Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 10

Sy stap haastig terug oor die teerstraat na die hotel. Haar afspraak met Louise is vir 12:15 gereël by Mugg & Bean in Tygervallei. Sy haat dit om laat te wees vir afsprake en het min respek vir mense wat dit in die reël doen. Daarmee sê jy eintlik jou tyd is kosbaar­der as dié van die ander persoon wat op jou moet wag asof jy die Queen is.

Оглавление

“Thank you,” sê Selma vir die donkerkop-ontvangsklerk agter die toonbank en neem die kwitansie. “Can someone help me carry my luggage to the car, please? It’s all ready and packed in my room.”

“Of course, ma’am,” sê die man, maar wend geen poging aan om iemand te roep nie.

Selma verskuif haar hoë hakke en kyk op haar horlosie. 11:30. “I am in a bit of a hurry. I have a meeting.”

“No problem,” sê die man in ’n vakansiestemming. “We’re just a bit short of staff today. Only one porter.”

“How long will it take?”

“Not too long. About five, ten minutes at most.” Hy gee haar ’n stres­vrye glimlag.

“Okay,” sê sy met ’n klein fronsie. “I’ll wait in the parking lot. It’s the white Polo.”

Selma sug en tik met haar naels op die stuurwiel van die gehuurde motor. Die verkeer voor haar beweeg teen ’n slakkepas. Dis byna 12:15. Als in die Moederstad gebeur net soveel stadiger as in Johannesburg, dink sy gefrustreerd. Die manier waarop die Kapenaars deur die lewe cruise, laat haar wonder of hulle dalk soggens zol saam met hulle Weet-Bix eet.

Dit maak haar angstig om te dink sy gaan minstens vyftien minute laat wees vir haar afspraak met Louise. Sy stuur ’n vinnige whatsapp om verskoning te maak.

Skuus ek gaan laat wees. Vergeet altyd hoe bleddie stadig die Kapenaars bestuur. Sy tik ’n agterna.

Louise antwoord dadelik. No problem. Relax.

* * *

Selma merk onmiddellik Louise se vlamrooi hare in die stampvol koffiekroeg op. Sy staan uit soos ’n kleurvolle Dolly Parton tussen die klomp beige tantes. Soos altyd is als omtrent Louise oordadig, van die baie lae klere tot die stringe krale tot die uitspattige turkoois lampskermhoedjie op haar kop.

Louise se man, Karel, sit langs haar. Hy dra ’n deftige houtskoolgrys strepieshemp met ’n rooi das en staan dadelik op toe hy Selma sien. Sy gemmer hare is grys gebleik deur die tyd, net soos sy oë agter die dik bril.

“Karel!” sê Selma verras en soen hom op albei wange. “Nie geweet jy drink saam met ons koffie nie?”

“Nee, ek is al weer op pad. Ek het heel toevallig ’n afspraak hier in die sentrum met die grootkop van Absa. Maar ek wou darem net vir jou hallo sê.”

“So jy kan nie eers bly vir ’n vinnige espresso nie?”

“Ongelukkig nie. Party van ons moet werk.” Hy gee Louise ’n vlugtige kyk met die kenmerkende bekommerde-Karel-trek om sy mond.

“Ag, dis nou jammer,” sê Selma.

“Volgende keer moet jy langer bly en kom oorslaap. Weet nie hoe­kom jy alewig by ’n hotel inboek nie,” mor Louise.

“Jy weet ons huis staan altyd oop vir jou,” beaam Karel, sy oë vol opregtheid.

“Dankie.”

“Nou maar laat ek skuif. Enjoy die geklets, girls.”

Hy soen sy vrou vinnig op haar lampskerm, tel sy aktetas en baadjie op en stap met doelgerigte treë by Mugg & Bean uit.

“Skuus ek is laat,” sê Selma. Sy gee Louise ’n lang drukkie en plak haar Diesel-handsak neer voor sy gaan sit.

“No sweat,” sê Louise. “Hier in die Kaap is ons rustig.”

“Dit kan jy weer sê,” sê Selma en probeer ’n kelner se aandag trek.

“Ek het maar solank vir my ’n cappuccino en ’n stuk wortelkoek bestel.” Louise neem ’n hap wortelkoek en sluk dit af met ’n mond vol koffie. Die skuim maak ’n wit snorretjie op haar bolip. “En hoe was jou meeting toe met World Tours?”

“Goed gegaan. Lyk my hulle wil my dié keer Griekeland toe stuur met ’n toergroep.”

“Dit kan net sports wees. Ek beny jou jou werk. Toer die wêreld vol en als word vir jou betaal.”

“Dis lekker, maar onthou, daar is altyd ná die toer groot druk om ’n reisbrosjure te skryf as deel van die ooreenkoms. Jou lewe lyk vir my minder stresvol. Jy gee musiekklasse by die huis – en net as jy lus is. Jy hóéf nie te werk nie . . .”

“Elke huis het maar sy kruis,” sê Louise en probeer die snorretjie van haar bolip aflek. “Maar jip, ek het met my gat in die botter ingetrou.”

Sy skuif terug in haar stoel en betrag Selma soos ’n gunsteling­stok­perdjie. “Maar jy lyk mos fab, girl! Die rooi pas by jou donker hare.”

“Dankie.”

“Is daar dalk ’n nuwe man op die horison waarvan ek nie weet nie?”

“Nee, nog steeds net die meterman,” sê Selma droog. Sy wink weer vir die kelner. “Jy sal die eerste een wees om te hoor as daar wel die dag gerugte van reën is.”

“So hoe lank is jy nou op jou eie, Selma? Vier of vyf jaar al? Iemand vra my nou die dag.”

“Wat maak dit saak?”

“Gaan jy darem partykeer uit op dates daar bo in die Noorde?” vra Louise oor ’n vurk wortelkoek. “Dit voel vir my jy werk net.” Sy stapel die volgende vrag op terwyl sy kouend opkyk, haar katgroen oë soos geweerlope op Selma gerig.

Selma trek haar skouers nonchalant op en bestel ’n espresso by die kelner wat aangemeld het vir diens. “And can you bring me a glass of water too, please?”

“Tap or mineral?” vra die jong blonde man in ’n nasale stem. Hy staan kiertsregop soos ’n soldaat voor ’n vuurpeloton.

“Mineral, please.”

“Still or sparkling?” vra hy paraat.

“Hmmm . . . still.”

“Ice? And lemon?”

“Eh . . . yes, please.”

“Both?”

“Both what?”

“Ice and lemon? Or only ice or only lemon?” dring hy aan.

“Yes, please.”

“Is it an ‘and’ or an ‘or’?” Die kelner lig sy ken gesteurd en bly vas­berade langs Selma staan.

“Both ice AND lemon!” sê Selma ietwat skerper as wat sy bedoel het.

Hy laat sak sy ken asof hy sy wapens neerlê.

“Anything else, ma’am?”

“No thank you, sir.”

Hy knik en wys ’n stel vierkantige Amerikaanse tande. “Coming right up!” sê hy en stap ingenome weg.

Selma skud haar kop. “Sjoe, dit was amper soos om by SARS se kantore in te gaan en al hul vrae te beantwoord. Die diens is wel aansienlik beter by Mugg & Bean as by SARS.”

“So, wanneer laas was jy uit op ’n date?” herhaal Louise haar vraag van vroeër.

“Ek gaan gereeld uit.”

“Nie met ’n koekerige kerkvriendin of met Tania of Jacques, of jou beagles nie. Wanneer laas was jy uit op ’n régte date? ’n Hot date met ’n man?”

Louise se stem weergalm deur die stampvol Mugg & Bean. ’n Paar nekke draai belangstellend om in hulle rigting.

“Sjuuut, Louise – ek wil nie my privaat lewe hier uitbasuin nie.”

“Sê dan net wanneer laas?”

“Ek weet nie. Okay, ’n paar dae gelede, vir die eerste keer se­dert . . . jy weet . . .” Selma voel ’n sweetstraaltjie soos ’n ysblokkie agter teen haar bra afglip.

“En hoe was hy?”

“Horrible. Hy vat my omtrent by my knieë. En daardie tipiese kort­mansindroom. Net ego. En minstens twee onverteerde skape in die maag.”

“En waar kom jy aan dié monster?”

“Lana het die blind date gereël.”

“Lana is die laaste een om vir jou ’n blind date te reël. Sy is totally uit touch met reality. Sy leef in haar kop – sy’t nie eers kinders om haar te ground nie. Lê net dag en nag op facebook en fantaseer met ’n gin en tonic in die hand terwyl haar man oorsee is.”

Die kelner sit die espresso neer saam met ’n glas ys en suurlemoen en ’n botteltjie Valpré-mineraalwater. Hy maak ’n beleefde Japannese buiging voor hy weer ken omhoog vertrek.

Selma neem ’n vinnige slukkie van haar espresso en probeer haar asemhaling reguleer.

“Sy’t seker maar probeer help. Seker gedink ek is eensaam en ge­ïso­leerd na die . . . Dit gaan eintlik besonder goed met my. Regtig.”

Louise kyk haar kouend aan. “Regtig?”

“Ja, regtig. Ek weet nie hoekom almal so bekommerd is oor my nie.”

“Ek dink maar net jy kan nog happier wees. Dink net: ’n ou lekker teddiebeer van ’n man in jou bed.”

“Mans is harde werk,” sê Selma met haar blik op haar koppie koffie.

“Kom jou kids darem nog gereeld kuier noudat hulle op Tuks is?”

“Hulle is maar baie besig met hulle studies . . .”

“Ons was ook baie besig destyds op Tuks, onthou jy? Nudge-nudge, wink-wink! Hoe ek my BMus-graad gekry het met al daai shooters in my bloed, weet ek nie . . . En jy het wragtag nog honneurs in kommunikasiekunde gedoen – en cum laude deurgekom.”

“Ja, ek weet self nie hoe nie. Ek was so totaal en al behep met . . . Zander . . .”

“Is jy dalk nog steeds?”

Selma antwoord nie. ’n Stilte hang tussen hulle.

“Ek worry oor jou, Sel. So op jou eie in daai groot huis. It cannot be good for you.”

“Daar is baie voordele daaraan om alleen te woon.”

“Soos wat?”

“Ek kan saans sommer net jogurt eet. Of ’n pakkie chips of Smar­ties. Ek hoef nie spogmenu’s uit te dink, skottelgoed te was . . . of handdoeke op te tel nie. Ek kan lock-up-and-go nes ek wil.”

“Maar dit sal darem maar lekkerder wees om weer langs ’n warm manslyf wakker te word – know what I mean? Mis jy dit nie?” Louise knipoog stout.

“Ek gaan vir ’n massering as my vel honger raak.”

“Not the same thing, suster,” sê Louise kouend. “Not the same thing.”

“Ek dink nie ek mis veel nie,” sê Selma en skud haar donker hare terug. Sy leun nader aan Louise en sê vertroulik: “Ek hoor by Lana ná ’n sekere ouderdom sukkel mans maar om daai vlag volmas te hys. Dis so goed ek plaas ’n advertensie om ’n manlike pasiënt in te neem in my huis.”

“Ja, dis waar – die vlag styg aansienlik stadiger op. Maar daar is pilletjies op die mark.”

Selma skud haar kop. “Ek is nie lus vir sukkel nie.”

“Nou maar wat dan van iets jongers? Jy lyk nog heeltemal skaflik vir jou ouderdom. Niemand sal raai jy vier in September die ge­vreesde big five nie.”

“Dankie, hoor!” Sy kyk hoe Louise ’n paar neute met toewyding bymekaar hark en met haar duim op haar vurk stoot. “Nee, ’n jonger man sal nie goed wees vir my selfbeeld nie – ek wil nie heeltyd worry oor die beligting nie.”

“Wortelkoek maak nie vet nie. Dis baie gesond,” sê Louise verskonend. Sy vergruis die neute met haar twee gekroonde voor­tande. “Jy weet, jy kan doen met ’n bietjie vetjies op sekere plekke, ou girl. Die vreeslike drawn, all-bone-and-no-meat look is lankal uit die mode.”

“Ek neem kennis.”

“Kyk, ek sê deesdae sommer reguit vir Karel hy moet my vat soos ek is. Love me, love my vetrolletjies. As hy vir Twiggy wil hê, kan hy maar slaghuis toe gaan en ’n pak sopbene gaan koop.”

Louise gooi haar kop agteroor en skud in haar stoel soos sy lag. Sy was nog al die jare die grootste aanhanger van haar eie spitsvondig­heid. Selma staar na haar vriendin asof sy ’n oog­getuie by ’n grusame ongelukstoneel is.

“Skuus vir die tand wat missing is hier aan die linkerkant, Sel,” proes Louise. “Ek weet hoe voel jy oor missing tande oor jou pa ’n tandarts was. Ek laat dit môre opfix by dokter Malan. Ek het darem nie oornag common geword nie, hoor.”

“Wat het met jou tand gebeur?” vra Selma met ’n getraumatiseerde noot in haar stem. “Jy lyk regtig soos ’n arm weergawe van jouself sonder die kiestand.”

“Gisteraand van skrik afgebyt op ’n skaaptjop toe ek en Karel na ware case studies op kanaal 171 gekyk het. Vier uit ’n honderd deur­sneemense in leiersposisies is glo psigopate. Hier is dalk een in Mugg & Bean vir al wat ons weet. Dit was flippen scary.”

Louise kyk soos ’n FBI-spioen om haar rond en som die mense by die omliggende tafels een vir een op. “Dalk die een reg agter jou,” beduie sy met haar kop. “Oë sit net te na aan mekaar. Maar moenie nou omkyk nie . . .”

Selma kug en loer dan stadig om asof sy kastig op soek is na die kleedkamer. Twee yskoue blou oë ontmoet hare. Die man aan wie die oë behoort, knik beleefd met die kop.

“Ek dink darem nie ek is ’n psigopaat nie,” sê hy sonder ’n sweem­pie van ’n glimlag.

“Skuus,” mompel Selma en voel hoe haar wange begin brand. “My vriendin is ’n handvol. Baie ryk verbeelding. Mens kan haar nêrens heen neem nie.”

“Ek het haar so opgesom,” sê hy met dieselfde humorlose uitdruk­king om sy mond. Hy tel die TygerBurger op en lees verder.

Louise gee ’n sagte snork en toe ’n gilletjie. Haar gesig vertrek tot ’n opgefrommelde kardoessak waaruit die lug gepers word. Trane rol oor haar wange terwyl die Mugg & Bean-stoel skud soos sy lag.

Die blonde kelner staan onthuts nader. “Everything all right, madam?” Hy lig sy ken paraat.

“Yes, everything is fine – I just need to wipe my face . . . Can you bring me something, please?”

“A Wet One, a serviette or a tissue?”

“Whatever – I want to wipe off my tears, not my arse!” proes Louise. Sy gee haar oor aan ’n nuwe histeriese lagbui.

“Just bring her a Wet One, thank you,” sê Selma met ’n beleefde kitsglimlag.

“Sure thing, ma’am. One Wet One coming up.” Hy marsjeer weg agter sy ken aan.

“Seker jy wil nie eens ’n ou klein happie proe nie?” snik Louise. “Mugg & Bean maak regtig die beste wortelkoek.”

“Nee dankie.”

“Wortels is gesond.”

“Ek weet. Jy’t netnou reeds so gesê. En net vir die rekord: ek drink elke oggend wortelsap – wat ek self versap saam met seldery, gemmer en rooipeper.” Selma roer haar koffie asof sy ’n demonstrasie in dieetkunde aanbied.

Die kelner plaas die Wet One versigtig op die tafel asof dit iets onwelriekends is. “Thanks, sweety,” sê Louise en vee haar oë af. “Ek weet nie hoekom jy altyd jou laaste bietjie koffie so moet roer as jy nie eers suiker of melk neem nie!” sê sy dan geïrriteerd vir Selma.

“Mag van die gewoonte,” sê Selma.

“Nervous habit as jy my vra.”

“Hoor hier, jou maskara het geloop. Jy lyk nou regtig of jy in ’n kroeggeveg was – met die uit tand en die swart oë. Jy moet dalk net gou kleedkamer toe gaan . . .”

Selma kyk hoe Louise kopknikkend tussen die tafels met stywe tantes deurbeweeg. Sy laat ’n mens dink aan ’n kinderpartytjie met kolwyntjies en kleurvolle ballonne. Sy ken regtig nie nog iemand soos Louise nie. Dit lyk of die Skepper elke moontlike tekenkryt gebruik het die dag toe sy ontwerp is.

Selma speel met die sout- en peperpotte en kyk dan op haar horlosie. Dis 13:45. Haar vlug vertrek om 16:45. Sy sal haar riete moet roer – sy moet nog die gehuurde Polo ook terugbesorg. Sy skrik toe ’n hand liggies aan haar skouer raak.

Sy kyk op, vas in dieselfde ysblou oë van netnou. ’n Fyn glimlag speel om sy lippe.

“Net om enige onsekerheid wat jou vriendin dalk in jou gemoed gesaai het, op te klaar: Ek is ’n geregistreerde sielkundige met my eie praktyk in die noordelike voorstede. Ek is nie op kanaal 171 nie. My taak is om getraumatiseerde vroue en kinders te help – nie om hulle emosioneel verder te ontwrig nie.”

“Ek vra weer om verskoning, . . . e . . .”

“Theodor Swanepoel.”

“Selma-Suzette Barnard.”

Hy steek sy hand uit. Sy vel voel koel teen hare toe sy sy hand skud.

“Wel, Selma-Suzette, dit was my voorreg om jou vlugtig te ontmoet. Dalk loop ons mekaar weer raak in Tygervallei?”

“Ek twyfel. Ek woon eintlik in Johannesburg. Ek was net hier vir ’n vinnige sakebesoek.”

“Sterkte. En veilige reis terug Gauteng toe,” sê hy. Sy kyk hoe hy een van die jong kelnerinne beleefd groet voor hy in die winkelsentrum verdwyn.

“En as jy soos ’n verslane vrou sit?” vra Louise. Haar oë lyk aansienlik skoner ná die kleedkamerbesoek.

“Hy is ’n sielkundige,” sê Selma.

“Wie?”

“Jou psigopaat. Hy’t sy eie praktyk in Bellville.”

“En het ons ’n naampie om mee te werk?”

“Theodor Swanepoel.”

“Ek sal hom gaan uitcheck op facebook en jou invul met al die juicy details to connect the dots.”

* * *

Die terugvlug vanaf Kaapstad is met twee uur vertraag weens on­gunstige weersomstandighede. Buite die lughawegebou loei ’n woedende Dracula-wind om die hoeke. Die lug het eensklaps van grys en kil na ’n onheilspellende donkerpers wolktapyt verander. Selma ril en vryf oor haar arms. Kaap van storms en angs en drang.

Dit gooi nou weer al my beplanning uit, dink sy geïrriteerd. Sy whatsapp haar seun. Jacques, ek gaan eers nader aan 21:00 aankom op OT – vlug vertraag.

Shucks, dan gaan ek Ma nie kan kom optel nie. Sokker game aan. Begin 21:00.

Als reg. Ek sal uber.

Wat van Tania – kan sy nie?

Nee. Sy het ’n toneelstuk gaan kyk saam met vriende. Moenie worry nie. Ek sal uber.

Laat weet as Ma veilig in Saxonwold aangekom het.

Maak so. Sy sluit die whatsapp af met ’n .

Sy verkies om te uber, al bied haar kinders gereeld aan om haar op die lughawe te kom haal. Hulle voel deesdae al hoe minder soos ’n gesin, eerder soos vreemdelinge wat elke nou en dan deur die nood­­lot saamgegooi word. Sy wou nie vir Louise sê nie, maar sy sien haar kinders feitlik nooit meer vandat hulle Pretoria toe verhuis het nie.

Wanneer hulle haar wel besoek op ’n spesiale geleentheid soos Moedersdag of haar verjaarsdag, is die geselskap stram om die eetkamertafel in Saxonwold. Die atmosfeer is gevul met swaar stil­tes en oppervlakkige geselsies. Sy probeer hierdie ongemak en kuns­matigheid vermy deur oorwegend per whatsapp met hulle te kom­munikeer.

By haar beagles, Bella en Boelie, kan sy ontspan. Met hulle kan sy haar ware emosies deel. Daar is geen ongemaklike stiltes of gefor­seerde geselsies oor koeitjies en kalfies nie. En daar is nooit verwyt in hulle oë nie.

* * *

Selma skakel haar selfoon af en druk haar kopleuning terug in die posisie vir opstyg. Sy luister afgetrokke hoe die lugwaardin die nood­­regulasies voorlees.

Al vlieg sy so gereeld, voel elke keer vir haar soos ’n eerste keer. Sy hou veral nie van die opstyg nie – dit laat haar hande altyd onwillekeurig sweet, veral in ongure weer.

Sy haal diep asem en voel hoe die vliegtuig al vinniger beweeg, dan die grond verlaat en teen die swart nag begin opklouter. Die liggies van die Kaapse Skiereiland lê uitgestrek onder haar, soos ’n groot vertoonkas vol diamante en edelgesteentes. Daar lê soveel herinneringe opgesluit tussen al die liggies. Haar ma en ouma het haar in die sewentigerjare gereeld van Moorreesburg af saamgesleep om te gaan window-shopping doen in Adderleystraat.

Vir die grootmense was die uitstappie die hoogtepunt van die maand. Vir haar, as enigste kind, was dit harde werk – presies soos sy deesdae die kommunikasie met haar volwasse kinders beleef. ’n Opdraande pad, met die suidooster van voor.

Sy moes altyd in haar blinkleer-uitgaanskoene deur Adderleystraat beur – dié met die skerp neuse wat haar kleintoontjies in die hoeke vasdruk. En dan was daar die bobby socks . . .

NOVEMBER 1976: KAAPSTAD

“Trek uit daai grys skoolkouse,” sê haar ma vies. Haar hare is soos altyd netjies in ’n groot goue spinnekopnes opgetease en styf gespuit vir Kaapstad. “Ons is darem vooraanstaande mense, nie armblankes van die plaas nie. Trek jou wit Sondagpaar met die frilletjie bo-om aan.”

“Maar dit sak heeltyd af wanneer ek loop,” sê Selma dikbek.

“Dra dan jou kousrekke onder jou knieë en slaan die frilletjie terug, dan sal dit nie afsak nie.” Haar ma stryk die plooitjies van haar ge­blomde sjiffonrok reguit voor die vollengtespieël en knip twee blink oorkrabbertjies aan haar oorlobbe.

“Dit sak nog steeds af . . . Hoekom kan ek nie my plakkies dra nie? Hulle stap baie lekkerder.”

“Ek praat nie weer nie, Selma. Netnou loop ons een van jou skool­juffrouens raak.” Selma ken die kyk in haar ma se okkerneutbruin oë. “Wat moet hulle van ons dink as jy so verslons lyk?”

“Of dalk loop ons in Dominee en sy vrou vas. Hulle gaan ook ge­reeld deur stad toe,” sê haar ouma met ’n begrafnisstem.

Haar ouma se hare is in ’n kleiner silwer spinnekopnessie opgetease en ook soos haar ma s’n met haarsproei vasgegom teen die Kaapse suidoos. Sy het haar deftige stadsrok met die kragie aan – dieselfde kleur as die mosterdsousie op die worsrolletjies by die skool se snoepie.

“So? Wat kan hulle dink?” vra Selma. “Dis mos nie ’n sonde om plakkies te dra nie!”

Haar ouma skud haar kop. “Sy raak ’n parmantige klein madam.”

“Kom!” Haar ma trek haar aan haar arm tot in die groen Rover. “Probeer agter in die kar slaap sodat jy nie vanaand vaak raak nie.” Haar ma sit ’n pak Fruity Sparkles langs haar neer. “Suig van die geles of groenes as jy karsiek voel.”

Selma suig aan haar derde groen Fruity Sparkle. Die pad voel altyd langer as Louise nie by is nie. “Hoe ver nog?” vra sy.

“Vyf minute.” Haar ma druk die flikkerlig met haar pinkie af en draai by die City/Sea Point-bordjie. “Ek hoop ons kry parkering. Dis maandeinde.”

“Kan ons eers by die Goue Akker ’n milkshake drink, Mamma?” vra Selma.

“’n Melkskommel,” korrigeer haar ma haar. “Ja, maar vinnig. Daar is baie winkelvensters om te bekyk. Kersfees is om die draai.”

Selma drentel agter haar ma en ouma se spinnekopneste aan deur Adderleystraat. Sy kyk na die Kersliggies wat soos wasgoeddrade oor die strate gespan is. Die son begin reeds agter Leeukop inskuif.

Haar ma en ouma gaan staan voor Stuttafords se venster. Selma stop en trek haar bobby socks op wat weer tot op haar enkels afgesak het.

“Is dit nie lieflik nie?” sê haar ouma. “Kyk net die fyn lyfie.”

“Baie deftig,” sê haar ma. “Ek soek juis iets vir Dewald se afskeids­­funksie.”

Selma druk haar neus teen die ruit. Die winkelpoppe is almal in oumensklere aangetrek. Die meeste van die rokke is ’n dowwe bruin, dieselfde kleur as die dooie akkerblare in die Tuine. Sy wens hulle kon eerder deur die Tuine stap en die eekhorings grondboontjies uit die bruin kardoessakkies voer.

“Moenie so teen die ruit druk nie, Selma,” sê haar ouma. “Jy kan kieme optel.”

Selma haal die laaste Fruity Sparkle uit haar sak. Dis ’n soet rooie. Dalk kan sy die aand korter maak deur solank haar nuwe balletpassies te oefen. Sy weet haar ma en ouma staan altyd baie lank voor Stuttafords om die rokpatrone te probeer ontleed.

Selma sigsag oor die sypaadjie en verbeel haar sy en Louise dans die hoofrolle in Swanemeer. Sy struikel en val byna oor iets wat soos ’n streepsak lyk. Dit is ’n man wat in die flou lig van ’n lamppaal langs die slootjie sit. Sy bene is stompies, asof hy deur ’n slaghuismeule was. Daar is ’n hoed langs hom met ’n paar vuil brons munte in.

“Mamma!” roep Selma. Haar ma en haar ouma het straatop beweeg en staan voor American Swiss se vertoonvenster en bestudeer die juwele. “Kyk daardie pragtige traandruppel-diamantoorbelle, Mammie.” Haar ma wys na iets blinks anderkant die glasruit.

“Jy moet maar by Dewald skimp,” sê haar ouma. “Hy verdien mos goeie geld as tandarts.”

“Dalk moet ek hom volgende keer vra om saam te kom. Hy’s glad nie suinig om my te bederf met mooi goed nie.”

“Mamma!” Selma trek aan haar ma se mou.

“Jy het ’n goeie man gekry, Lucille. Jy’s gelukkig. In die Depressiejare het jy net jou trouring gekry en dit was dit.”

“Mamma, daar’s ’n man met afgesaagde bene daar by die sloot. Kan ons vir hom iets gee?”

“Vir wie?”

“Vir hom.” Sy wys na die donker figuur op die sypaadjie.

Haar ouma kyk om. “Dis tien teen een ’n skelmstreek. Hulle hou vir hulle doof en blind en kruppel om op ’n mens se gevoelens te speel.”

“Maar hoe kan hy maak of hy nie bene het nie?” vra Selma. “Hy kan dit tog nie afsaag en later weer vasplak nie!”

“Daai man het dalk net stompies,” sê haar ouma. “Maar ek wed jou vyf rand die ou wat hom netnou kom oplaai en die geld in sy sak steek, makeer niks nie. Ek het dit al oor en oor gesien.”

“Totale manipulasie,” sê haar ma.

“Wat is manipulasie?” vra Selma.

“Om sonder enige gewete doelbewus op mense se gevoelens te speel – met net een doel voor oë: om jou sin te kry.”

“Soos ’n psigopaat?”

“Waar kom jy aan daardie groot woord?”

Selma kyk na die rye goue kettinkies om die winkelpop se nek. Sy wens sy kon een afhaal en in die bedelaar se hoed gaan gooi.

“Waar kom jy aan die woord ‘psigopaat’?” vra haar ma weer. “Jy is skaars tien.”

Selma blaas haar asem teen die glas. “By Louise. Sy ken al die groot woorde in die woordeboek. Kan ons volgende keer vir Louise ’n pre­sent koop? Sy verjaar net voor Krismis. Dan is sy elf.”

“Al elf?” sê haar ma. “Dis amper ’n jaar ouer as jy.”

“I still have my doubts whether she’s a good influence.” Haar ouma loer oor haar puntraambril na haar ma. Haar stem is vol onheil. “I’ve said it before, Lucille. She is very big for her shoes if you ask me.”

Selma trek twee horisontale en twee vertikale strepies met haar wysvinger in die wasemkol. Dan teken sy nulle en kruisies. Sy trek ’n streep deur die drie kruisies wat in ’n ry lê.

“Wel, ek hou van Louise. Sy is my beste maatjie,” sê Selma en trek haar kouse op.

16 JANUARIE 2016

Selma ruk wakker uit haar dagdroom toe die vliegtuig deur ’n lugstroom beweeg en vir ’n oomblik hoogte verloor. Sy klou met haar hand aan die sitplek se armleuning vas en probeer ontspan. Dis niks ongewoon om ’n bietjie te skud op ’n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg nie. Sy roteer haar nek in sirkelbewegings.

“Nervous flyer?” vra die man langs haar. Hy het swart skouerlengtehare en groot donker oë. Sy vel is die kleur van grondboon­tjiebotter.

“I suppose so,” sê sy. “Although I should be used to the air pockets by now – I’m a regular flyer. Part of my job is travelling the world.”

“Ever been to India?”

“No, not yet.”

“You should go.”

Hy haal ’n besigheidskaartjie uit sy sak en gee dit vir haar. Selma bestudeer die kaartjie en lees die woorde hardop: “Mohamed Singh. Tour guide to connect you to your soul. Is that you?”

“That is indeed me,” sê hy met ’n vonkel in sy donker oë. Hy steek ’n formele hand uit. “Mohamed Singh. Pleased to meet you, up here in the sky.”

“Selma-Suzette Barnard. Pleased to meet you too,” sê sy en skud sy hand met ’n klein glimlaggie. “I also take groups overseas. Mostly to Europe or on island vacations.”

“I’m not a commercial tour guide,” sê hy. Selma luister na die vinnige vokale van sy Engelse uitspraak. Dit klink of sy tong nooit aan sy verhemelte raak nie. “It is my passion to take people into the real heart of India and give them a wake-up call. Life is never the same after you’ve been to India.”

“Thank you for the business card.” Sy soek ’n gleufie in haar oorvol beursie. “Maybe I’ll give you a call one day, who knows . . .”

“You have way too many cards in your purse,” sê Mohamed. “Rather put my number on your phone, then it is safe.”

“Okay,” sê Selma.

“Phone me when you are ready. As they say in India: When the student is ready, the guide will meet you,” sê hy met ’n glimlag.

Sy tande is loodreguit asof dit met ’n liniaal afgemeet is. As haar pa nog geleef het, sou hy Mohamed Singh beslis die SABS-stempel van goedkeuring gegee het vir sy perfekte gebit.

Ongelukkig sou hy nie dieselfde stempel van goedkeuring vir Mohamed se geloof, velkleur of politieke oortuiging toegestaan het nie. In hulle huis was daar drie voorwaardes om ingenooi te word: Blank, NG en NP. Enigiets buite hierdie grense was nie welkom nie.

Sy bestudeer die res van Mohamed se gelaatstrekke. Die neuslyn is ’n fynbesnede driehoek. In profiel lyk dit na ’n trotse monument wat opgerig is om hom as man te vereer. Sy welige hare is teruggekam uit sy gesig en is die ryk blouswart kleur van ’n sterlose nag.

Maar dis die oë wat haar aandag vasgevang hou. Die oë is twee groot stukke outydse drop. Daar is iets triestigs agter Mohamed Singh se oë, selfs wanneer hy glimlag. Die oë het dieselfde kyk as die lang­oor-Hush Puppies op die skoenbokse waarin sy as kind haar sywurms aangehou het.

Die res van die vlug praat Mohamed Singh nie weer met haar nie. Sy kop is weggedraai en sy oë geslote. Sy is bewus van die onsigbare moenie-steur-nie-teken wat om hom hang. Selma slaan die lug­redery se InFlight-tydskrif oop en begin daardeur blaai.

* * *

Hulle land net voor halftien op Oliver Tambo. Selma kyk na die bewegende band met tasse en rugsakke wat al minder en minder word. Slegs ’n paar stukke bagasie dobber nog soos verlore kurkproppe rond.

Hoe is dit moontlik dat haar tas altyd heel laaste arriveer? Dit gebeur feitlik met elke vlug. Is dit dalk bedoel as ’n dieper boodskap van Bo? Sal haar tas vinniger op die band verskyn wanneer sy haar innerlike wanorde uitgesorteer het?

Het dit reeds daar heel aan die begin skeefgeloop? Haar geboorte was ’n pynlike marathon, het sy verneem. Het sy daar tussen die yskoue staaltange wat haar uit die geboortekanaal wou verlos, haar eerste kennismaking met trauma beleef? Sy wens sy kon die tange wat haar nog gereeld vasknyp, uit haar pad verwyder en vry voel.

Sy slaak ’n sug van verligting toe sy uiteindelik haar donkergrys leertas wat sy in Florence gekoop het, gewaar. Sy steek haar hand uit om dit nader te trek en op die trollie te laai, maar ’n beleefde samari­taan spring haar voor.

“Phone me when you are ready. Even if it’s years from now.”

“Okay.”

Selma merk vir die eerste keer die donkergrys halfmane onder Mohamed Singh se oë.

“Phir milenge,” sê hy saggies.

“I beg you pardon?”

“Phir milenge means: see you later.”

“Oh, I see,” sê sy en gee ’n verleë laggie.

Selma kyk hoe Mohamed tussen die laatnagmense op Oliver Tambo verdwyn. Sy staan ’n oomblik besluiteloos en stoot dan haar trollie in die rigting van die drop-and-go. Hopelik wag die uber wat sy bespreek het nog daar.

Haar selfoon flits. Dis Lana.

“Ja, Lana?” sê sy.

“Is jy terug uit die Kaap?”

“Ja, pas geland.”

“Good. Kom val gou in vir ’n drink. Ons is almal nog hier by Belinda se huis. Baie geskeide talent vir jou . . .” Selma kan aan Lana se stem hoor dat sy reeds ’n paar liter G&T in haar bloedstroom het.

“Ek is regtig te moeg,” maak Selma verskoning. “Dalk volgende keer . . .”

“Dis ’n Saterdagaand, magtag! Wie wag vir jou by die huis? Net die twee beagles. Kom tog oor, toe?”

“Nie vanaand nie, Lana.”

“Jy’s deesdae so ’n ou koek.”

“Dis wat Louise ook sê.”

“Wel, dan stem ek en Louise darem oor iéts saam.”

“Julle is sulke orige terte. Ek geniet my lewe – sonder mans, okay.”

“Jy weet mos van Alice se vyftigste oor twee weke? Sy hou een moerse groot ete met spyseniers by haar mansion. Sy sê jy het nog steeds nie ge-RSVP nie.”

“Ek sal nog . . .”

“Daai een móét jy bywoon. Promise!”

“Ek sal sien.”

“Promise. Dis haar vyftigste, magtag!”

“Okay, ek belowe.”

“Onthou om te RSVP.”

“Okay, ek sal môre.”

“Nou maar, baai, jou ou koek,” sê Lana met ’n dronk laggie. “Sien jou by Alice se party.”

“Baai, jou ou tert.”

Selma klim in die uber. Sy verlang na die bekendheid van haar huis en haar honde. “Hi,” groet sy die vreemde bestuurder.

“Hi,” groet hy en trek weg.

Haar lewe voel soos ’n konstante uber-rit – altyd ’n gevleg deur die verkeer. Maar sy kom nooit by haar bestemming uit nie, nooit by die plek van innerlike rus en vrede nie. Hoe lank nog? wonder sy. Hoe lank voordat sy tuis kom? Hoe lank voordat al die spoke van die verlede tot rus kom?

Selma en Louise

Подняться наверх