Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Kaapstad

Saterdagoggend, 18 Junie 2011

Sarah is wakker voor die son op is. Sy voel styf van die koud word voor die dooie vuur gisteraand. ’n Paar minute staar sy slaperig na die patroontjies in die ou staalplafon se reliëfwerk bokant haar. ’n Vinnige stappie is net wat sy nodig het, besluit sy toe sy by haar kamervenster uitloer en sien dit is ’n windstil oggend.

Sy trek warm aan en, met haar hare onder haar windbreker se kappie, stap sy en Ounooi haastig die ent na die trappies by Muizenbergstrand. Met Ounooi blaffend en uitgelate voor haar uit geniet sy Kaapstad se vars, yskoue winterlug. Die strand is verlate op hierdie vroeë oggend. Net sy, haar hond en die see. Die wolkies ver oor die baai begin na ’n lig amber verkleur. Sy stap ’n hele ent, gaan sit op die rotse en kyk uit oor Valsbaai. Die strand lê besaai met seewier en hier en daar dryf daarvan in die grys water.

Sy asem die soutlug diep in en luister na die branders teen die rotse. Sonder dat sy dit doelbewus doen, gaan haar gedagtes weer na verlede jaar. Wat sou dit wees wat haar skielik van gister af so aanhoudend laat terugdink aan daardie tyd in Saoedi-Arabië?

Sy was vir lank baie afhanklik van Ari’el. Hy het haar vir weke lank glad nie toegelaat om op haar sleg gebreekte voet te trap nie. Die krukke het gehelp, maar dit was moeilik om reg te kom. Hy was geduldig en baie goed vir haar. Nadat haar voet so genees het dat sy al hinkepink kaalvoet kon loop op die sagte matte in die tentwoning, het sy al hoe meer van die huishoudelike takies uit sy hande geneem. Hulle het soos vertroude vriende saam etes berei en skottelgoed gewas. Hy wou niemand in haar tent toelaat nie. Net daardie een dag het ’n vreemde, vet Arabier die tent ingekom. Ari’el was briesend en het hom uitgeboender.

Daar was die bootrit vanaf Jemen na Egipte. Haar weldoeners wat aanhoudend vir haar veiligheid gevrees het, het ’n paar dae tevore besluit om haar reis terug Suid-Afrika toe te reël. Sy onthou so duidelik die helderblou water van die Rooisee. Die onstabiele bootjie en die golwe teen die boot se kant. Sy onthou ook Ari’el se sterk, bruingebrande hande wat die boot stuur. Al die geheimhouding het haar laat voel hulle is op ’n spesiale missie. Sy is soos ’n Arabier vermom met die blou kopdoek om haar rooi hare gedraai. Ari’el het net eenmaal, toe sy navraag oor die vreemde rit per kameel en boot gedoen het, vlugtig en binnensmonds na ’n moontlike droster verwys.

Sarah ruk haar los van haar droomgedagtes.

Vergeet van Ari’el, Sarah. Jy sal hom nooit weer sien nie. Jy het ’n opwindende nuwe lewe hier in jou geliefkoosde stad.

Maar sy mis hom. Al stry sy daarteen, Ari’el is die een wat nog haar hart besit. Hulle was so na aan mekaar daar in die woestyn. Dit het byna haar hart gebreek toe sy nie weer van hom gehoor het nie. ’n Golf breek hoog teen die rotse en sy moet vinnig opstaan om terug te tree as sy nie natgespat wil word nie.

Waar is Ounooi dan nou? Ai tog, die stoute honne! Jaag seker weer die meeue iewers op die strand. Sarah kyk rond en fluit.

Sy hoor ’n skerp tjank uit die trappe se rigting. Wat sou dit nou wees? Haar treë raak vinniger.

“Versigtig vir jou voet,” maan sy haarself hardop en roep weer na Ounooi. As sy tog net nie voor ’n kar in die parkeerterrein beland het nie. Met ’n bekommerde frons storm Sarah na die trappies aan die kant van die strand.

Toe sien sy haar hond.

Ounooi lê net regs onder die trappies. Daar is bloed aan haar pels.

Sy kniel op die sand en Ounooi se oë knipper stadig oop toe sy haar naam hoor. Die hond lek saggies Sarah se hand. Haar ander hand slaan sy oor haar mond.

“Wat het gebeur, my honne?” is al wat sy uitkry. Die bloed syfer uit ’n wond aan die hond se nek.

Voor sy nog tot verhaal kan kom en besluit wat om te doen, voel sy ’n sterk hand aan haar arm pluk. Die volgende oomblik word albei haar arms agter haar rug vasgevat en ’n stinkende hand druk haar mond ru toe. Iets soos ’n grillerige lap word in haar mond gedruk. Al wat sy sien toe sy oor haar skouer probeer loer en wegbeur, is ’n man met ’n donker gelaat, ’n donkerbril en deurmekaar hare. ’n Growwe sakkerige ding word oor haar kop getrek.

Sarah voel hoe taai kleefband om haar polse agter haar rug gedraai word. Sy kan niks sien nie. Haar asem kom hortend deur haar neus en sy probeer die stink lap uit haar mond spoeg. Skielik tref iets haar kop en ’n skerp pyn skiet deur haar slape. Toe sak duisternis oor haar toe.

Kaapstad

Die twee motors spoed links en regs van Ari’el voort asof niks gebeur het nie. Toe beduie die groen kar se bestuurder dat hy die venster moet oopdraai. Hy maak so.

“Hou jou neus uit ons sake, Dokter, voordat jy ook seerkry!” skreeu iemand in ’n Arabiese dialek.

Die volgende oomblik draai die groen motor in die straat voor hulle regs weg, en toe Ari’el die Renault soek, is dié ook nêrens te sien nie. Uit die veld geslaan ry hy nog ’n paar blokke aan en hou aan die kant van die pad onder ’n boom stil.

Nou toe nou. Die spul terroriste weet hy is hier en dreig hom. Ha-ha, hulle ken hom duidelik nie. Asof hy hom ooit deur hulle sal laat afskrik.

Toe besef hy ewe skielik: Sarah! Die vent het gesê “voordat jy ook seerkry”.

Hulle is of was dalk al klaar by haar! Dit is so naby haar huis!

Hy gryp sy foon en skakel weer haar nommer. Geen antwoord nie. Sy werk tog nie vandag nie? Of hulle het haar dalk wel laat inkom. Soms is die kalf tog in die put. Hy skakel haar werksnommer. Wag gespanne dat iemand aan die ander kant optel.

Nee, juffrou Sarah kom nooit Saterdae in nie, dit is mos juffrou Sarah se Shabbat, sê die ontvangsdame. Sy hou mos hierdie dag as haar rusdag. Nee, hulle weet nie of sy weg is vir die naweek nie. Kan hulle ’n boodskap vir haar gee?

Ari’el druk die foon se afknoppie ná ’n kortaf groet.

Hy skakel die enjin haastig aan en ry die laaste stukkie na haar huis, gespanne soos ’n veer.

Ari’el moet konsentreer om sy rigting te hou. Die jaagrit het hom heeltemal uit koers geneem en hy skakel die GPS-tannie se stem af, want sy is duidelik nog meer deurmekaar as hy. Die gejaag het omtrent drie strate voor die afdraai na Sarah se huis begin. Ari’el kyk vinnig rond. Toe daar geen verkeer aankom nie, maak hy ’n onwettige U-draai en volg die pad terug om te soek na die straatnaam wat hy nou al uit sy kop ken: Kieselstraat 10. Sarah se adres. Die middelman keer hom en hy moet verby ry. Hy wag vir die verkeer om minder te word en maak weer ’n U-draai by die volgende stopstraat.

Die oomblik toe Ari’el in Kieselstraat indraai, word hy koud tot in sy murg. Dadelik weet hy daar is moeilikheid. Verder af in die straat staan ’n polisiemotor met flitsende blou ligte. By die huis wat Sarah s’n moet wees, staan ’n groot, stewige kaalkopman in siviele klere en ’n paar manne in polisie-uniforms soek duidelik op die sypaadjie rond na iets.

“Die vuilgoed was klaar hier. Mag sy ongedeerd wees, Vader,” prewel hy.

’n Buitewyk van Kaïro

18 Junie 2011

Die foon se gelui in die kantoor van Die Drie Broeders klink skerp in die onpersoonlike omgewing. Wit mure, ’n paar karige staalmeubels, wit blindings voor die enigste venster. Net op die grond lê ’n paar ligbruin afgeleefde Persiese matte. Die groot man met die groen en swart geruite keffiyeh om sy kop steek sy hand lui uit om die foon te beantwoord.

Hy luister vir ’n paar minute na ’n sketterende stem wat aan die ander kant praat, antwoord toe baie ferm en onnodig hard: “No! Remember, I said NO!”

Sy reaksie is effe bruusk in ’n geradbraakte Engels, maar toe plaas hy die gehoorstuk weer net so lui terug. Hy leun agteroor in die stoel en plaas sy hakke oormekaar op die steriele tafel. ’n Lui glimlag krul om sy mond en hy vat aan sy lang baard. Die swart snor trek effe en hy begin lag. Hard, uit sy maag.

“Hulle het haar. Ho-ho-ho-ho! Nou sal ons sien wat die simpel dokter en daardie Suid-Afrikaners gaan doen,” praat hy kliphard met homself.

Die Groot Sadar sit sy hande oor sy boepmaag en maak sy oë toe vir sy oggendslapie.

Oase

Подняться наверх