Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 9

Hoofstuk 3

Оглавление

Your relationship with yourself

sets the tone for every other relationship you have.

– Robert Holden

16 JANUARIE 2016

Selma bind haar lang donker hare vas en stap oor die teerpad na Bloubergstrand. Sy het vir haar ’n seefrontkamer by die Blue Peter Hotel bespreek en selfs ’n baaibroek ingepak vir haar twee dae lange werksbesoek aan die Kaap.

Die weer is egter grys en kil. Die suidoos waai stormsterkte en klap haar kort-kort deur die gesig met ’n hand vol seesand of sproeireën. Sy druk haar Armani-sonbril dieper op haar neus en kry ’n sitplekkie op ’n rotslys.

Die seemeeue beweeg soos skydivers op en af oor die triestige see. Aan die ander kant van die oseaan skuil Tafelberg agter ’n dik wit polonektrui. Sy’t so gehoop die berg sal haar met ’n oop gesig verwelkom.

Sy dink onwillekeurig aan Zander. Stormwind, reën, wolke en dan die son wat deurbreek en jou laat vergeet van die ontberinge. Hoe­veel keer het hulle nie hand aan hand langs Blouberg gestap nie.

Selma soek weer na ’n glimp van Tafelberg, maar die berg kruip steeds weg in sy woltrui, asof hy doelbewus sy geheime van haar wil weerhou.

Dis 11:15 op haar Gucci-horlosie. Sy’s bly sy het haarself tog maar die luukse gegun toe sy ’n klompie jare gelede in Zürich was. Die horlosie herinner haar altyd aan die gelukkige tyd wat sy en Zander in Switserland gehad het . . .

Sy sien skielik uit daarna om weer terug te vlieg na haar voorspelbare roetine in Johannesburg. Terug na die donderstorms, die petroldampe, die toetende taxi’s en die vinnige polsslag. Die Noorde het haar nuwe hawe geword. Daar kan sy verdwyn in haar eie vei­lige woljas.

Selma en Louise

Подняться наверх