Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 12

Hoofstuk 5

Оглавление

A good friend knows all your best stories.

A best friend has lived them with you.

– Anoniem

21 JANUARIE 2016: KAAPSTAD

Louise hou met haar 1990-Toyota stil by die adres in Bellville wat die sekretaresse vir haar oor die foon gegee het.

Sy rek haar nek en loer deur die wit palissadeheining. Daar staan ’n duur silwer Mercedes en twee kleiner, goedkoper motors in die oprit geparkeer. Sy druk die interkom en wag dat die hek oopskuif.

Waar moet sy aanmeld? wonder sy terwyl sy haar pildooshoedjie en krale herrangskik. Sy kies ’n rigting en loop haar vas in ’n wilder­nis rankplante.

“Die ontvangs is diékant!” roep ’n vrou deur die oop venster. Louise beweeg in die rigting van die stem.

Die wagkamer is teleurstellend neutraal ingerig. Louise soek ver­geefs na ’n Salvador Dali-afdruk teen een van die mure.

“Doktor is ongelukkig ’n bietjie agter skedule,” sê die vrou agter die ontvangstoonbank.

“Dokter?” vra Louise verras.

“Nee, doktor in die sielkunde.” Die vrou het ’n betroubare maar gehawende gesig. “Skuus, ek is Christa – sy sekretaresse.”

Sy lyk soos ’n hawelose SPCA-hond, besluit Louise. Sy wens sy kon haar by ’n doggy parlour inboek om die Afghan-hare in ’n styl te laat knip en sommer die grys wortels ook in te kleur.

“Aangename kennis,” sê Louise en steek haar hand uit. “Ek is Louise van der Spuy met wie jy oor die foon gepraat het.”

“Sit gerus, Louise.” Christa stryk oor haar hare asof sy Louise se doggy parlour-gedagtes gelees het. Sy oorhandig ’n vorm en ’n pen. “Kan jy dit asseblief voltooi, sodat ek vir jou ’n lêer kan oopmaak?”

“Sekerlik.” Louise glimlag om te wys sy kom in vrede. Sy kyk rond en wonder waar om te sit.

Daar is twee blou stoele met vierkantige, ingeboksde hout-armleunings en ’n sitkamerbank van dieselfde hout en stoffasie.

“Kan ek solank vir jou ’n koppie koffie kry?” vra Christa. Haar gesig is sonder grimering – ’n kunswerk wat nog nie behoorlik afgewerk is nie.

“Dankie,” sê Louise en wurm haar boude op een van die geboksde stoele in.

Die middeljarige sekretaresse verskyn met ’n skinkbord koffie, sui­ker en melk. “Geniet dit,” sê sy. Sy dra ’n los geblomde hemp oor haar jeans. Die jeans is ’n nommer of twee te knap en beklemtoon haar swaargeboude onderlyf.

Louise neem die koffie en oorhandig die voltooide vorm.

“Dankie,” sê Christa en glimlag. “Roep maar as jy nog iets nodig het.”

“Cool bananas,” sê Louise en soek dan rond tussen die tydskrifte om die tyd te verwyl. Die meeste van die leesstof is óf opvoedkundig óf Christelik van aard en sy is nie vanoggend in die luim vir skool of kerk nie.

“Sal jy omgee as ek ’n oomblikkie buite rondkyk?” vra sy toe haar beker leeg is.

“Sekerlik. Ek glo nie Doktor sal meer te lank wees nie.”

Louise stap om die huis. Sy wil ’n bietjie navorsing doen; die kat uit die boom kyk. ’n Mens kan baie agterkom omtrent ’n persoon deur sy omgewing te bestudeer. Die tuin is effens oorgroei. Soos die wagkamer, skep dit ’n dienlike, maar effens saai indruk. Hier kort dui­delik die hand van ’n vrou – ’n vrou soos Selma, wat kleur en orde in sy lewe kan bring.

Sy hoor ’n deur wat toeklap en dan die geklik van hoëhakskoene wat oor die plaveisel wegstap. Louise is net betyds om te sien hoe ’n vrou in ’n rooi meermin-kleefrok om die hoek verdwyn.

“Jy kan maar deurkom, Louise! Doktor sal jou nou sien,” roep Christa.

Doktor Theodor Swanepoel se gesig is ’n onleesbare bladsy. Hy dra ’n blou-en-wit strepieshemp wat losserig oor sy maag hang. Louise merk dat sy bruin skoene se neuse lanklaas ’n bietjie politoer gesien het. Hy steek sy hand na haar uit. “Theodor Swanepoel,” sê hy.

“Louise van der Spuy,” sê sy met ’n breë glimlag. Hy ignoreer die glimlag en stap voor haar uit na sy spreekkamer.

Hy het ’n effens ongemaklike manier van stap, asof hy nie honderd persent tuis voel in sy eie lyf nie. Louise drentel agter hom aan. Doktor Swanepoel skuif agter sy lessenaar in en kyk dan beswaard op. Sy wonder vir ’n oomblik of hy dalk ’n nood het wat hy onderdruk.

“So waaraan het ek die besoek te danke . . . e . . .” Hy kyk af na sy lêer. “Louise van der Spuy, is dit . . .?”

“Dit is inderdaad.”

Sy skat hom in sy laat vyftigs, na aan sestig, met ’n effense trek op ’n afgeleefde Alec Baldwin. Sy oë is sy sterkste pluspunt en fassineer haar teen haar sin. Hulle is ’n charismatiese ligte babablou. Hy kon ’n hunk gewees het in sy jong dae, besluit Louise. As Selma net bie­t­jie kreatief te werk gaan, kan sy dié antique opknap tot iets heel bruikbaar.

Vir die volgende uur gesels Louise in kleurvolle detail oor haar moeilike man en probleemkinders, terwyl sy hom deurgaans van onder haar pienk pildooshoedjie bestudeer.

Sy grys hare laat hom gedistingeerd lyk. Die charismatiese oë is meestal nie op haar gefokus nie, maar op die silwer Sheaffer-pen wat hy voor hom soos ’n anker in sy hand vashou. Nou en dan kyk hy wel op met ’n toeboekgesig en maak ’n aanbeveling.

Louise bespied ongemerk die vertrek terwyl sy nuwe probleme pro­beer uitdink. “My gesin is so damn demanding – neem absoluut al my tyd op,” kla sy. “Ek het geen vrye tyd nie – geen me time nie.”

“Dan moet jy verantwoordelikheid neem. Sterker grense afdwing.” Sy geslote uitdrukking verklap geen persoonlike meelewing nie.

“Seker maar,” sê sy en loer weer rond.

Die spreekkamer is net so neutraal ingerig soos die wagkamer. Die boekrak is opgestapel met akademiese handboeke uit die tagtigerjare. Daar is geen Frans Groenewald of Hannetjie de Clercq om bie­t­jie kleur te verskaf nie; ook geen plantjie nie. Daar is wel ’n paar geraamde grade teen die muur, ’n Amerikaanse vlag en ’n paar foto’s van hom saam met bekendes wat haar aandag trek. Sy merk geen geraamde portret van ’n vrou en kinders op sy lessenaar nie. Daarvoor score hy baie punte.

Doktor Swanepoel draai sy nek ongemerk in die rigting van sy pols en loer onderlangs op sy horlosie.

“Is my tyd op? Ek sien jy loer op jou horlosie.”

“Ongelukkig, ja.” Hy sit sy pen neer soos ’n punt agter ’n sin. “Ek stel voor dat jy nog ’n afspraak maak vir oor so twee weke?”

Louise staan op en stryk die plooie uit haar verskillende lae klere. “Ek sal so maak. Baie dankie vir jou tyd, dok,” sê sy gemaak dankbaar.

“Noem my gerus Theodor of Theo – nes jy verkies,” sê hy terwyl hy iets op haar lêer krabbel. “En sê groete aan jou Mugg & Bean-­vriendin van Johannesburg wanneer jy haar weer sien.”

“Onthou jy ons . . .?” Louise druk-druk aan die pienk hoedjie op haar kop.

“Natuurlik. Die psycho spotters.” Sy oë is ysblou toe hy opkyk.

“Ons het net gejoke, hoor.”

“Ek besef dit.”

“Ek wens Selma kon jou kom sien. Ek cope eintlik fine, maar Selma gaan deur ’n baie moeilike hoofstuk. Fyn, delikate gees. Sy probeer haar trauma wegwerk. Reis gedurig en skryf oor haar avonture. Sy probeer mense aanmoedig om op te staan ná verlies . . .”

“Soos ek ook maar.”

“Reis jy ook?” vra Louise.

“Nee, maar ek skryf wel en tree as motiveringspreker op by funk­sies.”

“Klink asof julle baie in gemeen het.”

“Dis moontlik,” sê hy en tel haar lêer op. Sy merk dat sy naels besonder kort is. Kou hy dalk sy naels?

Theodor maak die deur oop en glimlag vir die eerste keer. “Betaal sommer voor by Christa. Sy sal vir jou ’n kwitansie gee en jou volgende afspraak skeduleer. Christa is my regter- én linkerhand.” Hy kyk met waardering na sy sekretaresse.

Christa se gesig helder merkbaar op toe sy vir Theo sien. ’n Blos kruip oor haar gelaat. “Ek maak so, Doktor.” Sy druk ’n sliert geperm­de hare agter haar een oor in.

“So wanneer praat hy weer by ’n funksie hier naby?” vra Louise terwyl sy wag vir die kwitansie. “Ek sal dit baie like om hom te hoor.”

Christa blaai deur sy dagboek. “Oor twee weke. By ’n Valentyns-­damestee by ons plaaslike laerskool. Jy moet regtig probeer om te gaan luister. Hy praat oor die sewe belangrikste dinge in die lewe.”

“Ek dog daar is net een,” grinnik Louise. “Seks.”

Christa lig haar wenkbroue.

“Ek joke net. Ek gaan beslis ’n plan maak om te gaan luister.”

“Hy is werklik ’n fantastiese spreker,” sê Christa asof sy oor ’n inter­nasionale held praat. “Hy is ’n groot inspirasie vir soveel vroue.”

“Goed om te weet,” sê Louise en glimlag voor sy uitstap. “Ek sal jou bel oor die praatjie.”

Haar selfoon lui net toe sy in die motor klim. “Yes, Karel Kat?” sê sy en kyk hoe die wit hek oopskuif. “Ek sien jy’s op my spoor.”

“Waar loop jy rond?” vra hy. “Ek het ’n vergadering naby die huis gehad en wou jou vir koffie stick.”

“Net koffie?” vra sy en sit haar flikkerlig aan.

“Okay, koffie en ’n stuk wortelkoek.”

“Ag shit, dis nou jammer. Dis nie aldag wat jy my op ’n date nooi nie.”

“Ons kan steeds gaan. Ek het nog so ’n goeie halfuur tyd. Ek is nog in Tygervallei. Waar is jy nou?”

“Bellville,” sê Louise en draai op die snelweg na Durbanville.

“Wat de hel maak jy in Bellville?”

“Recce gedoen vir Selma. ’n Vrou het haar geheime.”

“Recce? Watse recce?” vra hy nuuskierig.

“Ek het ’n interessante sielkundige kom sien, wat ek vermoed Selma dalk uit haar swart mood kan lig,” sê Louise tevrede.

“Is dit nie beter dat sy maar eerder haar eie shrink in Johannesburg sien nie?” vra hy versigtig.

“Nie vir terapie nie, Karel Kat. Kom by! Ek het ’n undercover-­afspraak gemaak om hom deur te kyk as potensiële date-materiaal vir haar.”

“Ek glo dit nie! En ék betaal daarvoor?”

“Sien dit as jou tiende vir die kerk. Selma moet weer verlief raak, Karel.” Sy draai voor ’n sportmotor in. Daar is ’n getoet agter haar. “Dit voel soos ’n persoonlike missie. Kan jy dink hoe goed dit haar sal doen?”

“Mmm. Daar is net so baie con men daar buite.” Louise kan hoor hoe hy dink. “Wat van Bernardus? Het jy al aan hom gedink? Dis nou ’n bleddie nice ou in my opinie. Agtermekaar, straightforward sakeman.”

“Ek hét aan hom gedink, maar hy is dalk net te nice en stable vir haar. Selma hou meer van ’n uitdaging. ’n Bietjie van ’n big dipper ride.”

“Ai, wat is dit tog met julle vroumense?”

“Nie ek nie. Ek het ’n baie goeie keuse gemaak met jou.” Sy chuckle in sy oor.

“Lekker vlei jy my nou. Ek weet dis net oor ek vir Selma se recce betaal het. Nou maar sorry ons date het nie uitgewerk nie, my ding. Ek gaan dan maar eers terug kantoor toe.”

“En ek moet vir Lilly gaan optel. Die skool kom byna uit.”

“Wat eet ons vanaand?”

“Weet nie. Ek sal iets uitdink.”

“Seker Nando’s wat ek moet gaan oplaai.”

“Klink na ’n goeie idee – siende dat jy my ’n stuk wortelkoek skuld.”

“En jy skuld my nog meer vir daai recce,” sê hy suggestief. “Jy sal vanaand moet uithaal en wys, ou vrou.”

Sy het ’n goeie man gekry, dink Louise toe sy by Langenhovenstraat indraai. Sy parkeer voor Hoërskool Durbanville. ’n Goeie man en twee goeie kinders en ’n lieflike huis met baie voorregte. Hoekom kry sy dan nog steeds elke nou en dan ants in haar pants?

Sy kyk hoe haar vyftienjarige dogter, Lilly, stadig oor die pad aan­geslen­ter kom. Haar hare – ’n ligter rooi as haar ma s’n, meer haar pa se gemmerkleur – is in ’n bokstert teruggebind. Sy kyk hoe Lilly haar skouers terugtrek toe sy verby ’n groepie seuns loop. Haar bor­sies beur soos jong turksvytjies teen haar skoolhemp. Jare gelede het sy en Selma ook so met uitgestote borsies geloop om die seuns te impress. Min het hulle geweet wat als voorlê op hulle pad.

“Wat eet ons, Ma?” vra Lilly en gooi haar rugsak vies agter in die motor.

“Middag, Lilly,” sê Louise en gee haar ’n betekenisvolle kyk.

“Sorry. Middag, Ma.” Sy gee haar ma ’n vlugtige drukkie. “Ek is net so vrek honger. En dis warm.”

“Ek was bietjie besig vanoggend – moes iets doen vir tannie Selma; nie by kos uitgekom nie. Ek gaan sommer vir ons twee ’n takeaway kry op pad huis toe.”

“Jippieee!” sê Lilly, haar gemmerbier oë skielik vol sprankel. “Kan ons ’n pizza optel? Kaas, ham en tamatie?”

“Why not?”

“Dankie, Mamma!” Sy gee haar ma ’n stywe druk. “Skuus dat ek so lelik was. Ek’t weer so gesukkel met die wiskundetoets. Dit maak net nie sense vir my nie. Is ek dom of wat?”

“Nope. Jy aard maar net na my. Moenie stres nie. Ons talente lê in ander areas. Tannie Selma moes my altyd help met die somme . . .”

21 JANUARIE 2016: JOHANNESBURG

Selma klik op die Zanzibar-galery. Sy moet nog ’n paar foto’s van die plaaslike kos selekteer om saam met haar artikel deur te stuur. Dis moeilik om te kies tussen die lieflike goudbruin barrakuda, die gekerriede krap in kokosmelk met rissie en basilie, die gebraaide spesery-­seekat met vars mango, en die vars kabeljou met suur­lemoen­botter, growwe peper en danjablare. Sy wonder watter gereg die meeste fynproewers sal aanspoor om die eiland oorkant Tanzanië te besoek.

Sy wip soos sy skrik toe haar selfoon lui. Dis Louise.

“Ek het hom toe gaan sien,” sê sy sonder om hallo te sê. Selma kan hoor sy eet iets.

“Wie’t jy gaan sien?” Sy wonder wat Louise kou. Klink soos iets wat kraak. Dalk ’n wortel of ’n komkommer. Louise dieet graag. Nie dat ’n mens ooit die resultaat daarvan sien nie.

“Jou sielkundige.”

Selma dubbelklik op die muis. “Mý sielkundige?” ’n Foto van haar saam met Louise en Louise se broer, Pieter, en hulle neef Herklaas verskyn onverwags op haar rekenaar. Sy ril en maak die lêer haastig toe.

“Die ou in Mugg & Bean, dammit! Ek het mos vandag die afspraak met hom gehad.”

“O . . . Skuus . . . Ek moet sê, ek het al van hom vergeet.”

“Hy is toe heel nice in real life. Bietjie werk nodig, maar daar’s baie potensiaal, sê ek jou.”

“Stel nie belang nie,” sê Selma. Sy dubbelklik op die galery van foto’s wat op Prison Island geneem is. Daar is ’n foto waar sy saam met twee bergskilpaaie poseer. Dalk kan sy dit ook ingooi by die artikel, met ’n pittige onderskrif.

“Theo is baie enigmaties.”

“Theo?”

“Doktor Theodor Swanepoel. Hy’t gesê ek moet hom sommer Theo noem.”

“Julle is omtrent hand op die blaas ná net een afspraak.”

“Hy is nie sommer ’n gewone shrink nie. Hy is ’n doktor in siel­kunde. Spesialiseer in opvoedkunde. Baie gewild in die Kaap – veral onder die girls.”

“Stel nie belang nie,” sê Selma. Sy sit die muis neer en probeer die vlugtige ontmoeting herroep. “Ek het wel op die terugvlug ’n ander baie interessante man ontmoet.”

“Wie? Jy’t my niks hiervan gesê nie.” Louise knars verwytend in haar ore.

“Jy’t my nie kans gegee nie. Mohamed Singh. Toergids. Groot, siel­­volle Hush Puppies-oë. Ek het sy nommer op my foon gebêre, vir toekomstige verwysing . . .”

“Die naam klink soos ’n Indiër – bly weg, Selma!”

“Die man is ’n gerekende gids, Louise, ek het hom gegoogle. Die comments is fenomenaal. Hy neem mense van regoor die wêreld om die ware hart van Indië te leer ken. Sê dit verander jou hele lewens­uitkyk. Genees mense . . . Dalk moet ek en jy dit oorweeg om ’n reis saam met hom aan te pak?”

“Nee, nee, nee! Ek gaan eerder Noordpool toe. Kyk jy nie die nuus nie, Selma? Bly weg! Daai facebook van Mister Tour Guide kan ’n fake profile wees met fake comments van ’n klomp fake mense wat hy bribe.”

“Hoe kan jy so veralgemeen?”

“Maybe. But rather safe than sorry. Kry Indië net uit jou kop en sê my eerder wanneer kom jy weer Kaap toe?”

“Ek was dan nou net in die Kaap,” sê Selma.

“Ek wil jou en Theo saam oornooi vir ete. Dit voel vir my na ’n opdrag van die Here . . .”

“Hoeveel keer was ons al hier, Louise? Jy kry kort-kort kastig ’n opdrag van die Here om mense aan mekaar voor te stel. En dis elke keer ’n ramp.”

“Hy is ’n skrywer en ’n motiveringspreker ook.”

“Wie?”

“Theodor! Magtag, jy luister ook nooit wanneer ek iets belang­riks met jou probeer deel nie!”

“Wel, jy ook nie. Jy piepie op my Indië-fantasie.”

“Sorry, maar your hinterland lies here right under your nose – not in India.” Selma hoor hoe sy ’n vars hap vat.

“Ek haat dit as jy so bevooroordeeld is. Dit is so uit die mode in die nuwe Suid-Afrika. En wat is dit wat jy so in my ore kou?”

“Sorry, dis ’n wortel. Sy spreekkamer is nie ver van my af nie. As jy weer Kaap toe kom, moet ons by hom inpop.”

“Luister, Louise, ek is op deadline met die Zanzibar-storie – ek is besig om foto’s uit te kies. Dis nie nou ’n goeie tyd nie.”

“Hy’t my uitgevra oor jou . . .”

Selma klik op die muis en maak die fotogalery toe. “O, onthou hy my sowaar?” Sy is teen haar sin beïndruk.

“Jip. Vreeslik uitgevra oor jou en wat jy als doen,” lieg Louise. Sy het al geleer as jy mense by mekaar wil uitbring, moet jy partymaal ’n paar wit leuentjies inwerk om albei se ego’s tot gewilligheid te streel.

“En wat sê jy toe?”

“Die pap dik aangemaak. Lekker gebrag oor jou. Gesê jy toer die wêreld vol en skryf reisboeke en motiveer mense om weer op te staan ná teleurstellings. Hy was baie impressed.”

“Regtig?” Sy vergroot die een foto en staar met heimwee na die historiese geboue van Stone Town. Sy ruik weer die soet, eksotiese Oos-Afrika-, Arabiese en Indonesiese geure wat haar om elke hoekie ingewag het. Die stad het ’n sensuele indruk op haar hart agter­­gelaat, soos ’n minnaar.

“So, moet ek sy selnommer vir jou probeer uitsnuffel by sy sekkie? Dan kan julle solank met mekaar begin whatsapp, terwyl ek die troue en die strooimeisies reël.” Louise lag ingenome in haar oor. “Dink net: ek stel jou dalk aan jou toekomstige man voor.”

Selma voel hoe sy haar bloediglik vererg. Louise verbeel haar sy is steeds die fairy queen met die vlerke en die towerstaf hoog bo in die vyeboom. Is sy naïef of net plein dikvellig? Sy wens sy wil haar neus uit ander se sake hou en ophou om alewig Kupido te speel.

“Hoeveel keer moet ek jou nog sê ek wil nóóit weer trou nie?! Ek is amper vyftig, finansieel onafhanklik en suksesvol. Waarom sal ek weer wil trou?”

“Moenie jou gat so wip nie, Selma. Ek trek net jou been. Wat is die big deal om net met die man te chat op whatsapp of facebook? Dis hoe mense deesdae ontmoet: op kuber. En daarna wanneer jy afkom Kaap toe, is die ys al gebreek.”

“Néé, Louise. Dis vir my common om met ’n vreemde man te begin whatsapp. As ek ’n boyfriend soek, is hier genoeg belangstelling in die Noorde. Ek word gereeld uitgenooi.”

“Jy kan so ’n yskaskoek wees,” kou Louise in haar ore.

“En jy so ’n orige tert. Dat jy jou wragtig voordoen as ’n pasiënt!”

“Net oor ek vir jou omgee. Ek weet dis vir jou swaar ná Zander . . . maar dis tyd dat jy aanbeweeg. Jouself weer oopstel vir liefde.”

“Ek HOU daarvan op my eie!” gil Selma, skielik buite beheer. Die twee beagles vlieg op en kyk haar met vraende skuins koppe aan.

“Could have fooled me. Hoe gaan dit regtig met jou, Selma?”

Selma klik op ’n nuwe foto in die galery. Die see is glad soos ’n Olimpiese ysskaatsbaan. Sy duik in die lou turkoois water naby Millionaire’s Island net duskant Stone Town.

Duik het een van haar maniere geword om te cope. Sy’t geleer om ritmies te sweef saam met haar asemhaling wat gekoppel is aan die suurstoftenk, haar gedagtes gefokus op die fantasiewêreld van die betowerende blomtuine en vislewe van die oseaan. Vir daardie ruk onder water is sy vry – totaal verlos van haar verlede. Sodra sy weer terug op land is, is die pyn in haar bors terug. Soos nou. ’n Pyn van diep verlange na die skat wat sy nie eens op die bodem van die oseaan kon terugvind nie.

“Ek cope,” sê Selma en verskuif haar aandag na ’n foto van ’n pylstert.

“Ek worry oor jou.”

“Ek is okay.”

“Laat weet my wanneer jy weer Kaap toe kom, okay?”

“Okay . . .”

Sy sit nog ’n rukkie na die foto’s en staar en maak dan weer haar kinderfoto’s oop. Daar is soveel mooi momente om te onthou. By Louise het sy baie jare gelede geleer om na ’n fantasiewêreld te ontvlug wanneer die realiteit te donker word.

Daar waar jy droom jy is, daar is jy.

MAART 1976: MOORREESBURG

“Selma!” skree Louise en waai met haar hand deur die vyeboom se blare. Dis byna vyfuur en die son raak reeds aan die koppies.

“My ma gaan my velle aftrek,” sê Selma met ’n bewende lip. Haar voete is vol blase van die tien kilometer se stap plaas toe.

Louise druk ’n koue Mirinda Orange in haar hand. “Sorry, Pieter het weer al die Cream Soda uitgesuip.” Sy help Selma om haar kos­tuum aan te trek en haar vlerke reguit te stryk.

“Onthou, daar waar jy droom jy is, daar is jy. As jy heeltyd droom jou ma trek jou velle af, gaan ons niks fun hê nie. Kom, ek wil jou ’n nuwe geheime plek gaan wys!”

Louise hardloop voor haar uit na die groot, hoë silo waarin die graan geberg word. Sy klim kaalvoet teen die dun sporte van die staal­leertjie op. Selma kyk hoe sy kleiner en kleiner word. “Kom!” roep Louise van bo af. Haar stem klink ver, asof sy van ’n ster af roep.

“Ek is bang vir hoogtes!” skree Selma met ’n flou stemmetjie.

“Kom! Moet net nie afkyk nie – kyk net na een sportjie op ’n slag. Dis die trick!”

Selma klim stadig, treetjie vir treetjie, teen die leertjie op. Haar hande sweet teen die koue staal. Ver onder haar hoor sy die skaap­honde blaf en tjank. Sy wil oor haar skouer loer, maar hou haar oë vasgenael op die sportjie voor haar. Uiteindelik is sy bo. Sy sak in die lafenis van die droë graan neer.

“Kom ons swem resies!” skree Louise. Sy beweeg haar arms en seil vorentoe deur die koring. Die graan girts onder haar feetjierok. Selma gaan lê op haar maag en probeer ook swem. Die korrels voel koel teen haar vel.

“Kyk wat het ek vir ons.” Louise bring ’n bruin kardoessak te voor­­skyn. Sy gee vir Selma ’n plastieksakkie met pienk spookasem en haal vir haarself ’n blou een uit. Louise skeur die sakkie met haar voor­tande oop en sit ’n stukkie spookasem op haar tong.

“Kyk, nog voor ek dit kou, is dit weg. My ouma wat dood is, wie se plaas dié eers was, het gesê die lewe is soos spookasem. Nog voor jy behoorlik proe, is dit op.” Sy steek haar blou tong vir Selma uit. “Wys my jou tong.”

Selma steek haar pienk tong uit.

“Dis al wat die lewe is, het my ouma gesê. Ons is almal maar net spookasem op die Here se tong. As jy weer kyk, is jy op.”

“So vinnig?” vra Selma. Die gedagte dat sy spookasem op iemand se tong is, laat haar triestig voel.

“Ja, so vinnig. Dis hoekom ons al die lekker dinge moet doen. Voor die tyd op is. Kom ons gaan voer die varke van die spookasem.” Sy kreukel haar neus. “Ek wonder wat hulle gaan doen as die suiker so vinnig in hulle bekke verdwyn.” Sy gryp die kardoessakkie en klou­ter vinnig teen die staalleertjie af. “Kom, Selma!” skree sy.

Selma loer oor die rand van die silo. Die honde is klein miniatuur-­speelgoedhondjies onder op die grond. Sy voel haar mond droog word en ’n naarheid stoot op in haar keel. Haar knieë voel soos jellie wat nog nie lank genoeg in die yskas gestol het nie.

Die son sak al vinniger. In die namiddaglig lyk die pad ondertoe vreesaanjaend ver, baie verder as van die hoogste piek van Tafelberg af.

“Selma, jy moet afklim, voor dit donker raak!” skree Louise.

Sy kyk weer oor die silo se rand. “Nee!” Haar kop draai. “Ek kom nooit weer af nie, Louise. Ek gaan hier bly tot ek net ’n spookasemvlekkie op die Here se tong is!”

“Johanna!” skree Louise. Sy hardloop saam met die honde na die plaashuis toe. “Johannaa! Johannaaaa! Iemand, kom help my om Selma van die silo af te kry, voor die son sak!” Louise se stem is ’n skril netbalfluitjie.

Selma gaan lê op haar rug en begrawe haar lyf in die koel graan. In die verte hoor sy ’n motor se enjin op die plaaspad dreun. Dit klink soos haar ma se blou Opel Kadett. ’n Traan rol oor haar wang en maak ’n nat kolletjie op die kantkragie van die feetjierok. Eendag, oor baie jare, sal haar ouers haar hier kry. Hulle sal haar afdra en in haar pienk feetjierok begrawe, met ’n pienk spookasemtong.

“Kom, Selma!” gil Louise, uitasem van die hardloop. “My pa is hier om jou te help.”

Selma kom orent en loer met skrefiesoë oor die rand van die afgrond. ’n Miniatuur-Tiny Vermaak wuif vir haar. “Kom af, ounooi,” nooi hy met sy basstem.

“Nee!” skree Selma. “Ek gaan hier bly tot ek ’n geraamte is.” Sy gaan grawe haarself weer onder die graan in.

“Jou ma en ouma het aangekom!” skree Louise. “Kom af, Selma!”

Twee kardeure slaan hard toe. “Wat maak my dogter op julle plaas?” hoor sy haar ma se vibratostem. “En wat soek sy daar bo in die hoë silo?!”

“Selmaa!” sing haar ma vir die silo. “Kom af, my kind. Ons was bitter, bitter bekommerd oor jou.”

“Selmaaaa!” sing haar ouma ’n oktaaf hoër. “Klim af, meidjie, dan vat ons jou huis toe.” Haar ouma se vals tande klink of hulle uit haar mond wil val.

“Nee! Ek bly net hier tot ek doodgaan.” Sy loer oor die rand na die groepie wat onder vergader het. Johanna en van die ander werkers staan op ’n afstand en toekyk.

Selma kyk na die groepie mensies ver onder haar. Dit lyk of hulle met mekaar praat, maar sy kan nie hoor wat hulle sê nie. Dan sien sy hoe Louise vir haar waai. Sy waai terug.

“Kan ek jou kom afdra, ounooi?” roep Tiny. “Voor dit te donker word.”

“Ek dink ek sal eerder self probeer afklim, as oom net tot bo kan kom en agter my sal staan.”

“Natuurlik, ounooi.” Hy klim vinnig teen die leertjie op.

“Een tree op ’n slag, Selmatjie. Net een tree op ’n slag,” sê hy toe hy by haar kom. “Moenie afkyk nie. Jy sal nie val nie. Ek is reg agter jou om jou te keer as jou voet gly.”

“Dankie, oom,” sê Selma. Sy begin die lang aftog met Tiny Vermaak as beskermengel agter haar rug.

“Baie, baie dankie, Tiny,” sê haar ma toe sy weer veilig terug is op moederaarde. “Jy was ’n regte held.”

“Net ’n plesier, Lucille.”

“Dankie, Tiny,” sê haar ouma en druk sy hand.

“Plesier, mevrou.”

“Noem my asseblief tannie Ralie.”

“Dit was ’n voorreg, tannie Ralie.” Hy flits weer die perdegebit. “As julle my sal verskoon, ek wil gou by Elsa gaan inloer. Kom, pop.” Hy sit sy arm om Louise en stap terug plaashuis toe.

“’n Mens kan jou so misgis met mense,” sê haar ma die aand terwyl sy die tafel dek. “Werklik ’n gawe man, dié Tiny Vermaak. En die arme, arme siek vrou van hom met die kanker. G’n wonder Louise is opstandig nie. Ons moet haar eerder met Christelike liefde onder­steun as om haar te verwerp.”

“Ek dink ek gaan vir haar ’n skootkombersie hekel,” sê haar ouma en soek na ’n nuwe bol wol in haar mandjie. “En dalk ’n paar houer­tjies kwepers inlê. Ek is seker sy het nie krag om self so iets te doen nie.”

“Hoor by Louise of hulle genoeg geld het om al die mediese onkostes te dek, sonder om haar natuurlik direk te vra,” sê haar pa terwyl hy sy bril skoonmaak.

“Okay, ek sal uitvind,” sê Selma.

“Is hier tandestokkies, vrou?”

Haar ma skuif die houertjie met tandestokkies nader. Haar pa neem een. “Ek het vandag ses-en-dertig tande gestop en veertien verstandtande uitgetrek. ’n Mens moet werklik jou tande goed oppas,” sê hy en sit weer sy bril op.

APRIL 1976: MOORREESBURG

“So hoe gaan dit met jou ma?” vra Selma terwyl hulle oudergewoonte hulle skoolkos onder die peperboom eet.

“Maar soos altyd,” sê Louise. “Op Valiums.”

“Help dit vir die pyn?”

“Watter pyn?”

“Is die kanker nie seer nie?”

Louise loer rond. “Kan jy ’n geheim hou?”

Selma knik.

“Belowe jy om niemand te vertel nie? Nie een enkele mens nie?” Sy gooi haar rooi vlegsels terug oor haar skouers en kyk stip na Selma.

“Kyk in my oë.”

Selma kyk diep in Louise se groen oë.

“My pa het gelieg. My ma het nie kanker nie,” fluister sy. Sy krap met ’n stokkie in die sand voor haar.

“Hoekom lieg hy daaroor?” vra Selma geskok.

“Ek weet nie heeltemal nie. Hy het al ’n paar keer daaroor gelieg. Ook toe ons nog op Piketberg en Wellington gebly het. Ek hoop nie ons trek weer nie. Dis lekker op my ouma se plaas.”

“Ek hoop ook nie so nie,” sê Selma. Sy tel ook ’n stokkie op en trek ’n paar strepe in die sand. “Kom ons speel noughts and crosses.”

Louise trek ’n kruisie in die een blokkie. “Wil jy nog ’n geheim weet?”

Selma teken ’n nul in die blokkie langsaan en knik.

“My pa het ’n wit fluffy hond doodgery op Piketberg. Hy het nie gestop nie, net weggery. Ek het omgekyk. Die hond het in ’n plas bloed gelê en tjank. Ek het my pa gesoebat om die hond na die honde­­dokter toe te neem, maar hy het net vinniger gery. By die kafee het hy vir my chocolates gekoop en gesê ek moet my bek hou, anders sal hy my ook doodry. Ek was vyf.” Louise teken ’n kruisie. “Okay, jou beurt.”

“Sjoe,” sê Selma en trek ’n nul in die sand. “Dis ’n vreeslike geheim.”

“Hy is ’n psigopaat, sê my ma. Hy kan dit nie help nie. Psigopate het nie ’n gewete nie.”

Selma staar verskrik na Louise.

“My pa is eintlik baie nice en charming. Jy moet hom net nie cross nie, dan is als fine.” Louise trek nog ’n kruisie en trek dan ’n streep deur haar drie kruisies. “Ek het gewen.”

Selma knik en sit haar stokkie neer. Sy weet nie of sy nog steeds so lus is om op die plaas te gaan speel nie. Netnou wil oom Tiny haar ook op ’n dag doodry.

“Sal jy steeds kom kuier noudat jy weet?” vra Louise. Sy haal drie toffies uit haar kosblik: aarbei-, sjokolade- en liquorice-geur, en gee dit vir Selma.

Selma kry geen woorde uit nie. Die grondboontjiebottertoebrood­jie wurg haar asof dit oom Tiny se hand is.

“Niemand mag meer by my kom speel nie,” sê Louise feitelik. Sy gooi die res van haar vetkoek in die drom.

“Ek sal nog kom speel,” fluister Selma net-net hoorbaar.

“Regtig?” vra Louise.

“Regtig,” sê Selma.

“Friends forever?” Louise se oë helder op soos twee smaragde.

“Friends forever,” sê Selma.

“Kom ons sweer dit in bloed,” sê Louise en tel haar stokkie op. Sy krap met die stokkie teen haar pols tot daar bloed op haar vel deur­syfer. Sy gee die stokkie vir Selma aan. “Nou jy.”

Selma maak haar oë toe en grawe met die stokkie in haar vel rond.

“Okay, dis genoeg – daar is bloed,” sê Louise. Sy druk haar pols teen Selma s’n. “Friends forever, no matter what. Bloedsusters deur dik en dun.”

Selma knik. “Friends forever, no matter what. Bloedsusters deur dik en dun.”

Selma en Louise

Подняться наверх