Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 11
Hoofstuk 4
ОглавлениеThe life in front of you is far more important
than the life behind you.
– Joel Osteen
18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD, JOHANNESBURG
Selma sit besluiteloos voor haar rekenaar. Die week lê soos ’n woestynlandskap voor haar uitgestrek. Daar is niks om na uit te sien nie, behalwe werk. Sy blaai lusteloos deur haar lêers met foto’s en notas van Zanzibar waar sy onlangs met ’n toergroep was. Die artikel lê soos Everest voor haar. Dalk moet sy dit maar vir eers uitstel tot sy meer geïnspireerd voel.
Sy besluit om haar lessenaar reg te pak. Sy kan nie funksioneer met chaos om haar nie. Sy moet sommer ook van die onnodige besigheidskaartjies in haar beursie ontslae raak – sy stel dit alewig uit. Mohamed Singh het haar aandag daarop gevestig. Way too many business cards in your purse.
Hy het nogal ’n indruk op haar gemaak. Sy donker oë bly by haar spook. Sy wonder watter geheime hulle verberg. “Phone me when you are ready. As they say in India: When the student is ready, the guide will meet you.” Sy woorde eggo in haar kop terwyl sy sy nommer onder Toergidse in haar foon inpons. Wie weet, dalk kry sy eendag Louise se arm gedraai om saam met haar Indië toe te gaan. Selma kyk nog ’n oomblik na sy kaartjie voor sy dit in die snippermandjie gooi.
Volgende op haar Maandag-doenlysie is Alice. Sy het Lana belowe om te RSVP. Sy ken Alice nie werklik goed nie en was half verbaas dat sy na haar vyftigste genooi is. Sy besluit om eerder te SMS as te bel. Skuus ek het nog nie geRSVP nie, Alice. Ek was in die Kaap. Ek sal graag jou partytjie volgende Saterdagaand bywoon, baie dankie. Groete, Selma.
Lekke lekke, Sally, reply Alice sekondes later. Dit gaan een moerse jol wees.
Haar foon flits weer. Dis ’n whatsapp van Lana. Ek is hier by Alice. Ons beplan ’n surprise packet vir jou. Jy gaan hom absolutely love.
Selma is dadelik jammer dat sy die uitnodiging aanvaar het. Sy het glad nie krag vir ’n moerse jol nie, en nog minder vir ’n surprise packet. Dalk is Ronald Kortgat met die twee skape in sy pens ook op die gastelys.
Sy stap rusteloos deur haar groot huis. Die honde drentel soos stertjies agterna. Sy maak die soveelste koppie tee en skuif dan weer agter haar lessenaar in haar studeerkamer in. Sy weet sy moet werk. Die keerdatum vir die Zanzibar-reisbrosjure is oor ’n paar dae.
Sy dubbelklik met die muis op die lêer gemerk Selma reisfoto’s. Sy het ’n magdom foto’s op haar rekenaar van al haar reise na eksotiese plekke. Dit neem haar soms ’n tydjie om die regte lêers te vind. Sy soek na foto’s om by haar Zanzibar-artikel te gebruik.
Al die fotomomente van haar lewe die afgelope byna vyftig jaar is in drie kategorieë ingedeel: Verlede. Hede. Toekoms.
Sy voel vandag weer soos ’n gekweste vy wat aan ’n draadjie aan ’n boom hang en enige oomblik gaan afval. Sy wens Louise het nie so ver gewoon nie – dan kon sy gou inval vir ’n koppie koffie en ’n gesels. Louise het die manier om haar uit haar triestige luim te lig.
Haar vinger huiwer oor die Verlede-lêer. Elke kennismaking, elke keuse en elke afdraaipad het haar tot by hierdie oomblik gebring – en die reis is nog lank nie voltooi nie. Sy is klei wat oor jare heen vervorm is, oor en oor gebreek en gebrei en herbou is. Kan sy weer haar lewe tot iets moois transformeer? ’n Diep geestelike en emosionele moegheid bly haar soos ’n honger hond agtervolg.
Sy dubbelklik op die lêer Laerskool Moorreesburg.
JANUARIE 1976: MOORREESBURG
Selma vergaap haar aan die groot wit plaashuis met die hoë strooidak toe haar pa met haar stilhou. Dis haar eerste besoek en oorslaap by Louise-hulle op die plaas. Hulle is aan die begin van die jaar langs mekaar in dieselfde standerd 2-klas by Laerskool Dirkie Uys op Moorreesburg ingedeel.
“Bel gerus as daar ’n probleem is,” sê haar pa en laai haar tas uit. Selma kan in sy oë sien hy is haastig. Hy het seker nog baie tande om te stop.
Sy drentel in haar skoolrok op teen die stoeptrappies agter haar nuwe maatjie aan. By die voordeur draai sy om en kyk hoe haar pa in ’n stofwolk op die grondpad wegry. Sy voel skielik vreemd.
“Kom!” sê Louise. “Die kos is seker al reg. Ek is vrek honger.”
Selma stert agter Louise aan deur die donker huis en gaan staan dan botstil voor die eetkamer. Die vertrek is besonder ruim, met ’n hoë plafon. In die middel staan ’n lang, swaar donkerhouttafel met twaalf stoele met gebalde pote. Daar is twee geelhoutvertoonkaste – een met ’n koringblou eetservies en een met ornamente van ander lande. ’n Groot waaier is in die dak gemonteer en draai soos ’n reusemot om en om en probeer die somerdag afkoel.
“Kom sit,” sê Louise en wys na die twee gedekte plekke. “Wat staan jy soos ’n agie?”
Selma stap onseker nader en skuif op die swaar stoel langs Louise in. “Gaan jou ma nie saam eet nie?” vra sy.
“Nee, my ma het elke middag ’n hoofpyn.”
“My ma is vandag by die haarkapper. Dié dat my pa my gebring het.”
“My ma doen haar eie hare,” sê Louise. “Johanna!”
’n Vrou kom binne en knik haar kop beleefd. Haar kopdoek en voorskoot lyk asof dit van wit kladpapier gemaak is. Haar ronde voorkop blink nes ’n handspieël, merk Selma.
“Middag, Miss Louise.”
“Hallo, Johanna.”
“Melk, lemoensap, Fanta of Coke saam met die ete, Miss Louise?”
“Is daar nie meer Cream Soda nie?” vra Louise nors.
“Jammer, Miss Louise. Mister Pieter het die laaste een gevat.”
“Dammit!” sê Louise. “My bleddie broer suip altyd al die Cream Soda uit. Dan maar ’n Coke.”
“En vir u, jonge dame? Wat is u se name?”
Selma kyk op in twee sagte bruin oë. Hulle lyk soos haar teddiebeer by die huis se oë.
“Selma.”
“Wat kan ek vir u te drinke bring, Miss Selma?”
“Lemoensap, asseblief.”
“Ek bring vir Miss Selma.”
“Dankie, Johanna,” sê Selma.
“Jy hoef nie vir haar asseblief of dankie te sê nie, hoor,” sê Louise en trek haar skoolbaadjie uit.
“Hoekom nie?”
“Sy’s ’n bediende.” Louise skulp haar hand. “Sy maak tot die kakhuis skoon,” fluister sy.
Selma se mond val oop van skok. “Ek mag nooit die k-woord gebruik nie.”
“Ek ken nog baie vloekwoorde,” sê Louise vol bravade. “Ek sal hulle vir jou leer.”
“Eerder nie,” sê Selma. “Ek sal dit nêrens hardop mag sê nie.”
“Jy kan dit hier sê – wanneer jy vir sleepovers kom. Dan is dit ons geheim.”
Johanna verskyn met die koeldranke en ’n skinkbord met bobotie en piesangslaai.
“Dankie,” sê Selma.
Louise slurp die Coke deur haar strooitjie en lê dan weg aan haar bord kos. “Bid julle nie eers nie?” vra Selma. Sy sit steeds met haar mes en vurk in haar hande.
“Nee, hier sê elkeen vir homself: Op jou merke, gereed, vreet!”
Selma knyp haar oë vinnig toe en sê in haar gedagtes dankie aan Johanna vir die bobotie en lemoensap. Dit voel baie anders by Louise se huis as by haar eie huis. Dit voel of daar niks reëls is nie. Asof daar nie ’n heining om die plaas is nie.
Louise slurp die laaste bietjie Coke op en stoot haar halfgeëte bord kos weg. “Kom ons gaan speelkamer toe.”
Selma stap agter haar aan in die lang gang af. Een van die deure is toe. Dis seker waar Louise se ma met haar hoofpyn lê, dink Selma.
Die speelkamer is die laaste vertrek in die gang. Dit wemel van poppe en sagte speelgoed. Teen die een muur is rakke waarop allerlei bordspeletjies, boeke, verf en tekenkryt uitgepak is. In die verste hoek is ’n klavier met ’n stoeltjie wat met ’n pers fluweelbekleedsel oorgetrek is.
“Sjoe!” sê Selma. “Jy het baie speelgoed.”
“Maar my favourite goed is in hierdie kis,” sê Louise. Sy lig die deksel van die groot houtkis versigtig op. Dis vol kleurvolle kostuums, hoede, skoene en fantasieklere. Louise krap in die kis rond en trek dan ’n pienk prinsesrok uit die bondel.
“Trek jy die pienke aan,” gebied sy. “Ek gaan vandag die goue een dra.”
Selma neem die pienk net-aandrok en vryf die materiaal tussen haar vingers. “Waar is julle badkamer?” vra sy skaam.
“Ons het twee af in die gang, maar vir wat wil jy daar gaan aantrek? Jy hou mos jou vest en jou pantie aan.”
Selma gaan hurk langs die klavier en probeer die feetjierok oor haar kop kry. Sy lees die naam op die stuk bladmusiek: Jingle Bells.
“Jy moet eers die zip aftrek, stupid,” sê Louise en help haar om die rok aan te kry.
“Die materiaal is hard,” sê Selma. “Dit krap my rugvel.”
“Dis oor jy nog nie die kroon en die vlerke ophet nie, silly. As jy dit eers ophet, voel die rok sag soos sy.”
Louise grawe met nuwe ywer in die kis rond. Sy gooi ’n verskeidenheid items oor haar skouer. Dan draai sy om en glimlag asof sy die lotery gewen het.
“Sit die silwer kroon op jou kop – en jy kan die staffie ook leen.”
Selma sit die kroon op en hou die towerstaf in haar hand vas.
“Hoe voel die rok nou?”
“Nog steeds of ’n kat my krap.”
“Moenie so ’n sissie wees nie!” skel Louise. “Anders kom jy nooit weer vir ’n sleepover nie.”
Selma knik gedwee. Sy wil graag weer plaas toe genooi word. By hulle huis op die dorp het sy nie ’n speelkamer met ’n houtkis vol fantasiekostuums nie.
“Okay, nou kort jy net die vlerke en smarter skoene. Jou skoolskoene gaan nie werk nie. Trek aan, dan sal jou vel ophou krap.” Louise help Selma om die silwer feetjievlerke oor haar skouers te trek.
“En hoe lyk ek?” Louise sirkel ’n paar keer verby haar op hoë hakke. Sy het ’n goue aandrok met ’n bypassende kroon, towerstaffie en vlerke aan.
“Mooi,” sê Selma.
“Nou is ons fairies. Ek is die fairy queen en jy die fairy-prinses. Ons kan vlieg en magic doen. Kom ons gaan haal eiers uit,” sê Louise. “Ek kry altyd meer eiers wanneer ek die goue rok aantrek.”
Die twee meisies loop met hulle feetjierokke en vlerke hoenderhok toe.
“Die een wat die meeste eiers kry, wen ’n prys,” sê Louise.
Selma ploeter op die hoëhakskoene deur die hoenderhok. Die hoenders pik-pik in die grond en sprei hulle stertvere soos Spaanse waaiers oop wanneer sy nader kom om eiers te soek.
“Ek weet tog waar al hulle wegsteekplekkies is,” spog Louise. Sy krap ’n paar stukkies strooi langs die ogiesdraad weg en haal ’n eier uit. “A, my eerste een! Voel, dis nog louwarm.” Louise druk die hoendereier teen Selma se wang.
“Ek wens ek kan ook een kry,” kla Selma.
Louise krap nog strooi weg. “A, my tweede een!”
“Ek het nog niks,” sê Selma bekaf.
“Weet jy wat is ’n penis?” vra Louise terwyl sy verder eiers soek.
“Nee. Wat is dit?”
Louise maak ’n simpatieke klikgeluid met haar tong en skud haar kop. “Dis die tool wat ’n seun in sy broek het.”
Selma staar na Louise. “Tool?”
“Ja, ’n tool om mee te piepie. En babas mee te maak. A, my derde eier!”
Selma gril. “Waar hoor jy dit?”
“Afgeluister by Pieter se kamerdeur. Hy’s vyftien en weet baie ongeskikte goed.” Sy krap nog twee eiers agter ’n ou wynvat uit. “Jy beter opskud. Ek is jou ver voor.” Louise maak ’n wiegie van haar aandrok se materiaal en lê die eiers versigtig neer.
Selma krap en soek in die hoenderhok rond, maar kry geen eiers nie. “Ek kry niks,” sê sy huilerig.
“Kyk agter daai waterbak,” sê Louise.
Selma krap tussen die strooi en haal ’n eier uit. “Ek het my eerste eier gekry!” juig sy. Sy vee met haar vinger oor die dop. “Kyk, daar’s ’n bietjie hoendermis aan.” Sy maak haar hand oop en wys die eier vir Louise.
“Ja, hulle druk mos die eiers uit hulle boude. Daar sal hoendermis aan wees,” sê Louise uit die hoogte.
* * *
Die aand is daar vyf gedekte plekke aan die swaar eetkamertafel. Selma en Louise gaan sit in hulle feetjierokke op dieselfde stoele as die middag. Pieter kom ingeslof en gaan sit oorkant hulle sonder om te groet.
Selma bestudeer hom onderlangs. Hy lyk soos die wrede soldaat wat sy ’n keer in ’n oorlogboek gesien het. Sy silwerwit hare is tot op die kopbeen afgeskeer. Hy kyk onverwags op.
“Wat kyk jy so?” vra hy. “Nog nooit ’n mens gesien nie?”
Sy blou oë sit diep in hulle oogkasse. Sy’t nog nooit sulke oë gesien nie. Dit lyk of die gleufies blou met ’n groenteskiller langs sy neus uitgekerf is.
Louise se ma kom ingestap en gaan sit op die stoel langs die koppenent. Haar gesig lyk teleurgesteld asof sy steeds hoofpyn het.
“Jy kan maar die kos bring, Johanna,” sê sy op een noot. “Meneer gaan laat wees.”
Hulle eet in stilte. Selma wonder of hulle haar kan hoor kou. Sy probeer die hardgebraaide vetrandjie om die varktjop eet sonder dat dit onder haar tande kraak.
“Ek het vandag ses eiers uitgehaal,” onderbreek Louise die stilte. “En Selma-kepelma net drie.”
“Mmm,” sê Louise se ma asof sy aan iets anders dink.
“Daar is ’n party by Japie-hulle,” sê Pieter. “Ek gaan sommer daar kiep. Kan ek verskoon word?”
Louise se ma knik. “Jy kan maar die borde kom afdek, Johanna,” sê sy weer op een noot. Sy staar na die blou eetservies binne die vertoonkas asof sy haar oë nie daarvan kan weggeskeur kry nie.
“Is tannie se hoofpyn al beter?” waag Selma dit.
“Hoofpyn . . .?”
“Het tannie al ’n Disprin probeer?”
Louise se ma kyk haar met ’n afwesige blik aan. Dan staan sy stokkerig op. Selma kyk hoe sy by die deurkosyn struikel en met moeite haar balans herwin. Sy beweeg stadig en onseker in die gang af en verdwyn by een van die sydeure in.
“Is sy orraait?” vra Selma.
“Moenie worry nie,” sê Louise. “Sy’t ’n Valium in. Kom ons gaan speelkamer toe.”
Die meisies is verdiep in ’n bordspeletjie toe ’n motor voor die plaashuis stilhou. Die twee hoofligte skyn soos soekende flitse by die venster in. ’n Deur word hard toegeklap. Die klank van hardesoolskoene weerklink oor die gruis.
“Dis my pa,” sê Louise. “Hy is terug van die gholfklub.”
Selma kyk op haar horlosie. Dis tienuur. “Hulle speel laat gholf,” sê sy.
“Nee, hulle drink tot nou in die bar. Whisky en soda of brandy en Coke.”
“My pa drink net melk,” sê Selma. “Hy’s ’n tandarts. Hy speel nie gholf nie.”
Sy luister hoe swaar voetstappe in die gang afgestap kom – al nader en nader aan die oop speelkamerdeur. ’n Skaduwee gly oor die plankvloer.
“Louisie-peezie!” groet ’n manstem.
“Hallo, Pappa,” sê Louise en swaai om. “Dis Selma, my nuwe beste maatjie.”
“Wat het van Lana geword?”
“Sy mag nie meer met my speel nie.”
“Hoekom nie?”
“Sy het nie gesê nie.” Louise trek haar skouers op. “Ek het vandag ses eiers uitgehaal. En Selma net drie.”
“Dis grand,” sê haar pa en glimlag. Sy tande is lank en geel soos dié van ’n plaasperd.
“Voel jy darem al tuis hier by ons?” vra hy.
“Ja dankie, oom.”
“Good!” sê hy vrolik. “Noem my gerus oom Tiny.”
“Okay, oom Tiny.”
Sy neus en wange is blinkrooi asof hy pas rooisel aangesmeer het. Hy’t dieselfde uitgekerfde blou strepie-oë soos Pieter, net vriendeliker.
“Nou maar, Louisie-peezie en Selma-pelma, julle moet lekker slaap. Nite-nite, girls.” Hy trek die speelkamerdeur agter hom toe.
“Jou pa lyk gelukkig,” sê Selma en gooi die dobbelsteentjie op die bord. “Ag nee, ek het op ’n slangetjie geland . . .” Sy skuif haar rooi knopie af in die slang se bek. “Maar jou ma lyk nie so gelukkig nie.”
“Dis oor my pa ’n psigopaat is,” sê Louise.
“Is dit soos ’n vegetariër?” vra Selma.
“Ja, ek dink so iets,” sê Louise.
Selma sit regop. Sy hoor gedempte stemme en kleinhondjiegeluide agter een van die deure in die lang gang.
“Wat maak so?” vra Selma.
“Seker maar Johanna se baby,” sê Louise en trek Selma aan die arm. “Kom ons klim deur die venster en gaan speel buite.”
“Maar dis pikdonker,” sê Selma.
“Maar ons is fairies, onthou. Ons het vlerke en ’n kroon en ’n towerstaf. Ons kan enige plek heen vlieg en magic doen.”
Louise trek die luike weg en spring deur die venster. Haar grootmensskoene klikklak op die leiklip van die plaasstoep. Selma sukkel om by te hou.
Louise hardloop vooruit oor die grasperk in die rigting van die vyeboom. In die maanlig verander sy in ’n regte feetjieprinses, haar bos lang koperrooi hare ’n vlieër wat agter haar aansweef. Twee van die plaashonde hardloop aan weerskante van haar. Hulle tonge lyk nes die pienk polonieskywe wat Selma se ma op haar skooltoebroodjies inpak.
Louise trippel teen die handgemaakte houtleertjie op tot bo in die vyeboom. Sy gaan sit wydsbeen bo-op ’n houtplatform.
“Dis die fairies se uitkykplek,” sê sy vir Selma. “Klim! Dan kyk ons na die maan deur die vyeblare.”
Selma sukkel teen die leertjie op. Haar vlerke haak aan die takke vas. Sy het nog nooit iets so waaghalsig gedoen nie. By hulle huis op die dorp moet sy elke aand halfagt al in die bed wees.
“Die maan is mooi, nè,” sê Louise en druk ’n paar takke uit die pad. “Dit lyk soos ’n bulb.”
“Of ’n eier,” sê Selma.
“Of ’n duimnael.”
“Of ’n blink muntstuk . . . Ek wonder hoe lank vat dit om tot daar te kom – seker jou hele lewe.”
“Ons kan gou soontoe vlieg,” sê Louise. “Jy moet net eers weer jou vlerke regbuig. Die een hang heeltemal skeef.”
Sy help Selma om haar vlerke in die vliegposisie te kry. “Okay, vat nou jou towerstaf en maak toe jou oë en dan wens jy. Een . . . twee . . . drie!”
“Een, twee, drie!” sê Selma met haar oë styf toegeknyp.
“Sien jy die rye Krismisbome met liggies? En hoor jy die mooi musiek van die harpe en die viole? Daar is nog baie ander fairies op die maan! Hulle nooi ons om saam te dans.”
“Ja, ek sien hulle,” sê Selma met haar oë steeds styf toegeknyp. Hulle sit ’n lang ruk so met hulle oë toe. In die verte roep ’n naguiltjie.
“Eet jy vye?” vra Louise skielik. Sy leun vorentoe en pluk ’n paar vye af. “Hier is baie rypes aan die boom – ’n mens moet net weet waar om te kyk.” Sy gee vir Selma ’n vy aan.
Selma trek die sagte skil terug en breek die vy oop. Sy kyk na die fyn patroontjie van die pers pitjies.
“Ek het ’n lekker soete,” sê Louise met vol kieste. Sy gee vir Selma nog ’n vy aan. “Proe dié een. Ek dink dis ook ’n stroopsoete.”
“Die pitjies lyk soos die sterre,” sê Selma. Sy kyk op na die sterrehemel voor sy ’n hap neem.
“Weet jy hoeveel sterre is daar in die hemel?” vra Louise.
Selma skud haar kop.
“’n Honderd miljoen. Dit neem ’n hele week om te tel,” sê Louise kouend. Sy gooi die vyeskille vir die twee skaaphonde wat onder die boom lê en waghou. “Weet jy wat is masturbasie?” vra sy dan.
Selma skud haar kop.
“Dis wat seuns doen met hulle penisse.” Sy gee vir Selma nog ’n vy aan. “Dis die laaste een, okay. As jy te veel vye eet, kry jy spuitpoep.”
Louise begin met die houttrappies afklim. “Kom ons gaan slaap,” sê sy. Sy trek haar hoëhakskoene uit en begin vooruit draf in die rigting van die speelkamer, die honde weer langs haar.
Selma beur deur die oop venster. Die speelkamer is pikdonker en spokerig. Sy wonder wat van Louise geword het. Haar oë volg die spore van die vlerke, die kroon en die goue rok op die houtvloer. Dan sien sy Louise in haar frokkie en pantie in die hoek op die klavierstoeltjie sit.
“Saggies,” sê Louise. “Voor my pa wakker word.”
Selma trek so geruisloos moontlik uit. Sy vou die roospienk rok netjies op en sit dit in die kis.
“Kom,” fluister Louise en steek haar hand uit.
Die gang is doodstil. Daar is geen kleinhondjiegeluide agter die toe deur nie. Hulle sluip op hul tone in hulle onderklere tot by Louise se slaapkamer aan die verste ent van die gang.
“Nite, Selma,” sê Louise.
“Nite, Louise,” sê Selma.
18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD
Selma skandeer die rits laerskoolfoto’s van haar en Louise. Daar is so baie kleurvolle momente waarvan sy al vergeet het. Die onbevange kinderjare op Moorreesburg is helder krale in haar gedagtes. Sy wens dit was moontlik om jou kinderjare te preserveer soos die geelperskes en suurpruime op die plaas. Dan kon sy op ’n triestige dag ’n flessie jong-Selma-en-Louise oopmaak om haar op te beur.
Elke naweek op die plaas was ’n adrenalienbelaaide aksiefliek waarin sy en Louise die heldinne gespeel het. Die oorslaapkuiers by haar eie meer konserwatiewe huis met die vaste reëls en regulasies was ’n droë swart-en-wit fliek in vergelyking met die avonture op die plaas.
Haar ouers was nie geesdriftig oor die hegte band tussen haar en Louise nie. Maar ten spyte van hul teenkanting het hul vriendskap al veertig somers oorleef.
Haar oë kom tot rus op ’n foto van haar en Louise tydens ’n oorslaapkuier by hulle huis op die dorp. Sy dink dit is iewers in hulle standerd 2-skooljaar geneem. Hulle poseer saam met haar ouers en ouma voor in die tuin by die stinkafrikanerbedding. Die ouer mense lyk somber. Sy en Louise glimlag van oor tot oor.
FEBRUARIE 1976: MOORREESBURG
“En geniet jy nog die oorslaapkuiers by jou nuwe maatjie?” vra haar ma een middag aan tafel.
“Baie,” sê Selma.
“En wat doen julle als?”
“Ons eet bobotie, varktjops en vye en klim boom.”
“En wat nog?”
“Baie goed. Ons haal eiers uit vir Johanna se omelette.”
“Mmm, dit klink lekker.”
“Ek het twee nuwe Afrikaanse woorde geleer by Louise.”
“Sowaar?” sê haar ma in haar noppies. “Dis altyd goed om ’n mens se Afrikaanse woordeskat te verbreed. Juffrou Calitz sal dit ook hoog op prys stel. Watter twee woorde het jy bygeleer, Selma?”
“ ‘Penis’ en ‘masturbasie’.”
’n Swaar stilte hang in die lug. Haar ma kug en vee dan haar mondhoeke met ’n servet af. “Ek wil nie weer daardie woorde uit jou mond hoor nie, Selma.”
“Hoekom nie?” vra sy en spoel die melk heen en weer in haar kieste.
“Dis net vir grootmense bedoel,” sê haar ma. Sy begin die borde met vinnige besemhale uitkrap. Daar is ’n fronsie tussen haar oë asof sy met ’n moeilike wiskundesom stoei. Selma wens haar ma en pa en ouma het meer gelag. Hulle huis voel altyd so stil en ernstig – nes by die skool en kerk.
“I don’t have a good feeling about this girl,” sê haar ouma met ’n afdraande mond. “Very rough diamond. And I’m not even sure about the diamond part.”
Selma weet nie hoekom haar ouma altyd oorslaan na Engels as sy oor Louise praat nie. Sy is in standerd 2 en kan al van sub A af Engels verstaan. Sy vat ’n groot sluk melk en skommel dit weer in haar kieste voor sy dit afsluk.
“Moenie die melk so in jou kieste rondskommel nie!” raas haar ma.
“Ek maak milkshake,” sê Selma en bol weer haar kieste. “Louise het my geleer.”
“Melkskommel,” korrigeer haar ma haar. Haar ouma skud haar kop en kyk betekenisvol na haar ma oor haar skilpaddopbril. Selma ken die onweerkyk. Haar wiskundejuffrou loer ook so oor haar bril as sy ’n som verkeerd doen.
“Hoekom nooi jy nie ’n keer ’n ander maatjie om hier te kom oorslaap nie?” vra haar ma met ’n gespanne toemondglimlaggie.
“Nee, ek wil net vir Louise nooi. Sy speel die lekkerste,” sê Selma.
“Wat van Marietjie Louw?” stel haar ouma voor. Sy tel ’n bol wol op en begin hekel aan haar skootkombersie. “Dominee Louw se dogter met die mooi oop gesig?”
Selma kyk hoe die hekelpen behendig deur die wol vleg soos ’n motor deur spitsverkeer. Sy lek met haar tong oor die melksnorretjie op haar bolip. “Ek hou nie van Marietjie nie. Sy wil net altyd sit en boek lees.”
Haar ouma bring die hekelpen tot stilstand en stoot ’n servet nader. “Moenie so met jou tong lek nie, Selma. Gebruik tog ’n servet.”
“Ek hou meer daarvan om dit met my tong af te lek,” sê Selma. “Dan mors ek nie die melk nie.”
Haar ouma rol haar oë bo haar bril vir haar ma. “Ek dink dis tyd dat Dewald ’n ernstige gesprek met haar moet hê. Een van die dae is sy ’n tiener. Hy moet die boompie buig terwyl sy nog jonk is, anders is dit te laat.” Sy tel weer die pen op en hekel met hernude spoed voort asof sy resies jaag.
“Hoekom hou julle nie van Louise nie? Sy help my met my opstelle en om my gedigte mooi voor te dra.”
“Dis nie dat sy iets verkeerd gedoen het nie,” sê haar ma versigtig. “Sy is net anders. Sy kom baie ouer voor as haar jare.” Haar ma sit ’n bakkie met jellie en vla voor haar neer. “Ons is bang sy druk jou ryp voor jou tyd.”
“Wat beteken dit?” vra Selma. Sy klits die jellie en vla al in die rondte met haar poedinglepel.
Haar ouma kyk gesteurd op en skud dan haar kop. Dit lyk of sy iets slegs onder haar skoen ruik.
“Wat? Ek en Louise doen dit altyd op die plaas. Dit smaak lekkerder as jy dit opklits.”
“Het Louise nie ander maatjies nie?” vra haar ma. Haar gesig lyk moeg.
“Sy was eers maatjies met Lana, maar nie meer nie,” sê Selma.
“Hoekom nie?”
“Louise sê sy weet nie. Lana se ma wil net nie meer hê dat sy daar gaan speel nie.”
“I think I know why,” sê haar ouma en demonstreer met haar vry hand hoe iemand ’n drankie afsluk. “Apparently the father is very thirsty.”
Dié aand roep haar pa haar na sy studeerkamer.
“Ons het besluit dat jy nie weer by Louise mag gaan oorslaap nie. En sy mag ook nie weer hier kom speel nie.”
“Hoekom nie?” vra Selma.
“Omdat ons so besluit het,” sê haar pa rustig. “Dis in jou eie belang, Selma.”
Hy tel ’n tandestokkie op en begin aan ’n agtertand werskaf. Selma klap die houertjie met tandestokkies om en hardloop na haar kamer. Sy klap die deur hard toe.
MAART 1976: MOORREESBURG
“Ons moet ’n plan maak,” sê Louise by die skool. Hulle sit soos gewoonlik langpouse saam onder die groot peperboom. Louise gaan lê op haar rug en kyk op na die rooi peperkorrels aan die boom se takke.
“Kyk, dit lyk soos robyne,” sê sy.
“Of bessies,” sê Selma.
“Of Smarties.”
“Of granaatpitte.”
“Ek het ’n plan,” sê Louise en sit regop. Haar oë is heldergroen.
“Watse plan?” vra Selma. Sy maak haar kosblik oop, kyk na die pap grondboontjiebotter-en-strooptoebroodjie en sit dit weer terug. Sy maak haar plastiekbotteltjie oop en neem ’n sluk van die suur aanmaakkoeldrank.
“Vat ’n sluk van my Cream Soda,” sê Louise en skuif die blikkie nader.
“Watse plan?” vra Selma.
“Jy moet wegloop na ons plaas toe. Vrydagmiddag ná skool. Dan sal jou ma-hulle geworry raak en dan sal hulle happy wees om jou lewendig by my te kry. En dan sal hulle weer dat jy naweke kom vir sleepovers.”
“Hoe ver se loop is dit?” vra Selma en vat nog ’n sluk Cream Soda. Sy voel hoe die borreltjies teen haar verhemelte kielie.
“So tien kilometer.”
“Dis ve-e-e-e-r!” sê Selma. “My voete sal vol blase word.”
“Met die landloop het ons nege kilometer gestap. Jy moet net tekkies inpak, en dik sokkies. En ek sal vir jou twee Cream Sodas uit die yskas steel voor Pieter dit uitsuip.”
Selma kyk na haar toebroodjie vir raad. Dit voel na ’n vreeslike groot sonde om weg te loop plaas toe. Maar dit voel ook soos ’n nuwe avontuur. Sy kan net dink hoe haar ouma se oë uit hul kasse sal peul as sy nie Vrydagmiddag by die skoolhek op haar tas sit en wag nie.
Louise neem die grondboontjiebotterbroodjie uit Selma se hand en gooi dit in die asdrom langs die peperboom. Sy sit ’n vetkoek met kaas, ham en tamatie en ’n Bar-One in Selma se hand. “Eet dit. Dis baie lekkerder.”
“My ma sê dis sonde om kos weg te gooi,” sê Selma en kyk na die asdrom. “Daar is soveel honger mense.”
“Dis juis hoekom ek dit in die drom gegooi het,” sê Louise. “Dis die honger mense se restaurant.”
“Dan is dit seker okay,” sê Selma.
“So het ons ’n deal? Jy loop Vrydag weg plaas toe? Ek kan nie dat jy saam met my en my pa ry nie, anders is dit soos kinderontvoering. Jy moet self kom – uit vrye wil.”
“Hoe lank dink jy gaan ek stap?”
“Ek weet nie. Dalk so drie ure. Maar die skool kom vroeg uit oor dit vakansie is. Ek sal vir jou in die vyeboom wag. Met jou pienk prinsesrok en jou vlerke en jou kroon. En ek sal vir Johanna vra vir takeaways van die tafel. En kondensmelk en soetkoekies uit die spens steel. Ons kan ’n middernagfees hou. En dalk sommer in die vyeboom slaap.”
Louise praat al vinniger soos ’n plaat wat teen ’n te vinnige spoed gespeel word. Selma sien als in kleurvolle prentjies terwyl Louise praat. Sy sien die plaashonde met die polonietonge en die perde met die lang blonde maanhare. Sy sien hoe hulle skemeroggend kaalvoet in hulle somerpajamas help skape tel. Sy sien die speelkamer met die houtkis vol fantasieklere heel onder in die lang gang, in die skadu van die bloekomlaning wat oor die stoep val.
Sy besluit om eerder nie aan Pieter se uitgekerfde oë te dink nie. Ook nie aan tannie Elsa wat slaapwandel deur die huis nie. En ook nie aan die oorvriendelike, rooigesig-oom Tiny wat elke aand gholf speel tot die maan opkom nie.
18 JANUARIE 2016: SAXONWOLD
Sy het toe die tien kilometer plaas toe gestap daardie Vrydagmiddag ná skool, onthou Selma. Louise het getrou bo in die vyeboom gewag, nes sy belowe het. Lojale, unieke, kleurvolle Louise.
Sy was doodmoeg en haar voete seer, ten spyte van die tekkies en dik sokkies. Haar rugsak het twee rooi strepe in haar skouers gevreet asof sy met ’n sweep bygekom is. Maar vir Louise sou sy gewilliglik die ekstra kilometer of tien stap.
Selma plaas twee foto’s van haar beste vriendin langs mekaar: een laerskoolfoto en een van haar op haar vyftigste verjaarsdag op 20 Desember 2015. Louise het min verander. Haar oë is nog dieselfde groen kuile vol fantasieë. Die neus is effens groter, maar het dieselfde astrante wip. Die neusgate wys steeds opwaarts, asof sy aspris ’n standpunt teen die meerderheid inneem. Haar twee voortande was as kind al groot en vierkantig en kon nog nooit met gemak in haar toe mond inpas nie.
Eintlik lyk Louise nog presies dieselfde as op laerskool, behalwe dat sy nou veel groter panties dra. Was ons maar weer kinders wat in feetjies kon glo, dink Selma.
Haar selfoon lui. Dis Louise.
“Dis nou telepatie,” sê Selma. “Ek kyk nou net na ons laerskoolfoto’s en sit en terugverlang na die goeie ou dae. Jy lyk sowaar nog presies dieselfde. Net ’n paar nommers groter.”
“Ek het ’n afspraak met hom gemaak,” sê Louise sonder om hallo te sê.
“Met wie?”
“Die sielkundige.”
“Watter een? Jy sien so baie van hulle, ek kan nie byhou nie.”
“Jóú een.”
“Mý een? Ek sien ’n vroueterapeut hier bo.”
“Die Mugg & Bean-een. Onthou jy die psycho spotting? Nudge-nudge, wink-wink? Is jy nou met my?”
“O hý?” Sy voel hoe sy effens bloos.
“Ja hý. Ek het hom bietjie gegoogle en die nommer van sy praktyk opgespoor. Afspraak by sy sekkie gemaak. Ek sien hom Donderdagoggend 11:00. Okay, baai.”
“Wag!” skree Selma.
“Wat?”
“Moet assebliéf nie iets oor my sê nie. Ek vra jou regtig baie mooi.”
“Not a word. Cross my heart. Ek gaan net ’n recce doen. Bietjie die water toets. Keep you posted. Ciao for now.”