Читать книгу Oase - Stefani Serfontein - Страница 13

Hoofstuk 9

Оглавление

Kaapstad

Tannie Pearson wat soggens getrou haar koerant voor die venster sit en lees, het hulle nie teleurgestel nie. Sy het hul dadelik nadat sy die berig raakgesien het gebel. Rassie was later vies dat sy hulle dit nie lankal vertel het nie, maar hy het besef dat hy haar daaroor moes uitgevra het.

“Ja, seun,” sê sy toe hy later die oggend effe geïrriteerd voor haar sit met ’n warm koppie koffie en haar maar toelaat om die storie teen haar eie tempo te vertel. “Dit was vir my ongewoon, die verbleikte ou blou karretjie wat vir ’n hele klomp dae doer onder die boom gestaan het.” Sy beduie deur die venster na die groot ou koelteboom wat twee huise verder, drie huise van Sarah se huisie af, staan.

Rassie sit regop en spits sy ore toe die tannie van ’n vaalblou karretjie praat.

“Ons is mos vriendelike mense in dié buurt en ek stap toe die tweede oggend na die karretjie toe.”

Hy wil haar aanjaag, maar hou hom in. Dalk mis hy waardevolle inligting as hy haar aanjaag. Hy knik net,

“Nou boeta, soos ek vir jou seg, ons is vriendelike mense in dié buurt, maar daai knapie! Nee-nee, onder watter bos hy grootgemaak is, weet ek nie, maar so nors en befoeterd het ek lanklaas beleef. Ek stap toe mos om die motortjie en tik aan die toe ruit. Hy sit daar met die nuwe goetertjies in sy ore, jy weet, daai goedjies wat al die jong mense deesdae in hul ore ronddra, ja, ja,” sê sy toe Rassie knik. “Kompleet met die donkerbril op sy oge en kouende kakebeen en al die lelike spinnekop- en skedeltatoeëermerke op sy arms. Hy het so ’n grys kappiebaadjie aangehad, as ek reg onthou. Vir ons geslag is daardie goed mos taboe en boos, jong. En sal die mannetjie jou werklikwaar vir my wys om te skoert. Kan jy nou meer. Ongeskik, sê ek jou. Ek wou net vriendelik wees. Ek loop toe maar terug na my huisie en sorg dat my voordeur behoorlik gesluit is. Deesdae weet ’n mens nie watter vreemde gedagtes sulke nors jong mense in hul koppe kry nie.”

Tannie Pearson neem, uitasem van al die praat, ’n blaaskans en ’n slukkie van haar tee.

Rassie kry ’n woordjie in. “Tannie, sê asseblief vir my, kon jy mooi sien hoe die jong man lyk? Sal jy hom vir my goed kan beskryf? En die motortjie? Jy het nie dalk die nommerplaat gesien nie? Kan jy dalk onthou?”

“Hokaai nou, boeta! Gits, daai is te veel vrae op een slag. Wag, laat ek dink,” protesteer die tannie.

Rassie kom orent en sit sy leë koppie op die tafel neer. “Wel, Tannie, baie dankie vir jou hulp. Ek laat jou ’n bietjie alleen. Dink jy nou asseblief mooi en diep. Dit is vir ons baie belangrik en dalk ook vir Sarah. Ek gaan net gou-gou een van my manne op die radio roep, ek is nou-nou terug.”

Hy glip by die voordeur uit om dadelik die forensiese kunstenaar te laat kom. Hopelik sal hulle saam met die tannie ’n profiel van die vent wat die huis dopgehou het, kan saamstel en ’n redelike idee kry van watse karretjie dit was.

Later die dag, terug in sy kantoor, steek Rassie ’n nuwe nota op sy leidraadbord: “Vaalblou karretjie (fabrikaat nie bekend) in Kieselstraat gesien. Moontlik ou geroeste Renault, volgens dr. Ari’el.

“Jong man / donker poniestert / donkerbril / oorfone / kou / tatoeëermerke op arms / grys kappiebaadjie.”

Langsaan is ’n skets van ’n verweerde vaalblou Renault en die identikitskets van die man met die kappiebaadjie, ’n hoodie, sê die jonges.

Daardie middag terwyl hy per trein huis toe ry, tuur Rassie ingedagte by die treinvenster uit. Sy voertuig is nou al ’n paar dae steeks en hy het besluit om sommer by die werk een van hul voertuie te gebruik en dan soggens en saans die trein kantoor toe en terug te neem.

Dit is byna sesuur en die stasie was besig met die pendelaars wat almal haastig op pad huis toe is. Gelukkig is dit nie ’n weeksdag nie. Dan is die treine meestal so volgepak dat hy gewoonlik eers ná sewe huis toe gaan. Hy het vinnig op die trein geklim en staan-ry sommer, deels omdat hy gril vir die vuil sitplekke en deels omdat hy op sy voete beter kan dink.

Terwyl hy al staande die Sarah-saak in sy kop probeer uitpluis, gaan die treindeure by die volgende stasie oop. ’n Kouende jong man in ’n grys hoodie skuur teen hom verby en gaan sit twee banke verder.

Rassie se kop ruk op. Kouende met ’n kappiebaadjie, het tannie Pearson die outjie beskryf. Kan dit nou toeval wees of die voorsienigheid? Deesdae loop al wat jong mens is mos met die hoodies rond en almal kou. Die jong man se gesig is weggesteek in die baadjiekap, maar die donkerbril wys duidelik.

Rassie frons en wonder of oorfone die prentjie sal voltooi. Hy laat hom nie twee keer nooi nie. Sy jong dae as amateurtoneelspeler kom nou handig te pas. Hy strompel kastig na die sitplek langs die jong man en val-sit op die bank neer terwyl hy seker maak hy stamp só hard teen die man dat ’n gedeelte van die kappie afglip.

“Sjo-sjorrie!” sê Rassie met ’n oordrewe sleeptong, soos ’n dronkie, en kyk anderpad.

Sowaar, as dit nie hy is nie, is my naam nie Rassie nie, dink hy amper hardop.

Die een oorfoon het met die stamp uitgeval en uit die hoek van Rassie se oog het hy gesien hoe die outjie hom vreeslik wip, Rassie vies aankyk en die oorfoon weer in sy oor terugdruk. Onder die opgestote moue op die voorarm is ’n spinnekoptatoeëermerk.

Die jong man staar weer broeiend na die voorkant van die trein.

Rassie vroetel in sy baadjiesak en haal ’n ekstra Pay-as-you-go-foon uit. Hy hou dit altyd by hom vir noodgevalle.

Met ’n sleeptong vra hy die jong man om die foontjie by hom te koop vir drankgeld. Dié draai sy rug op Rassie.

Hy probeer weer: “Ag, boetie, sjee my dan net sjoo paar randjiesj vir ’n broodjie, groot assjeblief, man.”

Nou klink die versoeking om ’n foon vir net ’n paar rand te kry blykbaar net te verleidelik. Hy haal die een oor se luidsprekertjie stadig uit sy oor. “Do not beg with me. I’ll buy your phone, but just ten rand, okay? That’s all I have,” snou die jong man hom toe, trek ’n tienrandnoot uit sy broeksak en hou dit na Rassie toe uit.

“Sjo baie dankie,” sleep Rassie sy tong en gryp die tienrandnoot uit die man se hand.

Vinnig vat die jong man die foon, spring op en storm na die treindeur wat enige tyd kan oopgaan by Kaapstad se sentrale stasie.

Nou moet ek bid dat die man die foon sal hou en gebruik. Bid. Dis vreemd dat hy so gedink het. Hy los gewoonlik daai dinge vir vroumense en kinders.

Die selfoon is nie ’n duur een nie en Rassie hou dit vir noodoproepe wat niks persoonliks van aard is nie. Daar is ook geen gestoorde nommers op die foon nie. Die moontlikheid dat die man die foon sal verkwansel vir kontant is sterk. Rassie hoop dat hy die SIM-kaart sal uithaal en in sy eie foon sit. Daar is so ’n bietjie meer as sestig rand se beltyd op. Watter jong outjie sal dit versmaai. Rassie hoop die lugtyd is genoeg dat hulle sal kan naspoor waar hy is voordat die sestig rand opgebruik is.

Toe die treindeure by die stasie oopgaan, storm die jong man uit sonder om links of regs te kyk en verdwyn tussen die menigte mense wat huis toe stroom. Rassie reël vinnig op sy ander foon dat die SIM-kaart opgespoor word.

Die span se derde leidraad kom op Maandagoggend 20 Junie van ’n patrolliemotor. ’n Omie op ’n donkiekar wat vuurmaakhout in Khayelitsha aflaai, het een van die polisiestasies die vorige aand gebel om ’n vreemde vaalblou voertuig wat alleen langs een van hul paaie staan, aan te meld. Die oom was bang daar is dalk ’n motorbom in die karretjie. Hy sê hy hoor gereeld op die nuus van sulke dinge wat gebeur, toe bel hy maar.

Die vaalblou karretjie het langs ’n treinspoor skeef teen die oorkantse wal gestaan.

Forensies het dadelik vir Rassie laat weet dat hulle geen vingerafdrukke gekry het nie, maar hulle deursoek dit deeglik vir tekens van DNS.

Nadat die identikitsketse van die motortjie en die donkerbrilman vroeër daardie oggend aan alle polisiestasies uitgestuur is, kon Rassie met ’n sug van verligting vir Ari’el positiewe antwoorde gee toe hy teen tienuur by die opssentrum opdaag.

Die bloed op die strand was nie Sarah s’n nie.

“Eers die koerantberig en toe die geluk,” vertel Rassie peinsend vir Ari’el. “Sersant Wiese sê ek moet dit nie geluk noem nie, daar is nie so iets nie. Die voorsienigheid, het ek toe gemeen, maar hy sê dis die Vader in die hemel wat dit só vir ons beplan het. Ek weet darem nie of ’n Almagtige Skepper Hom só met my en my ou sakies sal bemoei nie. Daarvoor is ek te sondig. Dit was seker my dierbare vrou se gebede. Soos ek haar ken, sal sy sommer al die kinders en die hele buurt daarmee saam opkommandeer om te bid. Nou moet ons net die SIM-kaart en die foon se bewegings volg, en kyk of ons die nes kan oopkrap.”

Kaïro, kantoor van Die Drie Broeders

20 Junie 2011

Dit was nog nooit Groot Sadar, soos hy aan homself dink, se sterk punt om geduldig te wees nie. Hy kan vinnig praat, vinnig stap, vinnig baklei. Maar om te wag vir jongelinge wat jou sake dalk daar ver in Suid-Afrika kan opmors, daarvoor het hy glad nie die geduld nie.

Sadar storm uit die vertrek toe hy klaar is met die oproep uit Suid-Afrika. Daar is nog geen reaksie op die e-pos wat hy vanoggend uit die internetkafee in een van Kaïro se agterstraatjies gestuur het nie. Hy het dit omstreeks 06:00 gestuur, alhoewel hy weet dat die mense by die koerant eers 09:00 begin werk omdat hulle baie keer tot ná twaalf saans op kantoor is – die besige ure voor die koerant gedruk kan word. Kaapstad en Kaïro se tydsone is dieselfde. Vir wat sou die spul so aan die slaap wees?

Eers moes hy maar op die twee swakkelinge wat hy daar het, vertrou. Maar nou het hy sy eie dogter soontoe gestuur om te kyk wat aangaan en nou sal hulle sien.

Ja, dink hy minagtend, die Westerlinge dink verniet ons weet niks van hul sake af nie. Ons het oral oë en ore. Op elke kontinent. Dít is waarin my organisasie se sukses lê. En hulle noem ons verniet terroriste. Dis nie wat ons is nie. Ons is vryheidsvegters. Vir Islam.

En op die oomblik konsentreer hy, die leier, op die onregverdige oorlog in Jemen. Sy mense word afgemaai en dan loop die Ratels uit Suid-Afrika oor hulle kinders se liggame in die strate van Sana’a. Jemen se president Ali Abdullah Saleh sal saam met die Suid-Afrikaners betaal. Daarna sal hulle die spul rebelle en verraaiers van ons land voor stok kry, dink hy, van voor af kwaad, en stap heftig oor die vore en klippe in die stegie af na die internetkafee. Hy skop ’n blik wat in sy pad lê met mening.

Bewaar ou oom Aram se siel as hy my vir die gek hou, brom hy byna hardop. Sadar kan nie glo dat daardie mooi brunet wat vir daardie koerant in Kaapstad werk nie dadelik die e-pos hanteer het nie. Die Westerlinge floreer mos op sulke sensasionele nuus. Dis waarop Die Drie Broeders reken. Dit het nog altyd gewerk.

Wat as daai meisie dalk vanoggend nie op kantoor is nie? fluister ’n ander stem egter in sy binneste.

Nee, sy is seker net laat. Laat gewerk ná daardie mislike berig oor die rooikop en die hond wat hul gisteroggend geplaas het. Sadar hoop dat daardie berig geen reaksie gekry het nie en dat die manne daar in die Kaap sal fyn trap. Hy hoop die simpel Joodse dokter is nou finaal afgeskrik.

Só redeneer hy al op sy pad met die spookstem in sy kop. Maar die oomblik wat hy die internetkafee se glasdeur oopstoot, roep hy kwaai en ongeduldig na Aram.

Die verrimpelde ou Arabier kom handewringend agter die toonbank te voorskyn. Sadar beduie met een kopbeweging dat Aram moet ontslae raak van die twee studente wat giggelend voor een van die rekenaars in die klein kafeetjie sit.

Aram skuifel na die studente toe en skakel met mening die rekenaarskerm voor hulle af. “Toe, toe. Kry julle ry, julle tyd is verstreke,” mompel hy en stoot-stoot die protesterende twee studente by die deur uit, waarna hy die deur summier op slot sit en die geweefde rietgordyn teen die glasdeur laat afgly. Aan die buitekant pryk daar nou in die glasdeur ’n teken wat sê dis gesluit. Hy skuifel weer tot by sy rekenaar agter die toonbank, waar Sadar alreeds plaasgeneem het.

Sadar het sy ou oom die geleentheid gegee om hierdie klein kafee te bestuur. Ou Aram is sy ma se broer en hy is maar te dankbaar vir die geleentheid om ’n klein inkomste uit die kafee te maak. So haglik as wat die geboutjie se uiterlike lyk, sal niemand ooit kan droom dat ’n hele netwerk hoogs tegnologiese inligtingsapparaat in die kelder van hierdie frontkafeetjie gehuisves word nie.

“Die Westerlinge se satelliete word heerlik deur ons gebruik, nè, oom Aram,” praat die Groot Sadar eintlik met homself terwyl hy vinnig ’n paar boodskappe stuur.

Hy klik op die splinternuwe e-posadres se ontvangposbus. Nog steeds niks.

Ongeduldig spring die Groot Sadar so vinnig van agter die rekenaar op dat die staalstoel waarop hy gesit het, eenkant toe val.

“’n Bietjie sterk koffie en dadels is wat jy nou nodig het,” mompel die ou Aram en skuifel met die metaalkoffiehouer en ’n bord dadels al agter Sadar aan.

Sadar paradeer op en af in die klein ruimte en gee geen aandag aan die verrimpelde ou Arabier en die koffie nie. Toe hy vinnig omdraai om die mat agter die toonbank weg te trek spat die koffie en dadels wat die ou man na hom uithou, in alle rigtings.

“Daar is nie nou tyd vir koffie nie,” bulder hy onnodig hard in die vertrekkie. Die Groot Sadar druk sy hand onder sy kleed in en trek ’n klein afstandbeheertoestel daaruit. Hy druk twee kleure knoppies op die toestel en geruisloos skuif die valdeur wat onder die mat versteek was oop. Met verbasende ratsheid vir sy grootte klim hy behendig af na onder, nadat hy uitdruklik sy oom Aram beveel het om die voordeur gesluit te hou en vir niemand oop te maak nie.

Nadat Sadar deur die luik ondertoe verdwyn het, skuif dit weer geruisloos toe en die verrimpelde Aram kyk ’n paar oomblikke kopskuddend daarna. Hy maak die koffie wat gemors het skoon en gaan sit wroegend voor die rekenaar. Hy is nou wel oud, maar hy is nie dom nie. Ingedagte glimlag hy en maak ’n versteekte internetrekening op die skerm oop. Hy tik ’n paar sinne, sorg dat hy dit stoor. Toe maak hy die internetbladsy weer toe en begin kamtig verveeld met een van die Amerikaanse rekenaarspeletjies sukkel.

Veel later wip ou Aram soos hy skrik toe die Groot Sadar agter hom praat en draai oënskynlik deeglik omvergegooi na Sadar. Aram vermaan hom, sy ou oom se hart sal gaan staan. Slegs ’n ou man in die Arabiese wêreld mag só met ’n invloedryke en magtige leier praat. “Boonop laat jy my kliënte verloor as ek so helder oordag die kafee moet sluit. Die studente reken op my vir hulle studie en ek op hulle vir my inkomste,” mompel ou Aram verder.

“Ja, toe nou, ou oom. Waar sou jy gewees het as ek jou nie die kafee gegee het nie? Ek het nie vandag lus vir jou gesanik nie. Daar is baie belangriker sake as die studentjies en hulle pornografie.”

Sadar druk ’n klomp note in die ou man se hand. “Vir die verlies van die oggend se inkomste.” Hy sluit die deur oop en storm weer met sy groot lyf die stegie af.

Agter hom lag Aram saggies en kyk hom kopskuddend agterna terwyl hy die geweefde mat voor die glasdeur stadig oprol en na sy speletjie op die rekenaarskerm terugkeer.

Oase

Подняться наверх