Читать книгу Ondergang - Terri Blackstock - Страница 5

Оглавление

Hoofstuk 2

Hoofstuk 2

Emily Covington kry dit reg om saggies in die huis te kom en met die gang af na haar kamer te gaan sonder dat haar ma wakker word. Dis ’n prestasie, want haar ma slaap baie lig as Emily nie tuis is nie. Sy was nie van plan om vanaand so laat uit te bly sonder om te bel nie, maar die een ding het na die ander gelei en uiteindelik was dit twee-uur voor sy by die huis kon insluip soos ’n skoolmeisie wat te laat uitgebly het.

Nou moet sy nog vir ’n toets leer voor sy kan gaan slaap. Hoekom het sy dit tot op die nippertjie uitgestel?

“Emily? Is jy terug?”

Toe sy omkyk, staan haar ma met deurmekaar hare in die kamerdeur. “Ek is jammer, ek wou jou nie wakker maak nie.”

“Het jy nou eers ingekom?’

“’n Rukkie gelede. Ek is jammer ek het nie gebel nie. Ek was by die kooruitvoering by die universiteit en daarna het ’n paar van ons gaan fliek. Toe het ons nog ’n ruk in Ree se koshuiskamer sit en gesels.”

“Emily, dis drieuur en jy moet môre klas toe gaan.”

“Ek weet, maar dis nie ’n probleem nie.”

“Moet jy nie toets skryf nie?”

“Ja, maar dis oukei. Gaan slaap maar weer.”

Haar ma bly staan ’n rukkie. “Nou goed. Kom gee my ’n soen.”

Emily grinnik. Dis haar ma se manier om aan haar asem en hare te ruik of sy gerook of gedrink het. Emily gaan soen haar ma op die wang en gee haar ’n druk. “Ruik gerus,” sê sy. “Jy sal niks anders as springmielies en koffie ruik nie.”

Haar ma staan weg en kyk in haar oë asof sy wil seker maak die pupille is normaal. “Nou goed, maar jy gaan my vroeg graf toe stuur met hierdie laat nagte.”

“Ma, as ek in ’n koshuis was, sou jy nie eens geweet het wanneer ek inkom nie.”

“Maar nou is jy nie in ’n koshuis nie. Jy bly hier en ek bekommer my oor jou. Gaan slaap nou gou, oukei?”

“Oukei.” Emily gaan klim weer in haar bed tussen die uitgespreide boeke en wens sy het nie haar ma juis vannag laat wakker lê nie. Môre het haar ma ’n belangrike voorlegging by die werk en sy wil hê haar ma moet goed vaar. Haar ma was verheug oor hierdie betrekking in Atlanta ná al hulle swaarkry in Jefferson City. Emily hoop haar optrede vanaand het nie alles beduiwel nie.

Sy neem haar voor om volgende keer meer bedagsaam te wees. Sy kan haar ma ten minste bel sodat sy haar nie bekommer nie. Maar na alles waaraan sy haar gesin onderwerp het, het kommer ’n leefwyse geword. As sy so laat uitbly, vererger dit net die ou herinneringe ‒ en vrese.

Eendag sal Emily aan haar gesin bewys dat haar verslawing iets van die verlede is. Dalk sal haar ma dan snags rustiger kan slaap.

Ondergang

Подняться наверх