Читать книгу Ondergang - Terri Blackstock - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk 6

Hoofstuk 6

Emily voel skuldig toe sy na haar motor stap. Lance staan en wag vir die groot, geel martelkamer wat hulle ’n bus noem.

Sy klim in en sit haar koffiebeker in die houer en haar boeke op die sitplek. Sy verstel haar truspieël, draai die sleutel …

’n Slag ruk die motor en laat haar skrik. Skielik sien sy hoe Lance sy arms wild bo sy kop swaai. Verward draai sy die passasiersvenster af. “Wat is dit?”

“Brand!” skree Lance. “Klim uit!”

Emily spring uit. Dik wit rook borrel onder die motor uit en toe sy wegsteier, sien sy vlammetjies heeltemal te naby aan die petroltenk uitslaan. Lance laat val sy rugsak, hardloop na die motorhuis en verskyn met ’n brandblusser.

Emily staan weg terwyl hy skuim oor die oorsprong van die brand onder die motor spuit. Die vlamme gaan dood en net ’n wolk rook bly agter.

Uitasem buk Lance by die motor in en skakel die enjin af. Sy wange is vol rooi vlekke toe hy wegstrompel. Emily staar verwilderd na die motor. “Wat was dit?”

Sy val plat op die sement en loer onder die motor in. Daar is stukke kleefband aan die bakwerk, stukke gebreekte glas in die skuim en die reuk van petrol. ’n Elektriese draad loop van die kleefband na die voorkant van die motor. Lance buk ook en kruip nader. “Kan jy glo, dis ’n bom!”

Kan nie wees nie. Iets moes losgekom het … ’n draad … dalk die een of ander dryfband … Maar die kleefband? Emily kruip tot in die skuim en reik na die draad, maar Lance gryp haar hand vas. “Moenie daaraan raak nie. Bel die polisie. Hulle moet dit sien nes dit nou is. Wil jy hê ek moet vir Kent bel?”

“Nee, ek sal 911 bel.” Maar sy doen dit nie. Sy bly sit net en staar voor haar uit. ’n Bom onder haar motor? Wie sou dit doen? Sy kon dood gewees het as die vlamme by die brandstoftenk uitgekom het. Waarom sou iemand haar motor wou opblaas?

Sy hoor die gerammel van die skoolbus ’n paar blokke hoër op in die straat. “Daar kom die skoolbus,” sê Lance. “Maar ek gaan nie. Ek bly hier by jou.”

Emily praat nie teë nie. Sy wil nie alleen hier wees as iemand haar probeer doodmaak nie. Sê nou daar is iewers nog ’n lokval?

Sy haal haar handsak uit die motor en grawe haar foon uit. Sal die polisie haar ooit glo as hulle bewus is van haar verlede? Haar gesig was oral in die nuus toe sy twee jaar gelede weggeraak het. Baie mense onthou haar nog. Haar arrestasies vir dronkbestuur in Jefferson City sal soos neonvlaggies op hulle rekenaars aandui dat sy roekeloos gelewe het.

Sy onderdruk haar vrees en skakel die noodnommer. Toe sy die versekering kry dat die polisie op pad is, gee sy die foon vir Lance. “Sal jy vir Ma bel en vertel wat gebeur het?”

Lance vat die foon net toe die skoolbus stilhou. Hy beduie hulle moet ry. Die kinders se stemme vervaag toe die bus verder ry.

Emily se gedagtes is ’n warboel terwyl hy hulle ma bel. Dit kan nie waar wees nie. Iemand het haar ’n poets probeer bak. Dit kan nie ’n regte bom gewees het nie, net ’n rookbom, iets om haar skrik te maak. Daar is tog niemand in Atlanta wat haar opsetlik sal seermaak nie?

In Jefferson City was sy met gevaarlike mense deurmekaar. Sy het verlede jaar selfs ’n paar dwelmhandelaars kwaad gemaak toe sy na hulle hool gegaan en ’n vriendin daar uitgesleep het. Maar Jefferson City is agt honderd kilometer weg en dit was amper ’n jaar gelede.

Sy hoor Lance met haar ma praat. “Ma, jy sal nie glo wat gebeur het nie. Ek het hier staan en wag vir die bus toe Emily in haar motor klim en …”

Met gevoude arms loop sy op en af op die oprit, weg van die skuim op die sement, en probeer dink. Ja, sy het ’n paar vriende hier wat deel is van die dwelmkultuur, maar dis net omdat sy deeltyds by die plaaslike rehabilitasiesentrum werk. Sy het werk gesoek toe hulle hierheen getrek het, maar mense was huiwerig om haar aan te stel. Hoewel sy van alle skuld kwytgeskeld is nadat sy so prominent in die nuus was, is mense nie heeltemal seker dat sy betroubaar is nie. Party kon nie eens die uiteinde van die saak onthou nie. Hulle weet net sy was ’n verdagte in die ondersoek na ’n vrou se dood.

Toe het sy op die gedagte gekom om by die Haven House-rehabilitasiesentrum aansoek te doen en hulle het haar aangestel om Saterdae in die kantoor te werk. Party van die kliënte kan onvoorspelbaar wees as hulle ná hulle ontslag weer dwelms begin gebruik. Party kan selfs ’n wrok teen haar koester omdat sy ’n lid is van die personeel wat twaalf weke lank hulle lewens beheer. Maar sy was nooit in beheer nie. Sy het besoekers in en uit laat teken, telefone geantwoord en kliënte deursoek en asemtoetse laat doen wanneer hulle van uitstappies terugkom.

Sou iemand ná al die tyd nou probeer om haar dóód te maak? Sy bibber al is die lug bedompig en warm. Waar bly die polisie?

“Emily, Ma wil met jou praat.”

Sugtend vat sy die telefoon. “Hallo.”

“Emily, wat is nou aan die gang?” Haar ma se stem klink paniekerig, woedend en beskuldigend.

Emily onderdruk die drang om haar te verontskuldig. “Ek weet nie. Die polisie is op pad. Die brandweer ook.”

Daar is ’n ongemaklike stilte. Toe bars haar ma uit. “Emily, waarby het jy ons nou weer ingesleep?”

Die woorde slaan harder as die bom. Sy hoor sirenes in die verte. “Ma, ek weet nie wat aan die gang is nie. Ek het ons by niks ingesleep nie!”

“Mense sit nie sonder rede bomme onder jou motor nie! Is jy weer met daardie mense deurmekaar?”

“Watter mense?”

“Dwelmsmouse! Kranksinnige verslaafdes!”

“Ma, jy weet ek is nie.”

“Toe jy so laat snags inkom, het ek geweet iets is nie reg nie. En die werkery by daardie plek met al die versoekings.”

Emily kan dit nie meer verduur nie. Sy sien die brandweerwa by hulle straat indraai. “Ma, ek moet nou gaan. Hulle is hier.”

Sy druk die foon dood al weet sy dit sal haar ma net verder aanhits. Sy loop na die begin van die oprit om hulle in te wag.

Ondergang

Подняться наверх