Читать книгу Selma en Louise - Susan Coetzer - Страница 8

Hoofstuk 2

Оглавление

Man’s creative struggle, his search for wisdom

and truth, is a love story.

– Iris Murdoch

’N JAAR GELEDE: 12 JANUARIE 2016

Selma bekyk haar gesig in die badkamerspieël. Hoe het sy hier beland – op die rand van die lewe waar sy desperaat met haar French tips aan ’n klein sprietjie lewe vasklou om nie oor die afgrond te stort nie?

Haar vel bly die kleur van pannekoekdeeg ná Zander se verlies. Hoe lank is dit nou al? ’n Volle vyf jaar? Als is nog so vars in haar geheue – ’n olieverfskildery waarvan die verf nog nat is.

Dis al weer die begin van ’n splinternuwe jaar en sy voel steeds gedisoriënteerd soos ’n kar wat sonder brandstof op ’n verlate pad gaan staan het.

Is dit omdat sy oor haar skouer bly kyk dat sy soos Lot se vrou versteen het? Sy wens sy kon Shell toe ry en die joggie vra om haar tenk vol te maak met 93 unleaded, en sommer haar water, bande en olie ook na te gaan, sodat haar lewe weer op koers kan kom.

Sy was die afgelope vyf jaar by verskeie dokters en talle terapeute. Die chaotiese tuimeldroërgevoel binne haar is egter nie weg nie. Daar is steeds dag en nag duisende nuwe vlermuise wat haar gedagtes binnedring en haar denke vaskoek. Sy sukkel om saans tot rus te kom. En om soggens op te staan. Sy bly moeg, asof sy baie ver gehardloop het sonder om te stop vir ’n lemoenkwart of ’n slukkie water.

Is sy oorwerk? Uitgebrand? Of steeds depressief? Moet sy net meer spinasie versap en meer magnesium inneem om die huppel weer terug te sit in haar stap?

Of ly sy (steeds) vyf jaar later aan posttraumatiese stressindroom? Hoe lank kan een vrou se lewe in die lug hang oor iets wat so lank terug gebeur het? Hoe lank duur die impak van ’n onverwagse kis­hou in jou wind? Is dit soos die Hiroshima-bom – die omvang van die skade begin eintlik eers later inskop en hou dekades daarna steeds aan om jou te misvorm?

Sy moet eenvoudig, soos haar vriende aanbeveel, ’n wilsbesluit neem om te herstel. Sy moet weer terugklim in die saal. Dit wat verby is, agter haar plaas en haar balans herwin. Sy was nog nooit ’n smart­vraat nie, sy was van kleins af ’n superballetjie wat onmiddellik terug­bons ná ’n nederlaag. Maar ná Zander se verlies voel sy on­her­roep­lik beskadig – ’n opblaasbal met ’n reuse-skeur in.

Sy kyk weer na die beige pannekoekdeeg in die spieël. Vir die res van die samelewing gaan die lewe aan teen sy gewone pas. Sy sal moet opstaan uit die as, of sy gaan vir altyd agterbly.

Haar eerste instink toe sy wakker word, was om alle afsprake te kanselleer en terug te klim in die bed saam met Boelie en Bella. Sy sal haarself egter uitsleep en wel opdaag vir die blind date wat Lana met soveel moeite vir haar gereël het, besluit sy.

Selma verf sagte roosblos op haar wangbene en wend dan ’n effens dieper wynpienk lipstiffie aan – die tipe wat tien uur lank aanbly volgens die lugwaardin-model op die TV-advertensie. Nie dat sy die onbekende Ronald met wie sy ’n koffie-afspraak het, wil beïndruk nie. Sy het bloot ingestem omdat Lana haar dag en nag verpes.

Sy kyk weer in die spieël. Haar oë kort gelukkig nie veel nie – die vals wimpers waarvoor Lana die vorige week ten duurste betaal het, skep die indruk van glans. Selfs die illusie van lewenslus.

Sy swiep haar kastaiingbruin hare met moeë arms op. Die haar­styl herinner haar aan ’n skewe doughnut in ’n bakkery. Sy probeer dit platter druk en beter posisioneer.

Die enkele strepie om elke oog is meer as genoeg grimering vir ’n man wat sy nog nie ontmoet het nie, besluit sy. Dit aksentueer die amandelvorm van haar grys oë. Hy verdien nie meer as ’n strepie nie. Dis nie asof sy beplan om in sy oë te staar nie. Sy het beter dinge om te doen, al weet sy nie presies wát nie.

Selma staan terug en bestudeer haar ontwerpersjeans en wit linne­bloes. Sy’t op ’n subtiele uitrusting besluit – een wat nie pleit om aandag nie, maar wat haar ook nie onmiddellik as ’n non klassifiseer nie. Sy wonder of dit haar ma se goedkeuring sou weggedra het as sy nog geleef het. Seker nie.

Haar ma het haar opvoeding op ’n verskeidenheid etiketboeke vir dames en die Bybel geskoei. Sy is van kleins af afgerig om ordent­lik te wees: om met skuins, toe beentjies te sit, haar eetgerei van buite na binne te gebruik, klein, vroulike happies te neem, toemond te kou en so min moontlik vrae te vra of uitbundig in geselskap te lag.

Selma se ma is al geruime tyd oorlede, maar haar stem leef voort in haar kop. “’n Man hou van ’n goed versorgde, kuis vrou wat kan huishou. Sorg dat jy altyd mooi netjies lyk, Selma-Suzette. Wees bedees en onderdanig. Dis die pad na ’n man se hart.”

“Die resep het nie gewerk nie, Ma,” sê Selma vir die spieël. “Ek het dit op Zander probeer, maar dit het geflop.”

Louise, haar beste vriendin sedert hulle laerskooljare op Moorrees­burg, het haar arm in ’n ander rigting probeer druk. Tydens oor­slaapkuiers op Louise-hulle se plaas het sy dit haar missie gemaak om Selma te leer stroomop swem. Om kaalvoet te loop, wydsbeen te sit, oopmond te kou, te fantaseer, verbode woorde te gebruik en uitheemse klere te dra.

“Jy moet leer om jý te wees, nie ’n mini-weergawe van jou ma of Betsie Verwoerd nie. Kom ek leer jou nog ’n paar nuwe vloekwoorde. Al gebruik jy dit nie, is dit goed om ’n paar te ken. Dis soos ’n geheime woordeboek agter jou rug.”

Selma wonder of haar less-is-more-uitrusting Louise se stempel van goedkeuring sou kry. Seker ook nie. Sy verlang na haar boheemse vriendin wat altyd haar gemoed kan lig. Sy wens Louise het nog steeds in die Noorde gewoon. Sy sien haar darem nog gereeld wanneer sy vir werk afvlieg Kaap toe.

Haar gelaat lyk beter vandat sy dit ’n bietjie ingekleur het, besluit Selma ’n tikkie meer opgewek. Sy wonder wat sy nodig het om weer passie vir die lewe te ontwikkel. Dalk moet sy tog meer gereeld begin uitgaan, of aansluit by ’n boekklub of iets wat haar meer in aan­ra­king bring met nuwe mense.

* * *

Buzz 9 in Melville wemel soos gewoonlik van ’n bonte mengelmoes mense van verskillende kulture en tale. Selma se oë beweeg oor die oes van mans in die gewilde koffiekroeg. Sy het geen idee hoe haar date lyk nie, behalwe dat hy ’n kunstenaar is. Lana wou niks verklap nie, en Selma ken al die geslote uitdrukking in die gebotoxde oë – dit was ’n doodloopstraat.

“Ek wil hê hy moet ’n surprise wees,” was haar laaste woorde oor ’n lang G&T. “Gaan met ’n oop gemoed en ’n oop rokkie en geniet die man soos ’n lucky dip.”

Sy het teen ’n kaal rokkie besluit. Vir wat moet sy haarself soos ’n takeaway op ’n skinkbord aanbied? Seks is die afgelope vyf jaar die laaste ding op haar inkopielys.

Eintlik behoort sy saam met priesters en monnike met lang wit baarde en rokke in ’n tempel tee te drink, eerder as om in koffie­kroeë met oor-die-wal- geskeide mans uit te hang.

Sy loer weer in Buzz 9 rond op soek na haar date. Haar mond val ’n paar sentimeter oop van skok. ’n Man wat haar aan ’n rugbybal herinner, wink haar nader. Hy is nie veel langer as ’n graad 1-seun nie. Hy wapper sy handjies soos atletiekvlaggies om haar aandag te trek.

Sy stap stadig nader. ’n Wit woede oorval haar nog voor sy die man amptelik ontmoet. Hoekom het die bleddie Lana nie gesê sy wil haar afsmeer aan ’n halfjackbottel met twee skape in sy pens nie?

“Hallo, jy moet Selma wees,” sê die koddige man vol bravade. “Lana het gesê jy is lank en slank.”

“Wel, sy het nie gesê jy is so . . .”

“. . . so ’n shorty nie?” Hy gooi sy kop agtertoe en lag hartlik vir sy eie grap.

“Nee, sy het nie. Ek sou nie my hoë wighakke aangetrek het as ek geweet het jy’s korter as ek nie.” Eintlik sou sy glad nie opgedaag het nie, dink sy. “So, jy is dan seker Ronald?” vra sy suur.

“Ja, maar darem nie Ronald Reagan nie.”

Selma troon soos ’n wolkekrabber bo hom uit. Sy ruik die goedkoop naskeermiddel en wonder skielik of dit nodig is om tyd te mors op ’n koffie saam met die man.

“Relax. Hoogte intimideer my glad nie. Ek het ’n baie goeie selfbeeld.”

“Ek sien so,” sê Selma.

“Kom sit nou, Selmatjie,” sê hy en trek galant die stoel vir haar uit. Sy gaan sit stram asof haar lyf in gips is.

“Ek glo all good things come in small packages. Dink maar aan Sophia Loren met die kort Ponti aan haar sy.”

Selma bestudeer hom onderlangs. Sy neus regeer as meerderheids­party. Die res van sy gelaatstrekke is terloopse garnering wat nie die aandag wil aftrek van die hoofgereg nie.

“Nou nie dat ek sê ALS aan my is klein nie.” Hy lag en knipoog vir haar asof hulle ’n intieme geheim deel. “My neus is baie groot, en my maag en my . . .”

Sy ignoreer sy suggestiewe grappie en tel die spyskaart op. “Ek gaan ’n espresso neem. En jy?”

“Selfde vir my. Kort en sterk nes ek – maar ek is darem nie swart nie.” Hy lag weer vir sy eie grap. “Ek gaan gou ’n kelner kry,” sê hy en staan op. Selma se oog vang sy blinkleerskoene toe hy terugstap. Die neuse is lang, skerp Oosterse dolke.

“Ek sien jy like my skoene?” sê hy in sy noppies. “Ek like hulle ook kwaai.”

“Wel, dis beslis veeldoelig,” sê sy diskreet. “Die punte kan baie goeie selfverdedigingswapens wees in ’n gevaarlike stad soos Johannesburg.”

“Dis die eerste ding waarna ek kyk wanneer ek ’n vrou ontmoet: haar skoene. Dadelik jou wedgies gesien.”

“O, jy het?” Selma loer na haar Nine West-skoene onder die tafel. Haar voete is netjies teenmekaar geparkeer soos haar ma haar geleer het.

“Ja . . . Kyk, ek is eintlik meer ’n fan van fyn, hoë hakkies.” Ronald skandeer die koffiekroeg met sy oë. “Soos daai jong dingetjie met die ferm, gespierde kuitjies. Kyk hoe mooi loop sy op haar dun hakkies. Dit maak my sommer klaar warm agter my kraag, net van kyk.”

“Sy het mooi beentjies,” sê Selma gul.

“Jy kan sekerlik nie meer op jou ouderdom daardie tipe hakke dra nie. Veels te riskant vir ’n ouer vrou. As julle val en iets breek, groei dit mos nie sommer weer aan nie.” Hy gooi weer sy kop agteroor en verloor byna sy balans gedurende die lagbui.

Selma voel hoe sy ’n diep, donker gly in Ronald vang. Sy kan nie glo hy is so onsensitief om haar as ’n ouer vrou te klassifiseer wat net kwalifiseer vir wighakke, en seker Crocs en Green Cross-gesond­heidskoene nie.

Jou kort vetgat, dink sy by haarself en plak ’n glimlag op haar mond.

“So, Lana sê jy is ’n skrywer,” sê hy. “Wat skryf jy als?”

“Ek skryf meestal reisverhale,” sê sy uit die hoogte.

“O, soos oor trips wildtuin toe?”

“Nee, soos oor eksotiese reise na plekke oorsee. Was jy al ooit landuit, Ronald?” vra sy ysig.

“Net in Namibië en Botswana. Ek was ’n recce in my army-dae.”

“So geraai,” sê sy net-net hoorbaar.

“Ek skryf ook,” sê hy en trek sy selfoon nader. “Dis als hier op my foon. Meestal gedigte. Ek wil dit vir ’n uitgewer stuur dat hulle dit publiseer. Lees bietjie hier.” Ronald druk die foon onder haar neus. “Seker jy gaan dié een baie waardeer. Ek het dit nou die aand op my facebook gepost en die girls is mal daaroor. Soveel likes gekry.”

“Lees jy dit maar voor. Ek sien jy het reeds jou bril op – ek is nie nou lus om myne in my handsak te soek nie.”

Ronald laat hom nie twee keer nooi nie. Hy begin sy gedig passie­vol voorlees. Selma neem nie veel in nie. Haar aandag is by die bruin bobbejaanspinnekop-oë aan weerskante van die massiewe neus. Oë wat te na aan mekaar sit, was nog nooit vir haar ’n goeie teken nie.

“Diep, nè,” sê hy toe hy klaar is. “Ek is ’n diep mens, Selma.”

“Self,” sê sy.

“Weet jy hoeveel keer het ek al seergekry in die liefde?”

“Self.”

“Ek wil regtig nooit weer ’n vaste verhouding hê nie, net vriend­skap.” Ronald kry ’n trek van pyn om sy mondhoeke asof hy pas deur ’n koeël getref is.

“Self.”

Ronald se gesig helder op. Hy sink sy vingers in die sagte vleis van haar boarm. “Regtig? Just friends – with maybe a few benefits?” Hy knipoog.

“Ongelukkig met min byvoordele, Ronald. Ek soek glad nie ’n sek­suele verhouding nie. Ek is al vyf jaar selibaat en baie gelukkig sonder ’n man in my bed.”

“Jy speel seker,” sê Ronald onkant betrap.

“Met my hand op my hart.”

“Hoe refreshing is jy nie, Selmatjie. Al die single vroue wat Lana aan my voorstel, is . . . hoe sal ek dit stel?”

“Agter jou lyf aan?”

“Jip. Ek het my hande vol met vroumense. Hulle maak of hulle vriendskap soek, maar eintlik soek hulle baie meer. Hulle raak verlief op my en stalk my op facebook. Seker maar oor my digkuns en naakte beeldhouwerk tot hul diepste, stoutste gedagtes spreek . . .”

“Seker maar,” sê Selma. “Maar jy kan ontspan, Ronald. Ek soek regtig niks van jou nie.”

“Dis goed om te weet. Want ek wil niemand seermaak nie.” Hy gooi sy kop agtertoe en blaas dan ’n oordrewe sug van verligting uit. Selma kyk hoe die twee skape in sy pens onder sy T-hemp beweeg.

U2 se “With or without you” speel in die agtergrond. Dit was haar en Zander se liedjie. Sy is skielik haastig om uit Buzz 9 te kom.

“Sal ons die rekening kry?” vra sy.

“Seker.” Ronald maak sy beursie oop en dan weer toe. “Ek het ongelukkig net R20 by my. Skuus, man.”

“Dan moet jy maar met jou kaart betaal. Verskoon my, ek moet wikkel – ek het ’n ander afspraak.” Sy voel sy oë op haar wighakke brand toe sy uitstap. Sy stap vinniger en vinniger. Die lirieke volg haar soos ’n donker skaduwee tot by haar motor. With or without you . . . With or without you. I can’t live . . .

* * *

Selma hou met haar BMW voor Lana se spoghuis in Rivonia stil. Sy druk die interkomknoppie asof dit Lana se oog is wat sy probeer uitdruk, wag ongeduldig dat die hekke van die paleis oopskuif en ry dan stomend in.

Die blonde Lana kom die ene glimlaggies en kuiltjies uitgesweef oor die grasperk wat byna die grootte van ’n gholfbaan is. Sy dra ’n koel Peppermint Crisp-groen linnepak.

Selma wonder of sy haar uitrusting doelbewus gekies het om by die gras te pas. Lana was sedert hul laerskooldae op Moorreesburg altyd die beauty queen – dun soos ’n breipen en vars soos die groen blaartjie wat die duif teruggebring het na Noag se ark. Lana is steeds nie ’n groot eter nie en verkies om haar kalorieë te spaar vir haar kwota gin en tonic per dag.

“En?” vra Lana en steier effens op haar ingevoerde lemmetjie­groen stiletto’s. “Het ons ’n match?”

“Wat besiel jou om my uit te lewer aan die moroon? Is dit jou idee van ’n Aprilgrap?” Selma gooi die motordeur met ’n kragtige be­weging toe.

“Jy weet dis my eerste date in vyf jaar sedert Zander se . . .” Sy byt haar woorde af asof sy ’n deurstop voor haar mond geplaas het. Dan onthou sy weer hoe kwaad sy is. “Was daar niks beter nie? Nie eers by Zoo Lake se dieretuin nie? Ek dink ’n gorilla sou beter date-­materiaal gewees het as jou Ronald.”

“Sjoe, jy is deesdae so touchy wat mans betref,” sê Lana bedees. “Stap saam met my patio toe en chill ’n oomblik. Ek sal vir Grace vra om vir ons rooibos-ystee te maak. Met ’n knertsie gin.”

“Laat ek net eers my gesig gaan afspoel,” sê Selma en stap verby haar na die gastebadkamer.

Sy betrag haarself in die spieël met die swaar goue renaissance-­raam. Haar gesig is weer dieselfde uitgestresde deegbeige van vroeër die dag. Die rosige blos en wynrooi lipstiffie het als afgesmelt in die hitte. Of was dit Ronald wat haar kleur binne ’n oogwink laat vervaag het?

Sy probeer haar gedagtes saam met haar hare herrangskik. Die doughnut, merk sy, het afgesak en die vorm van ’n pizza aangeneem. Sy wend vars lipstiffie aan en probeer haarself transformeer tot iets wat beter by haar vriendin se vyfster-omgewing pas.

Lana wag in twee skrapse mentblaartjies onder ’n sonsambreel. Sy skink met ’n kennershand twee lang glase gin. ’n Rapsie ystee word by die alkohol gegooi – soos ’n mens ’n lekkie melk by koffie sou voeg.

“Cheers! Ek is regtig jammer. Ron het baie nice gelyk op sy facebook,” sê Lana met oppervlakkige berou.

“So jy’t hom nog nie persoonlik ontmoet nie?” Selma soek Lana se blou oë agter die enorme sonbril.

“Wel, net op kuber . . . Almal maak maar hulself bietjie mooier en jonger en langer op hul profile pics.” Sy maak ’n verskonende gebaar met een van haar rotsbelaaide hande.

“En jy kon nie agterkom hy skiet tekort nie? Letterlik en figuurlik? Die man is nie veel langer as Nakkie die Nar nie. En sy maag is die grootte van Leeukop.”

“Dis ’n pity,” sê Lana en tel haar Siamese kat op haar skoot. Sy liefkoos die pels met egalige handbewegings en vroetel dan aan sy verminkte oor. “Maar looks is nie als nie, hè Samuel?” purr sy. “Ons is maar almal ná vyftig tweedehandse motors vol stampe en stote. Ons markwaarde daal elke jaar.”

“Lyk nie of jóú markwaarde daal in jou man se opinie nie. Dis mos nuwe oorbelle daai, of hoe?” vra Selma. “En sekerlik egte diamante?”

“Natuurlik is dit eg.” Lana vat aan haar oorlob. “Martin koop vir my net die beste. Maar ek sien hom nooit. Hy’s die grootste deel van die jaar oorsee. My kat hou my geselskap. En my kubervriende. En natuurlik my G&T en uppers.” Lana neem ’n teug van haar drankie. “Jy en Louise is lucky om kids te hê . . .”

“Ons het elkeen ’n kruis om te dra,” sê Selma.

“True.” Lana haal twee antidepressante uit ’n pilhouertjie en sluk dit af met haar gin. “Wil jy een hê om jou te lig? Dis ’n upper.”

“Nee dankie. Ek is al ’n paar maande af van alle antidepressante. Ek wil weer self leer cope.”

“Nie ek nie.” Lana staar afgetrokke na die gemanikuurde tuin vol blomme. “So hoe is Ronald se persoonlikheid? Die vrouens op sy face­book vrek oor hom.” Sy druk haar wang teen die kat se pels asof dit Ronald is.

“Kortmansindroom. Hengse ego. Moet my asseblief NOOIT weer op ’n date stuur met een van jou facebookvriende nie.”

“Skuus. Ek wou net help . . . Hoekom kom jy nie Saterdagaand na die braai by Belinda-hulle nie? Daar gaan ’n baie nice geskeide man wees, hoor ek. En by the way, daai vals lashes pas jou regtig goed. Gee jou oë ’n sparkle.”

“Dankie,” sê Selma. “Maar nee dankie vir die braai. Ek gaan ongelukkig nie my lashes kom wys nie.”

“Dis nie ’n facebook-ou nie,” sê Lana, meer vir die kat as vir Selma. “Belinda sê dis ’n teddie van ’n man. Sy vrou was glo die bitch in die verhaal.”

“Ek het daai een al tevore gehoor,” sê Selma sinies. “Nee dankie. Voer hom maar vir een van jou ander single pelle. Ek vlieg oormôre Kaap toe vir werk.”

“Gaan jy vir Louise sien?” vra Lana met ’n geligte wenkbrou.

“Jip.”

“Sê groete vir haar,” sê sy sonder die nodige geesdrif.

“Ek maak so,” sê Selma.

Selma en Louise

Подняться наверх