Читать книгу Ondergang - Terri Blackstock - Страница 7
ОглавлениеHoofstuk 4
Hoofstuk 4
Dis ’n koue, mistige oggend. Kent Harlan is besig met sy tweede kilometer en sy asem vorm digter wolkies voor sy gesig. Hy het twee jaar gelede begin draf toe hy skielik besorg geraak het oor sy voorkoms. Voor Barbara in sy lewe gekom het, het hy net voortgeploeter en al dikker om die middel geword. Vandat hy begin draf het, het hy al amper nege kilogram afgeskud. Maar hy is nog glad nie in haar klas nie. Hy wil hierdie naweek so goed moontlik lyk. Die dag wanneer hy op een knie voor haar neersak, sal een van die grootste dae in sy lewe wees.
Hy hoop Barbara sal van die ring hou.
Die feit dat sy nege maande gelede na Atlanta verhuis het om naby hom te wees, het alles verander. Hy voel lewenslustig en hoopvol, met wonderlike verwagtings vir die toekoms. Hy het nie gedink hy sou ooit weer so jonk kan voel nie. Hy het probeer om ter wille van Barbara en die kinders geduldig te wees sodat hulle eers hier gevestig kan raak voor hy van trou praat. Maar dit lyk asof alles goed gaan. Hy kan nie baie langer wag nie.
Sy selfoon lui en hy verslap sy pas om te sien wie dit is. Die oproep kom van die polisiekantoor. Hy en sy spanmaat, Andy, is onder oproep, dus moet hy dit beantwoord. Hy begin stap en druk die knoppie. “Kent Harlan.”
“Kent, ons het ’n moord by East Bailyweg 342. Die slagoffer is ’n vrou wat in haar bed geskiet is, blykbaar tydens ’n inbraak.”
“Oukei.” Hy is steeds uitasem. “Het jy vir Andy gebel?”
“Ek gaan hom nou bel.”
“Goed. Ek gaan dadelik soontoe. Stuur asseblief ’n teksboodskap met die adres ‒ ek kan dit nie nou neerskryf nie.”
“Sekerlik.”
Hy beëindig die oproep en sit die foon in sy sak. Hy draf verder tot by sy huis. Hy skat hy moet bly wees hy het ’n nag se slaap agter die rug. Wanneer hy en sy spanmaat aan die beurt is vir die volgende saak, word hy gewoonlik in die nag wakker gemaak.
Hy stort, trek aan en maak ’n koppie koffie om saam te neem. Daar is geen besondere haas nie. Die eerste polisiebeamptes op die toneel is veronderstel om die terrein af te sper en die liggaam sal nog daar wees wanneer hy opdaag. Hy hou egter daarvan om so gou moontlik ná die noodoproep op die toneel te wees. Hoe meer tyd verbygaan en hoe meer ondersoekbeamptes opdaag, hoe meer leidrade kan versteur word.
Hy sit sy beursie, kleingeld en motorsleutels in sy sakke. Toe maak hy die boksie met die ring oop en glimlag oor die diamant. Dit is ’n spierwit, vlekkelose steen waarna hy weke lank gesoek het. Hy haal die ring uit en sit dit ook in sy sak. Net om daaraan te raak laat hom glimlag.
Die rit na die misdaadtoneel duur twintig minute. Dis in ’n buurt waar misdaad volop is en arm mense van betaaldag tot betaaldag oorleef. Hy sien die polisiemotors voor die huis en ’n paar nuuskierige bure voor hulle huise.
Hy hou so naby moontlik aan die huis stil. Andy is seker nog nie hier nie; hy sien nie sy motor nie. Kent klim uit en loop oor die nat gras na die sydeur onder die motorafdak, waar ’n polisiebeampte met ’n aantekeningboek staan.
“Wat is die storie hier?” vra Kent.
“Vrou met die naam Devon Lawrence, dertig jaar oud, van naby in haar bed geskiet. Haar vierjarige kind het vanoggend op haar afgekom.”
Skielik voel die moord vir Kent tragies eerder as alledaags. “’n Vierjarige? Het die kind die moord sien gebeur?”
“Dit lyk nie so nie. Sy sê sy het opgestaan toe haar babasussie begin huil het en wou toe haar ma gaan wakker maak. Sy kon haar nie wakker kry nie en het die buurvrou, Milly Prentiss, gaan roep. Dis me. Prentiss wat gebel het.”
“Waar is die kinders nou?”
“Nog by die buurvrou, hier langsaan.”
“En die pa?”
“By die werk. Me. Prentiss sê hy werk snags by ’n deurnagwinkel. Hy is nog nie in kennis gestel nie, maar ons behoort dit gou te doen, voordat een van die bure hom bel.”
Kent gaan in en kyk in die huis rond. Klein kombuisie en woonvertrek aaneen, verweerde, vuil blou mat, ’n rusbank en een stoel in die beknopte ruimte. “Kon julle agterkom waar toegang verkry is?”
“Me. Prentiss sê die agterdeur was nie gesluit nie, maar sy dink dis omdat die kind daar uitgegaan het. Sy het by hierdie deur onder die motorafdak ingegaan. Sy sê dit was ook nie gesluit nie.”
Kent sien krapmerke om die sleutelgat wat kan aandui dat iemand met die slot gepeuter het. Hy gaan in en kyk rond. Daar lê ’n handsak op die vloer met die inhoud uitgestrooi. Geen teken van ’n beursie nie. Hy kyk na die ander voorwerpe in die vertrek. Speelgoed, ’n doekesak, ’n vuil eetstoeltjie, ’n platskermtelevisiestel.
“Hoekom sou ’n inbreker die TV los?” wonder hy hardop.
“Ja, ek het ook gedink dis eienaardig.”
Kent probeer iets hieruit wys word. Dalk kon die persoon nie die TV wegdra nie. Dalk wou hy net vinnig kontant in die hande kry. Maar hoekom hier? Wat sou hom laat dink enigiemand in hierdie buurt het bondels geld wat rondlê?
Hy kyk verder rond. Daar is nie juis enigiets wat waardevol is nie. Die huis is verwaarloos, die verf dop af en daar is bruin watermerke aan die plafon. Die vloerplanke is kromgetrek.
Hy kyk in die gang af en sien een van die ander polisiebeamptes in die deuropening van ’n slaapkamer. Hy gaan soontoe.
Op die bed lê ’n jong vrou op haar rug asof sy rustig slaap, met bloed op die kussing onder haar kop. Daar is ’n koeëlwond in die middel van haar voorkop. Haar oë is toe. Sy was waarskynlik aan die slaap toe sy geskiet is en het niks daarvan geweet nie.
Dit was ten minste vinnig verby en die moordenaar het niks aan die kinders gedoen nie.
Hy haal sy kamera uit en neem ’n paar foto’s. Die tegniese ondersoekspan sal die ware misdaadtoneelfoto’s neem, maar Kent hou daarvan om sy eie foto’s te neem, net om seker te maak dat niks tydens die ondersoek verskuif word nie.
Hy hoor Andy se stem waar hy met die polisiebeampte by die deur na die motorafdak praat. Kent kyk na die polisieman naby hom wat effens wegstaan en steeds ontsteld lyk. “Wat weet ons van haar man?”
“Die buurvrou sê hy het ’n dwelmprobleem. Hy het al rehabilitasie ondergaan. Daar is ’n geskiedenis van mishandeling, maar daar is nooit ’n klag by die polisie gelê nie. Hy is onlangs voorwaardelik vrygelaat ná ’n dwelmklag.”
Die man het dus die agtergrond en ingesteldheid om so iets te kon gedoen het.
Andy kom staan in die deur en kyk in. “Môre, ouens.”
Kent knik vir hom en praat dan weer met die polisieman. “Het die buurvrou die skoot gehoor?”
“Nee, sy sê sy het niks gehoor totdat die kind aan haar deur kom klop het nie.”
Hy stel hom voor hoe die vierjarige kind oor die werf gehardloop het om vir haar ma hulp te soek. Sy maag trek op ’n knop. ’n Pa sal tog seker nie die ma vermoor en los sodat sy kind op haar moet afkom nie? Maar wie kan sê waartoe hy in staat sal wees as hy onder die invloed van dwelms is?
“Andy, kom ons gaan praat met die buurvrou. Daarna kan ons hoor wat die man te sê het. Hy is veronderstel om by die werk te wees en is nog nie in kennis gestel nie.”
“Dink jy hy weet reeds?”
“Kan wees.” Hy haal sy foon in die loop uit en skakel die polisiekantoor se nommer. Hy vra ’n sersant om die man ‒ William Lawrence, ook bekend as Bo ‒ se misdaadagtergrond na te slaan en per e-pos aan te stuur. Hy sal probeer om die lêer op sy slimfoon oop te maak.
Hulle stap na die lendelam huis langsaan en klop aan die deur. ’n Klein vroutjie van omtrent sestig maak oop.
“Me. Prentiss?”
“Ja,” sê sy.
Haar oë is rooi en opgeswel en haar neus is ook bloedrooi. Sy het klaarblyklik ’n moeilike tydjie deurgemaak. “Ek is speurder Kent Harlan van Atlanta se moordafdeling. Dis my spanmaat, Andy Joiner. Kan ons inkom om met jou te praat?”
“Ja, maar moet asseblief nie die kinders ontstel nie,” sê sy met ’n gedempte stem. “Ek het hulle iets te ete gegee en hulle gekalmeer.”
Kent stap in. Die dogtertjie sit by die tafel en krabbel op ’n stuk papier. Die baba sit op die vloer en speel met plastiekblokkies.
Milly gaan tel die kleintjie op. “Die arme dingetjie het verskriklik gehuil,’ sê sy sag.
Die dogtertjie het nog steeds die kamerjas met bebloede moue aan en haar voete is kaal. “Ek moet met die kind praat,” fluister hy vir Milly.
Sy lyk ongelukkig, maar knik.
Hy gaan na die tafel en trek ’n stoel uit. “Hallo,” sê hy.
Die dogtertjie kyk met gevoelvolle oë na hom op toe hy gaan sit. Daar is ’n slymkors onder haar neus. “Hallo,” sê sy.
“Ek is Kent. Wat is jou naam?”
“Allie.”
“Allie, kan jy vir my vertel wat gebeur het toe jy vanoggend wakker geword het?”
Haar onderlip bewe en daar kom trane in haar oë. “Mamma is dood.”
“Het jy ’n geraas gehoor.”
“Nee.”
“Het jy haar met iemand hoor praat? Het jy enigiemand in die huis gesien?”
“Nee. Sy wou nie praat nie, want sy wou nie wakker word nie.”
“Jy het nie ’n harde geluid gehoor nie?”
Sy frons terwyl sy dink. “Ek het gedroom van ’n harde geluid.”
“Het jy dit gedroom?” vra Kent. “Het dit jou wakker gemaak?”
“Ek weet nie.”
Dis nie maklik nie. Die kind het waarskynlik die skoot in haar slaap gehoor, maar nie heeltemal wakker geword nie.
“Wat het jou laat opstaan?”
“Carrie wat huil.”
“Niks anders nie?”
Sy skud weer haar kop en gaan voort met haar tekening.
Kent probeer weer. “Allie, het jy Carrie kort ná die harde geluid hoor huil?”
“Nee,” sê sy. “Die harde geluid was ’n droom, maar die huil was regtig. Dit was later.”
Hy sal meer weet nadat die mediese ondersoek die sterftyd bepaal het. Hy kyk op na me. Prentiss. “Het u ’n skoot hoor afgaan?”
“Nee, maar ek ly aan slaap-apnee. Ek slaap met ’n toestel wat ’n geluid maak. Ek slaap taamlik vas. Ek het pas opgestaan toe Allie kom klop het.”
“Wat kan jy ons van mnr. Lawrence vertel?”
“Ek hou nie juis van hom nie,” sê sy gedemp. “Hy het ’n probleem met kokaïen gehad. Hy is ’n paar maande gelede in hegtenis geneem en was ’n rukkie in die tronk. Toe het hulle hom laat uitkom vir rehabilitasie. Dit was net ’n paar maande gelede.”
“Het hy al weer begin om kokaïen te gebruik?”
“Nie sover ek weet nie. Devon het vir my gesê dit gaan goed. Dat hy nugter bly en elke aand gaan werk. Sy het gesê hy was die afgelope tyd nog nie weer gemeen teenoor haar nie.”
Die ander polisiebeampte het van gesinsgeweld gepraat. Hy het die inligting seker by haar gekry. “Gemeen op watter manier?”
“Ek kon hom partykeer hoor skree. ’n Paar keer het ek kneusplekke gesien. Hy het eenkeer haar neus gebreek, maar selfs toe wou sy nie polisie toe gaan nie. Sy het hulle uiteindelik gebel toe sy op ’n groot klomp kokaïen in haar huis afgekom het en die baba dit byna in die hande gekry het. Dit het haar kwaad genoeg gemaak om hom aan te gee. Dis toe hy gearresteer is.”
Kent en Andy kyk na mekaar. As die vrou verantwoordelik was vir sy tyd in die tronk en voorwaardelike vrylating, het hy dalk laas nag wraak geneem. “Waar werk hy?”
“By daardie deurnagwinkel by die Exxon-vulstasie. Die naam is JR’s 24/7.”
Kent hoop hulle sal meer uitvind deur met die man te praat en sy reaksie op sy vrou se dood te sien.
“Dink julle hierdie moordenaar kan dalk terugkom?” vra sy. “Ek bly alleen en ek is op my senuwees.”
“Ons kan nie sê nie. Maar ons gaan ons bes doen om hom te vang.”
“Maar hoe het die man ingekom? Dink julle dit was Bo?” fluister sy terwyl sy na Allie kyk om seker te maak sy hoor nie.
Kent antwoord haar nie. “Ons volg alle leidrade op, maar het nog geen antwoorde nie.”
“Wat moet ek nou met die kinders maak? Ek moet Allie skoon aantrek, maar ek kan nie daar ingaan om haar klere te kry nie.”
“Ons sal iets kry wat sy kan aantrek en iemand laat kom wat na hulle kan omsien totdat ons ’n familielid kan kry wat hulle sal kom oplaai.”
“Toemaar, dis nie nodig nie. Hulle ken my. Ek pas hulle dikwels op. Ek sal hulle hier hou totdat hulle pa of ouma kan kom.” Sy bars in trane uit en druk haar gesig in haar hande. “Dis so verskriklik. Arme Devon.”
Hy weerstaan die drang om haar te troos, maar hoop iemand sal dit doen. Toe hy en Andy uitgaan, hoor hy hoe sy haar deur toesluit.
“My geld is op die man,” sê Andy. “Wat wed jy dat hy nie kan bewys hy was heelnag by die werk nie?”
“Ons sal binnekort weet.”
Kent laat Andy by die misdaadtoneel agter. Op pad na die winkel oorweeg hy die moontlikheid dat die man nie betrokke was nie. Hy voel die brandpyn in sy ingewande wat hy altyd kry wanneer hy ’n familielid van ’n moord in kennis moet stel. Dis vir hom die swaarste aspek van sy werk.
Hy kry die plek, ’n ou, verwaarloosde gebou met diefwering voor die vensters. Die winkel is verlig en deur die venster sien hy ’n man wat agter die toonbank op ’n stoeltjie sit en na die televisie bo sy kop kyk.
Kent klim uit sy motor en stoot die glasdeure oop om in te gaan.
“Môre, hoe gaan dit?” vra die man agter die toonbank. Hy lyk nugter. Sy oë is helder, al lyk hy moeg.
“Is jy Bo Lawrence?” vra Kent.
Die man kruis sy arms oor sy bors. Verdedigend. Behoedsaam. “Ja, hoekom?”
“Ek is ’n polisiebeampte van Atlanta se moordafdeling.”
Die man se gesigsuitdrukking verander en diep plooie vang die skaduwees van die stowwerige lig. “Moord? Wat het gebeur?”
“Ons is vanoggend na jou huis uitgeroep. Jou vrou is geskiet.”
Kent hou Bo se gesig dop. Hy sluk sodat sy adamsappel op en af spring. Dis moeilik om te weet of die kleur van sy gesig verander ‒ hy is buitendien bleek. “Geskiet? Maar sy is oukei, nè?”
“Ek is bevrees sy het dit nie oorleef nie.”
Bos se mond val oop en ’n oomblik lank is hy sprakeloos. Hy druk albei hande in sy vetterige hare en trek sy vuil vingers daardeur. “Maar … ons het nie skietgoed in die huis nie. Ons hou nie … wie … wat het gebeur?”
“Dit lyk na ’n inbraak. Iemand het ingekom en haar in haar slaap doodgeskiet.”
Hy stik byna soos hy na asem snak. “Die dogtertjies … my kinders … is hulle …?”
“Hulle makeer niks. Jou dogtertjie Allie het op haar ma afgekom.”
Hy kantel asof hy gaan omval en gryp na die toonbank. “Allie? Wie het dit gedoen?”
Kent hou sy stem gelykmatig. “Ons wou jou in kennis stel en uitvind wie ons omtrent jou kinders kan bel.”
“Waar is hulle nou?” vra hy met sy gesig vertrek van wat na ware pyn lyk.
“Hulle is by Milly Prentiss van die huis langsaan.”
Hy knik. “Milly … dis goed.”
Daar is geen trane nie, maar dis nie buitengewoon nie. Dis ’n groot skok om van ’n moord te hoor en mense reageer op verskillende maniere. “Wie … wie het die polisie gebel?”
Dit is ’n vreemde vraag. Dis nie iets waaraan die meeste mense dadelik dink nie. “Dit was Milly, nadat jou dogtertjie na haar gegaan het.”
“So … het sy gesien wie dit gedoen het?”
“Nee, ek is bevrees nie. Ek wil hê jy moet asseblief saamkom na die polisiekantoor sodat ons daaroor kan praat. Dalk kan jy ons ’n paar leidrade gee.”
Hy kyk af na die kasregister. “Ja … natuurlik. Ek moet my baas bel. Ek sal die winkel moet toemaak.”
Kent kyk om hom rond. “Wanneer het jou skof gisteraand begin?”
Eers lyk dit asof die man nie hoor nie. Hy staar in die niet asof hy die nuus probeer verwerk. “Um … gisteraand agtuur. Ek werk skofte van twaalf uur.”
“Het jy in daardie tyd ooit hier weggegaan?”
Die man tel die telefoon op, maar skakel nie die nommer nie. “Nee, glad nie. Ek was heelnag hier. Ek het nie eers uitgegaan om te rook nie. Ek probeer ophou.”
Ken se oë dwaal na die veiligheidskamera teen die plafon agter die toonbank. Hy kan die video-opname in die hande kry om die man se bewering te bevestig.
“Kyk, ek weet julle dink altyd eerste aan die man as die skuldige.” Sy stem klink horterig en hees. “Maar ek sweer … ek was lief vir my vrou. Ek sal niks doen om haar seer te maak nie.” Hy druk sy bewende hand voor sy mond terwyl die hartseer dieper kepe op sy gesig vorm. Niks buitengewoons aan sy reaksie nie.
Nadat Bo met sy baas gepraat het, skakel hy al die ligte af en sluit die winkel. Kent haal die veiligheidsvideo uit sonder enige teenkanting van hom. Daarna volg Bo Kent na die motor en klim in die voorste passasiersitplek. Daar is nog geen trane terwyl hulle na die polisiekantoor ry nie. Toe hulle daar kom, kyk Kent na die video-opname. Dit bevestig Bo se storie. Hy was die hele nag by die werk.
Hy is waarskynlik net ’n bedroefde man in ’n skoktoestand, maar Kent hoop hy het dalk inligting wat hulle na sy vrou se moordenaar kan lei.