Читать книгу Ondergang - Terri Blackstock - Страница 13
ОглавлениеHoofstuk 10
Hoofstuk 10
Toe Emily uiteindelik by die universiteit opdaag, is die toets al ’n uur gelede verby. Sy moes verder as gewoonlik stilhou omdat die parkeerterrein vroeg reeds vol was en moes toe oor die kampus na die administrasiegebou loop waar haar geskiedenisdosent se kantoor is. Hy het ’n streng beleid dat studente net op grond van ’n mediese sertifikaat van ’n toets verskoon kan word, maar sy klem die polisieverslag in haar hand vas in die hoop dat hy hierdie keer ’n uitsondering sal maak. Kan ’n poging tot moord nie beskou word as net so geldig soos griep nie?
Sy kry dr. Ingles in sy kantoor waar hy met ’n oop deur sit en werk aan ’n stapel antwoordstelle. Hy is ’n groot man met ’n kaal kop en ’n boepmaag en het altyd ’n frons op sy gesig. Sy het nog nooit buite die klas met hom gepraat nie, en nou voel haar mond droog. Sy kug en klop teen die deurkosyn.
Hy kyk op na haar en leun toe ver agteroor. “Wel, wel, juffrou Covington. Ek is bly jy het uiteindelik opgedaag.”
Sy haal diep asem en dink daaraan dat die mense van Georgia hou van formele aanspreekvorms. Sy moet net onthou om dit gebruik. “Doktor, mag ek met u praat?”
“Jy het nie opgedaag vir jou toets nie, juffrou Covington. Dis ’n jammerte.”
Sy kan nie sommer net sê iemand het haar probeer doodmaak nie. Sy wil nie hê dit moet weer ’n skinderstorie word wat soos ’n veldbrand versprei nie. “Ek was vanoggend betyds gereed om by die huis te vertrek, maar my motor het aan die brand geraak. My broer het my beduie om te stop en ek kon uitkom sonder dat ek beseer is, maar ek moes vir die brandweer en die polisie wag …”
Hy frons sy ruie wenkbroue. “Die polisie?”
“Ja, doktor.” Skielik lyk dit of hy belangstel.
“Hulle het saam met die brandweer opgedaag. Ek het die polisie se verslag hier. Dis nie ’n mediese sertifikaat nie, maar darem ’n bewys dat dit gebeur het.”
Hy neem die verslag en sy hoop maar hy sal net na die datum en tyd kyk en nie die polisiebeampte se verslag onder aan die dokument lees nie. Maar dis presies waarop hy sy oë vestig. Sy hou asem op toe hy sy bril opsit en fronsend verder lees.
“Hulle was baie lank daar,” sê sy saggies asof sy ’n hondsdoldier probeer kalmeer. “Ek het vir hulle gesê ek moet ’n toets skryf, maar ek moes daar bly totdat hulle klaar was. Toe moes die motor ingesleep word en ek moes ander vervoer kry. Ek kon nie die motor gebruik soos dit was nie.”
Dit lyk nie asof hy na haar luister nie. “Wag ’n bietjie,” sê hy toe hy opkyk van die verslag. “Sit eers. Begin nou van vooraf.”
Hy gaan ten minste na haar luister. Sy gaan sit en plaas haar boeke op die stoel langsaan. Sy kantoor lyk nie soos die meeste dosente se kantore nie. Syne is relatief netjies, sonder stof en onder die venster is daar ’n plant met blinkgroen blare wat goed versorg lyk. Daar is kindertekeninge op ’n kennisgewingbord en teen die agterkant van sy deur vasgeplak. Sy kleinkind s’n? Hy lyk te oud om self klein kindertjies te hê. Dalk is hy nie so skrikwekkend soos wat hy lyk nie.
“Klink of jy ’n angswekkende oggend gehad het. Haal net ’n slag behoorlik asem en begin van vooraf.”
Toe besef sy eers dat sy nog steeds bewe. “Dr. Ingles, ek het regtig probeer om goed te vaar in hierdie vak. Ek leer hard en lees alles wat ons moet lees, en ek hou van geskiedenis. Dis interessant, soos ’n roman. Ek was voorberei vir hierdie toets. Maar ek het nie die brand verwag nie …”
“Dit klink asof dit meer as ’n brand was. Hulle verwys na ’n bom?”
Sy sluk en kyk af op haar hande. “Ja, maar ek sal dit graag wil stilhou. Ek het reeds … ’n reputasie. Iemand het ’n bom onder my motor se bakwerk vasgeplak en toe ek die motor aanskakel, het dit aan die brand geraak.”
Hy vra nog ’n paar vrae en sy antwoord so bondig moontlik. “Ek hoop u kan sien dit was buite my beheer. Kan ek asseblief weer ’n kans kry om die toets te skryf?”
Hy haal sy bril af en gee die polisieverslag vir haar terug. “Juffrou Covington …”
Sy wil sê hy moet haar Emily noem, maar die dosente is gesteld daarop om vanne te gebruik. Dit laat voel haar ongemaklik, asof hy met haar ma eerder as met haar praat.
“Ek ken jou geskiedenis. Ek het die nuusberigte gelees toe jy vermis was. Ek het jou die eerste dag herken toe jy in my klas kom.”
Sy kyk na haar voete. “Wonderlik.”
Hy leun vorentoe en kyk na haar totdat sy opkyk in sy oë. “Ek was beïndruk deur jou ommekeer. Dit lyk asof jy nou baie hardwerkend en toegewyd is, en ek vind dit verfrissend. Maar hierdie gebeure is ontstellend.”
“Ek weet dit maar te goed,” sê sy. “My ma is heeltemal op hol omdat sy dink ek moet weer dwelms gebruik aangesien iemand my probeer doodmaak. Maar dis nie waar nie. Ek woon al my klasse by en my gemiddelde punt is ’n B. Glo my, toe ek dwelms gebruik het, het ek nie A’s en B’s gekry nie. Ek het nie klasse bygewoon nie. Baiekeer kon ek nie eens ’n F kry nie. Ek probeer baie hard om weg te bly van dwelms en ek dink nie meer gedurig daaraan nie. Hierdie keer is dit nie my skuld nie. Maar nou het ek ’n belangrike toets misgeloop. Kan ek dit asseblief nog skrywe?”
“Jy voel dus jy was vanoggend gereed vir die toets?”
“Ja. Heeltemal. Ek kan dit sommer nou skryf.”
Hy kyk so stip na haar dat dit haar amper laat dink hy kan haar gedagtes lees. “Nou goed, juffrou Covington. Ek het ’n ander klas wat om twaalfuur die toets in dieselfde vertrek skryf. Jy kan saam met hulle skryf.”
Sy sug van verligting. “Baie dankie.” Sy vat haar boeke en staan op. “Ek waardeer dit regtig.”
“Wees versigtig.”
“Ek sal,” sê sy. “Ek sien u om twaalfuur.”
Sy stoot haar gebalde vuis seëvierend in die lug toe sy buite kom. Toe haal sy haar foon uit en stuur vir haar ma ’n teksboodskap: Hy sê ek kan die toets twaalfuur skryf!
Haar tweede klas van die dag begin eers eenuur, dus kan sy intussen biblioteek toe gaan om haar gedagtes agtermekaar te kry. As sy die bomvoorval uit haar gedagtes kan kry, kan sy dalk nog die toets deurkom.