Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеNothing ever goes away until it has
taught us what we need to know.
– Pema Chödrön
3 JANUARIE 2017
Selma parkeer haar wit Duitse motor in Rosebank Mall se boonste parkeerterrein. Sy sit ’n oomblik besluiteloos met haar kop op die stuurwiel. Wat moet sy doen? Waarheen kan sy vlug waar niemand haar ken nie? As sy net die afgelope jaar kan uitwis met ’n uitveër.
Sy krap in haar motor rond en druk ’n CD van Abba in die klanksisteem. The winner takes it all – dit kan jy weer sê, dink sy terwyl sy na die woorde luister. The loser standing small. Of eerder: the loser lê planloos en pateties op haar stuurwiel in ’n parkeerterrein.
Sy skakel die motor af, maak die deur oop en klim stadig uit. Sy staan ’n oomblik stil en verken haar omgewing asof sy pas op ’n maanlandskap aangekom het. Dan begin sy in sirkels deur die parkeerterrein beweeg.
“Are you all right, lady?” vra die sekuriteitswag met ’n meelewende gesig.
“Yes. I’m just looking for a travel agent . . .” sê sy en knip haar oë asof die lig haar verblind.
Die sekuriteitsman stap ’n entjie saam met haar en beduie dan in watter rigting sy moet loop.
“You sure you are all right?”
Selma knik haar kop. “Yes.”
“Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek,” fluister Selma vir die man agter die toonbank van Flight Centre in Rosebank. Sy kyk na die naambordjie wat soos ’n padteken voor haar uitgestal is op die lessenaar. Eshel Naidoo – Flight Centre Attendant.
Die man lig sy wenkbroue en hou hulle in ronde vraagtekens op haar gerig. Selma voel hoe angs in klam vlekke onder haar armholtes uitslaan. Haar mond is droog van die kalmeerpil wat vir haar voorgeskryf is.
“Ek wil ’n enkelkaartjie bespreek . . .” probeer sy weer die woorde met moeite van haar tong aflaai.
“Would you mind repeating that in English?” vra Eshel Naidoo apologeties. “I’m very, very sorry, but my Afrikaans is very, very bad.” Sy oë is twee koppies swart koffie waarin diep, opregte berou ingeroer is.
“I want to book a ticket,” sê Selma met wat sy voel moontlik haar heel laaste asem is. “Can you advise me . . .”
“No problem. Take a seat.” Eshel ontbloot twee rye gejikte tande. Sy lang oogtande gee hom ’n effense weerwolfgrynslag.
“Do take a seat,” sê hy weer en beduie na die leerstoel voor sy lessenaar. Selma sak in die stoel neer en staar na sy naels. Hulle is wit, nes sy tande, met ’n effense blou skynsel op die halfmane.