Читать книгу Ondergang - Terri Blackstock - Страница 14

Оглавление

Hoofstuk 11

Hoofstuk 11

Barbara het haar motor vir Emily geleen, dus gaan laai Kent haar by die werk af. Hy wens hy kan haar vrese laat bedaar. Sy het vanoggend ’n belangrike vergadering oor vandag se voorlegging misgeloop, en dit sal haar by die werk in ’n slegte lig stel. Kent se sterk aanbeveling dat hulle niks oor die bom moet sê tensy dit absoluut noodsaaklik is nie, maak die situasie nog moeiliker. Wie dit ook al gedoen het, wil klaarblyklik ’n magsposisie bekom en sal wil hê dit moet rugbaar word. Dit sal die beste wees om dit so stil moontlik te hou. Kent vermoed die bomplanter wou Emily nie regtig doodmaak nie. As hy wou, sou dit maklik genoeg gewees het om dit te doen. Volgens die tegniese ondersoekbeamptes kon daar nie baie petrol in die bottel wat vir die bom gebruik is, gewees het nie. Anders sou die petroltenk ontplof het.

Wie dit ook al gedoen het, wou haar net die skrik op die lyf jaag.

“Gaan jy oukei wees?” vra hy vir Barbara toe hulle naby haar kantoorgebou kom.

“Ja, ek moet net wees. Dis is ’n uiters belangrike voorlegging. Ek moet eenvoudig my kant bring.”

“Maar jy is gereed, nie waar nie?”

“Ek dink so. Die voorlegging is om twaalfuur. Die kerkraad en kerkpersoneel kom na ons kantore vir ’n middagete waarvoor ons spyseniers aangestel het, en ons sal dan die voorlegging doen.” Sy kyk by die venster uit en hy weet waarheen haar gedagtes dwaal. “Kent, sê nou sy het weer begin dwelms gebruik? Ek dink regtig nie ek kan dit weer deurmaak nie.”

“Emily lyk vir my piekfyn. Maar ek het haar nooit gesien toe sy onder die invloed van dwelms was nie.”

“Dis net die nagte wat sy so laat huis toe kom … Omdat sy nou twintig is, wou ek nie vir haar vaste reëls oor inkomtye voorskryf nie en ek weet as sy in ’n koshuis was, sou sy in elk geval laat uitgebly het. Dis juis waarom ek wou hê sy moet by die huis bly. Ek wil seker maak sy is sterk genoeg om dwelmvry te bly voordat sy die huis verlaat.”

“Afgesien van die laat tuiskommery het jy tog geen rede gehad om agterdogtig te wees nie. Jy kyk haar tog deur wanneer sy by die huis kom, of hoe?”

“Ja, maar … hoe moet ’n mens onderskei tussen vaakheid en bedwelming?”

“Jy sal weet, Barbara. Jy het self vir my gesê dat sy nie gebad, skoon klere aangetrek, tande geborsel of hare gekam het toe sy dwelms gebruik het nie. Sy was pateties, sy’t nie klas toe gegaan nie, nie huis toe gekom nie. Sy is nie nou so nie.”

“Nee, sy is nie.” Sy vat sy hand en streel met haar duim daaroor. “Jy help my baie. Ek waardeer jou perspektief.”

“As jy steeds bekommerd is, toets haar vanaand vir dwelms.”

Sy sug. “Ek weet nie hoe sy daarop sal reageer nie.”

“Jy sal baie uit haar reaksie kan aflei. As sy weier, kan jy weet sy gebruik dalk weer dwelms. As sy regtig nugter is, sal sy dit wil bewys. As jy wil, kan ek vanaand vir jou ’n toetsstelletjie bring.”Barbara knik. “Ek skat dit sal goed wees.” Sy sug. “Ek hoop die versekering sal betaal vir ’n huurmotor tot ons haar motor laat nagaan het. Ek hou nie daarvan om van jou afhanklik te wees nie.”

Kent glimlag. “Ek is maar te bly as ek kan help.”

“Maar jy was besig met ’n saak, of hoe?”

“Ja. ’n Vrou is vanoggend in haar bed dood aangetref. Sy het twee klein kindertjies gehad. Ek moes haar man daarvan gaan vertel.”

Barbara gaap hom aan. “Kent, ek is so jammer dat ek jou in die middel daarvan gepla het.”

“Geen probleem nie. Ek kan nou verder daaraan werk.”

“Ek sal Emily vra om my vanmiddag op te laai as ons dan nog nie ’n motor kon huur nie.”

Hy draai by die parkeerterrein in en ry tot by die hoofingang. “Bel my as jy nie regkom nie.”

“Ek sal eerder ’n taxi bel voordat ek jou daarvan weerhou om ’n moordenaar vas te trek.”

“Ek kan ’n tydjie afknyp om jou op te laai, Barbara.”

Sy huiwer voor sy uitklim. “Dink jy hulle het genoeg bewyse gekry om te weet wie die bom geplant het?”

“Ek hoop so. Ek sal op hoogte bly van wat daar aangaan, meisie. Ek sal jou ook op hoogte hou. Laat weet my onmiddellik as enigiets verder gebeur.”

Sy soen hom liggies en hy kyk haar agterna tot sy binne is. Hoewel hy onderbreek is in die middel van sy moordsaak, laat dit hom goed voel dat mense vir wie hy lief is, hom nodig het. Hulle is nog nie sy gesin nie, maar dit voel vir hom asof hulle is.

Hy verskuif op die sitplek en voel in sy sak na die ring. Dis nog daar. Wanneer moet hy haar vra? Die middel van ’n raaiselagtige moordsaak is nie die regte tyd nie. En die bom het verdere komplikasies meegebring. Nee, hy wil haar vra op ’n manier wat hulle sal onthou, wanneer daar niks sal wees om haar vreugde te bederf nie.

Terwyl hy terugry na die moordtoneel, bid hy woordeloos dat Emily se ervaring vanoggend nie die begin van ’n nuwe dwelmverslawing aandui nie. As sy geswig het en weer dwelms gebruik, sal die gevolge baie meer verreikend wees as wat sy kan besef.

Barbara verdien dit nie. Sy het reeds meer deurgemaak as wat enige ma behoort te verduur.

Ondergang

Подняться наверх