sandaaltjies en mooi voete met die pienk toonnaels kon miskyk nie. Sy het vars en jonk gelyk in die bont Arabiese romp en bloesie. Hy het haar aan die boarms vasgevat en net lig op die voorkop gesoen. Daar het soveel konflik in hom gewoed: Hy wou haar in sy arms neem, maar het besef hy sal alle bande met haar moet verbreek. Tog was daar hoop in sy hart om haar eendag weer te kon sien.

Dat dit onder sulke dreigende omstandighede soos vandag sou wees, het hy nie besef nie. Al wat hy nou weet, is dat hy haar ten alle koste wou en steeds wil beskerm – teen wat ook al!

Ari’el vryf oor sy baard. Dié meisiekind het in sy bloed kom sit. Hy pers sy lippe opmekaar en lees berigte uit ’n blog:

Jordan shipping South African armored carriers to Yemen?

There are many ways to skin a cat apparently. In 2010, South Africa sold about R 8.3 million or over 1 million dollars in weapons to Yemen. However no Ratel armored vehicles were sold. Ratel vehicles shown in Yemen in pictures by Reuters show the pro-change or defected military in possession of them currently. The armored carriers were likely shipped to Yemen in violation of their end use certificates. They appear to be converted versions of the South African Ratel carrier produced in Jordan by the Paramount Group, in co-operation with the King Abdullah Design and Development Bureau (KADDB). Additionally, Saleh opened his own bullet and tank factories in the last few years.

CAPE TOWN – South African manufactured Ratel armoured infantry carriers have been photographed in strife-torn Yemen …

The Ratels were apparently being operated in the Yemeni capital, Sana’a, by soldiers who had defected to protesters demanding the end of President Ali Abdullah Saleh’s rule. The presence of the vehicles either means SA authorised their export or that another country sold Ratels to Yemen, which would constitution a violation of the end-user certificate.

Hierdie tameletjie is Suid-Afrika s’n, en dit stuit hom teen die bors dat die spul Sarah nou hierby wil betrek net omdat sy ’n Suid-Afrikaner en haar broer ’n generaal is. Of gaan dit oor haar vroeëre verbintenis met sy organisasie? mymer Ari’el terwyl hy die berigte in sy rekenaarsak terugplaas en dit toeknip.

Hy staan op, sit weer sy tas in die bagasieruim vir die landing in Kaapstad. Die skraal man met die swart klere en grys jekker hou hom stip dop.

Gedurende die laaste stukkie van die vlug sit Ari’el broeiend voor hom en tuur, sy gedagtes op ’n mallemeulerit. Hy sien niks van die pragtige natuurskoon van die Wes-Kaapse wynlande wat onder hul verby skuif nie. Die winter se oggendson uit die ooste tint die see en wolke rondom Tafelberg se skiereiland in goud en pienk skakerings, maar selfs daarvan is Ari’el net vaagweg bewus.

Die Kaapstadse lughawe is nie te besig toe hulle land nie. Ari’el stap vinnig oor die stuk teerblad in die Kaapse wind en bid ’n dankgebed dat dit nie vandag reën nie. Hy het al eenmaal tevore met die Kaapse reënweer te doen gehad. Kol-kol blink daar poele van gisteraand se reën langs die aanloopbaan.

Binne tien minute kry hy sy bagasie en stap vinnig op pad na die motorhuuragentskap se kantoor. Hy skakel sommer in die loop Sarah se nommer wat hy lankal op sy BlackBerry gestoor het. Dit lui egter net aanhoudend. Vervlaks! Waar sou sy wees? Het sy ooit sy SMS gekry?

Ná al die papiere ingevul en die nodige formaliteite afgehandel is, spring Ari’el letterlik in die huurvoertuig, gooi sy rekenaar- en oornagtas op die sitplek langs hom en skakel die SUV se kragtige enjin aan.

Terwyl hy uit die parkeerterrein trek, vang sy oog die beweging van ’n motor in sy truspieëltjie. Die onopvallende ou vaalblou Renault kom net ná hom in beweging en skuif in die linkerkantste ryvlak langs hom in. Agter die stuur sit ’n afgeleefde Kaapse Maleier-oom met ’n fes op die kop en gluur hom skuins aan. Die ou man bestuur met sy linkerhand en met sy ander hand druk hy die selfoon teen sy oor vas.

Ontspan, Ari’el, sê hy amper hardop. Jy is maar net paranoïes omdat Sarah nie haar foon antwoord nie. Dit is niks om jou oor te bekommer nie. Hy konsentreer op die verkeer maar bly bewus van die Renault met die Maleier wat in die baan langs hom ry. Hy versnel om voor die Renault te kom en neem die afrit in die rigting van Sarah se woonbuurt. Die verkeer raak minder druk. Net ná Wynberglaan is daar ’n lang stuk oop veld aan sy linkerkant. Tafelberg se bokant weerkaats in die plasse water langs die pad en Ari’el roer sy skouers doelbewus om van die spanning wat in hom oplaai ontslae te probeer raak. Sy motor stamp deur ’n paar slaggate en hy is dankbaar dit is ’n viertrek.

Die volgende oomblik tref ’n motor hom op die deur aan sy regterkant.

Hy pluk die stuurwiel na links, net om te sien hoe die vaalblou Renault in die geel streep ruimte aan sy linkerkant al hoe nader beweeg. Hy ruk die stuurwiel terug na regs om net weer hard teen die motor wat hom gestamp het, te skuur. Metaal krap teen metaal. Die donkergroen Duitse motor aan sy regterkant wig in sy rigting en Ari’el tref hom net skrams terwyl hy vet gee en konsentreer om die SUV op die pad te hou. Die sterk enjin reageer vinnig.

Oase

Подняться наверх